V’Etchanan
(En Ek Het Gesmeek)
Deuteronomium / Devarim {3:23} “Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!”
Het jy God al ooit gesmeek of gepleit vir iets? Ek is daarvan oortuig dat die meeste van ons dit ook al gedoen het. Oënskynlik is ons in goeie geselskap! Moses het by God gepleit. Ongelukkig was sy pleidooi egter nutteloos omdat God sy versoek nie toegestaan het nie. Dit is vir ons ‘n geringe troos, aangesien Moses, anders as ons, ‘n totaal verskillende verhouding met God gehad het. Hy was bevoorreg om regstreeks met God te kon kommunikeer, in so ’n mate dat hy die hoorbare stem kon verneem toe Hy “NEE” gesê het. God spreek ook tot ons; Hy doen dit egter deur Sy Woord en deur die Heilige Gees (Ruach HaKodesh), by wyse van ‘n sagte klein stemmetjie in ons binneste. Indien ons nie daaraan gehoor gee nie, kan ons niks doen nie as om op Hom te wag en te kyk hoedat sake verloop.
Deuteronomium / Devarim {3:26} “Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.”
God het al telke male ook vir my “NEE” gesê, met die gevolg dat ek in my verhouding met Hom, tot die besef gekom het om te aanvaar dat Hy die beste weet. Dit beteken hoegenaamd nie dat ek nie teleurgesteld was telkens waneer Sy antwoord “NEE” was nie. Uit die bovermelde tweegesprek blyk dit dat Moses die kinders van Israel verantwoordelik hou vir God se beslissing. Moses was vanselfsprekend teleurgesteld met God se besluit. Is dit nie maar altyd die geval as ons nie óns sin kry nie? Wanneer ons teleurgesteld raak, is ons geneig om ander te blameer. In ‘n sekere opsig is dit egter gerustellend om te besef dat selfs Moses, hierdie indrukwekkende man van God, ook deur dieselfde menslike swakhede geteister is as wat ons almal ervaar.
God was kwaad vir Moses, alhoewel dit nie vanweë die kinders van Israel was nie, maar omdat Moses teen die rots geslaan het vir water, in plaas daarvan om dit aan te spreek, soos wat hy deur God bevel is. Ek weet nie hoeveel keer God vir my “NEE” gesê het omdat Hy vir my kwaad was deurdat ek Sy gebooie (mitzvoth) oortree het nie. Ek is oortuig daarvan dat dit meer male gebeur het as wat ek werklik omgegee het dat dit plaasvind.
Ongelukkig kan baie van die gevolge (siekte, gebreke, kinderlooshied, opstandige kinders, ongelukke, diefstal en selfs armoede) waaronder ons vandag ly, heel moontlik herlei word na ons eie ongehoorsaamheid aan die Here se gebooie, sowel vóór as ná ons wedergeboorte. Koning Dawid is ‘n Bybelse voorbeeld hiervan; sy lewe illustreer ongetwyfeld my redenasie.
2 Samuel / Shmuel Bet (12:9} “Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. {12:10} En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees.”
Dawid se rebelse seun, Absolom, was maar één van die gevolge wat hy moes verduur vanweë sy ongehoorsaamheid aan die Here. Dit is begryplik dat wanneer God “NEE” sê, ons inderdaad ons ergste vyande is. Moenie mismoedig raak nie, want daar is soveel male wat God wel “JA” sê. Één so’n voorbeeld is koning Hiskia (Hezekia):
2 Konings / Malachim Bet {20:1} “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en Jesaja, die seun van Amos, die profeet, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie. {20:2} Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: {20:3} Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween. {20:4} En Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: {20:5} Draai om en sê vir Hiskía, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE. {20:6} En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assirië red, en ook hierdie stad beskut ter wille van My en My kneg Dawid.”
Ten spyte van die feit dat koning Hiskia homself as getrou aan God geag het, was hy in werklikheid nie! Alles in aggenome, is nie een van ons geheel en al getrou nie. Ons troos is egter dat ons verneem dat God sy gebed (pleidooi) verhoor het, sy trane, toe hy bitterlik geween, gesien en genade aan hom betoon het.
Wat kan ons uit hierdie voorbeeld leer? Selfs indien ons nie in ons poging slaag om volkome God se gebooie te eerbiedig nie, mag ons nooit ophou om te pleit om Sy genade nie. Moet nooit te trots wees om jouself voor Hom te verootmoedig nie. Wie weet, indien Hy jou verhoor, mag Hy jou genadig wees en jou antwoord met ‘n “JA!”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-08-13