Saterdag 29 Desember 2018

Aanmoediging en Gerustelling Deur God

Shemot
(Eksodus)

Eksodus / Shemot {3:11} “Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? {3:12}  En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.”

Ek het dit interessant gevind dat God vir Moses berg Horeb (Berg Sinai) aangedui het as plek van aanbidding en Hy vir Moses na die kinders van Israel gestuur het. So ook die feit dat God Berg Horeb as teken bevestig dat Hy met Moses sal wees. Dit is vreemd aangesien die kinders van Israel nie voor ‘n aansienlike tydverloop eers dáár sou aankom nie. Daarbenewens het God vir Moses oor bonatuurlike geestesgawes laat beskik en Homself bewys om dwarsdeur die Eksodus-proses met hom te wees. Waarom sou aanbidding by Berg Horeb dan enigsins ‘n groter teken wees as die tog deur die Rooi See? Wat was dan so uitsonderlik aan Berg Horeb, dat dit ‘n teken was dat God met Moses sou wees, as die ander tekens wat hy alreeds ontvang het?

Dit is klaarblyklik uit sy teësin om na Egipte terug te keer, dat hierdie voormalige, vreeslose prins inderdaad getemper is gedurende die veertig jaar wat hy in die wildernis van Midian skape opgepas het. Hy het duidelik die politieke aandrif en aktivisme waaroor hy vroeër beskik het, verloor. Dit het alles aan die verlede behoort en hierdie ontmoeting met God op Berg Horeb, het Moses onverhoeds betrap. Gevolglik, lees ons dat hy sê: “Wie is ek, dat ek na die Farao moet gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet lei?”

Moses het homself nie langer as iemand besonders beskou nie en homself beslis nie bevoeg geag om die Farao te konfronteer nie, nog minder om die kinders van Israel uit Egipte te lei.

Ek kan begryp waarom Moses hierdie woorde tot God gerig het. As ‘n prins in Egipte, het hy kontakte gehad, invloedryke persone geken en dus betrekkinge gehad waardeur hy invloed kon uitoefen. Nou, nadat hy vir veertig jaar ‘n skaapherder was, het hy enige kontakte of invloed verloor. Hy was polities vergete.

Wat Moses op dié stadium beleef het, is tot selfs vandag toe nie ongewoon nie. Baie afgetredenes, wat vroeër oor mag en invloed in hul werkplek beskik het, ervaar na jare se aftrede, dieselfde belewenis. Selfs indien hulle onverwags versoek sou word om na hulle werkplek terug te keer en voort te gaan vanwaar hulle opgehou het, sou hulle ongetwyfeld ook skepties gevoel en die werkaanbod van die hand gewys het, ongeag of dit deur God so beskik was.

God het dit klaarblyklik verstaan en met reg ook, want Hy het Moses immers geskep! God het besef dat Moses behoefte aan aanmoediging sou hê om die politieke aktivis in hom weer te laat opvlam. Gevolglik is aan hom tekens gegee van sy staf wat in ‘n slang verander het en sy hand wat met ‘n velsiekte oortrek geraak het. Ten spyte van hierdie tekens, wat moontlik voldoende sou gewees het om meeste mense te oortuig, het Moses nogtans skepties gebly tot op ‘n punt waar God sy broer, Aäron, saam met hom moes stuur, om as sy spreekbuis op te tree.

Ek is egter oortuig daarvan dat God inderdaad met Moses in Egipte was toe hy eindelik daarheen gegaan het; trouens, die wonders wat hy dáár verrig het, bewys dit onteenseglik. Maar, soos ons almal wil weet of ons ‘n opdrag bevredigend uitgevoer het, het God besef dat Moses ‘n teken daartoe nodig gehad het. God se teken van teveredenheid was tweërlei.

Wat Moses moes uitvoer, was hoegenaamd geen maklike taak nie – hy het deurentyd behoefte aan bemoediging en gerusstelling deur God gehad. Nogtans het Moses, ongeag wat alles plaasgevind het, homself nooit as iemand besonders geag nie; trouens, hy het nooit van die “Wie is ek” – gesindheid afgesien nie, wat myns insiens hierdie Skrifgedeelte genoodsaak het.

Numeri / Bamidbar {12:3) “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”

Gevolglik was die eerste rede vir die Berg Horeb-ontmoeting, bedoel om as sy uiterste bemoediging en gerusstelling te dien, dat Gód hom gestuur het. Moses het gegaan van prins tot herder en dit was by Berg Horeb wat hy as’t ware weer ‘n prins geword het – selfs meer as ‘n prins, maar wel ‘n koning, priester en profeet. Tweedens, die verlossing en bevryding van die kinders van Israel het eintlik begin met Moses by Berg Horeb. Watter beter, meer gepaste plek vir die volk Israel om “gebore” te word, as op die Berg Horeb!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-01-08

Saterdag 22 Desember 2018

Messias Seun van Josef / Mashiach ben Yosef

VaYechi
(En Hy Het Gelewe)


Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.{47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29}  En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.”

Met die lees van hierdie verse, het ek iets besonder interessant teëgekom. In die verlede het ek verwys na God se gebruik van die name Israel en Jakob in die beskrywing van een en dieselfde persoon. Soms sou God Isak se seun Jakob noem en andersins Israel. Soos ons bewus is, was dit God wat Sy naam van Jakob na Israel (Genesis 32:28) verander het. Die naam “Jakob” beteken “Uitoorlêer” en Israel, “Prins van God”. Die wisselwerking tussen die name was nie toevallig nie – niks in die Bybel geskied lukraak nie! Die feit is dat God doelbewus die name afgewissel het om tussen die twee geaardhede van dieselfde man te onderskei.

Sy naam Jakob verwys na sy wêreldse natuur, sy ou self, wat dikwels geblyk het in sy omgang met ander mense in die Bybel. Sy naam Israel daarenteen verwys na sy spirituele natuur, oftewel sy nuwe self. Dit is dus op hierdie wyse – so glo ek – dat God die twee name in die bovermelde Skrifgedeeltes gebruik. Kom ons kyk hoedat God dit doen en wat Hy vir ons verduidelik ten opsigte van die afwisseling van die name Jakob en Israel.

Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.”

Hier, glo ek, word ons vertel dat gedurende Jakob se leeftyd, in die tyd wat hy en sy familie in Egipte gewoon het, hulle tog ‘n verhouding met God gehad het. Dat hulle verblyf in Egipte, in die land Gosen was, dui daarop dat hulle afgesonder was, verban in ‘n goddelose materialistiese land. “Wat, ons dus hier sien, is dat die familie steeds in ‘n geestelike, verwante verhouding met God geplaas was, hoewel verban in die materiële fisiese wêreld wat deur Egipte verteenwoordig word.

Genesis / Bereshit {47:28} “En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.”

Ek meen dat twee sake hier aan ons meegedeel word. Eerstens, deur die gebruik van die naam Jakob in hierdie vers, dat die man inderdaad deur die materialisme van Egipte beïnvloed is. Tweedens, deel God ons mee van die fisiese dood van die man en die aantal jare wat sy fisiese liggaam hierdie aarde bewandel het. Die wysgere is van mening dat wanneer die Tora na Jakob se sewentienjarige verblyf in Egipte verwys, dit gegrond was op sy aardse genot en om te breek met die spirituele onrus wat hy tot op daardie tydstip ondervind het.

Genesis / Bereshit {47:29} “En toe die dae van Israel naderkom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie.”

Ek dink dat hierdie gedeelte ons van ‘n magdom inligting voorsien. God wys vir ons daarop dat met die dood van Jakob, ‘n spirituele dood vir die volk sou aanbreek. Dít word bevestig deur die verandering van sy naam na Israel, wanneer na Jakob se dood verwys word.

‘n Verdere interessante waarneming is, naamlik, waarom het Jakob nou juis sy seun Josef laat kom, toe hy besef het dat die tyd van sy dood naby was? Was sy ander elf seuns dan nie by hom nie? Kon hy nie een van hulle geroep het nie? Daarbenewens, was Juda op daardie tydstip eintlik die familiehoof en nie Josef nie.

Ek meen die antwoord lê eintlik opgesluit in die feit dat Josef dwarsdeur hierdie verhaal, ‘n voorstelling van Jesus is. In essensie, kyk ons in die toekoms in. Jakob versoek Jesus om te belowe dat Hy die spirituele verhouding tussen die volk en God sal herstel en hulle in die Beloofde Land vestig.

Ons weet dat, na Jakob se dood, die volk vir meer as tweehonderd jaar in slawerny in Egipte verkeer het. Gedurende daardie tyd, het hulle alle begrip van hulle verhouding met die God van hemel en aarde verloor en gevolglik die gewoontes en praktyke van die Egiptenare aangeneem. Ongelukkig, leef die grootste gedeelte van die volk Israel tot vandag toe, steeds in ballingskap en spirituele duisternis. Binnekort sal Jesus kom, hulle verhouding met hul God herstel en hulle laat terugkeer na die Land van die Belofte.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-01-01

Saterdag 15 Desember 2018

Vergewe en Word Vergewe

VaYigash
(En Hy Het Nadergekom)


Genesis / Bereshit {44:30} “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie—terwyl sy siel innig aan hom verkleef is— {44:31}  sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32}  Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33}  Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34}  Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!”

Dit het veel van Juda vereis om uiteindelik te bely en verantwoordelikheid vir wat hy gedoen het, te aanvaar. Ja, hy bely nie spesifiek sý sonde en dié van sy broers nie, maar deurdat hy die blaam op homself geneem het om sy broer Benjamin te red – wat hy nie in Josef se geval gedoen het nie – bewys aan ons dat Juda en sy broers inderdaad berouvol was.

Josef en sy nege broers moes werklik veel verduur het om hierdie punt van belydenis en berou te bereik. Hulle het vir twintig jaar lank met ‘n skuldgevoel geleef. Hulle het terdeë besef dat hulle hul vader bedrieg het deur hom te laat glo dat Josef dood is – deur ‘n wilde dier verskeur. Daarna was daar die pynlike eerste ontmoeting met Josef, waar hy hulle herken het, maar hulle nie vir hóm nie. Josef het hulle deur ‘n ontsettende moeilike tyd laat gaan. Soos ons bewus is, het hy hulle getoets deur ‘n dreigement om hulle almal te laat arresteer vir spioenasie. Eindelik het hy slegs vir Simeon in die gevangenis laat agterbly, terwyl hy daarop aangedring het dat sy broers met Benjamin terugkeer as bewys dat hulle nie spioene was nie. Dit was vir hulle ‘n uiterste beproewing. Toe hulle onderweg terug, boonop die geld wat hulle vir die graan aan Josef betaal het, in hul sakke ontdek, kan ek myself net voorstel hoedat hierdie manne moes gevoel het. Hulle stresvlak moes onbeskryflik hoog gewees het!

Hier, met een broer in die gevangenis, die geld wat hulle betaal het in hul sakke, wat hulle soos diewe laat lyk het en die blote gedagte om na hierdie magtige, onvriendelike Egiptiese heerser met hul broer Benjamin terug te keer, moes ongetwyfeld geweldig stresvol vir hulle gewees het. Boonop, die feit dat hulle vader, Jakob, geweier het om Benjamin saam met hulle na Egipte te laat teruggaan. Toe Jakob uiteindelik toestemming verleen het om Benjamin te laat gaan, het hy dit gedoen deur verdere skuldgevoelens op sy oorblywende seuns te laai. Dit het ook nie dáár vir hulle geëindig nie! Met hulle terugkeer na Egipte, het Josef steeds druk op sy broers uitgeoefen. Ek is oortuig daarvan dat onbeskryflike vrees hul harte beetgepak het toe die onderkoning se drinkbeker, met hul terugtog, in Benjamin se sak ontdek is!

Kan jy jouself dit alles indink? Probeer om jouself in hierdie verhaal voor te stel – dink net hoedat jy sou gevoel het! Kan jy jouself voorstel onder soveel druk en vrees, wat hierdie berouvolle broers moes verduur?

Dit is onteenseglik duidelik dat Josef doelbewus besig was om sy broers deur al hierdie stres te laat gaan. Dit was immers hy wat hulle herken het en indien hy wou, kon hy homself tydens hul eerste ontmoeting reeds aan hulle bekendgestel het. Die feit is egter dat hierdie hele episode, van begin tot einde, die beskikking van God was. Hy was besig om hulle te bring tot erkenning van hulle sonde en hulle te beweeg van skuld na belydenis na berou.

Baie van ons voel skuldig oor ons sondes, maar dring daardie skuldgevoel ons enigsins daartoe om dit te bely en berou daaroor te hê, of “begrawe” ons dit doodeenvoudig, net soos Josef se broers en gee voor dat dit nie bestaan nie? Gaan ons ook maar aan met ons lewens asof niks gebeur het nie?
Ek vertrou dat jy hierdie volle verhaal as ‘n beeld, ‘n prent van Jesus en Sy broers – die Joodse volk – sal beskou. Wat ek egter wil hê waarna ons vandag moet kyk, is die eenvoudige betekenis in hierdie verhaal vervat en die les wat ons daaruit kan leer.

God het Josef se broers tot die uiterste beproef sodat hulle uiteindelik hul skuld bely en berou gehad het. Vir twintig jaar lank het hulle dié skuld binne-in hulle gedra en ek is oortuig dat dit vir hulle veel leed, lyding en selfs siekte meegebring het – om nie eers van die gevolglike gespanne verhouding onderling asook met hulle vader te praat nie. Hoe kon hulle hom ooit weer eerlik in die oë kyk ná wat hulle gedoen het?

Dink vir ‘n oomblik na oor jou lewe. Het jy die afgelope jare angs, leed en lyding verduur? Voel dit vir jou asof jy, ten spyte van die teëspoed, geen voorspoed ooit sou beleef nie? Is daar enige skuldgevoel wat jy in jou onderbewussyn weggebêre het, wat moontlik tot jou angs en selfs siekte aanleiding kan gee? Miskien is dit ‘n bestiering van God dat Hy jou tot erkenning van jou skuld, belydenis en berou wil bring. Meen jy dat jy God kan uitoorlê en Hy jou eindelik in vrede sal laat? Hy sal beslis nie! Wees verseker dat Hy die druk op jou sal handhaaf, jou uit die één beproewing in die ander laat beland totdat jy óf bely en berou het óf in jou sonde sterf. Indien jy egter verkies om God te trotseer en in jou sonde te sterf, onthou die hel is ‘n werklikheid!

Markus / Mordechai {9:43} “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, {9:44}  waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:45}  En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, {9:46}  waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:47}  En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, {9:48}  waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.”

Aanvaar Jesus as jou Here en Redder. Toon nóú berou en waarborg sodoende vir jou ‘n plek by Hom in die hiernamaals.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-12-26

Saterdag 08 Desember 2018

Wat Verraai Jou Hart?

Miketz
(Aan Die Einde) 

Vandeesweek se Parasha begin met die farao van Egipte wat twee drome gedroom het wat onmoontlik was om uit te lê.

Genesis / BeReshit {41:9} “Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.”

Ek het al dikwels gewonder watter verskil daar tussen die hoofbakker en hoofskinker was. Waarom is die hoofbakker gehang, terwyl die hoofskinker, wat skynbaar ook die koning aanstoot gegee het, summier in sy vorige amp heraangestel is? Watter verskil was daar tussen dié twee? Was die één se oortreding van meer ernstige aard as die ander een s’n? Ofskoon dit nie vermeld word nie, weet ons slegs op grond van die hoofskinker se verduideliking, dat albei in die gevangenis beland het.

Het jy al agtergekom dat ‘n mens iemand se karakter kan beoordeel deur dit wat hy / sy sê –kleinighede wat uit iemand se mond kom? Dit mag iets onbelangrik wees wat onskuldig in ‘n gesprek gesê word, maar gee nietemin vir jou ‘n aanduiding of selfs geringe insig van wat werklik in die persoon se hart aangaan.

Markus / Mordechai {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21}  Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22}  diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23}  Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”

Ek het al geleer om my ore in te stel op die subtiele, soms snedige, aanmerkings afkomstig van mense hier by Gemeente Melech Yisrael – dit gee vir ‘n mens insig in hul persoonlikhede, karakters en belangriker nog, hulle verhouding met God. Meeste van ons besef dikwels nie eers wat ons regtig sê terwyl ons voortbabbel nie, maar die geoefende oor kan altyd hόόr wat uit die spreker se hart kom.

Die hoofskinker se geheue was moontlik swak; hy moes, met sy ontslag uit die gevangenis, aan Josef gedink het, maar die vyf woorde wat hy tot die farao gespreek het, gee nietemin vir ons insig in sy hart. Ek glo dat wat die hoofskinker sê, boekdele oor sy karakter gespreek het en moontlik op die verskil tussen hom en die hoofbakker lig werp. Sy woorde was: “Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring”.

Die hoofskinker het sekerlik nie nodig gehad om sy sin só te stel nie. Hy kon die Farao probeer beïndruk en homself in ‘n gunstige lig gestel het deur bloot te sê: “Ek ken iemand wat u droom kan uitlê”, maar hy het nie. In plaas daarvan, het hy gedoen wat reg was en voor die Farao en God vir sy sonde verskoning aangebied. Hy het bely hy het verkeerd opgetree en daardeur vir Josef benadeel het deur nie eerder van hom te onthou nie; trouens, twee jaar het intussen verloop na sy gevangenis-straf.

Hy was immers ‘n goeie man. Ja, sy geheue was moontlik wel swak, maar hy het nie net aan homself gedink nie, was nie self-verheerlikend, selfsugtig en selfgesentreerd nie: eienskappe waaroor die hoofbakker oënskynlik beskik het. Ek besef dat ek nou eintlik spekuleer, maar daar móés ‘n verskil tussen hierdie twee manne gewees het en te oordeel aan die berouvolle hart van die hoofskinker, kan ‘n mens net dink dat die hoofbakker se hart nie dieselfde was nie.

Wat kom uit jou hart te voorskyn? Kan jy met die hoofskinker of hoofbakker vereenselwig word? Dit is uiters belangrik dat jy dit wéét, want jou lewe mag eendag daarvan afhang…

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-12-18

Saterdag 01 Desember 2018

Afguns is Net So Erg as Sheol (hel)

Vayeshev
(En Hy Het Geskik)


Ons het die verhaal van Josef behandel en ook die geestelike aspekte en implikasies daarvan bestudeer. Dit is egter nie wat ek vandag weer wil doen nie: Ons gaan ‘n eenvoudige, werklike lewensbeskouing doen van wat eintlik tussen Josef en sy broers aan die gang was. Ek volg hierdie benadering omdat God in die natuurlike omstandighede te werk gaan. Hy werk met eenvoudige mense, wat van dag tot dag leef, besluite neem en keuses uitoefen, wat Hy uiteindelik vir Sy doel en heerlikheid aanwend.

Genesis / Bereshit {37:3} “En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. {37:4} Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie. {37:8} Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.  {37:19} En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!  {37:20} Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.”

Ek moet erken dat wedywering tussen broers en susters vir my hoegenaamd nie vreemd is nie. Om groot te word saam met twee broers en ‘n suster, was beslis nie sonder onderlinge woede-uitbarstings, gespot, bakleiery en natuurlik afguns nie. Wanneer ek oor my gesinslewe terugkyk, reken ek dat ‘n mens kan sê dat ek as’t ware met Josef vergelyk kan word. As oudste seun, het my vader my ‘n bietjie voorgetrek en ek is oortuig dat juis dít my by my broers en suster in onguns gebring het. Ofskoon hulle my nooit dood gewens het nie, is ek oortuig dat dit nietemin tot die spanning tussen ons bygedra en onvermydelike afguns aangemoedig het.

Josef se broers was net eenvoudig afgunstig op hom en kyk, waartoe hulle jaloesie hulle gedryf het: moord! Hierdie geval was egter nie die enigste Bybelse karakters wat afguns geopenbaar het nie. Kaïn was jaloers op Abel; Sara was afgunstig op Hagar; Saul was jaloers op Dawid en Joab op Abner. Waartoe het hulle afguns hulle gedrywe? Kaïn het Abel vermoor, Sara het Hagar weggejaag, Saul het Dawid vervolg en Joab het Abner om die lewe gebring.

Mense kan om baie verskillende redes afgunstig wees: byvoorbeeld voorkoms, geld, vriende, dinge soos klere, elektronika, begunstiging, werk, salaris, huise, motors, gesinne, vakansies, status ensomeer. Afguns is destruktief vir sowel die persoon wat afgunstig is as die één op wie die afguns gemik is. Afguns is ‘n laakbare menslike emosie.

Spreuke / Mishlei {6:34} “want jaloersheid is ‘n toorngloed in ‘n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;”

Spreuke / Mishlei {27:4} “Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?”

Hooglied / Shir“HaShirim {8:6} “Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die HERE.”

Afguns is ‘n sonde en kan aanleiding gee tot woede, wraak en selfs die dood. Behoort ons dus nie iets uit ons Parasha oor Josef en sy broers te leer en in plaas van afgunstig te wees, begin om vergenoegd te wees nie?

1 Korithiërs / Korentim Alef {7:17} “Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.”

My opregte gebed vir elkeen wat hierdie kommentaar lees, is om die volgende verse uit Spreuke op te sê en dit jou persoonike gebed te maak:

Spreuke / Mishlei {30:7} “Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: {30:8} Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; {30:9}  dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-12-11