Vrydag 28 Junie 2019

Daar Sal Twee Groepe Mense Wees

Shelach
(Ondersoek Jouself )


Numeri/Bamidbar (15:13) “Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring. {15:14}  En as ‘n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en ‘n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei—soos julle doen, so moet hy doen. {15:15}  Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ‘n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. {15:16}  Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.”

Baie mense, wat hulle kerk verlaat en by die Messiaanse Joodse gemeente, veral één soos die Gemeente Melech Yisrael, aansluit, verkeer uiteindelik onder die indruk dat die kerk nie gered is nie. Die rede vir hierdie indruk is omdat ons die Hernieude Vebond (Brit Chadasha) met betrekking tot die Joodse konteks, sienswyse en begrip daarvan onderrig. Dit is natuurlik iets geheel-en-al vreemd vir ‘n kerk wat die Joodsheid en Tora verwerp. Niks is egter verder van die waarheid verwyder nie – die kerk is vir die grootste gedeelte gered.

Omdat hulle egter hulle Joodse afstamming en die Tora verwerp het, het die kerk nie tot die volle begrip van die Woord van God gekom nie. Hulle het ook die volheid van die krag, wat tot hulle beskikking is, verbeur vanwëë hulle ongehoorsaamheid aan die Tora, maar hulle is wel gered. Toegegee dat sommige kerke in afvalligheid verval het as gevolg van hulle uiterste ongehoorsaamheid en verwerping van Israel. Behalwe diegene, is die mense van die kerk gered.

Dit bring ons by die punt wat ek graag wil bespreek. Soos ons in die bovermelde Skrifgedeelte gelees het, is vreemdelinge, wat hulself by Israel aansluit en begeer het om aan die gebruike en tradisies van Israel deel te hê, as één met Israel beskou. Indien dit vandag van toepassing is, beteken dit dat nie-Jode wat hulle by ‘n Messiaanse Joodse gemeente aansluit, self Messiaanse Jode (nie Joods nie, maar Messiaanse Jode) sal word. Nie alle vreemdelinge (nie-Joodse gelowiges) is egter bereid om daardie keuse te maak nie; trouens, die oorgrote meerderheid het verkies om te bly by hulle onderskeie kerklike tradisies. Dit beteken nie dat met die wederkoms van Jesus, nie-Joodse gelowiges en die nasies waaraan hulle behoort, deel daarvan sal wees of ophou om te bestaan nie.

Sagaría/Zechariah {4:17} “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. {4:18}  En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. {14:19}  Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.”

In hierdie gedeelte beskryf Sagaria wat gedurende die Duisendjarige Ryk (die Duisendjarige Ryk van die Messias op aarde) met die nasies sal gebeur, wat nie na Jerusalem optrek om met die huttefees voor God te verskyn nie. Hieruit kan ons dus aflei dat die verskillende nasies van die aarde tydens die Duisendjarige Ryk sal bestaan en dat hulle apart van Israel sal wees. Hierdie feit lei my tot die volgende gevolgtrekking:

Na my mening, sal daar tydens die Duisendjarige Ryk twee groepe mense op aarde wees. Die eerste groep sal Israel wees, ‘n volk wat uit fisiese mense bestaan, wat hulle afstamming kan naspoor tot by die patriarge, Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en Jakob (Ya’acov), tesame met diegene uit die nasies van die wêreld wat hulself met Israel verbind en sodoende één met hulle geword het. Die tweede groep sal die onbesnede of nie-Joodse nasies wees wat glo, van wie baie sal oorleef en steeds bestaan ná die typerk van verdrukking. Ongelukkig sal baie van hulle teen die einde van die Duisendjarige Ryk, deur die Satan verlei word en weereens anti-Semities, Anti-Israel, raak.

Openbaring / Hitgalut {20:7} “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; {20:8}  en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. {20:9}  En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”

Daar is egter iets interessant in die Skrif aangaande die vreemdeling, wat ek julle graag sou wou laat sien. Dit het betrekking op dié nasies wat verkies om hulle met Israel te verbind:

Esegiël / Ezekial (47:23) “En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”

Die mense van die nasie wat verkies om hulleself met Israel te verbind, sal vergun word om te kies van welke stam hulle deel wil word. 
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-06-10


Saterdag 22 Junie 2019

Die Gevolge, Toe en Nou

BeHar-BeChukotai
(Op die Berg - In My Verorderinge)


Levitikus / Vayikra {25:17} “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. {25:18}  En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.”

Levitikus / Vayikra {25:39} “En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie. {25:40}  Soos ‘n dagloner, soos ‘n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien; {25:41}  dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan. {25:42}  Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ‘n mens ‘n slaaf verkoop nie. {25:43}  Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees.”

Die rede waarom ek hierdie twee Skrifgedeeltes uit parasha Behar gekies het om oor kommentaar te lewer, het betrekking op die woorde “…vrees jy jou God.”.

Een van die grootste probleme onder gelowiges vandag is dat hulle God nie vrees nie. Ek bedoel nie om bang te wees nie vir God soos wat ons vir ‘n uitgehongerde hond, wat ons op straat bestorm, sou bang wees nie. Wat ek bedoel, is om ‘n eerbiedige vrees vir die ontsagwekkendheid en almag van die Een wat lewe en dood in Sy hande hou, te koester.

Die gebrek aan vrees, volgens my mening, spruit uit die feit dat die meerderheid, wat in Jesus die Messias glo, nie hulle tekortkominge oftewel hulle sonde besef nie. Ek het al dikwels met gelowiges gesels, wat openlik erken dat hulle een of ander onbeheerbare soort sonde het of aan ‘n verslawing ly. Ongelukkig, wanneer omstandighede met verloop van tyd verbeter, verval hulle keer op keer weer in dieselfde sonde, wat dan tot berou en vele nagevolge lei. Ek skryf hulle sondesiklus toe aan die gebrek aan Godvresenheid. Indien ons God waarlik gevrees en die gevolge van sonde op fisiese-, verstandelike- en geestelike gebied, wat deur Hom teweeggebring en, trouens, uitdruklik in Sy Woord opgesom word, besef het, sou ons sonder twyfel twee maal gedink het voordat ons gesondig het! Waarom is ons vrees vir God dan nie genoegsaam om ons te laat ophou sondig nie? Besef ons nie dat ons lewens veel beter en makliker sou gewees het indien ons God gevrees het nie? Ongelukkig is die meeste van ons se vrees vir God nie genoegsaam vir ons om ons sonde te verafsku en ons lewens te verander nie.

Neem nou ‘n oomblik en probeer dink aan ‘n gevolg wat jy in jou lewe ervaar het of moontlik tans ervaar en probeer dit in verband bring met ‘n sonde wat jy in die verlede gepleeg het. Sou jy hierdie gevolg ervaar het indien jy God gevrees en nie gesondig het nie? Volgende keer as jy in versoeking kom om byvoorbeeld ‘n seksuele sonde in ‘n oomblik van passie te pleeg, dink aan die vrees vir God. Wanneer jy in versoeking verkeer om ‘n leuen te vertel ten einde uit ‘n moelike situasie te kom, onthou die vrees vir God. Volgende keer wanneer jy jou humeur of geduld wil verloor, dink aan die vrees vir God.

Matthéüs / Mattityahu {10:28} “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”

Om nou insig in parasha Behukotai te verkry:

Levitikus / Vayikra {26:3} “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, {26:4}  sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.”

Levitikus / Vayikra {26:15} “en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16}  dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.”

Parasha Behukotai is die “as jy, sal Ek” – parasha. Die woorde “As jy” kom negemaal voor en die woorde “Ek sal” verskyn vier-en-twintig maal in hoofstuk 26. Die les om uit hierdie parasha te leer, is dus heel eenvoudig. God sal ooreenkomstig ons gehoorsaamheid aan Sy gebooie, optree of reageer. Dit is inderdaad ‘n ontnugterende gedagte wanneer ‘n mens daaraan dink dat die meerderheid gelowiges in Jesus die Messias, God nie waarlik vrees nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-05-13



Saterdag 15 Junie 2019

Getrouheid in die uitvoering van die taak wat aan ons toegewys is

Naso
(Ophef)


Númeri / Bamidbar {4:24} “Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25}  hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26}  en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig. {4:27}  Die hele dienswerk van die seuns van die Gersoniete—alles wat hulle moet dra en hulle hele diens—moet wees volgens die bevel van Aäron en sy seuns; en julle moet hulle al hulle drawerk aanwys om dit waar te neem. {4:28}  Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van die Gersoniete by die tent van samekoms; en wat hulle te besorg het, moet plaasvind onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.”

Die Skrif gaan verder met die uiteensetting van die verantwoordelikheid van elk van die priesterlike families met die aftakeling en oprigting van die tent van samekoms (Ohel Moed). Elke familie het hulle besondere taak gehad en die drie priesterlike families het eensgesind saamgewerk om te verseker dat die taak doeltreffend, volledig en spoedig afgehandel is.

Het julle al ooit die geleentheid gehad om toe te kyk wanneer ‘n reisende sirkus hulle tente ter voorbereiding van die openingsvertoning opslaan? In Florida, waar ek vandaan kom, het vele sirkusgroepe in die winter na die sonnige suide getrek. ‘n Mens sou dan die stoet vragmotors, elk met ‘n afsonderlike deel van die sirkustoerusting en -diere in die omgewing sien aankom. Hulle het tot by ‘n stuk oop veld gery, dit afgekamp en met militêre presisie die groottent (hoof sirkustent) begin oprig. Ek het altyd met verwondering gekyk hoedat dié groot tent op die grond uitgelê en binne ure opgerig is, sodat alles betyds in gereedheid gebring kan word. Die vragmotors is letterlik in ‘n verskeidenheid karnavaalspeletjies, ritte en kosstalletjies omskep. Teen die aand van só ‘n dag van nougesette spanwerk, sou alles gereed wees en kon ‘n mens die geluide hoor, geure ruik en opwinding, wat met ‘n sirkus gepaardgaan, ervaar.

Dit is vreemd dat ek tot nou toe nooit werklik die ooreenkoms tussen die oprig van ‘n sirkustent en die taak wat die priester gehad het met die aftakel en oprig van die tent van samekoms begryp het nie. Ofskoon laasgenoemde ‘n heilige taak was, is ek oortuig daarvan dat die militêre akkuraatheid en nougesetheid wat dit vereis het, presies dieselfde moes gewees het.

In die geval van die sirkus, het elke individu – sonder om aangesê te word – gou-gou hulle vragmotors afgelaai en dadelik die taak, wat aan hulle opgedra is, uitgevoer soos wat hulle menigmaal in die verlede reeds gedoen het. Niemand het gekla nie, niemand het in mekaar se pad gekom nie. Almal het hulle besondere verantwoordelikhede gehad, wat hulle met doelgerigtheid ter wille van die geheel uitgevoer het.

Kan julle julself voorstel, met die oprigting van die tent van samekoms, indien één groep by die ander twee agtergeraak het, of één individu binne ‘n groep besluit het dat hy nie langer sy taak gaan uitvoer nie, omdat hy dit vir die afgelope twintig jaar herhaaldelik moes doen? Dit sou die hele proses in die wiele gery en uiteindelik die gesamentlike aanbidding van die volk omvergewerp het.

God het aan elkeen van ons sekere take binne die Liggaam van die Messias (Goof HaMashiach) toegeken. Ons het elkeen ‘n rol om te vertolk om God se gemeente (kehila) en uiteindelik Sy koninkryk te bou. Dit maak egter nie saak hoe wêrelds of gering jou aandeel daarin mag lyk nie en of jy dieselfde taak al vir jare moes uitvoer en uiters verveeld daarmee is nie: sonder jóú aandeel sal die geheel daaronder ly.

1 Korínthiërs / Korintim Aleph {12:14} “Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. {12:15}  As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:16}  En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:17}  As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? {12:18}  Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. {12:19}  As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? {12:20}  Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. {12:21}  En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.”

God gaan ons nie beloon volgens die belangrikheid wat ons taak in die koninkryk was nie. Hy gaan ons wel egter beloon na gelang van ons getrouheid in die uitvoering van die taak, wat aan ons toegewys is. Wees dus getrou in dít wat aan jou opgedra is en op die bestemde tyd sal jy beloon word.

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2012-05-27


Vrydag 07 Junie 2019

Nageslag van Abraham, en Erfgenaam Volgens die Belofte

BaMidbar
(In Die Woestyn)

Númeri / BaMidbar {1:16} “Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. {1:17}  Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was, {1:18}  en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof,”

Moses was nou besig om die kinders van Israel te tel ten einde ‘n leër op die been te bring. Hulle sou gaan oorlog voer, met die doel om die land, wat God aan hulle voorouers belowe het, in besit te neem. Elke volwasse man van twintig jaar en ouer, wat geskik was om te veg, moes getel word. Aangesien hierdie die tweede jaar van hulle bevryding was, was dit die eerste geslag bevryde slawe, wat uit Egipte gekom het. Ek veronderstel dat dit die rede was waarom Moses en Aäron van hulle vereis het om hulle afkoms of voorgeslagte te verklaar. In die eerste instansie, het ons verneem dat daar ‘n gemengde skare was wat Egipte saam met die kinders van Israel verlaat het. Diegene, soos ek in vorige kommentare reeds verduidelik het, het bestaan uit gevange slawe van ander lande, wat deur die Egiptenare verslaan was, mense van gemengde huwelike asook kinders uit sodanige huwelike of Egiptenare, wat in die God van Israel begin glo het. Hierdie mense moes geïdentifiseer word om te verseker dat hulle nie swakker of enigsins anders as die res behandel sou word nie.

Eksodus / Shemot {23:9} “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.”

Dit was ook noodsaaklik om vas te stel wie hulle was, sodat hulle geaffilieer kon word met ‘n bepaalde stam of één van hulle keuse. Tweedens, vir almal wat werklik van Israel afgestam het, sou die verklaring van herkoms verseker dat hulle geïdentifiseer word met die regte stam – die stam van hulle voorvaders – en dus onder die korrekte banier marsjeer. Genealogie was van die uiterste belang in Bybelse tye, net soos dit vandag in Israel belangrik is, veral in die geval van immigrasie. Allerbelangrik egter, deur die verklaring van iemand se afkoms, was dat dit sy affiliasie met- en toewyding aan die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob verseker het. God het hoegenaamd geen verdraagsaamheid ten opsigte van afgodery gehad nie!

Eksodus {34:14} “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.”

Jesus die Messias se afkoms was ewe belangrik. Ten einde die Koning in Israel te wees, moes Hy aan twee maatstawwe voldoen: Eerstens moes Hy afgestam het van die patriarge, spesifiek van die stam van Juda en tweedens, mag Hy nie ‘n afstammeling van die vervloekte afstamming (lyn) van koning Jekonia gewees het nie. Sy geslagsregister, soos opgeteken in beide Matthéüs en Lukas, verstrek aan ons Sy afkoms en bevestig Sy aanspraak op die troon van Dawid.

As gelowiges in Jesus die Messias, is ons afkoms ewe belangrik vandag as wat dit in Númeri was. Ons mag geen ander God as die God van Israel dien nie.

Dikwels vertel mense aan my dat hulle ‘n familielid of vriend het wat byna gered (wedergebore) is. Jy kan nie byna gered wees nie – jy is óf vír Jesus die Messias óf jy is téén Hom; daar bestaan geen grys area wanneer dit by redding kom nie! Elkeen in die ganse wêreld sal eendag voor die enigste ware God, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob verskyn en Hy sal elkeen versoek om sy/haar afkoms te verklaar. Indien hulle nie hulle afkoms van Abraham deur Jesus die Messias kan nagaan nie, sal geen Jood of nie-Jood geag word om kinders van God te wees en sal hulle nie die Komende Wêreld (Olam Haba) kan ingaan nie.

Galasiërs / Galatim {3:26} “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27}  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. {3:28}  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. {3:29}  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-05-26