Saterdag 25 Julie 2009

Leer Dit of Herhaal Dit

Woorde / Devarim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


25 Julie 2009 / Av 4th 5769

Deuteronomium / Devarim 1:1-3:22

Jesaja / Yeshayahu 1:1-27

1 Timótheüs / Timoteos Aleph 3:1-7


In hierdie oordenking verstrek Moses aan die kinders van Israel 'n opsomming van al hul reise, vandat hulle Egipte verlaat het. Julle sal miskien wonder waarom hy hulle dit alles aan hulle vertel het, waarom hy besonderhede verstrek van elke kronkel, draai en stilhouplek. Die rede, soos ons natuurlik weet, is omdat hierdie 'n nuwe generasie is. Selfs al sou sommige van die mense alles tydens die jare van rondswerwing in die wildernis, ervaar het, was baie van hulle te jonk om dit te onthou. Daar was ook vele wat gedurende die kinders van Israel se omswerwinge in die woestyn, gebore is, met die gevolg dat hulle geen kennis gedra het van wat alles plaasgevind het nie. Hierdie nuwe generasie moes dus alles onthou en weet waarom dit gebeur het, maar die hoofsaak was dat hierdie nuwe generasie kennis moes dra van hul geskiedenis sodat hulle dit nie sou herhaal nie. Ek dink dit is juis daarom dat Moses in sulke besonderhede ingegaan het.

Geskiedenis is geneig om sigself te herhaal wanneer ons nie onthou nie. As ons onthou en verkies om ons geskiedenis nie ernstig op te neem nie, dan sal ons toekoms daaronder ly. Elkeen van ons het geskienisonderrig op skool ontvang. Deur ons geskiedenis te leer, het dit ons kennis van die land waarinn ons woon, verryk. Dit het tot ons patriotisme gelei en sal ons en ons politici hopelik inspireer om nie dieselfde foute van ons voorvaders te begaan nie. Moses wou sekermaak dat hierdie nuwe generasie asook alle toekomstige generasies nooit die eksploitasies, omswerwinge, oorloë en opstande, wat plaasgevind het vandat die kinders van Israel Egipte verlaat het totdat hulle die grens van die Beloofde Land bereik het.


Deuteronomium / Devarim {1:6} "Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. {1:7} Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus—die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. {1:8} Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle. {1:9} En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. {1:10} Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. {1:11} Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! {1:12} Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? {1:13} Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. {1:14} Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. {1:15} Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. {1:16} En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. {1:17} Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem. {1:18} So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen. {1:19} Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. {1:20} Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. {1:21} Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. {1:22} Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom. {1:23} En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het. {1:24} En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken. {1:25} Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die HERE onse God aan ons sal gee, is goed. {1:26} Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. {1:27} En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg."


Hoe goed het die kinders van Israel hul geskiedenis onthou? Jammerlik, nie goed genoeg nie, want hulle het baie van dieselfde foute as hul voorvaders herhaal. Dit het toekomstige generasies gevolglik in 'n baie soortgelyke situasie as hul voorvaders laat beland. Toe hul voorvaders in opstand teen God gekom het deur te weier om die land Kanaän binne te gaan, het God hulle laat omdraai, die land nie aan hulle gegee nie en hulle veertig jaar lank in die wildernis laat rondswerwe, waar hulle uiteindelik omgekom het. Hierdie nuwe generasie was nou op die punt om die land geskiedenis te leer sodat hulle dit ook aan hul kinders kon oordra. Slegs 'n generasie later, het dit egter geblyk dat die kinders van Israel niks van hul geskiedenis geleer het nie. Hulle het keer op keer teen God in opstand gekom. Hul voorvaders is, as gevolg van húl opstand, nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie en eindelik het God vanweë die nuwe generasie se opstandigheid, hulle uit die land verdrywe.

Tensy ons, ons geskiedenis leer, sal ons dit gewis herhaal. Ek verwys nie hier na ons nasionale geskiedenis nie, maar wel na ons persoonlike geskiedenis! Ons het almal op een of ander tyd in ons lewens teen die Here gerebelleer, waarvoor ons die gevolge gedra het, sommige baie ernstig, ander minder so, maar dit is nietemin gevolge. Ek weet nie van julle nie, maar ek kan sekerlik sommige van die gevolge onthou wat ek in my lewe moes dra oor tye wat ek ook teen die Here opstandig was. Ongelukkig - soos die kinders van Israel in sekere gevalle - het ek ook nie uit my persoonlike geskiedenis geleer nie en dieselfde fout tweemaal begaan, wat tot ernstiger gevolge gelei het. Onnodig om te sê, is ek nou meer bewus van my foute van die verlede en wend elke moontlike poging aan om dit nie te herhaal nie.


1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:1} "Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, {10:2} en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, {10:3} en almal dieselfde geestelike spys geëet het, {10:4} en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. {10:5} Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. {10:6} En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie."


Paulus het die Korinthiërs - en natuurlik ons hier ook - gewaarsku dat alles wat met die kinders van Israel gebeur het, gebeur het om vir ons as voorbeeld te dien. Eenvoudig gestel, sê hy: "As ons nie uit ons geskiedenis leer nie, gaan ons dieselfde foute herhaal!".


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 18 Julie 2009

Die Bande van Broederskap

Stamme - Reise / Matot-Masie | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


18 Julie 2009 / Tammuz 26th 5769

Numeri / BaMidbar 30:2-36:13

Jeremía / Yirmeyahu 1:1-2:28

Handelinge / Ma'asei Talmidim 9:1-22

Jacobus / Ya'acov 4:1-12


Hierdie week se kommentaar sal slegs beperk word tot oordenking Matot, waarin daar drie hoofafdelings is. Die eerste afdeling het betrekking op die wette aangaande beloftes afgelê deur 'n ongetroude vrou wat by die huis woon asook deur getroude vroue. Die tweede afdeling handel oor die kinders van Israel se teenaanval op die Midianiete. Die derde afdeling handel oor die stamme Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse se versoek om hul erfdeel aan die oostekant van die Jordaanrivier te ontvang. Dit is op die laaste afdeling van oordenking Matot-Masei, waarop ek kommentaar gaan lewer.


Numeri / Bamidbar {32:1} "En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was. {32:2} Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê: {32:3} Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon— {32:4 } die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n land vir vee, en u dienaars het vee. {32:5} Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie. {32:6} Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het? {32:8} So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk. {32:9} Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het. {32:10} Daarom het die toorn van die HERE dieselfde dag ontvlam, en Hy het gesweer en gesê: {32:11 Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie— {32:12} behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg. {32:13} En die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die HERE. {32:14} En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ‘n egte kroos van sondige mense, om die toorngloed van die HERE teen Israel nog te vermeerder. {32:15} As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan."


Ons kan wel verstaan waarom Moses ontevrede was met die stamme van Ruben en Gad. Tot hiertoe het die kinders van Israel as 'n span saamgewerk; hulle het as 'n span rondom die tabernakel laer getrek, as 'n span kamp opgebreek, weer kamp opgeslaan en as 'n span oorlog gevoer. 'n Mens kan jouself indink hoe Moses moes gevoel het toe twee stamme wou wegbreek en die span verlaat. Hy was verpletter! Nie soseer omdat hulle wou wegtrek nie, maar wat die reaksie van God sou wees. Ek dink Moses het verwag dat 'n tweede oortreding teen God oor dieselfde saak as vroeër, die kinders van Israel sou blootstel aan minstens dieselfde straf as voorheen, indien nie erger nie. Vir so 'n iets, is ek seker , was hy beslis nie gereed nie.

Moses het die twee stamme se versoek hanteer soos wat ons twee hokkiespelers se besluit om ons span te verlaat en op hul eie te gaan, net vóór die finale wedstryd om die Stanlettrofee, sou hanteer, veral na al die wedstryde wat ons sou moes wen om tot die finaal deur te dring. Die kinders van Israel was op die grens van Kanaän, gereed en selfversekerd om die Beloofde Land binne te gaan. Hulle het swaargekry en hard geveg om daar te kom. Hierdie nuus kon dus nie op 'n meer ongunstige tydstip gekom het nie. Moses was ontsteld oor die vooruitsig, enersyds oor die verdeling wat dit sou meebring en andersyds die moontlike gevolge van God se kant.

Die voorneme van Ruben en Gad was egter nie om die res van die stamme geheel-en-al te verlaat nie. Hulle wou slegs hul erfdeel oos van die Jordaanrivier in besit neem, daarvan pleks om saam met die res van die kinders van Israel aan die westekant te gaan woon. Hulle sou steeds deel van die span wees en steeds saam met die res van die stamme deelneem aan die inval in Kanaän. Wat 'n verligting moes dit dus nie vir Moses gewees het nie en wat 'n les is dit ook nie vir ons nie.

Ek glo dat God oins hierdeur op die belang van samelewing en spanwerk wys. Moses het besef dat indien hierdie twee stamme sou verkies om op hul eie te gaan, dit die hele gemenskap nadelig sou beïnvloed.


Numeri / Bamidbar {32:6} "Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het?"


Die gemeente Melech Yisrael, of enige ander gemeente vir daardie rede, wat uit individue saamgestel is, is 'n gemeenskap. Derhalwe moet ons ook funksioneer as 'n gemeenskap en 'n span. Paulus het dit goed gestel in:


1 Korinthiërs / Korintim Alef {12:25} "sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. {12:26} En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. {12:27} Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik."

'n Doeltreffende gemeente funksioneer as 'n enkele eenheid, 'n enkele liggaam. Die lede staan deur dik en dun saam, deur voor-en-teëspoed. Niks ontmoedig 'n gemeente-gemeenskap meer as wanneer daar 'n skeuring onstaan nie. Wanneer iemand onverantwoordelik weggaan of verbintenis van die gemeenskap verbreek, benadeel dit nie net die liggaam in geheel (soos die konteks van ons oordenking voorstel!) nie, maar is pynlik en onbybels.


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 11 Julie 2009

Geestelike Oorlogvoering


11 Julie 2009 / Tammuz 19th 5769 / July 11th 2009

Pínehas / Pinchas
Númeri / BaMidbar 25:10-30:1
Jeremia / Yermiyahu 1:1-2:3
Johannes / Yochanan 2:13-20

Númeri / Bamidbar {25:10} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:11} Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie. {25:12} Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond, {25:13} en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het. {25:14} En die naam van die Israelitiese man wat verslaan is, wat saam met die Midianitiese vrou verslaan is, was Simri, die seun van Salu, owerste van ‘n familie van die Simeoniete. {25:15} En die naam van die Midianitiese vrou wat verslaan is, was Kosbi, die dogter van Sur. Hy was stamhoof van ‘n familie in Mídian. {25:16} Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:17} Behandel die Midianiete as vyand en verslaan hulle, {25:18} want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is.”

Wie se wet volg ons? As 'n mens daaroor nadink, het Pínehas volgens ons wette, moord gepleeg toe hy twee mense deeurboor het terwyl hulle in 'n tent besig was om ontug te pleeg. Indien elkeen in Kanada of enige westerse land vandag, doodgemaak moes word vanweë ontug, sou die bevolking van die westerse wêreld aansienlik minder gewees het as wat tans die geval is. Pínehas is nie slegs vervolg omdat hy hierdie twee ontugtiges doodgemaak het nie, maar het 'n vredesverdrag ontvang van God. Dit was ten spyte van die feit dat God se Torah ons spesifiek verbied om moord te pleeg. Waarom het Pínehas dan ongestraf daarvan afgekom? Waarom het God hom dan geseën in plaas daarvan om hom te laat doodmaak, volgens die voorgeskrewe straf in die Torah vir moord met voorbedagte rade? Die antwoord daarop, word aan ons deur die Skrif verstrek, soos dit trouens in hierdie oordenking vervat is: "Deurdat hy 'n ywer soos myne onder hulle geopenbaar het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie."
Uit hierdie aanhaling blyk dit dat Pínehas God se werk vir Hom gedoen het! Ek besef dit klink vreemd, maar tog is dit waar.
Wanneer iemand, volgens die Torah, egbreuk pleeg, hou dit nie noodwendig die doodstraf in nie. Wanneer, volgens die Torah, die twee betrokke persone egter ongetroud is, is die man verplig om met die jongmeisie te trou, maar indien die jongmeisie se vader nie die huwelik goedkeur nie, moet die man die huweliksprys aan haar vader betaal.

Eksodus / Shemot {22:16} “As iemand ‘n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop. {22:17} As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.”

Waarom is Pínehas dan deur God verhef in plaas daarvan om volgens die Torah, gestraf te word vir moord op hierdie twee ontugtiges, wanneer ontug nie die doodstraf meebring nie? Beteken dit dat ons, in ons ywer vir die geregtiheid van God, ontugtiges of vrugafdrywers kan doodmaak, sonder straf deur God, of selfs nie die regering nie? Die antwoord daarop is: Hoegenaamd nie!

Kom ons beskou die omstandigheid van hierdie moord effens van naderby, sodat ons beter insig kan hê van wat op daardie tyd aan die gang was. Toe dié moord plaasgevind het, was dit in oorlogstyd. Die Midianiete het 'n aanval geloods op Israel, oftewel 'n geestelike aanslag vanweë hoerery, maar dit was in elkgeval 'n vyandige aanval. Die doel van die Midianitiese aanval, sover ons weet was om die kinders van Israel te laat sondig. hulle het besef dat die beskerming van God daardeur van die kinders van Israel sou wyk en hulle dan verslaan kan word. Dit is presies wat gebeur het, totdat Pínehas tussenbeide getree het. Hy het dus die plaag, wat die kinders van Israel sou uitdun, afgeweer.

Die kinders van Israel het geen geskil met die Medianiete gehad nie omdat hulle hul verbygetrek het op pad na Kanaän. Indien koning Balak hulle met rus gelaat het, sou die kinders van Israel hul tog voortgesit en niemand sou seergekry het nie. Soos ons egter weet, is Balak bedreig deur die kinders van Israel se teenwoordigheid op die vlaktes van Moab - sonder enige rede! Sy gevoel van bedreiging, het Balak gedryf tot 'n tweeledige aanval op Israel. Die eerste aanval was passief en het behels dat Balaam gehuur is om die kinders van Israel te vervloek. Dit op sigself, het God vertoorn. God het toe ingegryp om Israel se onthalwe, sonder enige lewensverlies. Die tweede aanval was egter 'n behoorlike oorlog, toe Balak die hoere ingestuur het. Hierdie aanval het God se woede ontketen, nie slegs omdat Balak homself met die "appel van Sy oog" bemoei het nie, maar ook omdat die kinders van Israel nie bewus was dat hulle aangeval en oorrompel word nie. Hulle was totaal onbewus van wat teen hulle gepleeg word. Dit was egter nie die geval met Pínehas nie; hy het waarskynlik besef dat dit wat plaasvind, nie slegs 'n orgie was nie. Dit was inderdaad 'n geslepe, militêre aanval teen die kinders van Israel, wat wel oor die vermoë beskik het om hulle uit eie geledere te kon vernietig. Tydens 'n oorlog, word drastiese reaksies op drastiese aksies vereis. Pínehas het Israel egter gered; hy was nie 'n moordenaar nie, maar 'n oorlogsheld, aan wie een van God se hoogste ordes toegeken is.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 04 Julie 2009

Voortdurende Besprinkeling

Statute - Balak / Chukat-Balak | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

4 Julie 2009 / Tammuz 12th 5769

Númeri / BaMidbar 19:1-25:9
Miga / Mikhah 5:6-6:8
Johannes / Yochanan 3:10-21
1 Korinthiers / Korintim Aleph 1:20-31

Aangesien ek soveel te sê het oor oordenking Chukat, het ek gedink om slegs kommentaar daaroor te lewer, al het ons vandeesweek 'n dubbele oordenking.

Númeri {19:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. {19:8} Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. {19:9} En ‘n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ‘n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ‘n sondoffer. {19:10} En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ‘n ewige insetting wees. {19:11} Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees.{19:12} Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig—dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie. {19:13} Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees;sy onreinheid is nog aan hom. {19:14} Dit is die wet: As iemand in ‘n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.”

Hierdie hele Skrifgedeelte, wat ek geredigeer het om dit te verkort, handel oor verontreiniging. Die besprinkeling met die mengsel, wat van die rooi koei berei is en die ritueel van die was van 'n mens se liggaam en klere, het alles betrekking op geestelike verontreiniging. Soos ons gelees het, mag geeneen wat onrein is, die laer van die kinders van Israel binnegegaan of in die teenwoordigheid van die Here in die tabernakel of tempel gekom het nie. 'n Onrein persoon moes eers gereinig word alvorens hy kon binnekom en deel van die gemeenskap word. Vandag kan ons, as gelowiges in Jesus die Messias, nog steeds geestelik onrein word. Geestelike verontreiniging het nie met die koms van Jesus die Messias na die wêreld geëindig nie; dit het nie geëindig nadat Hy versoening vir ons bewerkstellig het nie en ook nie na Sy hemelvaart om Sy plek aan die regterhand van die Vader in te neem nie. Ons kan nog steeds geestelik onrein word. Miskien is die toepassing of gevolge van ons geestelike verontreiniging nie dieselfde nie (daar is nie meer 'n tabernakel of tempel nie), maar die gevolge daarvan is beslis nog daar. Geestelike onreinheid skei ons van God. Daardie feit blyk duidelik wanneer ons verstaan dat die rooi-koei ritueel, soos hierbo in die skrif beskrywe, 'n tipe of simbool van die versoenende bloed van Jesus die Messias is, wat figuurlik besprinkel is oor almal wat in Hom glo.

Wanneer die hele gedeelte gelees word, behoort julle die ooreenkoms te sien tussen die besprinkeling van die bloed van die rooi koei oor 'n onrein persoon en die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias oor ons. Let, byvoorbeeld, daarop dat die bloed wat deur die priester gesprinkel is, dié een op wie dit gesprinkel is, gereinig het, terwyl die rein persoon (te wete die priester) wat in aanraking met die mengsel gekom en die besprinkeling gedoen, onrein geword het. Dit is asof die persoon wat die besprinkeling gedoen het, die onreinheid van dié een wat besprinkel is, op homself geneem het. Dit is 'n volkome Torah-beeld van wat Jesus die Messias vir ons gedoen het

Jesaja / Yeshayahu {53:6} “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

Hoe het iemand in die Bybelse tye onrein geraak? Die antwoord is, natuurlik, deur in aanraking te kom met enigiets wat hulle van God geskei het. Wat in die besonder in hierdie oordenking vermeld word, is wanneer iemand in aanraking kom met 'n dooie liggaam of 'n huis binnegaan waarin iemand gesterf het. Volgens die Skrif, was daar egter baie ander maniere om onrein te raak. Hierdie, tesame met dié wat in vandeesweek se oordenking vermeld word, het 'n persoon geestelik onrein gemaak. God is lewe en enigiets verwant aan die dood, kon nie in Sy teenwoordigheid kom nie, Sy fisiese teenwoordigheid, Sy "Shachinah".
Sedert die tyd van die bestaan van die tabernakel dwarsdeur tot in die tyd van die tempel, het God fisies gewoon tussen die engele in die vorm van 'n wolk wat bokant die Genadesetel (Kapparet) in die Heilige van Heiliges (Kadosh Kedushim) verskyn het. Dit was juis om hierdie rede dat iemand wat verontreinig is deur enigiets wat God onrein geag het, nie die laer van die kinders van Israel mag binnegegaan en beslis ook nie die tabernakel nie.

Deuteronomium / Devarim {23:14} “Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.”

Ofskoon ons geestelike onreinheid ons nie verhinder om ons Messiaanse sinagoges binne te gaan of in ons samelweing te woon nie, kan ons onreinheid, indien dit nie deur die bloed van Jesus die Messias besprinkel is nie, ons van God skei; skeiding van God beteken dat Sy beskerming weggeneem word en sodoende sy seëninge. Dit stel ons bloot aan misleiding en die werke van die duiwel.
Wat is die mengsel om vandag ons onreinheid te verwyder? Dit is die bloed van Jesus die Messias oor ons. Hierdie bloed moet egter keer op keer weer gesprinkel word omdat ons weer en weer op soveel wyses verontreinig word. Dit is verkeerd van ons om te dink dat, juis omdat ons gered is, ons nie langer die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias in ons lewens nodig het nie. Inteendeel, dit moet elke keer wat ons hoegenaamd op enige wyse verontreinig word, weer en weer besprinkel word. Nie deur Jesus die Messias opnuut elke keer wat ons ontreinig word, te offer nie, maar deur belydenis, berou en die bloed van Jesus die Messias oor ons lewens te pleit. Dit moet minuut vir minuut en, indien nodig, sekonde vir sekonde 'n besprinkeling wees sodat ons voortdurend in 'n toestand mag bly, wat God se beskerming oor ons lewens verseker.
Jesus die Messias is ons "rooi koei" en belydenis en berou is die wyse waardeur ons met Sy bloed besprinkel word.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved