Wanneer om te laat gaan / BeShalach |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel
30 Januarie 2010 / Shevat 15 5770
Exodus / Shemot 13:17-17:16
Rigters / Shoftim 4:4-5:31
Johannes / Yochanan 6:22-40
Exodus / Shemot {14:12} “Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.”
Dit is moeilik om te glo wat hierbo gesê word omdat die kinders van Israel onder sware slawerny verkeer het terwyl hulle in Egipte was. Volgens die Skrif, is hulle mishandel en moes hulle harde-arbeid verrig. Daar was selfs 'n stadium wat die farao van hulle vereis het om stene te maak met strooi wat hulle self moes gaan soek. Voorheen is hulle van strooi voorsien, maar daarna moes hulle dit self in die hande kry, sonder dat die daaglikse kwota stene, wat hulle moes maak, verminder is. Dit klink vir my na alles behalwe 'n aangename lewe, waarna hulle sou wou terugkeer! Waarom sou hulle dan teenoor Moses gekla en beweer het dat dit vir hulle beter was in hul toestand van slawerny in Egipte?
Ek het al dikwels soortgelyke situasies in ons gemeente ervaar. Nee, niemand wil na Egipte terugkeer nie omdat geeneen van ons gemeente van Egipte is nie, maar daar is mense onder ons wat ongetwyfeld in 'n vorm van slawerny - binding (“bondage”) verkeer.
Ek is verlede week deur iemand genader wat dag en nag geestelik en emosioneel geteister is. Hy het stemme gehoor, wat hom erg gekwel en verontrus het. Nadat ek 'n rukkie met hom gesels het, het dit aan die lig gekom dat hy by die okkulte betrokke was. Vóór hierdie ondervinding, het hy egter nie sulke simptome ervaar nie, maar alles het daarna verander. Aangesien ekself, vóór my verlossing, ook by die okkult betrokke was, het ek onmiddelik besef dat hierdie persoon met een of twee demone kennis gemaak het en besig was om deur hulle demonies onderdruk te word.
Ja, ons word blootgestel aan demone indien ons betrek word by aktiwiteite waarin die satan betrokke is, soos die okkult. Laasgenoemde sluit ondermeer in (maar is nie noodwendig daartoe beperk nie): Tarotkaarte, handlynkunde, psigometrie, astrologie en selfs iets so skynbaar skadeloos soos die lees van horoskopie. Al hierdie praktyke hou die moontlikheid van demonies binding / onderdrukking in vir diegene wat hulself daarmee bemoei. Ek het vir hierdie persoon gebid en hom van sy betrokkenheid by die okkult laat afsien – 'n metode van bevryding, wat ek in die verlede ook al toegepas het, selfs op myself. Nadat ek gebid het, het ek die persoon gerusgestel deur hom te verseker dat deur my gebed, die demone hom verlaat het en hy nou bevry was van hierdie binding. Al wat hy nou moes doen, was om dié feit te aanvaar. Ongelukkig – enkele minute na mý gebed – het ek gehoor hoe die persoon sy ondervinding met iemand anders deel en vra dat dié vir hom bid om bevryding.
Die doelvan my verhaal en van hierdie Skrifgedeelte, wat ek uit ons Parasha van dié week aangehaal het, is dat sommige mense heel “gemaklik” met hul demone is en nie werklik van hulle ontslae wil raak nie. Die bovermelde persoon wou nie aanvaar dat hy bevry is nie, maar het verlang dat iemand anders wéér vir hom bid. Dit is ongelukkig 'n gewoonte wat sulke persone moontlik oor en oor herhaal. Miskien sal dit hul lot wees totdat die demone hulle tot kranksinnigheid dryf, wat vanselfsprekend hospitalisasie en psigiatriese behandeling vereis, òf totdat hulle hul bevryding finaal aanvaar en die demone terugstuur na waar hulle hoort.
Die kinders van Israel was tevrede met hul demone; hulle was nie bereid om 'n nuwe bestaan van vryheid in die Beloofde Land te begin nie. Hulle was gelukkig met hul omstandighede in Egipte. Vir hulle het die gedagte om bevry te word – ofskoon dit aanloklik geklink het toe Moses dit aanvanklik voorgestel het – glad nie meer so gunstig geblyk nie. Die bevryding was vir hulle te moeilik om te aanvaar. Hulle wou terugkeer na hule vorige bestaan, 'n lewe van binding en onderdrukking, omdat hulle daaraan gewoond was en gevolglik daarmee gemaklik was.
Baie mense word demonies onderdruk – ja, selfs gelowiges in Jesus die Messias! Tensy hulle daarmee staak om gemaklik te wees met hul demone, sal hulle nooit daarvan bevry word nie.
Jacobus / Ya'acov {4:7} “ Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. {4:8} Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! {4:9} Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. {4:10} Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”
Wil julle verlos word van demoniese onderdrukking? Hou dan op om met jul demone gemaklik te wees!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou