Donderdag 29 Mei 2014

Jy kan verduur

D’Var Torah
Volhard in dit wat jy doen– Beha’alotecha


Numeri {11:11} “En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? {11:12}  Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het? {11:13}  Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. {11:14}  Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. {11:15}  En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.”.

Wanneer ‘n mens aan Moses dink, is ons geneig om hom as ‘n tipe geloofsheld, voor te stel, ‘n man – groter as lewensgroot – wat God volkome vertrou het en onwrikbaar was in sy besluit om die wil van God uit te voer. Die bovermelde Skrifgedeeltes skets egter ‘n algeheel ander beeld van hom. Het Moses miskien net ‘n onaangename dag beleef? Het hy op hierdie betrokke oggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan? Het hy ‘n slapelose nag agter die rug gehad? Was dít die rede waarom Moses in moedeloosheid verval en God versoek het om hom uit sy ellende te verlos? Ek meen dat dit nie die geval was nie. Moses was nie ‘n bonatuurlike mens wat waardig was om verafgod te word nie. Die feit is dat hy slegs ‘n doodgewone man was, blootgestel aan angs, vrees, twyfel en skynbare aanvalle van depressie; met ander woorde, hy was maar net soos ons is. Na alles, wie sou nie fisies en geestelik geknak het onder die geweldige las om dag na dag miljoene mense se klagtes en murmurerings te moet aanhoor nie? Ja, Moses was ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias maar laat ons dit besef, hy wás nie Jesus die Messias nie! Jesus self het, trouens, gewanhoop oor die las wat Hy moes dra.

Matthéüs / Mattityahu {26:38} “ Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. {26:39}  En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”.

Nee! Moses was hoegenaamd nie iemand besonders nie, behalwe dat hy deur God aangewys is om ‘n baie besondere taak uit te voer; trouens, as dit nie was dat God hom versterk, aangemoedig en by hom was nie, glo ek dat Moses ongetwyfeld onder die druk sou geknak het.

Hierdie wete vertroos ‘n mens darem en behoort vir ons ook tot bemoediging te dien. Hoeveel male het die lewenslaste, probleme, moeilikhede en sorge van die lewe ons nie al in so ’n mate ondergekry nie dat ons die punt bereik het om tou op te gooi en uit te roep: “Neem my weg God, ek het genoeg verduur, ek kan dit nie langer uithou nie, ek kan nie langer so voortgaan nie!”.

Erken dat jy al so gevoel het, want ekself het dit al ervaar. Waarom sou ons dan nie bemoedig word deur die woorde van Moses in die betrokke Skrifgedeelte (aangehaal) nie? Moses was miskien nie bomenslik nie maar hy was ‘n held en dít met die hulp van God en Sy ondersteuning. Op grond daarvan kan ons almal helde wees, ongeag ons emosionele en geestelike broosheid.

Daar is iets verder wat ons uit hierdie Skrifgedeeltes kan leer en, trouens, uit die hele Tora-dialoog naamlik dat Moses nooit tou opgegooi het nie! Ofskoon hy ongetwyfeld onderhewig was aan angs en depressie, het hy dit hom nie laat onderkry nie en dit beteken die onderskeid tussen om ‘n held of ‘n lafaard te wees. ‘n Held gee nooit die stryd gewonne nie of laat toe dat sy gevoelens hom sodanig oorweldig dat hy tou opgooi nie.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:13} “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 21 Mei 2014

Eenvoudig omdat Hy God is

D’Var Torah
Verhef / Naso


Numeri / Bamidbar {4:24} “Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25}  hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26}  en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig. {4:29}  Wat aangaan die seuns van Merári—dié moet jy tel volgens hulle geslagte, volgens hulle families. {4:30}  Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig. {4:31}  En dit is wat by hulle drawerk besorg moet word, hulle hele dienswerk by die tent van samekoms: die style van die tabernakel met sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke {4:32}  en die pilare van die voorhof rondom met hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne—al die gereedskap sowel as alles wat by die bediening daarvan behoort. En die gereedskap wat by hulle drawerk besorg moet word, moet julle met die naam aanwys. {7:9}  Maar aan die seuns van Kehat het hy niks gegee nie; want die diens van die heiligdom het op hulle gerus: hulle moes dit op die skouers dra.”.

Met die lees van hierdie gedeeltes, wonder ‘n mens op wie van die drie priesterlike families die moeilikste taak gerus het? Wie se taak, dink julle, was die belangrikste? Om die waarheid te sê, is dit nie vir óns om te bepaal wie se taak die moeilikste of mees belangrike was nie. Die feit is dat almal ewe belangrik was asook werklik moeilik omdat die drie priesterlike familiegroepe as ‘n span moes saamwerk. Indien één so ’n groep sou verknoei deur hulle werk nie betyds of in die behoorlike volgorde te verrig nie, sou dit die ander twee groepe se werk regstreeks beïnvloed het en die hele proses om die tabernakel (Mishkan) op te breek en verskuif, tot een groot verwarring gelei het. Dieselfde sou ook met betrekking tot die oprigting daarvan gebeur het.

Elkeen se taak in diens van die Here is belangrik – ongeag hoe moeilik of hoe gering dit ookal mag wees.

Te veel gelowiges, omdat hulle nie iets belangriks doen nie, iets wat aan hulle aansien in die gemeente sou verleen nie, meen dat hulle diens aan die Here onbelangrik is. Die feit is egter dat niemand se diens minderwaardig is nie. Dink net daaraan wat sou gebeur indien die persoon wie se verantwoordelikheid dit is om te verseker dat afvalhouers gereeld leeggemaak word, nie sy plig nakom nie of die persoon wat daarvoor verantwoordelik is om die deur van die gemeente vir vroeë oggendgebed oop te sluit – in die middel van die winter nie! Watter wanorde en ongerief sou nie daardeur veroorsaak word nie. God gaan ons nie vergoed vir hoeveel ons doen of vir hoe moeilik ons taak is of hoe belangrik dit is nie. Hy sal ons wel vergoed vir hoe getrou ons die taak waartoe Hy ons geroep, uitgevoer het. Indien jy by jouself sou dink: “Die taak wat ek verrig, is nie deur God aan my toegeken nie, maar eerder deur die gemeenteleiers; ek hou nie daarvan nie en daarom sal ek nie my bes doen nie”. Dink weer daaroor na: elke hartsbesluit word deur die Here bepaal. Indien ‘n minderwaardige taak aan jou toegeken is, was dit eintlik God wat dit aan jou toegeken het, ongeag wie Hy gebruik het om die fisiese toekenning te behartig. Getrouheid is die vernaamste wat vir God van belang is, wanneer dit daarop aankom om vir Hom te werk.

Lukas / Uri {17:7} “En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? {17:8}  Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? {17:9}  Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. {17:10}  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. ”.

As diensknegte van die Here, behoort ons nooit dank of waardering of eer te verwag vir die taak wat ons vir God doen nie. Enige sulke verwagtings sou die sonde van trots inhou. Van ons word verag om ons taak vir God as Sy getroue diensknegte te verrig – eenvoudig omdat Hy God is.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Vrydag 16 Mei 2014

Om te sterwe aan die self – Om te lewe vir God

D’Var Torah
In die wildernis – Bamidbar


Númeri / Bamidbar {1:47} “Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. {1:48}  Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê: {1:49}  Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; {1:50}  maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. “

Númeri / Bamidbar {3:9} “En jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee; hulle is heeltemal aan hom gegee uit die kinders van Israel. {3:10}  Maar Aäron en sy seuns moet jy aanstel, dat hulle hul priesteramp kan waarneem; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. ”.

Die Leviete (Leviim) was ‘n geseënde en gesalfde stam. God het hulle uit al die stamme van Israel gekies om Hom te dien deur aan Aäron (Aharon) en sy seuns van diens te wees. Soos ons kan sien, het God dit egter duidelik gestel dat hulle hul tot hulle eie verantwoordelikhede sou beperk en nie begeer of probeer aanmatig om die verantwoordelikhede van Aäron of sy seuns op hulle te neem nie.

Die Leviete was in drie stamgroepe (“clans”) verdeel, waarvan elkeen sy eie verantwoordelikhede gehad het; één stamgroep mag nooit op die ander se verantwoordelikhede uitruil nie. Elkeen s’n was ‘n individuele, permanente verantwoordelikheid. Die vaders van elke stamgroep sou hulle seuns onderrig en dus hulle onderskeie take aan hulle oorlewer om sodoende die take van die betrokke stamgroep van geslag tot geslag te verewig. Dieselfde het ook vir die gewone Israel gegeld, in soverre dat die vaders altyd hulle seuns húl ambag geleer het. Ons sien dit ook in die geval van Jesus. Sy stiefvader, Josef, was ‘n skrynwerker en dus het Hy, met behulp van Josef se “vakleerlingskapopleiding”, Hom ook as ‘n skrynwerker bekwaam. Tot en met die middel van die 1900’s, was dit in Noord-Amerika die algemene praktyk en is dit, trouens, steeds die geval in baie van die ontwikkelende lande van die wêreld.

Baie vanne, veral onder die Jode, dui op die ambagte wat hulle voorvaders beoefen het, soos byvoorbeeld my van Farber. Dié van is oorspronklik Duits-Jiddisj en beteken “verwer / verkleurder”, wat di took met kleur of verwer vereenselwig. Die moontlikheid bestaan dus dat my voorouers betrokke was by kleur, verf of verkleuring (“dyeing”).

Ek glo dat God volkomenheid van ons verwag: Hy verlang da tons Hom na die beste van ons vermoë en met al ons krag sal dien. Watter beter wyse is daar as om in volkome toewyding altyd op dieselfde wyse diensbaar aan Hom te wees! Herhaling maak ons bedrewe! My eie ondervinding staaf hierdie waarheid. Wanneer ek iets nuuts doen, is daar altyd ‘n leerkurwe. Dit kan my enigiets van ‘n week tot ‘n maand neem voordat ek aan ‘n nuwe taak gewoond raak. Dit verg tyd om iets nuuts aan te leer, maar as ‘m mens dit ten ene male aangeleer het en beoefen, word dit ‘n tweede natuur. ‘n Taak wat aanvanklik moeilik en omslagtig was, word deur gereelde herhaling, maklik en volmaak. Ek is oortuig daarvan da tons almal een of ander tyd in ons lewe dít wat ek sê, alreeds ondervind het.

Herhaling kan egter problematizes raak en ongelukkig is dit soos ons menslike natuur is. Ons raak verveeld om dieselfde ding oor en oor te doen, veral wanneer dit werk betref. Soos ons in ‘n toekomstige parasha sal merk, is dit presies wat met die Leviete gebeur het. Indien ons God gaan dien op die wyse waarop Hy verlang om gedien te word, sal ons aan herhaling móét gewoond raak. Verveeldheid is dus iets wat ons móét te bowe kom in ons nimmereindigende strewe om ons redding te verwenselik; trouens, dit beantwoord juis aan die beginsel om aan onsself te sterwe en om vir God te lewe.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Vrydag 09 Mei 2014

Doen dit aan hulleself

D’Var Torah
My Verordeninge / Bechukotai
Doen dit aan hulleself


Levitikus / Vayikra {26:14} “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; {26:15}  en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16}  dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. {26:19} En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. {26:21}  En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes. {26:27}  As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit, {26:28}  sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ek sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes. ”.

Hoe kan iemand so aanmatigend wees om te dink dat hy / sy met enigiets kan wegkom wat hulle teen God en Sy gebooie pleeg? Tog is daar talle mense wat dit doen! Ongelukkig weet ek van mense wat vanweë hulle ongehoorsaamheid verskriklik ly onder die hand van God. Mense wat dink dat hulle niks verkeerds gedoen het nie en trouens onder die valse indruk verkeer dat hulle goeie mense is; nietemin ly hulle, nie vanweë die goeie wat hulle gedoen het nie, maar vanweë dít wat verkeerd was.

Baie van hierdie mense erken dat hulle nie kon aanvaar of glo aan ‘n God wat sulke verskriklike dinge aan hulle gedoen het nie en kla daaroor by Hom of ontken selfs dat Hy bestaan. Hulle beweer: “Hoe kan ek aan God glo wat sulke verskriklike dinge aan my doen?” Die feit is egter dat dit nie God is wat dit aan hulle doen nie, maar hulle wat dit aan hulleself doen! Indien hulle net sou tyd inruim om die Woord van God – die Tora – te lees, sou hulle tot die besef kom dat God nie willekeurig kwade dade pleeg nie – Hy doen dit wel in reaksie op ‘n persoon se ongehoorsaamheid aan Sy gebooie (mitzvot).

Dieselfde persone wat kla oor wat God hulle aandoen, is juis diegene wat nooit Sy Woord lees nie. Hulle besef dus nie dat die Skepper van die heelal, almagtig en alwetend is nie, dat Hy nie bespot of ondervra kan word nie en dat Hy kwaad met kwaad en goed met goed sal vergeld. Omdat hulle nie Sy Woord lees nie, besef hulle gevolglik nie wat God as goed of wat Hy as kwaad reken nie. Wanneer iemand hulle daaroor waarsku, steur hulle hulself bloot nie daaraan nie.

Dit bring my by die betrokke vers wat ek hierbo aangehaal het {26:19} “En ek sal julle sterke trots verbreek…”.

Hierdie vers bevat die kern van dié persone se problem: die trots wat hulle in hul eie krag het. Hulle verkeer onder die indruk dat hulle onafhanklik van God kan lewe, dat hulle hul eie lewe na willekeur kan voer, dat hulle hule eie reëls kan bepaal en ofskoon hulle besef dat hulle onderhewig aan die betrokke nasie se wetlike stelsel is, voel hulle geensins verantwoordelik aan dié God wat alle volkere en alles verder wat bestaan, geskep het nie. Gevolglik onteer hulle Sy Sabat, verontagsaam Sy wette met betrekking tot wat hulle mag eet of nie eet nie, skinder, lieg, verkul en doen verder alles wat met die Woord van God teenstrydig is. Dan han hulle kwansuis nie verstaan waarom hulle lewens gebuk gaan onder sorge en verdriet nie…

Ek het by geleentheid ‘n grap gehoor, wat ek graag met julle wil deel: “n Groep wetenskaplikes het aangekondig dat hulle ‘n baie belangrike wetenskaplike deurbraak bereik het. Hulle het die geheim van skepping uitgevind en ‘n dier uit die grond van die aarde geskep. Synde ateïste, het hulle dus die geldigheid van ‘n skepper uitgedaag en besluit om aan die ganse wêreld te bewys dat daar geen God was nie omdat wetenskap nou kon skep. Ter voorbereiding van hulle demonstrasie, het hulle ‘n hoop grond (“dirt”) bymekaar gemaak en aangekondig dat hulle ‘n koei gaan skep. Skielik, te midde van hulle demonstrasie, het ‘n luide stem vanuit die hemel geklink en God het gesê: “Gebruik julle die grond!”.

Vandeesweek se parasha behoort as ‘n oproep te dien aan almal wat hierdie uiteensetting (drash) lees. Indien julle God se verordeninge eerbiedig en Hom vereer, sal julle geseën word, maar as julle dit nie gehoorsaam nie, PASOP!!!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 04 Mei 2014

God se genade oor Israel

D’Var Torah
Op die berg / Behar


Levitikus / Vayikra {25:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:{25:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE.{25:3}Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;{25:4}maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.”.

Daar is iets besonders uniek aan Eretz Yisrael (die land Israel), wat in geen ander land ter wêreld die geval is nie en dit is dat dié land aan God behoort. Dit is gewis so, dat God die ganse wêreld besit en Hy na goeddunke daarmee handel, maar Israel is buitengewoon en ons kan dit verstaan in die lig van die voorwaardes wat God aan die volk Israel opgelê het toe Hy die land aan hulle gegee het. Ja, God het die land Israel aan die kinders van Israel toegesê, maar hulle het dit nie besit nie. Dit was en is ‘n ewigdurende gawe, maar net soos ons aan die hand van die bepalings van die Yovel-jaar (jaar van vrystelling) aflei, sal die land altyd aan God behoort.

Levitikus / Vayikra {25:2} “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE.”.

Ek kan vele Skrifgedeeltes aanhaal waar God die land Israel Sy land noem. Hier volg slegs twee daarvan:

Jeremia / Yirmeyahu {2:7} “En Ek het julle gebring in ’n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis ’n gruwel gemaak.”.

Joël / Yoel {3:2} “sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.”.

Dit is duidelik dat daar in die Skrif na geen ander land in die wêreld verwys word as Sy land nie en juis om daardie rede, het Hy sulke besondere voorbehoude op die gebruik daarvan neergelê, soos in hierdie week se parasha gemeld word.

Wat ons basies leer uit hierdie parasha is dat ofskoon God die land Kanaän (Canaan) aan die kinders van Israel gegee het, was hulle slegs pagters (huurboere) en kon daar selfs na hulle verwys word as vreemdelinge in die land van God.

Parasha Behar lui behoorlik soos ‘n pagterskontrak. Daarvolgens bepaal God die voorwaardes betreffende die bewoning van die land. Aangesien die land nie aan hulle behoort het nie, kon hulle dit dus nie lewenslank verkoop nie en moes hulle daarmee optree soos wat God met Sy ganse skepping optree: Dit moes ook ‘n Sabbat (jaar) geniet. Toe God die aarde geskep en gesê het:

Genesis / Bereshit {2:2} “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. {2:3} En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”.

Nadat God die skepping voltooi en Hy op die Sabbat gerus en dit geheilig het, was dit ook op die skepping van die aarde van toepassing: derhalwe is die hele aarde onderhewig aan hierdie rus en nie slegs die Joods volk of die land Israel nie.

Daar is al dikwels by my verneem of die Sh’mitah (Sabbatjaar) – en Yovel-jare toepaslik is op al die lande van die aarde of uitsluitlik op Israel. My antwoord was nog altyd: “Slegs op Israel”. Hierdie antwoord het ek gegrond op God se woorde in ons parasha: “As julle in die land inkom wat Ek julle gee …”; ek het met ander woorde tot die gevolgtrekking gekom dat die jare van Sh’mitah – en Yovel, slegs toepaslik is op die land wat God aan die kinders van Israel gee. Ek het verder afgelei dat dit ‘n buitengewone land is wat verskillend van al die lande van die wêreld, geag moet word. Soms bevraagteken ek egter daardie wysheid!

Israel was bestem om dié voorbeeld-nasie te wees, met ander woorde, ‘n voorbeeld vir die res van die nasies, soos in die volgende Skrifgedeelte gestel:

Deuteronomium / Devarim {4:6} “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk.”.


Met inagneming hiervan, tesame met die feit van universele rus op die Sabbat, geld die jare van Sh’mitah en Yovel moontlik universeel. Ongelukkig beoefen nie die hele Israel dit nie en kom ook nie in geheel die Torah en gebooie daarvan na nie. Bid asseblief om God se genade oor Israel.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou