Maandag 30 Augustus 2021

Dankbaarheid

Ki Tavo
(Wanneer Jy Ingaan)


Deuteronomium {26:1} “EN as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon, {26:2} dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ’n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, {26:3} en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee. {26:4} En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit. {26:5} Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was ’n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ’n groot, magtige en talryke nasie geword. {26:6} Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ’n harde diens op ons gelê. {26:7} Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; {26:8} en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en duur tekens en wonders; {26:9} en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. {26:10} Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God.”

Wanneer julle jul tiendes bring, gee julle dit uit skuldgevoel of uit verpligting of uit dankbaarheid? Ongelukkig gee baie van ons dit uit skuldgevoel of verpligting. God het ons beveel en daarom gee ons; Trouens oor soveel jare heen was daar soveel valse onderrig oor die gee daarvan, dat baie mense gee met die verwagting om dubbel of driemaal soveel terug te ontvang. Uit die Skrifgedeelte van hierdie week, sien ons dat ons moet gee uit dankbaarheid, nie uit skuldgevoel of verpligting nie en beslis nie om enigiets terug te verwag nie. Ons moet gee en oorvloedig gee wat dit betref, uit dankbaarheid vir wat die Here vir ons gedoen het.

God het soveel vir ons gedoen: Hy het ons uitroepe gehoor, Hy het ons trane gesien, Hy was bewus van ons slapelose nagte en Hy was bedroef hoe die Satan ons onderdruk het. Dus het Hy ons verlos uit die slawerny van sonde na die vryheid om Hom te aanbid. Gebooie wat ons eens as neerdrukkend beskou het, het nou deur Jesus die Messias, wat in ons woon, ‘n vreugde geword en ‘n seën wat daarop volg. Ja, soos deur die profete van ouds belowe, het God na ons toe neergebuig, ons met Sy reddende regterhand gered en ons is as Sy kinders weergebore. Desnieteenstaande, gee baie van ons steeds ons tiendes omdat ons daartoe verplig voel.

Deur Jesus die Messias is ons weergebore in die koninkryk van God - ‘n ware plek van seën. God se koninkryk is nie iewers ver in die toekoms nie: dit is waarlik hier en lewe binne-in ons.Ons, gelowiges in Jesus die Messias, is die koninkryk van God. Daarom dra ons in onsself die eienskappe van die koninkryk: liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid , betroubaarheid, sagtheid en selfbeheersing. Dit is die vrugte van God se Gees, wat met ons redding in ons kom woon het. Daarom is God se koninkryk lewend, hier op aarde en ons daarin.

Eendag, een of ander tyd na die wederkoms van Jesus die Messias, sal die bose geoordeel word. Almal wat onwaardig bevind word, sal gestuur word na ‘n plek van spirituele duisternis en hopeloosheid - ‘n plek sonder God. Diegene wat egter regverdig bevind word, sal gered word en in die hemel gaan woon - ‘n plek wat met God se liefde gevul is. In daardie tyd sal die koninkryk van God die ganse aarde omvat. Tot dan, word dit egter beperk tot dié van ons wat glo. Ons is ‘n geweldige dankbaarheid verskuldig aan die Here vir alles wat Hy vir ons gedoen het en om hierdie rede waarsku Hy ons soos volg in Sy Woord:

Deuteronomium {8:11} “Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:12} sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, {8:13} en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder — {8:14} en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; {8:15} wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen — {8:17} en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe.{8:18} Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is.”

Ek dink dit is noodsaaklik om ons harte te ondersoek wanneer ons tiendes en offergawes aan die Here bring; trouens, ons behoort hierdie Skrifgedeeltes, in ons Parasha aangehaal, aan te pas en verpersoonlik asook in ons harte te onthou wanneer ons gee dat ons ook eens skuldenaars in slawerny aan die sonde was. Ons moet daaraan dink dat sonde wreed met ons gehandel het, ons beproef het, geteister het en ‘n swaar slawerny op ons gelê het. Toe het ons die God van ons voorvaders aangeroep - Hy het ons stem gehoor, ons beproewing, ons ons swaarkry en onderdrukking gesien. Die Here het na ons toe neergebuig en ons uit ons beproewing gered deur die bloed  van Jesus die Messias, wat aan die kruis vir ons gestort is. Hy het ons gebring by ‘n plek van vreugde en vrede. Nou kan ons die eerste vrug van ons arbeid bring, nie uit skuldgevoel of verpligting nie, maar met dankbaarheid en waardering.

Wanneer julle dus volgende keer aan die Here gee - in plaas daarvan om dit in die kollektemandjie te plaas of in die Tzadaka (offer) - houer te steek, onthou wie julle toe was en wie julle nou is en gee uit dankbaarheid en waardering. Wat ‘n verskil sal dit nie maak nie!

 Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Donderdag 19 Augustus 2021

Waardigheid

Ki Teitzei 
(Wanneer jy Uittrek) 


Deuteronomium {21:10} “AS jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, {21:11} en jy onder die gevangenes ’n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem, {21:12} dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip. {21:13} En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ’n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees. {21:14} En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.” 

Ek is al dikwels versoek om hierdie Skrifgedeelte te verduidelik. Wat dit behels, is dat wanneer ‘n soldaat ‘n vroulike gevangene aantreklik vind, moet hy, voordat hy haar as sy vrou neem, haar eers toelaat om oor haar vader en moeder- wat waarskynlik in die oorlog omgekom het- te rou vir ‘n tydperk van dertig dae. Gewoonlik is slegs maagde gevange geneem en alle ander vroue normaalweg doodgemaak. In die geval van die aantreklik gevange maagd, nadat haar routyd (een maand) verstryk het, is die gevangenemer toegelaat om met haar te trou. Die Skrif vereis dat indien sy haar gevangenemer nie meer langer behaag nie, hy haar moet vrylaat maar nie verkoop nie aangesien hy haar onteer het. 

Baie mense het al probeer om hierdie Skrifgedeelte te gebruik om egskeiding te regverdig. Hulle beweer dat indien die Here so iets met ’n vreemde vrou toelaat, Hy dan sekerlik die egskeiding van alle vroue sou toelaat. Met die eerste oogopslag en vanuit ‘n oppervlakkige indruk van hierdie Skrifgedeelte, sou ek moes saamstem. Oënskynlik dui dié op egskeiding volgens die gier van die man, maar is dit wat werklik bedoel word? 

Eerstens, soos ons bewus is, verafsku God egskeiding! Daarom sou Hy die seksuele op-die-proefstel van jou vrou, (soos wanneer ‘n mens ‘n paar skoene aanpas) voordat jy besluit of jy met haar wil trou, hoegenaamd nie kondoneer nie. Ook sou Hy haar verwerping nie kondoneer indien sy die man se misnoeë op die hals haal, soos die Skrif blykbaar bepaal nie. Kom ons beskou die gedeelte van nader en probeer presies bepaal wat die Here hier vir ons sê. 

Soos wat ek hierdie gedeelte lees en verstaan, kondoneer die Here nie egskeiding nie! Hy gee eerder opdrag dat ‘n vrou wat in oorlog gevange geneem is, redelik en met medelye behandel moet word. Tydens oorlog was verkragting en vanuit ‘n posisie van bevoorregting bo gevange vroue, ‘n baie algemene praktyk onder die heidense nasies, wat Israel besig was om van hulle grondgebied te ontneem. God se volk sou uiteenlopende standaarde van moraliteit hê, selfs in oorlogstyd. Dus het die Here toegewings gemaak vir soldate, wat ná oorlog ‘n gevange vrou aantreklik sou vind. Die vrou moes haar hare afskeer, haar naels afknip, haar klere vervang met rougewaad en onaangeraak vir dertig dae in haar buitmaker se huis bly. Die afskeer van haar hare, afknip van haar naels en die dra van ‘n sakgewaad sou ongetwyfeld alle oppervlakkige fisiese aantreklikheid van die vrou ontneem. Die dertig dae wagtyd sou aan die man die geleentheid bied om die ware vrou, haar persoonlikheid, karakter en temperament waar te neem. Na dertig dae kon die man geslagsgemeenskap met haar hê en en haar as sy vrou neem. Dan bepaal die Skrif verder: 

Deuteronomium {21:14} “En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.” 

Dit is hier waar die misverstande ontstaan Om te begryp wat hierdie vers eintlik beteken, moet ons sekermaak waarna die woorde “omdat jy haar onteer het“ verwys. Daar is ‘n aantal in die Hebreeuse Geskrifte, wat op die regte betekenis hiervan kan dui: 

1 Kronieke {19:4} “Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan.” 

Hierdie gebeurtenis van die afskeer van koning Dawid se dienaars, was ‘n vorm van vernedering in die antieke Nabye Ooste. Soos ons meegedeel word, het die mans, uit skaamte nie na Jerusalem teruggekeer voordat hulle baarde weer gegroei het nie. Net so was die afskeer van ‘n vrou se hare,’n vorm van vernedering en skande vir haar. 

Job {1:20} “Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval” 

Hierdie gedeelte dui daarop dat Job sy hare afgeskeer het as ‘n vorm van verootmoediging voor die Here nadat hy die nuus van die dood van sy kinders verneem het. 

1 Korinthiërs {11:15} “maar as ’n vrou lang hare dra, dit vir haar ’n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ’n bedekking?” 

Die afskeer van ‘n vrou se hare, die afknip van haar naels en die dra van rougewaad, is almal antieke Nabye Oosterse metodes van verootmoediging en vernedering van ‘n persoon. Daarom sou “omdat jy haar onteer het” nie toepaslik wees op die feit dat die man geslagsgemeenskap met haar gehad, haar tot vrou geneem en toe nie van haar gehou het nie, maar eerder verwys na die feit dat die vrou sowel verootmoedig as verneder is deur die afskeer van haar hare, afknip van haar naels en die dra van ‘n rougewaad voordat hy met haar getroud is. Ons God vereis regverdige behandeling en respek vir alle vrouens. 

Dit sou dus die werklike verloop van gebeure wees wat in die aangehaalde gedeelte verduidelik is. ‘n Soldaat het ‘n gevange vrou aantreklik gevind en wou haar tot sy vrou neem. Voordat hy dit egter kon doen, moes hy haar fisies onaantreklik maak, as bewys van sy ware toegeneentheid en voorneme; ook met in agneming dat sy nou nie ‘n moeder of vader gehad het om haar saak te bepleit nie. Derhalwe moes sy haar hare afskeer, haar naels afknip en vir dertig dae ‘n sakgewaad dra. Indien hy ná dertig dae haar steeds aantreklik gevind het, kon hy met haar trou. As hy egter gedurende die tydperk van dertig dae, voordat hy met haar geslagsgemeenskap gehad het, vind dat sy hom nie langer behaag nie, moet die man haar vrylaat en kan hy haar nie as ‘n slavin behandel nie omdat hy haar onderdanig gemaak en verneder het deur haar hare af te skeer, haar naels af te knip en haar rougewaad te laat dra het. 

Ons kan dus sien dat hierdie gedeelte geensins ‘n egskeiding kondoneer volgens die nuk van die man nie, maar eerder die regte en waardigheid van die vrou verdedig! Ons God is ‘n ontsagwekkende God!!!  

Kom gou Jesus! 

PDF weergawe




















Sondag 15 Augustus 2021

Dubbelhartigheid

Shoftim 
(Rigters) 

Deuteronomium {16:18} "REGTERS en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ’n regverdige regspraak. {16:19} Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. {16:20} Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee. {16:21} Jy mag vir jou nie ’n heilige boomstam — enige boom — plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."

Hierdie week se Parasha begin met die Here se gebod om altyd onpartydig te wees met ons oordele en nooit ‘n omkoopgeskenk te aanvaar nie. Ons besef dit alte goed en dit hoef nie verder gesê te word nie, dat omkoop of geskenk ons oordeel sal vertroebel. Toe ek Rabbi by Kehila Melech Yisrael was, was ek uiters versigtig om nooit iemand aan te moedig om groot geskenke-veral geld aan my te gee nie. Ek benadruk die woord “groot” omdat klein geskenke normaalweg uitdrukking van waardering kan wees en soms in ‘n toepaslike situasie, aanvaarbaar is. Ek kan egter insien hoedat ‘n groot geskenk of een wat met verkeerde motiewe gegee word, my oordeel sou kan vertroebel en my moontlik kon beïnvloed het om iemand nie behoorlik tereg te wys of dissiplineer nie. Regverdige oordele en die gee van omkoopgeskenke is baie belangrike onderwerpe en ek sou sekerlik ’n hele kommentaar daaroor kon skrywe. Dit was egter nie wat my opgeval het terwyl ek die Tora Parasha deurgelees het nie. Die volgende verse het inderdaad uitgestaan:

Deuteronomium {16:21} "Jy mag vir jou nie ’n heilige boomstam — enige boom — plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."

Ons kan net aflei dat die Here onwrikbaar is oor die plant van ‘n (Asherah) heilige boomstam of enige soort boom of die oprig van enige soort klippilaar langs Sy altaar of verbrande offerande. ‘n Asherahpaal of pilaar is ‘n simbool van heidense aanbidding. Die heidense nasies wat Israel sou verdryf, het hierdie gekerfde bome en pilare op hulle godsdienstige plekke opgerig as deel van hulle heidense verering van hulle sataniese gode. Die Here wou nie gehad het dat Sy volk enigiets met hierdie of enige ander tipe heidense praktyk te doen het nie. Hy wil veral ook nie hê dat ons heidense praktyke met ons aanbidding van Hom inmeng nie. 

Watter betekenis het hierdie gebod vandag vir ons? Baie, sou ek sê, ongelukkig omdat meeste Christelike denominasies heidense praktyke vermeng met die aanbidding van die Een Ware God. Eerstens het hulle die heidense simbool van ‘n versierde boom (Kersboom) geïnkorporeer met die aanbidding van die geboorte van ons Messias, Jesus. Tweedens, het baie Christelike denominasies paaseiers, ‘n simbool van die Mesopotamiese godin van seksuele liefde en vrugbaarheid, geïnkorporeer met die opstanding van Jesus. Daar is selfs sekere denominasies wat veelgodery inkorporeer in hulle geloof deur die aanbidding van heiliges. Onwetend glo hulle valslik dat hierdie “heiliges” vir hulle ‘n voorspraak by God kan wees, terwyl hulle inderwaarheid afgestorwenes aanbid, iets soortgelyk aan Taoisme.

Christene is egter nie die enigste skuldiges nie. Judaïsme het die antieke Egiptiese simbool, wat met die maangodin Tania geassoosieer word, geïnkorporeer in hulle godsdiens. Die “hamsa hand”, ook bekend as die “hand van Maria en die hand van Miriam,” tesame met die simbool van die “alsiende oog,” is beide van heidense oorsprong, maar is tot vandag toe nog deel van Judaïsme. Daarbenewens het Judaïsme ook die onderrig en praktyk van kabbalah geïnkorporeer: ‘n vorm van Joodse mistiek, onder die ander gruwels, wat astrale projeksie en reïnkarnasie behels. Kabbala is egter nie die enigste gruwel onder die Judaïsme nie! Selfs Messiaanse Jode laat Kabbala-praktyke in hulle onderrig toe. Boonop hou ontelbare gelowiges kopieë van die Koran, die boek van die Mormone en ander boeke wat gruwels verkondig, in hulle huise aan en dink niks daarvan nie. Dan is daar ook die praktyk om Boedabeelde en ander sataniese, heidense godheidsimbole as versierings te hê.

Deuteronomium {7:26} "En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ’n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek."

Ons kan nie dubbelhartig wees nie. Ons aanbid God met ons hele siel, met al ons krag, met al ons harte en Hom alleenlik of ons misbruik ons aanbidding van Hom deur vreemde heidense praktyke daarby te inkorporeer.

Matthèüs {7:13} "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. {7:14} Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind." 

Kom gou Jesus!