Saterdag 26 Augustus 2017

Rykdomme

Shoftim
(Rigters)



Deuteronomium / Devarim {17:15} ”dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie. {17:16}  Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie. {17:17}  Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.”

Ek het onwillekeurig aan koning  Salomo (Shlomo) gedink toe ek hierdie gedeelte gelees het. Indien dít die maatstaf moes gewees het waarvolgens ‘n koning in Israel veronderstel was om te leef, het Salomo inderdaad in alle opsigte gefaal! Koning  Salomo het nie net baie perde uit Egipte aangeskaf nie, maar ook baie vroue gehad en groot hoeveelhede  goud en silwer vergaar.

1 Konings / Malachin Aleph {10:21} ”En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie. {10:27} Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.”

Dit is duidelik dat koning Salomo grootliks fouteer het. Die vreemdste is egter dat God aan hom groot rykdom belowe het. Die vraag ontstaan dus enersyds, dat indien die koning nie veronderstel was om groot rykdom te vergaar nie, maar andersyds, dat God wel aan hom groot rykdom belowe het, wat ons dan hieruit moet aflei?

2 Kronieke / Divre Hayamim Bet {1:11} ”Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ‘n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer— {1:12}  daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie.”

Soos ons weet, was Salomo se rykdom juis een van die dinge wat uiteindelik tot sy ondergang gelei het. Sy rykdom en buitensporige lewenswyse het ongetwyfeld bygedra tot sy versameling van perde uit Egipte en die aanskaf van honderde vreemde vroue, wat hom uiteindelik tot afgodsdiens verlei het. Was God dan verantwoordelik vir Salomo se afvalligheid van genade? Het God vir hom daardie strik gestel?

Spreuke / Mishlei {26:1} ”Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by ‘n dwaas nie.”

Koning Salomo was beslis nie ‘n dwaas nie. Volgens die Psalmis, is ‘n dwaas iemand wat ontken dat daar ‘n God is (Psalm / Tehillim 14:1). Salomo het egter die bestaan van God erken, maar teen die einde van sy lewe het hy soos ‘n dwaas opgetree deur saam met sy vroue valse gode te dien. Ofskoon God wel aan Salomo rykdom belowe het, het Hy egter nooit aan hom toestemming verleen om daardie rykdom buitensporig aan te wend deur die vermenigvuldiging van perde en vroue nie; dit was sy eie doen en late. Die aanspreeklikheid vir Salomo se ondergang berus dus geheel-en-al by homself en kan ons geensins beweer dat God vir hom die strik gestel of selfs beproef het nie.

Jakobus / Ya’acov {1:13} ”Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. {1:14}  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. {1:15}  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

God het nie Salomo se afvalligheid van Sy genade beskik nie – dit was ook deur sy eie toedoen. Toe Salomo om wysheid en kennis in plaas van rykdom gevra het, het God aan Hom sowel rykdom as eer geskenk. Rykdom en eer vir iemand wat reeds oor wysheid en kennis beskik, behoort totaal beheerbaar te wees, maar vir Salomo wat wys en kundig was, het die rykdom en eer tog die oorhand oor hom gekry.

Ek dink dit is ‘n goeie les vir ons almal om te leer omdat baie van ons meen dat indien ons baie geld gehad het, ons soveel wat goed is, daarmee sou kon doen. Ons moet egter ons les leer by Salomo, wat die slimste man was wat ooit geleef het. Hierdie les is dat mag, rykdom en eer – selfs by mense wat oor oortreffende wysheid en kennis beskik – ‘n mens se ondergang kan bewerkstellig! Laat ons dus eerder by ‘n ander Koning – Jesus – leer, wat gesê het:

Matthéüs / Mattityahu {8:20} “En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie. {11:29} Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;”


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2008-08-14

Saterdag 19 Augustus 2017

Vermaning en Aansporing deur HaShem

Re’eh
(Kyk)


Deuteronomium (Devarim) {11:29} " As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. {11:30} Lê hulle nie oorkant die Jordaan, agter die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Vlakte woon, teenoor Gilgal, by die terpentynbome van More nie?"

Watter soort vraag vra God (HaShem) dan hier? God (HaShem) weet tog immers waar berg Gerisim (Gerizim) en berg Ebal geleë is. Waarom stel God (HaShem) hierdie vraag aan die kinders van Israel (bnei Yisrael)? Die antwoord, glo ek, word duidelik as ons onthou wat deur God (HaShem) gespreek is aan die einde van verlede week se oordenking: ...Parasha Ekev.

Deuteronomium / Devarim) {11:24} "Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees. "

God (HaShem) het waarskynlik 'n retoriese vraag aan die kinders van Israel (bnei Yisrael) gestel. Hy was mos vanselfsprekend bewus van waar berg Gerisim (Har Gerizim) en berg Ebal (Har Ebal) geleë was en die kinders van Israel (bnei Yisrael) het ook geweet. Maar, ten einde die land, waarvan die berge deel was, in besit te neem, moes die kinders van Israel (bnei Yisrael) se voete werklik raak aan die grond waar die berge geleë was. Inderdaad sou God (HaShem) aan hulle die hele land gee waarop hul voetsole getrap het, maar hulle moes eers deur die Jordaan (Yarden) gaan en dit in besit neem; hulle moes letterlik daarop loop ten einde dit te ontvang. God (HaShem) se retoriese vraag - glo ek - was 'n aansporing vir die kinders van Israel (bnei Yisrael) om aanstaltes te maak, die land binne te gaan en begin om dit in besit te neem.

Deur fisies op die land te loop, was egter nie die enigste vereiste wat God (HaShem) gestel het nie: Die kinders van Israel (bnei Yisrael) moes ook God (HaShem) se gebooie (mitzvoth) onderhou. Juis om daardie rede sou berg Gerisim (Har Gerizim) geseën en berg Ebal (Har Ebal) vervloek word. Hierdie berge sou vir Israel (Yisrael) 'n voortdurend sigbare herinnering in hierdie land wees dat die benutting van die land, wat God (HaShem) aan hulle gegee het, daaraan onderhewig sou wees dat hulle Sy gebooie (mitzvoth) onderhou.

Dit kom vir my voor - ten minste soos God (HaShem) Sy retoriese vraag bewoord het - asof die kinders van Israel (bnei Yisrael) te gemaklik geraak het aan die oostekant van die Jordaan (Yarden). Miskien was dit nodig om 'n bietjie aangepor te word - vandaar die ietwat verbale retoriek deur God (HaShem) - om hulle uit hul gemaksone te kry en sodoende weswaarts te laat begin beweeg om die land wat God (HaShem) aan hulle gegee het, in besit te neem.

Levitikus / Vayikra {18:26} "Maar júlle moet my insettinge en my verordeninge onderhou en niks van al hierdie gruwels doen nie die kind van die land of die vreemdeling wat onder julle vertoef. {18:27}  Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword. {18:28}  Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was."

Om die land in besit te neem en behou, was twee verskillende dinge. Die kinders van Israel (bnei Yisrael) het die land met die trap van hulle voetsole in besit geneem, maar sou volgens hul getrouheid die land behou of verloor, vanweë die seëninge óf vervloekings deur God (HaShem). Die in besitname van die land, asook die behoud daarvan sou egter inspanning vereis. Niks word maklik verkry nie; niks wat die moeite werd is, gebeur maklik nie.

Ons redding, as gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach), wat aan ons toegang tot die Koninkryk van God (HaShem) verleen, is die enigste vrye gawe van God (HaShem). Ná ons redding, is dit nou ons plig om, volgens Paulus (Shaul) "... werk julle eie verlossing uit met vrees en bewing;" (Fillipense (Pilifim) {2:12}).

Heiligmaking, wat voortspruit uit die onderhouding van die gebooie (mitzvoth) van God (HaShem), is wat Paulus (Shaul) bedoel het. Dit verskaf aan ons die volle vreugde van ons redding, maar is afhanklik van ons onderhouding van - en leefwyse volgens - die gebooie (mitzvoth) van God (HaShem). Somtyds, waar dit die onderhouding van die gebooie betref, het ons ook 'n bietjie aansporing op gehoorsaamheidsvlak deur God (HaShem) nodig. Dus, laat God (HaShem) beproewings en toetse oor ons lewens kom, ten einde ons in die regte rigting te laat beweeg. Ons weet waarheen Hy ons wil laat gaan en wat Hy van ons verwag om te doen. Sy geskrewe Woord deel ons dit alles mee; trouens, dit is ons berg Gerisim (Har Gerizim) en berg Ebal (Har Ebal), maar soos die kinders van Israel (bnei Yisrael), verval ons ook in ons eie gemaksones en weier soms om te beweeg - gevolglik versuim ons om op dit wat Hy aan ons geskenk het, aanspraak te maak. Die beproewings en toetse in ons lewens laat ons dus beweeg sodat ons op die hele "gebied" (voordele van redding), wat God (HaShem) ons beloof het, aanspraak kan maak.


 Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2008-08-30

Saterdag 12 Augustus 2017

Die Uiteindelike Resultaat

Ekev
(As Gevolg Van)



Deuteronomium / Devarim {8:1} “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. {8:2}  En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. {8:11}  Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen— ”

Julle het seker gemerk dat ek enkele verse in die bovermelde Skrifaanhaling uit hierdie week se parasha oorgeslaan het. Die rede daarvoor was dat ek dié verse wat pertinent op ons bespreking betrekking het, wou aanhaal.

Ek wil graag hê dat ons eerstens daarop moet let dat God ons gehoorsaamheid aan Hom vereis en al Sy gebooie onderhou. Hy het belowe dat indien ons dit nakom, ons nie net sal lewe nie, maar ook voorspoedig wees, vermeerder en die land van ons vyande besit. God wil egter hê dat ons moet onthou dat ofskoon ons Sy gebooie gehoorsaam, Hy dit tog mag nodig vind om ons van tyd tot tyd te verootmoedig om te toets of ons toewyding aan Hom eg is. Soos Hy hierbo gespreek het, het Hy die kinders van Israel verootmoedig, deur hulle ondermeer te laat honger ly en hulle dan van die skamelste voedsel (manna) te voorsien, wat onder normale omstandighede, skynbaar ‘n persoon fisies nie juis versadig het of voedsaam was nie. Wonder bo wonder het hierdie voedsel hulle egter tydelik wel versadig. In ons Skrifgedeelte hierbo, het God verduidelik dat Hy dit gedoen het om te bewys dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (vers 2).

My eggenote en ek is baie gesondheidsbewus, daarom probeer ons ons bes om gesond en voedsaam te eet. Beide van ons besef egter dat, ongeag hóé goed ons eet en ten spyte van ons gesondheidsbewustheid, ons, sonder om aan God en Sy gebooie gehoorsaam te wees, nie in staat sal wees om goeie gesondheid te handhaaf nie. Ons gesondheid en welsyn word nie alleenlik deur brood bepaal nie, maar wel deur elke Woord wat uit die mond van God uitgaan.

Ons word elke dag aangeraai om gebalanseerde gesonde maaltye te nuttig. Skole verskaf nie langer Coca Cola en ander potensieel ongesonde koeldrank en voedsel by hul kafeterias nie, maar hierdie selfde skole het God reeds uit hul klaskamers weggelaat – God word verhinder om ons skole binne te gaan (ten minste die God van Abraham, Isak en Jakob). Wat is dan ons gevolgtrekking? Wel, soos God gesê het dat: “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan”. Ons kan dus aflei dat ongeag die mens se pogings om gesonde eetgewoontes by ons skoolkinders in te prent dit nie ‘n geslag van gesonde volwassenes sal verseker nie, altans nie op die lange duur nie.

Tweedens wil ek graag hê ons moet besef dat God teëspoed in ons lewens toelaat om ons te verootmoedig. Ek het agtergekom, selfs ook in my geval, dat indien voorspoed ongehinderd toegelaat word, ons geneig is om selfsugtig, selfverheerlikend en snobisties te raak. Dit kan ontwikkel tot by ‘n punt waarop ons op ander neersien en slegs diegene uitsoek wat ons posisies of loopbane kan bevorder.

Teëspoed in ‘n mens se lewe daarenteen, genees beslis hierdie houding. Wanneer ‘n mens moeilikhede ondervind, besef jy dat jy hoegenaamd nie onoorwinlik of onveilbaar is nie, maar wel dat jy slegs soos elke ander mens in hierdie bose en perverse wêreld is. Jy is kwesbaar en blootgestel aan siekte, besmettings en probleme. Met hierdie wete en deur die ervaring van enige van hierdie boodskappers van God, word nederigheid in ons teweeg gebring.

In die laaste instansie wil ek graag hê ons moet besef dat alles wat God oor ons toelaat, geskied volgens die laaste Skrifgedeelte, wat ek hierbo aangehaal het, naamlik “...jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen - ...”. Die satan verlei ons sodat hy ons uiteindelik kan kwaad aandoen. Hy wil hê ons moet misluk, knoei en van Gog af wegdwaal, maar God beproef ons sodat ons nie opgeblase, selfverheerlikend en snobisties sal wees nie. God toets ons teneinde later aan ons goed te doen. Telkens wanneer ons so ‘n toets slaag en ons God se wil bo ons eie stel, kom ons nader aan God, wat uiteindelik daartoe sal lei dat Hy ons seën.

 Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-07-24

Saterdag 05 Augustus 2017

Wat van julle?

Va’Etchanan
(En ek het gesmeek)

Wat van julle?

Deuteronomium / Devarim {5:17} “Jy mag nie doodslaan nie.”

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. {5:18}  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19}  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. {5:20}  Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. {5:21}  Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. {5:22}  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”

Het julle gemerk hoedat dinge aansienlik verander het met die koms van Jesus? In plaas daarvan dat die Tora ter syde gestel is, het dit inteendeel selfs strenger geword! Waarom? Omdat ons, deur die aanvaarding van Jesus as ons Messias, nuwe skepsels geword het en die vervulling van Jeremia 31:31-34 in ons plaasgevind het. Die Tora van God is deur Jesus in ons binneste gevestig en as gevolg daarvan herdefineer Jesus dit vir ons.

In die bovermelde Skrifgedeeltes het ons sopas gelees hoedat Jesus verduidelik dat moord eenvoudig die voortgaande verloop van woede is. Die eerste stadium van moord, sê Jesus, word in 'n mens se hart gepleeg: Dit is naamlik woede, woede wat teen enigiemand gekoester word. Dit is waar die sonde van moord allereers begin. Die tweede stadium van moord, volgens Jesus, is wanneer ons vir iemand “Raka” sê. Die woord “Raka” beteken om iemand vir 'n niksnut of 'n skobbejak uit te skel. So word die tweede stadium van moord bereik wanneer ons woede tot veragting oorgaan. Jesus leer ons dat die derde stadium van moord plaasvind wanneer ons iemand 'n dwaas noem. Hierdeur skend ons nie net iemand se karakter nie, maar maak ons 'n bewering aangaande sy geloofsoortuiging en houding teenoor God. Indien julle graag wil weet waarom dit so 'n ernstige belediging is om iemand 'n dwaas te noem, gaan lees gerus wat staan daar oor 'n dwaas geskryf in die boek Spreuke (Mishlei). Die vierde stadium van moord is wanneer ons werklik 'n persoon se lewe neem.

God het beveel dat die fisiese straf vir die vierde stadium van moord, die fisiese dood van die moordenaar moet wees. Terwyl 'n mens wag tot die fisiese stadium om straf toe te dien, het God – op geestelike gebied – reeds vanaf die eerste stadium, die toestand van woede, Sy straf begin toepas. Hy wag nie vir die werklike manifestasie van moord nie, want wat God betref, bestaan daar geen erger straf as die straf vir moord, wat alreeds in ons harte ontvlam het nie.

Begryp julle nou dat God woede en fisiese moord as slegs verskillende grade van dieselfde sonde beskou? Aldrie die stadia van woede, wat ek nou net verduidelik het, word deur God geag as moord. Dit beteken dat ons almal inderdaad aan moord skuldig is, wanneer ons ons skuldig maak aan sonde in ons harte, wat nie bely word of waaroor ons geen berou het nie!

Het julle al ooit vir iemand, wat 'n fout begaan het, kwaad geword? Dan het julle moord gepleeg! Mans: Was julle al ooit vir julle vrouens kwaad gewees as julle tuisgekom het en jul ete nog nie gereed was nie? Dan het julle oor 'n maaltyd van byvoorbeeld spaghetti en frikkedelle moord gepleeg! Wat van die kere wat julle vir 'n kelnerin of huurmotorbestuurder kwaad geword het? By hoeveel geleenthede het julle die integriteit van 'n geregsdienaar of doeanebeampte beledig? Het julle al beledigende kommentaar oor iemand se motorbestuursvermoë gelewer? Indien wel, het julle moord gepleeg! Wat van sommige van julle wat so vroom by die shul voorkom, maar julle tuis aan die uitbarsting van woedebuie oorgee? Julle het moord gepleeg! Wat van julle wat vir 'n week lank nie met julle vrouens gepraat het nie omdat hulle jul verjaar- of huweliksherdenkingsdag vergeet het? Julle is moordenaars! Wat van diegene van ons wat so vroom optree maar tuis julle kinders verskree in plaas daarvan om hulle volgens die Skrif te dissiplineer? Terloops, as julle hierdie laasgenoemde uitweg gevolg het, dan het julle 'n verwronge beeld van God aan hulle voorgehou, wat erger as moord is! Hoe dikwels het ons nie al 'n kelnerin, wat telank met ons bestelling gesloer het, vermoor nie, of die motorwerktuigkundige wat ons motor nie behoorlik herstel het nie, of 'n persoon wat geskakel het, of die dokter wat ongeërg voorgekom het, of die verpleegkundige wat nie dadelik gedoen het wat ons versoek het nie? Hoeveel van ons het nie al werkgewers of werknemers vermoor nie? Hoeveel van ons het nie al uit woede ons hele gesin vermoor wanneer ons na 'n veeleisende dag by die werk, moeg en moedeloos tuiskom nie? Hoeveel van ons het selfs al vir God vermoor? Dit alles is skokkende ontnugterende inligting, nie waar nie?

Verkies jy om kwaad deur die lewe te gaan? Ek glo nie so nie! Indien dit wel die geval is, wil ek graag vir jou 'n oplossing bied: Bid elke keer wat jy kwaad word en bid in die besonder vir die persoon vir wie jy kwaad is. Stort jou hart en siel daarin uit. In plaas daarvan om as 'n persoon wat gou kwaad word, beskou te word, staan dan eerder bekend as 'n biddende persoon.

Voordat ek afsluit, is daar tog nog iets wat ek graag wil sê: Selfs as ons almal aan die eerste drie stadia van moord skuldig is, het ons nogtans die geleentheid om vergifnis te ontvang. Ons hoef nie op die elektriese stoel te sterf of 'n dag in die gevangenis deur te bring of vir ewig in die verdoemenis (hel) te verkeer nie. Indien julle glo in Jesus die Messias jul Heer en Redder, hoef julle slegs jul sondes te bely, om vergifnis te smeek en die bloed wat aan die kruis vir julle gestort is, sal julle vrymaak. Indien julle egter nog nooit vir Jesus as jul Messias aangeneem het nie en julle aan moord skuldig is, dan het julle twee keuses: (1) Julle kan steeds ly onder die gevolge van wat julle gedoen het, wat, trouens reeds in jul lewens aan die gang is of (2) julle kan nou vir Jesus as jul Messias aanneem, Hom om vergifnis smeek en al julle sondes van die verlede sal deur Sy versoenende bloed afgewas word.

 Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-07-24