Maandag 18 Augustus 2014

Die Toralose een!

D’Var Torah
Regters / Shoftim


Deuteronomium / Devarim {16:18} “Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak. {16:19}  Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. ”.

Geregtigheid is gewigtige en belangrike komponent in enige samelewing. Sonder geregtigheid en beamptes om dit toe te pas, sou daar totale anargie wees. Die wette van die Tora is die gebooie (mitzvoth) van God, die Wet van God, wat aan die kinders van Israel deur Moses voorgehou is. Die Tora wat Moses aan die kinders van Israel deur Moses gehou is. Die Tora wat Moses aan die kinders van Israel deur Moses oorgedra het, behels die gebooie van God. Waarom is God so gesteld op geregtigheid? Dit is omdat die satan so op ongeregtigheid gesteld is!

In Christelike kringe word die Tora aan die reg gelykgestel, soos wat dit meer dikwels in ons moderne Engelse vertalings van die Bybel, na verwys word en die teenoorgestelde van die reg is wetteloosheid. Die satan staan bekend as die wettelose een. Dit beteken dat wetteloos gelykstaande is aan Toraloos. Derhalwe is dit maklik om tot die gevolgtrekking te kom waarom die satan as die wettelose een bekendstaan: omdat hy sonder die tora (anti-Torah, anti-wet) is.

2 Thessalonisense / Tesolonikum Bet {2:8} “n dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, {2:9}  hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen”.

Indien die satan, synde sonder die Tora, wetteloos genoem word, waar laat dit vandag die kerk, wat leer dat ons nie langer onder die Tora (Wet) is nie?

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. {5:18}  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19}  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. ”.

Dit is ‘n ontnugterende gedeelte, veral wanneer ‘n mens in aanmerking neem wat vandag in meeste kerke geleer word. Is dit dan enige wonder dat hulle soveel wanvertolking van hierdie gedeelte aanmoedig om sodoende hulle gebrekkige teologie te regverdig?

Wanneer ons aan ongeregtigheid dink, dink ons onwillekeurig aan ons sekulêre hofstelsel; ‘n stelsel wat in meeste opsigte reg en geregtigheid verwring.

Reg en geregtigheid word egter vandag ook in ons kerke verdraai. Pastore en predikers huiwer vandag geensins om hulle gemeentelede te leer dat hulle nie langer onder die Torah is nie en sodoende verdraai hulle die reg en geregtigheid. Hulle haal gedeeltes uit die boeke van Galasiërs en Efesiërs aan, wat hulle verdraai om hulle teologie te regverdig; maar die feit van die saak is dat God hulle Toraloos noem. Wat gebeur egter wanneer hierdie “Wet” tot hulle voordeel geskryf is?

Deuteronomium / Devarim {18:3} “En dit moet die reg van die priesters wees van die kant van die volk, van die wat ‘n slagoffer bring, of dit ‘n bees of ‘n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad en die twee kakebene en die maag gee. {18:4}  Die eerstelinge van jou koring, jou mos en jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee moet jy aan hom gee. {18:5}  Want die HERE jou God het hom uit al jou stamme uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van die HERE, hy en sy seuns.”.

Hier is nou iets wat my waarlik verbaas. Pastore en predikers wat hulle gemeentes leer dat hulle nie langer onder die Tora is nie, gebruik hierdie gedeelte as ‘n Skrifverwysing om van hulle gemeentelede te verwag om vir hulle die eerste vrug van hulle arbeid te bring. Wat ek eintlik bedoel is dat daar gemeenteleiers is wat aan hulle gemeentelede vertel dat indien hulle ‘n nuwe betrekking aanvaar, daar van hulle verwag word om aan die pastoor hulle eerste salaristjek te oorhandig as die eerste vrug – offerande. Hierdie pastore en predikers gebruik God se Tora – ‘n Tora wat hulle beweer nie langer geld nie, tot hulle eie voordeel. Klink dit nie belaglik nie? Eintlik is dit meer as belaglik – dit is skynheilig.

Die gee van tiendes (tien persent van ‘n mens se totale inkomste) is ook ‘n Tora-beginsel, een wat elke kerk aanmoedig.

Vertel gerus vir julle pastoor dat hulle jul tiendes gaan weerhou omdat hy julle geleer het dat julle nie langer onder die Tora is nie en kyk wat hy aan julle kwytraak.

Die Bybelse Wet, Tora, is die fondasie en grondslag van ‘n gemeente van gelowiges. Dit is die grondslag van reg en geregtigheid. God het dit in sy Woord aan ons meegedeel en geleer. Enigiets of enigeen wat dit weerspreek of selfs die Tora marginaliseer, verdraai die reg en is dus wetteloos!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Die mens se wet / God se wet

D’Var Torah
Wanneer jy uitgaan / Ki Tetze

Brit Chadashah: Lukas / Uri 23:1 - 25

Deuteronomium / Devarim {22:1} “Jy mag die bees van jou broer of sy stuk kleinvee nie sien ronddwaal en jou vir hulle verberg nie; jy moet hulle sekerlik na jou broer terugbring. {22:2}  En as jou broer nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy dit in jou huis neem, en dit moet by jou wees totdat jou broer dit soek; dan moet jy dit aan hom teruggee. {22:3}  So moet jy ook doen met sy esel, en so moet jy doen met sy kleed, ja, so moet jy doen met alles wat van jou broer wegraak, wat hy verloor en wat jy vind; jy mag jou nie verberg nie. {22:4}  Jy mag die esel van jou broer of sy bees nie sien val op die pad en jou vir hulle verberg nie; saam met hom moet jy hulle sekerlik ophelp. {22:5}  ‘n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die HERE jou God ‘n gruwel. {22:6}  As jy op pad ‘n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met klein voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie. ”.

Wat ek uit hierdie week se parasha nagelees en dít wat ek toe geskryf het, is geensins ‘n regstreekse byeenraping uit die bovermelde lesing nie. Ek het hierdie gedeelte bloot toevallig gekies omrede die onderwerp waaroor ek wou skryf, geen spesifieke gedeelte van die parasha betref nie, maar eerder op die parasha in geheel betrekking het. Die eerste wat my bygeval het toe ek die parasha Ke Tetze deurgelees het, was ‘n Skrifgedeelte uit parasha Va’etchanan:

Deuteronomium / Devarim {4:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8}  En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? ”.

Die verse uit parasha Ke Tetze bevat ongetwyfeld regmatige en regverdige lesse, wette, statute en uitsprake. Wat hier geleer word, sal met die toepassing daarvan, bydra om die grondslag vir ‘n ware regmatige en eerbare samelewing te verseker. Bykans elke aspek van ‘n gemeenskaplike sosiale lewe, word deur een of meer verse van Ke Tetze gedek.

So byvoorbeeld: Wie in die Bybel het gesê dat vroue gemarginaliseer moet word? Wel, parasha Ke Tetze bewys dit verkeerd. Die verse van die betrokke parasha bevat wette en voorskrifte wat die waardigheid en regte van vroue respekteer. Wie sê dat eienaars toegelaat is om hul slawe wreed te behandel (onthou dat slawerny in die Bybel meesal in plaas van bankrotskap gegeld het. ‘n Skuldenaar het hom daarvolgens aan sy skuldeiser verkoop en kon dus sy onbetaalde skuld afwerk)? Indien ‘n slaaf wreed behandel is en van sy eienaar weggeloop het, moes die persoon wat aan hom asiel verleen het, hom / haar nie na sy wrede eienaar terugstuur nie. Daarbenewens word ons in parasha Ke Tetze geleer hoe om ‘n ander persoon se eiendom te behandel wanneer ons vasstel dat dit aan hom behoort. Ons word geleer hoe om op te tree teenoor iemand wat in nood om hulp en bystand verkeer. So gaan die lys aan. Die bepalings in hierdie parasha is magtig, ryk, prakties en netso toepaslik as wat dit duisende jare gelede was – ons moet dit slegs in ons hedendaagse konteks toepas.

Ek weet wat jy miskien dink, maar wat van hierdie verse?

Deuteronomium / Devarim {21:18} “As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, {21:19}  dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, {21:20}  en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard. {21:21}  Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees. ”.

Ek dink ons moet eerstens onthou dat, volgens God, halstarrige en opstandige mense beslis die toorn van God op hulle lewens sal haal en selfs ‘n voortydige dood deur Sy hand mag oorkom. God se geregtigheid kan nie versag word nie, selfs indien ons Sy geregtigheid nie uitvoer nie. Net omdat iets ons nie pas nie, ons byvoorbeeld ons denkwyse asook ons hedendaagse en liberale regstelsel, beteken dit geensins dat God Sy geregtigheid sal wysig nie. Ek kan julle verseker dat Hy hoegenaamd nie Sy wyse verander om dit volgens ons manier te doen nie; Hy doen dit steeds op Sy wyse. God het ons nie nodig om Sy geregtigheid te laat geld nie. Hy is by magte om dit op Sy eie uit te voer, met of sonder ons. Die mens se wet temper hoegenaamd nie God se wet nie! Beteken dit dat ons God moet vrees? Geensins nie – dit beteken dat ons Hom moet gehoorsaam en ons gehoorsaamheid behoort uit liefde en nie uit vrees vir straf of gevolg te wees nie. Hoe kan ons God voldoende liefhê om Hom te dien?

1 Johannes / Yochanan Alef {4:19} “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”.

God het ons so lief gehad dat Hy in die vlees na die aarde neergedaal het as Jesus die Messias om te sterf en vir ons sonde te boet. Ons liefde en aanvaarding van Jesus die Messias, maak dit dus vir ons moontlik om God só lief te hê as wat Hy ons liefhet.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 17 Augustus 2014

Die werklikheid of bedrog

D’Var Torah
Omdat – Ekev


Deuteronomium / Devarim {7:12} “En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; {7:13}  en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee. {7:14}  Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie. {7:15}  En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat. ”.

Sou julle nie saamstem dat dit ‘n wonderlike voorwaarde is nie? In ruil daarvoor dat ons God se gebooie onderhou, sal Hy ons seën met voorspoed en alle fisiese seëninge; trouens, dit klink byna te goed om waar te wees! Wat ons, deur die  ervaring van die kinders van Israel leer, is dat ons hier geskenk word met ‘n gewaarborgde voorskrif vir welvaart, gesondheid en voorspoed, maar laat ons eers ‘n bietjie wag om te verneem wat God verder sê:

Deuteronomium / Devarim {8:2} “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3}  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. {8:4}  Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie. {8:5}  Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig,”.

Hierdie gedeelte klink byna soos ‘n weerspreking van die inhoud van die voorafgaande Skrifgedeelte! Dit is egter in werklikheid nie die geval nie, want allereers ontstaan die vraag oor hierdie gedeelte: Is God dan nie alwetend nie, want na alles, sê dit vir ons dat God ons opregtheid in die onderhouding van Sy gebooie op die proef sal moet stel? Is Hy dus nie vertroud met die verlede, hede en toekoms nie? Dra Hy nie kennis van alles vanaf die begin van die tyd tot die einde van die tyd nie? Waarom moet God ons dan toets indien Hy bewus is van alles wat in ons harte aangaan?

Die antwoord is geleë in die feit dat daar baie bedrieglike / onegte gelowiges is. Niemand het tyd vir ‘n bedrieër nie, wat nog vir ‘n bedrieglike gelowige? Ons almal verkies egter om te verkeer met – en sake te doen met eerlike mense!

Psalm / Tehillim {27:11} “HERE, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, vanweë my vyande.”.

Wat die Psalmis hier sê, is: “Leer my hoe om te lewe soos wat U leef, Here. Leer my om eerlik te wees.”.

‘n Bedrieglike persoon gee voor wat hy / sy nie is nie (hy / sy probeer mense beïndruk en gee dus voor om méér te wees as wat hulle werklik is). Bedrieërs is ongelukkige mense omdat hulle altyd moet voorgee om iets of iemand te wees wat hulle in werklikheid geensins is nie. Eerlike mense daarenteen is as’t ware “deursigtig” – hulle is oop, vertrou hulself en wie hulle is).

Soos in die geval van menslike verhoudings, netso is dit ook met God. God verwag eerlikheid van ons. Ons kan nie voor God ‘n masker dra nie – ‘n mens kan dit probeer, maar Hy sien wat agter die masker is. Die Bybel leer ons dat God nie na ons uiterlike kyk nie, maar wel hoedat ons van binne lyk.

Baie mense onderhou God se gebooie omdat hulle godsdienstig is. Hulle glo meer in godsdiens en daarom dien hulle eerder godsdiens as om God te dien. Ongelukkig is hierdie mense nie altyd eers bewus daarvan dat hulle godsdienstig is nie. Dikwels word hulle deur mense om hulle, nie as godsdienstig beskou nie, maar eerder as opmerksame, toegewyde dienaars van die Here. Alleenlik deur hulle op die proef te stel – soos in die tweede Skrifgedeelte beskrywe – sal hulle harte blootgelê word nie aan God nie, maar aan diegene om hulle, asook aan hulleself.

God toets ons eerlikheid! Sonder twyfel ken Hy ons van binne en van buite, maar ken ons onsself? Ken ander mense ons – wie óns werklik is? Dit is waaroor verootmoediging, soos in Deuteronomium 8:2 gemeld, eintlik gaan! Verootmoediging skei die werklike gelowiges van die onegte gelowiges; eersgenoemde sal die beloftes, soos in Deuteronomium 7:12 – 15 vervat, ontvang terwyl die bedrieërs ontbloot sal word vir wie hulle werklik is.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dinsdag 12 Augustus 2014

Wees nederig!

D’Var Torah
Sien / Re’eh


Deuteronomium / Devarim {11:29} “As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. “

Die kinders van Israel, deur Josua (Yehoshua) gelei, was oorkant die Jordaan-(Jordan) rivier teenoor Jerigo, wat suidwes van berg Gerisim en berg Ebal geleë was, gereed om die Beloofde Land binne te trek. Met sy verowering van die land, het Josua eerstens Gilgal verower, wat hy as sy hoofkwartier gebruik het. Daarna het hulle teen Jerigo opgetrek, waarvan die stadsmure omgeval het! Na sy verowering van Jerigo, het Josua deur die vallei van Aijlon getrek en die koning van Ai verslaan. Daarna het Josua noordwaarts getrek na berg Gerisim en berg Ebal.

Josua / Yehoshua {8:30} “Toe het Josua ‘n altaar gebou vir die HERE, die God van Israel, op die berg Ebal, {8:31}  soos Moses, die kneg van die HERE, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: ‘n Altaar van ongekapte klippe waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die HERE brandoffers gebring en dankoffers geslag. {8:32}  En daar het hy ‘n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel, {8:33}  terwyl die hele Israel met sy oudstes en die opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan—teenoor die Levitiese priesters, die draers van die verbondsark van die HERE—die vreemdeling sowel as die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die HERE, tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën. {8:34}  En daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek. {8:35}  Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie. ”.

Waarom het God hierdie twee besondere berge gekies om die seëninge en vervloekinge op te stel? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar ek het tot my eie gevolgtrekking oor die onderwerp gekom. Eerstens is hulle naby mekaar en was die stad van Schechem in hulle skaduwee – die stad waar Dina verkrag en alle manlikes deur Levi en Simeon vermoor is. Tweedens, is dit die enigste twee berge geleë in die middel van Israel van oos tot wes en die enigste twee berge bykans in die middel van die land, van noord tot suid. Derdens is dit die hoogste twee berge in hierdie geografiese gebied. Vierdens was dit die waarskynlikste dat die Kanaäniete offers aan hulle gode op hierdie berge gebring het vanweë die ligging en hoogte daarvan.

Deuteronomium / Devarim {12:2} “Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom. {12:3}  En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn. {12:4}  So mag julle nie doen met die HERE julle God nie; ”.

Aangesien die heidene offers aan hulle demoonse gode op hierdie hoë berge gebring het, was dit ‘n geskikte plek om vir die kinders van Israel te herhinner aan die gevare wat volg op die kanaänitiese godsdienstige praktyke teenoor die seëninge verbonde daaraan om God te volg.

Dit is ook interessant dat God gekies het om die vervloekinge op berg Ebal te laat neerkom, wat toevallig 190 voet (57,9 meter) hoër as berg Gerisim is. Watter betekenis kon daarin geleë wees? Ek meen dat net soos die Kanaäniete hulle heidense gode op hoë plekke aanbid het en onder die indruk verkeer het dat hulle sodoende nader aan hull gode was, so doen ons ook wanneer ons sondig (selfaanbidding) en onsself omhoog verhef, waardeur ons onsself bo die God van hemel en aarde plaas.

Daarom, was berg Ebal ‘n toonbeeld van die mens wat homself bo die Een ware God stel. Enige sodanige verheffing sou natuurlik uitloop op vervloeking en dus sou die vervloekinge op berg Ebal neerkom. Terwyl berg Gerisim, wat laer as berg Ebal geleë was, gedien het as ‘n toonbeeld van die mens se ootmoed sou die seëinge op berg Gerisim rus. Ofskoon albei berge naby mekaar geleë was, kan ek met alle veiligheid sê dat meeste van die heidense aanbidding waarskynlik op berg Ebal plaasgevind het vanweë die besondere hoogte daarvan.

Met Sy keuse van hierdie twee berge, het God dus aan ons getoon dat indien ons onself verhef, sal wat ons dan ontvang, inderdaad vervloeking wees. As ons onsself egter verootmoedig, sal ons geseën word. Soos in vorige parashot bespreek, gebruik God baie sulke toonbeelde in die Bybel.

Jakobus / Yaacov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”.

Die hoogmoediges probeer altyd om hulleself bo die ootmoediges te verhef, net soos berg Ebal bo berg Gerisim uittroon. Berg Gerisim was egter die plek van seën, terwyl berg Ebal die plek van vervloeking was!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 11 Augustus 2014

Watter groot volk?

D’Var Torah
…En ek het gepleit / Va’etchanan


Deuteronomium / Devarim {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8}  En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? {4:9}  Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:”.

Ek het onlangs gekyk na ‘n dokumentêre program oor die totstandkoming van die staat Israel, wat in 1945 plaasgevind het. Daarin is werklike uittreksels, sowel klank as video-opnames vertoon van David Ben Gurion, Israel se eerste Minister, waarin hy die skamele weermag en patriotte wat vir hulle jong tuisland veg, gelei en aangemoedig het.

Hulle het geveg teen hordes Arabiese volkere, wat hulle aangeval en omsingel het. Dit het geblyk om ‘n onmoontlike situasie te wees. Ten spyte van hulle geringe getalle, swak opleiding, indien enige, en gebrek aan wapens en geskikte gevorderde wapentuig, het hulle die vyand egter wonderbaarlik verslaan en daarin geslaag om hulle sodoende weereens te vestig as ‘n Joodse staat, te midde van omringende vyandiggesinde volkere wat vasbeslote op hulle vernietiging ingestel was. Alleenlik God kon hulle van so ’n oorwinning verseker.

Dit was soos in Bybelse tye toe Israel, met die hulp van God se leërmagte, twee-en driemaal groter en sterker as hulleself, verslaan het.

Deuteronomium / Devarim {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

Ons God is ‘n ontsagwekkende God. Hy is naby Sy volk en beskerm Sy land.

Ek is gereeld in verbinding met vriende in Israel en verneem gevolglik van dinge wat dáár gebeur, wat nie aan die Westerse nuusmedia bekendgemaak word nie. So is ek byvoorbeeld meegedeel van ‘n aanvallende missiel vanaf Hamas wat direk op die sentrale treinstasie van Tel Aviv geprojekteer was. Dit is ‘n digbevolkte en besige area met omringende groot kantoorblokke asook ‘n groot, moderne inkopiesentrum, wat altyd vol kopers is en passasiers wat na en vanaf die treinstasie beweeg. Die Israeliese weermag het ‘n “Iron Dome”-missiel afgevuur om die betrokke teiken vanuit die lug te tref maar dit het sy teiken gemis – iets wat hoogs uitsonderlik gebeur. ‘n Tweede missiel is onmiddelik daarna afgevuur, wat ook op onverklaarbare wyse nie die teiken getref het nie en selfs met ‘n derde missiel het dieselfde gebeur. Daar is sonder versuim ‘n bevel uitgereik om die bogemelde area te ontruim en noodvoertuie asook dokters en ander mediese personeel op ‘n gereedheidsgrondslag te hou vir die behandeling van beseerdes. Daar was geen twyfel dat ‘n missiel sou tref en ongeëwenaarde lewensverlies en skade kon veroorsaak nie. Skielik is daar gerapporteer dat ‘n hewige sterk wind ontstaan het en die omvang daarvan teweeggebring het dat die missielbaan in so ’n mate gewysig is dat dit skadeloos oor die kus beweeg en in die see gestort het. Die vraag ontstaan dus: was dit toeval of ‘n wonderwerk? Veel meer sulke voorvalle het tydens die huidige oorlog met Gasa gebeur; trouens, so dikwels dat dit hoegenaamd nie aan blote toeval gewyt kan word nie – dit is voorwaar wonderwerke!

Hamas en die ander Arabiere nasies kan beslis nie wen nie – hulle sal nooit oorwin nie. Nie op grond daarvan dat hulle nou teen ‘n beter toegeruste, beter opgeleide mag veg nie, maar omdat hulle die stryd teen die God van Israel voer en Hy die land nie aan húlle belowe het nie – Hy het dit aan die kinders van Israel belowe en:

Deuteronomium {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

Wees dus vol moed, julle wat deel is van – en ingesluit is onder God se volk – beide Jode en nie-Jode – omrede julle ‘n ontsagwekkende God dien en deel is van ‘n volk vir wie Hy sorg, in so ’n mate dat julle ook met vertroue kan sê:

Deuteronomium {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 02 Augustus 2014

Leer uit die verlede

D’Var Torah
Devarim


Deuteronomium / Devarim {1:3} “Dit is die woorde waarmee Moses die hele Israel toegespreek het oos van die Jordaan in die woestyn, in die Vlakte teenoor Suf, tussen Paran en Tofel en Laban en Háserot en Di-Sahab. {1:2}  Elf dae is die pad van Horeb af na die gebergte Seïr tot by Kades-Barnéa. {1:3}  En in die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek net soos die HERE ten opsigte van hulle aan hom bevel gegee het; ”.

Het julle al ooit die gesegde gehoor: “Diegene wat nie uit die verlede leer nie, is bestem om dit te herhaal?” Dit was skynbaar ‘n beginsel deur God ingestel hier in Deuteronomium. Hoe weet ons dit? Dit was God wat Moses beveel het om aan hierdie nuwe geslag van die kinders van Israel ‘n grondige en volledige geskiedenisles voor te hou, met die verwagting dat hulle daaruit sou leer. Die les was gegrond op die omswerwinge, prestasies en foute van die geslag wat Egipte eerste verlaat het. Hierdie nuwe geslag moes noodwendig elke onaangename besonderheid van hulle ouers se tekortkominge verneem sodat hulle dit nie self sou herhaal nie.

Baie van ons neem te veel van wie ons is, waar ons is en hoe ons hier beland het as vanselfsprekend aan. Daar is egter ‘n aansienlike gedeelte van die geskiedenis geleë agter wat elkeen van ons gebring het tot op die punt waar ons nou is asook kennis dat die geskiedenis bygedra het om ‘n herhaling van dieselfde foute te voorkom. Dit is dus ‘n goeie idee vir elkeen van ons om van ons familiegeskiedenis kennis te dra en veral die besonderhede van vorige geslagte om te verhoed dat ons nie hulle foute herhaal nie. Daarbenewens sal ons, bewus van ons voorgeslagte se verlede, beter toegerus wees om onsself gedeeltelik te bevry van die “bagasie” wat ons saamdra in ons nuwe lewe as gelowiges in Jesus die Messias. Ek glo dat vele van die probleme wat gelowiges in hulle lewens ervaar, aan hulle famiiegeskiedenis te wyte is. Sommiges verwys daarna as geslagsvervloekinge maar ek beskou dit bloot as “bagasie” wat ons uit ons ou lewe na ons nuwe lewe saamdra en ons dit beslis moet “aflaai” indien ons geheel-en-al vry wil wees.

Ons is almal bewus van die feit dat ons ons ouers se gene dra. Dit is die rede warom ons soms soos hulle lyk en heel dikwels ook soos hulle optree; trouens, ons ouers was ook die draers van húlle ouers se gene en so het dit volgens geslagslyn verloop. Netso openbaar ons ook sommige van ons ouers se geestelike eienskappe. Derhalwe verteenwoordig ons nie slegs ons voorouers fisies nie maar ook spiritueel.

Eksodus / Shemot {34:7} “wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag. ”.

Watter voorbeelde van oorerwing van voorgeslagte kan genoem word? Woede, seksuele perversie, egbreuk, heksery, angs om maar net ‘n paar te noem. Alhoewel ons van Bo “Weergebore” is deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons Here en Redder, word ons vernuwe al behou ons ons ou natuur en vleeslike self. Dit is alles dinge uit óns verlede van ons voorouers. Juis daarom worstel gelowiges dikwels met hulle geloof; ofskoon hulle wedergebore is, het hulle nooit hul vlees gekruisig nie, maar aan húlself gesterwe.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {9:27} “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”.

Paulus (Shaul) het ook met sy verlede en “bagasie” geworstel in sy nuwe lewe as gelowige, maar geensins toegelaat dat dit sy nuwe lewe beïnvloed nie. Hy het homself gedissiplineer om die verlede met gepaardgaande versoekings om te sondig, te weerstaan, soos hy dit gestel het:

Filippense / Pilifim {3:14} “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. ”.

Ons kan van ons ou bagasie ontslae raak maar soos ons uit die bovermelde Skrifgedeeltes sien, sal dit beslis ‘n daadwerklike poging van ons vereis. Die probleem is egter dat nie elke gelowige bereid is om hierdie noodsaaklike poging aan te wend nie.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou