Saterdag 28 Maart 2020

Jesus is God

VaYikra
(En Hy Het Geroep)
Hebreërs 10:1 - 18

Levitikus {1:1} "EN die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: {1:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ’n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee — van beeste of van kleinvee. {1:3} As sy offer ’n brandoffer is van beeste, moet dit ’n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind."

Nadat ek vandeesweek se Parasha gelees het, en al die offerandes wat vereis word om ‘n persoon se regte verhouding met God te herstel, is ek opnuut dankbaar vir dit wat Jesus die Messias (Yeshua Ha Mashiach) vir my gedoen het. Veronderstel dat ek die diere moes koop as korbanot  (meervoud van korban) (versoening) en dit moes besorg by die Bet Ha Migdash (Tempel) om daardeur te poog om in ‘n regte verhouding met die Here te verkeer. Trouens, deur al die sonde wat ek pleeg, bewustelik sowel as onbewustelik met wat ek sê, waarna ek luister, waarna ek kyk en wat ek elke dag dink, weet ek nie wat eerste sou gebeur het nie, deurdat ek finansieel probleme mag ondervind en of die wêreld kon leegloop van “skoon” diere vir my om te offer. Dan sou dit boonop die gereelde heen-en-weer reise vanaf my huis na Jerusalem meebring. Dit sou alles nodig gewees het, al het die Tempel nog bestaan en Jesus die Messias nog nie gekom het nie. Indien ons al ons sondes - wat ons as gelowiges doelbewus sowel as onbewustelik pleeg deur wat ons sê, hoor en aan dink vir net een dag, sou die aantal sondes verstommend wees. As elkeen van ons daarbenewens die toepaslike offerande vir elke sonde moes bring, sou die spesies bokke en lammers ongetwyfeld die lys van uitgestorwe diere haal! Soms dink ek, neem ons dít wat die Here vir ons gedoen het, vêr te ligtelik op, want soos ons volgens die Skrif besef, sondig ons almal en skiet ons almal tekort aan die heerlikheid van God!

Prediker {7:20} "want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons word ook volgens die Skrif beveel dat die korbanot (versoeningsoffers) nêrens anders as in die Tempel in Jerusalem geoffer moes word nie. Indien Jesus (God in die vlees) nooit gekom het om eenmalig te sterwe vir die sonde van die wêreld nie, diegene uit die diaspora, gereeld heen en weer na Israel sou moes reis - ‘n verdere uitgawe!

Deuteronomium {12:13} "Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie. {12:14} Maar op die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel."

Ons kan dus verstaan dat Jesus se sterwe vir die sonde van die wêreld, geen geringe aangeleentheid was nie. Die storting van Sy bloed vervang die noodsaaklikheid dat voëls, bulle skape en bokke se bloed as versoening vir ons sondes gestort word.

Levitikus {17:11} "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."

Wat bedoel God as Hy sê: ”......die bloed bewerk versoening vir die lewe.” Ek glo Hy bedoel “‘n lewe vir die lewe”. Die loon van die sonde is die dood: iets moes in ons plek sterf om versoening vir ons sondes te bewerkstellig. Vóór die koms van Jesus, moes diere ons plek ingeneem het. Ons was skuldig, maar hulle het die boete betaal. Met die koms van Jesus het dit alles verander.

Levitikus {1:10} "En as sy offer ’n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer, moet dit ’n ram sonder gebrek wees wat hy bring."

Waarom was God so onversetlik dat Sy volk nie bloed eet nie? Jesus (God in die gestalte van ‘n mens) het na die aarde toe gekom om te sterwe en het Sy bloed vir die sonde van die wêreld gestort. Hy het aan die Here se straf vir sonde wat die dood is, voldoen en tot vandag nog voldoen Hy steeds daaraan. Daarom is daar nie langer enige behoefte aan iemand om ‘n korban (versoeningsoffer) na die Tempel in Jerusalem te bring nie - dit bestaan nie langer nie en was ook vir meer as tweeduisend jaar nie meer nodig nie.

Indien jy egter nie ‘n gelowige is nie en hierdie Parasha lees, weet dit: Jesus die Messias het vir jou sondes gesterf. Hy is jou versoening, netsoos myne. Die enigste verskil tussen jou en en my is dat ek in Hom glo en aanvaar het dat deur Sy dood aan die kruis, Hy vir my sondes versoen het. As jy Hom nie as jou Heer en Redder aanvaar het nie, dan het Sy bloed nie vir jou sondes versoen nie en is jy steeds skuldig en onder ‘n doodvonnis van God. Jy kan dit nóú verander en vergifnis ontvang. Jy kan dit nou aanvaar en vergewe word. Vra net vir Jesus die Messias om jou Heer en Redder van jou lewe te wees en Hy sal dit vir jou doen wat Hy ook vir my gedoen het.

Ongelukkig word daar ‘n valse leerstelling deur die Satan versprei dat Jesus as die Messias gekom het, maar Hy is nóg God nóg die Vader. Hulle logika mag reg klink, maar is dit nie die wyse waarop die Satan te werk gaan nie? Hulle gebruik rabbiniese leerstellings en die verdraaiing van die Skrif om mense wat swak is van begrip, húlle gif te laat glo. Dit is beslis nie waar nie! Jesus het self bely dat Hy en die Vader Een is (Johannes {10:30}). Hy het ook gesê: “As julle My sien, het julle die Vader gesien”. Moet nie hierdie bedrieglike valse verkondigers glo nie: hulle leerstelling is ‘n vorm van menslike offerande. Ofskoon hulle beweer dat Jesus die Messias van God gekom het en daarom ‘n spesiale mens is, is dit nogtans ‘n menslike offerande, ‘n leerstelling waarmee die Satan die mense deur eeue heen mislei het om te beoefen, skynbaar nog tot vandag toe!

Kom gou Jesus!

PDF weergawe



Saterdag 21 Maart 2020

Verantwoordelikheid en Rekenpligtigeid

Pekudei
(Berekenings)


Eksodus {39:32} "So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle dit gemaak. {39:33} En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke, {39:34} en die dekkleed van rooigeverfde ramsvelle en die dekkleed van robbevelle en die voorhangsel tot bedekking; {39:35} die ark van die Getuienis met sy draaghoute en die versoendeksel; {39:36} die tafel met al sy gereedskap en die toonbrode; {39:37} die suiwer kandelaar met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy gereedskap en die olie vir die kandelaar; {39:38} verder die goue altaar en die salfolie en die reukwerk van speserye en die bedekking vir die ingang van die tent; {39:39} die koperaltaar en sy kopertraliewerk, sy draaghoute met al sy gereedskap, die waskom en sy voetstuk; {39:40} die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby behoort, en al die gereedskap vir die diens in die tabernakel van die tent van samekoms; {39:41} die kunstige klere, om in die heiligdom te dien, die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien. {39:42} Net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel die hele werk gemaak. {39:43} En Moses het die hele werk bekyk — en hulle het dit gemaak soos die HERE beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën."

Ons ken almal die uitdrukking “Tot hiertoe en nie verder nie!” Dit verwys na die uiterste verantwoordelikheid en rekenpligtigeid wat van die belangrikste persoon op die outoriteitsvlak vereis word. Dit is presies wat ons agterkom wanneer ons hierdie Skrifgedeeltes uit Parasha Pekudei lees - die man wat aan die hoof is waar “tot hiertoe en nie verder nie” geld! Ja, dit het by Moses berus! Hy was die één wat die opdragte van God ontvang het aangaande die samestelling van die Tabernakel en dit was van hom dat elke ander persoon hulle instruksies ontvang het. Toe al die voorbereidende werk aan die Tabernakel voltooi was, was dit Moses se verantwoordeliheid om alles na te gaan ten einde te verseker dat dit uitgevoer is presies soos wat gespesifiseer is en hy moes dit doen voordat die Tabernakel opgerig sou word. Waarom? Omdat hy dié verantwoordelike persoon was, het die onus geheel en al op hom gerus. Indien daar die geringste fout met enige voorbereidings van die Tabernakel was, sou God nie Bezalel ben (seun van) Uri of Oholiab ben Ashisamach of enige van die ander vakmanne verantwoordelik gehou het nie. Hy sou Moses verantwoordelik gehou het, want hý sou dit aan God moes verantwoord. 

Ek het eenkeer ‘n boek gelees wat die ware verhaal is van ‘n entrepreneur, wat ‘n hotelbestuursmaatskappy besit het. Hotelle sou heel dikwels sy maatskappy huur nadat hulle onsuksesvol was om die hotelle self te bestuur. Toe hy gevra is wat hy sou doen met die oorname van ‘n nuwe eiendom, het hy geantwoord: “Ek stuur die bestuurder in die pad”. Hy het geredeneer dat indien die bestuurder van ’n hotel die punt bereik het waar die eienaars besluit het om hom te huur, dan moes hulle daardie bestuurder ontslaan! Julle sien, dit was nie die personeellid wat die klokkie moes beantwoord nie, die ontvangsdame of kamerbediendes wat vir die hotel se mislukking verantwoordelik was nie - selfs indien hulle almal moes saamwerk om die sukses of mislukking van die hotel te verseker - dit was die bestuurder! Tot hiertoe met hom en nie verder nie! Die Skrif is vol van soortgelyke voorbeelde van waar één persoon die volle verantwoordelikheid moes dra.

Johannes {17:12} "Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word."

Jesus was besig om aan die Vader verslag te doen van hulle wat aan Hom toevertrou was. Oënskynlik was Jesus bewus van die beginsel en in die Skrifgedeelte kan ons sien dat Hy volle verantwoordelikheid aanvaar het vir die twaalf dissipels wat die Vader aan Hom toevertrou het.

Leiers is ‘n noodsaaklike en Bybelse deel van sowel ons fisiese- as geestelike lewens. ‘n Gemeente of besigheid wat bestuur word deur ‘n komitee of een of ander groep mense (kommunisme is ‘n voorbeeld hiervan), pas nie in die model wat God aan ons voorgehou het vir wanneer dit kom by rekenpligtigheid nie. Hier hou dit op en God sê dit berus op die persoon wat Hy aangewys het.

Hebreërs {13:17} "Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie."

Chazak Chazak v’ neet chazak
Wees sterk, wees sterk en laat ons versterk word. 

Kom gou Jesus!

Sabbatsvrede

VaYakhel
(En Hy Het Byeengebring)


Eksodus {35:1} "TOE het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen: {35:2} Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ’n heiligheid, ’n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word.{35:3} Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie."

Baie Joodse mense, ultra-ortodoks, ortodoks en selfs sekere Messiane neem hierdie mitzvah (gebod) van om nie ‘n vuur aan die brand te steek nie baie ernstig op. Hulle kook nie op die Sabbat nie, omdat dit vereis om hulle stowe aan te skakel, hulle skakel nie ligte aan op die Sabbat nie omdat die skakelaar ‘n vonk veroorsaak, wat ‘n vuur kan laat ontstaan, hulle bestuur nie op die Sabbat nie omdat die aanskakeling van hulle voertuig ‘n onsteking vereis wat ‘n vuur kan veroorsaak, of doen niks anders wat ‘n vuur of ‘n vonk op die Sabbat kan veroorsaak nie

Danksy moderne tegnologie, het sommige van hierdie selfde persone ‘n oplossing gevind om hulle vertolking van hierdie Skrifgedeelte te omseil. Hulle installeer bewegingsverklikkerskakelaars in hulle huise, wat die ligte outomaties aanskakel wanneer ‘n mens die vertrek binnekom. Indien hulle in ‘n woonstelgebou woon, kies hulle een wat ‘n “Sabbat”- hysbak beskik, wat outomaties stilhou op elke vloer sonder dat knoppe gedruk hoef te word. Enersyds ag hulle hierdie gebod so ernstig en letterlik, maar andersyds, gebruik hulle tog elke moontlike moderne tegnologie tot hulle voordeel om sodoende die gebod te omseil. Dit klink absurd, maar dis waar! Ons moet onsself dus afvra of God werklik bedoel het dat ons tot hierdie uiterstes moet gaan? Kom ons kyk wat Jesus die Messias, God in Sy vleesgewordenheid hieroor gepreek het.

Markus {2:27} "En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie."

Indien die Sabbat vir die mens geskep is en nie die mens vir die Sabbat nie, waarom wend die mens hom tot al hierdie geknoei, so asof God en hierdie gebod vereer word? Oorweeg ook dít dat dit saans in die Negev-woestyn bitter koud word - selfs onder o-grade in die Winter. Wat het gebeur wanneer die vuur in die tent geblus is op die Sabbat? Moes die kinders van Israel ‘n nie-Jood, miskien ‘n Egiptenaar of Edomiet vind om die vuur weer aan die brand te steek sodat hulle kinders nie aan blootstelling moes ly nie? Was die Tora slegs geskryf vir mense in  warmer klimaatstoestande? Wat van die Eskimos in die vriesende noorde? Indien hulle tot geloof gekom het, kon hulle nie op die Sabbat vuur aansteek om warm te bly nie? Ek dink die eerste deel van ons Skrifgedeelte beantwoord hierdie vrae vir ons.

Eksodus {35:2} "Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ’n heiligheid, ’n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word."

Die konteks van die gedeelte, wat ek in die begin van hierdie kommentaar aangehaal het, is Werk. Die kinders van Israel is deur God aangesê dat hulle ses dae gehad het om te werk, maar die sewende dag moes hulle rusdag wees. Terwyl hulle slawe in Egipte was, was hierdie konsep van ‘n rusdag - ‘n dag sonder om op te staan en te gaan werk - ongehoord. Deur te verneem dat hulle nou ‘n dag af gehad het, sou vir die kinders van Israel moeilik gewees het om aan gewoond te raak. Die Sabbat was egter vir die Here en is steeds nie ‘n saak wat Hy wil hê ons moet ligtelik opneem nie. Op hierdie dag het die Here opgehou om te skep en netso moet ons as Sy skepsels, na Sy beeld geskep, ook op die Sabbat ophou skep. Enige tipe skeppende werk moes ophou en ‘n dag van rus moes eerbiedig word. Die wrede straf om steeds op die Sabbat te werk, was die dood. Dus vir alle werkslawe daar buite - as julle miskien die moontlikheid besef het om te sterf as gevolg  van konstante en onophoudelike werk, sal hierdie wrede straf  van die dood, miskien vir julle ‘n aansporing wees om op te hou werk op die Sabbat!

Ons moet ook in ag neem dat toe die kinders van Israel hierdie gebod ontvang het, niemand na die kantoor of fabriek gegaan het om te werk nie. Besighede was tuigebaseerd. Die grofsmid het buite sy tent gewerk, netsoos die handelslui. Daarom die woorde:

Eksodus {35:3} "Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie."

Dit pas eenvoudig in die konteks om nie op die Sabbat te werk nie!

Om ‘n vuur aan te steek teneinde warm te bly is nie werk nie! In dieselfde verband, om ligte in jou huis aan te skakel sodat jy saans kan sien, is nie werk nie. Om op die Sabbat jou motorvoertuig aan te skakel en na die sinagoge te bestuur, is nie werk nie. Om te kook teneinde op die Sabbat te kan eet, is nie werk nie, tensy jy ‘n professionele sjef is. 

Sabbat is ‘n dag van feestelikheid en nie van vas nie.Maar julle sê: “Wat van die man wat uitgevang is deur om op die Sabbat takkies op te tel en deur Moses ter dood veroordeel is? Het hy moontlik hout opgetel om sy kinders warm te hou?” Aangesien hierdie man moes sterf vir die optel van takkies, kan ons nie veronderstel dat hy moes gesterf het om sy kinders warm te hou nie. Indien wel, sou hy nie deur God die doodstraf opgelê gewees het nie. Heel moontlik sou hy die hout wou gebruik om sy vuurmaakplek droog te maak of sy smids-smeltoond of smeltpot op te warm, wat alles werk was! Hierdie gebod was nie bedoel om iemand te laat sterf bloot omdat hy hout bymekaar gemaak het om sy huis te verwarm of sy gesin te voed nie. In elkgeval behoort ons almal verstandig genoeg te wees om vooruit die Sabbat te beplan. Netsoos ‘n dubbele porsie manna op die grond geval het vir die kinders van Israel om op te tel, ter voorbereiding van die Sabbat, terwyl hulle in die wildernis gedwaal het, die motor met brandstof volgemaak moet wees (sodat dit nie iemand anders sou veroorsaak om te werk nie), sou die hout vooruit bymekaargemaak moes word vir vuur, die voedsel vooraf aangekoop en miskien selfs voorberei word, sodat die Sabbat werklik geag word, soos deur die Here bedoel, ‘n Kodesh (Heilige ) dag van rus voor Hom. Shabbat shalom (sabbatsvrede)    


Kom gou Jesus!
PDF weergawe

Donderdag 12 Maart 2020

Tiendes

KiTisa
(Wanneer Jy Verhef)


Aangesien ek geen tekort aan inligting kon vind om op vandeesweek se Parasha kommentaar te lewer nie, het ek dus volstaan met die ondergemelde Skrifgedeelte. Mag dit tot eer van God en ‘n seën vir julle wees!

Eksodus {30:11} "VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê:{30:12} As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie.{30:13} Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ’n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom — die sikkel is twintig gera — ’n halfsikkel as offergawe aan die HERE. {30:14} Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee.{30:15} Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ’n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. {30:16} Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen."

Die telling van die kinders van Israel moes slegs geskied vir ‘n doel soos deur die Here bepaal. Die getal van die kinders van Israel moes nooit vir enige ander doel as dié van die Here bepaal word nie en dan slegs op Sy versoek. Soos ons gelees het, het hierdie sensus, deur die Here bekragtig, ‘n besondere en buitengewone vereiste behels. Bo-en-behalwe om getel te word, moes elke persoon wat getel is en ouer as twintig jaar was, ‘n half-sikkel betaal as losprys vir hulle siel. Die half-sikkel betaling sou ook verseker dat geen plaag oor hulle uitbreek nie. Soos gesien, was hierdie geld dan ook bestem vir die instandhouding van die Tabernakel (Ohel Moed).

Ons onthou toe koning Dawid impulsief besluit het om die kinders van Israel te laat tel (Shamuel Bet: 2 Samuel ). Ongeag die pleidooi deur sy generaal Joab om daarvan af te sien, het koning Dawid die sensus tog laat plaasvind, wat nie deur God bekragtig is nie en gevolglik tot die uitbreek van ‘n plaag onder die mense gelei het, waaraan duisende gesterf het.

Wat het God bedoel met die versoek om betaling van geld as losprys vir ‘n mens se siel? Die Hebreeuse woord “kopher” word vertaal as “losprys”. Dit is waar ons die woord “kapparah” vandaan kry, wat “bedek” beteken. Die woord “kapparah” is toegepas op die offerande wat versoening beteken het vir ‘n sonde teen God gepleeg. Die Tora bevat egter talle voorskrifte met betrekking tot die wyse waarop diere geoffer moes word om aan hierdie doel te beantwoord. Kan die gee van geld, soos hier versoek, ook versoen vir ‘n sonde? Die antwoord daarop is ‘n uitdruklike NEE!  So, waarom sou die Here ‘n half-sikkel betaling vereis as losprys vir die siele van die kinders van Israel, wanneer geld nie as losprys vir siele kan dien nie?

Die antwoord hierop kom van die gebruik en doel van die half-sikkel betaling.

Eksodus {30:16} "Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen."

Die half-sikkel op sigself beteken nie die losprys nie. Geld of die betaling daarvan aan godsdienstige organisasies, kerk, sinagoge of prediker kan nie ‘n mens se siel loskoop nie. Dit was die wyse waarop die geld aangewend was, wat hulle siel losgekoop het Soos ons weet was die half-sikkel bedoel vir die diens van die Tabernakel. Tussen al die dienste wat in die Tabernakel verrig is, was dié wat die losprys verseker het, die korbanot (naderkoms-offerande/offers). Dit was hierdie offerande wat die siele van die kinders van Israel losgekoop het. Terwyl geld geen siel kan red nie, toon die Here tog hier dat geld wel noodsaaklik is vir die reddingsaksie van die siel. Sonder geld sou die Tabernakel nie behoorlik kon funksioneer nie en sonder ‘n behoorlike funksionerende Tabernakel, sou die kapparah nie gedoen kon word met die diere wat gebruik is as plaasvervangende offerande vir die sondes van die mens nie. Diere is doodgemaak / geslag  as losprys vir die siele van die mense.

Die Here het die belangrikheid van geld in die algemene proses van redding besef en ek dink ons behoort dieselfde te doen. Sonder behoorlike finansiering sal ons Messiaanse gemeentes nie oor die vermoë beskik om te onderrig, preek, bedien en getuig aan die verlore siele van die huis van Israel en aan die nasies nie. Ek bid dat elkeen wat hierdie D’ Var Torah lees, sy/haar deel sal doen deur tiendes by te dra aan hulle kehila (gemeente) en ondersteunende Messiaanse sendelinge vir die losprys van siele. Die verewiging van die Besora Tova (Goeie Nuus/Evangelie) moet aan die ganse wêreld verkondig word. Indien julle nie julle deel doen nie, wees versigtig dat ‘n plaag nie binne julle huisgesin uitbreek nie. God het dit gespreek - nie ek nie!   

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Sondag 08 Maart 2020

Vir Ewig

Tetzaveh
(U Sal Beveel)


Eksodus {27:10} "daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees. {27:11} So moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke. Die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees. {27:12} En in die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar behangsels van vyftig el wees; daarby tien pilare en hulle tien voetstukke. {27:13} En die breedte van die voorhof aan die oostekant, teen sonop, vyftig el — {27:14} sodat daar vyftien el behangsels vir die een kant is, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke; {27:15} en vir die ander kant vyftien el behangsels, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke; {27:16} en vir die poort van die voorhof ’n bedekking van twintig el, van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk; daarby vier pilare en hulle vier voetstukke. {27:17} Al die pilare van die voorhof moet rondom van silwerringe voorsien wees; hulle kramme moet van silwer wees en hulle voetstukke van koper. {27:18} Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig by vyftig en die hoogte vyf el, van fyn dubbeldraad-linne, daarby voetstukke van koper. {27:19} Aangaande al die gereedskap van die tabernakel, by sy hele bewerking, en al sy penne en al die penne van die voorhof, hulle moet van koper wees. {27:20} En jý moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ’n brandende lamp te hê. {27:21} “In die tent van samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die HERE. Dit sal ’n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van die kinders van Israel."

Wanneer die Here vir die kinders van Israel beveel dat iets ‘n verordening vir ewig is, wat beteken dit? Bedoel dit vir ewig totdat hulle dit nie langer kan doen nie? Beteken dit vir ewig totdat hulle deur hulle vyande verslaan is? Beteken dit vir ewig totdat hulle uit die land verdryf en oorsee versprei is onder die nasies? Of impliseer vir ewig werklik vir ewig? So wat beteken dit wat Hy ons beveel: “.....dat dit vir ewig ‘n verordening sal wees……” en vir hoe lank is “vir ewig”

Wanneer ons lees dat die Here sê “vir ewig”, is dit nie slegs ‘n bepaling wat met betrekking tot die Menorah (lamp) uniek is nie. Dwarsdeur die Skrif, het die Here beveel om dinge vir ewig na te kom, byvoorbeeld die verskeidenheid sondoffers in Bet Hamikdash (tempel), sou ook vir ewig as verordening geld.

Levitikus {7:36} "wat die HERE beveel het om hulle te gee van die kant van die kinders van Israel, op die dag toe Hy hulle gesalf het. Dit is ’n ewige insetting vir hulle geslagte.  {7:37} Dit is die wet vir die brandoffer, die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer en die wydingsoffer en die dankoffer"

Jesaja {9:7} "DIE HERE stuur ’n woord in Jakob, en dit val in Israel;"

Met betrekking tot ons twee voorafgaande Skrifgedeeltes, weet ons dat die Levitiese offerstelsel nie langer beoefen word nie omdat daar geen tempel meer in Jerusalem is nie. Ons weet dat daar teenswoordig geen koning op die troon van Dawid sit nie. So bedoel “vir ewig” vir God tot tyd en wyl Hy ons die vermoë ontneem om dit nie langer na te kom nie?

Ek glo dat “vir ewig” vir God letterlik vir ewig beteken. Hoe is dit moontlik wanneer die Tempel nie langer bestaan nie, diere nie langer geoffer kan word nie, die troon van Dawid ook nie langer bestaan nie en Israel nie langer ‘n monargie is nie? Wel, diegene onder ons wat wéét dat Jesus die Messias, die Seun van Dawid, hulle Here en Redder is, wéét vir seker dat Hy inderdaad op Sy troon in die Hemel sit, aan die regterkant van die Vader, en oor die ganse aarde regeer.

Psalm {103:1} "’n PSALM van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! {103:18} vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. {103:19 Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles."

Daarom, met betrekking tot die troon van Dawid, is daar ‘n Seun van Dawid wat steeds op daardie troon sit en Hy sal vir ewig daarop sit, netsoos die Here gesê het. 

Wat dan aangaande die Menorah, die Lamp, wat gedurig aangesteek moes word en sekerlik ten minste 2 millenia gelede reeds uitgebrand het en natuurlik die Tempelofferandes wat ook nie langer bestaan nie?

Met beterekking tot die Lamp, het Jesus vir ons gesê:

Johannes {8:12} "EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê."

Die Lig van die Menorah, wat gedurig (vir ewig) moes brand, dui op Jesus, die Lig van die Woord. Sy Lig skyn deur ons in ‘n donker wêreld en sal vir ewig bly skyn deur hulle wat in Sy Naam geroep is.

Ten slotte is daar die Tempelofferandes. Soos ons reeds bewus gemaak is, aangesien die Tempel nie meer bestaan nie, kan geen diere-offers aan die Here gebring word nie. Beteken dit dus dat die Levitiese priesterlike offerandestelsel nie vir ewig is nie, aangesien dit geëindig het met die vernietiging van die Tempel? My antwoord daarop is ja en nee. Ja, die Tempel bestaan nie meer nie en daarom kan die Levitiese offerandestelsel nie langer hier op aarde beoefen word nie, maar die Mishkan BaShamaim die (die Tabernakel in die Hemel) bestaan steeds en netso ook die Priesterdom, wat daarin dien. Ons weet dat die Mishkan (Tabernakel) wat Moses opgerig het - dié een wat saam met die kinders van Israel deur die wildernis vervoer is, slegs ‘n namaaksel was van die één in die Hemel, wat God aan aan Moses vertoon het op die berg Sinai.

Eksodus {25:40} "En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is."

2 Kronieke {5:1} "TOE al die werk gereed was wat Salomo vir die huis van die HERE gedoen het, het Salomo die heilige gawes van sy vader Dawid ingebring, die silwer sowel as die goud, en al die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van God neergesit."

Die Tabernakel bestaan steeds in die Hemel en om met die hemelse Tabernakel saam te gaan, het ons ‘n volle offerande ook in die Hemel, Jesus die Messias. Hierdie Hemelse Tabernakel is die één waarin Jesus opgevaar het om vir ons met Sy bloed ‘n ewige versoening te wees. Hy het vir ons ons enigste sondoffer geword. Telkens wanneer ons dus sondig en om vergifnis dit bely, deel Jesus die Vader mee dat Hy die toepaslike offerande, volgens die Tora, geword het vir daardie sonde en ons word vergewe.

Hebreërs {9:11} "Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, {9:12} ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ’n ewige verlossing teweeggebring."

Wat die Hoëpriesterskap betref, het ons inderdaad ‘n Hoëpriester.

Psalm {110:4} "Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek."

Hebreërs {8:1} "DIE hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ’n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele,"

Wie is hierdie Priester volgens die orde van Melgisedek? Jesus die Messias - Hy is sowel die offer as die offerande!

Hebreërs {6:20} "waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek ’n hoëpriester geword het vir ewig."

Ter afsluiting, kan ons sien dat daar “vir ewig” ‘n Tempel in die Hemel is, met “vir ewig” ‘n Menorah, synde Jesus die Messias, wie “vir ewig” ons Hoëpriester is, wie ook “vir ewig” ons volle offerande is en “wie vir ewig” ons Koning is, wie “vir ewig” op die troon van Dawid sit. 

Dit is dus vanselfsprekend dat die Here se “vir ewig” onteenseglik “vir ewig“ beteken!

Kom gou Jesus!

PDF weergawe