Mishpatim
(Oordele)
Eksodus / Bereshit {21:2} “As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan. {21:3} As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. {21:4} As sy heer aan hom ‘n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word. {21:5} Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie— {21:6} dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.”
As julle soos ek is, dan het julle moontlik al gewonder waarom God mense toegelaat het om ander mense te koop. Netsoos ek, is ek seker dat julle dit ook al bevraagteken het waarom ‘n slaaf, wat besluit het om na verloop van die ses jaar by sy eienaar aan te bly, na ‘n deurkosyn geneem is waar sy oor met ‘n els deurboor is.
Sekere vorme van slawerny in Bybelse tye was nie soos ons dit vandag ken nie. Die Bybel maak geen toegewing aan ‘n persoon wat bankrot raak nie; inteendeel, die Skrif leer ons dat indien ons ‘n belofte aflê, dit nagekom móét word. Die leen van geld of aankope op krediet, het altyd die belofte van terugbetaling impliseer. Gevolglik was die nie-nakoming van so ‘n belofte ‘n ernstige oortreding in die oë van die Here.
Númeri / Bamidbar {30:2} ”As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan. “
In die Bybelse tye het mense egter net soos vandag geld geleen. Boere, is ek seker, het geleen teen hul verwagte oeste en gedurende maer jare, sou hulle seker ook verbande op hul lande moes uitneem of teen hul boerdery-benodighede (bv. die os waarmee geploeg is), geld leen. Indien hulle moontlik hul lenings nie kon terugbetaal nie, kon hulle nie bankrot raak nie. Daar was dus absoluut geen manier om hul skuld af te skryf nie.
Bankrotskap is ‘n uitvinding van ons moderne tye en bestaan nagenoeg vierhonderd jaar, maar volgens die Woord van God, kan skuld nie afgeskryf word nie – dit móét vereffen word. Wat het dus gebeur wanneer iemand nie sy skuld kon betaal nie? God het inderdaad vir só ‘n gebeurlikheid voorsiening gemaak! Die lener moes sy skuld aan die skuldeiser terugbetaal deur sonder vergoeding vir hom te werk. God, wat die boosheid van die menslike hart ken, het egter ‘n beperking op die tyd van sodanige verpligte arbeid gelê: ses jaar was die tydperk wat dit sou duur om skuld terug te betaal. Verder moes daar vir die lener huisvesting en voedsel voorsien word asook dat hy, soos deur die Tora voorgeskryf, billik behandel word. Na verloop van die ses jaar, moes die lener weggestuur word met voldoende goedere om hom te help om sy lewe as skuldvrye man te hervat. Omrede skuld nie afgeskryf kon word nie, behalwe deur genadebetoning van die skuldeiser aan die lener, word skuldeisers soos volg deur die Skrif gewaarsku:
Spreuke / Mishlei {22:7} “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen.”
Begryplikerwyse kan ons hiervan aflei dat die Bybel hoegenaamd nie leen aanmoedig nie.
Daar is ook ‘n verdere voorsiening aangaande slawe in hierdie week se parasha: Indien die persoon wat homself in slawerny verkoop het – om sy skuld af te betaal – om welke rede ookal besluit het om by sy eienaar aan te bly, kon hy dit doen deur sy oor te laat deurboor by die deurpos van die huis. Dit sou hom dus tot lewenslange verhouding van slaaf-eienaar verplig. Nou vra ons onsself af waarom die procedure van deurboring van ‘n oor noodwendig by die deur of deurkosyn moes geskied?
Eksodus {12:22} “En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. {12:23} Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.”
Die kinders van Israel was inderdaad in gedwonge slawerny onder die Egiptenare, maar soos hierbo gemeld, het hulle hul bevryding ontvang deur die aanwend van ‘n lam se bloed aan die deurposte van hul huisdeure. Dit ís geensins en wás ook nooit God se wil vir Sy volk om in slawerny by eingeen behalwe Homself te verkeer nie. Derhalwe was dit ‘n skande vir so ‘n persoon self, wat verkies het om in slawerny by ‘n menslike eienaar te wees, deur sy oor aan die die deurpos van laasgenoemde te laat deurboor as simbool dat hy of sy buite die Wil van God optree. Die skande op sigself het gekom omdat die deurpos, waar die slaaf se oor deurboor is, simbolies die deurposte in Egipte verteenwoordig het, waarteen die lam se bloed gestryk is vir sy of haar ware bevryding.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-02-13