Saterdag 18 Oktober 2008

Stap op Hoogtes

Tabernakel / Sukkot | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

18 Oktober 2008 / Tishri 19th 5769

Eksodus / Shemot / Exodus 33:12-34:26

Esegiël / Yechezekiel / Ezekiel 38:18-39

1 Thessalonicense / Tesolonikim Aleph 5:1-11

In plaas daarvan om volgens die lys van weeklikse oordenkings (Parashat HaShavua) oor "Oordenking Tabernakel" (Parasha Sukkoth) (Eksodus / Sh'mot 33:12 -34:26) te skrywe, het ek verkies om hierdie week kommentaar te lewer oor "Oordenking: En dit is die Seën" (Parasha V'Zot HaBracha) (Deuteronomium / Devarim 33:1-34:12). Hierdie oordenking (Parasha) word selde op 'n Sabbat (Shabbat) gelees, met die gevolg dat ek by uitsondering daaroor kommentaar kan lewer. Die betrokke oordenking (Parasha) word altyd op Verblyding in die Torah (Simchat Torah), gelees - dit is 'n nie-Bybelse vakansiedag waarop die finale oordenking van Deuteronomium (Parasha Devarim) gelees en die Torah teruggerol word na Genesis (Bereshit), om sodoende die Torah - leessiklus weer van vooraf te begin. "En dit is die Seën" (V'Zot HaBracha) is dus die finale oordenking (Parasha) van die leessiklus van die Torah.

Hierdie finale oordenking (Parasha) bevat die laaste woorde van Moses (Moshe), die profeet, aan die stamme van die kinders van Israel (bnei Yisrael). Meeste kommentators is van mening dat die profesieë, wat Moses (Moshe) in hierdie verse van die Skrif uitspreek op een of ander tydstip in die geskiedenis van Israel (Yisrael) reeds vervul is. Ek glo egter dat dit op die hele Skrif toepaslik is - selfs die toekoms. Juis dit glo ek, is die geval in die volgende skrifgedeelte van Parasha V'Zot HaBracha

Deuteronomium / Devarim {33:26} "Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid. {33:27} Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg! {33:28} So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in ‘n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup. {33:29} Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap."

"...sodat jou vyande - hulle al kruipende aan jou onderwerp; en jy sal op hulle hoogtes stap.". Ek veronderstel dat julle glad nie dink dat daar iets soos "hoogtes" is waarop Israel vandag sou kon stap nie? In werklikheid is daar wel. Ek bedoel nie dat Israel Tibet of Kilimanjaro gaan verower nie. Die "hoogtes", waarna hier verwys word, is die hoogtes van aanbidding van sy vyande, wat in sy midde woon asook hulle wat hom omring. In antieke tye het afgodsdienaars hul altare op hoë heuwels en berge gebou. Vandag egter, in baie Islamieties lande, wat wel nie-Moslem aanbiddingsplekke in hul land toelaat, mag sodanige geboue waarin hulle aanbid of enige deel daarvan, nie hoër as 'n moskee wees nie - dit geld natuurlik ook vir sinagogekoepels en kerktorings. Ek glo dit is waar die Moslems die praktyk begin het om hul aanbiddingsplekke met hoë torings te bou, vanwaar die Muezzin (hul geestelikes) hul gelowiges roep om hul god vyf maal per dag te kom aanbid.

Huidig is daar in Israel Islamitiese moskees met hoë torings oral deur die land sigbaar; trouens, daar is beswaarlik 'n stad of dorp in Israel, waar jy nie een of selfs meer Moslemtorings sal sien wat die lug in troon nie. Gereeld vyfmaal per dag, kan 'n mens die muezzins se gebedsoproep aan hul gelowiges vanaf die torings hoor. Dit is inderdaad so, selfs wanneer jy by die Klaagmuur (Kotel) in Jerusalem besig is om te bid.

Niks is vir my so steurend as wanneer ek by die Klaagmuur (Kotel) bid en die deurdringende geluid van die muezzin se oproep weerklink oor luidsprekers vanaf die Rotskoepel nie. Maar dit is nie slegs Moslems wat hoogtes in Israel het nie. Daar is ook die Bahai'-tempel wat oor die stad Haifa troon.

Nietemin verseker Moses (Moshe) ons in "Oordenking: En dit is die Seën" (Parasha V'Zot HaBracha) dat hierdie hoogtes eendag nie meer sal bestaan nie. Hy voorspel trouens dat hulle nie slegs langer sal bestaan nie, maar Israel op hulle sal stap. Ek dink die beeld wat hier vir ons verduidelik word, is dat almal eendag die Een Ware God van Israel sal aanbid.

Filippense / Pilifim {2:10} “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, {2:11} en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Kom gou, Here Jesus!

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 11 Oktober 2008

Jy Kan Jou Lewe Aan Hom Toevertrou

Luister / Ha'Azinu | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

11 Oktober 2008 / Tishri 12th 5769

Deuteronomium / Devarim 32:1-52

2 Samuel / Sh'muel Bet 22:1-41

Romeine / Romim 10:14-11:12

Deuteronomium / Devarim {32:30} ”Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie! {32:37} Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het, {32:38} wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle ‘n beskerming kan wees! {32:39} Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.”

Uit hierdie Skrifgedeelte, is dit vanselfsprekend dat God (HaShem) geheel-en-al, 100% betrokke is by - en in beheer van ons lewens is. As ons voorspoed beleef, is dit Hy wat dit laat gebeur. Eweneens, as ons teëspoed ervaar, is Hy die een wat dit stuur of toelaat. Ons begryp nie altyd waarom en hoe God beskik nie, maar wat ons wel altyd kan wéét is dat jy Sy kind is en Sy Naam oor jou uitgeroep is, dan is alles wat Hy doen - goed of kwaad, voor - of teëspoed - tot ons voordeel en toename in volwassenheid as gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach).

Die probleem met baie mense is dat hulle hul vertroue in ander dinge as in God stel. Mense verkies om hul eie kop te volg, sonder om die gevolge daarvan of selfs die welsyn van ander in ag te neem. Die kinders van Israel (bnei Yisrael) het juis hul vertroue in ander gode, wat nie gode was nie, gestel en gevolglik het húl God (HaShem) hulle in hul nood, aan daardie nie-gode oorgelewer. Vanselfsprekend het hulle geen hulp van dié gode ontvang nie. Ons, daarenteen, maak staat op die regering, gewapende magte, sekuriteitstelsels, lyfwagte, 'n groter polisie-teenwoordigheid, vermy om saans alleen buite te stap en leer die kuns van selfverdediging en / of koop vuurwapens. Wat ons in werklikheid eintlik gedoen het, is dat ons die voorafgaande dinge óns gode gemaak het: ons het dit geskep en daarop staatgemaak, Daardeur is ons hoegenaamd nie beter as die kinders van Israel (bnei Yisrael) nie en sal ons, as gevolg daarvan, dieselfde verdiende loon ontvang, as wat die kinders van Israel (bnei Yisrael) ontvang het: Oordeel!


Wanneer ons alarmstelsel ons in die steek gelaat het en ons beroof word, sal God vir ons sê:" Julle het op 'n alarmstelsel staatgemaak; laat dít julle nou help". Indien ons aangeval word en ons vuurwapen is toevallig nie byderhand nie, sal God sê:" Julle het op jul vuurwapen vertrou; laat dit nou vir julle van hulp wees". Erken dit maar! Wat dit ookal is waarop julle vertrou, dit het julle jul God gemaak. Die probleem is egter dat daar geen god soos die ware God is nie! As gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach), word dit van ons verwag om in God (HaShem) te glo en op Hom te vetrou. Hierdie geloof en vertroue is egter nie bloot nog 'n vorm van wensdenkery nie; ongunstige slegte dinge kan nogtans met ons gebeur, maar dan wéét ons dat God vir ons daar sal wees. Met die hulp van God, sal ons dit nie op ons eie hoef te hanteer nie, maar wel die nodige uitkoms ontvang om soos 'n Feniks uit die as te verrys. Ons beskutting is nie daarin geleë om die risiko gering te skat of ons vertroue in self-geskepte gode te stel nie; ons veiligheid is gegrond op die beloftes van God en ons geloof in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach). Dit is, trouens, geleë in die goeie nuus dat daar 'n Goddelike, sterke alvermoënde God is, wat vir ons lief is en altyd besig is om oor ons te waak en beskerm.


Tehillim (Psalms) {118:5} “Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte. {118:6} Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens my doen?”

God (HaShem) het ons verseker dat Hy met ons is, al gaan ons selfs in die dal van doodskaduwee. Waarom sou iemand wat deur Jesus die Messias (Yesua HaMashiach) in God glo, dan die bose vrees? Niks kan ons skei van die liefde van God nie - hoor julle my - hoegenaamd niks nie! In Sy omhelsende arms, leef, beweeg en is ons.

Dit is inderdaad 'n skande dat ons uit voeling geraak het met die ryk beeltenisse, wat die Bybel ons leer, van God as ons hulp en ons hoop en dat ons onsself na vuurwapens, slotte en selfverdedigingsmetodes moet wend vir beskerming en ons sekuriteitsgevoel. Ons moet eerder ons sondes van selfvertroue bely en ons vertroue weer stel waar dit eintlik behoort - in God!

Jesaja / Yeshiyahu {41:10} “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

Op grond van só 'n belofte, waarom sou 'n mens dan enigiets anders as God (HaShem) vertrou? Jesus (Yeshua) se liefde vir elkeen van Sy kinders, hulle oor wie Sy naam uitgeroep is en Sy Naam aanroep, is verseker. Julle kan julle lewe aan hom toevertrou, en wat meer is, ook julle geliefdes aan Hom toevertrou. Hy sal dáár wees, wanneer julle Hom nodig het.

Johannes / Yochanan {10:12}” Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. {10:13} En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie. {10:14} Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. {10:15} Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved