Saterdag 16 September 2023

Parsha Netzavim (Julle Staan) - Nie ‘n aannemer des persoons nie



Brit Chadashah: Romeine / Romim 15:1 - 11

Deuteronomium / Devarim {29:10} “Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11}  julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12}  om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit; {29:13}  sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders”.

Hierdie Skrifgedeelte handel oor die kinders van Israel, wat op die punt staan om die verbond met God aan te gaan net voordat hulle die Beloofde Land binnetrek. Volgens Moses, was die hele gemeente van Israel, wat soos ons weet, bestaan het uit ‘n gemengde menigte (saamgestel uit almal gebore as nakomelinge van die patriarge asook diegene gebore uit die nasies (goyim) teenwoordig voor God, hulle Here, op die oewer van die Jordaanrivier. Soos ek dit beskou, het die kinders van Israel gestaan voor God, hulle Here en ‘n verklaring van geloof – reddende geloof (!) – afgelê. Hoe gaan ‘n mens dié verbond met God aan? Dit is deur ‘n volgeling van God te word. Ten einde God as julle God te aanvaar en om ‘n verbond met Hom aan te gaan, moet julle deur reddende geloof tot Hom kom. Dit is een en dieselfde proses vir Jode en nie-Jode en dit is juis hierdie proses, glo ek, wat ons hier sien plaasvind met die kinders van Israel.

In die boek Galasiërs (Galitim) van die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), spreek Paulus (Shaul) tot die nuwe nie-Joodse gelowiges in Galasië en verseker hulle dat hulle alreeds die verbond met God aangegaan het deur hulle veranderde lewens, wat die verwerping van afgodsdiens insluit, as bewys van hulle redding. Daarbenewens het hierdie nie-Joodse Galasiërs, volgens Paulus, duidelik bewys gelewer van hulle vervulling met die Heilige Gees (Ruach HaKodesh). Die Joodse gelowiges uit Jerusalem het egter na hierdie nuwe nie-Joodse Galasiërs gekom en hulle meegedeel dat hulle nie waarlik gered was nie en gevolglik nie ten volle in die verbond met God ingesluit was nie. Daar is aan hulle gesê om hulle tot die Judaïsme te bekeer deur die besnydenis (brit milah) alvorens hulle ten volle in die verbond ingesluit kon word. Vir hierdie Joodse gelowiges uit Jerusalem, wat op hulle herkoms van Jakob (Ya’acov) aanspraak gemaak het, was bekering meer as bloot spiritueel – dit was ook fisies. Hule het dus foutiewelik die Galasiese nie-Jode daarop gewys dat hulle nie deel van die verbond met God kon wees nie, tensy hulle hul tot die Judaïsme bekeer, wat deur die besnydenis gesimboliseer is. Paulus het natuurlik hulle benadering verwerp en die hele boek van Galasiërs gewy aan die weerlegging van die leuenagtigheid wat hierdie valse leraars besig was om te verkondig. Paulus het geleer:

Efesiërs / Efesos {2:8} “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; {2:9}  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. ”.

Moet my asseblief nie vooruitgaan nie deur te dink “Weet Rabbi Jakob dan nie dat daar geen redding sonder berou en bloedvergieting is nie?” Ja, ek weet dit! Die kinders van Israel het dit ook besef omdat hulle alreeds betrokke was by die plaasvervangende rites van bloedvergieting. Hulle het die bloed van lammers, bulle en bokke geoffer ter vergiffenis van hulle sondes. Die feit is dat hierdie lammers, wat in plaas van hulle doodgemaak is, vir hulle eintlik op die komende Messias, God in die vlees gedui het wat Sy bloed sou stort – vir eens en vir altyd – vir die vergiffenis van die sonde van die wêreld. Die hele gebruik van naderkoms (korbanot) – in ons Engelse Bybels as offerande vertaal – is deur God ingestel uitsluitlik met die doel om die kinders van Israel te dui op Jesus die Messias, die uiteindelike Lam van God; trouens, die ganse Tora dui op Jesus die Messias!

Let ook op dat die Skrifgedeelte wat ek uit hierdie week se parasha gekies het, daarop wys dat dit nie die priesters of leiers of vername persone van Israel was wat voor God gestaan het om hulle verklaring van geloof af te lê en gered is nie. Alle stande van mense – van die vernaamste tot die geringste – was daar. Dit bewys dus aan ons dat God nie ‘n aannemer des persoons is nie. Menslike, wêreldse status is vir God van geen belang wat redding betref nie. Hierdie beginsel word deur Paulus geleer in die Hernieude Verbond:

Galasiërs / Galitim {3:28} “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. {3:29}  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename. ”.

Ek glo dat die aangehaalde gedeelte uit parasha Netzavim die feit bevestig dat ons deur die geloof en slegs geloof gered word en wat redding as sulks betref, God hoegenaamd nie ‘n aannemer is des persoons nie.