Saterdag 24 November 2018

Bejeën Alle Mense As Merkwaardig

VaYislach
(En Hy Het Gestuur) 


Genesis / Bereshit {32:3} “En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, {32:4}  en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; {32:5}  en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë.”

Ek dink ons is besig om effens meer insig te verkry in Jakob se karakter, geestesgesteldheid en waar sy prioriteite gelê het. Skynbaar is Jakob deur welvaart beïndruk anders sou hy nooit sy broer probeer beïndruk het met sy rykdom nie. Hy het baie gemanipuleer om sy welvaart te bekom en nou sien ons waarin dit hom laat beland het; hy verkeer onder die indruk dat welvaart invloed meebring en dit mens uit die moelikheid kan “koop”. Hy reken dat welgesteldes anders as behoeftiges behandel word. Dit is dus geen wonder dat God hom ietwat verneder om sy heup aan te tas nie! Om deur welvaart en welgesteldes beïndruk te word, is ‘n strik wat deur gelowiges in Jesus die Messias teen alle koste vermy moet word. Mense – veral ongelowiges – kan maklik deur die invloed van geld verlei word. Daar heers ‘n natuurlike neiging in ons wêreldse samelewing om welvarendes meer respekvol en eerbiedig te behandel as iemand uit ‘n gemiddelde inkomstegroep of ‘n minderbevoorregte persoon. In ‘n sekere opsig kan ‘n mens verstaan waarom: Kyk maar na die dagblaaie waarin die mistiek van die rykes en vernames beskrywe word. Wie word deur hulle verheerlik? Gewis nie armes en onbekendes nie!

Die waarheid is egter dat rykes ook maar net mense is! Slegs geld onderskei ‘n ryke van armoede. Ek het al baie aangename rykes ontmoet maar ongelukkig ook minder aangenames. Terloops, ek het ook aangename en onaangename arm mense ontmoet. Omdat mense ryk is, maak dit hulle geensins besonders nie en dus moet ons hulle hoegenaamd ook nie met voorkeur behandel nie. Elke mens met wie ons in aanraking kom, behoort met dieselfde respek, eerbied en waardigheid bejëen te word.

Ongelukkig is dit in baie van God se gemeentes nie die geval nie. Die meer welgesteldes geniet voorkeur behandeling, hoofsaaklik omdat hulle groter bydraers is. Juis om hierdie rede vermy my eggenote en ek om betrokke te raak by wat mense bydra. Volgens statistieke, wat ek al gelees het, bestaan die meerderheid bydraes om gemeentes te ondersteun grootliks uit klein bedrae en nie noodwendig groot bedrae nie – persentasie-gewys 20/80.

Jakobus / Ya’acov {2:2} “Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; {2:3}  en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— {2:4}  het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie”

Begunstiging van welgesteldes kom ook neer op begerigheid. Om te begeer is ‘n sonde, wat in die tien gebooie verbied word. Daarbenewens blyk welvaart ook ‘n verhindering te wees, wanneer dit op geestelike aangeleenthede neerkom, soos in die volgende Skrifgedeelte uiteengesit:

Matthéüs / Mattityahu {19:23} “En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. {19:24}  En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”

Lukas / Uri {1:53} “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.”

Lukas / Uri {6:24} “Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.”

Lukas / Uri {18:22} “En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou—verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. {18:23}  Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.”

Ek vertrou dat ek my standpunt gestel het en indien jy dit nog nie toepas nie, dat jy van vandag af alle mense – ongeag hul finansiële status – as gelykwaardig sal bejeën. Jy mag nie begeer nie!!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-12-04

Saterdag 17 November 2018

Onkunde Met Betrekking Tot Die Wet, Is Geen Verskoning Nie

Vayetze
(En Hy Het Uitgegaan)

Genesis / Bereshit 28:10 – 32:2

Genesis / Bereshit {29:22} “Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. {29:23}  Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. {29:24}  En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. {29:25}  En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? {29:26}  En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. {29:27}  Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring.”

Nadat ek hierdie gedeelte gelees het, is ek oortuig daarvan dat jy dink Jakob (Ya’akov) het ontvang wat hy verdien het. Hy was ‘n bedrieër en het presies dieselfde beleef: Hy is bedrieg. Dit is skynbaar die standaardvertolking van hierdie Skrifgedeelte en inaggenome sy karakter en persoonlikheid, skyn dit geldig te wees.

Die vraag ontstaan egter: Het Laban (Lavan) Jakob doelbewus probeer kul of bedrieg? Ek glo nie dat dit werklik sy bedoeling was nie. Hierdie sienswyse laat my moontlik verskil van elke ander kommentator, of ten minste dié waarvan ek bewus is.

Genesis / Bereshit {29:25} “En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?”

In die voorafgaande gedeelte, sien ‘n mens Jakob vir wat hy inderwaarheid was. Bedrieërs meen altyd dat ander mense hulle probeer bedrieg. Dieselfde geld ten opsigte van leuenaars: Hulle dink altyd dat hulle belieg word en vertrou gevolglik niemand nie. Jakob wás ‘n bedrieër en toe hy dus vir Lea as vrou ontvang, het hy ongetwyfeld dadelik vermoed dat Laban hom bedrieg het. Ek glo egter nie dat dit die geval was nie – Laban se antwoord laat my tot hierdie gevolgtrekking kom.

Genesis / Bereshit {29:26} “En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie.”

Dit was dus die gebruik van daardie gebied – en één wat lank reeds gegeld het – dat ouer dogters altyd vóór die jongeres moes trou. Dit was nie ‘n ongewone gebruik onder die nabye Oosterse volkere in die tyd van Jakob nie. ‘n Mens kan nou redeneer dat Laban vir Jakob vooraf moes gesê het dat hy éérs met Lea moes trou voordat hy Ragel as vrou kon ontvang. Laban was egter onder geen verpligting om dit vir Jakob te sê nie, want laasgenoemde moes van dié gebruik bewus gewees het.

Een jaar, terwyl my vrou en ek ‘n gehuurde motor in Israel bestuur het, is ons deur die polisie afgetrek omdat my hoofligte nie aangeskakel was nie. Dit was gedurende November en volgens wet, moes alle voertuie op die hoofweg, tussen November en Maart, se hoofligte aangeskakel wees. As toeris, was ek nie bewus van hierdie wet nie. Aangesien die hoofligte van alle voertuie in Kanada, outomaties brand wanneer ‘n voertuig aangeskakel word, het ek vanselfsprekend nagelaat om dit in Israel te doen.

Ofskoon die polisiebeampte begrip gehad het vir die feit dat ek ‘n toeris was, is ek genadiglik nie beboet nie en kon ons ons reis voortsit. Ek was natuurlik erg ontevrede met die betrokke motorverhuringsagentskap, wat volgens my mening, nagelaat het om my oor hierdie padreël in te lig. Ek het my voorgeneem om my ontevredenheid teenoor hulle te lug wanneer ek die voertuig terugbesorg.

Daarna het ek besef dat dit eintlik nie die verhuringsagentskap se skuld was nie. Ja, hulle móés my seker van die betrokke hoofweg-padreël verwittig het, maar dan sou hulle my oor talle ander bestuurdersreëls, regulasies en wette, wat in Israel geld, moes ingelig het. Nee, dit was níe hulle plig nie! Ek het ‘n voertuig in ‘n vreemde land gehuur en dit was immers mý verantwoordelikheid om, voordat ons uit Kanada vertrek het, my van die wette en reëls te vergewis, sodat ek dit nie sou oortree nie. In Kanada en om dieselfde rede, in elke land van die wêreld, is onkunde van die wet, geen geldige verweer nie.

Moontlik was Jakob nie afkomstig van dieselfde streek as sy oom Laban nie, maar hy was nogtans ‘n Midde-Oosterling en moes dus van die gebruike aldaar bewus gewees het. Onkunde met betrekking tot die wet, is geen verontskuldiging nie! Jakob is nie bedrieg nie; die bedrieër het homself bedrieg.

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2011-11-25


Saterdag 10 November 2018

Geestelike Geaardhede – Goed en Kwaad

Toldot
(Geslagte) 


Genesis / Bereshit {25:21} “En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. {25:22} En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. {25:23} En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. {25:24} En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. {25:25} En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. {25:26} En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.”

Ek vind dit baie interessant dat God ons meedeel dat toe Esau (Esav) gebore is, hy heeltemal rooierig (en harig) was. Die rede hiervoor is dat die satan nog altyd voorgestel word as geheel-en-al in rooi geklee. Verstrek God dan aan ons, in die verhaal van Isak en Esau, ‘n beeld van die stryd tussen goed en kwaad, lig en duisternis, die gees en die vlees?

Daar het ‘n hewige stryd in Rebekka (Rivkah) se skoot plaasgevind en sy was nie daarvan bewus nie. Nadat die kinders egter gebore is op grond van Rebekka se optrede, soos verder aan in hierdie Parasha beskrywe – wil dit voorkom asof sy van die geestelike aard van die stryd tussen hierdie twee seuns bewus geraak het.

Ofskoon Jakob (Ya’acov) en Esau (Esav) ‘n tweeling was, kon dié twee nooit meer uiteenlopend van geaardheid gewees het nie. Esau was die algehele Amerikaanse tipe – wat ons in my jeugjare ‘n “jock” genoem het, terwyl Jakob méér, wat ons sou genoem het, ‘n “nerd” was. Is dit nie hoe die wêreld ons, as gelowiges in Jesus die Messias, sou beskou nie, dit wil sê as “nerds”, omdat hulle ons nie as “jocks” sien nie? Dit is omdat ons nie volgens wêreldse standaarde leef nie – wat die wêreld van hou, staan ons nie aan nie, ons is anders en heeltemal tereg ook – God verlang dat ons anders móét wees.

Esau en Jakob is presies die teenoorgestelde van mekaar; trouens, hulle is die klassieke voorbeeld van die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige, oftewel dié van die wêreld en dié wat ín die Here is. Esau verteenwoordig alles wat die wêreld aan waarde heg. Hy was iemand vir die buitelewe, ‘n bedrewe jagter, ‘n atletiese tipe mens. Hy het geen begrip van die geestelike dinge gehad of enigsins waarde daaraan geheg nie, wat duidelik geblyk het uit die feit dat sy eersgeboortereg vir hom niks beteken het nie. Jakob, daarenteen, word voorgestel as iemand met ‘n baie hegte verhouding met sy moeder, die ernstige gehoorsame tipe mens; iemand van die gees en nie van die wêreld nie, wat bewys is deurdat God hom uitgekies het as die bloedlyn waaruit die Messias sou kom. Alles waarvoor Jakob gestaan het, het Esau teëgestaan. Het jy opgemerk dat daar in die Skrif hoegenaamd geen aanduiding is dat Jakob ooit vir Esau gehaat het nie? Is dit nie soos wat dit ook nog tot vandag toe met ons gesteld is nie? Die wêreld is besig om al hoe meer teen ons te draai, verafsku ons en die beginsels wat ons handhaaf, maar dit is nie hoe ons teenoor die mense van die wêreld optree nie. Ons wil graag sien dat hulle gered word; derhalwe móét ons hulle liefhê ofskoon ons hoegenaamd nie aan hulle wêreldse strewes deelneem nie.

Die stryd tussen Jakob en Esau mag wel as ‘n fisiese stryd geblyk het maar dit was nie. Dit was ‘n geestelike stryd, tussen goed en kwaad, lig en duisternis, tussen die gees en die vlees – ‘n stryd wat tot vandag toe steeds voortwoed.

Efesiërs / Efesos {6:12} “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

Die dag sal kom en spoedig aanbreek wanneer Jesus die Messias weer sal kom en die duiwel – daardie slang wat die satan is – verslaan, sodat hy vir eenduisend jaar gebind sal wees.

Openbaring / Hitgalut {20:2} “En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, {20:3} en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-11-20

Saterdag 03 November 2018

Ontvang Niks vir Niks

Chayei Sarah
(Sara Het Gelewe)


Genesis / Bereshit {23:7 – 23:13} “Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het; {23:8}  en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ‘n goeie woord by Efron, die seun van Sohar, {23:9}  dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ‘n graf onder julle mag besit. {23:10}  En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet, vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van sy stad ingegaan het: {23:11}  Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit aan u; begraaf u dode. {23:12}  Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig {23:13}  en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan, dat ek my dode daar kan begrawe.”

Ons almal het sekerlik al die gesegde gehoor: “Jy kry niks vir niks nie”, en skynbaar was Abraham vertroud met hierdie spreekwoord. Hy het dus deeglik besef dat alles teen ‘n prys verkry word. Ek meen dat dit juis om hierdie rede was dat hy by Efron daarop aangedring het om te betaal vir die grond waar hy sy vrou kon begrawe. Soos ons bewus is, was dit nie die eerste keer wat Abraham iets vir niks geweier het nie:

Genesis {14:21} “En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. {14:22}  Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, {14:23}  dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak. {14:24}  Niks vir my nie! Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.”

In hierdie geval het Abraham, soos hy toe bekendgestaan het, werklik verdien wat hom toegekom het, nadat hy geveg en dit as buit verkry het. Selfs in daardie geval, het hy niks vir niks verlang nie. Dit is ‘n baie goeie beginsel waarna ons almal behoort te strewe. Daar is inderdaad niks vir niks nie!

Efésiërs / Efesos {2:8} “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; {2:9}  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Ons almal besef dat verlossing ‘n vrye gawe is. Maar is daar voorwaardes aan verbonde? Kan die “niks vir niks” – beginsel ook op verlossing toegepas word? Ja, inderdaad kan dit gedoen word! Bekering is die eerste – en vernaamste stap wat van ons vereis word in die verhouding met God, maar dit eindig geensins dáár nie. Die apostel Paulus deel ons soos volg mee:

Fillipense / Pilifim {2:12} “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”

Daar is ‘n aantal vereistes, nadat ons die vrye gawe van verlossing van God ontvang het – onder andere om aan die self (eie-ek) te sterf en die juk van Jesus die Messias op te neem. Indien ons ooit daarin wil slag om met eerbied en ontsag ons verlossing uit te werk, dan is die sterwe van die self (eie-ek) absoluut noodsaaklik. Die sterwe van die eie-ek behels dat ons, ons behoeftes en vleeslike begeertes opsy skuif en ons lewens uitsluitlik aan Jesus die Messias toewy. Dit sal vanselfsprekend ‘n God-gesentreerde lewe in plaas van selfgesentreerde lewe beteken.

Matthéüs / Mattityahu {11:29} “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; {11:30}  want my juk is sag en my las is lig.”

Wat het Jesus met hierdie verklaring bedoel? Ek glo dat die “Juk”, waarna Hy verwys, Tora is en wel om twee redes. Eerstens, sê Jesus:

Johannes / Yochanan {14:15} “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.”

Soos ons reeds weet, is Jesus die Messias, God in die vlees en as sulks sou Sy gebooie, Tora, wees. Om dit verder aan te vul, het Jesus gesê:

Matthéüs / Mattityahu {22:37} “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. {22:38}  Dit is die eerste en groot gebod. {22:39}  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Deur dít te sê, verwys Jesus na die Tora in geheel. Die eerste gebod, wat Hy gemeld het, dek al die wette van die Tora, wat spesifiek die mens se verhouding tot God dek. Die tweede gebod, waana Hy verwys het, het betrekking op al die Tora-wette betreffende die mens se verhouding tot sy / haar medemens. Hierdie twee gebooie, wat deur Jesus die Messias aan ons gegee is, omvat dus die Tora in geheel.

Die ander rede waarom die “Juk” waarna Jesus verwys, Tora is, kom uit:

Deuteronomium / Devarim {30:10} “as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel. {30:11}  Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12}  Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13}  Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14}  Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.”

Gevolgtrekking: Verlossing as sulks, ofskoon dit ‘n vrye gawe is, behels verantwoordelikhede; ná bekering, word daar van ons verwag om ons verlossing uit te werk en die juk van Tora te aanvaar wat indien behoorlik toegepas, inderdaad ‘n ligte juk is.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-11-19