Saterdag 23 Februarie 2019

Nakoming van Hierdie Ordinansies

KiTisa
(Wanneer Jy Verhef)


Eksodus {30:22} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {30:23}  En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes {30:24}  en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n hin olyfolie; {30:25}  en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees. {30:26}  Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis {30:27}  en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die reukaltaar {30:28}  en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk. {30:29}  So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan hulle raak, word heilig. {30:30}  Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp te bedien. {30:31}  En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte. {30:32}  Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. {30:33}  Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”

God wou nie dat iemand die salfolie, wat deur die priesters gebruik is, reproduseer nie. Die voorgeskrewe formule daarvan was vir hulle uitsluitlike gebruik in hulle diens voor Hom. God was so onversetlik hieroor dat ongehoorsaamheid hieraan die straf van uitroeing uit Sy volk (met ander woorde ekskommunikasie of steniging) sou behels. Die vraag is nou: Ongetwyfeld ken God ons deur-en-deur en besef Hy dat ons in die versoeking kan kom om die olie te reproduseer, indien ons geweet het hoedat dit gemaak moes word. Waarom sou hy dit gedoen het? Eerstens, die feit dat die formule neergeskryf is, weerlê die bestaan van ‘n Mondelinge Tora. Indien God slegs verlang het dat die salfolie vir die uitsluitlike gebruik deur die priesters moes wees en as daar so ’n iets soos ‘n Mondelinge Tora bestaan het, dan sou God dit slegs mondeling aan Moses oorgedra het en hom dit nie laat neerskryf nie! Die formule sou dan deur die eeue mondeling deur die priesters oorgedra word ten einde hoofsaaklik te verseker dat dit nooit nagemaak word nie. Dit is egter nie die geval nie. Hier is die formule duidelik neergeskryf vir enigeen om dit te vervaardig – soos wat ‘n resep vandag vryelik uit ‘n tydskrif afgeskryf kan word.

Hierdie feit maak my baie skepties oor die bestaan van ‘n Mondelinge Tora. Ek impliseer egter hoegenaamd nie dat die versameling van wat vandag as die Talmud bekendstaan, bedrieglik of oneg is nie. Die Talmud bevat baie goeie en bruikbare inligting vir die gelowige in Jesus die Messias. Die grootste daarvan is egter nie eg nie, verwarrend en in sommige gevalle irrasionele gosdienstige tradisies – die tipe waarteen Jesus die Messias gepreek het. Dit is dus my mening dat die Talmud nie as ‘n waardevolle bron vir gelowiges in Jesus die Messias sou dien nie.

Ons weet ook  - aldus die profeet Eségiël – dat ‘n volle funksionerende tempel gedurende die duisendjarige Ryk (die Messias-ryk) gebou sal word. Die salfolie as sulks sal dus weer nodig wees vir die priesters om in die tempel te mag dien. Aangesien iets soos ‘n Mondelinge Tora nie bestaan het nie, het God sekergemaak dat die formule deur Moses neergeskryf word vir die gebruik deur toekomstige geslagte priesters, terwyl die reproduksie daarvan vir enige ander doel verbied is. Die Bybel bevat ‘n kategorie ordinansies, wat “chukkim” genoem word. Chukkim is bonatuurlike beginsels. Dit is Goddelike dekrete, waarvoor die menslike verstand nie by magte is om ‘n rede vir die bestaan daarvan te verstrek nie. Chukkim gaan die menslike verstand en begrip daarvan geheel-en-al te bowe. As gevolg hiervan, oor die kwessie van gehoorsaamheid, verpersoonlik gehoorsaamheid aan die chukkim, die allerbeste en suiwerste weg van aansluiting by God. Dus, onbelemmer deur die beperkinge van die menslike verstand, word hierdie ordinansies vir één rede en één rede alleenlik toegepas: omdat God so gespreek het! ‘n Voorbeeld hiervan is die Kosher (kosher beteken behoorlike of regmatige) – voedselvereistes. Die onthouding van sekere voedselsoorte soos varkvleis of kreef, maak nie sin nie aangesien dit deur ander kulture geëet word, met oënskynlik geen of geringe nadelige gevolge. Toegewyde gelowiges egter, wat die kosher-wette onderhou, kom dit streng na omdat God so gesê het – streng op grond van gehoorsaamheid.

Net soos God die eet van nie-kosher-voedsel verbied het, het Hy ook die namaak van die salfolie-formule, uitsluitlik bedoel vir die gebruik deur die priesters, verbied. Hierdie ordinansie ressorteer dus onder die kategorie van die chukkim. Diegene wat hierdie ordinansies eerbiedig, sal baat deur hulle gehoorsaamheid net soos iemand wat slegs kosher-voedsel eet.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-03-04


Saterdag 16 Februarie 2019

God, Genadige Gewer van Wysheid

Tetzaveh
(U Sal Beveel)


Eksodus / Shemot {28:1} “Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron. {28:2}  En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. {28:3} Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.”

In hierdie Skrifgedeeltes, uit ons parasha Shavua (weeklikse Tora – voorlesings), het ek die gedeelte uitgesonder om kommentaar te lewer op aspekte betreffende die gees van wysheid.

Eksodus / Shemot {28:3} “Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.”

Daar is ‘n ou gesegde wat soos volg lui: “Vroeg wys, vroeg sot”. In hierdie moelike tye met soveel misleiding en valse leringe in omloop, is daar iets wat die kind van God meer as enigiets anders kortkom en dit is wysheid.

Die wêreld leer ons dat wysheid saam met ouderdom kom. Ek kan nie volkome daarmee saamstem nie omdat daar baie bejaardes is wat nie gered is nie en dus bestem is tot ‘n ewigheid sonder God. Indien hulle egter oor wysheid beskik het, sou hulle op grond van die Skrif besef het dat Jesus die Messias is en dus gered moet word om die ewigheid saam met God deur te bring. Ek glo dat dit ondervinding is wat ouderdom meebring en die wêreld het foutiewelik ondervinding vir wysheid aangesien.

Volgens die bovermelde Skrifgedeelte, is dit God wat ons met die gees van wysheid vervul. Hoe ontvang ons hierdie wysheid van God? In die bogemelde geval het God wysheid verleen aan die mense wat Hy bestem het om die priesterlike klere te maak. Hy het gekwalifiseerde mense benodig om die taak uit te voer en dus uit Israel diegene gekies wat Hy met wysheid sou toerus om die werk te kon doen. Vandaar die gesegde: “God roep nie die geskiktes nie – Hy maak die geroepenes geskik”. Die Skrif leer ons egter ‘n ander manier om wysheid te ontvang:

Psalm / Tehillim {111:10} “Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.”

Ons het al vantevore die betekenis van die vrees van God bespreek. Dit behels om vir Hom ontsag te hê. Deur Hom op hierdie wyse te bejeën, sal vanselfsprekend tot gevolg hê dat Sy gebooie onderhou word, wat die begin van wysheid is. Die uitnemendste manier om wysheid te ontvang, is egter om dit van God te bid:

Jakobus / Ya’acov {1:5} “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”

Dit is die wyse waarop koning Salomo sy wysheid ontvang het. Hy het besef dat hy nie oor die vermoë beskik het om God se volk behoorlik te lei en regeer nie en God gebid om wysheid.

2 Korinthiërs / Korintim Bet {1:8} “En Salomo het tot God gespreek: U het aan my vader Dawid ‘n groot guns bewys en my in sy plek koning gemaak. {1:9}  HERE God, laat u woord aan my vader Dawid nou bewaarheid word; want U het my koning gemaak oor ‘n volk talryk soos die stof van die aarde. {1:10}  Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit— en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer?”

Bid God om wysheid en Hy sal dit nie van jou weerhou nie; trouens, daar is ‘n gebed wat ons tydens ons oggendgebede (Shacharit) bid, wat moontlik vir jou tot hulp kan wees. Ek het dit effens gewysig om dit meer persoonlik te maak:

“U het genadiglik aan die mens wysheid geskenk en aan ‘n nietige sterfling, insig geleer. Skenk tog genadelik aan my, uit Uself, wysheid, insig en oordeelkundigheid. Geseënd is U, o God, genadige gewer van wysheid.”. (Nota: Vrye vertaling uit die Engelse (vrye) vertaling van die betrokke Hebreeuse gebed!)

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-03-03

Saterdag 09 Februarie 2019

My Korban / My Offergawe

Terumah
(Offerande)


Eksodus / Shemot {25:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2}  Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3}  En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4}  en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5}  en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6}  olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7}  oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8}  Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9}  Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak ”

Toe ek vandeesweek se Torah deurgelees het, is my aandag op veral twee sake gevestig, wat ek albei graag wil bespreek.

Gedurende my sestein jaar as leier van ‘n gemeente, het ek baie dinge in die bediening sien gebeur. Die meeste wat ek ervaar het, was aangenaam, opheffend en ‘n ware seën. Daar was egter ook tye van teleurstelling, droefheid en seerkry.

In ons Skrifverwysing hierbo, spreek God soos volg:

Eksodus / Shemot {25:2} ”Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.“

Wat is hier so belangrik? Die feit dat die verwysing na die offergawe verander van ‘n korban (offergawe) na die verwysing as “My korban”. Ongelukkig is een van die wyses waardeur gemeentelede hulle ontevredenheid met die leierskap in hul gemeente laat bly, om hulle tiendes te weerhou. Skynbaar meen hulle dat dit húlle manier is om die leierskap te vergeld vir wat vermoedelik aan hulle gesê of gedoen is. Dit is natuurlik ‘n uiters betreurenswaardige powere en onbybelse optrede om so ontevredenheid met die leierskap te toon. Dit is juis dit wat God in ons Skrifgedeeltes aan Moses meedeel.

‘n Offergawe word ‘n offergawe aan God, sodra dit uit ons hande gaan. Ons gawe is nie vir die gemeente se leierskap nie – selfs nie eers vir die gemeente nie – maar aan God. Dit word geensins van ons verwag om dit vir die leierskap of die gemeente waaraan ons behoort, te gee nie; ons word egter verplig om dit aan God te skenk. Tiendes is ‘n offergawe aan God! Offergawes vir besondere projekte binne gemeenteverband, is egter heeltemal iets anders. Deur spesiale offergawe, skenk jy bykomend, bo-en-behalwe jou gereelde tiende aan God, vir ‘n spesifieke projek of behoefte. Indien jy so voel, kan jy sodanige offergawes weerhou, ofskoon dit ook onbybels is, veral as die spesiale offergawe vir behoeftiges bedoel is, maar hoegenaamd nie wat die gereelde tiendes betref nie. Tiendes is ‘n korban uitsluitlik vir God. Hoe Hy dit aanwend, sal in Sy algenoegsaamheid geskied. Dit is nie langer in ons nie, omdat “’n” korban nou “my” korban word.

Die tweede aangeleentheid waarop ek jou aandag wil vestig, is die besondere opdragte wat Moses van God ontvang het.

Baie gelowiges wil dinge nog op hulle eie manier doen, ten spyte van die feit dat die Bybel ons leer om aan God algeheel gehoorsaam te wees. Om dinge op ons eie manier te wil doen, bring ons nêrens nie.

So byvoorbeeld het die kleure pers, purperrooi en bloedrooi ‘n spesifieke betekenis. Kan jy jouself dus die geestelike implikasie voorstel, indien Moses sou gesê het: “As julle nie pers linne het nie, sal ons groen linne gebruik. Bring vir my die groen linne.”? Die ganse Evangelisasie boodskap, deur die klere pers, purperrooi en bloedrooi voorgestel, sou verlore gewees het! Jesus sou ook nie vir die reisigers onderweg na Emmaus, die volgende kon gesê het nie:

Lukas / Uri {24:27} “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”

Bybelse opdragte is met ‘n spesifieke doel uitgereik. Ons mag moontlik nie nou al weet hoedat dit op ons lewens betrekking het nie en as ons lewens ‘n besondere doel het, kan ons dalk die orde van God se planne versteur. 
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-02-19

Saterdag 02 Februarie 2019

Julle Verbond is met die God van Israel

Mishpatim
(Oordele)


Eksodus / Shemot {23:28} “Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe. {23:29}  Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. {23:30}  Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe. {23:31}  En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe. {23:32}  Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie. {23:33}  Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees.”

Ek het hierdie Skrifgedeelte gekies om kommentaar te lewer op parasha Mishpatim, omdat ek glo dat dit vandag op ons van toepassing is. Julle sal moontlik wonder hoedat dit moontlik kan wees. Na alles, hoe kan ons ‘n verbond sluit met die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete, aangesien hulle as mensegroepe nie langer bestaan nie? Die feit is, selfs indien hulle nie meer bestaan nie, is die beginsel agter hierdie opdrag (mitzvah) steeds op ons van toepassing.

Die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete was heidene, wat wel oor ‘n vorm van godsvresenheid beskik het, ofskoon dit deur die aanbidding van valse godhede was. Hulle was ook gruwelik immoreel. God het hierdie besondere nasies slegs uitgesonder omdat dit juis hulle was wat deur Israel onteien sou word. Indien ‘n mens nou vandag Kanada en die res van die wêreld in oënskou neem, is hulle grotendeels niks beter as die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete nie.

Jakobus / Ya’acov {4:4} “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God”

Ek het mense al dikwels geleer dat ons ons verhouding met die Here kan meet en insgelyks kan meet, aldan nie, of ons waarlik gered en aan God verbonde is, op grond van wie ons vriende is. Saam met wie kuier jy? Saam met wie bring jy die meeste van jou tyd deur? Indien jy enige van hierdie vrae beantwoord met “Meesal ongeredde persone”, dan bestaan daar ‘n sterk moontlikheid dat iets ernstig besig is om jou verhouding met God te skaad.

1 Korinthiërs / Korintim Alpha {6:14} “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?”

Die woord “ongeregtigheid” hier beteken nie dat ons nie met kriminele moet omgaan nie; selfs dat ons dit beslis nie moet doen nie! “Ongeregtigheid”, in hierdie konteks, beteken mense wat sonder die Tora lewe, wat God nie gehoorsaam nie en Sy gebooie verontagsaam. Volgens die Skrif, is die Satan “die ongeregtige een” (2 Tessalonisense 2:8).

Sou die meerderheid van jou vriende ongered wees, dan het jy ‘n probleem omdat jy ‘n verbond met mense, wat valse godhede aanbid, aangegaan het net soos die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete; die einste mense wat God ons verbied het om mee verbonde aan te gaan. “Maar hulle is gawe mense”, sê jy miskien. Dit maak hoegenaamd nie saak of hulle gaaf is of nie. Daar bestaan slegs twee entiteite in die heelal, wat ons kan aanbid: óf ons aanbid die God van hemel en aarde, die God van Israel óf ons aanbid valse godhede: demone. Wees versigtig om nie bedrieg te word deur te aanvaar dat elke godsdiens dieselfde God aanbid nie – dit is hoegenaamd nie die geval nie!

Dwarsdeur die Skrif, verwys God na Homself as die God van Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en die God van Jakob (Ya’acov). Hy verwys ook na Homself as die God van Israel. Krishna, Budda, Allah en al die ander kwalifiseer nie! Daar is net één God en Sy naam is Een.

Eksodus / Shemot {3:15} “Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag”

As gelowiges in Jesus, as die Messias van Israel, is dit nie ons taak om vriende te maak met die wêreld nie maar om die Goeie Nuus (Besorah Tova) van redding deur Jesus die Messias na die wêreld uit te dra. As jy dit doen en dit doeltreffend doen, sal diegene wat verkies het om nie gered te word nie, nie met jou bevriend wíl wees nie. Dan, eers sal jy besef dat jou verbond met die God van Israel is en nie met die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-02-12