Saterdag 29 Mei 2010

In Julle Opset

29 Mei 2010 / Sivan 16 5770


Uitnodiging van die GerBeHa'Aalotecha / In Julle Opset (Congregation Melech Yisrael)


Númeri / BaMidbar 8:1-12:16

Sagaría / Zecharyah 2:14-4:7

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 10:6-13


Eksodus / Shemot {12:43} “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. {12:44} Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. {12:45} Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. {12:46} In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. {12:47} Die hele vergadering van Israel moet dit hou. {12:48} En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.


Ons gemeente vier elke jaar 'n groot Paasfees. Dit word gevier met 'n behoorlike spysenier-voorbereide maaltyd, waarheen almal – sonder voorbehoud – genooi word om dit by te woon. Baie van die genooides is nie-Jode of nie lede van 'n Messiaanse gemeente nie. Sommige is selfs nie wedergebore in Jesus die Messias nie en die mans dus nie besny nie. Nietemin laat ons hulle toe want in werklikheid benut ons Paasfees ook as 'n geleentheid om gemeentelede te leer aangaande hul Bybelse Joodse oorsprong en diegene – sowel Jode as nie-Jode – wat nie wedergebore is nie, te vertel van die redding wat deur Jesus die Messias gebied word, soos bewys deur die Pesach Seder (Paasorde).


Op grond van die bovermelde Skrifaanhaling, is ek dikwels reeds gevra waarom ons onbesnede mans toelaat om ons Paasfees by te woon. Hierdie week se Parasha beantwoord dié vraag vir ons, maar voordat ons dit behandel, is daar tog iets wat ek graag wil meld.


Lamsvleis word nie meer by 'n Paasfeesmaaltyd bedien nie. Dit is hoofsaaklik omrede daar geen tempel is waarheen die Paaslam gebring kan word om geslag te word en nie 'n Levitiese priesterdom is om die slagting te behartig nie. Beide is Tora-vereistes. Daarbenewens is Jesus die Messias die Lam wat reeds geoffer is; om dus met Paasfees lamsvleis te eet, sou byna daarop kom dat Jesus 'n tweede maal geoffer word, wat na my mening, inderdaad, heiligskennend sou wees.


In antwoord op die vraag waarom onbesnedenes dan toegelaat word om ons Paasfeesviering by te woon, verwys ek na die Skrifgedeeltes van vandeesweek se Parasha.


Númeri / BaMidbar {9:1} ”En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai—in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, in die eerste maand—en gesê {9:2} dat die kinders van Israel die pasga op die bepaalde tyd moet hou. {9:3} Op die veertiende dag in hierdie maand, teen die aand, moet julle dit op die bepaalde tyd hou; volgens al sy insettinge en al sy verordeninge moet julle dit hou. {9:4} Toe het Moses met die kinders van Israel gespreek dat hulle die pasga moet hou. {9:5} En hulle het die pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen. {9:6} En daar was manne wat deur die lyk van ‘n mens onrein geword het en op dieselfde dag die pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag, {9:7} en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ‘n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van die HERE nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie? {9:8} En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat die HERE julle sal beveel. {9:9} Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {9:10} Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op ‘n ver reis is, moet hy tog die pasga vir die HERE hou. {9:11} In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet. {9:12} Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.


Ek het 'n lang gedeelte aangehaal omdat ek wil hê ons moet die volle konteks van wat gesê is, verstaan. Die eintlike vers wat ons moet verstaan en ook ons vrae sal beantwoord, is egter die laaste een:


Númeri / BaMidbar {9:12} “Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“


Indien julle die konteks van wat God vir Moses gesê het, lees en verstaan, dan sal julle sien dat die Paasfees, waarna God verwys, eintlik die ware Lam en nie die Paas-seremonie as sulks is nie. Daarom deel God ons in die eerste Skrifgedeelte (hierbo aangehaal) mee dat geen onbesnede man van die Paaslam mag eet nie. Aangesien daar nou nie langer 'n tempel of Levitiese priesterdom bestaan nie, wat ek verduidelik het, die rede is waarom ons nie langer lamsvleis met Paaasfees eet nie, eet die onbesnedene dus nie van die Paaslam nie, wat natuurlik Jesus die Messias verteenwoordig. Omdat geen lamsvleis met Paas geëet word nie, raak die hele vraagstuk van die besnedene of onbesnedene, dus irrelevant.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 22 Mei 2010

Die Restitusiegawe

22 Mei 2010 / Sivan 9 5769


Verhoog / Naso (Congregation Melech Yisrael)


Númeri / BaMidbar 4:21 – 7:89

Rigters / Shoftim 13:2 - 25

Handelinge / Ma'asei Talmidim 21:17 – 26


Númeri / BaMidbar {5:5} ” Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {5:6} Spreek met die kinders van Israel: As ‘n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word, {5:7} dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het. {5:8} Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die HERE, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen. {5:9} En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees. {5:10} En elkeen se heilige gawes dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.”


Soms, wanneer iemand sondig, hoef hy nie net om vergifnis te vra nie, nie net by God of die persoon teen wie hy gesondig het nie, maar moet hy ook restitusie doen. So byvoorbeeld, moes 'n dief nadat hy gevang is, restitusie doen aan die persoon van wie hy gesteel het. Hy moes dít wat gesteel is, aan die eienaar teruggee, plus twintig persent méér. Wat sou egter gebeur as die dief eers jare later gevang, die slagoffer reeds oorlede is en daar geen lewende bloedverwante was nie? Hierdie Skrifgedeelte uit Parasha Naso beantwoord daardie vraag vir ons. Daarvolgens moes restitusie aan 'n bloedverwant gedoen word en sou daar geen bloedverwant wees nie, moes dit aan die priester (Cohen) gedoen word. Wat sodanige restitusie dan ookal behels het moes die priester dit vir eie persoonlike gebruik ontvang. Soos ons weet is daar nie langer ' tempel in Jerusalem of 'n Aaron-priesterdom wat die tempeldiens verrig nie. In die lig daarvan moet ons onsself afvra: “Indien hierdie gebod van die tempel of Aaron-priesterdom afhanklik was, is dit vandag nog toepaslik? “ Die antwoord is onteenseglik “Ja” en ek sal nou-nou verduidelik om welke rede.


Self indien Jesus die Messias ons sondes vergewe wanneer ons dit bely, is daar nogtans gevolge van sonde as ons bedrieg, iets gesteel, iets geleen het sonder om dit terug te gee of iemand skade berokken het as gevolg van ons sonde. Wat gebeur egter indien ons onsself in 'n situasie bevind, soos wat dit in die Skrif hierbo bepaal? Daar is nie meer 'n tempel of priester nie. Hoe doen ons dus restitusie indien die persoon teenoor wie ons gesondig het, reeds oorlede is, sonder bloedverwante of die besigheid waarvan ons iets geneem het, nie meer bestaan nie?


Dit is nie my taak om iemand nou te beskuldig nie, maar ek is oortuig daarvan dat ek vertroulik kan sê dat êrens in die wêreld in die jongste verlede 'n pastorale leier of 'n gemeente moontlik hierdie Skrifgedeelte misbruik het. Ek kan sekerlik sê dat mense wat aan hul gemeentelede onomwonde verklaar dat hulle nie langer onderhewig aan dié Wet is nie, hierdie Skrifgedeelte op hulself toegepas en gevolglik ongematigde en onbybelse geskenke ontvang het van welmenende mense en pesone met die beste bedoelings, wat eerlik vrygespreek wou word deur restitusie te doen. Ek is reeds deur sulke mense genader oor hoe hierdie Skrifgedeelte vertolk en vandag toegepas behoort te word. Ek is selfs gevra of ek hul restitusie-offer sou aanvaar, wat ek vanselfsprekend nooit sal doen nie.


Nadat ek dit noukeurig gelees het en tot die Here gebid het om leiding met betrekking tot die juiste toepassing van dié Skrifgedeelte, meen ek dat ek God se antwoord hierop ontvang het.

Ten spyte daarvan dat die tempel in Jerusalem vandag nie meer bestaan nie en daar selfs nie meer 'n priester is om die gawes van restitusie – ingevalle soos in ons Parasha gespesifiseer – te ontvang nie, glo ek dat God dit steeds van ons vereis om restitusie te doen. Selfs indien die persoon teenoor wie ons gesondig het oorlede is sonder naasbestaandes of die besigheid, waarvan ons iets geneem het, nie meer bestaan nie, is ons steeds verplig om restitusie te doen. Hoe moet ons dit dan doen? Moet ons dit vir ons pastoor of rabbi gee vir persoonlike gebruik? Volstrek nie! Restitusie moet altyd gedoen word, wanneer dit vereis word, maar behoort toepaslik gedoen te word. Dit moet altyd aan die vereistes van die Tora voldoen, wat betref die persoon / persone teen wie gesondig is of hul naasbestaandes. Indien die persoon dus reeds oorlede is of daar geen naasbestaandes is nie óf die betrokke besigheid nie langer bestaan nie, dan, meen ek, dat die restitusie-geld aan die gemeente (kehila) waaraan die persoon behoort, gegee en dit uitdruklik gespesifiseer word dat dit 'n restitusiegawe is, wat aangewend moet word vir die uitbreiding van God se Koningkryk, dus vir sending of evangelisasie.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Saterdag 15 Mei 2010

Volkstelling vir Oorlog en Wonderwerke

15 Mei 2010 / Sivan 2 5769

In die Wildernis / BaMidbar (Congregation Melech Yisrael)

Númeri / BaMidbar 1:1-4:20

Hoséa / Hoshea 2:1-22

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 12:12-20

1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”

Ek kan nie onthou dat ek ooit één van my kommentare met 'n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) begin het nie – dit kan dus selfs die eerste keer wees! Die rede waarom ek juis met hierdie Skrifgedeelte begin het, is op grond van wat ons uit Parasha BaMidbar leer.

Númeri {1:47} “.Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. {1:48} Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê: {1:49} Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; {1:50} maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. {1:51} En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. {1:52} En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings. {1:53} Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem. {1:54} En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.”

Hierdie Parasha handel oor die telling van die kinders van Israel, alhoewel dit 'n uitsonderlike telling was, in soverre dat slegs diegene tussen twintig jaar en vyftig jaar oud getel is, dus almal wat weerbaar was om oorlog te voer. Dit sou gevolglik beteken dat enigeen van vyftig jaar of ouer uitgesluit is uit die sensus. Die totale aantal weerbare manne, geskik om oorlog te voer, was ses honderd en drie duisend, vyf honderd en vyftig. Omrede die Leviete verantwoordelik was vir die godsdienstige lewe van die gemeente van Israel, met hul aanspreeklikheid as God severteenwoordigers onder die mense en andersom, is hulle vrygestel van oorlog en gevolglik ook van die sensus.

Ek is seker sommige van julle mag dink dat ek gaan praat oor gelowiges in Jesus die Messias, synde mense met gewetensbesware (teen oorlogvoering, om godsdienstige redes), maar dit is die
allerlaaste wat ek in gedagte het. Die feit is dat die Leviete wel oorlog toe gegaan het, maar nie aan die oorlogvoering deelgeneem het nie, soos ons uit die volgende Skrifgedeelte kan aflei:

Joshua (Y'hoshua) {3:8} “Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan. {3:9} Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Kom nader hierheen en luister na die woorde van die HERE julle God. {3:10} Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe: {3:11} Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.”

Vandag bestaan daar nie meer 'n Mishkan nie vir ons as 'n koninklike priesterdom, om in te dien en daarom die ondersteunende rol as bewaarders van die Verbondsark te vervul en al die voorskrifte van die korban (toenadering/offer)-stelsel is ook nie meer nodig nie. Nietemin word ons, in die voorafgaande verse uit 1 Petrus, 'n koninklike priesterdom genoem. Ons rol as priesters het sedert die dae van die Mishkan en die tempel tog ietwat ontwikkel. Vandag as priesters van God, ofskoon ons nie verantwoordelik vir die instandhouding van die tabernakel of tempel, met inbegrip van die offerstelsel, is nie, is ons soos die Leviete in Bybelse tye, steeds daarvoor verantwoordelik om God (die Vader) onder die mense te verteenwoordig. Derhalwe glo ek dat iemand wat vandag in Jesus die Messias glo, wáár moontlik, ookal die Goeie Nuus (Besorah Tova) aangaande Jesus die Messias en Sy vrye gawe van redding, moet verkondig. Dit sluit natuurlik ook die gewapende magte in.

Ontelbare verhale oor wonderwerke wat op die slagveld plaasvind en selfs reddings dáár, het ons bereik uit die oorloë wat vandag gevoer word deur Kanada, die Verenigde State en Israel. Nou ja, ek is nie 'n voorstaander van oorlog nie, maar ongelukkig is oorlog, soos ook in die Bybelse tye, tog soms noodsaaklik. Wat gelowiges in Jesus die Messias betref, selfs as 'n koninklike priesterdom, het ons 'n God om te verteenwoordig en watter geskikter plek is daar nie, as om Hom te verteenwoordig onder soldate, wat elke dag die dood in die oë staar en moontlik vrae oor hul ewige bestemming het nie.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 08 Mei 2010

Enigiets Anders is Afgodery

Op die Berg – In My Insettinge / Behar – BeChukotai

|

Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

8 Mei 2010 / Iyyar 24 5770

Levitikus /Vayikra 25:1 – 27:34

Jeremia / Yirmeyahu 16:19 – 17:14

Lukas / Uri 4:16 - 21

2 Korinthiërs / Korintim Bet 6:14 - 18

Levitikus / Vayikra{26:1} “Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en ‘n gesnede beeld of ‘n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en ‘n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die HERE julle God. {26:2} My sabbatte moet julle hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE.”

Ek dink, om die verbodsbepalings deur God in hierdie verse uitgespreek, te verstaan, is dit nodig om afgodsdiens te omskrywe en begryp wat dit wesenlik is. Meeste mense is nie onkundig nie en ek sou graag wou glo dat hulle besef dat die afbeelding wat hulle gemaak of gekoop het en voor neerbuig, slegs van hout, metaal of klip is, maar nie 'n god nie. Afgodery is egter nie so eenvoudig nie. Wanneer mense voor enige mensgemaakte beeld neerbuig, kniel hulle voor dít wat hulle beskou 'n fisiese voorstelling van die spirituele krag wat hulle god noem, te wees. Daardeur skryf hulle aan hierdie beeld die essensie en krag toe van die god wat dit verpersoonlik. Hulle bid ook en praat met hierdie fisiese voorstelling en glo dat, deur daarna te kyk of dit te aanbid, hul gebede gehoor en verhoor sou word. Afgodery is dus nie dat die mensgemaakte afbeelding God is nie, maar eerder dat hierdie beeld bedoel is om God te verteenwoordig. Om te glo dat jy God kan aanbid deur middel van 'n mensgemaakte beeld, is afgodery!

Selfs indien hulle moontlik nie eers glo dat die voorwerp van hulle aanbidding 'n god is nie, is bloot die gedagte dat dit 'n fisiese teken of voorstelling van God is, afgodery. Baie mense openbaar die beste bedoelings wanneer hulle fisiese- of geïllustreerde voorstellings van God koop en in hul huise of elders vertoon. Ons God stel egter nie in ons goeie bedoelings belang nie, maar wel in ons gehoorsaamheid.

Eksodus / Shemot {32:26} “het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. {32:27} En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. {32:28} En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval. “

Die kinders van Israel het sekerlik goeie bedoelings gehad toe hulle die goue kalf gemaak en opgerig het. Ongetwyfeld was dit reg in hul harte. Aäron het selfs bevestig dat dit in hul harte reg was toe hy uitgeroep het:

Eksodus / Shemot {32:5} “Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.”

Indien dit slegs goeie bedoelings was wat getel het, sou God die kinders van Israel sekerlik nie gestraf het oor wat hulle gedoen het en waarom duisende mense hul lewens moes verloor nie.

Moet egter nie mislei word nie: iets so onskuldig soos 'n prent van Jesus wat aan jou muur hang, is afgodery volgens die begrip wat ons sopas hierbo bespreek het. Kinders is baie ontvanklik vir hierdie soort afgodery. Hulle sien só 'n prent, word vertel dit stel Jesus voor en assosieer onmiddelik dié afbeelding in hul verstande met 'n fisiese teken of voorstelling van God – dit is afgodery.

Wat behoort 'n mens te doen? Die antwoord op daardie vraag is eenvoudig: Verwyder enige fisiese – of geïllustreerde voorstellings van God uit jou lewe.

Johannes / Yochanan {4:23} “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. {4:24} God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Enigiets anders is afgodery!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Saterdag 01 Mei 2010

Die Brood van Teenwoordigheid

Spreek / Emor |

Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

1 Mei 2010 / Iyyar 17 5770

Levitikus / VaYikra 21:1 – 24:23

Eségiël / Yechesk’el 44:15 – 31

1 Petrus / Kefa Aleph2:4 - 10

Levitikus / Vayikra {24:5} “Jy moet ook fynmeel neem en twaalf koeke daarvan bak, twee-tiendes van 'n efa moet elke koek wees; {24:6} en jy moet hulle in twee stapels neersit, ses in 'n stapel, op die rein tafel voor die aangesig van die HERE. {24:7} En by elke stapel moet jy suiwer wierook byvoeg, wat vir die brood as gedenkoffer moet dien, as vuuroffer aan die HERE. {24:8} Op elke sabbatdag moet hy dit gedurigdeur voor die aangesig van die HERE regsit, van die kant van die kinders van Israel as 'n ewige insetting. {24:9} En dit moet aan Aäron en sy seuns toekom: hulle moet dit in 'n heilige plek eet; want as iets hoogheiligs behoort dit aan hom uit die vuuroffers van die HERE -- 'n ewige insetting.”

Die Brood van die Teenwoordigheid”, soos hierdie twaalf koeke genoem is, moes vóór God geplaas word – vars, op elke Sabbat. Wanneer die ou brood verwyder is, moes dit deur die nuwe varsgebakte brood vervang word. Daarna, soos voorgeskryf, moes die ou brood deur Aäron en sy seuns geëet word.

Die vraag is al dikwels aan my gestel waarom God dit van iemand sou verwag om ou brood van ‘n week oud, te eet; trouens, indien die brood – soos dit wel die geval was – onbedek gelaat is, is die kans goed dat vlieë daarop kon gesit of dat dit muwwerig kon geraak het. Aangesien ons egter weet wat God se opdrag met betrekking tot skimmel of muf was, hoe kon so ‘n opdrag dan moontlik wees? Sommiges beweer dat die brood wonderbaarlik vars gebly het, terwyl ander meen dat die suiwer wierook, wat op elke ry, langs die brood geplaas is, dit vars laat bly het. Nadat ek egter die bewaringsmoontlikhede van wierook nagegaan het, het ek vasgestel dat dit oor geen sodanige eienskappe beskik nie. Wierook is in antieke tye deur Egiptenare gebruik as bestandeel vir oogomlyner, asook in tradisionele medisyne, vanweë die verskeie genesende eienskappe daarvan, maar was en word steeds gebruik vir die welriekendheid daarvan. Wat is dus die antwoord: waarom is daar van Aäron en sy seuns verwag om muwwerige brood te eet? Eintik is dit baie eenvoudig:

Levitikus / Vayikra {2:11} “Geen spysoffer wat julle aan die HERE bring, mag van iets wat ingesuur is, berei word nie; want van géén suurdeeg of heuning mag julle vir die HERE 'n vuuroffer aan die brand steek nie.”

Indien niks wat ingesuur was of suurdeeg bevat het, in enige offerhande aan God moes wees nie, was die brood van die Teenwoordigheid, dus geensins brood nie, maar wel matzah. Hierdie feit verander alles! Ter inligting vir diegene wat onbekend is met matzah, word daarop gewys dat dit eintlik ‘n tipe bros kraakbeskuitjie is, saamgestel slegs uit meel en water. Dit word dan binne agtien minute nadat dit aangemaak is gebak om te voorkom dat dit, selfs vanself, rys. Matzah wat behoorlik versorg word, sal nie bedorwe raak nie. Ons beskik oor verpakte matzah, wat oorgebly het van die vorige Paasfees (Pesach). Dit is steeds bros en so vars soos die dag waarop dit gebak is. (Terloops, dit is feitlik smakeloos) Matzah kan wel beskadig word deur klammigheid, maar in aggenome die Israelse droë klimaat, is vogtigheid dus selde ‘n problem. Die brood van die Teenwoordigheid sou gevolglik aan die einde van die week net so vars gewees het soos aan die einde van die week en steeds geskik gewees het vir Aäron en sy seuns om te eet.

Die twaalf matzhot (meervoud van matzah), wat in die gewyde plek geplaas is, het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig. Daarom glo ek, dat die twaalf matzhot, tesame met die wierook, ‘n herhinnering voor God was van wie die kinders van Israel was deur die korbanot (naderkoms-/ sondoffers) wat hulle gebring het. Die feit dat die brood elke week vervang moes word, meen ek, het ‘n “vars” herhinnering voor God verteenwoordig van wie die kinders van Israel in die olam haba (toekomstige wêreld) sou wees – sondeloos soos die matzhot. Die wierook was ‘n aangename geur voor God, wat Hom herhinner het hoe aangenaam ‘n sondelose Israel sou wees. Die feit dat Aäron en sy seuns die ou brood in ‘n gewyde plek moes eet en nie toegelaat
is om dit huis toe te neem en dit gedurende die week saam met hul maaltye te eet nie, herhinner ons daaraan dat enigiets wat vir God se doeleindes gebruik is, nie alledaags geag moet word nie. Ek glo dus dat die eet van hierdie heilige brood, geen ander betekenis gehad het as dat dit hul erfdeel van God was nie.

Volgens Rabbynse leer, het die cohenim (priesters) die opdrag van God dat die Brood van Teenwoordigheid altyddeur voor Hom moes wees, so ernstig opgeneem dat wanneer ou brood deur een cohen (priester) aan die éénkant van die tafel van die toonbrood verwyder word, ‘n ander priester terseldertyd die nuwe brood daarop moes neerlê.

Soos die kinders van Israel van vandag – sowel Jode as nie-Jode – één in Jesus die Messais is, is Jesus ons konstante en ewige vars herhinnering voor God van wie ons in die olam haba (toekomstige wêreld) sal wees. Nie slegs dit nie, maar ons is Jesus se erfdeel, deur die Vader aan Hom toevertrou.

Herbreërs / Ivrim {2:13} “en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou