Sondag 30 Oktober 2022

Nature

Noach
(Noag)
Genesis {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. {8:9}  Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10}  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. {8:11}  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12}  Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.”

Ek het iets baie interessant ontdek toe ek die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder om te gaan sit.

Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was, moes teëkom?. Die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.

Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes noodwendig terugkeer na die ark.

Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein. Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee nature.

Romeine {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”

Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!) teruggevlieg.

As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van leuens tot waarheid.

Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus gevind.

Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?

Kom gou Jesus!


PDF weergawe

Saterdag 22 Oktober 2022

Nuut

Bereshit
(In die begin)

Genesis 1:1 - 6:8

Jesaja 42:5 - 5:43

Johannes 1:1 - 5


Genesis (2:4) “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, {2:5} was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. {2:6}  Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. {2:7} En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. {2:8} Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. {2:9}  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. {2:10} En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. {2:11}  Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. {2:12}  En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. {2:13} En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. {2:14} En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. {2:15}  Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. {2:16}  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, {2:17} maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

Moontlik sal dit wat ek nou gaan leer, vir julle ietwat verwarrend voorkom, maar dit is wat God op my hart gelê het.

Ons is nog altyd geleer dat die tuin van Eden (Gan Eden) ‘n letterlike fisiese aardse plek was. Baie mense het oor die jare heen, die werklike ligging sonder welslae probeer karteer, maar ek is oortuig daarvan dat dit ‘n mors van tyd was. Soos ek dit verstaan, was en is die Tuin van Eden geen fisiese plek nie.

Eerstens glo ek dat die aarde en die Tuin van Eden twee verskillende entiteite was. Die aarde is ‘n fisiese plek en die Tuin van Eden ‘n spirituele plek - moontlik op of selfs buite die aarde. Adam en Eva (Chava) is uit die stof van die aarde geskep maar daarna in die Tuin van Eden gevestig waar, so glo ek, verheerlikte gestaltes aan hulle gegee is. Hulle verheerlikte gestaltes was baie soortgelyk aan dié van Jesus na Sy opstanding. Julle sal onthou dat Hy met Sy opgestane spirituele gestalte deur mure kon beweeg maar ook ‘n maaltyd saam met Sy dissipels kon nuttig. Met hulle verheerlikte gestaltes kon Adam en Eva vir God sien, saam met God wandel en met God praat, so normaalweg as wat ons vandag met mekaar praat. Ek glo ook dat hulle uit vrye wil tussen die spirituele en fisiese kon verwissel. Nogtans kon hulle eet en beweeg in die tuin, wat hulle voedsel verskaf het en wat hulle moes versorg. In wese was hulle in staat om met hulle verheerlikte gestaltes, dinge te doen waartoe ons vandag met ons fisiese liggame nie in staat is nie.

Tweedens word ons in die bovermelde Skrifgedeelte meegedeel dat die Tuin van Eden deur ‘n mis bevogtig is aangesien daar toe nog geen reën was nie. Verderaan verneem ons egter dat ‘n rivier deur die Tuin van Eden gevloei het. Wat was dit dan - is die Tuin van Eden deur ‘n mis of ‘n rivier besproei? Myns insiens geeneen van die twee nie. In plaas daarvan, so glo ek, was die Tuin van Eden ‘n spirituele entiteit, moontlik ‘n wêreld binne die spirituele ryk of selfs ‘n spirituele wêreld, bo ons aarde, waaruit Adam en Eva eindelik verdryf is.

“Oos” verteenwoordig altyd die ewigheid; die Tuin van Eden, word ons meegedeel, was geleë in die ooste: die troon van God. Met dit in gedagte, was die twee bome in die Tuin van Eden, moontlik nie letterlike bome nie, maar spirituele skeppings. Die eerste, die boom van lewe was Jesus, terwyl die boom van kennis van goed en kwaad, die satan was. Die riviere wat die Tuin van Eden besproei het, was dus nie letterlike riviere nie - hulle het die Woord verteenwoordig wat uit God gevloei het.

“Gan Edan”, vertaal, beteken “tuin van goedheid”. Ons verneem dat ‘n rivier uit hierdie tuin gevloei en in vier riviere vertak het. Dit herinner my aan die Skrifgedeelte in Psalms (T’hillim):

Psalm {36:8} “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.”

Daar was ‘n enkele rivier wat uit die Tuin van Eden gevloei en in vier riviere vertak het - ‘n  verskynsel wat nie by riviere voorkom nie, want riviere vertak gewoonlik in syriviere en nie in afsonderlike riviere nie. Alle riviere ontspring uit hulle eie hoofbron. Dít is vir my ‘n verdere aanduiding dat die Tuin van Eden ‘n spirituele en nie ‘n fisiese plek was nie. Kom ons skenk aandag aan die name en betekenis van die riviere.

Die eerste rivier is Pison (Pishon) genoem, wat “vermeerder” of “rondom” beteken. Die naam van die tweede rivier, Gihon, beteken “voortvloei”. Die derde rivier, Tigris (Hiddekel) se naam beteken “voorspoed” en die betekenis van die vierde rivier, Eufraat (Frat) is “vrugbaarheid”. Ek glo dat wat ons hier in die name van die riviere sien, is dat God die Tuin van Goedheid omring het en toename deur die voortvloeiing van Sy Gees bewerkstellig het, wat voorspoed en vrugbaarheid meegebring het.

Of ek korrek is of nie, moet nog bewys word, maar wat ons wel weet, is dat die Tuin van Eden aan die einde herstel sal word, soos in Openbaring beskrywe!

Openbaring {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. {21:2} En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. {21:3}  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. {21:4}  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. {21:5}  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”
 
Kom gou Jesus!


PDF weergawe





Saterdag 08 Oktober 2022

Leef Jy Steeds in Sonde




Ha'Azinu
(Luister)


Deuteronomium {32:1} "Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3}  Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4}  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. {32:5}  Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. {32:6}  Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?”

Parasha Ha'Azinu is 'n lied wat Moses vir die kinders van Israel geskryf het, om te leer en voor te dra, maar hoe weet ons dit was 'n lied? Ons het dit in verlede week se parasha verneem:

Deuteronomium {31:22} "Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23}  En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees."

Die sesde vers van hierdie lied het my veral getref en wel waar Moses sê: "Is Hy nie jou Vader, wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?". Ek veronderstel dat hierdie woorde moontlik vreemd vir die kinders van Israel geklink het. Hulle het dalk gewonder: " Wat bedoel Moses deur te sê dat  God, ons Vader, ons gekoop het? "Die feit dat God hulle gevestig en bevry het van slawerny, sou nie vir hulle moelik gewees het om te verstaan nie, maar om deur God gekoop te gewees het, sou hulle beslis nie kon begryp nie.

Van kindsbeen af is die kinders van Israel, as deel van standaard-opvoeding ongetwyfeld geleer dat God hulle uit die stof van die aarde geskep het. Dus sou hulle waarskynlik nie kon verstaan waarom Hy hulle moes koop nie. Tog het Moses dit vir hulle in sy lied duidelik gemaak dat dit presies is wat gebeur het: God het die kinders van Israel gekoop! Ek is seker dat baie van ons - ten minste diegene wat nie in Jesus die Messias glo nie - hierdie konsep dat God mense koop, nie verstaan nie; trouens, dit sou klink soos uit slawerny tot slawerny! 
Die feit is dat God die kinders van Israel gekoop het. Moses se lirieke is korrek! Hy hét hulle gekoop, of meer spesifiek, verower soos buit in 'n oorlog. Die vyand - ongeag die semantiek - in hierdie geval, Egipte, het egter aanspraak gemaak op die volk wat God afgesonder het om Sy eie besondere eiendom te wees. Die Egiptenare het hulle as slawe behandel en God moes hulle terugwen - oftewel, hulle koop uit die slawerny.

Psalm {135:4} "Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom."

Wat was die koopsom? Dit was die dood van Farao, wat op hulle aanspraak gemaak en as slawe vir sy eie doeleindes aangehou het. Indien julle hierdie dinge kan insien, aanvaar en ontvang, dan behoort julle te verstaan en aanvaar dat die Hernieude Verbond ons meedeel dat Jesus die Messias, oftewel God as mens, na die aarde gekom het om vir ons te sterf en ons terug te koop vir God. Hierdie keer, het God egter nie slegs die kinders van Israel teruggekoop nie, maar wel die ganse wêreld. Waarom sou Hy ons wéér koop as God ons reeds gekoop het? Die antwoord is dat ons in der waarheid onsself weer verkoop het, maar hierdie keer aan sonde. Ons het slawe van die sonde geword - in essensie het ons, ons siele aan die duiwel, die satan, verkoop en ons is in sy besit.

Johannes / Yochanan  {8:34} "Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is."

Dan deel koning Salamo ons mee:

Prediker {7:20} "want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons, deur ons eie toedoen, het onsself terugverkoop aan slawerny, oftewel die slawerny van die sonde, maar God wou ons terugkoop. Hy wou die mensdom, sowel Jode as as nie-Jode, verlos van die satan, wat hulle in die slawerny van hul sonde hou, maar om hierdie transaksie na te kom, moes daar 'n losprys wees: 'n uitruiling. Vir die kinders van Israel van ouds, was dit Farao en sy leërmag, maar vir die hedendaagse wêreld, is dit Jesus die Messias.

Hebreërs {2:14}  "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— {2:15}  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Jesus die Messias was die losprys: Hy was die verruiling vir ons siele. Sy sterwe het vir ons en ons sondes betaal, sodat die satan nie langer aanspraak op ons sou hê nie. God self - in die gedaante van Jesus die Messias - het die prys geword. Jesus was sowel die koper as die verkoper. Hy het ons verlos om God in gees en waarheid te dien.

Galasiërs {5:1} "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."

Indien jy nog nie Jesus die Messias as jou Verlosser aanvaar het nie, is jy nog steeds 'n slaaf van die sonde. Die betekenis van Sy dood en die losprys, wat dit verteenwoordig, is nie aan jou toegewys nie. Waarom ontvang jy nie vir Jesus as jou Saligmaker nie en word deel van die bevrydende transaksie wat God vir jou bewerkstellig het?

Kom gou Jesus!

Saterdag 01 Oktober 2022

Bewoon die Land en Verslaan God se Vyande

Nitzavim - VaYelech
(Hulle Staan – En Hy Het Gegaan)


Parasha Nitzvavim: God stel dit baie uitdruklik dat, as die kinders van Israel, oftewel almal van ons, Sy gebooie gehoorsaam, noukeurig nakom soos wat Hy beveel het, dan sal dit met hulle lewens voorspoedig gaan.  

Deuteronomium {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"

Daar is ongetwyfeld baie dinge wat God nie aan ons openbaar het nie en gewis, met ons beperkte insig, is daar baie dinge wat ons nie kan begryp en nie sal verstaan nie. Ek begryp nog nie heeltemal hoe God Homself kan manifesteer op wyses wat onafhanklik funksioneer nie, maar nogtans Een kan wees nie. Ek verstaan nie hoe God bepaal het wat Sy volk mag eet en wat nie. Dit maak egter nie saak nie nie want in hierdie Parasha verneem ek dat ek nie veronderstel is om sowel daardie as ander dinge te verstaan nie. Ek is oortuig dat ek nie is nie omdat dit nog nie ten volle aan my geopenbaar is nie; trouens ons word gesê dat daar sekere geheime is wat, om welke rede rede ookal, God verkies het om vir Homself te bewaar. God het egter in die bogemelde vers, dit baie duidelik gestel dat alles wat Hy in die Torah geskryf het - of ek dit verstaan of nie - ek dit móét onderhou. Dan, ingeval ek myself sou probeer vrystel van enige van die gebooie van God, deur te sê dat Hy Homself slegs tot die kinders van Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel gerig het, wat op daardie tyd dáár was óf dat Hy slegs gespreek het tot diegene van die volk Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel óf dat hierdie gebooie nie op nie-Joodse gelowiges toepaslik is nie, het Hy vir ons hierdie vers gegee: 

Deuteronomium {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15}  maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."

God verwys na ons hier en, selfs indien ons nie fisies in die land van Israel is nie of selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, wat hierdie parasha lees, is alles wat Hy tot die kinders van Israel gespreek het, steeds op ons van toepassing.

Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is God se Koninkryk. Voorheen is ons uit Sy Koninkryk uitgesluit vanweë ons sonde, maar nou, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons versoening, het Hy die prys vir ons sonde betaal en op grond van wat Hy vir ons gedoen het, het ons toegang tot Sy Koninkryk verkry en die land, wat God voorberei het vir almal wat Hom liefhet, binnegegaan. Ons moet egter onthou dat daar 'n Koning in hierdie Koninkryk is, wat daaroor regeer. Hy vertel ons dat Hy 'n jaloerse Koning is, 'n streng Koning wat wette, reëls en regulasies neergelê het, wat Hy van ons verwag om te eerbiedig en ons is verplig om dit te eerbiedig, as ons in sy land wil bly woon. Hy verseker ons egter dat Hy 'n liefdevolle, genadige en welwillende Koning is en het belowe om ons te seën in die land, soos wat ons Sy gebooie gehoorsaam en onderhou, net soos Hy belowe het om Israel te seën indien hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle die land Israel binnegegaan het.

Begryp julle dit nie? Die land Israel in die Bybel is 'n tipe Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie! Die Koninkryk van God is nie 'n spirituele Koninkryk nie - dit is fisies en dit is ons. Vandag is die Koninkryk lewendig en gesond en ons, wat in Jesus die Messias glo, is inderdaad dít. Hierdie Koninkryk mag nou wel klein wees in vergelyking met al die hedendaagse sekulêre koninkryke op aarde, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning, Jesus die Messias, wéér kom om Sy regmatige posisie in te neem op Sy troon, waar Hy vanuit Jerusalem sal regeer.

Dan, net ingeval ons sou sê - soos ek dikwels al mense hoor sê het: "Dis onmoontlik in ons moderne wêreld en teen sy snelle pas, om al hierdie gebooie, wat God van ons vereis, te onderhou". God sê egter:

Deuteronomium {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12}  Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13}  Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14}  Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."

Kom ons wees eerlik: ons het geen verskoning nie!

Deuteronomium {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4}  En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5}  die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."

Die kinders van Israel sou in die land teenkanting ondervind. Om die land te verower, sou nie maklik gewees het nie. Die Kanaäniete en Hittiete, onder andere, was daar en hulle sou die kinders van Israel nie sonder 'n geveg toelaat nie. Daarom, as ons volhard om die land van Israel as 'n tipe van God se huidige Koninkryk hier op aarde te beskou, wat óns is, dan kan ons ook opposisie van God se vyande, wat die aarde saam met ons bewoon, verwag terwyl ons na alles poog om hulle ook te onteien. Daar is ook demone in die land, wat nie sonder 'n stryd sal opgee nie. Indien jy in Jesus die Messias glo, dan sal jy besef wat ek bedoel, begryp waarvan ek praat. Soos vir Israel sê God egter vir ons:

Deuteronomium {31:6} “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

Laat ons lesse van Israel leer, want soos God met Israel gehandel het, so sal Hy ook met ons Handel. Ons moet dus leer uit hulle foute en ywerig Sy gebooie onderhou, sodat ons lank in die land mag woon en God se vyande verslaan.

Kom gou Jesus!

PDF weergawe