En Hy het Nadergekom / VaYigash
Genesis / BeReshit 44:18-47:27
Eségiël / Yechezekiel 37:15-28
Lukas / Uri 6:9-16
Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. {45:8} Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.”
Waarom onderwerp God ons aan soveel moelikhede, benoudheid en ontbeuring om Sy wil uit te voer? Josef moes veel meer as die gemiddelde gelowige verduur sodat God sy broom kon vervul en sy broers tot berou kon bring.
Dit eindig egter nie daar nie. God het die herstel van hierdie gesinsverhouding gebruik om die kinders van Israel na Egipte te bring sodat die daaropvolgende geslagte slawe sou word. Dít het alles gebeur sodat God hulle van die Farao sou verlos en hulle Sy “spesiale” kosbaarheid kon maak. Daarna sou Hy aan hulle die land Kanaän gee. Kom ons erken: God is almagtig. Hy kon die kinders van Israel al die lyding en hartseer gespaar het, as Hy die eindresultaat wou verwesenlik, soos wat Hy met die skepping gedoen het. Dit blyk egter nie hoedat God te werk gaan nie; nie omdat Hy God is nie, maar omdat óns mense is, wat Hy selfs “'n hardnekkige volk” noem:
Eksodus / Shemot {32:9} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk.”
Ek het al dikwels ervaar hoe hardnekkig ons is. Nie elkeen wat ek onderrig, is bereid om die Woord van God voetstoots te aanvaar nie. Baie van hulle vereis 'n redelike verduideliking alvorens hulle selfs sal aanvaar wat die Tora voorskryf, hoedat hulle veronderstel is om te leef. Dit verstom my hoedat meeste gelowiges geen probleem ondervind met die feit dat Jesus inderdaad God is nie, maar as dit by die gebooie van die Tora kom, is dit vir hulle uiters moeilik om te aanvaar, wat nog te onderhou! Indien Jesus God is en God die Tora geskryf het en dan wanneer Jesus sê: “As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” (Johannes [Yochanan} {14:15}), móét Sy gebooie die Tora wees.
Hoe redeneer mense dan die Tora weg? Dikwels verduidelik hulle dit deur te sê die Tora is vir die Jode, maar genade is vir dié wat in Jesus die Messias glo. Wat ek hiervan aflei, is dat hulle glo dat God één stel gebooie voorhou vir geredde mense en 'n ander vir dié wat ongered is – 'n onredelike en valse veronderstelling! Die Woord van God is universeel: Dit span oor tyd, ruimte en mensegroepe.
Ek kon myself ontelbare slapelose nagte, veel trane en baie geld gespaar het as ek net die raad van my ouers gevolg het, maar nee, ek móés alles self, op my manier gedoen het en as't ware die wiel herontdek! Dit bewys hoe hardnekkig ons is. Ons is geneig om niks wat ons nie deur ons eie ervaring geleer het, te waardeer nie.
Het julle al ooit by iemand gestaan wat besig was om al die regte sleutels van sy rekenaar te druk en nie wou aanvaar dat dit nie werk nie en daar gevolglik niks op die skerm
verskyn het nie? Selfs indien julle toegekyk het hoedat die pogings keer op keer misluk het, probeer julle nie ook dieselfde prosedure volg alvorens julle aanvaar die rekenaar werk nie? Indien wel, het julle aan julself bewys waarom God dinge op Sy manier beskik, waarom Hy ons op die harde manier leer en ons met 'n langpad neem. Dit is omdat ons ervaringsmense is en tensy ons iets op ons eie ervaar – dit wil sê, self op die harde manier – leer ons nie die les wat God ons probeer leer nie. Ons waardeer nie dít wat ons nie ervaar het nie.
Spreuke / Mishlei {13:11} “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer. ”
Dit is 'n feit dat ons dinge waarvoor ons hard moes gewerk het, méér waardeer as dit wat sommer aan ons gegee is, sonder dat ons enige poging daartoe aangewend of leed ervaar het. Niemand waardeer gesondheid méér as ons siek is of pas van siekbed herstel het nie.
God ken ons – Hy het ons geskep! Waardeer die moelike tye in jul lewens want die indrukke wat dit op 'n mens se lewe laat, sal ongetwyfeld onskatbaar wees – daarbenewens is dit God wat dit vir ons uiteindelike beswil beskik.