Saterdag 25 Maart 2017

VaYachel - Pekudei (En Hy Het Hulle Laat Byeenkom) - Saam Met God en ‘n Gewillige Hart



Ofskoon dit vandeesweek ‘n dubbele lesing, oftewel twee parashot is, het ek egter my kommentaar slegs tot parasha Vayachel beperk.

Eksodus {35:10} “En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het: {35:11}  die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke; {35:12}  die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking; {35:13}  die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode; {35:14}  en die kandelaar tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en die olie vir die kandelaar; {35:15}  en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel; {35:16}  die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy gereedskap; die waskom met sy voetstuk; {35:17}  die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking van die poort van die voorhof; {35:18}  die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne; {35:19}  die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die priester Aäron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien.”

Nadat ek hierdie parasha gelees het, kan ‘n mens verstaan wat God bedoel het toe Hy gesê het dat Hy die mens na Sy beeld geskep het. Benewens al ons ander ooreenkomste, kan ons sien wat maak óns soos ons Hemelse Vader: ons is skeppers. Die enigste verskil tussen ons en God, wat skepping betref , is dat God iets uit niks kan skep, terwyl ons daarenteen slegs uit dit wat God reeds geskep het, iets kan skep.

God het, volgens hierdie parasha, Moses beveel om die rou boumateriaal bymekaar te maak, wat nodig sou wees om vir Hom ‘n woning te bou sodat Hy te midde van Sy volk kon wees. God se bedoeling, toe en selfs nou nog, was om onder Sy volk te woon. Sy gevoel hieroor is so sterk, dat Hy eendag – trouens binnekort – in die gedaante van Sy Seun Jesus die Messias, sal terugkeer om presies dít te doen.

Dit is interessant om te besef dat God, die Skepper van iets uit niks, met respek gesê, deur slegs Sy vingers te klap of ‘n enkele woord te spreek, vir Homself uit niks ‘n woning kon skep, netsoos Hy die heelal geskep het. Hy kon selfs deur Sy wil ‘n woning laat ontstaan het waarin Hy kon woon; tóg het Hy dit nie gedoen nie. In plaas daarvan, het hy verkies dat die kinders van Israel dit vir Hom doen. Hier is vir my twee beginsels van krag, wat ek as deel van my kommentaar vir hierdie parasha sal verduidelik. Albei beginsels verwys na waarom God verkies het dat die kinders van Israel die tabernakel (Mishkan) bou, pleks dat Hyself dit laat ontstaan het.

Die eerste beginsel:

Spreuke {13:11} “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.”

Hierdie spreuk, soos ons kan sien, het betrekking op die verkryging van geld wat nie deur arbeid verdien is nie, dikwels “swerfgeld” genoem en wat dié spreuk eintlik sê, is dat geld wat nie deur arbeid bekom is nie, net so gou verdwyn as wat dit bekom is. Dus kan dieselfde beginsel geld vir enigiets wat ons nie deur harde werk bekom of werklik verdien het nie. Kom ons wees maar eerlik: dit is deel van ons menslike natuur! Ons waardeer en versorg slegs dít waarvoor ons hard moes werk, méér as dit wat aan ons gegee is, sonder dat ons iets daarvoor hoef te gedoen het. Ongelukkig sluit dit vir sommige mense selfs hul verlossing in. Dit is waarom daar soveel werk-georiënteerde godsdienste en kultusse is. Hierdie aspek van ons natuur, glo ek, is ‘n gevolg van die sondeval van die mens (Adam en Eva).

Genesis {3:17} “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. {3:18}  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. {3:19}  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Die tweede beginsel:

1 Korinthiërs {3:7} “So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. {3:8}  Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. {3:9}  Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.”

God begeer ons vennootskap met Hom. Alhoewel Hy by magte is om alles sonder ons te doen, is die eintlike rede waarom Hy ons geskep het, om Sy vennote te wees op die aarde wat Hy vir ons geskep het. Deur die opstanding en Sy toekomstige wederkoms, sal ons saam met Jesus in die heelal regeer.

Openbaring {20:6} “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Dit is dus, om hierdie twee redes, wat ek glo, God die kinders van Israel laat deelneem het aan die konstruksie van die tempel.

Eksodus {35:4} “Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: {35:5}  Neem van julle besittings ‘n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE: goud en silwer en koper;”

Ons, wat in Jesus die Messias glo, is nou die tempel van God, waarin die Gees van God woon. Daarom is dit steeds die verantwoordelikheid van elke gelowige in Jesus die Messias om God se koninkryk te bou, deur getuienis en die evangelie van verlossing. Ek vertrou dat God in jou ‘n gewillige hart sal vind!

Kom gou Jesus!

Saterdag 18 Maart 2017

Moenie Dit Toelaat om Uit te Breek Nie

Ki Tisa
(Wanneer Jy Verhef )


Daar was ongetwyfeld nie 'n tekort aan onderwerpe om van te kies vir hierdie week se parasha nie. Dus kan julle besef hóé moelik dit vir my was om 'n finale keuse te maak, wat ek beskou het tot eer van God sou wees en ook tot seën vir julle, ons lesers. Hier volg dan die Skrifgedeelte waarop ek besluit het:
Eksodus/ Shemot {30:11} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {30:12}  As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie. {30:13}  Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom—die sikkel is twintig gera—’n halfsikkel as offergawe aan die HERE. {30:14}  Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee. {30:15}  Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. {30:16}  Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.”
'n Sensus van die kinders van Israel was altyd met 'n doel, wat deur God bepaal is. Die kinders van Israel mag nooit getel gewees het vir enige ander doel as vir God se doel nie. In die bovermelde  Skrifaanhaling lees ons dat die telling met 'n halwe sikkel gepaard moes gaan, wat deur elke persoon gegee is as versoeningsoffer vir sy lewe. Ons word ook vertel dat die betaling van die versoeningsoffer, sou verseker dat geen plaag onder die volk uitbreek nie. Daarbenewens sou dit vir die instandhouding van die tabernakel aangewend word.
Ons onthou hoedat koning Dawid op wispelturige wyse besluit het om die kinders van Israel te laat tel (2 Samuel 24). Ongeag die pleidooie deur sy generaal, Joab, om dit nie te doen nie, het koning Dawid daarmee voortgegaan – 'n sensus, wat nie deur God goedgekeur is nie – en gevolglik het 'n plaag onder die volk uitgebreek.
Waarom sou ons 'n versoeningsoffer vir ons lewens betaal? Die Hebreeuse woord “kopher” in Engels vertaal, is “versoeningsoffer of losgeld”. Dit is waarvandaan die Hebreeuse woord “kapparah” afgelei is, wat “dekking” beteken. Dit is van toepassing op offerandes wat gebring is as versoening vir 'n sonde wat teen God gepleeg is. Die Tora is egter vol voorskrifte oor hoedat diere aan God geoffer moes word om hierdie doel te vervul. Kan die gawe van geld dan ook as versoening vir sonde dien? Die antwoord daarop is hoegenaamd nee! Waarom sou God dan die betaling van 'n halwe sikkel eis as versoening vir die lewens van die kinders van Israel?
Die antwoord hierop is betreklik eenvoudig en behels die aanwending en doel van die betaling van die halwe sikkel.
Eksodus/ Shemot {30:16} “Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.”
Die betaling van die halwe sikkel op sigself het nie as versoenoffer gedien nie. Geld of die betaling daarvan aan 'n godsdienstige organisasie, kerk of sinagoge, kan nie dien as losprys vir jou siel nie. Wat het die versoenoffer, soos in die bovermelde vers aangedui, dan te doen met hoe die geld aangewend moes word? Die halwe sikkel was vir diens in die tabernakel, waarby ook dienste met die naderkomofferhandes en ander offers (korbanot) gelewer, ingesluit was. Terwyl geld geen mens se siel kan red nie, verduidelik God hier aan ons dat geld tog noodsaaklik is vir die proses van sielsredding. Sonder geld, sou die tabernakel nie behoorlik kon funksioneer nie, die kapparah nie gedoen word nie en diere nie as plaasvervangende offerandes vir die sonde van 'n mens wees nie.
God het die belangrikheid van geld in die algemene proses van redding geweet en ek dink dat ons dit ook moet besef. Sonder behoorlike finansiering sal ons Messiaans-Joodse instellings nie kan onderrig, preek, bedien en getuig nie – nie aan die verlore siele van die huis van Israel of aan die nasies nie. My gebed is dus dat elkeen wat hierdie D'var Totah lees, sy/ haar plig sal nakom om tot hul plaaslike gemeente (kehila) by te dra ten einde die opbouing van die liggaam, die redding van siele en verewiging van die Besora Tova (Goeie Nuus / Evangelie) te verseker. Indien jy versuim om dit te doen, wees dan versigtig dat 'n plaag nie jóú huis tref nie!

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-03-06

Vrydag 10 Maart 2017

Die Altaar en Die Naderkomsofferande

Mishpatim
(U Beveel)



Eksodus / Shemot {29:42} “Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek. {29:43} En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word. {29:44} So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien. {29:45} En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees; {29:46} en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.”

Waarom moes die altaar (mitzbe'ach) by die ingang van die deur vóór die Tent van Samekoms (Ohel Moed) geplaas word? Waarom kon dit nie daaragter of by enigeen van die kante geplaas word nie?

Soos uit hiedie parasha blyk, was daar ingewikkelde voorskrifte met betrekking tot die naderkomsofferande (korbanot), wat nagekom moes word alvorens Aaron en sy seuns toegelaat is om die Tent van Samekoms binne te gaan. Voordat hulle verder as die altaar beweeg het, moes hulle eers gewy word en van sonde gereinig wees ten einde in die teenwoordigheid van 'n heilige God en die altaar, waarop die naderkomsofferande geoffer is, te kom. Deur die Tent van Samekoms, het God vir Homself 'n plek geskep waar Hy te midde van Sy volk kon wees. Die rede hiervoor was dat 'n heilige God nie tussen onheilige mense kon verkeer nie. Wat was dan die doel daarvan dat God te midde van Sy volk sou wees? Dit was sodat hulle 'n persoonlike verhouding met Hom kon hê en volgens die Skrif hierbo, sodat hulle sou besef Hy is die God wat is, wat was en wat sal wees (Yud Hay Vav Hay), die God wat hulle uit die land van die Egiptenare gelei het.

God is nie 'n God van voorskrifte en regulasies nie – Hy is 'n God van verhoudings! Dit is egter onmoontlik vir onheilige mense om enige soort verhouding met 'n heilige God te hê, vandaar dus die altaar en die naderkomsofferande. Niks wat onrein is kon verder as die altaar kom nie omdat niks onheiligs ooit 'n verhouding met God kan hê nie. Die Skrif is baie uitdruklik dat om die Tora te gehoorsaam en die gebooie (mitzvoth) te onderhou, geen mens heilig maak nie. Wat 'n mens wel heilig maak, is vergifnis van sonde deur die plaasvervangende offer (korban).

Het julle met die lees van die parasha aftergekom dat Aaron en sy seuns hul hande op die offerdiere moes lê voordat dit doodgemaak is? Die handoplegging simboliseer die oordra van sonde op die offerdier. Die dier waarop hulle hul hande gelê het, is dan doodgemaak en aan God geoffer as plaasvervanger vir die dood van die menslike sondaar, in hierdie geval Aaron en sy seuns.

God is vandag nog netso heilig soos wat Hy in die Bybelse tye was en daarom het ons steeds 'n offerdier (korban) nodig, netsoos in die bybelse tye, indien ons 'n verhouding met Hom wil hê. Wat is die korban dan nou, aangesien daar nie meer 'n Tent van Samekoms (Ohel Moed) of 'n altaar (mitzbe'ach) is waarop 'n korbanot geoffer kan word nie? Waarop kan ons ons hande lê om as't ware ons sonde daarop oor te plaas, sodat ons 'n verhouding met 'n heilige God mag hê? Dit is natuurlik Jesus die Messias.

Jesaja / Yeshayahu {59:2} “maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”

Jesaja / Yeshayahu {53:5} “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Daar is 'n interessante punt wat ek graag met julle wil deel aangaande die altaar (mitzbe'ach) en offerhandes (korbanot): dit het betrekking op wat Jesus gespreek het:

Matthéüs / Mattityahu {23:34} “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, {23:35} sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.”

Ons is bewus daarvan dat met Jesus se wederkoms, Sy voete die Olyfberg sal aanraak, wat drie plekke behels, waarvan die Tempelberg één is, en hierdie bergreeks sal skeur om nuwe berge te vore te bring. Daar is 'n goeie rede hiervoor en dit het betrekking op die skrifgedeelte hierbo aangehaal.

Het julle opgelet in ons Skrifgedeelte uit Matthéüs, dat Sagaria vermoor is tussen die altaar (mitzbe'ach) en die tempel? Onthou julle dat, volgens hierdie parasha, Aaron en sy seuns geheilig moes word voordat hulle die altaar verbygegaan het ten einde die Tent van Samekoms binne te gaan?

Die altaar is op die besondere plek geplaaas om vir vergifnis van sonde te offer vir enigiets wat tussen die altaar en die buitewêreld gedoen is. Vir enige sonde, soos in hierdie geval in die Skrifgedeelte hierbo gemeld, wat tussen die altaar en die tempel gepleeg is, was daar geen versoening nie omdat dit aan die verkeerde kant van die altaar plaasgevind het.

Vergeet van die Rotskoepel wat Sion nou oorheers, vergeet daarvan dat dit die Tempelberg onteer en daardie omgewing ontheilig. Hierdie gedeelte van die grond is onteer – nie vanweë die moskee nie – maar as gevolg van die bloed van Sagaria, wat tussen die tempel en die altaar vermoor is. Vir sy bloed was daar nie en kan daar nie versoening voor wees nie – om dié rede sal die tempel, in sy huidige toestand, altyd onteer wees. Daarom sal die bestaande berg vernietig móét word en 'n nuwe berg móét verrys sodat die Messias se duisendjarige tempel (Bet HaMikdash) daarop gebou kan word.

Jesaja / Yeshayahu {2:1} “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. {2:2} En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. {2:3} En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-02-27








Saterdag 04 Maart 2017

Hy Voorsien vir Ons ‘n Weg

Terumah
(Offerhandes)


Eksodus / Shemot {25:1} ”Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.”

God het nie sommer net vir Moses opdrag gegee om die tabernakel te bou nie – Hy het vir hom die ontwerp gewys! Ek is oortuig daarvan dat toe Moses van die berg Sinai afgeklim het met die twee kliptafels, hy ook die argiteksplan van die tabernakel by hom gehad het.

Die tabernakel het gedien as simbool van God se teenwoordigheid, wat in die midde van Sy volk woon – ten spyte van hul gevalle toestand! Met die oprigting van die tabernakel, kon die heilige God nou in die midde van ‘n onheilige volk woon.

Die realiteit is dat die tabernakel eintlik ‘n herskepping van die tuin van Eden was, ‘n heilige plek vir God om te woon. Die tabernakel was, in essensie, Gos se toevlugplek / oord, ‘n plek waar daar geen onvolmaaktheid was nie, ‘n plek waar niks wat met dood of onreinheid geassosieer is, kon inkom nie. Hierdie tabernakel was geheel-en-al God-gesentreerd.

Die hele korban-stelsel (offerhande), soos in die boek Levitikus ({1-4}) uiteengesit, was mens-gesentreerd – met ander woorde die mens wat tot God nader. Ons het God deur die korban genader, terwyl God deur die tabernakel na ons gekom het. Vanweë sonde, het die mens nie daarin geslaag om na God te kom nie omdat God nie met sonde gemeenskap hou nie, met die gevolg dat God ‘n sigbare wyse vir die mens geskep het om na Hom te kom en vir Hóm om na die mens te kom.

Eksodus / Shemot {25:8} “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.”

God lig hierbo drie aspekte uit: Sy tabernakel (Mishkam), Sy fisiese teenwoordigheid (Shekinah) en Sy heiligheid (kedushah), wat Sy begeerte om onder Sy volk te woon, verteenwoordig. Die tabernakel dui altyd op die heiligdom en is sinoniem vir die frase: “Tent van Samekoms”. Die woord Mishkan (=tabernakel) plaas die klem op die verteenwoordigende teenwoordigheid van God:

Levitikus / Vayikra {26:11} “En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. {26:12} En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ‘n God wees, en júlle sal vir My ‘n volk wees.”

Die tabernakel was ‘n mobiele tempel, ‘n plek vir God om tussen Sy volk te wees terwyl hulle in die wildernis geswerf het. Dit het Sy heiligheid (kedushah) beskerm. ‘n Kadosh (Heilige / Afgesonderde) God kon nie, vanweë hul sonde, vrylik tussen Sy volk wandel nie. Daarom moes ‘n heiligdom voorsien word sodat Hy tussen hulle kon wees, sodat kinders van Israel versoeningsoffers vir hul sonde kon bring en sodat God en Sy kosbaarste besitting gemeenskap kon hê met mekaar. Die tabernakel was ‘n plek waar die kinders van Israel kon aanbid en met ‘n Kadosh-God kon gemeenskap hê.

Shekinah is ‘n woord wat die sigbare goddelike teenwoordigheid van God uitdruk, veral wanneer Hy gerus het tussen die gerubs bokant die Kaporet (Versoeningsetel). Shekinah verwys na die tye wanneer God Homself op sigbare wyse openbaar het, byvoorbeeld op berg Sinai toe daar rook, donderweer en weerlig was – dit was Shekinah-Heerlikheid van God. In die Kodesh HaKodashim (Heilige der Heilige), het ‘n skitterende wolk oor die Aron HaKodesh (Ark van die Verbond) verskyn en die vertrek verlig – dit was die Shekinah-Heerlikheid van God. So ook die wolk – en vuurkolom, wat oor die kinders van Israel gewaak en in die wildernis ingelei het – dit was die Shekinah-Heerlikheid van God.

Die Mishkan (tabernakel) dui op die sondigheid van die mens. Die noodsaaklike skeiding tussen ‘n heilige God en sondige mens word duidelik getoon in die konstruksie en bestaan daarvan. Die Mishkan dui ook op die Heiligheid van God, sodat ons kan besef dat ons God op Sý wyse moet nader – nie op óns manier nie!

Hebreërs / Ivrim {10:19} “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus {10:20} op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,“

Laastens weerspieël die tabernakel die genade van God. Dit toon aan ons dat, ten spyte van ons sondigheid, God verkies om ons te red en in elk geval onder ons te woon. Hy doen dit vanweë Sy liefde vir ons en Sy begeerte om in ons midde te wees. Hy reik af na die mens om met Hom te verkeer en (sodat Hy) onder ons kan woon. Hy voorsien aan ons ‘n weg om die hindernisse wat ons geskei het, te oorkom.

Jesus is nie altyd duidelik in die Tanach nie. God het Hom verberg in simbolieke, bewaar vir diegene wat gewillig is om Hom te soek, te vind, Hom te herken en in Hom te glo. As iemand dus waarlik begeer om God te vind, hoef hy slegs te kyk na die simboliek, wat vir ons gebied word in die boumateriaal en wyse van konstruksie, soos deur God gespesifiseer vir die bou van die tabernakel.

Sou iemand vir jou sê daar was $ 100 000,00 se goud êrens in jou kamer versteek en jy kan dit hou as jy dit gevind het, wed ek jou dat jy onverwyld die vertrek sou omkeer en afbreek om dit te soek, sou jy nie? God het die ewige lewe by Hom in die hemel. Hy het dit in Sy Woord verskuil. Goud sal slegs vir jóú leeftyd duur, terwyl die ewige lewe, EWIG, is. Watter een van dié twee is vir jou die waardevolste om te besit?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-02-20