D’Var
Torah
Volhard
in dit wat jy doen– Beha’alotecha
Numeri {11:11} “En Moses sê aan die HERE: Waarom
het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie,
dat U die las van hierdie hele volk op my lê? {11:12} Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het
ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die
suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het?
{11:13} Waarvandaan moet ek vleis kry om
aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat
ons kan eet. {11:14} Ek alleen kan
hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. {11:15} En as U so met my wil handel, slaan my dan
maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie
aansien nie.”.
Wanneer ‘n mens aan Moses dink, is ons geneig om
hom as ‘n tipe geloofsheld, voor te stel, ‘n man – groter as lewensgroot – wat
God volkome vertrou het en onwrikbaar was in sy besluit om die wil van God uit
te voer. Die bovermelde Skrifgedeeltes skets egter ‘n algeheel ander beeld van
hom. Het Moses miskien net ‘n onaangename dag beleef? Het hy op hierdie
betrokke oggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan? Het hy ‘n
slapelose nag agter die rug gehad? Was dít die rede waarom Moses in
moedeloosheid verval en God versoek het om hom uit sy ellende te verlos? Ek
meen dat dit nie die geval was nie. Moses was nie ‘n bonatuurlike mens wat
waardig was om verafgod te word nie. Die feit is dat hy slegs ‘n doodgewone man
was, blootgestel aan angs, vrees, twyfel en skynbare aanvalle van depressie;
met ander woorde, hy was maar net soos ons is. Na alles, wie sou nie fisies en
geestelik geknak het onder die geweldige las om dag na dag miljoene mense se
klagtes en murmurerings te moet aanhoor nie? Ja, Moses was ‘n sinnebeeld van
Jesus die Messias maar laat ons dit besef, hy wás nie Jesus die Messias nie!
Jesus self het, trouens, gewanhoop oor die las wat Hy moes dra.
Matthéüs / Mattityahu {26:38} “ Toe sê Hy vir
hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.
{26:39} En Hy het ‘n bietjie verder
gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is,
laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U
wil.”.
Nee! Moses was hoegenaamd nie iemand besonders
nie, behalwe dat hy deur God aangewys is om ‘n baie besondere taak uit te voer;
trouens, as dit nie was dat God hom versterk, aangemoedig en by hom was nie,
glo ek dat Moses ongetwyfeld onder die druk sou geknak het.
Hierdie wete vertroos ‘n mens darem en behoort
vir ons ook tot bemoediging te dien. Hoeveel male het die lewenslaste,
probleme, moeilikhede en sorge van die lewe ons nie al in so ’n mate ondergekry
nie dat ons die punt bereik het om tou op te gooi en uit te roep: “Neem my weg
God, ek het genoeg verduur, ek kan dit nie langer uithou nie, ek kan nie langer
so voortgaan nie!”.
Erken dat jy al so gevoel het, want ekself het
dit al ervaar. Waarom sou ons dan nie bemoedig word deur die woorde van Moses
in die betrokke Skrifgedeelte (aangehaal) nie? Moses was miskien nie bomenslik
nie maar hy was ‘n held en dít met die hulp van God en Sy ondersteuning. Op
grond daarvan kan ons almal helde wees, ongeag ons emosionele en geestelike
broosheid.
Daar is iets verder wat ons uit hierdie
Skrifgedeeltes kan leer en, trouens, uit die hele Tora-dialoog naamlik dat
Moses nooit tou opgegooi het nie! Ofskoon hy ongetwyfeld onderhewig was aan
angs en depressie, het hy dit hom nie laat onderkry nie en dit beteken die
onderskeid tussen om ‘n held of ‘n lafaard te wees. ‘n Held gee nooit die stryd
gewonne nie of laat toe dat sy gevoelens hom sodanig oorweldig dat hy tou
opgooi nie.
1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:13} “Geen
versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat
nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam
met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou