Saterdag 26 Maart 2016

Die Roeping van Bediening

Tzav
(Opdrag)

Levitikus / VaYikra 6:1-8:36
Maléagi / Mal'achi 3:4-24
Hebreërs / Ivrim 9:11-28


Levitikus / Vayikra {6:8} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:9} Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word. {6:10} En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi. {6:11} Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ‘n rein plek uitbring. {6:12} En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. {6:13} Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie.”

Soos ons voortgaan om hierdie week se oordenking te lees, verstrek dit eintlik - tenminste volgens my mening - 'n volledige taakbeskrywing vir die priesters. Dit is werklik nogal 'n omvangryke taak! Meeste mense huldig die onbaatsugtige siening dat die bediening 'n voltydse beroep is. Hulle dink daar is iets besonders en uniek daaraan om in die Here se diens te staan. Inteendeel - dit is inderdaad werk, soos ons in vandeesweek se oordenking sal sien; trouens, soveel werk dat God seker gemaak het dat die priesters vir hul werk van 'n vergoeding gewaarborg sou wees.

Levitikus / Vayikra  {7:7} “Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle die priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe.”

Hier word ons vertel dat die priester die vel van die sondoffer kon hou. Dit kon gelooi en gebruik word vir die maak van wynsakke, sandale, gordels asook ander leerprodukte, wat hulle kon aantrek, gebruik of verkoop. Soos verder uit die oordenking blyk, het die priester 'n gedeelte van die offerandes as voedsel vir hom en sy gesin ontvang. Die half-sikkel-tempelbelasting is ook gebruik om die priesters te onderhou. Ja, God het voorsiening gemaak dat priesters vir hul arbeid vergoed is, maar, soos in die geval van die res van die wêreld, moes hulle werk daarvoor en hard het hulle beslis gewerk!
  
Baie gelowiges - wanneer hulle met hul werkgewer of werkomstandighede ontevrede raak, of die trekpas kry of afgelê word of bedank, voel hulself skielik geroepe tot die bediening as voltydse werk. Daar is egter niks verkeerd daarmee om vir die Here te werk nie; Trouens, dit is bewonderingswaardig. Die probleem is egter, dat hierdie mense onder die wanindruk verkeer dat die bediening nie harde werk is nie. Hulle dink dit is miskien minder frustrerend en veroorsaak minder stres as om in die sekulêre wêreld te moet oorleef.Wel, indien hierdie week se oordenking dit nie duidelik uitspel nie, laat my toe om my geringe bydrae uit eie ondervinding, by te voeg.

Ek was 'n algemene kontrakteur voordat ek vir die Here begin werk het. Toe ek die roeping tot die bediening ontvang het, was my kontrakteursonderneming baie voorspoedig en het ek uit my werk tevredenheid geput. Ek was dus nie gefrustreerd, ontevrede of sat daarvoor om in 'n sekulêre omgewing te werk nie; trouens, ek kon my onderneming suksesvol bedryf en boonop twee tot drie aande per week my diens vrywillig aan die gemeente wy. Boonop was ek 'n ouderling en raadslid, wat die bywoning van vergaderings en deelname aan soms uiters moelike besluitnemings vereis het. Daarbenewens het ek elke diens, spesiale diens, Bybelstudie en meeste gebedsbyeenkomste bygewoon.

Ek noem dit nie om bewonder te word nie! Ek deel dit met julle omdat, ten spyte van alles wat ek reeds besig was om vir die Here te doen, ek nie voorbereid was vir dit wat op my gewag het toe ek Rabbi en leier van 'n gemeente geword het nie. Die werk wat ek nou doen, die tyd en inspanning wat dit vereis en wat ek wy aan die behartiging van die gemeente, die bloedsweet wat dit verg om te help, voorbidding te doen, berading, besoeke en selfs om net vir die gemeentelede beskikbaar te wees; studies, gebedsbyeenkomste, onderrig en sosiale gemeente aktiwiteite; raadsvergaderings en afhandeling van al die administratiewe take wat aandag vereis, oortref by verre enige werk wat ek in my hele lewe moes verrig.

Moenie my verkeerd verstaan nie; ek kla nie. Ek geniet wat ek doen en sou niks daaraan wou verander nie, solank dit die Here behaag, maar ek dink diens in die bediening behels WERK, en harde werk daarby. Boonop is God jou Werkgewer: Hy verwag ons allerbeste vir Hom!

Die priesters moes werk en is vergoed daarvoor. Dus moet ons nooit aan die bediening as 'n beroep dink wat nie harde werk vereis nie. Onthou, diegene in beroepsbediening is ook arbeiders, wat julle loon waardig is.
  
Noudat ek dit van my bors afgekry het, wil ek julle daaraan herhinner dat, in werklikheid, elke gelowige in Jesus die Messias, hom-/haarself moet beskou as in die voltydse bediening van God, ongeag wat sy / haar sekulêre werk is.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-04-04


Saterdag 19 Maart 2016

Jesus Sal Vir Julle Doen Wat Hy Vir My Gedoen Het

VaYikra
(En Hy Het Geroep)

Levitikus / VaYikra 1:1-5:26
Jesaja / Yeshayahu 43:21-44:23
Hebreërs / Ivrim 10:1-18


Levitikus / Vayikra {1:1} “En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: {1:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. {1:3} As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind. "

Nadat ek hierdie week se oordenking gelees het, is ek so dankbaar vir wat Jesus die Messias vir my gedoen het. Ek kan my beswaarlik voorstel dat ek diere sou moes koop en dit as brandoffer na die tempel bring sodat ek weereens in die regte verhouding met God kon verkeer. Om die waarheid te sê, vanweë al die sondes (met opset en onbewustelik) wat ek doen deur wat ek sê, hoor en dink, weet ek nie wat eerste sou gebeur nie: óf ek sou finansieel bankrot raak óf die wêreld sou leegloop van rein diere wat ek kan offer. Dan sou ek die onkoste van 'n vliegkaartjie moes aangaan en die spanning verduur om heen en weer tussen Kanada en Israel te reis, waar die tempel nog bestaan en Jesus die Messias nog nie gekom het nie. Dit op sigself sou dodelik wees! Dink daaroor na: as ons al ons sondes bymekaartel, dié wat ons as gelowiges doen (met opset onbewustelik, deur wat 'n mens sê, hoor en dink), slegs vandag, sou die totale aantal sondes verstommend wees. Verder, indien elkeen van ons 'n gepaste offer vir elke spesifieke sonde moes bring, sou 'n mens kon praat van bedreigde spesies!

Ek dink soms dat ons dít wat God vir ons gedoen het, ver te ligtelik opneem! Indien Jesus nooit vir die sonde van die wêreld kom sterf het nie - eens en vir altyd - sou die wêreld feitlik op 'n daaglikse basis heen en weer na Israel moes reis, want soos ons uit die Skrif weet, sondig ons almal.

Prediker / Kohelet {7:20} "want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Daarbenewens, kan brandoffers nêrens anders as in die tempel in Jerusalem gebring word nie.

Deuteronomium / Devarim {12:13} "Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie. {12:14} Maar op die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel."

Die feit dat Jesus vir die sonde van die wêreld gesterf het, was geen onbeduidende gebeurtenis nie. Ons weet egter, uit die Skrif, dat sonde alleenlik deur bloedvergieting versoen kan word. 

Levitikus / Vayikra {17:10} “En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.”

Waarom was God so onversetlik dat Sy volk nie mag bloed eet nie?

Levitikus / Vayikra {17:11} “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

Jesus (God wat as mens na die aarde gekom het) het aan die kruis gesterf en Sy bloed vir die sonde van die wêreld gestort, so het Hy voldoen en is Hy steeds besig om te voldoen aan God se straf vir sonde, wat die dood is. Dit is dus nie langer vir enigeen nodig om 'n brandoffer na die tempel in Jerusalem te bring nie. Dit is waarom dit nie langer bestaan nie en vir nagenoeg tweeduisend jaar nie bestaan nie.

Maar, indien jy nie 'n gelowige is nie en hierdie gedeelte van die Tora lees, weet dit dat Jesus die Messias vir jou sonde gesterf het. Hy is jou brandoffer, netsoos Hy myne is. Die enigste verskil tussen jou en my is dat ek glo; daardeur het ek versoening vir my sonde, maar jy het nie! Jy kan egter ook glo en vergifnis vir jou sonde ontvang. Vra net vir Jesus die Messias om die Heer en Redder van jou lewe te wees en Hy sal vir jou doen wat Hy vir my gedoen het.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-03-28


Saterdag 05 Maart 2016

Onderhouding van die Sabbat

VaYak’hel - Pekudei
(En Hy Het Laat Byeenkom - Rekenskap)


Eksodus / Shemot 35:1-40:38
Esegiël / Yechezekiel 45:16-46:18
Hebreërs / Ivrim 8:1-12; 9:1-11


Hierdie week het ons 'n dubbele lesing, soos van ons opskrif afgelei kan word. Ek het egter gekies om slegs kommentaar te lewer oor 'n gedeelte van die afrekening-oordenking.

Eksodus / Shemot {35:1} "Toe het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen: {35:2} Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word. {35:3} Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie."

Baie Jode, beide streng ortodoks en messiaans, neem hierdie gebod oor die aansteek van vuur baie ernstig op. Hulle kook nie op die Sabbat nie, want dit vereis die aanskakel van die stoof. Hulle skakel nie ligte aan op die Sabbat nie, omdat die skakelaar 'n vonk veroorsaak, wat die aansteek van vuur beteken. Hulle bestuur nie op die Sabbat nie omdat die aanskakel van 'n motor ontbranding vereis, wat op die aansteek van vuur neerkom. Verder doen hulle niks anders wat vuur veroorsaak nie.

Danksy moderne tegnologie, omseil sommige van hierdie mense egter hul interpretasie van die Skrif. Hulle laat byvoorbeeld bewegingsdetektorskakelaars in hul huise installeer wat die ligte outomaties aanskakel sodra 'n vertrek binnegegaan word. Selfs woonstelgeboue het Sabbathysers wat vanself op elke verdieping stilhou sodat hysbakknoppes nie gedruk hoef te word om die hysbak te gebruik nie. Met ander woorde, hierdie gebod word so ernstig en letterlik opgeneem, maar tog word elke moontlike moderne tegnologie tot hul voordeel aangewend om te verhoed dat hulle nie self 'n vuur / vonk veroorsaak nie. Selfs sinagoges kry op die Sabbat 'n nie-Jood om ligte aan - en af te skakel sodat hulle dit nie hoef te doen nie. Hulle redeneer dat indien hulle nie-Jode se dienste gebruik, hulle nogtans die gebod gehoorsaam. Dit klink belaglik, maar is tog waar!

Ons moet onsself dus afvra: het God werklik bedoel dat ons sover moet gaan? Na alles, het Jesus die Messias, God in die vlees, vir ons gesê:  

Markus / Mordechi{2:27} "En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie."

Indien die Sabbat dan vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbat nie, waarom knoei die mens so om God en Sy gebod te eerbiedig? Dink ook hieroor na: Dit word snags bitter koud (selfs benede 0 °C) in die wildernis; wat gebeur as die vuur doodgaan? Moes die kinders van Israel 'n nie-Jood - miskien 'n Egiptenaar of Edomiet - vind om die vuur weer aan te steek sodat die kinders nie aan blootstelling aan koue moes ly nie? Of was die Tora slegs geskryf vir mense in warm klimate? Wat van die Eskimos in die vriesende koue van die noorde? Indien hulle tot die geloof bekeer sou word, kon hulle nie op die Sabbat 'n vuur aansteek om warm te bly nie?

Ek dink die eerste deel van die Skrif, wat ek vir ons oordenking aangehaal het beantwoord hierdie vraag.

Eksodus / Shemot {35:2} "Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE..."

Die konteks van ons gedeelte is Werk. Die kinders van Israel word deur God gesê dat hulle ses dae het om te werk. Die sewende dag, die Sabbat, moet 'n rusdag wees.

Terwyl hulle in slawerny in Egipte was, was hierdie beginsel van 'n rusdag - 'n dag sonder om op te staan en te gaan werk - absoluut ongehoord. Om te verneem dat hulle 'n dag nie hoef te werk nie, moes vir die kinders van Israel moeilik gewees het om aan gewoond te raak.

Nietemin, was en is die Sabbat vir God nie om ligtelik opgeneem te word nie. Op hierdie dag het God opgehou om te skep en netso moes die skepsels, wat Hy geskep het, ook ophou werk op die Sabbat, en die straf daarvoor was dat indien hulle daarmee sou volhou, dit die doodstraf sou beteken. Dus, aan al julle werkverslaafdes daarbuite, indien julle voor die moontlikheid gestel word om die doodstraf opgelê te word vir die konstante en ononderbroke arbeid, sou hierdie erge straf bes moontlik 'n dryfveer wees om ook op die Sabbat te rus.

Ons moet ook in oorweging te hou dat, toe die kinders van Israel hierdie gebod ontvang het, niemand na die kantoor of fabriek gegaan het om te werk nie. Besighede was woonplek gebaseer. Die grofsmid het buite sy tent gewerk, netsoos alle ander ambagsmanne. Daarom die woord:"Julle mag op die Sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie." Dit pas eenvoudig in die konteks van geen werk op die Sabbat nie!

Die aansteek van 'n vuur om warm te bly, is nie werk nie. Die aanskakel van ligte in jou huis sodat jy saans kan sien, is nie werk nie. Die aanskakel van jou motor en bestuur daarvan sinagoge toe op die Sabat, is nie werk nie. Kook, op die Sabat, is nie werk nie, tensy jy op die Sabbat werk as 'n professionele sjef, maar jy sê:"Wat van 'n huisvrou wat elke dag vir haar gesin moet kook - ongetwyfeld sal kook vir háár werk wees? Of, wat van 'n man wat op die Sabbat betrap sou word terwyl hy stokkies optel en deur Moses ter dood veroordeel word? Dit was nie werk nie - miskien het hy die hout nodig gehad om sy kinders warm te hou".

In antwoord op daardie vrae: Vir 'n huisvrou is kook en skoonmaak werk, omdat sy dit die ander ses dae van die week doen. Sekerlik moet die huishouding 'n oplossing vind om haar tegemoet te kom sodat sy nie op die Sabbat moet werk nie. My vrou kook vroegtydig sop, wat ons op die Sabbat verhit. Sy berei ook van tyd tot tyd 'n bredie, wat sy op die stoof laat warm bly óf wat ons verhit. Meestal nuttig ons slegs 'n koue ete, wat ons óf uit papierborde eet, wat daarna weggegooi word óf ek help om die borde te was. Wat die man betref wat op die Sabbat stokkies opgetel en ter dood veroordeel is, kan ons nie bloot aanvaar dat hy dit gedoen het om sy kinders warm te hou nie - moontlik het hy die hout gebruik om vuur in sy oond te maak. Dit is werk! 'n Liefdevolle, genadige God sou niemand laat doodmaak, slegs omdat hy hout opgetel het om sy woonplek te verwarm of sy kinders te voed nie. Indien dit wel die geval was, waarom het hy nie vooruit beplan, soos ons met die sop of soos die kinders van Israel, met die optel van manna nie? In elke geval, ons almal behoort verantwoordelik genoeg te wees om te besef dat ons vooruit vir die Sabbat voedsel moet voorberei. Die motor moet vol brandstof wees; die voedsel moet vooraf gekoop en voorberei word, sodat die Sabat werklik onderhou word, soos wat God dit as 'n rusdag vir Homself bedoel het.
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-03-21