Tzav
(Opdrag)
Levitikus / VaYikra 6:1-8:36
Maléagi / Mal'achi 3:4-24
Hebreërs / Ivrim 9:11-28
Levitikus / Vayikra {6:8} “Verder het die HERE met Moses
gespreek en gesê: {6:9} Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet
van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die
hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die
brand gehou word. {6:10} En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die
linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die
vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi.
{6:11} Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as
buitekant die laer op ‘n rein plek uitbring. {6:12} En die vuur op die altaar
moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die
priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer
daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek.
{6:13} Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag
nie doodgaan nie.”
Soos ons voortgaan om hierdie week se oordenking te lees,
verstrek dit eintlik - tenminste volgens my mening - 'n volledige
taakbeskrywing vir die priesters. Dit is werklik nogal 'n omvangryke taak! Meeste
mense huldig die onbaatsugtige siening dat die bediening 'n voltydse beroep is.
Hulle dink daar is iets besonders en uniek daaraan om in die Here se diens te
staan. Inteendeel - dit is inderdaad werk, soos ons in vandeesweek se
oordenking sal sien; trouens, soveel werk dat God seker gemaak het dat die priesters
vir hul werk van 'n vergoeding gewaarborg sou wees.
Levitikus / Vayikra
{7:7} “Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle die
priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe.”
Hier word ons vertel dat die priester die vel van die
sondoffer kon hou. Dit kon gelooi en gebruik word vir die maak van wynsakke,
sandale, gordels asook ander leerprodukte, wat hulle kon aantrek, gebruik of
verkoop. Soos verder uit die oordenking blyk, het die priester 'n gedeelte van
die offerandes as voedsel vir hom en sy gesin ontvang. Die
half-sikkel-tempelbelasting is ook gebruik om die priesters te onderhou. Ja,
God het voorsiening gemaak dat priesters vir hul arbeid vergoed is, maar, soos
in die geval van die res van die wêreld, moes hulle werk daarvoor en hard het
hulle beslis gewerk!
Baie gelowiges - wanneer hulle met hul werkgewer of
werkomstandighede ontevrede raak, of die trekpas kry of afgelê word of bedank,
voel hulself skielik geroepe tot die bediening as voltydse werk. Daar is egter
niks verkeerd daarmee om vir die Here te werk nie; Trouens, dit is
bewonderingswaardig. Die probleem is egter, dat hierdie mense onder die
wanindruk verkeer dat die bediening nie harde werk is nie. Hulle dink dit is
miskien minder frustrerend en veroorsaak minder stres as om in die sekulêre
wêreld te moet oorleef.Wel, indien hierdie week se oordenking dit nie duidelik
uitspel nie, laat my toe om my geringe bydrae uit eie ondervinding, by te voeg.
Ek was 'n algemene kontrakteur voordat ek vir die Here begin
werk het. Toe ek die roeping tot die bediening ontvang het, was my
kontrakteursonderneming baie voorspoedig en het ek uit my werk tevredenheid
geput. Ek was dus nie gefrustreerd, ontevrede of sat daarvoor om in 'n sekulêre
omgewing te werk nie; trouens, ek kon my onderneming suksesvol bedryf en boonop
twee tot drie aande per week my diens vrywillig aan die gemeente wy. Boonop was
ek 'n ouderling en raadslid, wat die bywoning van vergaderings en deelname aan
soms uiters moelike besluitnemings vereis het. Daarbenewens het ek elke diens,
spesiale diens, Bybelstudie en meeste gebedsbyeenkomste bygewoon.
Ek noem dit nie om bewonder te word nie! Ek deel dit met
julle omdat, ten spyte van alles wat ek reeds besig was om vir die Here te
doen, ek nie voorbereid was vir dit wat op my gewag het toe ek Rabbi en leier
van 'n gemeente geword het nie. Die werk wat ek nou doen, die tyd en inspanning
wat dit vereis en wat ek wy aan die behartiging van die gemeente, die
bloedsweet wat dit verg om te help, voorbidding te doen, berading, besoeke en
selfs om net vir die gemeentelede beskikbaar te wees; studies,
gebedsbyeenkomste, onderrig en sosiale gemeente aktiwiteite; raadsvergaderings
en afhandeling van al die administratiewe take wat aandag vereis, oortref by
verre enige werk wat ek in my hele lewe moes verrig.
Moenie my verkeerd verstaan nie; ek kla nie. Ek geniet wat
ek doen en sou niks daaraan wou verander nie, solank dit die Here behaag, maar
ek dink diens in die bediening behels WERK, en harde werk daarby. Boonop is God
jou Werkgewer: Hy verwag ons allerbeste vir Hom!
Die priesters moes werk en is vergoed daarvoor. Dus moet ons
nooit aan die bediening as 'n beroep dink wat nie harde werk vereis nie.
Onthou, diegene in beroepsbediening is ook arbeiders, wat julle loon waardig
is.
Noudat ek dit van my bors afgekry het, wil ek julle daaraan
herhinner dat, in werklikheid, elke gelowige in Jesus die Messias,
hom-/haarself moet beskou as in die voltydse bediening van God, ongeag wat sy /
haar sekulêre werk is.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-04-04