Saterdag 30 Januarie 2010

Hou Op Om Met Jul Demone Gemaklik te Wees

Wanneer om te laat gaan / BeShalach |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


30 Januarie 2010 / Shevat 15 5770


Exodus / Shemot 13:17-17:16

Rigters / Shoftim 4:4-5:31

Johannes / Yochanan 6:22-40


Exodus / Shemot {14:12} “Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.


Dit is moeilik om te glo wat hierbo gesê word omdat die kinders van Israel onder sware slawerny verkeer het terwyl hulle in Egipte was. Volgens die Skrif, is hulle mishandel en moes hulle harde-arbeid verrig. Daar was selfs 'n stadium wat die farao van hulle vereis het om stene te maak met strooi wat hulle self moes gaan soek. Voorheen is hulle van strooi voorsien, maar daarna moes hulle dit self in die hande kry, sonder dat die daaglikse kwota stene, wat hulle moes maak, verminder is. Dit klink vir my na alles behalwe 'n aangename lewe, waarna hulle sou wou terugkeer! Waarom sou hulle dan teenoor Moses gekla en beweer het dat dit vir hulle beter was in hul toestand van slawerny in Egipte?


Ek het al dikwels soortgelyke situasies in ons gemeente ervaar. Nee, niemand wil na Egipte terugkeer nie omdat geeneen van ons gemeente van Egipte is nie, maar daar is mense onder ons wat ongetwyfeld in 'n vorm van slawerny - binding (“bondage”) verkeer.


Ek is verlede week deur iemand genader wat dag en nag geestelik en emosioneel geteister is. Hy het stemme gehoor, wat hom erg gekwel en verontrus het. Nadat ek 'n rukkie met hom gesels het, het dit aan die lig gekom dat hy by die okkulte betrokke was. Vóór hierdie ondervinding, het hy egter nie sulke simptome ervaar nie, maar alles het daarna verander. Aangesien ekself, vóór my verlossing, ook by die okkult betrokke was, het ek onmiddelik besef dat hierdie persoon met een of twee demone kennis gemaak het en besig was om deur hulle demonies onderdruk te word.


Ja, ons word blootgestel aan demone indien ons betrek word by aktiwiteite waarin die satan betrokke is, soos die okkult. Laasgenoemde sluit ondermeer in (maar is nie noodwendig daartoe beperk nie): Tarotkaarte, handlynkunde, psigometrie, astrologie en selfs iets so skynbaar skadeloos soos die lees van horoskopie. Al hierdie praktyke hou die moontlikheid van demonies binding / onderdrukking in vir diegene wat hulself daarmee bemoei. Ek het vir hierdie persoon gebid en hom van sy betrokkenheid by die okkult laat afsien – 'n metode van bevryding, wat ek in die verlede ook al toegepas het, selfs op myself. Nadat ek gebid het, het ek die persoon gerusgestel deur hom te verseker dat deur my gebed, die demone hom verlaat het en hy nou bevry was van hierdie binding. Al wat hy nou moes doen, was om dié feit te aanvaar. Ongelukkig – enkele minute na mý gebed – het ek gehoor hoe die persoon sy ondervinding met iemand anders deel en vra dat dié vir hom bid om bevryding.


Die doelvan my verhaal en van hierdie Skrifgedeelte, wat ek uit ons Parasha van dié week aangehaal het, is dat sommige mense heel “gemaklik” met hul demone is en nie werklik van hulle ontslae wil raak nie. Die bovermelde persoon wou nie aanvaar dat hy bevry is nie, maar het verlang dat iemand anders wéér vir hom bid. Dit is ongelukkig 'n gewoonte wat sulke persone moontlik oor en oor herhaal. Miskien sal dit hul lot wees totdat die demone hulle tot kranksinnigheid dryf, wat vanselfsprekend hospitalisasie en psigiatriese behandeling vereis, òf totdat hulle hul bevryding finaal aanvaar en die demone terugstuur na waar hulle hoort.


Die kinders van Israel was tevrede met hul demone; hulle was nie bereid om 'n nuwe bestaan van vryheid in die Beloofde Land te begin nie. Hulle was gelukkig met hul omstandighede in Egipte. Vir hulle het die gedagte om bevry te word – ofskoon dit aanloklik geklink het toe Moses dit aanvanklik voorgestel het – glad nie meer so gunstig geblyk nie. Die bevryding was vir hulle te moeilik om te aanvaar. Hulle wou terugkeer na hule vorige bestaan, 'n lewe van binding en onderdrukking, omdat hulle daaraan gewoond was en gevolglik daarmee gemaklik was.


Baie mense word demonies onderdruk – ja, selfs gelowiges in Jesus die Messias! Tensy hulle daarmee staak om gemaklik te wees met hul demone, sal hulle nooit daarvan bevry word nie.


Jacobus / Ya'acov {4:7} “ Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. {4:8} Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! {4:9} Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. {4:10} Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.


Wil julle verlos word van demoniese onderdrukking? Hou dan op om met jul demone gemaklik te wees!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Vrydag 22 Januarie 2010

Dit is maklik om te doen

Gaan / Bo |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

23 Januarie 2010 / Shevat 8 5770

Eksodus / Shemot 10:1–13:16

Jeremia / Yirmeyahu 46:13–28

I Korinthïers / Korintim Aleph 11:20-34

Eksodus / Shemot {10:1} “ Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, {10:2} en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is.

Waarom verhard God ‘n mens se hart? Ek glo dat daar twee redes is. Eerstens, dat Sy wil deur die mens uitgevoer moet word en, tweedens, dat die mens moet besef, dat Hý God is en geen ander nie. In beide gevalle blyk hierdie doel met die farao van Egipte, soos wat God sy hart verhard het, ter voorbereiding vir die uittog van die kinders van Israel.

Wanneer meeste mense hierdie week se Parasha lees, is hulle bekommerd omdat God gesê het dat Hy die farao se hart verhard het. Sommige vertolk dit asof God harte blindelings verhard, gevolglik meen hulle natuurlik dat God wispelturig is en miskien eendag sonder rede, ook húl harte mag verhard. Dit is hoegenaamd nie die geval nie. God verhard nie sommer sonder rede ‘n mens se hart nie.

Hoe maak God dan ‘n keuse oor wie se hart Hy wil verhard? Die antwoord word verstrek deur vandeesweek se Tora-gedeelte:

Eksodus/ Shemot {10:3)”Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.

God verhard die harte van diegene wat weier om hulself voor Hom te verootmoedig. Die farao het voldoende geleentheid gehad om hom voor God te verootmoedig, maar hy het nie omdat hy homself as ‘n god geag het. Juis daarom het God sy hart verhard sodat Hy hom vir Sy doel kon gebruik, selfs al het dit die farao se dood beteken.

Die farao is nie uniek deurdat hy himself as ‘n God beskou het nie; baie mense – vandag nog – ag hulself as gode. Hulle doen dit deur die één ware God, die God van Israel, die God van hemel en aarde nie te erken nie.

Jy mag miskien sê: “Ek sal nooit so’n iets doen nie”, maar dit kan makliker gebeur as wat jy dink. Elke keer wanneer jy sê dat jy iets gaan doen, wil bereik of êrens heengaan sonder om die soewereiniteit van God, onder Wie se wil jy staan en deur Wie jy bestaan, te erken, ag jy jouself om ‘n god te wees.

Jakobus / Ya'acov {4:13}”Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— {4:14} julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. {4:15} In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Sonder om God te erken in alles wat ons doen, is dit asof óns in beheer is; God is egter in volle beheer van alles wat in ons lewens plaasvind. Derhalwe moet ons, ons verootmoedig en ophou dink dat ons lotsbeskikking in ons eie hande is. Die enigste wyse om dit te doen, volgens die voorafgaande Skrifgedeelte, is om God altyd te erken, deur by alles wat ons sê: “As dit God se wil is” te voeg. Dink nou daaroor: Hoeveel keer het jy jouself as ‘n god beskou – netsoos die farao – en toon dan berou. Erken God van hierdie dag af, in alles wat jy sê en voornemens is om te doen. As ‘n verdere aansporing, dink aan hierdie gelykenis wat Jesus ons vertel het:

Lukas / Uri {12:18}” Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. {12:19} En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. {12:20} Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?

Die farao se hart is verhard omdat hy geweier het om God te eer deur homself voor Hom te verootmoedig. Waak dus daarteen dat dieselfde met julle gebeur!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 16 Januarie 2010

Wees Gereed

En Ek Het Verskyn/ VaEra |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


16 Januarie 2010 / Shevat 15770

Eksodus / Shemot 6:2-9: 35

Jesaja / Yeshayahu 66:1-24

Romeine / Romim 9:14-25


Eksodus / Shemot {6:2} “Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. {6:3} (6:2) En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. {6:4} (6:3) Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; {6:5} (6:4) en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.”


Waarom sou God vir honderde jare gewag het, terwyl die kinders van Israel so verdruk is in Egipte, om aan hulle te dink? Dit verstom my dat 'n liefdevolle en sorgsame God sou toelaat dat 'n volk, Sy volk, in slawerny moes ly, onder die dwangarbeid van wrede opsieners, voordat Hy eindelik besluit het om hulle te verlos. Ek word dikwels soortgelyke vrae gevra oor die Jode se vervolging tydens die Tweede Wêreldoorlog: “Indien daar 'n God is, waarom het Hy dit dan toegelaat?”


Dit is tog vreemd dat mense geneigd is om God so gou moontlik te beskuldig van wreedheid sonder om hul eie wreedheid te erken, wat deur woede, haat en vooroordeel gekenmerk word. Ek is nie van plan om die Jode se vervolging in hierdie kommentaar te bespreek nie, behalwe om te sê dat die heling vir ons in die Tora (Deuteronomium {28}), beantwoord word. God is 'n liefdevolle, barmhartige en genadige God, maar ons moet ook onthou dat Hy 'n regverdige God is en nie die skuldiges ongestraf sal laat gaan nie. Ongelukkig strek Sy geregtigheid – soos Hy ons gewaarsku het – verder as één geslag.


Deuteronomium / Devarim {5:9} “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;”


Nou gaan ek terug na ons oorspronklike vraag, naamlik, waarom God na soveel eeue eers aan die kinders van Israel gedink het.


God het die kinders van Israel na Egipte laat gaan sodat hulle getalle so sou toeneem, dat hulle 'n lewensvatbare nasie sou word. 'n Nasie het inderdaad mense nodig en nie slegs enkelinge nie. God het geweet dat Sy nuwe volk vir die land, wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sou moes veg en dit verower. Dus moes daar 'n voldoende aantal mense wees om 'n leërmag te kon saamstel om daardie taak te volbring. God het ook mense nodig gehad wat op die aangewese tyd, soos één man Egipte sou verlaat. Die kinders van Israel, wat vir honderde jare gebruik, misbruik en in slawerny was, sou daardie doel verwesenlik. Toe die geleentheid vir die kinders van Israel dus aangebreek het om Egipte te verlaat, het hulle nie op hulle laat wag nie.


Vandag sal dit ontsettend veel verg om die hele Joodse bevolking van die Verenigde State en Kanada te oorreed om in Israel te gaan woon. Waarom? Omdat hule welgesteld en voorspoedig is, met die gevolg dat daar vir hulle geen dryfveer is om daarheen te gaan nie. 'n Voorbeeld hiervan is die Babiloniese ballingskap. Slegs vyftigduisend Jode het van Babilon af teruggekeer toe koning Kores die dekreet uitgevaardig het dat Jerasulem herbou moes word. Dit was omdat hulle voorspoed beleef en floreer het in Babilon. Dieselfde geld nou vir die Jode in die Verenigde State en Kanada. Indien hulle egter skielik moeilike tye sou beleef en te staan kom voor moontlike vervolging of selfs die vooruitsig van gevangenskap, sou hulle ongetwyfeld gaan. Die tydperk wat die kinders van Israel in Egipte verdrukking verduur het, was die tyd wat God gebruik het om hulle vir hul vertrek voor te berei. Dit het eeue geduur vir hulle om Egipte te wou verlaat, maar toe die volheid van God se tyd aangebreek het, was hulle bereid om te gaan.

Ons moet daarop let hoedat God vir Israel beskik het, want dit is hoedat Hy ook met ons te werk gaan. Miskien het julle ook jare van beproewing en swaarkry ervaar, jul lewens was 'n mislukking en julle werk soos slawe, maar verval net in dieper skuld en depressie. Julle werk dalk onder 'n baas wat met enige Egiptiese opsiener sou wedywer en daar is voetspore op jul rûe van almal wat al oor julle geloop het. As gevolg daarvan het julle moontlik reeds jul verhouding met God bevraagteken en betwyfel en gedink dat Hy julle verlaat het en nie meer vir julle omgee nie. Skep egter moed, want as jy 'n kind van God is en in Jesus die Messias glo, dan is God besig om jou voor te berei vir verandering. Hy het 'n plan en doel met jou en wanneer die volheid van Sy tyd aanbreek, sal Hy jou uitroep en sal jy meer as gereed wees!


Galasiërs/ Galitim {4:4}”Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, {4:5} om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.“


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 09 Januarie 2010

Min in getal oorgelaat

Name / Shemot |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


9 Januarie 2010 / Tevet 23 5770

Eksodus / Shemot 1:1-6:1

Jesaja / Yeshayahu 27:6-28:13

Handelinge / Mas'asei Talmidim 7:17-29


Eksodus / Shemot {1:8} “Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. {1:9} Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. {1:10} Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. {1:11} Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou. {1:12} Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel.


Ek glo die rede waarom God die kinders van Israel na Egipte gelei het, was in die eerste plek, om hulle te beskerm teen ondertrouery met die Kanaäniete. Die kinders van Israel was gedurende daardie tyd in die geskiedenis nomadies en dus was die hoofbron van hul bestaan, merendeels skape. Die Kanaäniete het geen probleem met hierdie beroep gehad nie, maar die Egiptenare wel. Hulle het dit as 'n minderwaardige werk beskou en, daarbenewens, in hul pantheon van gode, ook 'n skaapgod gehad. Die slag en eet van skape was dus vir hulle 'n gruwel en daarom was die kinders van Israel se teenwoordigheid in Egipte ideaal vir God se doel met hulle. Eerstens, sou die Egiptenare nie met hulle ondertrou nie vanweë hul beroep en, tweedens, ook op grond van hul werk, sou hulle afgesonder word in die mees afgeleë provinsie van Egipte, naamlik Gosen, wat vermoedelik naby die Kanaänitiese grens geleë was. Klaarblyklik het God se wil dus geskied en die kinders van Israel het so aansienlik vermeerder, dat dit 'n bron van kommer vir die Egiptenare geword het.


Julle mag moontlik onbewus daarvan wees dat my eggenote en ek baie betrokke is by lewensbehoud; trouens, dit was een van ons bedienings sedert ons bekering en daarom probeer ons om op datum te bly met wat aborsies betref asook lewensbehoud in Israel.


Tot ons ergste onsteltenis en afkeur, het Israel ook aborsie gewettig. Die jongste beskikbare syfers toon dat ongeveer 40 000 aborsies jaarliks in Israel uitgevoer word. Vyftig persent van hierdie swangerskappe word beëindig omdat dit as gevolg van buitehuwelikse konsepsie, bloedskande of statutêre verkragting was. Agtien persent is beëindig vanweë 'n gesondheidsrisiko vir die moeder en / of vermoedelike fetusdefekte. Die res – twee-en-dertig persent – is hoofsaaklik op versoek uitgevoer. Volgens my oortuiging, is die enigste regverdigbare rede vir 'n aborsie, wanneer die moeder se lewe in gevaar verkeer. Dit is gegrond op die Bybelse beginsel om alles moontlik te doen om 'n lewe te red.


Johannes / Yochanan {15:13} “ Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.


Die totale Israelse bevolking vandag – volgens die mees onlangse demografiese gegewens – is 7 465 500, waarvan naastenby vyf-en-sewentig persent of 5 636 400 Jode is. Nagenoeg drie-en-twintig persent of 1 739 500 is Moslem-Arabiere. Die balans word beskryf as “ander”. In 2000 het die Moslem-Arabiere sowat 17 persent van Israel se bevolking uitgemaak en in 2009 het hulle vermeerder tot ongeveer drie-en-twintig persent ('n toename van ongeveer ses-en-'n-half persent) terwyl die Joodse bevolking oor dieselfde tydperk met nagenoeg nege persent toegeneem het. Indien aborsies in Israel teen dieselfde koers voortgaan en Joodse immigrasie laag bly, soos wat tans die geval is, dan is daar 'n potensiële probleem. Die Moslemgeloof verbied aborsie en met hul beleid van groot gesinne (6-20 kinders), vergeleke met die gemiddelde Joodse gesin van twee tot drie kinders, word gevrees dat binne 'n honderd jaar van nou af, die Moslem-Arabiese bevolking in Israel in 'n invloedryke politieke mag in die land kan ontwikkel. Hierdie mag sou besluitneming in die parlement aansienlik wysig.


Hoe het dit tog nie verander nie! Wat duisende jare gelede vir die Farao 'n bron van kommer was oor die toename van die Joodse bevolking, isnou vir die kinders van Israel 'n bekommernis oor die aansienlike bevolkingstoename van die Moslem-Arabiere.


Waarom gebeur dit met Israel noudat hulle in die land is wat God aan hulle beloof het? Is dit omdat hulle 'n sekulêre land geskep het, wat nie meer die Tora-beginsels handhaaf nie? Toe hulle deur God na Egipte gestuur is, was dit met die doel om 'n nasie te bou wat die Tora sou navolg. Nou verminder God hul getal, soos wat Hy hulle gewaarsku het, indien hulle nie die Tora sou onderhou nie.


Deuteronomium / Devarim {28:58} “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die HERE jou God, te vrees nie, {28:62} En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God nie.”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 02 Januarie 2010

Aanvaar Vergifnis

En Hy Het Geleef / VaYechi |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


2 Januarie 2010 / Tevet 16 5770


Genesis / Bereshit 47:28-50:26

1 Konings / Melachim Aleph 2:1-12

1 Petrus / Kefa Aleph 1:3-9


Genesis / Bereshit {50:15} “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.


Ek het hierdie gedeelte so tipies van hedendaagse gelowiges gevind! Vergun my omm dit te verduidelik. Ons almal behoort te besef dat Josef 'n sinnebeeld van Jesus was. Josef is deur sy broers verwerp, in slawerny verkoop, misbruik en mishandel, in die gevangenis gewerp, daaruit verlos en vernaam geraak onder die nie-Jode, oftewel die Egiptenare. Jesus is ook deur Sy broers, Sy eie volk verwerp. Hy is vir dertig silwerstukke deur één van Sy eie mense verloën. Hy het neergedaal na die hel, is opgewek uit die dood en verhewe geraak onder die nie-Joodse nasies. Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus is egter geensins toevallig nie – die ooreenkomste eindig ook nie daar nie; trouens, dit is slegs die begin.

Julle sal onthou – in verlede week se Parasha (Parasha VaYigash) – hoedat Juda en die ander broers hul harte voor Josef uitgestort het en hul sonde teen hom erken het. Op hierdie stadium het Josef nog nie homself as hul broer bekendgestel nie. Later onthul hy sy identiteit en vergewe sy broers hul sonde en spreek hulle vry van wat hulle hom aangedoen het.


Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.


Josef se broers het vergifnis ontvang. Alles wat in die verlede gebeur het, is vergeet. Josef het in sy lewe opgang gemaak maar sy broers skynbaar nie. Selfs al het Josef hulle volkome vergewe, het hulle hulself ni vergewe nie en dus steeds met 'n skuldgevoel geleef.


Selfs indien ons voortgaan met die vergelyking tussen Josef, as 'n sinnebeeld van Jesus, is hierdie scenario nie skrikwekkend soortgelyk aan die lewens van vele gelowiges vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, was, soos hy self erken het, 'n bestiering van God, met die doel dat sy broers en toekomstige geslagte van die kinders van Israel, daarby sou baat. Die broers se belydenis aan Josef, sou hulle nou al die voordele laat geniet van om te leef onder beskerming van Josef, wat tot die magtige posisie van onder-koning in Egipte verhef is. Eweneens, was alles wat met Jesus gebeur het, deur die Vader beskik met die uitsluitlike doel dat die kinders van Israel en daarmee saam, die ganse wêreld, daarby sou baat. Wanneer ons ons sonde voor Jesus bely, naamlik die sonde teen Hom waardeur ons die gebooie van die Tora oortree het, vergewe Hy ons; trouens, ons word verseker:


Miga / Michah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.


Maar, vergewe ons onsself? Baie van ons doen dit nie! Tenspyte daarvan dat ons vergifnis ontvang het, dra ons nog die skuldlas saam met ons rond. Laat hierdie week se Parasha en, in besonder die Skrifgedeeltes wat ek daaruit aangehaal het, julle in staat stel om nie soos Josef se broers te wees nie en dat julle Jesus se vergifnis sal aanvaar en met jul lewe voortgaan.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou