Saterdag 26 Februarie 2011

Raak Fisies (=Steek Jou Hande Uit Jou Moue!)

26 Februarie 2011 / Adar I 22 5771

En Hy Het Byeengebring / VaYakhel


Eksodus / Shemot {35:10} “En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het: {35:11} die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke; {35:12} die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking; {35:13} die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode; {35:14} en die kandelaar tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en die olie vir die kandelaar; {35:15} en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel; {35:16} die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy gereedskap; die waskom met sy voetstuk; {35:17} die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking van die poort van die voorhof; {35:18} die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne; {35:19} die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die priester Aäron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien. {35:25} En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne. {36:1} So moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die HERE wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die heiligdom te verrig, dit maak net soos die HERE beveel het. ”

Ek het onlangs ‘n konferensie van Rabbi’s bygewoon wat deur die Internasionale Alliansie van Messiaanse Sinagoges (‘n organisasie waarmee ons gemeente geaffilieer is ) gereël is. Hierdie jaarlikse byeenkomste word gewy aan opvoeding, bespreking, onderrig en gebed en het elke jaar ‘n besondere tema. Vanjaar se tema het betrekking gehad op die bestuur van ‘n gemeente wat God onder beheer van die rabbi’s geplaas het. Die besprekingsonderwerpe het gewissel van personeelhantering en beheer, toeligting oor integriteit, goeie besigheidsvaardighede/-praktyke, met inbegrip van alle finansiële aspekte (tiendes, boekhouding, rekeningwese en regeringsverslae). Baie ander aangeleenthede is ook bespreek – dit het gewissel van eenvoudige sake, byvoorbeeld welke afstand gemeentelede van hul gemeentes woonagtig behoort te wees, tot die meer komplekse, soos Federale programme, voordele en regeringsagentskappe.

In die verlede het ek nooit werklik veel aandag bestee aan die mikrobestuur van die gemeente nie, maar by die aanhoor van lesings, het ek besef dat ek tans inderdaad baie, indien nie alles nie, van die sake wat tydens lesings bespreek is, wel behartig. Na bywoning van hierdie konferensie, het dit my egter laat besef dat die onderhoud en bedryf van ‘n gemeente ook veel fisiese atiwiteite vereis.

Nadat ek die voorafgaande Skrifgedeelte – trouens, die hele Parasha Vayakhel, wat dit betref – deurgelees het, het ek tot die besef gekom van die grootsheid en omvang van werk aan die konstruksie van die tabernakel (Mishkan), wat Moses moes behartig het.

Dit wil voorkom asof Moses ‘n fabriekstipe-produksielyn daargestel het om al die dekklede, gordyne, hout en hakies wat benodig is vir die konstruksie van die tabernakel te verskaf. Daar was spinners, wewers, skrynwerkers, gietvormmakers, juweliers en monteurs. Daarbenewens sou mense, wat hulle moes bystaan, soos gereedskapmakers en talle ander handlangers wat enigiets asook geringe take kon behartig, en skoonmakers benodig word. Verder, soos ons bewus is, is ‘n fabriek nie volledig nie sonder ontwerpers, toesighouers, voormanne en, laaste maar nie die minste nie, ‘n goeie bestuurder. Moses het oor almal beskik.

Die konstruksie van die tabernakel was geensins bloot ‘n geestelike gebeurtenis nie. Dit het lang werksure en harde fisiese arbeid geverg. Die enigste mate van spiritualiteit wat ter sprake was, was die liefde, toewyding en arbeidwilligheid van almal wat God gedien het.

Ek glo dit bewys dat nie alle werk vir die Here spiritueel van aard is nie; dit vereis ook ‘n mate van fisiese arbeid. Sommige mense verkeer onder die wanindruk dat hulle slegs hul hande op koerantadvertensies vir beskikbare poste hoef te lê en God sal vir hulle ‘n betrekking voorsien, of meen dat hulle net hoef te bid en hulle nuwe gebou sal opgerig word. Sonder twyfel is God in die wonderwerk “bedryf” en gebed om ‘n werk of enigiets – selfs iets essensieel – is nodig, maar eweneens ook om fisies te raak. Om ‘n betrekking te bekom, om ‘n gemeente aan die gang te hou of ‘n tabernakel op te rig, verg harde werk en fisiese inspanning, maar sommige mensie is so hemelsgerig, dat hulle van geen aardse nut is nie!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 19 Februarie 2011

Die Mikvah – Die Kern van ‘n Bybelse Samelewing

19 Februarie 2011 / Adar I 15 5771

Eksodus / Shemot {30:17} “ En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {30:18} Jy moet ook ‘n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin, {30:19} dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was. {30:20} As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ‘n vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek. {30:21} Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte. ”

Dit is die eerste aangetekende verwysing ooit na ‘n mensgemaakte waskom (mikvah). Die priesters moes hulle hande en voete daaruit was, wat beteken dat hulle die water in die waskom gebruik het om hulself te reinig. Die rede waarom God hulle beveel het om hulself daaruit te reinig, is “… sodat hulle nie sterwe nie;”. Die vraag ontstaan nou egter: wat sou die verband dan wees tussen versuim om met water gereinig te word en om te sterwe?

In talle opsigte is die indoop (t’vilah) in water, die drumpel van onderskeid tussen die onheilige en heilige – maar selfs meer as dit. Die blote indoop in ‘n mikvah, dui op ‘n statusverandering of méér korrek ‘n verandering van aansien. Die ongeëwenaarde werking daarvan lê in die mag van transformasie, die vermoë om ‘n metamorfose te weeg te bring. Byvoorbeeld: vanaf die aanvang van haar menstruasie, is ‘n vrou geag om in ‘n staat van uitsluiting (Nidda) te verkeer. Sy is van haar man afgesonder tot na afloop van haar menstruasie en totdat sy in ‘n mikvah gereinig is. Slegs dan is sy tot geslagsgemeenskap met haar man herenig. In tempeltye is mans en vrouens, wat vanweë rituele verontreiniging van dienslewering uitgelsuit is, ná t’vilah, toegelaat om die tempelberg op te gaan, die huis van God binne te gaan en self by die wydingsofferande betrokke te raak. Nog meer dramaties, kon ‘n proseliet, wat in die mikvah as ‘n nie-Jood gereinig is, as ‘n Jood uit die water kom.

Die gebooie van God word in drie onderskeie kategorieë verdeel:
Strawwe (Mishpatim) – Wette wat die siviele en morele lewe beheer. Dit is logies, geredelik verstaanbaar en algemeen as deurslaggewend en tot handhawing van ‘n gesonde samelewing geag. Voorbeelde van die mishpatim is die veroordeling met betrekking tot moord, diefstal en egbreuk.

Statute (Eidut) – Rituele en rites, wat beste beskryf kan word as bewyslewering. Hierdie kategorie behels die vele godsdienstige handelinge, wat Jode herinner aan historiese gebeure in hulle geskiedenis en dien as erkenning van die vernaamste instellings (gebruike) van die Joodse geloof. Voorbeelde hiervan is die onderhouding van die Sabbat, die vier van Paasfees (Pesach) en die aanbring van ‘n mezuzah aan die deurkosyn.

Ordonansies (Chukkim) – Bonatuurlike beginsels. Dit behels Goddelike verorderinge wat die menslike verstand nie by magte is om te oordeel nie. Chukkim gaan alle beskrywing deur mense intellek en begrip te bowe. Dit is juis onder hierdie kategorie waarin t‘vilah in ‘n mikvah ressorteer, tesame met ander instellings soos die Kosher-wette (Kashrut) en die Rooi Verskalf. Chukkim mitzvot word beskou as die vernaamste, aangesien dit die siel op sy diepste vlak beïnvloed. Onbelemmerd deur die beperkings van die menslike verstand, word hierdie ordonansies om slegs één rede beoefen – gehoorsaamheid aan God se Woord. Eenvoudig gestel, ons onderhou hierdie mitzvot slegs omdat God dit so beveel het.

Ongeag die feit dat t’vilah in ‘n mikvah vir ons as ‘n misterie voorkom, kan ons nietemin sekere insigte verkry wat ons behulpsaam kan wees om tot ‘n beperkte begrip van die dimensies en implikasies van die t’vilah binne óns t’vilah-ervaring te verkry.

Die konsep van ritueel rein (tamei) en ritueel onrein (tahor), soos in die Torah beveel en in tempeltye toegepas is het geen vergelyking of gelykwaarde in hierdie postmoderne eeu nie. Moontlik is die rede waarom dit vir die hedendaagse Westerse begrip moeilik is om by die begrip aanklank te vind en dit as toepaslik te beskou. In antieke tye, was tamei en tahor van die uiterste belang – dit was die bepalende faktore in ‘n samelewing wat rondom die tempel en gepaardgaande stelsels van offerandes gesentreer het. Die aansien van ‘n persoon – of hy/sy rein of onrein was – was die kern van die Bybelse samelewing. Dit het ‘n persoon se betrokkenheid in alle aspekte van, nie slegs die rituele lewe nie maar inderdaad ook die lewe self, dikteer en beheer. Daar was talryke tipes van onreinheid wat op ‘n persoon se rol in sowel die samelewing as tempeldiens betrekking gehad het. Ofskoon die onreinheid ‘n verskeidenhied reinigingsprosesse behels het, was t’vilah in die mikvah die hoogtepunt van reiniging in elke geval. Selfs vir ‘n persoon wat ritueel rein was, was die proses van verheffing ‘n hoër vlak van geestelike betrokkenheid of heiligheid, deur t’vilah in ‘n mikvah ‘n vereiste. As sulks, was die instelling van t’vilah van die deurslaggewende betekenis in die lewe van enigeen wat in die tempel (Biet HaMikdash) diens verrig het. In ‘n rituele samelewing, wat in ‘n toestand van tahor verkeer het, sou toegang tot die tempel onmoontlik gewees het en korbanot-offerandes dus geheel-en-al nie aangebied kon word nie.

Ons keer dus nou terug tot ons vraag: “Wat sou die verband dan wees tussen versuim om met water gereinig te word en om te sterwe?” Op dieselfde wyse sou die inbring van vreemde vuur in die tempel, tot die dood van Aäron se seuns gelei het – dit geld vir enigiemand anders en dit is vir ons die antwoord. Aäron en sy seuns sou God hoegenaamd nie op sommer enige wyse kon nader nie. Ten einde in Sy teenwoordigheid te kom, moes hulle gereinig wees en verhef gewees het tot ‘n hoër geestelike aansien, wat oënskynlik uitsluitlik deur God se Chukkim van reiniging met water, vervul kon word.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 12 Februarie 2011

Die Einddoel van Aanbidding

12 Februarie 2011 / Adar 18 5771

Jy Sal Beveel / Tetzaveh


Eksodus {30:1} “Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit maak. {30:2} ‘n El moet sy lengte wees en ‘n el sy breedte—vierkantig moet dit wees; en twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees. {30:3} En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die horings. En maak daarvoor ‘n goue krans rondom. {30:4} Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra. {30:5} En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.”

Ek het al dikwels gewonder waarom hierdie Skrifgedeelte nie by verlede week se parasha (Parasha Terumah) ingesluit was nie. Dit sou meer sinvol gewees het omdat dit juis daarin is waar die voorskrifte vir die vervaardiging van al die ander arttikels van die tabernakel (Mishkan) voorkom. Ek het gevolglik gewonder: “Is daar dan ‘n bepaalde rede of betekenis daaragter dat God die voorskrifte vir die maak van die reukaltaar bepaal het ná die beskrywing hoedat die heilige- en priesterlike klere gemaak moes word?” Ek is oortuig daarvan dat ons almal sal saamstem dat God niks sommer lukraak doen nie – daar móét dus ‘n rede daarvoor wees!

Al die voorskrifte vir die konstruksie van die tabernakel en gepaardgaande voorwerpe is deur God bepaal. Dan was daar ook die opdrag vir die bring van vrywillige offergawes. Die rede hiervoor was dat, sonder gewillige harte om te gee, niks van God se werk op aarde tot stand gebring kan word nie. Ons God is ‘n gewende en vrygewige God en Sy mense moet net so wees. Hulle móét bereid wees om by te dra vir God se werk, wat oorvloedige seën meebring.

Lukas / Uri {6:38} “Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. ”

Die ark van versoening (Aron HaKodesh) was die voorwerp waar God in die vorm van Sy sigbare teenwoordigheid (Shachinah) sou verkeer – in die wildernis was dit bedags ‘n wolkkolom en snags vuurkolom.

Johannes / Yochanan {1:14} “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. ”

Die tafel van die toonbrode het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig, wie se aanbidding immer vars en ewig teenwoordig voor God moes wees.

Jesaja / Yeshayahu {49:15} “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!”

Die goue kandelaar (Menorah) het die heigdom verlig, want die mensdom kan nie in die duisternis aanbid nie, maar moet altyd na die waarheid – na die lig kom.

Johannes / Yochanan {8:12} “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Die tent van samekoms of tabernakel (Mishkan) was die plek waar die Heilige Teenwoordigheid gehuisves was. Daar moet ‘n plek wees waar God se volk kan saamkom vir aanbidding.

Hebreërs / Ivrim {10:24} “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Die laaste item wat in verlede week se parasha vermeld is, was die brandofferaltaar (Mitzbe’ach). Met die hart ingestel op aanbidding, die voorwerp van aanbidding in fokus, die immerteenwoordigheid van mense wat God aanbid, vervulling met die waarheid van aanbidding en die voorsiening van die plek van aanbidding, was daar nou behoefte aan toenadering tot aanbidding. Daar moes nou vir die sondige mens ‘n manier wees om die heilge God te nader en brandofferaltaar het juis vir daardie toenadering (of wyding) met offerandes (Korbanot) voorsiening gemaak.

1 Thessalonisense / Thesolonikim Aleph “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus {5:10} wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. ”

Vandeesweek in parasha Tetzaveh word ons toegelig oor die toewyding tot aanbidding, en die korrekte wyse waarop dit benader moet word. Ten einde aan die aanbidding van God reg te laat geskied, moes die priesterdom voorbereid wees – daar kon niks lukraak daarmee wees nie. Hulle voorkoms, die wyse waarop hulle God gedien het, die wyse waarop hulle geheilig (kadosh) is, moes alles in volmaaktheid uitgevoer word. Wat egter werklik aangaande hul toewyding uitgestaan het, was die feit dat daar van hulle vereis is om die wydingsofferande te eet:

Eksodus / Shemot {29:31} “En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ‘n heilige plek kook. {29:32} Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms. {29:33} En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as priesters aangestel en geheilig is; maar ‘n onbevoegde mag daarvan nie eet nie, want dit is heilig. ”

Ons is almal as gelowiges in Jesus die Messias, bewus daarvan dat ons ook ‘n koninklike priesterdom is.

1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ”

In die lig daarvan, moet ons ook die offerande (korban) van ons toewyding eet:

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {11:24} “en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. ”

Waarom staan die brandofferaltaar dan vir die laaste oor? Ons weet almal dat wierook in ‘n vertrek ‘n aangename geur versprei. Met alles vir behoorlike aanbidding voorberei, was die priesterdom nou gereed om met hul werk te begin: Die verteenwoordiging van die volk voor God.

Openbaring / Hitgalut {8:3} “En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; {8:4} en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. ”

Die wierook verteenwoordig ons gebede, wat die einddoel van aanbidding is!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 05 Februarie 2011

Ek Bevraagteken Hulle Motiewe

5 Februarie 2011 / Adar 11 5771

Offerande / Terumah


Shemot / Eksodus {25:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak. “

Soos ons deur vandeesweek se Parasha verder lees, verneem ons dat God die kinders van Israel versoek het om goud, silwer, edel- en halfedelgesteentes asook fyn linne in die konstruksie van die tabernakel (Mishkan) te gebruik. Hoeveel goud, silwer en edelgesteentes vermoed julle is gebruik in die konstruksie en wat sou dit vandag nie werd gewees het nie - een miljoen-, twee miljoen-, vyf miljoen-, vyftig miljoen-, eenhonderd miljoen dollar? Te oordeel aan die feit dat sowel die goud as silwer as suiwer geklassififiseer is - gemeet aan hedendaagse standaarde, sou dit .9999 persent suiwer gewees het - moes dit sekerlik ‘n fortuin werd gewees het. Op grond van die gehalte wat vir die goud en silwer vereis is, kan ons met sekerheid aanvaar dat die edel- en halfedelgesteentes asook die linne van die hoogste gehalte was. Ek sou dus waag om te skat dat die huidige waarde van hierdie items - die totale dollar-waarde van al dié waardevolle materiale wat gebruik is - beslis nader aan honderd miljoen dollar as die een miljoen dollar sou bedra. Dit is geweldig baie geld om aan ‘n tent te bestee!

Ons het die afgelope paar jaar heelwat duur veranderinge aan ons plek van aanbidding aangebring. Tienduisende dollar het egter daarvoor gesorg om ons heiligdom ‘n pragtige en gerieflike aanbiddingsplek vir ons gemeentelede te verseker. Binnekort sal ons bykans tienduisend dollar aan die opgradering van ons klankstelsel moet bestee. Ons het onlangs vyf-en-dertig duisend dollar aan ons begraafplaas (die enigste Messiaanse Joodse begraafplaas in Kanada) bestee - dit bo en behalwe die kombuis! Ons is natuurlik gekritiseer daaroor. Die kritici was van mening dat hierdie uitgawes eerder ten behoewe van behoeftiges en minderbevoorregtes aangewend moes word. Kritici het egter nog altyd die armes as verskoning aangevoer en ofskoon dit nie in die Skrif aangeteken is nie, is ek oortuig daarvan dat Moses dieselfde soort kritiek moes verduur het! Ek stel egter die vraag: Dink julle dat God geweet het dat daar behoeftiges onder die kinders van Israel was en daar altyd hulpbehoewendes sóú wees, toe hy Moses beveel het om ‘n multi-miljoen dollar tent te bou?

Om dieselfde rede, hoeveel armes sou gevoed kon word teen die prys van die Sistynse Kapel in Rome of die Notre Dame-katedraal in Frankryk of die ganse Vatikaan in Rome? Indien elkeen die houding van “Wat van die armes” sou ingeneem het, sou meeste van die groot kunswerke deur die eeue nooit geskep gewees het nie. Daar sou geen Sistynse Kapel gewees het vir Da Vinci om te beskilder nie; trouens, daar sou ‘n geweldige leemte in die kunswêreld bestaan het!

Mag God my daarvan bewaar om die belangrikheid van hulpverlening aan die armes gering te ag! Ons hier by Melech Yisrael ondersteun ‘n bediening aan huisloses. Ons sorg vir die kleding, voeding en bediening aan armes op die strate van Toronto. Ons beskik oor ‘n voedsel-”spens” gevul met nie-bederfbare kossoorte wat oop en beskikbaar is vir enigeen in nood. Ons het ‘n gevangenis-bediening waar ons gevangenes onderrig en bemoedig. Daarbenewens beskik ons oor ‘n besoekingsbediening wat behels dat ons die wonings van siekes besoek, maaltye veskaf, vir hulle bid en bemoedig. Ons het ook ‘n liefdadigheidsfonds waardeur ons aan ons gemeentelede in finansiële nood, geldelike bystand verleen. Ek is oortuig daarvan dat vele van hierdie bedieningstipes ook onder die kinders van Israel in die wildernis bestaan het - selfsterwyl hulle besig was om die goud-, silwer- en edelgesteente-belaaide tent te bou.

Johannes / Yochanan {12:3} “En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf. {12:4} Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: {12:5} Waarom is hierdie salf nie vir drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? {12:6} En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het. {12:7} Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis. {12:8} Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie. ”

Net soos wat Jesus gedoen het, bevraagteken ek ook soms die motiewe van diegene wat ons uitgawes tot eer van God kritiseer!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou