Saterdag 30 Desember 2017

Wees vergewe en gaan voort

VaYech
(En Hy Het Gelewe)

Genesis / BeReshit 47:28 – 50:261
1 Konings / Melachim Aleph 2:1 – 12:1
1 Petrus / Kefa Aleph 1:1 – 9


Genesis / Bereshit {50:15} “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.”

Ons behoort almal te besef dat Josef ‘n voorbeeld is van Jesus die Messias: Josef is deur sy broers verwerp, as ‘n slaaf verkoop, beledig en mishandel, in die gevangenis opgesluit, uit die gevangenis losgelaat en groot aansien verwerf onder die nasies, waarvan Egipte ‘n voorbeeld is. Jesus die Messias is deur Sy broers – Sy eie mense – verwerp. Hy is deur een van Sy dissipels vir dertig silwerstukke verkoop. Hy het neergedaal in die put (=hel), is opgewek en allerhoogste eerbied onder die nasies verwerf. Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus die Messias eindig egter nie dáár nie – dit is slegs die begin en dít is ook hoegenaamd nie toeval nie. Hierdie gedeelte is vir my so tiperend van hedendaagse gelowiges. Vergun my om dit te verduidelik. Julle sal onthou dat in verlede week se parasha (parasha VaYigash), Juda en die ander broers hul harte voor hom bely het. Op daardie stadium het Josef homself nog nie aan hulle openbaar gemaak nie. Wanneer hy later egter sy ware identiteit aan sy broers bekendmaak, verseker hy hulle dat hy hul sonde vergewe en hul vrygespreek van wat hulle aan hom gedoen het.

Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.”

Josef se broers is vrygespreek: Alles wat in die verlede plaasgevind het, is vergeet en vergewe. Josef het met sy lewe aangegaan, wat skynbaar nie die geval met sy broers was nie. Ten spyte van die feit dat Josef hulle vergewe het, het hulle hulself nie vergewe nie en steeds onder ‘n skuldgevoel gebuk gegaan.

Indien ons nou voortgaan met die vergelyking van Josef as ‘n voorbeeld van Jesus die Messias, is hierdie scenario nie ontstellend gelykstaande aan die lewens van menige gelowige vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, soos wat hy inderdaad erken het, is deur God beskik met die doel dat sy broers, toekomstige geslagte van die kinders van Israel en soveel meer uit ander nasies daardeur bevoordeel sou word. Die broers se belydenis aan Josef, het aan hulle die voordeel verleen om te woon onder die beskerming van Josef, wat tot die magtige posisie van onder-koning van Egipte verhoog is. Eweneens, was alles wat met Jesus die Messias plaasgevind het, deur die Vader bestem met die uitdruklike doel om die kinders van Israel en mettertyd die ganse wêreld te bevoordeel. Wanneer ons ons sonde voor Jesus bely – die sonde wat ons teen Hom gepleeg het deur die oortreding van Sy wette van die Tora, vergewe Hy ons, trouens, ons word verseker:

Miga / Michah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.”

Vergewe ons egter onsself? Baie van ons doen dit nie! Ten spyte daarvan dat ons vergifnis ontvang het, gaan ons nogtans onder skuldgevoelens gebuk. Laat hierdie week se parasha en die aangehaalde Skrifgedeeltes in die besonder, julle in staat stel om nie soos Josef se broers te wees nie. Aanvaar die vergifnis wat Jesus die Messias aan julle geskenk het en gaan voort met jul lewens.

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2010-12-18

Saterdag 23 Desember 2017

Vergewe en Word Vergewe

VaYigash
(En Hy Het Nadergekom)

Genesis / Bereshit 44:18 – 47:27
Esegiël / Yechezekiel 37:15 – 28
Lukas / Uri 6:12 – 16

Genesis / Bereshit {44:18} ”Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ‘n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. {44:19} My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ‘n vader of broer? {44:20} En ons het my heer geantwoord: Ons het ‘n ou vader; en daar is ‘n jong seun, ‘n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. {44:21} Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. {44:22} En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. {44:23} Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. {44:24} En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, {44:25} het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ‘n bietjie voedsel. {44:26} Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. {44:27} En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het— {44:28} die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.”

Miskien ervaar ek nie juis ‘n goeie dag nie en voel ek ietwat sinies, omdat ek, met die lees van hierdie Skrifgedeelte, aanhoudednd gedink het: “Watter onsin het Juda nie gepraat nie.”. Hoe kon enigeen sulke leuens kwytraak? Sy broer Josef was dood! Sy vader was onder die indruk dat hy deur ‘n wilde dier verskeur is! Juda was egter terdeë bewus van wat met sy broer gebeur het – hy het hom as ‘n slaaf verkoop! Ja, dieselfde een wat voorgestel het om ‘n wins uit hul stiefbroer te maak, het nou in ‘n powere poging om hul oorblywende stiefbroer te red, blatant gelieg. Dit is egter ironies omdat ons almal weet aan wie hy hierdie leuens vertel het.

Kom ons plaas onsself vir ‘n oomblik in Josef se posisie. Indien dit jy of ek was, aan wie Juda hierdie opgemaakte storie vertel het, sou ons hom ongetwyfeld voor stok gekry het – veral (soos jy moontlik uit hierdie kommentaar wel kan aflei) was ek bloot, deur dit deur te lees, absoluut ontsteld! Stel jouself voor indien ek die tweede magtigste person in die land was en ek sulke bog werklik moes aanhoor – verstommend!

Weet jy wat is selfs nog meer verstommend – Josef se reaksie!

Genesis / Bereshit {45:1} “Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. {45:2} Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. {45:3} En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.”

Of Josef was ‘n heilige óf God probeer hier vir ons iets meedeel – dit is vanselfsprekend die laasgenoemde. Op grond van vorige kommentare is ons reeds daarvan bewus dat Josef ‘n voorbeeld van Jesus die Messias is en ofskoon óns teenoor Juda, negatief sou reageer het, sou dit hoegenaamd nie God se reaksie gewees het nie. Hier het ons dus ‘n volmaakte beeld van die liefde en medelye wat Jesus die Messias teenoor ons openbaar. Net soos Juda, was ons, vóór ons gered is, ook leuenaars en bedrieërs, terwyl ons altyd alles vir eie gewin skeef voorgestel het, maar toe is ons gered en het alles verander. Wat ons dus in Josef sien, is wat Jesus die Messias ons in die Brit Chadasha geleer het:

Markus / Mordechai {11:25} “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. {11:26} Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”

Josef het die volste rede gehad om vir sy broers kwaad te wees en veral nadat hy moes verduur wat Juda kwytgeraak het, sou dit hom des te meer rede gegee het om kwaad te word. Soos ek reeds gesê het, sou jy of ek beslis ons humeur verloor het, maar God leer hier vir ons ‘n uiters belangrike les, naamlik indien ons nie vergewe nie, sal ons nie vergewe word nie. Verder, leer ons nog ‘n bietjie meer aangaande die karakter van ons Hemelse Vader. Josef, weerspieël hier in werklikheid Jesus die Messias, wat God is. Op grond van hierdie parasha, sien ons waarlik hoedat God Homself aan sy eie Tora onderwerp.

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-12-04


Saterdag 16 Desember 2017

Lei Tot Verandering

Miketz
(Aan Die Einde)


Genesis / Bereshit {42:8} ”En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. {42:9} Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is. {42:10} Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. {42:11} Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.”


Dit is die eerste keer wat ons in die Skrif verneem van politieke spioene, selfs in Bybelse tye. Koning Salomo was inderdaad reg toe hy gesê het:

Prediker / Kohelet {1:9} ”Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”

Die bekendste spioene in die Bybel is die twaalf stamhoofde wat deur Moses gestuur is om die land Kanaän te verken, wat terloops ook nie juis geslaagd was nie! Volgens die Skrif, het die Fariseërs ook van spioene gebruik gemaak om ondersoek in te stel na en verslag te doen oor Jesus, die Man van Galilea. Toe die Fariseërs Hom egter wou dood hê en uit die pad uit, maar tog klagtes teen Hom moes vind om Hom die doodstraf te laat oplê, het hulle spioene gebruik. Alle lande van die wêreld maak van spioene gebruik, ten einde inligting of enige ander soort voordeel oor ander regerings in te win, ongeag of hulle op vriendelike of vyandige voet met mekaar verkeer. Die hedendaagse Israel gebruik ook spioene; een van hulle, Jonathan Pollard, dien tans gevangenisstraf uit in die Verenigde State van Amerika, waar hy skuldig bevind is van spioenasie vir Israel op Amerika.

Wanneer spioene vasgetrek word, erken geeneen ooit dat hulle spioene is nie – dit is tensy hulle besig was om te spioeneer op ‘n land wat van marteling gebruik maak om ‘n bekentenis te verkry. Die land vir wie hulle gespioeneer het, ontken egter gewoonlik enige kennis van hulle en gevolglik moet hulle hulself verdedig. Dit is seker maar die prys wat ‘n mens moet betaal om ‘n spioen te gewees het.

Ons kan dus met redelike sekerheid veronderstel dat spioenasie betreklik algemeen in die Antieke Nabye Ooste voorgekom het en tydens Josef se onder-koningskap in Egipte, reeds ‘n probleem was. Indien dit nie die geval was nie, sou hy sy broers moontlik van ‘n klag van ‘n ander aard beskuldig het. Dit is egter nie die feit dat Josef sy broers van spioenasie verdink het wat my opgeval het nie, maar wel hul reaksie op sy beskuldiging.

Genesis / Bereshit {42:11} “Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.”

Dit is beslis seker dat hulle hoegenaamd nie besef het aan wie hulle dit gesê het nie. Josef het geweet dat hierdie manne alles behalwe eerlik was! Hulle het so pas vir hom gelieg deur voor te gee dat hy, Josef, dood was, terwyl hulle hom sonder enige berou vir ‘n wins aan ‘n groep Midianiete verkoop het. Ten spyte hiervan, is ek tog van mening dat hierdie tien manne hulself inderdaad as eerlik beskou het, ongeag die skuldgevoel oor wat hulle hul broer, Josef, aangedoen het. Dit is tog verbasend watter verwronge beeld ons in ons verstand oor onsself kan versin.

Kan jy nog jou selfbeeld onthou voordat jy bekeer is? Geeneen van ons het onsself tóé as sondaars beskou nie. Ek weet nie van jou nie, want ek het myself altyd as ‘n goeie person beskou. Ek was meelewend, vrygewig en liefdevol – of ten minste so het ek gedink voordat ek gered is. Selfs noudat ons gelowiges is, ten spyte van die feit dat ons almal baie dinge het wat verkieslik uit ons lewens verwyder moet word, is ek oortuig daarvan dat meeste van ons onsself beskou as beter as wat ons werklik is.

Die probleem met Josef se broers, wat, trouens ook ons s’n is, is dat ons onsself beoordeel volgens ons eie norme in plaas van God s’n. Josef was terdeë bewus daarvan wie voor hom gestaan het, maar sy broers was geheel-en-al onbewus van wie hy werklik was. Josef moes hulle eers beproef voordat hulle eindelik besef het dat hulle na alles nie sulke “eerlike manne” was nie.

Soos ons weet, is Josef ‘n voorbeeld van Jesus die Messias. Daarom, as ons besef wat Josef moes gedoen het om sy broers se oë te open vir die waarheid van hul werklike aard, dink net wat Jesus moontlik moet doen om jou aan jou ware aard te openbaar. My raad aan jou is – selfs al is jy gered en glo jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder – bely dat jy nog ver van volmaak is en en bid die Here om jou sagkens tot verandering te lei.


Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-12-04

Saterdag 09 Desember 2017

Om ons les te leer vir die volgende geslag

VaYislach
(En Hy Het Gelewe)


Handelinge / Ma’asei Talmidim 7:9-16

Genesis / Bereshit {38:1} “In dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na ‘n man van Adúllam met die naam van Hira. {38:2}  En Juda het daar die dogter van ‘n Kanaänitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan. {38:3}  En sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar, en sy het hom Er genoem. {38:4}  Daarna het sy weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Onan genoem. {38:5}  En sy het nog weer ‘n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het. {38:6}  En Juda het vir Er, sy eersgeborene, ‘n vrou geneem, en haar naam was Tamar. {38:7}  Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE hom laat sterwe. {38:8}  Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer ‘n nageslag. {38:9}  Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. {38:10}  En dit was verkeerd in die oë van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe. {38:11}  Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.”

Waarom kom hierdie verhaal voor in die middel van die Bybelse verslag oor Josef? Die verhaal van Juda en sy skoondogter Tamar, hou skynbaar geen verband met die voorafgaande verslag oor Josef nie. Waarom sou God dit dan hier ingevoeg het?

Voordat ons begin, vergun my egter om te sê dat Josef se ontvoering deur sy broers en uiteindelike verkoop aan die Midianiete, deur God so beskik was. Alles wat veronderstel was om te gebeur, het wel presies so plaasgevind – selfs die gedeelte waar Juda die winsgewende skema voorgestel het om eerder sy broer te verkoop as om hom in ‘n droë put van die dors te laat omkom!

Ek meen dat dit die rede is waarom die verhaal van Juda en Tamar hier ingevoeg is: Juda was bestem om ‘n leier onder die kinders van Israel te word. Deur hom sou die koninklike afstamming ontstaan waaruit Jesus die Messias gebore sou word. Die volgende Skrifgedeeltes het derhalwe op Juda se posisie betrekking:

Lukas / Uri {12:48} “maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”

En

Eksodus / Shemot {21:16} “En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word.”

Juda se sonde met Tamar, het hom blykbaar uitgewys en God se oordeel was dus op hom. In plaas daarvan dat Juda gesterf het, het sy seuns egter die prys (dood) betaal.

Juda het met ‘n Kanaänitiese vrou getrou, wat ek vermoed, God se besluit om die kinders van Israel uit die land Kanaän te verwyder en in Egipte te vestig, bespoedig het. In Egipte sou die kinders van Israel nie ondertrou nie as gevolg van die Egiptenare se vooroordeel teen hulle. Die kinders van Israel was herders en skaapherders wat Egiptenare met weersin vervul het. Gevolglik sou die kinders van Israel – alleen en op hul eie – vermeerder tot die volk wat God belowe het hulle sou word.

Eksodus / Shemot {34:12} “Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien ‘n strik by jou word nie. {34:16} en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.”

Juda se ontmoeting en ervaring met Tamar het ook die effek van verootmoediging op hom gehad en juis dit het ‘n vername rol gespeel ter voorbereiding van sy toekomstige verootmoediging en belydenis voor die onder-koning van Egipte – sy broer, Josef!

Daar is natuurlik vir ons almal lesse te leer uit Juda se ervaring met Tamar en dit is waarskynlik die rede waarom hierdie gedeelte ingevoeg is. Die eerste les is bevestiging van die Skrif, wat soos volg lui:

Genesis / Bereshit {20:5} “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;”

Die tweede les hou met die eerste verband in soverre ons daarop gewys word hoe belangrik dit is om gehoorsaam te wees en God se gebooie uitdruklik na te kom.


Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-11-27

Saterdag 02 Desember 2017

Die Rede Waarom Edom Behoue Bly

VaYislach
(En Hy Het Gestuur)



Genesis / BeReshit {36:9} “Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. {36:10} Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. {36:11} En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. {36:12} En Timna was ‘n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Amalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. {36:13} En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. {36:14} En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau—sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag.”


Dit het my veral geïnteresseer dat hierdie Parasha met ‘n gedetaileerde beskrywing van die geskiedenis, afstammelinge en geslagsregister van Esau eindig. Esau, soos ons bewus is, is die vader van Edom, wat volgens oorlewering, gewoon het in die gebied Seir, wat vandag as Jordanië bekend staan. Ofskoon die Edomiete regstreeks verwant was aan Israel, was daar nooit juis goeie betrekkinge met Israel nie; trouens, toe die Assiriërs besig was om die noordelike ryk van Israel aan te val, het Edom in die middel stelling ingeneem en elkeen wat die Assiriese inval probeer ontvlug het, vermoor. Om hierdie rede het God die volgende oordeel oor Edom uitgespreek:


Esegiël / Ezekiel {25:12} “So sê die Here HERE: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het— {25:13} daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ‘n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.”


Joël / Yoel {3:19} “Egipte sal ‘n woesteny word, en Edom ‘n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.”


Konings Saul, Dawid en Salomo het almal tydens hul onderskeie regerings Edom verslaan en ingeneem. Nietemin het God, toe Hy Sy belofte om die land Kanaän aan Israel te gee, hulle uitdruklik beveel om Edom alleen te laat. Waarom sou Hy dit gedoen het?


Deuteronomium / Devarim {2:2} “Toe het die HERE met my gespreek en gesê: {2:3} Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg {2:4} en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; {2:5} begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.”


Dit is wat God aan Esau belowe het, selfs al het Saul, Dawid en Salomo die Edomiete verslaan. Uiteindelik het Edom in opstand gekom en hulself van Israel bevry.


Na verloop van ‘n paar duisend jaar, vind ons dat Jordanië wel ‘n vredesooreenkoms met Israel aangegaan het; dit was egter ‘n baie twyfelagtige vrede. Dit laat ‘n mens wonder waarom God aan die nageslag van Edom soveel ruimte in Sy Woord afgestaan het. Ek dink die antwoord kan in die volgende Skrifgedeelte gevind word. (Dié Skrifgedeelte het betrekking op die einde van die verdrukkingstydperk, wanneer die Antichris en sy leërmagte Israel sal binneval):


Daniël / Daniel {11:40} “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. {11:41} Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.”


Waarom sal Edom ontkom aan die hand van die Antichris? Daar word geglo dat in die eindtye wanneer die Antichris aanval, die Israelse vlugtelinge vir veiligheid na Petra in Jordanië sal vlug en die Jordaniërs hulle sal aanvaar.


Na bewering was die hoofstad van Edom, die hedendaagse Petra. Die Skrif meld dit egter nie by daardie naam nie, maar wel as Bosra (Bozrah). Bosra, die koningstad van Edom, word as Petra beskou omdat die beskrywings so volkome ooreenstem.


Openbaring / Hitgalat {12:14} “maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.”


Dit is dus my afleiding: Met die aanvang van die aanval van die Antichris se leërmagte, vlug die Israelse vlugtelinge die wildernis in, wat veronderstel word om Petra te wees, oftewel Bosra, volgens die Skrif. Op grond hiervan deel Jesaja (Yeshayahu) die volgende mee:


Jesaja / Yeshayahu {63:1} “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. {63:2} Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? {63:3} Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. {63:4} Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. {63:5} En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. {63:6} En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.”


Jesus sal nie éérs die Olyfberg opgaan, soos wat baie glo en leer nie. Hy kom wel eers na Bosra, waar die kinders van Israel deur die Jordaniese magte teen dié van die Antichris beskerm word. Jesus kom dus na Bosra, bevry die Israelse vlugtelinge wat daar skuil en voer met Sy leërmag al vegtend die stryd onderweg na Jerusalem, terwyl die magte van die Antichris tog verslaan word. Daarna sal Hy die Olyfberg opgaan, soos in die volgende Skrifgedeelte beskrywe.


Obadja / Ovadyah {1:21} “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.”


Die sogenaamde gebergte van Esau is nie letterlik ‘n berg in Edom nie – dit is egter ‘n verwysing na die heidense nasies van die wêreld. Dit verwys ons na die volgende Skrifgedeelte:


Matthéüs / Mattityahu {25:31} “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; {25:32} en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;”

Kom gou Jesus!




Voorheen uitgegee: 2010-11-20