Saterdag 27 Augustus 2011

Geprogrammeer vir Vervloekings

27 Augustus 2011 / Av 27 5771

Kyk / Re’eh


Deuteronomium {11:26} “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor— {11:27} die seën as julle luister na die gebooie van die HERE julle God wat ek julle vandag beveel; {11:28} en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die HERE julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.“

Ons is almal bekend met die gesegde: “Jy het jou bed gemaak, lê nou daarop!”. Vir die inligting van diegene wat nie met hierdie gesegde vertroud is nie, dit bedoel: “Jy het slegte keuses gemaak en nou moet jy maar die gevolge daarvan ly”. Dit is presies wat God tot die kinders van Israel gespreek het toe Hy aan hulle ‘n keuse tussen seëninge en vervloekings gestel het. Indien hulle die vervloekings gekies het, deur nie Sy gebooie te gehoorsaam nie, sou hulle op dié bed moes lê, wat hulle vir hulself gemaak het.

In die bovermelde Skrifgedeelte kon God net so wel vir óns aangespreek het. Soos on sweet, het Israel meer as dikwels opgeëindig deur die vervloekings in plaas van die seëninge te kies. Ongelukkig doen ons soms dieselfde. Ons is ons eie ergste vyande! Ek het dit al vantevore gesê en sal aanhou om dit te sê totdat Jesus die Messias kom: “Meeste, indien nie al die gevolge wat ons ly, is die regstreekse gevolg van ons eie slegte keuses”. Dit is nie dat ons doelbewus slegte keuses wíl maak nie, maar dit is omdat ons so selfgesentreerd, so selfsugtig, so vasbeslote is om die “goeie lewe” (soos deur die wêreld en die media gedefinieer) te ly, dat ons deur ons vlees gedwing word om verkeerde keuses te maak.

Dit is betreurenswaardig, maar ons almal is gekondisioneer om van jongs af verkeerde keuses te maak. Ek bedoel eintlik dat ons gekondisioneer word om by ons samelewing in te pas. Ons samelewing bepaal die sosiale verwagtings en ons is geneig om ons lewens daardeur te laat regeer. Hierdie proses begin reeds op ‘n baie vroeë ouderdom. Ons gaan skool toe en daar word van ons verwag om daarby te wil inpas. Niemand wil graag ‘n buitestaander wees nie, aangesien buitestaanders gewoonlik ‘n voorwerp van veragting, hoon, bespotting is en geen vriende het nie. Daarom is dit doodnormaal vir ons om gewild te wees of om ten minste by ‘n sekere groep in te skakel. Ons is, trouens, reeds van ons jeug af geprogammeer om aangetrek te word na daardie keuses wat ons deel van die “in-groep” sal maak.

Wat egter vir my so verbasend is, is dat leerders wat in gelowige gesinne grootword of dié wat tuisonderrig ontvang of selfs Christelike skole bywoon, steeds die spel van “probeer inpas”, speel. Hulle word dan ook van jongs af geprogrammeer om dieselfde verkeerde keuses te maak. Dit lyk asof geeneen hiervan vrygestel word nie.

Dit is dus geen wonder nie dat ons dít wat ons sedert ons jeugjare geleer het tot in volwassenheid deurdra! Verkeerde keuses met betrekking tot ons vriende, lewensmaats, mense by die kantoor, by partytjies en by ons plekke van aanbidding, het al tweede natuur by ons geword. Alles word net gedoen om in te pas of te verkry wat ons begeer.

Alleenlik ‘n grondige verhouding van liefde met die Here kan hiedie bose kringloop van verkeerde keuses in ons lewens verbreek. Dit is dan slegs op grond van hierdie soort verhouding wat ons vrees vir die Here die begeerte om ons vlees te bevredig, te bowe kan kom. Wanneer dít plaasvind, begin ons die regte keuses maak. Dit kan egter slegs moontlik wees wanneer ons ‘n verhouding van liefde met die Here kweek.

Jesus die Messias het in ons lewens ingekom en van ons nuwe skepsels gemaak. Daardeur het ons ou gewoontes en die negatiewe programmering tydens ons kinderjare, nie langer ‘n houvas op ons nie. Ons is vrygemaak om te kies wat reg is. Dit beteken egter nie dat jy nie nog steeds ‘n stryd binne-in jou sal ervaar nie, maar jy kan dit oorwin. Om dit te verwesenlik, is dit vir ons nodig om altyd aan die Here getrou te bly, Sy Woord te bestudeer om onsself as beproef te bewys en in Sy lig te wandel – terwyl ons al ons begeertes vermy om toe te gee daaraan om die verkeerde keuses te maak. Skikking lei altyd tot verkeerde keuses en verkeerde keuses tot vervloekings.

Deuteronomium {30:19} “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, {30:20} deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee. “

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 20 Augustus 2011

Verwerpte Voedsel

20 Augustus 2011 / Av 20 5770

Gevolglik / Ekev


Deuteronomium / Devarim {8:1} “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. {8:2} En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. ”

Ek dink baie van julle gaan ongetwyfeld die wenkbroue lig oor wat ek julle nou gaan leer maar dit maak dít, wat ek van plan is om te sê, hoegenaamd nie minder geldig nie. Die verse hierbo aangehaal, is vir my altans, ‘n duidelike bewys dat hierdie les met God se Woord ooreenstem. Daarbenewens het die Heilge Gees hierdie waarheid, wat ek nou met julle gaan deel, vir my op die hart gelê.

Lees asseblief weer die betrokke verse aandagtig deur. Sien julle wat God aangaande die manna sê?

Ek sal dit herhaal:

Deuteronomium / Devarim {8:3} “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.”

Die voorsiening van manna deur God aan die kinders van Israel, was alles deel van die verootmoediging wat hulle moes verduur terwyl hulle in die woestyn rondgeswerf het. Wat kon die manna dan hoegenaamd met verootmoediging as sulks te doen hê? Klaarblyklik het dit veel meer met verootmoediging te doen gehad, anders sou God dit nie vermeld het nie.

Númeri / Bamidbar {11:4} ” En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.”

As kind, het ek geweier om sekere kossoorte te eet, my moeder sou nogtans hierdie maaltye aan ons gesin voorsit, aangesien hulle geen beswaar daarteen gehad het nie, terwyl ek dan net na my bord gestaar en verseg het om te eet. Meeste hedendaagse moeders sal alles in hul vemoë doen om hul kinders te behaag; trouens, ek weet van sommige moeders wat selfs sover gaan om verskillende kossoorte vir elke kind voor te berei, om sodoende hulle afsonderlike voorkeure te bevredig. Beslis nie my moeder nie! Indien ek nie geëet het, wat sy aan my voorgesit het, wanneer die res van die gesin klaar geëet en die tafel afgedek word nie, is my kos verwyder en direk in die asblik gegooi en het ek gevolglik honger van die tafel opgestaan.

Ek is vandag oortuig daarvan dat my moeder beledig moes gevoel het toe ek geweier het om haar kos te eet, maar destyds het dít my min geskeel. Meeste moeders wat so drasties opgetree het, sou dit daarby gelaat het, maar nie my moeder nie! Asof dit nie erg genoeg was nie, het sy dit ‘n stap verder gevoer deur vir my toegang tot die kombuis te belet. Soos wat dit tipies die geval is met broers en susters, was hulle maar alte gewillig om as “wagte” op te tree om te verseker dat ek niks te ete in die hande kry nie. Onnodig om te sê, het dit my uiteindlik laat afsien van my kieskeurigheid en tot vandag toe, eet ek wat se kosjer-voedsel ookal aan my voorgesit word.

Glo dit of nie, maar voedsel kan gebruik word om ons te toets. God het alle eetbare voedsel geskep vir ons om te geniet. Om dus iets te verwerp of weier om te eet (voedsel-allergieë uitgesluit) wat Hy vir ons geskep het om te eet, sou wees soos om Hom te verwerp. Net soos my moeder verwerp gevoel het toe ek geweier het om haar kos te eet, glo ek dat God dit ook so ervaar. Ek weet dit klink baie kras maar hoeveel male het jy ook verwerp gevoel wanneer jy iets gemaak of gekoop het vir iemand, wat reguit vir jou sê dat hy / sy nie daarvan hou nie, dat jy nie jou tyd moes gemors het nie en jy dit behoort terug te neem? Ek sou, trouens, selfs verder gaan om te sê dat jy verwerping sou ervaar, nadat jy aan iemand ‘n geskenk gegee het en later verneem dat dit teruggegee of selfs aan ‘n ander person geskenk is. Indien jy dit alreeds wel ervaar het, sal jy verstaan wat ek bedoel. Terwyl in gedagte gehou word dat Paulus ‘n opmerksame Jood was – wat sou beteken dat voedsel vir hom uitsluitlik dít was wat deur God as eetbaar bepaal is – dan ontstaan die vraag: “Kon dit juis dít gewees het wat Paulus bedoel, toe hy die volgende geskryf het?”

1 Timótheüs (Timoteous Aleph) {4:3} “wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.{4:4} Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie;”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 13 Augustus 2011

Selfs Indien Ons Versuim

13 Augustus 2011 / Av 13 5771

En Ek Het Gesmeek / Va Etchanan



Deuteronomium / Devarim {3:23} “Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!”

Het jy God al ooit gesmeek of gepleit vir iets? Ek is daarvan oortuig dat die meeste van ons dit ook al gedoen het, Oënskynlik is ons in goeie geselskap! Moses het by God gepleit. Ongelukkig was sy pleidooi egter nutteloss omdat God sy versoek nie toegestaan het nie. Dit is vir ons ‘n geringe troos, aangesien Moses, anders as ons, ‘n totaal verskillende verhouding met God gehad het. Hy was bevoorreg om regstreeks met God te kon kommunikeer, in so ’n mate dat hy die hoorbare stem kon verneem toe Hy “NEE” gesê het. God spreek ook tot ons; Hy doen dit egter deur Sy Woord en deur die Heilige Gees (Ruach HaKodesh), by wyse van ‘n sagte klein stemmetjie in ons binneste. Indien ons nie daaraan gehoor gee nie, kan ons niks doen nie as om op Hom te wag en te kyk hoedat sake verloop.

Deuteronomium / Devarim {3:26} “Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.”.

God het al telke male ook vir my “NEE” gesê, met die gevolg dat ek in my verhouding met Hom, tot die besef gekom het om te aanvaar dat Hy die beste weet. Dit beteken hoegenaamd nie dat ek nie teleurgesteld was telkens waneer Sy antwoord “NEE” was nie. Uit die bovermelde tweegesprek blyk dit dat Moses die kinders van Israel verantwoordelik hou vir God se beslissing. Moses was vanselfsprekend teleurgesteld met God se besluit. Is dit nie maar altyd die geval as ons nie óns sin kry nie? Wanneer ons teleurgesteld raak, is ons geneig om ander te blameer. In ‘n sekere opsig is dit egter gerustellend om te besef dat selfs Moses, hierdie indrukwekkende man van God, ook deur dieselfde menslike swakhede geteister is as wat ons almal ervaar.

God was kwaad vir Moses, alhoewel dit nie vanweë die kinders van Israel was nie, maar omdat Moses teen die rots geslaan het vir water, in plaas daarvan om dit aan te spreek, soos wat hy deur God bevel is. Ek weet nie hoeveel keer God vir my “NEE” gesê het omdat Hy vir my kwaad was deurdat ek Sy gebooie (mitzvoth) oortree het nie. Ek is oortuig daarvan dat dit meer male gebeur het as wat ek werklik omgegee hat dat dit plaasvind.

Ongelukkig kan baie van die gevolge (siekte, gebreke, kinderlooshied, opstandige kinders, ongelukke, diefstal en selfs armoede) waaronder ons vandag ly, heel moontlik herlei word na ons eie ongehoorsaamheid aan die Here se gebooie, sowel vóór as ná ons wedergeboorte. Koning Dawid is ‘n Bybelse voorbeeld hiervan; sy lewe illustreer ongetwyfeld my redenasie.

2 Samuel / Shmuel Bet (12:9} “Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. {12:10} En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.”.

Dawid se rebelse seun, Absolom, was maar één van die gevolge wat hy moes verduur vanweë sy ongehoorsaamheid aan die Here. Dit is begryplik dat wanneer God “NEE” sê, ons inderdaad ons ergste vyande is. Moenie mismoedig raak nie, want daar is soveel male wat God wel “JA” sê. Één so’n voorbeeld is koning Hiskia (Hezekia):

2 Konings / Malachim Bet {20:1} “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en Jesaja, die seun van Amos, die profeet, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie. {20:2} Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: {20:3} Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween. {20:4} En Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: {20:5} Draai om en sê vir Hiskía, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE. {20:6} En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assirië red, en ook hierdie stad beskut ter wille van My en My kneg Dawid. ”.

Ten spyte van die feit dat koning Hiskia homself as getrou aan God geag het, was hy in werklikheid nie! Alles in aggenome, is nie een van ons geheel en al getrou nie. Ons troos is egter dat ons verneem dat God sy gebed (pleidooi) verhoor het, sy trane, toe hy biterlik geween, gesien en genade aan hom betoon het.

Wat kan ons uit hierdie voorbeeld leer? Selfs indien ons nie in ons poging slaag om volkome God se gebooie te eerbiedig nie, mag ons nooit ophou om te pleit om Sy genade nie. Moet nooit te trots wees om jouself voor Hom te verootmoedig nie. Wie weet, indien Hy jou verhoor, mag Hy jou genadig wees en jou antwoord met ‘n “JA!”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 06 Augustus 2011

God Se Wil Deur Jou

6 Augustus 2011 / Av 6 5771

Woorde / Devarim


Deuteronomium {1:41} “Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek, {1:42} het die HERE vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie—want Ek is nie in julle midde nie—dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie. {1:43} Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel in die gebergte opgetrek. {1:44} Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma. {1:45} En julle het teruggekom en voor die aangesig van die HERE geween, maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie. {1:46} So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.”

Wat moet ons nog meer aan onsself bewys as dat indien God nie in ‘n saak geken word nie, dit hoegenaamd nie sal slag nie? Soveel gelowiges leef met ‘n gevoel van mislukking omdat God nie geken word in dít waarmee hulle besig is nie. Ons probleem is dat ons dinge op óns manier wil doen, volgens óns tydsberekening en soos dit vir ons gerieflik is. Soos hierbo uitgewys, is dit dan egter ‘n geval van opstand en verwaandheid. Gedurende Junie vanjaar het ek ‘n preek gelewer oor: “Erken die Wil van God”. In die lig van vandeesweek se Parasha en die verse, waarop ek besluit het om kommentaar oor te lewer, het ek gemeen dit sal heel paslik wees om deel van my preek in hierdie kommentaar op te neem.

Ek is daarvan oortuig dat ons almal graag wil weet wat God se Wil vir ons lewens is. Die problem is dat nie almal van ons weet wat Sy Wil vir ons is nie en dit kan frustrerend wees. Dikwels vind ek dat ons so hard probeer om Sy Wil te laat geskied, maar in plaas daarvan, slag ons bloot daarin om daaroor te bespiegel, terwyl ons onbewustelik op onsself fokus en uiteindelik probeer doen wat óns meen God se Wil vir ons lewens is. Indien ‘n mens jouself dan teen ‘n muur vasloop en besef dat jy verkeerd is, raak jy selfs meer gefrustreerd em mismoedig. Ek glo dat die frustrasie em moedeloosheid onstaan omdat ons nie die regte vraag vra nie. Die vraag behoort nie te lui:”Wat is God se Wil vir mý lewe?” nie, maar veel eerder “Wat is God se Wil?”. Eers wanneer ons besef wat God se Wil is, dan kan ons ons lewens daarvolgens skik. Eenvoudig ….reg? Ongelukkig nie! Ek móét dit benadruk: Indien jy te wete wil kom wat God se Wil vir jou lewe is, dan kan die fokus nie op jouself gerig wees nie, maar moet die focus eerder op God se Wil gerig wees.

Jesaja / Yeshayahu {6:8} “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”

Die kinders van Israel was besig om ongehoorsaam te wees en die Here het iemand nodig gehad om vir hulle te gaan profeteer. Jesaja het die oproep gehoor, sy lewe na die Wil van God geskik en gesê: ”Hier is ek, stuur my.”. Dit is hoe God te werk gaan. Hy het ‘n taak wat uitgevoer moet word en benodig iemand wat gewillig is om dit te doen. God het ongetwyfeld ‘n plan vir elkeen van ons se lewe; die planne wat Hy vir ons beoog, word egter gegrond op wat Hy alreeds in die wêreld doen en nie wat óns in die wêreld wil doen nie.

Wat verwag God dan van ons? Wat Hy van ons verwag, is om ons lewens te verander ten einde betrokke te raak by dit wat Hy alreeds doen. Hy verwag nie van ons om op ons eie iets nuts te onderneem nie; Hy verlang dat ons by Hom aansluit waarmee Hy alreeds besig is. Te veel mense beland in die moelikheid wanneer hulle graag wil doen wat die bediening vereis. Wanneer die geleentheid hom dus voordoen om in so ’n bediening te staan, meen hulle dat dit die beskikking van God moet wees omdat dit iets is wat hulle nog altyd graag wou doen. Dink hulle Petrus (Kefa) sou ooit gekruisig wou word, maar dit was die Wil van God! Dink hulle Johannes (Yochanan) sou ooit na ‘n verlate eiland verban wou word, maar ook dit was binne God se Wil. Moet nooit iets as die Wil van God beskou aldan nie indien dit ooreenstem of nie met dít waarvan jy hou of wat jy meen jou besondere roeping is. God roep ons almal – allereers – tot ‘n verhouding met Hom, waar Hy die Here is en nie ons nie.

Wat beteken dit dat God die Here is? Dit beteken dat Hy heers. Wanneer God die Here van jou lewe is, móét jy bereid wees om te doen wat Hy ookal van jou vereis – ongeag wat dit verg! Jy moet bereid wees om te gaan waarheen Hy jou wil stuur – ongeag die omstandighede!

Hoe sal jy dan nou kan besef dat dit God is wat jou stuur? Jy sal weet dat dit Sy Wil is indien jy in ‘n verhouding met Hom sodanig is, sal jy Hom hoor en jy sal wéét! Alles ontstaan uit so’n verhouding.

God stel veel meer daarin belang om met jou ‘n verhouding te hê as in dit wat jy vir Hom kan doen. Die rede is soos wat jy Hom liefhet, sal Hy jou met Sy teenwoordigheid vervul en jou lei op die pad wat jy moet gaan – één dag op ‘n keer. God het nie leiers nodig nie, maar wel dienaars en volgelinge. Om by God se werk betrokke te raak, moet jy bereid wees om ‘n dienaar te wees, ‘n volgeling, net soos Jesus (dít het Hy bewys met die was van Sy dissipels se voete)!

Matthéüs / Mattityahu {20:27} “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; {20:28} net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

Ons moet dieselfde dienaar-houding wat Jesus geopenbaar het, ontwikkel. Ons moet ‘n houding van nederigheid en gehoorsaamheid ontwikkel. Ons kan onsself nie té kundig of té goed ag om selfs die nederigste take te verrig nie. Daar is ‘n verskil om ‘n dienaar vir ‘n menslike meester en om ‘n dienaar vir God te wees. Eersgenoemde is in diens van ‘n meester, wat bevele uitreik en die dienaar moet dit na die beste van sy vermoë uitvoer. God, daarenteen, werk deur Sy dienaars. Indien jy ‘n dienaar van God is, volbring Hy die taak deur jou. Met God, ontwikkel jy ‘n verhouding van liefde met Hom en wanneer jy reageer op dit wat Hy doen en jy jou lewe dienooreenkomstig aanpas, kan Hy deur jou Sy Wil laat geskied. Dit mag miskien soos ‘n algehele nuwe konsep klink, maar in werklikheid is dit glad nie so nie. Indien jy wonder wat God se Wil vir jou lewe is, dan was hierdie boodskap vir jou!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou