Saterdag 29 Oktober 2016

God (HaShem) Kan Vir Jou 'n Nuwe Hart Gee



B'reisheet 
(In Die Begin)

Genesis / BeReshit 1:1 - 6:8
1 Samuel / Sh'muel Aleph 20:18 - 42
Johannes / Yochanan 1:1 - 5

Genesis / Bereshit {6:5} "Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was" 

Ek beskou myself as doodnormaal, maar soms voel ek asof ek kan ineenkrimp oor sekere gedagtes wat in my binneste opkom. Ek kan met iemand gesels of na hom / haar luister en plotseling kan 'n verskriklike gedagte by my opkom. Ek neem dit natuurlik altyd gevange deur Jesus die Messias, maar stel julle voor as dit moontlik was om mekaar se gedagtes te kon lees! Dink net daaraan! Indien dit vir mense moontlik was om die werklike óns en nie die ons wat ons voorgee om te wees of selfs die ons wat ons dink ons is nie, te hoor. 'n Skrikwekkende gedagte, maar wat as dit moontlik was - wat sou mense van ons gedink het?

Ons gedagtes is die eintlike werklike ons en God ken ons hart. As die verbeeldingsvermoë van die gedagtes van ons woede, wraak, haat, afguns of enige soort boosheid is, dan sien God ons as sulks. Hy ken ons gedagtes en sien ons net soos ons werklik is.

1 Kronieke (28:9} / Divre HaYamim Alef "En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot"

Ons kan God nie bedrieg nie: Hy kyk na die hart. Ons moet verder as ons politieke korrektheid en bedrieglike beleefdheid gaan en by die houding van ons hart uitkom, want dít is wat Hy beoordeel.

Wanneer iemand julle aanstoot gee of misbruik van julle maak, wat dink julle dan? Is dit hoe om hom te vergeld? Daardie gedagte is wat julle waarlik is. Indien julle beledig word maar dit oënskynlik gedweë aanvaar, maar van binne brand om wraak te neem, is dit wat julle werklik is.

Die enigste manier om voor God eerlik te wees, is om elke gedagte wat julle het, te ondersoek en bepaal of dit werklik is soos wat julle is, want dít is die ware mens wat God sien. Mense rondom julle mag moontlik deur julle beïndruk word - selfs gades mag miskien dink julle is net die voortreflikste, maar God sien nie wat hulle sien nie. God deursoek die hart.

Jeremia / Yirmeyahu (17:9} "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?"

Wat God hier sê, is dat die ware julle, is wat julle in jul harte is en dat behalwe vir Sy Goddelike ingryping in jul lewens, jul harte die mees bedrieglike in die ganse wêreld is; trouens, niks of niemand anders kan julle so bedrieg of belieg, as julle eie harte nie. Nie slegs is die hart bedrieglik bo alle dinge nie, maar is dit ook uitermate boos. Dit bedoel dat, as dit aan sigself oorgelaat sou word - geskei van God in julle lewens - kan dit onuitspreeklik verskriklik wees waartoe julle in staat sou wees! Dit beteken dat geeneen van ons inherent goed is nie. As julle goeie - ook op morele gebied - mense is, tree julle op onder die beperkings en vrees vir gevolge, soos jul ouers julle geleer het óf julle gehoorsaam die wette, deur ons regering bepaal, wat in beide gevalle onseker en onvolhoubaar is. Die enigste volhoubare weg om 'n goeie en sedelike mens te wees, is om in Jesus die Messias te glo.

Jesája / Yeshayahu (64:6} " En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind." 

Ek glo nie dat God dit duideliker kon gestel het nie. Sy beoordeling van ons situasie - behalwe vir die herskeppende krag van die Heilige Gees, wat ons 'n nuwe hart gee en "Tora" daaroor skryf - is dat ons hart verlore is! Julle mag julself as goeie mense beskou, mensliewende - of Godsdienstige mense wat verdien om Heiliges te wees, maar voor God se aangesig is al jul goedheid soos vuil klere. Dit is omdat, sonder die Heilige Gees, jul motivering en bemagtiging nie deur God kan wees nie. Die rede is omdat julle nie aan God behoort nie; daarom word julle bedrieg, want dít is wat die hart doen - dit is bedrieglik en verskriklik boos.

Eségiel / Yechezkel {36:26} "En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee."

As julle in Jesus die Messias glo, dan woon God in wat Hy noem, jul harte; Hy het dan kom woon in daardie deel van julle, waar - volgens Hom - besluite geneem word. As gevolg daarvan, is Hy besig om jul harte te reprogrammeer, maar dit duur 'n leeftyd, omfdat die wêreld julle by sy standaarde will aanpas, maar die Woord van God wil julle herskep en gevolglik is daar 'n konstante tweestryd in ons harte.

Romeine / Romim {12:2} "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."

Die letterlike betekenis van die woord "vernuwing" is om die oue met die nuwe te vervang. Dit beteken dat die keuses wat jy normaalweg sou gedoen het - wat in die verlede hoofsaaklik daarop neergekom het om die self te bevredig - vervang sal word met keuses wat God sal behaag. Ten einde dit moontlik te maak, moet die Heilige Gees die Woord van God direk oplê op julle hart, met ander woorde dié plek waar God sê dat daardie keuses gemaak. Die Heilige Gees skryf die Tora op julle harte sodat julle die regte keuses kan doen - letterlik hervorm Hy julle harte.

Tensy ons die motivering van ons harte verander, sal ons self nie verander nie. Jesus die Messias het vir ons sondes geboet sodat ons as oorwinnaars kan lewe, maar ons keuses tydens ons lewe bepaal of ons in daardie oorwinning sal wandel.

Indien julle dit nog nie gedoen het nie, oorweeg dit asseblief in alle erns om Jesus die Messias in julle lewens in te nooi sodat God aan julle nuwe harte kan skenk.

Kom gou Jesus!

PDF Weergawe


Voorheen uitgegee: 2010-10-29



Saterdag 22 Oktober 2016

Oorskietkos



Sukkot 
(Tabernakels)


Levítikus / Vayikra {22:26} "Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {22:27} As ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok aankom, moet dit sewe dae lank onder sy moeder bly; maar van die agtste dag af en verder sal dit met welgevalle aangeneem word as ‘n vuuroffergawe aan die HERE. {22:28} ‘n Bees of stuk kleinvee mag julle ook nie saam met sy kleintjie op een dag slag nie. {22:29} En as julle ‘n lofoffer aan die HERE bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind. {22:30} Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is die HERE. {22:31} Hou dan my gebooie en doen dit. Ek is die HERE. {22:32} En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is die HERE wat julle heilig, {22:33} wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n God te wees. Ek is die HERE."

Hierdie Sabbat is daar 'n spesiale Torah Parasha - lesing, omrede dit die eerste dag van Sukkot is. Sukkot is 'n dankseggingsfees; dit verteenwoordig, landboukundig, die einde van die najaar-oesseisoen en daarom word dank betuig vir die milddadige oes en voorsiening van God aan Sy kinders. Spiritueel is Sukkot 'n beeld van Jesus die Messias, wat ons op aarde beskut.

Volg my, soos wat ek die reeks gebeure wat deur die Feeste van die Here uitgebeeld word, verduidelik. Die Feeste van die Lente, wat die dood en opstanding van Jesus verteenwoordig, is reeds verby en uitgebeeld deur Paasfees en Hag HaMatzah (Ongesuurde Brood). Die Fees van Yom HaBikkurim (Eerste Vrugte) wat óns voorstel as die eerste vrugte van Jesus se opstanding, is ook reeds verby. Die Fees wat die instelling van die Heilige Gees se uitstorting oor alle vlees, het reeds begin, soos uitgebeeld deur Shavuot (Pinkster). Die Fees wat die Oordeel oor die Aarde voorstel, word deur Yom Teruah (Dag waarop die Shofar geblaas word) voorgestel en terwyl die voorstelling wat hierdie fees uitbeeld, nog nie fisies plaasgevind het nie, het die viering daarvan reeds verbygegaan met hierdie bybelse jaar. Die Fees wat die triomfantlike wederkoms van Jesus die Messias as Koning van Israel asook die wêreld verteenwoordig, is ook reeds in hierdie bybelse jaar verby, soos deur Yom Kippur (Dag van Versoening) uitgebeeld. Al wat nog vanjaar oorbly, is die Fees wat Jesus die Messias, nou ons Koning, uitbeeld wat Sy koninkryk op aarde finaal vestig en by ons bly vir eenduisend jaar, gedurende Sy Messiaanse Heerskappy. Dit is waaroor Sukkot alles gaan.

Dit is vanweë Sukkot dat hierdie gedeelte van Levítikus (Va Yikra) op die eerste dag van Sukkot gelees word. Die rede is, eerstens, omdat die aanvangsgedeelte, waarna hierbo verwys word, die dankoffer beskryf: Sukkot is 'n Dankseggingsfees. Tweedens, omdat die laaste gedeelte van die lesing al die Bybelse feesdae beskrywe en eindig met die Fees van Sukkot, wat ons hierdie Sabat begin vier.

Met die lees van bogemelde Skrifgedeelte, het iets baie interessant my opgeval. Laat ek weer dié besondere Skrifgedeelte aanhaal: 

Levítikus / Vayikra {22:29} "En as julle ‘n lofoffer aan die HERE bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind. {22:30} Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is die HERE."

Toe ek grootgeword het, het my moeder nooit vir ons oorskietkos, met ander woorde voedsel wat van die vorige dag se maaltye oorgebly het, gegee om te eet nie. Sy het altyd alles wat oorgebly het op die dag waarop sy dit voorberei het, weggegooi. So het ek natuurlik grootgeword onder die indruk dat dit so hoort: mense eet nie voedsel wat oorgebly het nie. Toe ek egter ouer geword het, uit my ouerhuis getrek en op my eie gaan woon het, het ek dit as 'n vermorsing beskou om goeie voedsel weg te gooi, wat ek die volgende dag sou kon eet en veral aangesien ek nou my eie maaltye moes voorberei. Dit was bloot logies en het my sowel tyd as geld gespaar. By tye wanneer ek egter sulke oorblyvoedsel weer wou verhit, het ek gevind dat dit reeds bederf het, dit het totaal bedorwe geraak.

Nadat ek bogemelde Skrifgedeelte deurgelees het, het ek gewonder:" Hou God nie van oorblyvoedsel nie?" Was my moeder al die jare reg gewees en ek verkeerd?

Die feit is dat geeneen van ons reg of verkeerd was nie, ons het verskillende voor-en afkeure gehad. Hierdie gedeelte van ons Parasha-lesing vir dié week, het niks met oorblyvoedsel te doen nie, maar inderdaad alles met Jesus die Messias.

Die dankoffer was vrywillig; elkeen het dit vrywilliglik gegee. Aangesien Jesus die Messias al die offers geword het, omdat sedert Sy dood en opstanding en vóór die vernietiging van die tempel, verteenwoordig die Korban (Offergawe wat vir die Here aanneemlik is) in vers 29 hierbo, die Vader se vrywillige Korban van Sy Seun en die Seun se vry wil om geoffer te word.

Hebreërs / Ivrim {12:2} "die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het."

Dit was Jesus die Messias se vreugde om Homself vir ons te offer. Daarom moet hierdie offer

dieselfde dag geëet word, sodat daar nie geleentheid is dat dit kan bederf of geheel bedorwe raak nie.

Ons Messias het nie bederf gesien nie: Hy het uit die dood opgestaan en sit nou aan die regterhand van die Vader in die Hemel, waar Hy vir ons as Bemiddelaar optree.

Psalm / Mizmor {16:10} "want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie."

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-10-03








Saterdag 15 Oktober 2016

Leef Jy Steeds in Sonde

Ha'Azinu
(Luister)

Deuteronomium / Devarim 32:1-52
Hosea / Hoshea 14:2-10
Joël / Yoel 2:11-27
Miga / Micha 7:18-20
Romeine / Romim 10:14-11:12

  
Deuteronomium / Devarim {32:1}  "Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3}  Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4}  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. {32:5}  Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. {32:6}  Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?"
                     
Parasha Ha'Azinu is 'n lied wat Moses vir die kinders van Israel geskryf het, om te leer en voor te dra, maar hoe weet ons dit was 'n lied? Ons het dit in verlede week se parasha verneem: 

Deuteronomium / Devarim {31:22} "Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23}  En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees."

Die sesde vers van hierdie lied het my veral getref en wel waar Moses sê: "Is Hy nie jou Vader, wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?". Ek veronderstel dat hierdie woorde moontlik vreemd vir die kinders van Israel geklink het. Hulle het dalk gewonder: " Wat bedoel Moses deur te sê dat God, ons Vader, ons gekoop het? "Die feit dat God hulle gevestig en bevry het van slawerny, sou nie vir hulle moelik gewees het om te verstaan nie, maar om deur God gekoop te gewees het, sou hulle beslis nie kon begryp nie.

Van kindsbeen af is die kinders van Israel, as deel van standaard-opvoeding ongetwyfeld geleer dat God hulle uit die stof van die aarde geskep het. Dus sou hulle waarskynlik nie kon verstaan waarom Hy hulle moes koop nie. Tog het Moses dit vir hulle in sy lied duidelik gemaak dat dit presies is wat gebeur het: God het die kinders van Israel gekoop! Ek is seker dat baie van ons - ten minste diegene wat nie in Jesus die Messias glo nie - hierdie konsep dat God mense koop, nie verstaan nie; trouens, dit sou klink soos uit slawerny tot slawerny!

Die feit is dat God die kinders van Israel gekoop het. Moses se lirieke is korrek! Hy hét hulle gekoop, of meer spesifiek, verower soos buit in 'n oorlog. Die vyand - ongeag die semantiek - in hierdie geval, Egipte, het egter aanspraak gemaak op die volk wat God afgesonder het om Sy eie besondere eiendom te wees. Die Egiptenare het hulle as slawe behandel en God moes hulle terugwen - oftewel, hulle koop uit die slawerny.

Psalm / Mizmor {135:4} "Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom."

Wat was die koopsom? Dit was die dood van Farao, wat op hulle aanspraak gemaak en as slawe vir sy eie doeleindes aangehou het. Indien julle hierdie dinge kan insien, aanvaar en ontvang, dan behoort julle te verstaan en aanvaar dat die Hernieude Verbond ons meedeel dat Jesus die Messias, oftewel God as mens, na die aarde gekom het om vir ons te sterf en ons terug te koop vir God. Hierdie keer, het God egter nie slegs die kinders van Israel teruggekoop nie, maar wel die ganse wêreld. Waarom sou Hy ons wéér koop as God ons reeds gekoop het? Die antwoord is dat ons in der waarheid onsself weer verkoop het, maar hierdie keer aan sonde. Ons het slawe van die sonde geword - in essensie het ons, ons siele aan die duiwel, die satan, verkoop en ons is in sy besit.

Johannes / Yochanan  {8:34} "Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is."

Dan deel koning Salamo ons mee:

Prediker / Kohelet  {7:20} " want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons, deur ons eie toedoen, het onsself terugverkoop aan slawerny, oftewel die slawerny van die sonde, maar God wou ons terugkoop. Hy wou die mensdom, sowel Jode as as nie-Jode, verlos van die satan, wat hulle in die slawerny van hul sonde hou, maar om hierdie transaksie na te kom, moes daar 'n losprys wees: 'n uitruiling. Vir die kinders van Israel van ouds, was dit Farao en sy leërmag, maar vir die hedendaagse wêreld, is dit Jesus die Messias.

Hebreërs / Ivrim {2:14}  "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— {2:15}  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Jesus die Messias was die losprys: Hy was die verruiling vir ons siele. Sy sterwe het vir ons en ons sondes betaal, sodat die satan nie langer aanspraak op ons sou hê nie. God self - in die gedaante van Jesus die Messias - het die prys geword. Jesus was sowel die koper as die verkoper. Hy het ons verlos om God in gees en waarheid te dien.

Galasiërs / Galitim {5:1} "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."

Indien jy nog nie Jesus die Messias as jou Verlosser aanvaar het nie, is jy nog steeds 'n slaaf van die sonde. Die betekenis van Sy dood en die losprys, wat dit verteenwoordig, is nie aan jou toegewys nie. Waarom ontvang jy nie vir Jesus as jou Saligmaker nie en word deel van die bevrydende transaksie wat God vir jou bewerkstellig het?

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-09-26



Saterdag 08 Oktober 2016

Verbondenheid

Nitzavim-VaYelech 
(Hulle Staan – En Hy Het Gegaan) 


Deutoronomium / Devarim 29:9 - 31:30
Jesaja / Yeshayahu 61:10 - 63:09
Romeine / Romim 7:7 – 12

Deuteronomium / Devarim {29:10} ”Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11} julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12} om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit; {29:13} sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het. {29:14} En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie. {29:16} Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het. {29:17} En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien, {29:18} sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie,”

Indien julle wedergebore gelowiges in Jesus die Messias is, dan behoort julle tot die Verbond wat God met Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Aangesien julle tot die verbond behoort, behoort julle ook tot die volk en land Israel. As gelowiges is ons woning in die hemel, maar ons tuisland is Israel. Waarom is Israel dan ons tuisland? Dit is omdat Jesus die Messias vanuit Israel vir ‘n duisend jaar sal heers en regeer en aan ons gesê het dat waar Hy ookal is, ons sal wees.

Openbaring / Hitgalut {20:6} ”Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Dit maak nie saak in welke land van die wêreld julle nou woon nie. Elke keer wanneer julle die Tora (die eerste vyf boeke van Moses) lees en dit op julle self toepas, soos dit op jul lewe vandag toepaslik is, word julle herhinner aan julle verbintenis aan die Verbond, volk en land van Israel. Israel is jul tuisland! Moontlik mag julle tans nie welkom wees om julle dáár te vestig nie, veral as julle nie-Jode is of indien julle Joodse gelowiges in Jesus die Messias is, maar dit sal alles verander wanneer Jesus die Messias weer kom.

Ons behoort almal tot die Verbond omdat ons dáár by die kinders van Israel gestaan het toe hulle die Goddelike Verbond van God by berg Sinaï ontvang het, soos in die eerste Skrifaanhaling hierbo vermeld word. Ons behoort tot die volk omdat julle Jode is of as julle nie-Jode is nie, sal julle eendag kan kies aan watter stam julle wil behoort en ‘n erfdeel in daardie stam ontvang:

Esegiël / Yechekiel {47:23} ”En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”

Laastens, behoort ons tot die land omdat daar in die Skrifgedeelte uit Openbaring (20:6) hierbo, geskryf staan dat ons saam met Hom vir ‘n duisend jaar in Jerusalem sal heers en regeer.

Deuteronomium / Devarim {31:28} ”Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem. {31:29} Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg. {31:30} Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek.”

Dit is behoorlik asof ‘n mens die pyn in Moses se hart kan aanvoel toe hy gespreek en hierdie woorde geskryf het. Hy sou sterf maar God het hom toegelaat om te weet dat die kinders van Israel, na sy dood, ‘n afvallige nasie sou word. Moses het lank en hard gestry om die kinders van Israel op die regte weg te hou en ek is oortuig dat hy baie slapelose nagte in gebed vir hulle deurgebring en namens hulle by God voorspraak gedoen het, al sy gebede, al sy onderrig en al sy onderhandelinge met God sou eindig met die afvallig-wording van die kinders van Israel. Dit moes inderdaad vir hom ontmoedigend gewees het!

Jesus, aan ons bekend as die tweede Moses, het ‘n baie soortgelyke belewenis gehad met diegene vir wie Hy Sy lewe opgeoffer het:

Mattheüs / Mattityahu {26:31} ”Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. {26:32} Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. {26:33} Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. {26:34} Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën.”

Ek veronderstel dat dit die geval is wanneer enige leier te sterwe kom of weggaan. Daar is nooit werklik ‘n ononderbroke oordrag van gesag nie. Aan Moses is dit egter gegun om die wederkoms van Jesus te “sien”: Die saad van herstel van Israel.

Die mens is feilbaar, maar God nooit!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-09-04