Vrydag 27 Julie 2018

Selfs Indien Ons Versuim

V’Etchanan
(En Ek Het Gesmeek)

Matthéüs / Mattityahu 12:28 – 34

Deuteronomium / Devarim {3:23} “Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24}  Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25}  Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!”

Het jy God al ooit gesmeek of gepleit vir iets? Ek is daarvan oortuig dat die meeste van ons dit ook al gedoen het. Oënskynlik is ons in goeie geselskap! Moses het by God gepleit. Ongelukkig was sy pleidooi egter nutteloos omdat God sy versoek nie toegestaan het nie. Dit is vir ons ‘n geringe troos, aangesien Moses, anders as ons, ‘n totaal verskillende verhouding met God gehad het. Hy was bevoorreg om regstreeks met God te kon kommunikeer, in so ’n mate dat hy die hoorbare stem kon verneem toe Hy “NEE” gesê het. God spreek ook tot ons; Hy doen dit egter deur Sy Woord en deur die Heilige Gees (Ruach HaKodesh), by wyse van ‘n sagte klein stemmetjie in ons binneste. Indien ons nie daaraan gehoor gee nie, kan ons niks doen nie as om op Hom te wag en te kyk hoedat sake verloop.

Deuteronomium / Devarim {3:26} “Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.”

God het al telke male ook vir my “NEE” gesê, met die gevolg dat ek in my verhouding met Hom, tot die besef gekom het om te aanvaar dat Hy die beste weet. Dit beteken hoegenaamd nie dat ek nie teleurgesteld was telkens waneer Sy antwoord “NEE” was nie. Uit die bovermelde tweegesprek blyk dit dat Moses die kinders van Israel verantwoordelik hou vir God se beslissing. Moses was vanselfsprekend teleurgesteld met God se besluit. Is dit nie maar altyd die geval as ons nie óns sin kry nie? Wanneer ons teleurgesteld raak, is ons geneig om ander te blameer. In ‘n sekere opsig is dit egter gerustellend om te besef dat selfs Moses, hierdie indrukwekkende man van God, ook deur dieselfde menslike swakhede geteister is as wat ons almal ervaar.

God was kwaad vir Moses, alhoewel dit nie vanweë die kinders van Israel was nie, maar omdat Moses teen die rots geslaan het vir water, in plaas daarvan om dit aan te spreek, soos wat hy deur God bevel is. Ek weet nie hoeveel keer God vir my “NEE” gesê het omdat Hy vir my kwaad was deurdat ek Sy gebooie (mitzvoth) oortree het nie. Ek is oortuig daarvan dat dit meer male gebeur het as wat ek werklik omgegee het dat dit plaasvind.

Ongelukkig kan baie van die gevolge (siekte, gebreke, kinderlooshied, opstandige kinders, ongelukke, diefstal en selfs armoede) waaronder ons vandag ly, heel moontlik herlei word na ons eie ongehoorsaamheid aan die Here se gebooie, sowel vóór as ná ons wedergeboorte. Koning Dawid is ‘n Bybelse voorbeeld hiervan; sy lewe illustreer ongetwyfeld my redenasie.

2 Samuel / Shmuel Bet (12:9} “Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. {12:10}  En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.”

Dawid se rebelse seun, Absolom, was maar één van die gevolge wat hy moes verduur vanweë sy ongehoorsaamheid aan die Here. Dit is begryplik dat wanneer God “NEE” sê, ons inderdaad ons ergste vyande is. Moenie mismoedig raak nie, want daar is soveel male wat God wel “JA” sê. Één so’n voorbeeld is koning Hiskia (Hezekia):

2 Konings / Malachim Bet {20:1} “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en Jesaja, die seun van Amos, die profeet, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie. {20:2}  Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: {20:3}  Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween. {20:4}  En Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: {20:5}  Draai om en sê vir Hiskía, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE. {20:6}  En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assirië red, en ook hierdie stad beskut ter wille van My en My kneg Dawid.”

Ten spyte van die feit dat koning Hiskia homself as getrou aan God geag het, was hy in werklikheid nie! Alles in aggenome, is nie een van ons geheel en al getrou nie. Ons troos is egter dat ons verneem dat God sy gebed (pleidooi) verhoor het, sy trane, toe hy bitterlik geween, gesien en genade aan hom betoon het.

Wat kan ons uit hierdie voorbeeld leer? Selfs indien ons nie in ons poging slaag om volkome God se gebooie te eerbiedig nie, mag ons nooit ophou om te pleit om Sy genade nie. Moet nooit te trots wees om jouself voor Hom te verootmoedig nie. Wie weet, indien Hy jou verhoor, mag Hy jou genadig wees en jou antwoord met ‘n “JA!”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-08-13

Saterdag 21 Julie 2018

God Se Wil Deur Jou

Devarim
(Woorde)


Deuteronomium {1:41} “Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek, {1:42}  het die HERE vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie—want Ek is nie in julle midde nie—dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie. {1:43}  Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel in die gebergte opgetrek. {1:44}  Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma. {1:45}  En julle het teruggekom en voor die aangesig van die HERE geween, maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie. {1:46}  So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.”

Wat moet ons nog meer aan onsself bewys as dat indien God nie in ‘n saak geken word nie, dit hoegenaamd nie sal slag nie? Soveel gelowiges leef met ‘n gevoel van mislukking omdat God nie geken word in dít waarmee hulle besig is nie. Ons probleem is dat ons dinge op óns manier wil doen, volgens óns tydsberekening en soos dit vir ons gerieflik is. Soos hierbo uitgewys, is dit dan egter ‘n geval van opstand en verwaandheid. Gedurende Junie vanjaar het ek ‘n preek gelewer oor: “Erken die Wil van God”. In die lig van vandeesweek se Parasha en die verse, waarop ek besluit het om kommentaar oor te lewer, het ek gemeen dit sal heel paslik wees om deel van my preek in hierdie kommentaar op te neem.

Ek is daarvan oortuig dat ons almal graag wil weet wat God se Wil vir ons lewens is. Die probleem is dat nie almal van ons weet wat Sy Wil vir ons is nie en dit kan frustrerend wees. Dikwels vind ek dat ons so hard probeer om Sy Wil te laat geskied, maar in plaas daarvan, slag ons bloot daarin om daaroor te bespiegel, terwyl ons onbewustelik op onsself fokus en uiteindelik probeer doen wat óns meen God se Wil vir ons lewens is. Indien ‘n mens jouself dan teen ‘n muur vasloop en besef dat jy verkeerd is, raak jy selfs meer gefrustreerd en mismoedig. Ek glo dat die frustrasie en moedeloosheid onstaan omdat ons nie die regte vraag vra nie. Die vraag behoort nie te lui:”Wat is God se Wil vir mý lewe?” nie, maar veel eerder “Wat is God se Wil?”. Eers wanneer ons besef wat God se Wil is, dan kan ons ons lewens daarvolgens skik. Eenvoudig ….reg? Ongelukkig nie! Ek móét dit benadruk: Indien jy te wete wil kom wat God se Wil vir jou lewe is, dan kan die fokus nie op jouself gerig wees nie, maar moet die fokus eerder op God se Wil gerig wees.

Jesaja / Yeshayahu {6:8} “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”

Die kinders van Israel was besig om ongehoorsaam te wees en die Here het iemand nodig gehad om vir hulle te gaan profeteer. Jesaja het die oproep gehoor, sy lewe na die Wil van God geskik en gesê: ”Hier is ek, stuur my.”. Dit is hoe God te werk gaan. Hy het ‘n taak wat uitgevoer moet word en benodig iemand wat gewillig is om dit te doen. God het ongetwyfeld ‘n plan vir elkeen van ons se lewe; die planne wat Hy vir ons beoog, word egter gegrond op wat Hy alreeds in die wêreld doen en nie wat óns in die wêreld wil doen nie.

Wat verwag God dan van ons? Wat Hy van ons verwag, is om ons lewens te verander ten einde betrokke te raak by dit wat Hy alreeds doen. Hy verwag nie van ons om op ons eie iets nuuts te onderneem nie; Hy verlang dat ons by Hom aansluit waarmee Hy alreeds besig is. Te veel mense beland in die moelikheid wanneer hulle graag wil doen wat die bediening vereis. Wanneer die geleentheid hom dus voordoen om in so ’n bediening te staan, meen hulle dat dit die beskikking van God moet wees omdat dit iets is wat hulle nog altyd graag wou doen. Dink hulle Petrus (Kefa) sou ooit gekruisig wou word, maar dit was die Wil van God! Dink hulle Johannes (Yochanan) sou ooit na ‘n verlate eiland verban wou word, maar ook dit was binne God se Wil. Moet nooit iets as die Wil van God beskou aldan nie indien dit ooreenstem of nie met dít waarvan jy hou of wat jy meen jou besondere roeping is. God roep ons almal – allereers – tot ‘n verhouding met Hom, waar Hy die Here is en nie ons nie.

Wat beteken dit dat God die Here is? Dit beteken dat Hy heers. Wanneer God die Here van jou lewe is, móét jy bereid wees om te doen wat Hy ookal van jou vereis – ongeag wat dit verg! Jy moet bereid wees om te gaan waarheen Hy jou wil stuur – ongeag die omstandighede!

Hoe sal jy dan nou kan besef dat dit God is wat jou stuur? Jy sal weet dat dit Sy Wil is indien jy in ‘n verhouding met Hom sodanig is, sal jy Hom hoor en jy sal wéét! Alles ontstaan uit so’n verhouding.

God stel veel meer daarin belang om met jou ‘n verhouding te hê as in dit wat jy vir Hom kan doen. Die rede is soos wat jy Hom liefhet, sal Hy jou met Sy teenwoordigheid vervul en jou lei op die pad wat jy moet gaan – één dag op ‘n keer. God het nie leiers nodig nie, maar wel dienaars en volgelinge. Om by God se werk betrokke te raak, moet jy bereid wees om ‘n dienaar te wees, ‘n volgeling, net soos Jesus (dít het Hy bewys met die was van Sy dissipels se voete)!

Matthéüs / Mattityahu {20:27} “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; {20:28}  net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

Ons moet dieselfde dienaar-houding wat Jesus geopenbaar het, ontwikkel. Ons moet ‘n houding van nederigheid en gehoorsaamheid ontwikkel. Ons kan onsself nie té kundig of té goed ag om selfs die nederigste take te verrig nie. Daar is ‘n verskil om ‘n dienaar vir ‘n menslike meester en om ‘n dienaar vir God te wees. Eersgenoemde is in diens van ‘n meester, wat bevele uitreik en die dienaar moet dit na die beste van sy vermoë uitvoer. God, daarenteen, werk deur Sy dienaars. Indien jy ‘n dienaar van God is, volbring Hy die taak deur jou. Met God, ontwikkel jy ‘n verhouding van liefde met Hom en wanneer jy reageer op dit wat Hy doen en jy jou lewe dienooreenkomstig aanpas, kan Hy deur jou Sy Wil laat geskied. Dit mag miskien soos ‘n algehele nuwe konsep klink, maar in werklikheid is dit glad nie so nie. Indien jy wonder wat God se Wil vir jou lewe is, dan was hierdie boodskap vir jou!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-08-06

Saterdag 14 Julie 2018

Wie Doen Dit

Matot
(Stamme)


Numeri / Bamidbar {31:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {31:2}  Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete; daarna sal jy by jou volksgenote versamel word. {31:3}  Daarop het Moses met die volk gespreek en gesê: Laat manne uit julle midde hul vir die oorlog wapen, dat hulle teen Mídian kan trek om die wraakgerig van die HERE aan Mídian te voltrek. {31:4}  duisend vir elke stam van al die stamme van Israel moet julle na die oorlog stuur. {31:5}  Toe is daar uit die duisende van Israel duisend vir elke stam gelewer, twaalf duisend wat vir die oorlog gewapen was.”

Vind jy iets ongewoons in hierdie Skrifgedeelte wat ek uit hierdie week se parasha geneem het? Laat my toe om jou te help. Telkens wanneer God vir Israel kwaad was oor hulle oortreding van Sy Tora, het hy hulle gestraf deur vuur, slange, plae en ander oordele oor hulle te bring. Hier beveel God egter vir Moses om die manne te bewapen ten einde op die Midianiete te gaan wraak neem. Hy was ongetwyfeld meer as in staat daartoe om Self vir Israel te straf en met die Midianiete af te reken.

Psalm / Tehilim {79:10} “Waarom sou die heidene sê: Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte.”.

Psalm / Tehilim {3:7} “Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek.”.

In albei hierdie verse word God deur die psalmis gesmeek om op sy vyande wraak te neem. Ons weet egter dat koning Dawid, wat hierdie verse geskryf het, ‘n krygsman was, wat die een oorlog na die ander gevoer het. Tydens hierdie oorloë het hy sy vyande asook dié van Israel verslaan. Hy het dit eiehandig gedoen. Terwyl die psalmis se taal, in hierdie verse gebruik, dus was om God te versoek om die vyand te straf en te tref, was dit dikwels in werklikheid koning Dawid en sy leer wat teen die vyand geveg het. Toe God Israel dus beveel om op die Midianiete wraak te neem, versoek Hy hulle om presies te doen wat koning Dawid veronderstel was om te doen.

Myns insiens handhaaf die hedendaagse gelowiges in Jesus die Messias al te veel van ‘n passiewe rol in hulle verhouding met God. Hulle bid om iets en sit dan agteroor met ‘n houding van “laat ons maar wag en sien”, in plaas van ‘n pro-aktiewe houding van “kom ons pak dit aan” met die nodige geloof dat God hulle pogings sal ondersteun. Ek het op ‘n keer verneem van ‘n gelowige wat werkloos was, maar sy tyd verwyl het deur op God te wag om vir Hom ‘n betrekking te vind en dit deur gebed vir hom te gee, pleks daarvan om te bid om ‘n betrekking en self te gaan werk soek. Ongetwyfeld kan God vir ons ‘n betrekking of enigiets anders skenk waarom ons mag bid maar netso kon Hy die Midianiete deur middel van ‘n plaag uitgewis het of koning Dawid se vyande deur vuur uit die hemel verteer het. Selfs Moses moes op die manne ‘n beroep doen om hulself te bewapen vir oorlog. God was inderdaad dáár en het die oorwinning aan hulle besorg.

1 Samuel / Shmuel Aleph {17:45} “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. {17:46}  Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het.”.

Dawid het Góliat verslaan en sodoende die oorwinning vir homself en die hele Israel behaal, maar die oorlog as sulks was die Here s’n. Sonder God, kan ons veg soos ons wil maar die oorwinning sal ons nie smaak nie. As God nie daarin is nie, sal ons beslis nie oorwin nie. Indien God wel betrokke is, sal dit wees soos met Moses en met koning Dawid. Húlle het geveg en die oorwinning behaal, maar die oorlog was die Here s’n. Dit is vandag nog dieselfde. God wil dat ons tot Hóm moet bid. God wil dat ons tot Hóm bid vir voorsiening in ons behoeftes; Hy verlang egter dat ons pro-aktief moet optree en in vennootskap met Hom moet verkeer.

So dink ek byvoorbeeld daaraan dat evangelisasie deel van God se Wil is. God kan ongetwyfeld op bonatuurlike wyse die harte van ongelowiges aanraak en hulle tot ‘n besef van verlossing deur Jesus die Messias lei, maar meer dikwels maak Hy op óns staat om die evangelisasie-voetwerk te doen, terwyl Hy self die verlossing van persone teweegbring.

Markus / Mordechai {16:15} “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-07-23

Saterdag 07 Julie 2018

Demokrasie Sal Verdwyn

Pinchas
(Balak)


Numeri / BaMidbar {27:15} “Toe het Moses met die HERE gespreek en gesê: {27:16}  Laat die HERE, die God van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel {27:17}  wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die HERE nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie. {27:18}  Toe sê die HERE aan Moses: Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ‘n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op, {27:19}  en stel hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering, en gee hom ‘n opdrag voor hulle oë; {27:20}  en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister. {27:21}  En hy moet voor die priester Eleásar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van die HERE; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering. {27:22}  En Moses het gedoen soos die HERE hom beveel het: hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel, {27:23}  en hy het hom die hande opgelê en hom ‘n opdrag gegee soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het.”

Demokrasie word vandag allerweë ernstig beskou. President Obama van die Verenigde State van Amerika doen alles in sy vermoë om demokratiese regerings in die Islamitiese Midde-Oosterse lande wat deur diktators regeer word en waar die shariawet geld, te bevorder en beïnvloed.

Volgens Wikipedia, is demokrasie ‘n regeringsvorm waarin alle burgers gelyke seggenskap het in die besluitnemings wat hulle lewens raak. Dit behels gelyke (en min of meer regstreekse) deelname in die voorstel, ontwikkeling en deurvoering van wetgewing in wette. Dit omvat sosiale-, ekonomiese- en kulturele omstandighede, wat die vrye en gelyke praktyk van selfbeskikking moontlik maak.

Dit is bewonderingswaardig van president Obama om dit vir Islamitiese lande in die vooruitsig te stel om dieselfde mate van vryheid te geniet wat die demokratiese stelsel aan sy burgers bied, maar demokratiese regerings en die demokratiese stelsel op sigself is nie Bybels nie. Hoe weet ons dit? Die eerste Skriftuurlike bewys is God se ontevredenheid met Israel, toe hulle vir ‘n koning gevra het.

1 Samuel / Shmuel Aleph {8:5} “en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies. {1Sa 8:6}  Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid. {1Sa 8:7}  Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.”

Wat ons hier in die Skrif sien, is Israel se verwerping van God as hul Koning en hulpversoek om ‘n menslike koning in sy plek te hê. Wat meer is, is soos wat ons in hierdie hoofstuk verder lees, dat dit God was wat die koning gekies het om oor Sy volk te regeer. Dit het nie by wyse van demokratiese verkiesing geskied nie!

Verder sien ons in dié week se Parasha hierdie selfde scenario met die oordrag van gesag vanaf Moses na Josua. God het Moses nie beveel om ‘n demokratiese verkiesing te laat plaasvind om ‘n nuwe leier aan te wys nie, maar God het hom gekies en Moses eenvoudig aangesê om Josua te salf ten einde sy plek in te neem.

Nog iets wat ons nie in die Bybel vind nie, is dat God nie ‘n demokratiesverkose liggaam toelaat om nuwe wette te maak of Sy bestaande wette te wysig nie. Die volk moes volgens die gebooie, voorskrifte en geregtigheid van die Tora leef. God het selfs aan Sy aardse verteenwoordiger, die cohen hagadol (hoëpriester), die Urim en Thummim gegee, as metode om hom oor juridiese aangeleenthede te raadpleeg. Hierdie metode het verseker dat God se gebooie nougeset nagekom word.

Die finale bewys dat demokrasie nie Bybels is nie, berus op die feit dat wanneer Jesus die Messias weer kom om Sy Koninkryk op aarde te vestig, word aan ons vertel:

Openbaring / Hitgalut {19:15} “En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. {Rev 19:16}  En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”

Met Jesus se wederkoms, sal die regsreël die Woord van God, Sy Bybel wees! Demokrasie sal iets wees waaroor mense in toekomstige geskiedenisboeke sal lees.

Dit is baie onbaatsugtig van President Obama dat Islamities-regeerde state demokraties behoort te wees, maar die feit van die saak is, dat húlle inderwaarheid reg en óns verkeerd is. Meeste van hierdie lande staan onder die Koran. Anders as die feit dat hulle ‘n valse god volg, aanvaar hulle ten minste hierdie valse god se leer as húlle regsreël. Wat ons demokrasie egter gedoen het, is dat hulle wette daargestel het, wat geheel-en-al teenstrydig met die Wet en Wil van die Enigste Waaragtige God van hemel en aarde is.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die Bybel is nie gekant teen kapitalisme nie – inteendeel dit word aangemoedig! Die Bybel ondersteun net nie die konsep van demokrasie nie. Volgens Openbaring, is dit duidelik dat demokrasie nie die wederkoms van Jesus sal oorleef nie en waarskynlik reeds geskiedenis sal wees selfs vóór die koms van die anti-messias.


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-07-16