Saterdag 26 Desember 2009

Vir Julle Uiteindelike Beswil

En Hy het Nadergekom / VaYigash 

Genesis / BeReshit 44:18-47:27
Eségiël / Yechezekiel 37:15-28
Lukas / Uri 6:9-16

Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. {45:8} Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.

Waarom onderwerp God ons aan soveel moelikhede, benoudheid en ontbeuring om Sy wil uit te voer? Josef moes veel meer as die gemiddelde gelowige verduur sodat God sy broom kon vervul en sy broers tot berou kon bring.

Dit eindig egter nie daar nie. God het die herstel van hierdie gesinsverhouding gebruik om die kinders van Israel na Egipte te bring sodat die daaropvolgende geslagte slawe sou word. Dít het alles gebeur sodat God hulle van die Farao sou verlos en hulle Sy “spesiale” kosbaarheid kon maak. Daarna sou Hy aan hulle die land Kanaän gee. Kom ons erken: God is almagtig. Hy kon die kinders van Israel al die lyding en hartseer gespaar het, as Hy die eindresultaat wou verwesenlik, soos wat Hy met die skepping gedoen het. Dit blyk egter nie hoedat God te werk gaan nie; nie omdat Hy God is nie, maar omdat óns mense is, wat Hy selfs “'n hardnekkige volk” noem:

Eksodus / Shemot {32:9} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk.

Ek het al dikwels ervaar hoe hardnekkig ons is. Nie elkeen wat ek onderrig, is bereid om die Woord van God voetstoots te aanvaar nie. Baie van hulle vereis 'n redelike verduideliking alvorens hulle selfs sal aanvaar wat die Tora voorskryf, hoedat hulle veronderstel is om te leef. Dit verstom my hoedat meeste gelowiges geen probleem ondervind met die feit dat Jesus inderdaad God is nie, maar as dit by die gebooie van die Tora kom, is dit vir hulle uiters moeilik om te aanvaar, wat nog te onderhou! Indien Jesus God is en God die Tora geskryf het en dan wanneer Jesus sê: “As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” (Johannes [Yochanan} {14:15}), móét Sy gebooie die Tora wees.
Hoe redeneer mense dan die Tora weg? Dikwels verduidelik hulle dit deur te sê die Tora is vir die Jode, maar genade is vir dié wat in Jesus die Messias glo. Wat ek hiervan aflei, is dat hulle glo dat God één stel gebooie voorhou vir geredde mense en 'n ander vir dié wat ongered is – 'n onredelike en valse veronderstelling! Die Woord van God is universeel: Dit span oor tyd, ruimte en mensegroepe.

Ek kon myself ontelbare slapelose nagte, veel trane en baie geld gespaar het as ek net die raad van my ouers gevolg het, maar nee, ek móés alles self, op my manier gedoen het en as't ware die wiel herontdek! Dit bewys hoe hardnekkig ons is. Ons is geneig om niks wat ons nie deur ons eie ervaring geleer het, te waardeer nie.

Het julle al ooit by iemand gestaan wat besig was om al die regte sleutels van sy rekenaar te druk en nie wou aanvaar dat dit nie werk nie en daar gevolglik niks op die skerm
verskyn het nie? Selfs indien julle toegekyk het hoedat die pogings keer op keer misluk het, probeer julle nie ook dieselfde prosedure volg alvorens julle aanvaar die rekenaar werk nie? Indien wel, het julle aan julself bewys waarom God dinge op Sy manier beskik, waarom Hy ons op die harde manier leer en ons met 'n langpad neem. Dit is omdat ons ervaringsmense is en tensy ons iets op ons eie ervaar – dit wil sê, self op die harde manier – leer ons nie die les wat God ons probeer leer nie. Ons waardeer nie dít wat ons nie ervaar het nie.

Spreuke / Mishlei {13:11} “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.

Dit is 'n feit dat ons dinge waarvoor ons hard moes gewerk het, méér waardeer as dit wat sommer aan ons gegee is, sonder dat ons enige poging daartoe aangewend of leed ervaar het. Niemand waardeer gesondheid méér as ons siek is of pas van siekbed herstel het nie.
God ken ons – Hy het ons geskep! Waardeer die moelike tye in jul lewens want die indrukke wat dit op 'n mens se lewe laat, sal ongetwyfeld onskatbaar wees – daarbenewens is dit God wat dit vir ons uiteindelike beswil beskik.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 19 Desember 2009

Reën: God se seën of straf

Aan die Einde / Miketz |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


19 Desember 2009 / Tevet 2 5770


Genesis / Bereshit 41:1–44:17

1 Konings / Melachim Aleph 7:40-50

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 2:1-5


Genesis / Bereshit {41:25} “Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. {41:26} Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde. {41:27} En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees. {41:28} Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien. {41:29} Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; {41:30} maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. {41:31} En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees. {41:32} En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is—dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.”


Daar is ontelbare gevalle van hongersnood en droogte wat in talle lande dwarsdeur die wêreld heers – selfs terwyl ek nou hierdie D'Var Torah skryf! Trouens, ook in Israel word een van die ergste droogtes beleef. Waterbeperkings is aan die orde van die dag en swaar boetes word opgelê vir oormatige watergebruik. Van elke burger van Israel word daar reeds verwag om by die watervoorsieningsowerheid te registreer. Afhangende van die aantal persone in dieselfde woonplek, word 'n waterkwota aan hulle toegeken en, soos ek gesê het, indien die waterrantsoen oorskry word, word 'n swaar boete gehef.


Uit die Skrif is dit nie moeilik om te besef dat droogtes en hongersnood bestier word nie. Selfs in vandeesweek se Parasha, onthul God deur die Farao se drome dat Hy Egipte aan 'n langdurige hongersnood gaan onderwerp. Hongersnood word deur droogte (gebrek aan reën) en skroeiende hitte veroorsaak, maaar soos ons uit Parasha Miketz verneem het, het God nie sonder rede hongersnood oor Egipte laat kom nie. God het altyd 'n doel met wat Hy doen. In hierdie geval was dit om Josef tot onderkoning van Egipte te verhef, sodat met verloop van tyd, die drome wat God baie jare gelede aan Josef openbaar het, vervul sou word.


Ons God is in algehele beheer van weersomstandighede, want Hy het per slot van sake die aarde geskep en dit is Hy wat dit steeds onderhou en bystaan. Indien God dus die reën weerhou, wat droogte en hongersnood veroorsaak, dan doen Hy dit nie uit wispelturigheid nie, maar met 'n doel, soos wat uit hierdie week se parasha blyk. Wat is God se bedoeling? Dit is dat Hy verheerlik word. Kyk maar gerus na die hongersnood wat in vele lande wêreldwyd heers en beoordeel dit self. Dien die lande wat hongersnood en droogte ervaar, die enigste waaragtige God, die God van hemel en aarde, die God van Israel? Beslis nie! Indien die inwoners van enige van dié lande hulself toevallig “Christene” noem, dien hulle God waarlik, eerbiedig hulle sy Tora?


Wanneer daar 'n vernietigende droogte in 'n afvallige land heers en die Rooikruis vereniging, Verenigde Nasies of enige ander humanitêre organisasies 'n massiewe fondsinsamelingsveldtog van stapel stuur om aan die betrokkenes hulp te verleen, wonder ek dikwels oor die beginsel van om te gee. Dit is my logika: As ek waarlik glo dat God in beheer van die weersomstandighede is en hy reën of die weerhouding daarvan as 'n seën of straf gebruik, sal my bydra dan as't ware op inmenging met die wil en opperheerskappy van God neerkom? Sou ek met sy doel inmeng? Daar is egter niks méér wat ek sou begeer as om die lyding van 'n medemens te verlig nie. Maar indien hierdie lyding enersyds die gevolg van ongehoorsaamheid aan God is en andersyds met die doel is om Hom te vereer, dan vra ek myself af: “Behoort ek daarby betrokke raak?”


Genesis / Bereshit {11:13} “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, {11:14} dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. {11:15} En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word. {11:16} Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig, {11:17} en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die HERE julle gee.”


Sagaría / Zecharyah {14:17} “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. {14:18} En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. {14:19} Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.”


Congregation Melech Yisrael all rights reserved

Saterdag 12 Desember 2009

Drome

En Hy Het Bedaar / VaYeshev |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


12 Desember 2009 / Kislev 25 5770


Genesis / Bereshit 37:1 – 40:23

Sagaría / Zekharyah 2:14 – 4:7

Handelinge / Ma'asei Talmidim 7:9 – 16


Terwyl ek deur hierdie week se parasha gelees het, het die woorde van Martin Luther King my bygeval, toe hy gesê het: “Ek het 'n droom”. Hy het gedroom dat die Afro-Amerikaners finaal ook hul plek in Amerika sou vind, wat ten ene male al die ongeregtigheid van segregasie sou beëindig. Toe hy hierdie droom gehad het, is daar neergesien op swartmense, wat die laagste take moes verrig en agterin busse moes sit. Indien enige blanke persoon in die Suide, tydens daardie ontstuimige jare gevra sou word, sou daar bloot gesê word dat Martin Luther King niks meer as 'n dromer was en desegrasie nimmer as te nooit sou plaasvind nie! Die feite en natuurlik die geskiedenis is egter vanselfsprekend. Desegrasie het inderdaad plaasgevind en Martin Luther King se droom is bewaarheid. Prys die Here!


Ek glo egter nie dat dit Martin Luther King was wat eindelik sy droom bewaarheid het nie. Hy het ongetwyfeld hard gewerk daaraan: Hy het saamtrekke gereël en sittings gehou, maar die oorwinning self het nogtans nie van hom gekom nie. Hy het deur die jare baie teleurstellings en terugslae ervaar sodat hy gedink het sy droom sou nooit verwenselik word nie. Uiteindelik het dit hom sy lewe gekos voordat sy droom gerealiseer het. Martin Luther King was egter nie die eerste dromer nie.


Genesis / Bereshit {37:5} “ Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. {37:6} Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. {37:7} Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. {37:8) Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:9} Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. {37:10} Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? {37:11} En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.


Josef het 'n droom gehad maar niemand het hulle daaraan gesteur nie. Sy familie het sy drome as belaglik beskou en gereken dat niks wat hy gedroom het, ooit bewaarheid kon word nie, maar dit het. Alles wat Josef gedroom het, het werklikheid geword. Nietemin twyfel ek sterk of hyself hulle ernstig opgeneem het soos wat die gebeure in sy lewe ontvou het. Stel julle voor wat hy moes gedink het terwyl hy onderin 'n droë put moes wag om van die dors om te kom, nadat sy broers hom daarin gegooi het of toe hy deur hulle as slaaf aan die Midianiete verkoop is. Dit was beslis nie oor sy drome om oor sy familie te heers nie; inteendeel, dit het vir hom slegs gegaan om oorlewing! Dit het neerlae vereies alvorens God oorwinning in Josef se lewe sou bewerkstellig, netsoos die terugslae wat Martin Luther King moes verduur om God se oorwinning te verwenselik en sy droom bewaarheid is.


Ek besef dat ons almal al drome gehad het, maar die werklikheid is dat nie alle drome profeties is nie; inteendeel, die meeste daarvan is nie, maar dit is nie wat belangrik is nie. Wat wel van belang is, is dat ons ons drome nie te ernstig opneem nie. Dikwels neem ons dit egter ver te ernstig op. Ons ontleed dit, bestudeer dit en peins daaroor in 'n poging om die uitleg en betekenis van die drome te probeer uitvind. Onthou, dit was nie voordat alles met hom gebeur het, dat Josef die ware betekenis van sy drome besef het nie en hy baie moeilike tye moes deurmaak, alvorens dit gerealiseer het nie, maar hy het dit alles oorleef om dit te kan beleef. Ongelukkig het Martin Luther King dit nie beleef om sy droom bewaarheid te sien nie.


Wat ek probeer verduidelik, is dat of ons drome waarlik profeties is, aldan nie, God in beheer is en dié Een is wat ons drome sal vervul. Sommige van ons mag die vervulling daarvan beleef en ander nie, maar per slot van sake hang dit alles van God af. Ekself heg nie veel waarde aan die uitleg van drome nie. Netsoos Josef, is ek net te besig van dag tot dag, terwyl ek op die Here vertrou om my elke dag deur te sien, één dag op 'n keer. Dus het ek nie tyd om gemoeid te wees met wat ek verlede jaar, verlede maand of selfs verlede nag gedroom het nie. Van tyd tot tyd deel ek wel my drome mee maar “liasseer” dit iewers in my brein en gaan aan met my lewe. God, in Sy wysheid en op Sy bestemde tyd, sal my drome bewaarheid, aldan nie! Baruch HaShem!


Prediker / Koholet {5:6} “Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!


Congregation Melech Yisrael all rights reserved

Saterdag 05 Desember 2009

Oorhaastige Gevolgtrekkings

En Hy Het Gestuur / VaYishlach |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

5 Desember 2009 / Kislev 18 5770

Genesis / Bereshit 32:3-36:43
Obadja / Ovadyah 1:1-21
Matthéüs / Mattityahu 26:36-46

Genesis {32:3} “En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, {32:4} en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; {32:5} en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë. {32:6} En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom. {32:7 } Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel; {32:8} want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak.

Wanneer mense my vra of ek fisiese oefening doen of 'n oefenprogram by 'n gimnasium volg, sou ek sê dat die enigste oefening wat ek wel kry, is om “oorhaastige gevolgtrekkings” (“jumping to conclusions”) te maak! Ek bedoel dit natuurlik altyd as 'n grap, maar wanneer mens die bovermelde Skrifgedeelte – uit hierdie week se Parasha geneem – lees, kan oorhaastige gevolgtrekkings baie gevaarlik wees, selfs 'n sonde! Laat my toe om dit te verduidelik.

Dikwels wanneer ons met mense gesels, vertolk ons dÍt wat hulle sê of hoe hulle teenoor ons reageer verkeerdelik en op grond daarvan, lei ons oorhaastige gevolgtrekkings af. Deurdat 'n mens hulle moontlik slegs misverstaan, ontwikkel ons hierdie “wat as”-scenario in ons verstand, en lei ons gevolglik foutiewe, verwronge gevolgtrekkings daarvan af; met ander woorde, gevolgtrekkings wat oorhaastig gemaak word.

Esau en Jakob se paaie het twintig jaar vroeër nou nie juis onder die gunstigste omstandighede geskei nie. Dit is dus verstaanbaar dat toe Jakob verneem sy broer kom hom tegemoet en daar boonop vierhonderd man by hom was, hy die ergste verwag het. Daar is egter in die Skrif geen aanduiding dat Esau se bedoeling anders as eerbaar was nie.

Volgens wat ons in hierdie Parasha lees, was Esau klaarblyklik 'n welgestelde man wat homself daartoe opgewerk het. Hy het die vlak van rykdom, invloed en mag bereik wat hy gehoop het om deur sy vader se seën te kon verkry, maar dit alles daarsonder bereik, dus op sy eie. Sy geboortereg was twintig jaar gelede vir hom van geen betekenis nie en noudat hy oor alles – finansieel en polities – beskik het, het hy nog minder waarde daaraan geheg, met die gevolg dat hy geen wrok gekoester het nie. Esau het oor alles beskik, wat hý self bereik het, sonder enige kwade gevoelens teenoor sy broer, wat hy gemeen, hom uit sy potensiële rykdom, invloed en mag verkul het.

Jakob, daarenteen het gedurende die twintig jaar nie so goed gevaar nie. Eers is hy gekul ten opsigte van die vrou wat hy liefgehad het en daarna, om rykdom te bekom. Hy het vir twintig jaar lank gewerk vir bykans niks! Toe hy uiteindelik sy skoonvader, Laban, verlaat, het hy sy gesin en rykdom, wat hy deur manipulasie en deur God se genade bekom het, met hom saamgeneem. Dit is dus geen wonder nie, dat hy Esau gewantrou het! Manipulerende mense meen dat hulle almal kan manipuleer. Jakob, vanweë die swaarkry van die afgelope twintig jaar, het egter steeds skuldig gevoel oor wat hy sy broer aangedoen het en juis dit het hom tot 'n oorhaastige gevolgtrekking gelei.

Dit is duidelik dat as 'n mens onbetroubaar is, jy niemand sal vertrou nie; as jy 'n bedrieër is, sal jy altyd glo dat jy bedrieg word. Dit was nou Jakob en kon netsowel ons gewees het!

Op spirituele gebied beskou, was daar natuurlik 'n groot verskil tussen wat met Esau en Jakob oor die twintig jaar gebeur het. Ten spyte van sy tekortkominge, het Jakob 'n opregte hart voor God gehad en juis daarom was God besig om hom te vorm en herskep tot 'n ware man van God, wat Hy hom bedoel het om te wees, aangesien kastyding en swaarkry karakter bou. Jakob het egter nog nie genoeg verander nie. Daar was steeds te veel van die ou self in homself verskuil en sy oorhaastige gevolgtrekkingsneiging – in plaas daarvan om op God te vertrou – bewys dit aan ons. Jakob het dit moontlik ook so ervaar.

Esau, andersyds, was wêrelds en spiritueel dood soos wat hy twintig jaar gelede reeds was en moontlik selfs meer so.

Sy Godloosheid word gemanifesteer in sy trots. Ek dink dat dit juis hieroor was dat hy sy broer, met vierhonderd man te perd tegemoet gery het. Na my mening was dit nie soseer 'n vertoon van mag nie, maar eerder om te bewys wat hy – sonder Jakob – bereik het en hy daarom onderweg was om hom te red van sy tuistelose rondswerwing en hom te kom haal om in sy “koninkryk” te kom woon.

Ek meen die les wat hieruit geleer kan word, is dat ons eie skuldgevoelens en manipulerende, suspisieuse neigings ons tog maar bedrieg. Dit lei tot wantroue en gevolglik “oorhaastige gevolgtrekkings”. Paulus verstrek egter aan ons die teenmiddel vir “oorhaastige gevolgtrekkings”:

Filipense {4:8} “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”.

Congregation Melech Yisrael all rights reserved

Saterdag 28 November 2009

Goddelike Bevestiging

En Hy Het Gegaan / Va Yeitzei |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


28 November 2009 / Kislev 11 5770


Genesis / BeReshit 28:10 - 32:2

Hoséa / Hoshea 13:6 - 14:10

Johannes / Yochanan 1:43 - 51


Genesis / BeReshit {29:9} "Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan, want sy het hulle opgepas. {29:10} Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer. {29:11} En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween. {29:12} En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel."


Die vers wat my aandag getrek het uit hierdie Skrifgedeelte, geneem uit vandeesweek se Parasha, is die volgende:


Genesis / BeReshit {29:11} "En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween."


Dit was nog altyd vir my vreemde waarom Jakob gehuil het nadat hy vir Rachel gekus het. Eerstens, met inagneming van antieke Midde-Oosterse protokolle tussen ongetroude pare, was dit nie 'n passievolle kus nie. Ek is seker dit was eerder die soort kus wat Paules voorgestel het waarmee gelowiges in Jesus die Messis, mekaar moes groet; min of meer soos wat die Frans en Russe kus, wanneer hulle mekaar groet.


Romeine {16:16} "Groet mekaar met ‘n heilige kus. Die gemeentes van Christus groet julle."


Ek vertolk 'n heilige kus as 'n vlugtige kus, gewoonlik in die lug, of op één of albei wange, sonder enige laer liggaamlike kontak. Dit was die mees algemene tipe kusin daardie tyd onder die Semitiese volk, 'n gebruik wat skynbaar tot in die eerste eeu oorgedra is. Dus het Jakob vir Tachel 'n heilige kus gegee toe hy haar die eerste keer ontmoet het. Maar waarom het hy dan sy stem verhef en gehuil? Daar word vermoed dat hy op daardie oombliklik oorweldig is deur liefde, maar ek beskou dit nie so nie. Volgens my mening was dit eerder so: Het God moontlik ooit tot julle gespreek en dat julle getwyfel het of julle werklik God gehoor het, maar dat julle Hom wel gehoor het? Ja, ek glo dit is wat met Jakob gebeur het. In sy droom die voirige nag, het Jakob vir God sien staan aan die bokant van die leer wat uit die hemel yot op die aarde gestrek het. Vanuit daardie posisie, het God tot hom gespreek:


Genesis / BeReshit {28:13} "En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; {28:14} en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. {28:15} En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het."


Dit was inderdaad die belofte en ek is oortuig daarvan dat Jakob baie beïndruk was deur die droom, maar seker dat hy ook getwyfel het of dit werklik 'n profetiese droom was, dat dit waar was en voorwaar God was wat tot hom gespreek het. Ek sou ook me bedenkinge daaroor gehad het en ek is seker julle ook.


Hoe weet ek dat Jakob getwyfel het? Ek weet, op grond van wat hy die volgende oggend ná die droom gesê het:


Genesis / BeReshit {28:18} Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. {28:19} En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. {28:20} En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, {28:21} en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. {28:22} En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.

Het julle gelet op die woord "As" in vers 20? Dit laat my dink dat Jakob tog aan sy droom getwyfel het! Sekerlik het hy, netsoos julle en ek ook sou. God sou egter nie toelaat dat Jakob vir die res van sy lewe met hierdie twyfel leef nie; Hy het aan Jakob bevestig dat dit Hy was wat hy gehoor het.


Jakob was besig om vir sy broer Esau te vlug en het gevolglik in 'n onbekende gebied koers ingeslaan; hy was soekend na iemand wat hy nog nooit ontmoet het en geken het nie. Waar sou hy begin om na sy moeder se broer te soek? Wat moes hy te wagte wees wanneer hy hom sou ontmoet? Sou Laban hom selfs ontvang? Al hierdie vrae en moontlik selfs meer, het sekerlik by Jakob opgekom. Toe kom hy toevallig 'n put teë, maar nie net énige ou put nie. Ek is seker daar was vele sulkes in die omtrek, maar dié put was die juiste een waar Laban sy dogter hul skape laat suip het. Ek glo nie dit was blote toeval nie! Dit was van die Here en Jakob het dit besef! Die kus wat hy Ragel gegee het was dus 'n kus van vreugde dat God Sy belofte bevestig het en hy het dus sy stem verhef om God te prys vir die bevestiging wat hy deur hierdie ontmoeting beleef het. Jakob het noe geweet dat hy reg gehoor het, dat hy inderdaad van God gehoor het. Hierna het hy nie getwyfel oor sy bestemming nie omdat al God se beloftes "Ja en Amen" is!!


2 Korinthiërs / Korintim Bet {1:20} "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons."


Congregation Melech Yisrael all rights reserved


Saterdag 21 November 2009

Wat is Jóu Prys?

Geslagte / Toldot |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

21 November 2009 / Kislev 4 5770

Genesis / BeReshit 25:19 - 28:9

Maleagi / Mal'achi 1:1 - 2:7

Romeine / Romim 9:6 - 13


Genesis / BeReshit {25:27} "En die seuns het opgegroei: Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het. {25:28} En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad. {25:29} En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. {25:30} Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. {25:31} En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. {25:32} En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? {25:33} Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. {25:34} En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag."

Hoe honger kon Esau gewees het dat hy op die punt was om te sterwe? Daar word nie vertel dat hy van sy jagtog af op 'n draagbaar deur paramedici teruggebring is nie; inteendeel, dit word gemeld dat hy op eie krag teruggekeer het. Hoe naby aan die dood kon hy dan gewees het? Nietemin sê Esau vir Jakob dat hy só honger is dat hy kan sterwe.

Ek weet egter nie hoe lank Esau op sy jagtog sonder voedsel was nie, maar my eggenote en ek het al vir veertig dae gevas. Ons het ookal dikwels op één, twee en drie-week vastye gegaan en was sekerlik nooit as gevolg daarvan, naby aan doodgaan nie. Ek sou dit inderdaad verstaan het indien Esau vir 'n onbepaalde tyd sonder water was, want selfs drie dae sonder water kon, onder normale omstandighede, ernstige nagevolge gehad het; maar wat voedsel betref sou Esau beslis vir veertig dae daarsonder sou oorleef het.

Daar is dus geen twyfel nie dat bovermelde gedeelte waarin ons vertel word dat hy sy eersgeboortereg vir voedsel verruil het om sy honger te stil, hy inderdaad sy geboortereg verag het. Nadat hy egter besef het wat hy gedoen het - toe die werklikheid van wát hy verkoop het, hom tref - beskuldig hy sy broer Kakob van bedrog.

Genesis / BeReshit {27:34} Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met ‘n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën my ook, my vader! {27:35} En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem. {27:36} Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?

Maar die vraag bly steeds: Hoe honger kon Esau dan werklik gewees het? Ek dink Esau se verklaring dat hy tot die dood toe honger was, was 'n oordrywing. Ek is seker dat julle ookal, soos ek, hierdie woorde in jul lewe uitgespreek het. Julle was nie regtig op die punt om te sterwe nie, maar julle het dié woorde gebruik om uit te druk hoe vreeslik honger julle was. Ek aanvaar dat dit met Esau dieselfde was. Dit is verstommend wat 'n mens alles sal doen om jou honger te stil, as jy nie gedissiplineerd is nie. Wanneer ek vas, verg dit baie dissipline, selfbeheersing en 'n sterk geloof in God om daarmee vol te hou. Waarom dan geloof? Omdat ek altyd vir 'n bepaalde doel vas, óf om 'n persoonlike behoefte of 'n gebedsversoek óf voorbidding namens iemand anders. Sonder die geloof dat wát ek doen, God sal beweeg om my te verhoor, sou ek nooit behoorlik kon vas nie, want my aptyt en vlees sou altyd die oorhand oor my gekry het!

As ons vandag dink aan geboortereg, dink ons aan iets soos 'n erflating, moontlik van geld of eiendom, maar alhoewel God finansieel vir ons voorsien, is Hy meer begaan oor ons geestelike welsyn en ons verhouding met hom. Wanneer die Bybel dus spreek van 'n geboortereg, soos vandeesweek se Parasha, word daar eintlik verwys na Esau se geestelike toestand en sy persoonlike verhouding met God. Jakob was miskien 'n knoeier, maar hy was darem spiritueel en het 'n verhouding met God gehad, wat die Skrif bedoel met "Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het." Esau daarenteen was Godloos en dít was sy probleem.

God is 'n gelowige se erfenis, Hy is ons geboortereg. Toe Esau sy geboortereg verwerp het, het hy inderwaarheid God verwerp - iets wat selfs vandag nog vir ons duidelik is soos ons ondervind hoedat sy nageslag 'n vreemde God aanbid. Die skrywers van Hebreërs stel dit baie duidelik wanneer hy sê:

Hebreërs / Ivrim {12:15}en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. {12:16} Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

Vra julle self vandag af: "Hoe belangrik is God vir jóu en teen watter prys sal jy Hom uit jou lewe uitverkoop!"

Congregation Melech Yisrael all rights reserved

Saterdag 14 November 2009

Die Saak van Verassing

Sara Het gelewe / Chayei Sarah | Afrikaans skakel | English link |

14 November 2009 / Cheshvan 27th 5770

Genesis / BeReshit 23:1-25:18
1 Konings Melachim Aleph 1:1-31
1 Korithiërs / Korintim Aleph 15:50-57

Genesis / Bereshit {23:1} "En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe. {23:5} Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en sê aan hom: {23:6} Luister na ons, my heer! U is ‘n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie. {23:7} Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het; {23:8} en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ‘n goeie woord by Efron, die seun van Sohar, {23:9} dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ‘n graf onder julle mag besit."

Ek kan nie vir julle vertel hoeveel keer mense my al uitgevra het oor wat die Bybel ons leer aangaande die begrawe van die dooies nie. Met die hoë koste van begrafnisse vandag, het baie mense my genader betreffende die meer ekonomiese opsie van verassing in plaas van 'n begrafnis. Ek is ook deur ekologiese instansies genader, wat voorkeur aan verassing bo begrafnis verleen, omdat hulle nie die waardevolle landbougrond wil opoffer nie. Ander het weer na my gekom sidderend by die gedagte om begrawe te word, terwyl hulle vlees ontbind in 'n kis en deur maaiers verteer word. Dit is geldige vrae en hul redes om verassing te verkies is logies, maar die vraag is: "Is verassing Bybels?" "Ek dink dit behoort 'n baie vername aangeleentheid vir elke gelowige in Jesus die Messias te wees.

Aangesien verassing logies blyk te wees, kom ons kyk na die drie praktiese redes wat aangevoer word vir die voorkeur om veras te word, alvorens ons die Bybelse aspek daarvan oorweeg. Daar is eerstens die ekonomiese rede: begrafnisse is inderdaad 'n groot uitgawe, maar aangesien ons almal besef dat ons vroeër of later gaan sterf, indien Jesus nie in óns leeftyd na die aarde terugkeer nie, is dit dan nie logies om vooruit te beplan vir ons dood nie? Verstandige mense beplan reeds wanneer hulle nog jonk is vir hul aftrede in die toekoms. Ons koop aandele, neem versekering uit en belê in goedgekeurde staats-aftredingsprogramme. Diegene wat bevoorreg genoeg is om vir 'n maatskappy te werk wat 'n aftredeplan bied, dra ook daartoe by. Indien ons dus met soveel sorg vir ons uiteindelike aftrede beplan - wat miskien nie sou gebeur as ons skielik sterf nie - waarom dan nie ook beplan en voorberei vir ons afsterwe, wat sekerlik gaan plaasvind nie! Om vooraf vir 'n mens se dood te beplan, kan die uitgawe oor 'n aantal jare versprei word. Daar is baie vooraf-begrafnis-planne beskikbaar, sodat 'n eenmalige groot uitgawe onnodig is. Dit is ook nooit te laat om vroegtydig vir 'n mens se begrafnis voorsiening te maak nie, veral waar dit by 'n lewensversekering ingesluit kan word om enige uitstaande premies ten tye van die dood, ten volle op te betaal.

Die tweede logiese rede vir verassing is dat goeie landbougrond nie gebruik word nie. Indien enige land besorgd behoort te wees oor die gebruik van waardevolle grond vir begrafplase, dan móét dit Israel wees. Hierdie klein landjie kan sekerlik nie bekostig om waardevolle vaste eiendom beskikbaar te stel vir hierdie doel nie, maar dit word nietemin gedoen. Hierdie feit is vanselfsprekend: stedelike uitbreiding neem wêreldwyd meer waardevolle landbougrond in beslag vir behuisingsprojekte as wat ooit vir begraafplase gebruik word. 'n Gemiddelde graf is slegs 91,4 cm x 1,98 cm (3 vt x 6.5 vt).

Die derde logiese rede wat ten gunste van verassing verstrek word, is die gedagte van ontbinding en vertering deur maaiers. Die feit is egter dat 'n mens dood is, wat bedoel dat die brein nie langer funksioneer nie, die senuweestelsel nie meer enige pyn ervaar nie en die siel, oftewel die bewussyn, die liggaam verlaat het. 'n Mens leef dus nie meer nie en jou stoflike oorskot in die kis is dooie bederfbare vlees, vlees wat God bestem het om te bederf.

Nou, om die vraag te beantwoord of verassing Bybels is! Die eenvoudige antwoord is: Nee! Waarom is ek so uitdruklik daaroor? Baie eenvoudig. Alle Bybelse bewyse dui op die feit dat God menslike offerande verafsku. Menslike offerand het altyd verbranding behels. Die meerderheid gevalle waar mense of menslike dele deur vuur verbrand is, het altyd gehad op die aanbidding van sataniese, demoongode. Die enigste uitsondering hierop was wanneer mense deur vuur oorval is; andersins het menslike verassing altyd in verband met afgodery gegaan. As 'n mens die feit dat baie afgods-godsdienste steeds verassing beoefen hierby voeg, dan het 'n mens 'n sterker saak daartéén, immers vir diegene wat in Jesus die Messias glo en Hom dien. Verassing is geen opsie nie. Die Bybelse bewys is uitdruklik daartéén gekant!

Congregation Melech Yisrael all rights reserved