Sondag 26 Februarie 2017

Beloftes, Gedwonge Slawerny en Besluite

Mishpatim
(Oordele)


Eksodus / Bereshit {21:2} “As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan. {21:3} As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. {21:4} As sy heer aan hom ‘n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word. {21:5} Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie— {21:6} dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.”

As julle soos ek is, dan het julle moontlik al gewonder waarom God mense toegelaat het om ander mense te koop. Netsoos ek, is ek seker dat julle dit ook al bevraagteken het waarom ‘n slaaf, wat besluit het om na verloop van die ses jaar by sy eienaar aan te bly, na ‘n deurkosyn geneem is waar sy oor met ‘n els deurboor is.

Sekere vorme van slawerny in Bybelse tye was nie soos ons dit vandag ken nie. Die Bybel maak geen toegewing aan ‘n persoon wat bankrot raak nie; inteendeel, die Skrif leer ons dat indien ons ‘n belofte aflê, dit nagekom móét word. Die leen van geld of aankope op krediet, het altyd die belofte van terugbetaling impliseer. Gevolglik was die nie-nakoming van so ‘n belofte ‘n ernstige oortreding in die oë van die Here.

Númeri / Bamidbar {30:2} ”As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan. “

In die Bybelse tye het mense egter net soos vandag geld geleen. Boere, is ek seker, het geleen teen hul verwagte oeste en gedurende maer jare, sou hulle seker ook verbande op hul lande moes uitneem of teen hul boerdery-benodighede (bv. die os waarmee geploeg is), geld leen. Indien hulle moontlik hul lenings nie kon terugbetaal nie, kon hulle nie bankrot raak nie. Daar was dus absoluut geen manier om hul skuld af te skryf nie. 

Bankrotskap is ‘n uitvinding van ons moderne tye en bestaan nagenoeg vierhonderd jaar, maar volgens die Woord van God, kan skuld nie afgeskryf word nie – dit móét vereffen word. Wat het dus gebeur wanneer iemand nie sy skuld kon betaal nie? God het inderdaad vir só ‘n gebeurlikheid voorsiening gemaak! Die lener moes sy skuld aan die skuldeiser terugbetaal deur sonder vergoeding vir hom te werk. God, wat die boosheid van die menslike hart ken, het egter ‘n beperking op die tyd van sodanige verpligte arbeid gelê: ses jaar was die tydperk wat dit sou duur om skuld terug te betaal. Verder moes daar vir die lener huisvesting en voedsel voorsien word asook dat hy, soos deur die Tora voorgeskryf, billik behandel word. Na verloop van die ses jaar, moes die lener weggestuur word met voldoende goedere om hom te help om sy lewe as skuldvrye man te hervat. Omrede skuld nie afgeskryf kon word nie, behalwe deur genadebetoning van die skuldeiser aan die lener, word skuldeisers soos volg deur die Skrif gewaarsku:

Spreuke / Mishlei {22:7} “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen.”

Begryplikerwyse kan ons hiervan aflei dat die Bybel hoegenaamd nie leen aanmoedig nie.

Daar is ook ‘n verdere voorsiening aangaande slawe in hierdie week se parasha: Indien die persoon wat homself in slawerny verkoop het – om sy skuld af te betaal – om welke rede ookal besluit het om by sy eienaar aan te bly, kon hy dit doen deur sy oor te laat deurboor by die deurpos van die huis. Dit sou hom dus tot lewenslange verhouding van slaaf-eienaar verplig. Nou vra ons onsself af waarom die procedure van deurboring van ‘n oor noodwendig by die deur of deurkosyn moes geskied?

Eksodus {12:22} “En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. {12:23} Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.”

Die kinders van Israel was inderdaad in gedwonge slawerny onder die Egiptenare, maar soos hierbo gemeld, het hulle hul bevryding ontvang deur die aanwend van ‘n lam se bloed aan die deurposte van hul huisdeure. Dit ís geensins en wás ook nooit God se wil vir Sy volk om in slawerny by eingeen behalwe Homself te verkeer nie. Derhalwe was dit ‘n skande vir so ‘n persoon self, wat verkies het om in slawerny by ‘n menslike eienaar te wees, deur sy oor aan die die deurpos van laasgenoemde te laat deurboor as simbool dat hy of sy buite die Wil van God optree. Die skande op sigself het gekom omdat die deurpos, waar die slaaf se oor deurboor is, simbolies die deurposte in Egipte verteenwoordig het, waarteen die lam se bloed gestryk is vir sy of haar ware bevryding.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-02-13






Saterdag 18 Februarie 2017

Welkom In Mý Wêreld, Jakob

Jetro / Yitro

Eksodus / Shemot 18:1–20:23
Jesaja / Yeshayahu 6:1-17:6; 9:5-6
Matthéüs / Mattityahu 5:17-32
Hebreërs / Ivrim 12:18-24


Eksodus / Shemot 18:1 ”Toe Jetro, die priester van Mídian, Moses se skoonvader, hoor alles wat God aan Moses en aan sy volk Israel gedoen het—dat die HERE Israel uit Egipte uitgelei het— {18:2} het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem—nadat hy haar teruggestuur het— {18:3} en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land; {18:4} en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.) {18:5} En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het. {18:6} En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar. {18:7} Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.”

Ek vind hierdie Skrifgedeelte, geneem uit dié week se Toralesing, besonder bemoedigend; trouens, ek dink alle getroude pare behoort dit ook so te ervaar. Die rede waarom ek dit juis bemoedigend vind, is omdat dit ‘n mens laat besef dat huweliksprobleme, wat egpare vandag ondervind – netsoos dié wat ook my eggenote en ek van tyd tot tyd het – niks nuuts is nie. Egpare het al huweliksprobleme gehad sedert die instelling van die huwelik. Adam en Eva het húl probleme gehad en nou kry ons ‘n kykie in die onharmoniese verhouding tussen Moses en sy vrou. Ek weet nie van julle nie, maar ek vind dit bemoedigend om te besef dat die gróót manne en vroue van die Bybel nie bomenslik (soos sommige mense hulle graag wil voorstel) was nie, maar brose, gebroke menslike wesens was netsoos die res van ons is! Dit is vir my behoorlik asof Moses vir my sê: “Welkom in mý wêreld, Jakob!”. Ja, soos meeste getroude pare wat al geleef het, het ons ook al huweliksprobleme gehad, alhoewel ons verhouding darem nooit tot op die punt van egskeiding versleg het nie, maar ek is seker dat dié gedagte nietemin op een of ander stadium tog in ons huwelik by ons opgekom het! As dit nie vir Jesus die Messias in ons lewens was nie, wie weet wat kon gebeur het?

Ek het in die jare wat ek ‘n rabbi is, aan baie egpare berading verskaf en ek besef hóé moelik dit is vir twee persone van verskillende gesinsagtergronde, wat met uiteenlopende ideale gootgeword het, wat geleer is om anders te dink en aan verskillende denkwyses blootgestel is, as één saam te kom en dadelik verenigbaarheid te vind. Dit is wel so dat pare soms daarop roem hoe eensgesind hul benaderings is en hoe gelukkig hulle tydens hul hofmaak – en selfs verlowingstye is, maar feit bly, dat hóé eenders hulle moontlik dink hulle is, hulle hoegenaamd nie is nie! Hulle is inderdaad twee baie verskillende en uiteenlopende persone met twee verskillende en uiteenlopende persoonlikhede.

Omstandighede verander ná die huwelik: om as getroude paar saam te woon, is hoegenaamd nie dieselfde as toe hulle hofgemaak of verloof was nie. Dit is maklik om ‘n front voor te hou en ‘n mate van persoonlike misterie te handhaaf wanneer persone nie saamwoon nie, maar wanneer ‘n getroude paar onder één dak woon, val die maskers af en dít is wanneer die huwelik eintlik begin. Uit my ondervinding het dit geblyk dat meeste nuwe egpare – veral dié wat nie voorhuwelikse berading ontvang het nie – meeding om gesag in die verhouding. Persone wat egter behoorlike berading ontvang het, sou aan daardie aspek van hul verhouding vroegtydig aandag geskenk het, maar ongelukkig het nie alle pare, wat ek ontmoet het, berading ontvang nie en aan baie wat dit wél ontvang het, is die Bybelse rol van man en vrou in die huwelik nie verduidelik nie. Uit die volgende Skrifgedeelte, skyn dit asof dit inderdaad met Moses en Sippóra die geval was:

Eksodus / Shemot {4:24} ”En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak. {4:25} Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom! {4:26} En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.”

Hoe ek hierdie Skrifgedeelte vertolk, is dat Moses besig was om sy heidense vrou, wat oënskynlik besnydenis afgekeur het, probeer behaag het deur nie sy seun te besny nie. Dit was blykbaar ‘n belediging teenoor God, want Hy het, volgens die Skrif, dit so ernstig geag dat Hy Moses wou doodmaak, moontlik deur om hom met ‘n siekte of iets dergliks te tref of hoe ookal God verkies het om Moses te dissiplineer, wat ongetwyfeld tot sy dood sou lei. Toe Sippóra egter verneem of deur Moses meegedeel is dat sy beproewing van God was en ‘n regstreekse gevolg was dat hy nagelaat het om sy seun te besny, het sy die besnydenis met ‘n skerp klip self uitgevoer en met veragting die voorhuid by Moses se voete neergegooi. Ons verneem egter nie verder van Sippóra nie, totdat haar vader haar met Moses verenig het, volgens hierdie week se Parasha. Ons weet nie hoe lank hulle uiteen was nie, maar ek waag dit om te sê dat Sippóra, na daardie gebeurtenis, moontlik ‘n meer liefdevolle, sagte en onderdanige vrou was.

Ons moet egter nie onder die wanindruk verkeer dat ons huwelike sonder konflik gaan wees nie, maar eerder vir Jesus die Messias as middelpunt van ons huwelike stel en tot Hom bid om ons te help om dit , waarvoor die apostel Paulus geskryf het, na te kom:

Kolossense / Kolosim {13:18} ”Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. {3:19} Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.”

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-02-05

Vrydag 10 Februarie 2017

Hou Op Om Met Jul Demone Gemaklik te Wees

Beshalach

(Dit het gebeur)


Exodus / Shemot {14:12} “Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.”

Dit is moeilik om te glo wat hierbo gesê word omdat die kinders van Israel onder sware slawerny verkeer het terwyl hulle in Egipte was. Volgens die Skrif, is hulle mishandel en moes hulle harde-arbeid verrig. Daar was selfs 'n stadium wat die farao van hulle vereis het om stene te maak met strooi wat hulle self moes gaan soek. Voorheen is hulle van strooi voorsien, maar daarna moes hulle dit self in die hande kry, sonder dat die daaglikse kwota stene, wat hulle moes maak, verminder is. Dit klink vir my na alles behalwe 'n aangename lewe, waarna hulle sou wou terugkeer! Waarom sou hulle dan teenoor Moses gekla en beweer het dat dit vir hulle beter was in hul toestand van slawerny in Egipte?

Ek het al dikwels soortgelyke situasies in ons gemeente ervaar. Nee, niemand wil na Egipte terugkeer nie omdat geeneen van ons gemeente van Egipte is nie, maar daar is mense onder ons wat ongetwyfeld in 'n vorm van slawerny - binding (“bondage”) verkeer.

Ek is verlede week deur iemand genader wat dag en nag geestelik en emosioneel geteister is. Hy het stemme gehoor, wat hom erg gekwel en verontrus het. Nadat ek 'n rukkie met hom gesels het, het dit aan die lig gekom dat hy by die okkulte betrokke was. Vóór hierdie ondervinding, het hy egter nie sulke simptome ervaar nie, maar alles het daarna verander. Aangesien ekself, vóór my verlossing, ook by die okkult betrokke was, het ek onmiddelik besef dat hierdie persoon met een of twee demone kennis gemaak het en besig was om deur hulle demonies onderdruk te word.

Ja, ons word blootgestel aan demone indien ons betrek word by aktiwiteite waarin die satan betrokke is, soos die okkult. Laasgenoemde sluit ondermeer in (maar is nie noodwendig daartoe beperk nie): Tarotkaarte, handlynkunde, waarsêery, astrologie en selfs iets so skynbaar skadeloos soos die lees van horoskopie. Al hierdie praktyke hou die moontlikheid van demonies binding / onderdrukking in vir diegene wat hulself daarmee bemoei. Ek het vir hierdie persoon gebid en hom van sy betrokkenheid by die okkult laat afsien – 'n metode van bevryding, wat ek in die verlede ook al toegepas het, selfs op myself. Nadat ek gebid het, het ek die persoon gerusgestel deur hom te verseker dat deur my gebed, die demone hom verlaat het en hy nou bevry was van hierdie binding. Al wat hy nou moes doen, was om dié feit te aanvaar. Ongelukkig – enkele minute na mý gebed – het ek gehoor hoe die persoon sy ondervinding met iemand anders deel en vra dat dié vir hom bid om bevryding.

Die doel van my verhaal en van hierdie Skrifgedeelte, wat ek uit ons Parasha van dié week aangehaal het, is dat sommige mense heel “gemaklik” met hul demone is en nie werklik van hulle ontslae wil raak nie. Die bovermelde persoon wou nie aanvaar dat hy bevry is nie, maar het verlang dat iemand anders wéér vir hom bid. Dit is ongelukkig 'n gewoonte wat sulke persone moontlik oor en oor herhaal. Miskien sal dit hul lot wees totdat die demone hulle tot kranksinnigheid dryf, wat vanselfsprekend hospitalisasie en psigiatriese behandeling vereis, òf totdat hulle hul bevryding finaal aanvaar en die demone terugstuur na waar hulle hoort.

Die kinders van Israel was tevrede met hul demone; hulle was nie bereid om 'n nuwe bestaan van vryheid in die Beloofde Land te begin nie. Hulle was gelukkig met hul omstandighede in Egipte. Vir hulle het die gedagte om bevry te word – ofskoon dit aanloklik geklink het toe Moses dit aanvanklik voorgestel het – glad nie meer so gunstig geblyk nie. Die bevryding was vir hulle te moeilik om te aanvaar. Hulle wou terugkeer na hule vorige bestaan, 'n lewe van binding en onderdrukking, omdat hulle daaraan gewoond was en gevolglik daarmee gemaklik was.

Baie mense word demonies onderdruk – ja, selfs gelowiges in Jesus die Messias! Tensy hulle daarmee staak om gemaklik te wees met hul demone, sal hulle nooit daarvan bevry word nie.

Jacobus / Ya'acov {4:7} “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. {4:8} Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! {4:9} Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. {4:10} Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”

Wil julle verlos word van demoniese onderdrukking? Hou dan op om met jul demone gemaklik te wees!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-01-30








Saterdag 04 Februarie 2017

Dit is Maklik om te Doen

Bo
(Gaan)


Eksodus / Shemot {10:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, {10:2} en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is. ”

Waarom verhard God ‘n mens se hart? Ek glo dat daar twee redes is. Eerstens, dat Sy wil deur die mens uitgevoer moet word en, tweedens, dat die mens moet besef, dat Hý God is en geen ander nie. In beide gevalle blyk hierdie doel met die farao van Egipte, soos wat God sy hart verhard het, ter voorbereiding vir die uittog van die kinders van Israel.

Wanneer meeste mense hierdie week se Parasha lees, is hulle bekommerd omdat God gesê het dat Hy die farao se hart verhard het. Sommige vertolk dit asof God harte blindelings verhard, gevolglik meen hulle natuurlik dat God wispelturig is en miskien eendag sonder rede, ook húl harte mag verhard. Dit is hoegenaamd nie die geval nie. God verhard nie sommer sonder rede ‘n mens se hart nie.

Hoe maak God dan ‘n keuse oor wie se hart Hy wil verhard? Die antwoord word verstrek deur vandeesweek se Tora-gedeelte:

Eksodus/ Shemot {10:3) ”Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.”

God verhard die harte van diegene wat weier om hulself voor Hom te verootmoedig. Die farao het voldoende geleentheid gehad om hom voor God te verootmoedig, maar hy het nie omdat hy homself as ‘n god geag het. Juis daarom het God sy hart verhard sodat Hy hom vir Sy doel kon gebruik, selfs al het dit die farao se dood beteken.

Die farao is nie uniek deurdat hy homself as ‘n God beskou het nie; baie mense – vandag nog – ag hulself as gode. Hulle doen dit deur die één ware God, die God van Israel, die God van hemel en aarde nie te erken nie.

Jy mag miskien sê: “Ek sal nooit so’n iets doen nie”, maar dit kan makliker gebeur as wat jy dink. Elke keer wanneer jy sê dat jy iets gaan doen, wil bereik of êrens heengaan sonder om die soewereiniteit van God, onder Wie se wil jy staan en deur Wie jy bestaan, te erken, ag jy jouself om ‘n god te wees.

Jakobus / Ya'acov {4:13} ”Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— {4:14} julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. {4:15} In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”

Sonder om God te erken in alles wat ons doen, is dit asof óns in beheer is; God is egter in volle beheer van alles wat in ons lewens plaasvind. Derhalwe moet ons, ons verootmoedig en ophou dink dat ons lotsbeskikking in ons eie hande is. Die enigste wyse om dit te doen, volgens die voorafgaande Skrifgedeelte, is om God altyd te erken, deur by alles wat ons sê: “As dit God se wil is” te voeg. Dink nou daaroor: Hoeveel keer het jy jouself as ‘n god beskou – netsoos die farao – en toon dan berou. Erken God van hierdie dag af, in alles wat jy sê en voornemens is om te doen. As ‘n verdere aansporing, dink aan hierdie gelykenis wat Jesus ons vertel het:

Lukas / Uri {12:18} ”Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. {12:19} En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. {12:20} Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?”

Die farao se hart is verhard omdat hy geweier het om God te eer deur homself voor Hom te verootmoedig. Waak dus daarteen dat dieselfde met julle gebeur! 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-01-23