Saterdag 26 Junie 2010

Vermy om Vervloek te Word

26 Junie 2010 / Tammuz 14 5770


Balak / Balak (Congregation Melech Yisrael)


Numeri / BaMidbar 19:1 – 25:9

Miga / Mikha 5:6 – 6:8

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 1:20 - 31


Numeri / BaMidbar {22:2} "Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het, {22:3} het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel. {22:4} Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab. {22:5} Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. {22:6} Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek."


Numeri {23:7} "En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel. {23:8} Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?"


Deur die hele parasha, parasha Balak, te lees, verneem ons dat ofskoon die inhalige Bileam sy uiterste bes probeer het, was dit vir hom onmoontlik om die kinders van Israel te vervloek; trouens, volgens vers 8 hierbo, het hy sy onvermoë om te vervloek wat God geseën het, erken. Ek dink dit is 'n les wat elkeen van ons moet te harte neem en verstaan. Die satan is nie in beheer van wie vervloek word of nie vervloek word nie! Vanselfsprekend is God in volkome beheer van wie geseën en wie vervloek word. Dit is 'n feit dat, sonder God se vooraf-goedkeuring, die satan onmagtig is. As julle vir 'n enkele oomblik dink dat iemand te eniger tyd 'n vloek oor 'n wedergebore kind van God kan uitspreek, is julle ongetwyfeld op 'n dwaalspoor! Gedurende die jare wat ek 'n Messiaanse leier was, het ek tot my grootste ontsteltenis, mense teëgekom wat beweer het dat 'n mens vervloek kan word, maar, soos ek gesê het, slegs onder sekere voorwaardes. Wat is daardie voorwaardes? Die eerste en vanselfprekende rede is indien 'n mens nie in Jesus die Messias glo nie en Hom nog nie as jou Here en Redder aangeneem het nie. Die tweede is indien jy wel in Jesus die Messias glo, maar doelbewus of onwetend gesondig het, sonder om dit te berou.


Daar is slegs één van twee kampe waarin 'n mens kan verkeer: óf in God s'n óf in die satan s'n!

Die satan is heerser oor die magte en vorstedom van die aarde, met ander woorde, hy beheer die algehele wêreldstelsel, soos ons dit vandag ken. Juis om hierdie rede is daar soveel boosheid op aarde.


Met die val van die mens, toe Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het sonde die wêreld binnegekom en daardeur die mensdom in slawerny onder die satan, heerser oor sonde, gedompel. God, wat sonde nie kan duld nie, omdat Hy self sondeloos is, het gevolglik die mensdom die rug gekeer en die mens was nie langer onder God se beskerming nie – hulle was vervloek. Die korban (toenaderingsoffer)–stelsel, soos deur God ingestel en in die Boek van Levitikus (Vayikra) uiteengesit, het daardie situasie herstel deur die gebruik van plaasvervangende offerandes. Deur belydenis en berou is iemand se sonde oorgedra op 'n sondelose dier en daardie dier se bloed gestort, in plaas van die sondaar s'n.


Levitikus / YaYikra {17:11} "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."


Hierdie korban-stelsel was 'n skadubeeld van die korban waardeur God uiteindelik Homself voorsien het deur as mens na die aarde toe te kom. Slegs God kon die vereistes van Sy eie wet van sonde wat die dood meebring, vervul deur vir ons te sterf. Wie dit aanvaar en homself vereenselwig met wat God vir óns gedoen het, deur Jesus die Messias as Lam van God, wat ons sondes wegneem, te voorsien, word 'n kind van God en is gevolglik onder Sy beheer en beskerming.


Die kinders van Israel was deur die Korban-stelsel beskerm terwyl hulle op die vlaktes van Moab was. Vir solank as wat hulle in 'n voortdurende ingesteldheid van belydenis en berou verkeer het, was hulle onder God se beskerming en kon hulle dus nie vervloek word nie. Sodra hulle egter die terrein van sonde betree het – soos ons in aanstaande week se parasha sal sien – het God Sy beskerming onttrek en het hulle die gebied van die bose binnegegaan, waar God toegelaat het dat hulle vervloek word. Dit het die dood van duisende tot gevolg gehad. Let gerus op die volgende Skrifgedeelte:


1 Samuel / Shmuel Aleph {18:9} "En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. {18:10} Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ‘n spies in sy hand hou."


Koning Saul was vroeër 'n gelowige en dus onder God se beskerming maar sodra hy begin sondig het, is die beskerming van God onttrek en het hy onder invloed van die satan verval. Die bose gees, waarna in die bovermelde aanhaling verwys word, was egter van God afkomstig! Dit bevestig wat ek reeds gesê het, dat die satan tot niks in staat is, sonder dat God dit toelaat nie. God sal die satan ook nie toelaat om mense wat in Jesus die Messias glo, te vervloek nie, op voorwaarde dat hulle in 'n voortdurende ingesteldheid van belydenis en berou verkeer.


Hoe kan jy vermy om vervloek te word? Neem Jesus die Messias aan as jou Here en Redder, leef dan voortdurend in 'n voortdurende gesindheid van belydenis en berou en word sodoende van 'n sondaar tot 'n heilige omskep.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 19 Junie 2010

Hulle Het Hul Toets Gedruip

19 Junie 2010 / Tammuz 7 5770

Statute / Chukat (Congregation Melech Yisrael)

Numeri / BaMidbar 19:1 – 22:1

Rigters / Shoftim 11:1 – 33

Johannes / Yochana 3:10 - 21

Numeri / BaMidbar {20:1} ”En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe. {20:2} En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom. {20:3} En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het! {20:4} En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe? {20:5} En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.

Kan dit moontlik dieselfde kinders van Israel wees wat, toe Moses hulle aangebied het om die Beloofde Land (‘n land wat vloei van melk en heuning, ‘n land waarvandaan ‘n druiwetros op ‘n paal tussen twee mans gedra moes word) binne te gaan geweier het? Waarom beskuldig hulle Moses en Aäron dan nou dat hulle hul na hierdie plek van verlatenheid gebring het en húlle aanspreeklik hou daarvaar dat hulle in die woestyn verkeer? Hierdie mense het die geleentheid gehad om die goeie en voorspoedige land wat God aan hulle beloof het, binne te gaan maar hulle was opstandig en het geweier om dit te doen. Ja, hulle het die geleentheid verwerp om ‘n oorvloed van vye, druiwe en granate te geniet aangesien ‘n paar negatiewe mense hulle vertel het van die reuse wat die land bewoon het.

As ‘n mens daaroor nadink, het daar in die afgelope vyfduisend jaar nie veel in die Beloofde Land verander nie. Dit is steeds ‘n skrikaanjaende plek want ofskoon Israel die grootste gedeelte daarvan besit, is daar nogtans vyandelike groepe wat nooit verdryf is nie.

Numeri / BaMidbar {33:55} ”Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56} En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.

Hierdie Skrifgedeelte is vandag nog netso ‘n realiteit soos op die dag waarop dit geskryf is. Dié inwoners van die land vertoorn Israel; hulle is vandag ‘n doring in hul vlees en prikkels in hul oë. Israel word tans nog netso omring deur vyande soos duisende jare gelede. Die bedreiging is nie slegs van binne nie maar ook van buite. Die enigste werklike oplossing, wat deur God voorgestel is, naamlik om hulle te verdryf, is vandag ondenkbaar. Dit is slegs moontlik indien Israel met die res van die sekulêre wêreld wil tredhou, wat wel die geval is. Maar God se Woord is waar en ons lees en hoor daagliks, oor en oor, in die media die gevolg van Israel se ongehoorsaamheid.

Wat selfs meer onstellend is, is dat meeste Jode wat in die Diaspora woon – wat in werklikheid méér is as diegene wat tans in die land Israel woon – onwillig is om na Israel te immigreer om redes wat maar alte bekend klink: “Dit is te gevaarlik dáár. Ek wil nie hê my kinders moet weermag toe gaan nie. Die land word omring deur vyandige nasies” ensovoorts. Wat is dit nou eintlik wat hulle sê? Dit is presies dieselfde as wat meer a vyfduisend jaar gelede gesê is: “Ons sal nie ingaan nie omdat daar reuse in die land is!”

Daarbenewens is Israel as ‘n volk uiters sekulêr. Hulle het ‘n vorm van Godsdiens, maar verloën die mag daarvan. Godsdiens is vir meeste Israeli’s bloot ‘n tradisie en allermins ‘n verhouding met hul God.

Rigters / Shoftim {2:21} ”sal Ek ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly het, voor hulle uit verdrywe nie— {2:22} om Israel deur hulle op die proef te stel, of hulle die weg van die HERE sal hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie. {2:23} Daarom het die HERE daardie nasies laat oorbly sonder om hulle dadelik te verdrywe, en hulle nie in die hand van Josua gegee nie.

Ons sal sekerlik saamstem dat die kinders van Israel tot dusver hul toets jammerlik gedruip het!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 12 Junie 2010

Die Erns van Leierskaphoedanigheid

12 Junie 2010 / Sivan 30 5770

Korag / Korach (Congregation Melech Yisrael)

Numeri / BaMidbar 16:1 – 18:32

Jesaja / Yeshayahu 66:1 – 24

Romeine / Romim 13:1 - 7

Numeri / BaMidbar {18:1} ”En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra. {18:2} En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is. {18:3} En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie. {18:4} Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en ‘n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie. {18:5} En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie.

Hierdie gedeelte bevat etlike baie ernstige instruksies! Trouens, so ernstig dat ons myns insiens weer daarna moet kyk.

Numeri / BaMidbar {18:1} ”En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra.

Begryp julle wat dit beteken? Dit beteken dat Aäron en sy seuns aanspreeklik gehou sou word vir alles wat in die tabernakel plaasgevind het. Dit behels dat al die toenaderingsoffers (korbanot) deur die mense gebring, al die voorskrifte betreffende belydenis en berou, en voorskrifte met betrekking tot die bedryf van die tabernakel, alles wat plaasgevind het en verrig is en alles onderrig deur óf Aäron óf sy seuns, selfs aan diegene (Leviete) in sy vader se huis, húl verantwoordelikheid was. Om op te som: indien enigeen van hulle op welke wyse ookal fouteer het, iets verkeerds gesê of gedoen het, hulle selfs teenoor hul vader se huis, aanspreeklik gehou word. Ons het ‘n voorbeeld van wat die gevolge van aanspreeklikheid was toe Nadab en Abihu, seun van Aäron, fouteer en gevolglik gesterf het. Ek weet nie van julle nie maar dit sou my tweemaal laat dink het voordat ek die verantwoordelikheid van ‘n priester sou aanvaar het!

Dit is egter ‘n feit dat hierdie swaar verpligting van aanspreeklikheid tot vandag toe nog op gemeenteleiers rus en ek bedoel nie slegs op die rabbi nie, maar eerder op elkeen in ‘n leierskaphoedanigheid.

Jakobus / Ya’acov {3:1} “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.

Dit klink sekerlik soortgelyk aan wat on sopas hierbo gelees het. Dieselfde swaar aanspreeklikheid wat Aaron en sy gesin opgelê is, word, trouens, in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) uitgebrei na elkeen in ‘n leierskap hoedanigheid.

Ek kan julle verseker dat ek hierdie aanspreeklikheid elke keer terdeë besef wanneer ek iets hier by die Gemeente Melech Yisrael doen. Dit kon moontlik die rede wees dat mense my soms as streng en ontoegewend beleef. Ek beskou dit egter dat, aangesien ek die één is wat aanspreeklik en rekenpligtig gaan wees, ék die één sal wees wat die besluit moet neem. Gevolglik neem ek nooit enige belangrike besluit op my eie nie, maar raadpleeg altyd die ander gemeenteleiers en betrek hulle by besluitneming. Sodoende word die aanspreeklikheid en verantwoording tussen ons verdeel. Ek erken egter dat ek volstaan met dit wat reg en Bybels is. Ongelukkig besef ek en het ek al gewetenlose gemeenteleiers teëgekom wat hul posisies misbruik - ek sidder om te dink aan die gevolge daarvan vir hulle. Oorweeg byvoorbeeld hierdie Skrifgedeelte:

Matthëús / Mattityahu {5:18} “ Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19} Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

Die wet, waarna Jesus verwys, is die Tora. Die kleinste Hebreeuse letter, ook bekend as ‘n tittel of letterstrepie, waarna Hy verwys, is die jod en kotz (doring). Laasgenoemde verwys na die klein “doringagtige puntjie” wat uit ‘n letter uitsteek.

Maar soos ons weet, het die hemel en aarde nog nie vergaan nie en ons besef dat dit nie sal plaasvind tot na afloop van die duisendjarige ryk van die Messias nie.

Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.

Ek vind dit ontstellend wanneer ek daaraan dink dat al die kerke en al die pastore leer en verkondig dat ons nie langer onder die Tora-“Wet” verkeer nie.

Hebréérs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 05 Junie 2010

Maak die Lewe Eenvoudiger

5 Junie 2010 / Sivan 23 5770


Stuur / Shelach (Congregation Melech Yisrael)


Numeri / BaMidbar 13:1-15:41

Joshua / Yehoshua 2:1-24

Hebreërs / Ivrim 3:7-19


Numeri {13:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {13:2} Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen ‘n owerste onder hulle. {13:3} En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE—hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel. {13:4} En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur. {13:5} Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori. {13:6} Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne. {13:7} Van die stam van Issaskar: Jígeal, die seun van Josef. {13:8} Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun. {13:9} Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu. {13:10} Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi. {13:11} Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi. {13:12} Van die stam van Dan: Ammíël, die seun van Gemálli. {13:13} Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael. {13:14} Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi. {13:15} Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi. {13:16} Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; En Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem. {13:17} En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. {13:18} En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; {13:19} en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; {13:20} ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe."


Nadat ek dié Skrifgedeeltes gelees het, was dit vir my duidelik dat God hierdie landverkenningsopdrag eintlik as 'n toets gebruik het. Lees gerus wat ek hiermee bedoel: “...hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is...” ({13:19}).


Sien julle wat was hier besig om te gebeur? God het Moses beveel om 'n owerste uit elke stam te stuur om vas te stel of die land “goed of sleg” was! As dit nie inderdaad 'n toets vir hierdie manne was nie, dan weet ek nie so mooi nie, maar waarom beskou ek dit as 'n toets? Dit was op grond van wat God voorheen aan Moses en die kinders van Israel gesê het alvorens Hy hulle uit Egipte sou verlos.


Eksodus (Shemot) {3:8} “Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete."


Indien God voorheen vir Moses en die kinders van Israel gesê het dat die land wat Hy aan hulle sou gee, 'n land was wat oorloop van melk en heuning, waarom sou Hy hulle dan nou opdrag gee om te gaan en ondersoek in te stel of die land goed of sleg is, indien dit nie 'n toets was nie?


Ek weet nie of julle met my sal saamstem nie, maar vir my is hierdie Skrifgedeeltes werklik 'n bemoediging. God het al soveel “Beloofde Land”-tipe beloftes aan my gemaak, maar ek vind dat ek altyd die “land” eers moet gaan verken. Iemand sal miskien wonder waarvan ek praat, maar vergun my om dit met 'n voorbeeld toe te lig. God spreek deesdae met my om meer openhartig en toegeneë teenoor die Moslems te wees. Hy het dit selfs op my hart gelê om in die moslem-gemeenskap, wat in die nabyheid van ons gemeente geleë is, in te gaan en die Evangelie (Besorah Tova) met hulle te deel. Toe ek egter daar ingegaan het om die gemeenskap te verken, het ek boerkas ('n algeheel bedekkende buitekleed, wat deur sommige Moslemvroue gedra word) gesien, vroue met hoofbedekkings en rokke tot op die grond, mans wat soos Semiete lyk, maar ek kon die haat teenoor my, 'n Jood, duidelik aanvoel. Meestal het ek Moslems gesien wat moontlik vir 'n Christelik-georiënteerde Evangelie ontvanklik kon wees, maar nooit as te nimmer in 'n miljoen jaar 'n Joodse Messias sou aanvaar en volgens Sy wil sou gewandel het nie. Nietemin wéét ek dat God dit op my hart gelê het om na hierdie gemeenskap te probeer uitreik. Nou ja, ek kon òf teruggekeer het met 'n ongunstige verslag òf geweier het om enigiets verder met die Moslems te doen te hê. Ek kon verkies het om te glo en vertrou dat God die wyse om vir die Messias na hierdie Moslem-gemeente uit te reik, sou beskik ten spyte van wat ek gesien en aangevoel het asook ten spyte van die feit dat ons Messiaanse Jode is.


Die feit is dat elkeen van ons betreklik gereeld gekonfronteer word met toetse soortgelyk aan die wat God op die kinders van Israel gelê het. As gelowiges in Jesus die Messias, lees ons God se beloftes in die Bybel en glo ons ook God se beloftes, maar wanneer ons op die proef gestel word om dit uit te voer, gebeur dit soms dat in plaas daarvan om die oorwinning wat die Here ons beloof het, ons slegs die reuse in die land sien!


Die lewe sou vir hierdie geslag van Israel veel eenvoudiger gewees het, as hulle God geglo het toe Hy gesê het dat die land wat Hy aan hulle sou gee, 'n goeie land was. Toe Moses hulle opdrag gegee het om die land te gaan verken, kon hulle slegs geantwoord het: “Moses, dit is onnodig vir ons om te doen, wat y beveel het. God het ons verseker dat dit 'n goeie land is en gesê dat Hy dit as 'n besitting aan ons sal gee. Wat God gespreek het, is goed genoeg vir ons; ons is gereedom die land in besit te gaan neem”.


Die lewe kan en sal ook soveel eenvoudiger vir ons wees, indien ons dieselfde sê en doen.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou