Jetro / Yitro
(Gaan)
Eksodus / Shemot {19:10} “Verder het die HERE aan Moses
gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere
was {19:11} en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal
die HERE voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal. {19:12} Ook
moet jy vir die volk ‘n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die
berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik
gedood word. {19:13} Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik
gestenig of sekerlik met ‘n pyl geskiet word; of dit ‘n dier of ‘n mens is—hy
mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg
klim.”
Indien julle deel was van ons Sabbatdiens op 25 Januarie
2009, het julle gedeel in 'n groot genot. Dit was nie slegs 'n salwingsdiens
nie, maar julle het ook 'n uitstekende verduideliking gehoor oor die onderwerp
van die roeping van God oor die land en volk Israel. Deel van hierdie
verduideliking was 'n les oor die sentrale rol wat die Sinaï-berg in God se
plan vir Israel gespeel het.
In hierdie week se oordenking, meer in besonder die gedeelte
hierbo aangehaal, lees ons dat God die kinders van Israel geroep het om die
berg Sinaï te nader. Wat is die betekenis daarvan om na die berg Sinaï te kom?
Wat is so belangrik van Sinaï-berg dat God Sy volk roep om dit te nader?
Daar is vele "tipes" in die Skrif. Ons het sopas
vanjaar die studie voltooi oor Josef, seun van Jakob, wat ons gesien het 'n
tipe van Jesus was. Met ons Torastudie, op Sabbatoggend, twee weke gelede, het
ons ook gesien hoedat Josef se broers, wat hom in slawerny verkoop het, 'n tipe
Judas Iskariot was, wat Jesus uitverkoop het. In die bogemelde Skrifgedeelte,
beskou ek berg Sinaï as 'n tipe van wat in die duisendjarige ryk sal gebeur.
Hier volg my redenasie:
In die boek Esegiël word ons vertel:
Esegiël / Yechekiel {47:1} “Daarna het hy my teruggebring na
die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel
van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die
ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis
uit, suid van die altaar.”
Hierdie Skrifgedeelte beskrywe die duisendjarige tempel, wat
by Sy wederkoms, deur ons Messias bewoon sal word, Hy gebruik die beeld van
water wat onder die drumpel van die tempel uitvloei, as die woord van God wat
vanuit Jerusalem sal voortkom. Soos wat 'n mens verder in hierdie gedeelte van
Esegiël se profesie lees, sien ons dat hierdie water genesing en lewe sal bring
aan alles wat dit aanraak. Nodeloos om te sê, is hierdie water die Woord van
God, die Tora, want geen ander Woord het op daardie tyd bestaan nie.
Dan word ons in die boek Openbaring die volgende vertel:
Openbaring / Hitgalut {22:1} “En hy het my getoon ‘n suiwer
rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die
troon van God en van die Lam.”
Hierdie water van die
lewe, waarna verwys word, is ook die Woord van God, wat uit die troon van God
en van Jesus (Die Lam) sal stroom. Toe Johannes die boek Openbaring geskryf
het, ofskoon die apostoliese brief moontlik in sirkulasie was, was dit egter
nie deel van die Bybelse kanonieke boeke (d.w.s die samestelling van boeke
waaruit die Bybel, soos ons dit vandag ken, bestaan nie) - dit was blote briewe.
Derhalwe, sou die water van die lewe, oftewel die Woord van God, vir Johannes
die Tora beteken het.
Daarom, wat ons hier sien, is dat beide gedeeltes die Woord
van God, as verspreidend vanaf God in die wêreld in beskrywe.
Die gedeelte uit Esegiël beskryf die duisendjarige ryk,
wanneer Jesus weer kom om die Duisendjarige Tempel te kom bewoon. Die ander
gedeelte (uit Openbaring) beskrywe die einde van die tyd wanneer die Woord van
God sal voortkom van sowel die Vader as die Seun, vanuit die Hemelse Tempel.
Ofskoon dié gebeurtenisse in verskillende tye plaasvind, beskryf albei egter
soortgelyke gebeure.
Kyk nou weer na vandeesweek se oordenking, soos ek vroeër
gesê het, en spesifiek die aangehaalde gedeelte hierbo en die Skrifgedeeltes
voor dit (Eksodus 10:1 - 19:6) asook dié daarna, wat die Tien Gebooie is.
Volgens julle mening, watter tipe gebeurtenis word deur
hierdie Skrifgedeeltes aan ons beskrywe?
Die gebeurtenis in hierdie gedeeltes beskryf, is die Woord
van God, wat uitgaan na 'n volk aan wie dit opgedra is om dit oor die wêreld te
versprei. Ons oordenking hierdie week, is dus beskrywend van 'n gebeurtenis,
gelykstaande aan dié beskrywing in Esegiël en Openbaring, wat, soos ons weet,
albei 'n tyd beskryf wanneer die woord van God vanuit God sal uitgaan en die
hele wêreld die Tora van God sal hoor en ontvang. Die gebeure, beskrywe in
Esegiël en Openbaring, het nog nie plaasgevind nie. Dit wat egter by Berg Sinaī
- in ons oordenking uiteengesit - beskrywe word, is dus 'n tipe van hierdie
gebeurtenisse, wat nog sal plaasvind.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-02-14