Lech Lecha
(Gee jý pad)
Genesis / Bereshit {12:1} “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. {12:2} En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. {12:3} En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Waarom sou God van Abram verwag om sy land, sy familie en sy eie ouers te verlaat? Dit klink nie reg of redelik nie. Al wat Abram immers mee vertroud was, was die stad waarin hy gewoon het en die familie en vriende saam met wie hy dáár groot geword het. Hoe kon God van iemand van Abram se ouderdom verwag om alles waaraan hy gewoond was, agter te laat en te trek – nie slegs ‘n blok verder weg of na die anderkant van die stad nie, maar wel na ‘n ander land? In daardie dae was dit hoegenaamd nie so maklik om so rond te trek nie. Gewoonlik is die mense gebore en het hulle naderhand gesterf in dieselfde dorp. Die antwoord daarop is dat God ons uit ‘n omgewing van afgodediens wil verwyder sodat Hy in ons ‘n ware verhouding met Hom, die enige ware God, kan skep.
Dit is geen geheim nie dat die Russies-Ortodokse-, Grieks-Ortodokse- en Katolieke Kerk diep betrokke in die eerbetoon van heiliges is. Indien ons begryp waaruit hierdie praktyk ontstaan het, sal ons moontlik die praktyk in sy regmatige perspektief kan plaas.
Toe keiser Konstantyn van Rome gepoog het om sy verdeelde ryk te verenig, het hy ‘n algemene godsdiens gekies om dit te verwesenlik. Dit was nie ‘n epiphanie wat hom tot geloof gebring het nie; sy lewe het geensins daarvan getuig dat hy tot ‘n reddende kennis van Jesus as die Messias gekom het nie. Konstantyn het gesoek na ‘n oplossing vir ‘n politieke probleem wat sy ryk geteister het en dit het sy houvas daarop toenemend laat verswak.
Die Christelike geloof het binne die Romeinse Ryk reeds in gewildheid begin toeneem. Konstantyn het dus bloot gekies om die Christelike geloof sy amptelike godsdiens van die Ryk te verklaar. Hy moes dit egter aanvaarbaar maak vir die algemene publiek, wat in afgodsaanbidding en die heidendom gedompel was. Om dit te verwesenlik, het Konstantyn die Christelike geloof vir sy eie doeleindes aangepas. In die Romeinse Ryk was baie mense daaraan gewoond om op Sondag die songod te aanbid; Konstantyn het gevolglik die dag van aanbidding, van Saterdag na Sondag gewysig. Verder was hulle daaraan gewoond om die gode van die Wintersonstilstand te verheerlik. Op baie heidense feesdae is die geboorte van hulle gode gevier, met inbegrip van Sol Invictus, wat volgens oorlewering op 25 Desember weergebore is en dikwels voorgestel word met ligstrale vanuit sy hoof (presies soos wat Jesus uitgebeeld is). Konstantyn het gevolglik 25 Desember as die geboortedag van Christus laat verklaar. Hulle was gewoond daaraan om Ishtar, godin van vrugbaarheid te herdenk om en by Paasfees, toe Jesus gesterf het. Konstantyn het die herdenking van Ishtar na Paasfees gewysig en dit met die dood van Christus verbind. Die aanbidding van die jeugdige God, Tammuz, en sy moeder, wat as “Madonna en Kind” bekendgestaan het, is vervang deur “Maria en Jesus”. Daar was egter ‘n verdere probleem wat bygelê moes word en dit was die groot aantal gode wat deur die bevolking aanbid is. Konstantyn moes met ‘n oplossing vir hulle vorendag kom, ten einde ‘n sekere vorm van die veelvuldige gode-aanbiddingspraktyke te behou sonder om ‘n algehele kompromie met die monoteïsme van die Christelike geloof aan te gaan: Gevolglik is die konsep van die heiliges ingestel.
Ek is bewus daarvan dat ek die hele proses vereenvoudig het en dus baie fyner besonderhede uitgelaat het. My doel is egter nie om afgodsdiens te verheerlik òf ‘n volledige verslag van die geskiedenis te verstrek nie, maar wel om God te verheerlik – die God van hemel en aarde, die God van Israel, deur slegs die grondbeginsels en eindresultate van die besluite wat geneem is, kortliks te skets.
Wat is dus die punt wat ek deur die voorafgaande verduidelikings wil maak? Eenvoudig dit: Ek het al talle mense wat aan die kerke hierbo gemeld behoort, sowel as ander mense soos hulle, wat daarop aanspraak maak dat hulle gered en wedergebore gelowiges is, teëgekom. Hulle behoort steeds aan hul onderskeie kerke en aanbid saam met hul kerke, volgens hul onderskeie kerklike tradisies. Indien jy miskien een van hulle is, dan versoek ek jou om die volgende te oorweeg: “As God Abram beveel het om “pad te gee” uit die afgodsomgewing waarin hy hom bevind het, selfs sover gegaan om hom in ‘n ander land in te lei (Onthou: Daar was toe geen telefone of ander elektroniese kommunikasiemiddels soos vandag om met vriende en familie tuis in verbinding te bly nie), sou Hy dan nie begeer dat diegene wat beweer dat hulle wedergebore is, uit hierdie duidelik afgods godsdienste moet weg kom nie?
Die apostel Paulus het hierdie beginsel beslis begryp toe hy geskryf het:
2 Korinthiërs / Korintim Bet {6:14} “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? {6:15} En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? {6:16} Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. {6:17} Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; {6:18} en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-10-16