Maandag 24 Maart 2014

Sonde is aansteeklik

D’Var Torah
Iemand wat ly aan Tzara’at (Leprose) – Metzora


Levitikus / Vayikra {14:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word,”

Wanneer ‘n mens hierdie parasha lees, kan jy dit maklik letterlik vertolk en verstrengel raak in die blinde godsdienstige praktyk van wat daardeur geleer word, soos in die geval van ortodokse – en ultra-ortodokse Judaïsme. Andersins kan jy, soos die Kerk, totaal negatief ingestel raak en sê: “Daar is weggedoen met die Wet”. Ek glo egter dat indien ons hierdie parasha verstaan soos wat God dit bedoel het vir ons om te begryp, kry ‘n mens ‘n geheel-en-al verskillende beeld en die gevolglike resultaat is dus nie godsdiens nie maar ‘n verhouding.

Na my mening, handel hoofstuk 14 alles oor sonde, maar beskryf sonde in terme van tzara’at. God het ons volmaak en gesond geskape; trouens, Hy het belowe dat indien ons Sy gebooie getrou nakom, Hy geeneen van die siektes van die Egiptenare oor ons sou laat kom nie.

Eksodus / Shemot {15:26} “en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.”.

Wanneer ons die Skrifgedeeltes in hierdie parasha vervat, in oënskou neem, het almal betrekking op dieselfde onderwerp: sonde. Aangesien God ons dus volmaak geskape en ons belowe het, dat deur Sy gebooie te gehoorsaam, ons teen siekte beskerm sal word – die straf, waarvan ons hier lees, verteenwoordig die gevolg van sonde.

Wat God dus deur hoofstuk 14 aan ons probeer verduidelik, is dat sonde ons nie net van Hom skei nie, maar ook van mekaar. Hier vind ons dat God verwys na tzara’at, wat gewoonweg vertaal word om leprose te beteken. Dit kan egter ook toegepas en verstaan word om te bedoel enige tipe velkwaal; trouens, enige kwaal / siekte. Hoe weet ons dit? Eenvoudig op grond van die feit dat die priester (Cohen) nie die ritueel nakom, soos in die parasha voorgeskryf, ten einde ‘n persoon te genees nie, maar eerder met die doel om hom / haar te reinig – reiniging, soos dit blyk, van sonde.

Kom ons let op die proses in geheel: die persoon wat deut tzara’at aangetas is, so word ons meegedeel, word na die priester gebring. Indien ons dit vertolk dat die priester as’t ware ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias is, dan moet die persoon, ten einde van die siekte genees te word, na die Messias (Mashiach) gebring word. Waar is die Messias? Hy is in die Hemel! Daarom moet ons, om genees te word, onsself voor die hemel stel. Indien ons verder lees, word aan ons gesê:

Levitikus / Vayikra {14:3} “en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,”.

Die genesing van sonde geskied in die hemel maar die reiniging van sonde vind op aarde plaas.
Hebreërs / Ivrim {2:16} “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.{2:18} Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”.

Volgens ons Parasha, moes die priester buite die laer uitgaan om die besmette persoon te ondersoek en reinig. Net so moes Jesus die Messias die hemel verlaat om die mens van sy / haar sonde te reinig.
Sonde, oor die algemeen, moet voor die Vader wat in die hemel is bely word en dan word dit gereinig deur die Een wat die hemel verlaat het: Jesus die Messias.

1 Johannes / Yochanan Alef {1:7} “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”.

Hoofstuk 15 van Levitikus, ook deel van ons parasha, kan ‘n mens ook beïnvloed om wetties te raak. Indien ons hierdie Skrifgedeeltes egter in geheel in oënskou neem, word ons drie dinge geleer: Eerstens, op fisiese gebied, leer dit ons die noodsaaklikheid van persoonlike higiëne; tweedens, op geestelike gebied, leer dit ons die noodsaaklikheid om altyd geestelik rein voor God te verskyn; Derdens, ook op geestelike gebied, leer dit ons hoe maklik die sonde van een persoon ook ‘n ander besmet.

2 Korinthiërs / Korintim Bet {6:17} “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; {6:18}  en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 19 Maart 2014

Geen ander wet as die Tora nie

D’Var Torah
Sy dra die saad – Tazria


Levitikus / Vayikra {12:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As ’n vrou swanger word en ’n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees.{12:2} En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.”.

Ongeag die feit dat met manlike besnydenis reeds bewys is dat dit servikale kanker by vrouens voorkom, die opdoen van MIV kan voorkom en oor die algemeen gesonder vir mans is, is dit ‘n goddelike gebod (mitzvah), wat, soos ek glo, van toepassing is op alle gelowiges in Jesus die Messias.

Ek besef dat dit ‘n gewigtige konstatering is veral vir dié gelowiges wat nie gebore Jode is nie. Indien jy egter my onderrig oor die jare heen gevolg het, sal daardie gelowiges, wat gekies het om hulle met Israel te vereenselwig en deel van ‘n Messiaanse Jooodse gemeente (Kehila) geword het, één met Israel word en inderdaad as Israeliete gereken word.

Eksodus / Shemot {12:49} “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef.”.

Israel het geen ander wet as die Tora nie, met die gevolg dat alle Tora-gebooie van toepassing is op sowel Jode as nie-Jode, wat verkies het om voortaan as Jode te lewe. Dit word verder bevestig deur die volgende Skrifgedeelte:

Eségiël / Yehesqel {47:23} “En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”.

Dit is dus vir my baie duidelik dat alle mans wat by Israel aangesluit het deur hulleself met ‘n Messiaaanse Joodse gemeente te vereenselwig, besny word indien dit nie alreeds gedoen is nie. Ek glo egter geensins dat hierdie vereiste vandag op die Kerk oor die algemeen verpligtend is nie omdat hulle onversetlik in hulle leerstelling is dat hulle nie Israel is nie, behalwe natuurlik diegene wat in vervangingsteologie glo en hulle is in elk geval mislei!

Ons beskik dus hier, volgens my mening, oor ‘n sterk saak ten gunste van besnydenis. Daar sal egter skeptici wees wat Skrifgedeeltes sal aanhaal waarin die apostel (shelach) Paulus (Shaul) homself sterk teen besydenis uitspreek, soos byvoorbeeld hierdie Skrifgedeelte:
Galasiërs / Galitim {5:2} “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.”.

Indien daar enige Skrifgedeelte is wat ‘n nie-Jood van besnydenis sal afskrik, is dit juis dié een. Hierdie Skrif word natuurlik gebruik deur diegene in die Kerk om besnydenis te ontmoedig, deur te beweer: “Ons val nie langer onder die Wet nie.”. Die feit is egter dat ons onsself behoort af te vra of Paulus werklik die woord “besnydenis” in sy geskrifte gebruik het om te verwys na die teken van die verbond – in die vlees – wat aan Abraham gegee is? Die antwoord daarop is ‘n besliste nee! Waarom? Omdat Abraham geregverdig was voordat hy besny is en daarna opdrag ontvang het dat al sy afstammelinge ná hom besny moes word. Abraham, soos ons weet, was die vader van die Joodse volk en gevolglik het die besnydenis ‘n teken van die Judaïsme geword.

Judaïsme, soos ons bewus is, het in die tyd van Paulus en selfs vroeër, enige verbintenis met God verloor en ‘n werkgeörienteerde godsdiens geword. Paulus was besorg dat sy nuutgevonde bekeerlinge vanuit die nasies (nie-Jode) wat Messiaanse Jode geword het, beïnvloed sou word en moontlik aangetrokke sou voel tot die heersende Joodse godsdienstige stelsel van sy dag. Daar was, trouens, Jode wat volgelinge van Paulus was wat meer gepoog het om nuwe nie-Joodse gelowiges te oortuig dat hulle nie te volle deel van die verbond van God was nie tensy hulle amptelik tot Judaïsme bekeer is deur besny te word. Hierteen was Paulus heftig gekant (dit wil sê bekering tot Judaïsme). Bewys dat Paulus besnydenis gelyk gestel het aan bekering to Judaïsme, is duidelik uit die volgende:

Galasiërs / Galitim {2:7} “Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes”.

Soos ons weet, was Paulus die apostel vir die nie-Jode (die onbesnedenes) terwyl Petrus (Kefa) die apostel vir die Jode (die besnedenes) was. Hier sien ons dus dat onbesnedenheid aan nie-Jode gelykgestel word terwyl besnedenheid aan Jode gelykgestel word.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {7:19} “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.”.

Paulus kon dit destyds gesê het en ons kan dit nou sê omdat wat hier bedoel word, is dat dit nie saak maak of jy ‘n Jood of ‘n nie-Jood is nie – die hoofsaak is dat jy die gebooie wat redding vir sowel Jood as nie-Jood moontlik maak, onderhou.


Ek vertrou dat dit enige twyfel wat jy moontlik oor besnydenis kon gehad het, uit die weg ruim.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dinsdag 11 Maart 2014

Barmhartigheid eerder as offerande

D’Var Torah
Agste – Shemini


Levitikus / Vayikra {10:16} “En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê: {10:17}  Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18}  Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19}  Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20}  Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë. ”.

Wat vir my besonder interessant was van hierdie Skrifgedeelte, is Aäron en Moses se houding met betrekking tot die situasie. Deur dié Skrifgedeelte gee Moses, die, wetgewer, ons ‘n kykie van ‘n ander sy van karakter in soverre hy Aäron toornig teregwys omdat hy God se opdragte nie noukeurig nagekom het nie. Hy was immers wel bewus daarvan dat Aäron sopas sy twee seuns verloor het. Hy het gedink dat sy broer totaal gevoelloos was? Aäron het natuurlik gerou oor sy verlies en was moontlik ontsteld daaroor teenoor God. Nogtans lyk dit asof Moses dit nie in oorweging geneem het nie. Hy was immers taakgeorienteerd en duidelik ‘n streng nakomer van reels, wat dit syns insiens nodig geag het om nie sy emosies te toon nie, maar met die bepaalde taak voort te gaan, ongeag enige versagtende omstandighede. Ek dink Moses het die volgende feit nie in gedagte gehou nie:
Hosea / Hoshea {6:6} “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers. ”.

Jesus die Messias het dit duidelik uiteengesit en die Skrif bevestig toe Hy gesê het:

Matthéüs / Mattityahu {12:7} “Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; ”.

As gelowiges in Jesus die Messias, moet ons onthou dat indien ons barmhartigheid verlang, ons ook barmhartigheid moet betoon. Ongeag of daar versagtende omstandighede mag wees, is dit onmoontlik om altyd met reëls te volstaan.

Ons kry ook ‘n kykie in die karakter van Aäron. Hy was in rou gedompel en dit was vir hom dus onmoontlik om met ‘n “skoon” hart voor die Here sy ampsdiens te verrig. Hy kon seker deur al die mosies gegaan en voorgegee het dat alles in orde was maar hy wou dit nie doen nie! Hy was geensins van plan om skynheilig te wees nie! Hy was dus nie van plan om sy priesterlike take met ‘n swaar gemoed uit te voer nie.

Psalms / Mizmor {100:2} “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”.

God verlang nie dat ons skynheilig moet wees nie. Indien ons besluit om Hom te dien, behoort ons dit met ons hele hart en aandag te doen want as ons gedagtes in beslag geneem word deur wêreldse dinge of ons eie omstandighede, is dit onmoontlik om met blydskap voor Hom te kom. Aäron het gevolglik reg opgetree deur nie van die offerande te eet nie. In die omstandighede waarin hy verkeer het asook sy gemoedstoestand, sou dit hom nie rein gemaak het nie maar wel skynheilig.

Openbaring / Hitgalut {3:15} “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! ”.

Wanneer ons as gelowiges die Here dien, mag ons nie halfhartig wees nie – dit sal geen doel dien nie. Ons is nie beveel om die Here met droefheid te dien nie maar eerder met blydskap.

Ten slotte, toon hierdie gedeelte aan ons die karakter van God. In die finale instansie het Hy Aäron se verduideliking aanvaar en dít is van die allergrootste belang in die wêreld vir ons. Dit bewys ons diens aan God kan nie volgens streng en vaste godsdienstige reëls geskied nie maar wel deur ‘n persoonlike verhouding. Dit sou nutteloos wees indien ons ‘n gebod, wat Hy gegee het, gehoorsaam slegs omdat Hy dit gegee het. Ons behoort Sy gebooie te gehoorsaam omdat ons Hom liefhet en begeer om Hom te behaag en volg, soos Hy ons versoek het om te doen.

Jesus die Messias het, trouens gesê:

Johannes / Yochanan {14:15} “As julle My liefhet, bewaar my gebooie. ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 05 Maart 2014

Heilig en gewyd

D’Var Torah
Bevel - Tzav


Levitikus / Viyikr {8:33} “Ook mag julle sewe dae lank nie by die ingang van die tent van samekoms uitgaan nie tot op die dag dat die dae van julle wyding verby is; want sewe dae lank moet julle wyding duur. {8:34} Soos vandag gedoen is, het die HERE beveel om verder te doen, om vir julle versoening te bewerk. {8:35} Julle moet dan by die ingang van die tent van samekoms bly, dag en nag, sewe dae lank; en julle moet die ordening van die HERE hou, dat julle nie sterwe nie; want so is aan my bevel gegee. {8:36} En Aäron en sy seuns het al die dinge gedoen wat die HERE deur die diens van Moses beveel het.”.

Dit is baie belangrik dat God verkies het dat Aäron en sy seuns vir sewe dae – nag en dag – by die ingang van die tabernakel (Mishkan) moes bly. Indien God slegs sou bepaal het dat hulle vir sewe dae dáár moes bly, sou dit beteken het dat hulle op die sewende dag sou kon begin met hulle ampsverrigting. Dit is egter nie wat Hy gesê het nie: Hy het uitdruklik gesê sewe dae, nag en dag, wat sou beteken dat hulle by die ingang van die tabernakel moes bly tot en met insluiting van die sewende dag, sonder om uit te kom vóór die oggend van die agste dag om hulle ampsbediening te verrig. Hulle sou dan slegs op die agste dag namens die volk hierdie diens kon verrig.

In hierdie parasha, word die besonderhede van die proses van wyding van Aäron en sy seuns verduidelik, met die doel diens te verrig voor die aangesig van die Here en ten behoewe van die kinders van Israel. Soos ons gelees het, moes offerandes namens hulle gedoen en die bloed van wyding op sowel hulle as die Altaar van Verbrande Offerande aangebring word. Na die voorlopige offerandes, is Aäron en sy seuns beveel om in die tabernakelingang te bly terwyl ‘n bykomende offerande daagliks vir hulle wyding gedoen is.

Wyding en heiligheid was oënskynlik ‘n baie vername element van ampsuitvoering in die teenwoordigheid van God. Uit hierdie Skrifgedeeltes is dit duidelik hoe ernstig God dit beskou het om heilig en gewyd te wees voordat hulle in Sy fisiese teenwoordigheid was in die tabernakel se binneste deel, die Heilige der Heiligste (Kadosh Kedoshim), in die vorm van ‘n wolk en pilaar van vuur. Dit toon ook aan ons dat die priesters (Cohenim) Jesus die Messias verteenwoordig het – hulle was ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias.

Hebreërs / Ivrim {4:13} ” En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. {4:14} TERWYL ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. {4:15} Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”.

Jesus, as die Seun van God (God in die vlees) was heilig en gewyd, omdat, vanweë wíé Hy was, Hy om ons onthalwe en voor God diens moes verrig. Hy is ons Hoëpriester (Cohen Gadol), wat vir óns by die Vader intree.

Getalle is baie belangrik by God. Die Tora is geheel-en–al matematies, in soverre elke Hebreeuse letter met ‘n getal ooreenstem. Die studie hiervan staan bekend as gematria. Dit is egter nie wat ek wil bespreek nie, maar hou tog verband vir ons om vandeesweek se Parasha te verstaan. God het Aäron en sy seuns bevel om vir sewe volle dae by die ingang van die tabernakel te bly. Sewe is God se getal van volmaaktheid – dit is ook die getal van God se rus (Shabbat).

Genesis / Bereshit {2:2} “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”.

Dus is die feit dat Aäron en sy seuns vir sewe dae by die tabernakelingang moes bly, ‘n verdere sinnebeeld van Jesus die Messias. Dit verteenwoordig Jesus as God se volmaaktheid – Hy is ons rus. Wat ook belangrik is, is dat die getal agt, die getal van nuwe begin is. Aäron en sy seuns is nie toegelaat om op die sewende dag met hulle ampsverrigting te begin nie, maar moes tot die agste dag wag, synde ‘n dag van nuwe begin. Die agste dag was die aanvang (begin) van die ingewikkelde stelsel van brandoffers aan God, ten behoewe van die mense. Dit is ook ‘n verdere beeld van Jesus die Messias, wat ons nuwe begin is.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou