Saterdag 27 Augustus 2016

Basies Gestel



Ekev 
(As Gevolg van)


Deuteronomium / Devarim 7:12-11:25
Jesaja / Yeshayahu 49:14-51:3
Romeine / Romim 8:31-39

Deuteronomium / Devarim {8:2} "En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan."

Met die lees van hierdie verse uit oordenking Ekev, het my hart werklik uitgegaan na al die mense wat nie meer die gemeente Melech Yisrael bywoon nie omrede hul geloof vernietig is deur beproewing en swaarkry, wat hul ervaar het. Ek is juis besig met 'n geval waar 'n gesin deur 'n tragedie getref is, maar in plaas daarvan dat hulle daardeur nader aan God gekom het, blyk dit dat hulle steeds verder wegbeweeg, wat waarlik te betreur is. Openbaar hierdie tragedie moontlik wat werklik in hul harte aangegaan het? Sommige mense mag my selfs vra hoe ek dit kan sê, hoedat ek so wreed in my oordeel kan wees? Wel , ek kán dit sê omdat dit nie werklik ek is wat dit sê nie, dit is God.

Indien ons wil weet hoe God met ons handel, hoef ons slegs in die Bybel te lees hoedat God met die kinders van Israel handel. In hierdie week se oordenking, sê God dat Hy die kinders van Israel doelbewus in die woestyn ingestuur en toegelaat het dat hulle honger en dors ly, sodat Hy hulle kon verootmoedig om te besef wat in hul harte was. Dis maklik vir mense om God lief te hê, Sy gebooie na te kom, gereeld eredienste by te woon, gemeentediens te verrig, tiendes te gee wanneer hulle voorspoed ervaar en hulle geseën word, of dit nou matig of oorvloedig is.

Hoe hanteer hulle egter hul verhouding met en verbondenheid tot God wanneer teenspoed, tragedie, swaarkry en beproewing oor hulle kom? Wat doen hulle dan, want volgens God is dit die ware bewys van hulle geloof. Dit is soos wat dit in die leër gaan: offisiere weet nooit van watter stoffasie 'n voetsoldaat gemaak is nie totdat hulle in 'n oorlogsituasie verkeer en die vyand moet konfronteer. Daarom is hulle baie besig om die troepe waar te neem en evalueer, om te sien wie is geskik en dié word vertrou en aangewend. Hoeveel te meer onse God!

Hoe dikwels het ek al persone geskakel omdat ek hulle nie by eredienste op die Sabbat gesien het nie, net om te verneem dat hulle tuisgebly het omdat hulle te moeg was na 'n moelike week by die werk of depressief of ietwat ongesteld gevoel het. Sondag was hulle egter uit om inkopies te doen of hul daaglikse huiswerk te verrig en Maandag was hulle terug by die werk asof niks gebeur het nie.

Hoe jammer tog want God het hulle waarskynlik getoets en hulle het hopeloos gefaal. Hy het hierdie dinge soos moegheid, depressie of 'n ligte ongesteldheid oor hulle laat kom om hulle te toets sodat hulle sou weet wat in hul harte aangaan. "Hoe kan 'n liefdevolle God sulke dinge doen?" kan julle moontlik vra. "Sou God werklik iemand in depressie laat verval?" As julle wel glo wat in die Bybel geskryf staan, sou julle nie eers so 'n vraag hoef te vra nie. Ja, Hy sou dit doen , om sodoende te openbaar wat werklik in ons harte is. Indien Hy Israel vir veertig jaar in die woestyn gestuur het en hulle honger en dors laat ly het, waarom sou Hy ons dan nie deur hierdie dinge beproef nie?

God vereis dat ons Hom eerste in ons lewens stel, wat, trouens een van Sy gebooie is, indien nie die vernaamste van almal nie:

Deuteronomium / Devarim {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"

Wanneer iemand God met sy hele hart en siel liefhet, sou hy sy werk vóór Hom stel? Sou hy toelaat dat depressie tussen hom en God kom? Sou hy nie kom en God aanbid, selfs as hy 'n bietjie onwel was nie? Gelowiges in Jesus die Messias is tog maar altyd geneig om God tweede te stel. Hulle stel selfs die motorwerktuigkundige en die televisie-hersteltegnikus voor Hom en verwag dan natuurlik om nogtans geseën te word. Ek het ookal dikwels gehoor dat mense sê hulle hoef nie die eredienste by te woon omdat hulle God netsowel in die privaatheid van hul wonings kan aanbid. Dit is 'n leuen uit die diepte van die hel en sowel diegene wat dit sê as dié wat dit glo, bedrieg hulself. Die Bybel is nie vir individue gegee nie maar wel vir gemeenskap van mense; daarom kon die skrywer van Hebreërs onomwonde sê:

Hebreërs / Ivrim {10:24} "en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom." 

Ek dink ons moet ernstig besef dat ons nie kan wegkom deur dinge op óns manier te doen nie. Ons sal onsself moet bewys, al sou dit met moeilikhede en swaarkry gepaardgaan, sonder om die Here te kompromiteer. Jesus die Messias het dit op die allerbeste so gestel:

Matthéüs / Mattityahu {10:37} "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. {10:39} Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. "

Jesus vertel vir ons presies dieselfde as die verse wat ek aan die begin uit oordenking Ekev aangehaal het, Hy sê dat Hy julle toewyding aan Hom sal toets, selfs deur jul gesinne, om te sien of julle opreg is. Basies gestel, sê Jesus die Messias:

Deuteronomium / Devarim {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"

Is dit wat julle doen?


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-08-08






Saterdag 20 Augustus 2016

Deur Ons



Va'Etchanan 
(En Ek Het Gepleit)


Deuteronomium / Devarim {3:23} "Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon! {3:26} Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.”

Dit was nie vir my nodig om baie ver in ons oordenking vir hierdie week te lees nie, voordat ek iets gevind het om kommentaar oor te lewer; trouens, ons het hierdie einste onderwerp drie weke gelede tydens ons Sabbatoggend Tora-studie behandel. Wat ons bespreek het, was: "Waarom verhoor God soms nie ons gebede nie?"! Waarom is dit dat, indien ons bid vir sake soos die genesing van 'n familielid of 'n baie vroom persoon of ons bid vir die redding van 'n vriend of familielid of enigiets anders ookal, wat ons in verband met die wil van God bring, verhoor God ons nie? In die hernieude Verbond staan daar immers dat wat ons ookal vra, Hy aan ons sal gee.

Johannes / Yochanan {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

Waarom is dit dus so dat in die week se oordenking, Moses God vra om hom toe te laat om in die Beloofde Land in te gaan, maar dit hom geweier word? Sekerlik, soos ons bewus is, het Moses 'n persoonlike verhouding met God gehad - Moses het tog van aangesig tot aangesig met God gespreek. Daarom, eenvoudig gegrond daarop, sou 'n mens verwag het dat sy versoek toegestaan sou word. Nogtans het God geweier.

Baie gelowiges raak moedeloos of verloor selfs hulle geloof, wanneer hulle Johannes 14:13 gelees het, maar hulle gebede nie verhoor word nie. God het egter nooit gesê dat hy al ons gebede sal verhoor nie. Ons moet dus kyk na Jesus se verklaring, binne die konteks waarin Hy gespreek het, voordat ons tot die gevolgtrekking kan kom dat God alles wat ons vra, sal gee. Om daardie konteks beter te begryp, moet ons die volgende lees:

Johannes / Yochanan {14:10} "Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. {14:11} Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. {14:12} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan."

In hierdie gedeelte word ons vertel dat Jesus die werke van die Vader doen omdat die Vader in Hom is en Hy in die Vader. Jesus verklaar dus dat Hy niks op eie inisiatief doen nie. Alles wat Hy doen, word gedoen omdat die Vader in Hom bly. Dan sê Jesus verder dat as ons in Hom glo, sal ons ook die werke doen wat Hy gedoen het - trouens, selfs groter werke as dit. Indien ons in Jesus glo, bly Hy in ons en ons in Hom en op grond daarvan, kan Hy deur ons soortgelyke of groter werke doen, as wat Hy gedoen het. Die konteks van hierdie gedeelte is dus Sy inwoning en deur hierdie inwoning, ons vermoë om "werke" te doen en "selfs groter werke". Dan sê Jesus verder:

Johannes / Yochanan {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

As die onderwerp waaroor Jesus spreek , ons "werke" is, wat die gevolg van Sy inwoning in ons is, dan moet die "wat julle ookal in My Naam mag vra" op daardie onderwerp betrekking hê. Wat bedoel Jesus dus eintlik wanneer Hy sê dat wat ons ookal van Hom bid, Hy aan ons sal gee? As die "wat.....ookal" werke is en die voorbeeld wat Jesus ons gee, is dat Hy niks buiten die wil van Sy Vader se inwoning doen nie, dan moet presies dieselfde ook op ons van toepassing wees. Deur Jesus se inwoning in ons, kan ons niks buiten Hom doen nie. In daardie geval, wat is daar dan wat ons kan vra, wat Hy aan ons sal gee, indien ons niks buiten Hom kan doen nie? Dit is "werke" en "selfs groter werke"! Dit is egter nie net enige soort werke wat Jesus sê Hy aan ons sal gee wanneer in Sy naam daarvoor bid nie, maar spesifieke "werke", soos aan ons gesê word: 

Johannes / Yochanan {13:34} "‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." {14:15} "As julle My liefhet, bewaar My gebooie." {15:12} "Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het." 

Die "werke" is liefde! Soos wat ons in Jesus inwoon en Hy in ons, sal Hy enige tyd wat ons om die vermoë vra om lief te he - of dit vir Hom of iemand anders is - dit aan ons skenk; trouens, Hy sal aan ons so 'n kapasiteit gee om lief te he, dat ons liefde selfs 'n groter uitwerking as Syne op mense sal hê. Dit is natuurlik verstaanbaar wanneer 'n mens begryp dat Jesus nie langer op aarde by ons is nie en onsigbaar is. Die enigste Jesus wat die wêreld vandag duidelik kan sien, is die Een wat deur ons liefhet. 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-08-01







Saterdag 13 Augustus 2016

Leer Dit of Herhaal Dit



Devarim 
(Woorde)


In hierdie oordenking verstrek Moses aan die kinders van Israel 'n opsomming van al hul reise, vandat hulle Egipte verlaat het. Julle sal miskien wonder waarom hy hulle dit alles aan hulle vertel het, waarom hy besonderhede verstrek van elke kronkel, draai en stilhouplek. Die rede, soos ons natuurlik weet, is omdat hierdie 'n nuwe generasie is. Selfs al sou sommige van die mense alles tydens die jare van rondswerwing in die wildernis, ervaar het, was baie van hulle te jonk om dit te onthou. Daar was ook vele wat gedurende die kinders van Israel se omswerwinge in die woestyn, gebore is, met die gevolg dat hulle geen kennis gedra het van wat alles plaasgevind het nie. Hierdie nuwe generasie moes dus alles onthou en weet waarom dit gebeur het, maar die hoofsaak was dat hierdie nuwe generasie kennis moes dra van hul geskiedenis sodat hulle dit nie sou herhaal nie. Ek dink dit is juis daarom dat Moses in sulke besonderhede ingegaan het.

Geskiedenis is geneig om sigself te herhaal wanneer ons nie onthou nie. As ons onthou en verkies om ons geskiedenis nie ernstig op te neem nie, dan sal ons toekoms daaronder ly. Elkeen van ons het geskienisonderrig op skool ontvang. Deur ons geskiedenis te leer, het dit ons kennis van die land waarinn ons woon, verryk. Dit het tot ons patriotisme gelei en sal ons en ons politici hopelik inspireer om nie dieselfde foute van ons voorvaders te begaan nie. Moses wou sekermaak dat hierdie nuwe generasie asook alle toekomstige generasies nooit die eksploitasies, omswerwinge, oorloë en opstande, wat plaasgevind het vandat die kinders van Israel Egipte verlaat het totdat hulle die grens van die Beloofde Land bereik het. 

Deuteronomium / Devarim {1:6} “Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. {1:7} Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus—die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. {1:8} Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle. {1:9} En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. {1:10} Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. {1:11} Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! {1:12} Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? {1:13} Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. {1:14} Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. {1:15} Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. {1:16} En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. {1:17} Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem. {1:18} So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen. {1:19} Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. {1:20} Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. {1:21} Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. {1:22} Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom. {1:23} En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het. {1:24} En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken. {1:25} Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die HERE onse God aan ons sal gee, is goed. {1:26} Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. {1:27} En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.”

Hoe goed het die kinders van Israel hul geskiedenis onthou? Jammerlik, nie goed genoeg nie, want hulle het baie van dieselfde foute as hul voorvaders herhaal. Dit het toekomstige generasies gevolglik in 'n baie soortgelyke situasie as hul voorvaders laat beland. Toe hul voorvaders in opstand teen God gekom het deur te weier om die land Kanaän binne te gaan, het God hulle laat omdraai, die land nie aan hulle gegee nie en hulle veertig jaar lank in die wildernis laat rondswerwe, waar hulle uiteindelik omgekom het. Hierdie nuwe generasie was nou op die punt om die land geskiedenis te leer sodat hulle dit ook aan hul kinders kon oordra. Slegs 'n generasie later, het dit egter geblyk dat die kinders van Israel niks van hul geskiedenis geleer het nie. Hulle het keer op keer teen God in opstand gekom. Hul voorvaders is, as gevolg van húl opstand, nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie en eindelik het God vanweë die nuwe generasie se opstandigheid, hulle uit die land verdrywe.

Tensy ons, ons geskiedenis leer, sal ons dit gewis herhaal. Ek verwys nie hier na ons nasionale geskiedenis nie, maar wel na ons persoonlike geskiedenis! Ons het almal op een of ander tyd in ons lewens teen die Here gerebelleer, waarvoor ons die gevolge gedra het, sommige baie ernstig, ander minder so, maar dit is nietemin gevolge. Ek weet nie van julle nie, maar ek kan sekerlik sommige van die gevolge onthou wat ek in my lewe moes dra oor tye wat ek ook teen die Here opstandig was. Ongelukkig - soos die kinders van Israel in sekere gevalle - het ek ook nie uit my persoonlike geskiedenis geleer nie en dieselfde fout tweemaal begaan, wat tot ernstiger gevolge gelei het. Onnodig om te sê, is ek nou meer bewus van my foute van die verlede en wend elke moontlike poging aan om dit nie te herhaal nie.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:1} “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, {10:2} en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, {10:3} en almal dieselfde geestelike spys geëet het, {10:4} en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. {10:5} Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. {10:6} En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.”

Paulus het die Korinthiërs - en natuurlik ons hier ook - gewaarsku dat alles wat met die kinders van Israel gebeur het, gebeur het om vir ons as voorbeeld te dien. Eenvoudig gestel, sê hy: "As ons nie uit ons geskiedenis leer nie, gaan ons dieselfde foute herhaal!".

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-07-25






Saterdag 06 Augustus 2016

Die Bande van Broederskap



Mattot / Massei 
(Stamme / Reise)

Numeri / BaMidbar 30:2-36:13
Jeremía / Yirmeyahu 1:1-2:28
Handelinge / Ma'asei Talmidim 9:1-22
Jacobus / Ya'acov 4:1-12

Hierdie week se kommentaar sal slegs beperk word tot oordenking Matot, waarin daar drie hoofafdelings is. Die eerste afdeling het betrekking op die wette aangaande beloftes afgelê deur 'n ongetroude vrou wat by die huis woon asook deur getroude vroue. Die tweede afdeling handel oor die kinders van Israel se teenaanval op die Midianiete. Die derde afdeling handel oor die stamme Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse se versoek om hul erfdeel aan die oostekant van die Jordaanrivier te ontvang. Dit is op die laaste afdeling van oordenking Matot-Masei, waarop ek kommentaar gaan lewer.

Numeri / Bamidbar {32:1} “En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was. {32:2} Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê: {32:3} Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon— {32:4 } die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n land vir vee, en u dienaars het vee. {32:5} Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie. {32:6} Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het? {32:8} So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk. {32:9} Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het. {32:10} Daarom het die toorn van die HERE dieselfde dag ontvlam, en Hy het gesweer en gesê: {32:11 Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie— {32:12} behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg. {32:13} En die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die HERE. {32:14} En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ‘n egte kroos van sondige mense, om die toorngloed van die HERE teen Israel nog te vermeerder. {32:15} As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan. “

Ons kan wel verstaan waarom Moses ontevrede was met die stamme van Ruben en Gad. Tot hiertoe het die kinders van Israel as 'n span saamgewerk; hulle het as 'n span rondom die tabernakel laer getrek, as 'n span kamp opgebreek, weer kamp opgeslaan en as 'n span oorlog gevoer. 'n Mens kan jouself indink hoe Moses moes gevoel het toe twee stamme wou wegbreek en die span verlaat. Hy was verpletter! Nie soseer omdat hulle wou wegtrek nie, maar wat die reaksie van God sou wees. Ek dink Moses het verwag dat 'n tweede oortreding teen God oor dieselfde saak as vroeër, die kinders van Israel sou blootstel aan minstens dieselfde straf as voorheen, indien nie erger nie. Vir so 'n iets, is ek seker , was hy beslis nie gereed nie.

Moses het die twee stamme se versoek hanteer soos wat ons twee hokkiespelers se besluit om ons span te verlaat en op hul eie te gaan, net vóór die finale wedstryd om die Stanlettrofee, sou hanteer, veral na al die wedstryde wat ons sou moes wen om tot die finaal deur te dring. Die kinders van Israel was op die grens van Kanaän, gereed en selfversekerd om die Beloofde Land binne te gaan. Hulle het swaargekry en hard geveg om daar te kom. Hierdie nuus kon dus nie op 'n meer ongunstige tydstip gekom het nie. Moses was ontsteld oor die vooruitsig, enersyds oor die verdeling wat dit sou meebring en andersyds die moontlike gevolge van God se kant.

Die voorneme van Ruben en Gad was egter nie om die res van die stamme geheel-en-al te verlaat nie. Hulle wou slegs hul erfdeel oos van die Jordaanrivier in besit neem, daarvan pleks om saam met die res van die kinders van Israel aan die westekant te gaan woon. Hulle sou steeds deel van die span wees en steeds saam met die res van die stamme deelneem aan die inval in Kanaän. Wat 'n verligting moes dit dus nie vir Moses gewees het nie en wat 'n les is dit ook nie vir ons nie.

Ek glo dat God oins hierdeur op die belang van samelewing en spanwerk wys. Moses het besef dat indien hierdie twee stamme sou verkies om op hul eie te gaan, dit die hele gemenskap nadelig sou beïnvloed. 

Numeri / Bamidbar {32:6} “Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het?”

Die gemeente Melech Yisrael, of enige ander gemeente vir daardie rede, wat uit individue saamgestel is, is 'n gemeenskap. Derhalwe moet ons ook funksioneer as 'n gemeenskap en 'n span. Paulus het dit goed gestel in:

1 Korinthiërs / Korintim Alef {12:25} “sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. {12:26} En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. {12:27} Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”

'n Doeltreffende gemeente funksioneer as 'n enkele eenheid, 'n enkele liggaam. Die lede staan deur dik en dun saam, deur voor-en-teëspoed. Niks ontmoedig 'n gemeente-gemeenskap meer as wanneer daar 'n skeuring onstaan nie. Wanneer iemand onverantwoordelik weggaan of verbintenis van die gemeenskap verbreek, benadeel dit nie net die liggaam in geheel (soos die konteks van ons oordenking voorstel!) nie, maar is pynlik en onbybels.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-07-18