Saterdag 24 April 2010

Beskrywing van die Toekomstige Wêreld

Beskrywing van die Toekomstige Wêreld |

Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

Na Die Dood – Heiliges / Acharei Mot –Kedoshim

24 April 2010 / Iyyar 10 5770

Levítikus / VaYikra 16:1 – 20:27

Eségiël / Yechezk'el 22:1 – 16

Hebreërs / Ivrim 9:1 – 28

1 Petrus / Kefa Aleph 1:13 - 16

Ek het besluit om hierdie week slegs kommentaar oor parasha Acharei Mot te lewer.

Levítikus / VaYikra {16:12} en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. {16:13} En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. {16:14} En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. {16:15} Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.”

Iets het my opgeval toe ek hierdie deel van parasha Acharei Mot gelees het. Wat ek besef het, was dat die Heilige der Heilige (Kedosh Kedushim) pikdonker was en daar dus geen manier was dat Aäron iets daarbinne kon gesien het nie. As 'n mens dink hoedat die tabernakel (Mishkan) opgerig was, word dit duidelik dat daar drie lae bedekkings was en aan die buitekant, was die laaste laag robbevel. Gevolglik was dit onmoontlik dat enige lig daardeur kon skyn en boonop was daar binne die tabernakel 'n dik gordyn (Kapporet) war die heiligdom van die Heilige der Heilige geskei het. Hierdie gordyn was swaar en dig geweef – na bewering sowat 10,1 cm (4 duim) dik – en dus ook ondeurdringbaar vir lig. Die enigste lig in die tabernakel was die Menora, wat egter in die heiligdom was waar die Levitiese priesters (Leviim) diens gedoen het. Vanweë die dik gordyn, het of kon die lig van die Menora nie die Heilige der Heilige bereik nie. Hoe het Aäron dan binne die Heilige der Heilige sy weg gevind, veral wanneer hy deur God beveel is om die vertrek met reukwerk te vul sodat hy nie sterf nie? Vermoedelik was die bedoeling met die reukwerk om sy sig te belemmer, maar hy kon in elk geval niks sien nie, of kon hy? Was daar moontlik bonatuurlike lig in die Heilige der Heilige waarmee hy sou kon sien en as gevolg daarvan, sy sig deur middel van reukwerk belemmer moes word? Ons moet allereers onthou dat die tabernakel God se heiligdom was, Sy woonplek onder die kinders van Israel – 'n plek waar 'n heilige God onder 'n onheilige volk kon woon. Dit was egter meer as dit, in soverre die tabernakel 'n herskepping van die tuin van Eden (Gan Eden) was. Juis daarom is niks ritueel onrein of onvolmaak daarbinne toegelaat nie. Die tabernakel het die volmaakte herskepping van die wêreld voorgestel. Wat word aan ons vertel van hierdie toekomstige wêreld?

Openbaring / Hitgalut {22:5} "En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid."

Die Heilige der Heilige was skynbaar deur die heerlikheid (Cavod) van God verlig – daarom sou Aäron kon sien. Dit was nie pikdonker daarbinne nie en dus is sy sig slegs deur die brandende reukoffer belemmer. In die toekomstige wêreld (olam haba) sal 'n tempel ook nie meer nodig wees nie.

Openbaring / Hitgalut {21:22} "En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam."

Hoe 'n pragtige beeld het God nie vir ons voorgestel deur die beskrywing van die toekomstige wêreld, aan die hand van die konstruksie en die funksie van die tabernakel en tempel nie! Is julle nie geseënd dat julle eendag deel van hierdie toekomstige wêreld sal wees nie?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 17 April 2010

Netsoos ons 'n Geneesheer sou Raadpleeg

Sy Dra Saad – Besmet / Tazria – Metzora |

Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

17 April 2010 / Iyyar 3 5770


Levitikus / VaYikra 12:1 – 18:30

2 Konings / Melachim Bet 4:42 – 5:19, 7:3 – 20

Matthéüs / Mattityahu 8:14

Romeine / Romim 6:9 – 23


Levitikus / Vayikra {13:1}"Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: 13:2 As ‘n mens in die vel van sy vlees ‘n swelsel of uitslag of ligte vlek het, en dit in die vel van sy vlees ‘n plaag van melaatsheid word, moet hy na die priester Aäron of na een van sy seuns, die priesters, gebring word; 13:3 en die priester moet na die aangetaste plek in die vel van die vlees kyk. Het die hare op die plek wit geword, en lyk dit of die plek dieper is as die vel van sy vlees, dan is dit die plaag van melaatsheid. As die priester dit sien, moet hy hom onrein verklaar. 13:4 Maar as dit ‘n wit vlek in die vel van sy vlees is en dit nie dieper lyk as die vel nie, en die hare daarvan nie wit geword het nie, moet die priester die aangetaste persoon sewe dae lank opsluit. 13:5 As die priester hom op die sewende dag bekyk en sien dat die aangetaste plek, volgens hy kan sien, dieselfde gebly het, die plek nie in die vel versprei het nie, dan moet die priester hom nog ‘n keer sewe dae lank opsluit. 13:6 Bekyk die priester hom dan op die sewende dag nog ‘n keer en sien hy dat die aangetaste plek dof van kleur geword en die plek in die vel nie versprei het nie, dan moet die priester hom rein verklaar. Dit is ‘n uitslag; en hy moet sy klere was, dan is hy rein."


Ek dink ons sal almal saamstem dat dit moelik is om 'n moderne toepassing vir hierdie twee parashot ('n dubbele gedeelte hierdie week) te vind. Dit is omdat albei vol instruksies ten opsigte van verskeie velkwale asook skimmel op klere en in huise is. Aan die begin van parasha Tazaria is daar slegs 'n kort verwysing na die besnydenis (Brit-Milah) op die agtste dag.


Behalwe die besnydenis, word die aangeleenthede waarna hierdie parashot verwys, nie langer deur die Levitiese priesterskap behartig nie, aangesien daar eerstens nie langer 'n aktiewe Levitiese priesterskap is nie en tweedens, omdat daar nie langer 'n tempel bestaan, waarheen die toepaslike offerhandes – soos deur die Tora voorgeskryf – gebring kan word nie. Daarom, behalwe dat Jesus die Messias ons reinigingsofferhande is, het hierdie parashot vir ons geen betekenis nie, of het dit wel?


Voordat ek egter met my kommentaar begin, wil ek graag daarop wys dat die Engelse woord ”Leprosy” nie die mees akkurate vertaling van die Hebreeuse woord “Tsarat” is nie. Dit kan geensins akkuraat vertaal word as leprose nie aangesien laasgenoemde 'n chroniese bakteriële infeksie is. Terwyl die bakterieë vel-letsels, ulkusse en velverkleuring (of verbleiking) kan veroorsaak en dit wel doen, is dit ook 'n siekte van die senuweestelsel , wat veroorsaak dat die pasiënt geen pyn ervaar nie. Gevolglik kan sodanige besmette pasiënte hulself beseer en velskade opdoen. Pasiënte met Hansen se siekte (leprose) kan selfs hul vel afkrap en niks voel nie. Sonder die ervaring van pyn, is hulle onbewus van beserings en laat dus na om dit behoorlik te behandel, wat tot verdere probleme lei. “Tsarat” is veel meer omvattend as dit en kan op die beste wyse beskryf word as enige verskynsel op die veloppervlakte, huis of klere, wat dieper as die oppervlak indring – 'n tipe aansteeklike skimmel of selfs muf.


Wanneer mens vandag 'n veluitslag kry, 'n seer wat etter of enige ander velaandoening ontwikkel, gaan ons dadelik opteek toe om salf te koop of maak 'n afspraak by 'n geneesheer vir 'n diagnose en geneesmiddel. Deesdae is ons vertroue dus meer in die mens as in God gestel, terwyl dit in die tempeltye hoegenaamd nie die geval was nie.


Verstaan my nou goed: Ek bepleit geensins “om die Here te vertrou en gevolglik nooit weer 'n geneesheer te besoek nie”. Dit is gladnie my bedoeling nie. Ons kan steeds op die Here vertrou, ons fokus op hom handhaaf en nogtans van konvensionele metodes van diagnose gebruikmaak.

Die kinders van Israel het, trouens, ook indien hulle onreëlmatigheid op hul vel of 'n abnormale soort afskeiding gewaar het, die priester (cohen) gaan raadpleeg vir 'n diagnose en behandeling (netsoos ons die geneesheer raadpleeg). Hulle het nie net tuisgebly en op God se genesing vertrou nie, maar wel die inisiatief geneem om 'n professionele opinie in te win. Nadat hulle die priester geraadpleeg het, het hulle die toepaslike instruksies van die priester gevolg.


Die punt wat ek graag hier wil maak is dat wanneer ons siek word, te veel van ons – ofskoon dit reg is om 'n geneesheer vir 'n diagnose en geneesmiddel te raadpleeg – God geheel-en-al buite rekening laat met die genesingsproses. Selfs wat die geneesheer gedoen het of sy voorgeskrewe geneesmiddel(s) vir jou die gewenste uitwerking gehad het, moet die eer vir die genesing aan die Here toekom.


Ek is oortuig daarvan dat in Israel van ouds, onder die kinders van Israel, daar ook tradisionele geneesmiddels was. Selfs vandag nog het ons al tradisionele metodes van genesing gebruik wat gewerk het; hulle moes ook daaroor beskik het en dit het dikwels sekerlik gewerk. Nogtans het die kinders van Israel eerstens die priester geraadpleeg en sodoende aan die Here voorgelê. Laat ons dié voorbeeld in hierdie week se parasha navolg! Wanneer ons volgende keer siek word – ongeag die kwaal of toestand – kom ons bring ons siekte vir die Here, netsoos ons dit aan 'n geneesheer sou voorlê!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 April 2010

Dit Is Nie 'n Verskoning Nie

Agtste / Shemini |

Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

10 April 2010 / Nisan 26 5770


Levítikus / VaYikra 6:8 – 8:36

2 Samuel / Sh'muel Bet 6:1 – 7:17

Handelinge / Talmidim Ma'asei 10:9 – 22


Levítikus / VaYikra {10:16}En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê: {10:17} Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18} Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19} Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20} Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.


Ek het nog altyd 'n probleem ondervind met hierdie Skrifgedeelte; trouens, ek het tot nou toe 'n probleem ondervind om dit behoorlik te verstaan. Die sondofferbok moes, volgens God se opdrag, geslag word. Gedeeltes daarvan moes dan verbrand word en 'n deel deur Aäron en sy twee oorblywende seuns, in die gewyde plek geëet word. Indien hulle egter nie hulle porsie van die offerande geëet het nie, moes die bloed van daardie offerdier in die tent van samekoms ingeneem word vir versoening. Versuim om God se opdrag na te kom kon onsettende gevolge vir al die kinders van Israel meegebring het.


Levítikus / VaYikra {6:25}Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. {6:26} Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ‘n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. {6:27} Alles wat aan die vleis daarvan raak, word heilig; en as daar van die bloed op ‘n kledingstuk spat, moet jy die stuk waar dit op spat, op ‘n heilige plek was. {6:28} En ‘n erdepot waar dit in gekook is, moet stukkend gebreek word; maar as dit in ‘n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word. {6:29} Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. {6:30} Maar elke sondoffer waarvan ‘n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.


Moses was kwaad vir Aäron omdat hy en sy oorblywende seuns nie hul porsie van die sondoffer geëet het nie en ook nie die bloed in die gewyde plek ingeneem het nie. Aäron het wel opgetree volgens die opdrag wat Moses van God ontvang het. Soos Israel vantevore dikwels reeds ervaar het, kon versuim om God se opdragte uit te voer, verskriklike gevolge inhou.


Toe Aäron egter aan Moses 'n logiese verduideliking verstrek het waarom die Here se voorskrifte nie uitgevoer is nie, het Moses dit so aanvaar en is alles vergewe. Dit is juis hierdie aspek wat my altyd verwar het. Is God se voorskrifte dan buigsaam indien ons goeie verskonings aanbied waarom ons nie Sy opdragte uitgevoer het nie? Voordat ek dit behandel, wil ek eers aandag skenk aan Moses se oënskynlike woede.


Volgens die Skrif was Moses die ootmoedigste man wat ooit geleef het en tog dui die teks aan dat hy vir sy broer en neefs kwaad geword het omdat hulle nie gedoen het wat hy hulle beveel het nie. Is dit dan moontlik om kwaad te word maar nogtans as verdraagsaam en ootmoedig beskou te word? Die antwoord is blykbaar ja, indien 'n mens se woede regverdiglik verontwaardig is. Moses was kwaad, nie omdat Aäron en sy oorblywende twee seuns hom veronreg het nie, maar wel dat hulle teen God gesondig het.


Ek word ook dikwels kwaad vir mense hier by die sinagoge (shul) wat dinge gedoen of nagelaat het om dit te doen, byvoorbeeld om 'n belofte te maak en dit te verbreek of om eredienste, wat aan die gang is, te versteur of om die gemeenteleierskap nie te respekteer nie. Dit is nie dinge wat hulle my aangedoen het nie maar hulle het wel teen God gesondig! Dit is dus bloot op grond van my liefde vir God en my innige begeerte om slegs Sy wil te doen, dat ek kwaad word. Jesus het iets soortgelyk gedoen:


Johannes / Yochanan {2:15} En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. {2:16} En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.


Wat nou van die opvatting dat God se bepalings inderdaad buigsaam is indien ons 'n aanvaarbare verskoning aanbied? Aäron het egter nie 'n verskoning aangevoer nie – hy het trouens oor 'n goeie redeneervermoë beskik! Sy oudste twee seuns het onlangs gesterf en moontlik het hy ietwat verantwoordelik vir hul dood gevoel. Indien dit jou kinders was, sou jy moontlik ook so gevoel het, veral by die gedagte, dat as jy hulle beter beheer het, hulle nie sou gesterf het nie. Aäron en sy oorblywende seuns – vanweë die dag se gebeure – het dus geen eetlus gehad of geneë gevoel om die vereistes van die gewyde plek na te kom nie. Indien ons in Aäron se posisie was, sou die laaste waaraan ons gedink het, sekerlik voedsel of ons werk gewees het. Is dit regmatig om iets vir die Here te doen as dit nie met opregte bedoelings geskied nie? Ek dink nie enigeen van ons sou 'n probleem daarmee hê om die vraag negatief te beantwoord nie. Indien ons enigiets sonder die regte gesindheid vir die Here doen, is dit hoegenaamd onaanvaarbaar en onbehaaglik vir die Here. Daarbenewens sou Aäron, indien hy iets met die verkeerde gesindheid gedoen het, hierdie heilige handeling ontheilig het, wat in wese dieselfde was wat Nedav en Avihu gedoen het.


Ek meen dat dit wat ons uit die Skrifgedeelte, uit vandeesweek se Parasha asook my verduidelikings, geleer het, is dat Aäron nie slegs 'n verskoning aangevoer het nie, maar inderdaad gedoen het wat reg was: om dit wat heilig was, van die onheilige te onderskei.


Levítikus / VaYikra {10:10}en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 04 April 2010

Yeshua Het vir Ons 'n Nuwe Openbaring Gegee

Pasga / Pesach |

Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

3 April 2010 / Nisan 19 5770

Eksodus / Shemot 33:12 – 34:26

Númeri / BaMidbar 28:19 – 25

Eségiël / Yechezekiel 36:37 – 37:14

I Korinthiërs / Korintim Aleph


Eksodus / Shemot {33:12}”Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13} As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.”


Dit is verstommend hoe belangrik die naam van God vir baie mense is. Wanneer ek aan hulle verduidelik dat ons nie eintlik die naam van God ken nie, met ander woorde dat dit nog nooit aan ons geopenbaar is nie, weier hulle om dit te aanvaar en haal Skrifgedeeltes soos die volgende aan:


Sagaria / Zecharyah{13:9}”Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!”


1 Konings / Malachim Aleph{18:24}”Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed.”


Joël / Yoel (2:32}”En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.”


Wanneer die bovermelde Skrifgedeeltes in die oorspronklike Hebreeus gelees word, vind ons dat in hierdie asook ander soortgelyke Skrifgedeeltes, die tetragrammathon: Yud-Hay-Vav-Hay (YHVH), sonder klinkers / vokale, gebruik word. Geleerdes het egter in hul soeke na die ware naam van God, die tetragrammathon van klinkers voorsien en dit is waarom YHVH ontwikkel het tot Jehova en Yahweh. Dit is geheel-en-al denkbeeldige en bedrieglike name – die skepping van mense; dit verteenwoordig hoegenaamd nie die naam van God nie. Die feit is dat God se naam, Sy karakter weërspieël. Ons lees dit in die onderstaande gedeeltes:


Eksodus / Shemot {15:26} “en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.”


Jesaja / Yeshayahu{60:16} “En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet dat Ek, die HERE, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob.”


In hierdie week se Tora-lesing sien ons dat Moses vir HaShem (die Here) sê dat HaShem vir Moses op sy naam geken het. HaShem het sekerlik Moses se naam geken, maar is dit sy naam waarna Moses hier verwys het? Ons vind die antwoord in die res van die sin: “...alhoewel U gesê het: Ek ken jou by jou naam, en jy het ook genade in my oë gevind (Eksodus {33:12})”. Hier herhinner Moses HaShem daaraan dat Hy sy naam met sy karakter geassosieer het. God het Moses se verbondenheid en toewyding aan Hom geken en daarom het Moses gevoel dat op grond daarvan, God moes voortgaan om in die teenwoordigheid van Sy volk te wees en hulle te verlos.


Eksodus / Shemot{6:3} (6:2) “En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. {6:4} (6:3) Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; {6:5} (6:4) en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. {6:6} (6:5) Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; {6:7} (6:6) en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit. {6:8} (6:7) En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ‘n besitting gee, Ek, die HERE.”


Die Hebreeuse begrip van God, soos wat dit dwarsdeur die Tanach (Hebreeuse Heilige Geskrif) voorkom, is één van 'n God wat namens ons optree, 'n God wat vir ons intree wanneer ons in nood verkeer. Wanneer God Homself dus noem: “Ek Is Wat Ek Is”, waarvan spreek Hy dan? Hy verwys na die bevryding uit die mag van die Egiptenare, wat Hy honderde jare voordat dit ooit plaasgevind, aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. God verlang, dat Sy naam moet reflekteer wat Hy beplan om te doen. As ons dus in die vervolg (toekoms) Sy naam aanroep, sal ons in herhinnering roep wat Hy in die verlede gedoen het. HaShem se naam dui op Sy karakter – dit is wat Hy reeds gedoen het en wat Hy nog sal doen. Dit is nie 'n letterlike naam nie. In die hernieude Verbond (Brit Chadasha) is die naam as't ware verskuif sodat die naam van Jesus (Yeshua) nou die belangrikste naam geword het. Ons kom vervolgens by die rede daarvoor.


Handelinge / Ma'asei HaTalmidim {2:38} “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”


Waarom het Petrus (Kefa) nie gesê: “In die naam YHVH” nie? Waarom het hy nie die naam gebruik wat duisende jare vantevore reeds bekendgemaak is nie? Waarom sê Petrus as't ware dat die naam Yeshua gebruik moet word? Omdat YHVH vereenselwig word met die daad van verlossing uit Egipte en dít is beslis nie wat hier ter sprake is nie! Dit gaan hier oor die daad van redding, verlossing van sonde.


Die naam wat daarmee verbind word , is “Jesus die Messias” (Yeshua HaMashiach). As jy dus tot die Vader bid, gebruik jy die naam Yeshua en nie YHVH nie omdat die karakter van YHVH, soos deur Yeshua weerspieël, dui op verlossing eerder as bevryding uit Egipte. Verstaan jy wat ek hier sê? Begryp jy die verband?


Fillipense / Pilifim {2:9}”Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, {2:10} sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, {2:11} en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader."


Yeshua is nou die naam bo alle name. Dit is dus nie per abuis dat die naam van God, YHVH nie langer genoem of selfs geken word nie! Dit is ook die rede waarom dit nooit in die Brit Chadasha gemeld is nie. HaShem het dit op daardie wyse gedoen sodat die naam van Yeshua die nuwe Naam sou word, die Naam wat sou openbaar wat HaShem van plan was om te doen, vanaf daardie tyd vorentoe. YHVH is dus ten volle geopenbaar in die Naam Yeshua. Die volheid van Sy karakter, die volheid van Sy mag, die volheid van Sy dade word alles omsluit, onthul en begryp deur die lew en die naam van Yeshua. Dit is die Naam waardeur HaShem wil hê ons moet Hom ken. Ons verwys steeds na HaShem as God die Vader en bid steeds tot God die Vader, maar in die Naam van Yeshua, omdat dit nou aan ons die reg verleen om in die Vader se teenwoordigheid te kom. Dit is waarom Yud-Hay-Vav-Hay onbekend is en nie langer genoem kan word nie, omdat die naam Yeshua aan ons 'n nuwe openbaring gegee het van wie die YHVH is en wat Hy besig is om nou te doen.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou