Woensdag 27 November 2013

Geen plek om weg te kruip

D’Var Torah
En hy het nadergekom – Vayigash


Genesis /Bereshit {44:18} “Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. {44:19} My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of broer? {44:20} En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun, 'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. {44:21} Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. {44:22} En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat.”.

Ons het al almal die uitdrukking gehoor: “Die grootste verhaal wat ooit vertel is”, maar ek meen dat hierdie verhaal “Die grootste liefdesverhaal is wat ooit vertel is.”. Jakob (Ya’acov) se kinders, wat hy by sy vrouens, anders as Ragel (Rivka), gehad het, was so bewus van hulle vader se liefde vir Ragel, dat hulle besef het dat hy sou sterwe as hy Benjamin (Benyamin) moes verloor.

Jakob was bedrieg om te glo dat Josef (Yoseph) dood is, dat hy deur ‘n wilde dier doodgemaak is. Indien Jakob dus ook vir Benjamin moes verloor het, sou dit hom sonder ‘n lewende herinnering aan sy geliefde Ragel gelaat het. Ons weet almal dat Jakob vir veertien jaar moes werk om Ragel te verkry, maar vanweë sy liefde vir haar, het dié tyd geblyk om verby te vlieg. Hoe het hy sy geliefde vrou nie gemis nie! Soveel so dat hy Benjamin nie kon laat gaan nie, vir ingeval enige onheil ook oor hom sou kom.

Dit is nie ongewoon nie vir ‘n egpaar wat lank getroud en deur ‘n verhouding van ware liefde gebind was, dat, wanneer een te sterwe kom, die agtergeblewene kort daarna ook sterf. Oënskynlik het Jakob dieselfde band en liefdesverhouding met Ragel gehad. Ek glo dat hy dus net vir Benjamin, die laaste oorblywende seun van hom en Ragel, nog bly leef het. Wat hierdie verhaal nog ryker aan inhoud maak, is dat sy ander seuns daarvan bewus was.

Die seuns het besef dat wat hulle aan Josef gedoen het, verkeerd was en hulle nie geweet wat van hom geword het nie. Al wat hulle geweet het, was dat hy dood is en juis daarom is hulle oorweldig deur skuldgevoel en berou. ‘n Aansienlike verandering het egter in hulle lewens plaasgevind. Hulle wat lewenslank op Josef jaloers was en verbitterd gevoel het omdat hulle vader hom altyd voorgetrek het, verander skielik van gesindheid en raak bedagsaam, besorg en vol deernis, ten einde nie enige verdere skuldgevoel te verduur deur hulle vader se lewe in gevaar te stel nie.

Numeri / Bamidbar {32:23} “Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die HERE, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.”.

Daar is nêrens waar ons kan wegkruip, niks wat ons kan doen, geen leuen wat ons kan vertel nie wat kan verhoed dat ons sonde uiteindelik blootgelê word nie.

Jeremia / Yirmeyahu {23:23} “Is Ek 'n God van naby, spreek die HERE, en nie 'n God van ver nie?”.

Dit is absoluut nutteloos vir ons om ons sonde te probeer wegsteek of toesmeer. Net soos God elke omstandigheid in die lewens van hierdie tien broers beskik het om hulle sonde te openbaar en tot berou te bring, so sal Hy ook met ons handel! Dit is dus vir ons beter om so gou doenlik ons sonde te bely en berou te betoon as om te versuim totdat God ons konfronteer en ons sonde openbaar, soos wat Hy met Josef se broers gedoen het. Dis altyd beter om nederig te wees in plaas daarvan om verneder te word.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 20 November 2013

Die onomkoopbare Gees

D’Var Torah
Aan die einde van – Miketz


Genesis / Bereshit {44:1} “Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak; {44:2}  en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het. {44:3}  Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels. {44:4}  Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde? {44:5}  Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het. {44:6}  En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.”

Ek is seker dat hierdie taktiek om iemand te betrap, reeds vóór Josef se tyd gebruik is en nog steeds toegepas word. Dit word trouens, nog deur regerings en polisiedepartmente toegepas maar ook selfs deur kriminele elemente. Almal wend dit vir hulle eie gewin en motiewe aan. Josef het dit egter ter wille van die geestelike welsyn van sy broers gedoen.

Is jy al ooit beskuldig van iets wat jy nie gedoen het nie? Dit was beslis onaangenaam, was dit nie? Onthou jy nog wat jy gedoen en verduidelik het om jouself te verontskuldig? Indien wel, dan besef jy seker hoe Josef se broers moes gevoel het maar as jy ooit betrap is, nadat iets op jou “geplant” is, sal jy ongetwyfeld die penarie begryp waarin die elf hulself bevind en die vrees wat hulle moes beleef het.

Dit was geen maklike toets vir die broers nie, maar beproewings van God afkomstig, is selde maklik om te verwerk. God toets ons herhaaldelik sodat ons kan besef wat waarlik in ons skuil – of ons ware gelowiges is en of dit alles net praat maar sonder dade is.

Kan jy onthou wanneer die laaste keer was toe jy getoets is? Indien jy ‘n ware gelowige in Jesus die Messias is en Hom as jou Here en Redder aangeneem het, dan is ek seker dat jy dit kan onthou. Was dit ‘n moeilike toets? Het jy dit geslaag? Dit spyt my om te sê dat meeste van ons, toe sekere areas van ons lewe getoets is, gedruip het. Dit is omdat God ons swakhede ken en dit juis dáár is waarop Hy konsentreer, wanneer Hy ons toets. God toets ons juis nie in opsigte wat Hy wéét ons sal slaag nie, maar wel waar Hy weet dat ons óf sal druip óf met werklike moeite sal slaag.

Ek kan nie vir jou vertel hoeveel keer ek al getoets is en gedruip het nie. Daarna het ek vir myself kwaad geword en my geskaam, terwyl ek God oordadiglik om vergifnis gesmeek het. Kort daarna, onder ander omstandighede, is ek weer getoets op dieselfde gebied, waarin ek voorheen gedruip het. Dit is ‘n skande om te dink hoeveel toetse ek reeds gedruip het maar eindelik slaag ek tog en beweeg aan terwyl my verhouding met God groei.

Baie mense verkeer onder die indruk dat sodra hulle gered is, hulle geheel-en-al in heiliges verander word. Ek wens van harte dat dit waar was maar ongelukkig is dit nie so nie. Dit is verstommend om te besef hoeveel fasette van ons lewe nog nie totaal aan die Here oorgegee is nie, selfs dekades nadat ‘n mens gelowig geword het. Wat nog meer verbaas, is dat God ons nooit laat vaar nie. Hy volhard daarin om stukkie vir stukkie van daardie lewensfasette wat ons nog nie aan Hom gewy het nie, te verander totdat ons dit eindelik aan Hom beskikbaar stel. Sal ons tydens ons lewe ooit volmaaktheid bereik? Ongelukkig is die antwoord daarop NEE. Ons sal nie volmaaktheid bereik voordat ons nie finaal sterwe en hierdie vleeslike liggaam van bedrog en sonde afgelê het nie.

1 Korithiërs / Korintim Alef {15:50} “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. {15:51}  Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, {15:52}  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. {15:53}  Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. {15:54}  En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. {15:55}  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? {15:56}  Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. {15:57}  Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. {15:58}  Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie. ”.

Vele kommentators en geleerdes skryf hierdie gedeeltes aan verdrukking toe, maar ek skryf dit toe aan ons dood. Ons dood sal ons finale trompet geskal wees en dit is dan wanneer ons verganklike liggame afgelê en ons met die onverganklike gees beklee sal word, om nooit weer getoets te word nie omdat ons volmaaktheid bereik het.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 13 November 2013

Onthou julle van elke vorm van kwaad

D’Var Tora
En hy het bedaar – Vayeshev


Genesis / Bereshit {39:6} “En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien. {39:7}  Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. {39:8}  Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. {39:9}  Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? {39:10}  En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, {39:11}  kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. {39:12}  Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. {39:13}  Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, {39:14}  roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons ‘n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; {39:15}  en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop.”.

Daar is vir ons soveel om te leer uit die verhaal van Josef (Yoseph) – boekdele kan daaroor geskryf word, maar uit die gedeeltes waarop ek gefokus het, is daar ‘n baie belangrike beginsel om van kennis te neem. Terwyl ek hierdie verse bestudeer het, het ek hierdie beginsel geneem en dit geïnkorporeer in sowel my persoonlike as professionele lewe. Soos ons bewus is, was Josef ‘n ongetroude man; die betrokke beginsel geld egter ook vir ‘n ongetroude vrou, getroude mans asook getroude vrouens.

Potifar se vrou het haar oë op Josef gehad: hy was jonk, aantreklik en boonop ‘n slaaf. Sy het ongetwyfeld gemeen dat sy hom sonder veel moeite sou kon verlei.

Meeste mans sou maklik voor hierdie vrou se toenadering geswig het, maar nie Josef nie omdat hy aan ‘n hoër gesag verantwoordelik was. Is dít wat Josef in die moeilikheid laat beland het, dat hy geweier het om aan die eise van sy heer se vrou toe te gee? Wanneer ‘n mens egter die gebeure wat tot haar beskuldigings teen hom gelei het, oorweeg, sou ons sekerlik tot daardie gevolgtrekking gekom het. Was dit die feit dat hy van Potifar se vrou weggevlug het, wat hom in die moelikheid laat beland het of was dit slegs ‘n simptoon van die probleem?

1 Tessalonisense / Tesolonilim Alef {5:22} ” Onthou julle van elke vorm van kwaad.”.

Hierdie vers verduidelik die oorsaak van Josef se probleem. Hy het gewoond geraak daaraan om in Potifar se huis te wees, dat hy gerus geraak het om daar te wees wanneer hy alleen in die huis saam met Potifar se vrou was.

Uit die Skrifgedeeltes hierbo is dit duidelik dat Potifar se vrou herhaaldelik tot Josef toenadering gesoek het, sodat hy sonder twyfel van haar bedoelings bewus was. Waarom sou hy dan gewaag het om alleen met haar in die huis te verkeer? Indien hy homself nie toegelaat het om alleen met hierdie vrou in die huis te wees nie, sou hy homself nie onder verdenking laat kom het nie. Toegegee dat God alle dinge vir ons ten goede beskik, maar moontlik sou twee jaar in die gevangenis verhoed kon gewees het terwyl God nogtans die finale hoofstuk van hierdie verhaal geskryf het.

Die beginsel wat ons dus uit hierdie verhaal kan leer en op ons eie lewens toepas is die volgende: moet jouself nooit in ‘n moontlik verdagte posisie laat beland deur iewers alleen met ‘n vrou / man, wat nie jou vrou / eggenoot is nie, te wees nie. Dit sluit ook in om in ‘n motor te wees! Soos reeds gesê, het ek hierdie beginsel in sowel my persoonlike – as professionele lewe toegepas en dit het my altyd uitstekend te pas gekom. Ek het selfs sover gegaan om nooit ‘n vrou alleen in my kantoor van berading te bedien nie. Eweneens vermy ek dit ook om alleen te wees met ‘n man, wat aan my onbekend is en vermy dit hoegenaamd om met ‘n kind alleen te wees. Ons móét die voorkoms van kwaad vermy en onsself beskerm teen moontlike bose bedoelings van sowel ander mense as die satan (HaSatan).


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 06 November 2013

Tyd vlieg wanneer jy verlief is

D’Var Torah
En hy het uitgegaan – Vayetze


Genesis / Bereshit {29:16} “En Laban het twee dogters gehad—die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel. {29:17}  En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien. {29:18}  En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter. {29:19}  Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan ‘n ander man gee. Bly by my. {29:20}  So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ‘n paar dae, omdat hy haar liefgehad het. ”.

Het jy al ooit agtergekom dat wanneer jy dit geniet om iets te doen – selfs as dit harde werk is – dit maklik blyk te wees? Ook wanneer jy jou werk geniet, voel dit asof die dag vlieg. Vergelyk dit nou met vervelige werk, waaraan jy net nie kan kom nie; vir so’n taak voel die dag nimmereindigend en kan ‘n mens die tyd nie vining genoeg verwyl nie.

My vrou en ek, soos ek nou hier skrywe, is nagenoeg twintig jaar al getroud. Soos met alle huwelike het ons ook ons uitdagings gehad maar met ons liefde vir mekaar, het dit gevoel of die jare verby gevlieg het.

Elke week hier by die gemeente Melech Yisrael tydens albei ons Erev Shabbat – en Shabbat-dienste, dra ons die liturgiese gebed voor: “En jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en al jou krag” (vertaal). Omdat ons ervaar hoe tyd vlieg wanneer ons iets geniet, kan ons die besef waardeer dat om God lief te hê, van die uiterste betekenis is.

Ek is reeds vir meer as dertig jaar ‘n gelowige in Jesus die Messias en vanweë my liefde vir God, het daardie jare soos ‘n oogwink verby gevlieg. Dit is van kardinale belang wanneer ons besef hóé absoluut noodsaaklik dit vir ons is om gefokus te bly op ‘n pad van regverdigheid. As dit gevoel het asof ons verhouding met die Here besig was om te sleur, dink net hoe moeilik dit vir ons sou gewees het om te volhard in ons wandel en verhouding met Hom.

Daar is ook iets verder om op te let uit die verhaal van Jakob en Ragel (Rachel). Selfs toe Jakob deur sy skoonvader, Laban, bedrieg en teleurgestel is, het hy nie van sy liefde vir Ragel afgesien nie. In plaas daarvan, was hy inteendeel bereid om vir nog sewe jaar vir haar te wag om sy vrou te word.

Ek het al herhaaldelik mense – gelowiges – teëgekom wat na teleurstelling omdat hulle gebede nie verhoor is nie of ‘n gevoel dat hulle deur God verlaat is, van God afvallig geraak of geheel-en-al na hulle vorige lewenswyse teruggeval het. Ongelukkig is dít slegs ‘n aanhaling van hulle gebrek aan ware liefde vir God.

Ek vertrou werklik dat dit nie van jou gesê kan word nie, maar eerder dat jóú liefde vir God so kragtig sal wees dat ongeag wat ookal in jou lewe plaasvind, jou liefde vir Hom onveranderd sal bly en die dae en jare wat jy by Hom deurbring, ook sal voel of dit besig is om verby te vlieg.

Psalm / Mizmor {119:32} “Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart. {119:33}. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. {119:34}  Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. {119:35}  Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae. {119:36}  Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. {119:37}  Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. {119:38}  Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou