Sondag 25 Augustus 2013

Om in onversetlikheid te wandel

D’Var Torah 
Gestaan – Hy het gegaan / Nitzavim – Vayelech 

Romeine / Romim 7:7 – 12

Ek onthou nog die eerste keer wat ek by ‘n nie-Joodse persoon aan huis gekom het. 

Ek het opgegroei in ‘n tradisionele Joodse huis waar my broers en susters geen nie-Joodse vriende gehad het nie. Dus het ek nie die geringste idee gehad wat om te verwag toe ek na my eerste nie-Joodse vriend se huis genooi is nie. 

Toe ek die huis binnegaan het dit inderdaad vreemd gevoel: die reuk was anders, die voorkoms was anders en in vergelyking met ons huis en die huise van my Joodse vriende en familie, was dit aansienlik verskillend. Ek het trouens, baie ontuis en ietwat skuldig gevoel. Ek was ‘n Jood, hy was ‘n Christen en nie net was hy my eerste nie-Joodse vriend nie – die blote gedagte van wat die Christene aan óns Jode gedoen het, het my ongemaklik laat voel. Ek onthou nie hoe oud ek was nie en verstaan nie waarom ek toe so gevoel het nie maar as ek nou terugdink – nadat ek hierdie week se parasha gelees het, het ek moontlik die gevoel ervaar wat Moses (Moshe) in die week se Torah-lesing beskryf het. 

Daar is nie baie Messiaans-Joodse gemeentes wat soos ons hier by melech Yisrael glo nie. Ons glo dat die Tora universeel is en dit deur elkeen wêreldwyd aldus aanvaar en beoefen behoort te word. Ons glo ook dat dit met die wederkoms van Jesus die geval sal wees. 

Daar is sekere gebooie wat uitsluitlik op die land Israel en die tempel as sulks betrekking het. Die res van die gebooie, glo ons, moet deur elkeen onderhou word – ongeag die land waar hulle woon of gebore is. Ons besef natuurlik dat dit, vanweë diverse godsdienstige gelowe, nie nou moontlik is nie maar verstaan egter dat dit alles sal verander, soos ek gesê het, wanneer Jesus die Messias weer kom. Intussen sal almal uit nasies wat by Messiaanse-Joodse gemeentes – ons s’n in besonder – aansluit en aanneem asook onderneem om waarlik ‘n Tora-gesentreerde lewe te lei, deel van sowel Israel as óns word, met gelyke regte en voordele. 

Eksodus / Shemot {12:49} “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. {12:50} En al die kinders van Israel het dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. ”. 

Waarom sê ek dit vandag? Die Kerk het die God van Israel aangeneem en bely om volgens die gebooie van Jesus die Messias te leef maar tog verwerp hulle die Tora. Ek het dus die volgende vers uit hierdie week se parasha op hulle toegepas: 

Deuteronomium / Devarim {29:18} “sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie, {29:19} en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel—om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!”. 

Ek pas in besonder vers 29:19 op die Kerk toe: “en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel—om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!”

Elke kerk of bykans elke kerkbywonende gelowige, het al die Bybelgedeelte, wat vervloeking of seën inhou, gelees. Hulle besef wat die gevolge is vir ongehoorsaamheid aan die gebooie (Tora). Hule beweer egter dat hulle nie langer onder die Tora is nie – hulle beweer dat hulle onder genade verkeer. Het God van plan verander? Mag die hemele dit behoed! Dit is dus waar die woorde van Moses ter sprake kom: 

Deuteronomium / Devarim {29:19} “en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel—om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!”. 

Die Kerk van vandag maak daarop aanspraak om shalom (vrede) te hê, terwyl hulle, volgens hierdie Skrifgedeelte, deur die Tora te verwerp, eintlik in die onversetlikheid van hul eie harte wandel!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 18 Augustus 2013

'n Offerande aan God

D’Var Torah 
Wanneer jy kom – KiTavo 


Deuteronomium / Devarim {26:1} “En as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon, {26:2} dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, {26:3} en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee. {26:4} En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit”. 

Ek het eendag ‘n vriend besoek en op sy koffietafel ‘n beeld van die heilige Maria en ‘n tros piesangs gesien. Die piesangs was ryp, heerlik om na te kyk en ek was honger. Onder die indruk dat dit daar was om te eet, het ek een van die piesangs geneem. Met afgryse vervul oor wat ek gedoen het, het my vriend egter uitgeroep: “Moenie daardie piesang eet nie!” Ek het die piesang egter al halfpad afgeskil, maar dit by die ander teruggeplaas, verbysterd deur my vriend se reaksie, het ek verneem of daar iets fout was met die piesangs en of hy dit om ‘n spesifieke rede bewaar het. Hy het my verbaas aangekyk en gesê: “Weet jy nie dat die piesangs ‘n offerande aan die heilige Maria is nie?” Ek het weer na die piesangs en geglaseerde kleibeeld gekyk en verleë geantwoord: “Ek is jammer”. Ek sal egter nie alles vertel wat op daardie tydstip deur my brein geflits het nie, maar ek kan net sê dat ek natuurlik heimlik gedink het dat dit belaglik was dat hierdie beeld ooit daardie piesangs sou eet! 

Ek kan nie met sekerheid sê nie, maar klaarblyklik het die godsdiens wat my vriend beoefen het, hierdie tradisie van die offerande van opbrengs aan hulle heiliges, van die bovermelde gebod, wat in ons Tora-gedeelte van hierdie week uiteengesit word oorgeneem. Hierdie gebod was ongetwyfeld deur Jesus die Messias asook die hele Messiaanse Judaïsme van die eerste eeu nagekom, maar het egter eers laat in die eerste eeu deel van die Christelike geloof geword. Teen die derde eeu, onder keiser Konstantyn, het die Christelike godsdiens die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword en is die konsep van heiliges ingebring om die tallose gode, wat deur die Romeine aanbid is, te vervang. So kan ons sien hoedat die satan ‘n gebod van God neem en dit vir sy eie gewin naboots. 

Indien ons egter kyk na ons Skriftelike aanhaling hierbo en begryp wat dit werklik behels, sou ons verstaan dat die mandjies met die opbrengs van die land wat voor die Here gebring is, nie dáár gelaat is vir Hom om te eet nie, maar om die volgende rede gebring is: 

Deuteronomium / Devarim {26:11} “En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.”. 

Met ander woorde, alles wat voor die Here geplaas en dus aan Hom gewy is, is aangewend as ‘n feesviering en deur die boere en hulle gesinne, die Leviete asook vreemdelinge in die land, geëet. God het nie en ook nie nodig om te eet wat aan Hom gewy is nie. 

Psalms / Tehillim {50:12} “As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. ”. 

Ek glo dat dít alles opsom! Wat die wyding van ‘n offerande aan God betref – soos in die tye van die tempel (Beit HaMikdash) – of soos ons hier leer uit ons Skrifgedeelte, is die doel van alle offerandes om God te verheerlik en is dit dus tot ons voordeel!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 11 Augustus 2013

Die genade van God

D’Var Torah 
Wanneer jy gaan – KeTetze 


Deuteronomium / Devarim {21:18} “As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, {21:19} dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, {21:20} en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard. {21:21} Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.”. 

Toe ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, het ek onwillekeurig gedink aan die gelykenis van die verlore seun in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), Lukas (Uri) 15:24. Jesus die Messias vertel vir ons die verhaal van ‘n rebelse seun, wat vir sy vader sý erfporsie gevra het nog voordat sy vader gesterf en dit op ‘n losbandige lewe verkwis het. Wanneer die geld egter opraak en hy gebrek ly, dink hy aan die oorvloed wat sy vader se huurlinge geniet het, terwyl hy sonder ordentlike voedsel was. Die jongman keer dan terug na sy vader en vra dat hy soos ‘n huurling vir hom mag werk. Ons sou verwag dat die vader die vereistes van die Tora sou nakom en sy seun na die oudstes neem om hom te laat stenig maar hy doen dit nie. In plaas daarvan verwelkom hy hom terug, herstel sy volle regte as sy seun en vier selfs fees tot sy eer. 

Sommige mense gebruik dié gelykenis om die wet van die “Ou Verbond” as’t ware tot niet te maak en selfs op grond van hierdie gelykenis, uit te roep “Is jy nie bly dat ons nie langer onder die Wet leef nie!”. 

Die feit is egter dat die Tora-wet, wat ons hierbo aangehaal het, geensins gebruik mag word as Wet teenoor genade nie; trouens, kom ons beskou dit, wat in ons Skrifgedeelte van hierdie week se parasha gesê word, van naderby: {21:20} “en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard.”. Ek wil graag fokus op die woorde: “hy luister nie na ons stem nie; …”. Die jongman wat in die gelykenis vermeld word, was oënskynlik sonder berou en het alle versoeke van sy ouers om sy lewenswyse te verander, geïgnoreer. Derhalwe sou hulle, in ‘n poging om in gehoorsaamheid aan God se opdrag boosheid uit die land uit te roei, hom na die oudstes geneem het om veroordeel en gestenig te word. Dit was egter nie die geval in die gelykenis van die verlore seun nie. Hy was enigiets behalwe onberouvol; inteendeel hy het in nederigheid na sy vader teruggekeer en gesê: 

Lukas / Uri: {15:18} “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, {15:19} en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.”. 

Daar is wel vergifnis vir berou in sowel die Hebreeuse Skrifte (Tanach) en die Hernieude Verbond (Brit Chadasha). Die gebod, in hierdie parasha vermeld, en die gelykenis van die verlore seun, is nie in konflik met mekaar nie, want in beide gevalle is daar sprake van genade en vergifnis. Die Hebreeuse Skrifte is vol voorbeelde van genade, waarvan God se belofte om ‘n Verlosser te stuur, die vernaamste is. 

Ons kan en mag nooit genade teenoor die Tora stel nie – ons kan selfs nie beweer dat die Tora genade bevat, maar die Hernieude Verbond groter genade inhou nie. Albei bevat ‘n gelyke mate van genade omrede beide deur die God van genade beskik is. Die volgende Skrifgedeelte geld vir albei verbonde. 

1 Johannes / Yochanan Aleph {1:9} “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. {1:10} As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou