Saterdag 28 Mei 2016

Die Gevolge, Toe en Nou


BeHar-BeChukotai 

(Op die Berg - In My Verorderinge)

Levítikus / VaYikra 25:1-27:34
Jeremia / Yirmeyahu 16:19-17:14
Matthéüs / Mattityahu 22:1-14

Hierdie week se lesing uit die Tora is 'n dubbele gedeelte, maar ek het verkies om kommentaar te lewer oor slegs Bachukotai.

Dit het my droewig gestem nadat ek die eerste deel van Oordenking:" In My Verordeninge" deurgelees het, dié deel waar God die kinders van Israel gewaarsku het oor die gevolge indien hulle sou verkies om Sy gebooie te veronagsaam en teenstrydig met Hom te wandel. Dit was selfs meer ontstellend toe ek gelees het hoedat Hy hulle toenemend sal straf vir hul ongehoorsaamheid. Die eerste deel van hul straf sou Sy weerhouding van reën in die reënseisoen wees. Dit is treurig omdat hierdie kastyding sowel as die ander deur God genoem, inderdaad plaasgevind het vóór asook tydens die Assiriese en Babiloniese invalle en ballingskap van Israel.

God, in Sy goedheid en genade, het die kinders van Israel teruggebring. Weereens was hulle in die land, wat aan hulle voorvaders beloof is; hulle is egter nie teruggebring vanweë hul gehoorsaamheid aan God nie, maar wel op grond van God se verbond.

Levítikus / Vayikra {26:44} “Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. {26:45} Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die HERE.”

Wat my nou kwel, is dat Israel weer in presies dieselfde toestand verkeer as waarin hulle vóór Assiriese en Babiloniese invalle was. Trouens, die land en sy volk word gekenmerk deur afgodediens, sekularisme, godsdienstige tradisies van mense en, natuurlik, ongehoorsaamheid. Dit is dus geen wonder nie dat God, oor die afgelope vyf jaar die reën tydens die reënseisoen teruggehou het. Vandag is watervlakke in Israel kritiek; waterbesparings, wetgewing word toegepas en verder deur plaaslike bekende persoonlikhede op televisie aangemoedig. Is dit egter die enigste straf wat hedendaagse Israel ondergaan het? Het hulle nie gely en ly hulle nie ook steeds onder die volgende straf nie:

Levítikus / Vayikra {26:14} "Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; {26:15} en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16} dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. "

Terreur is tans algemeen in Israel, nou selfs erger as ooit met hul vyande se nuutste missielvermoëns. Wat van hierdie volgende en - ondervind moderne Israel dit nie ook nie?

Levítikus / Vayikra {26:17} “En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie. “

Die afgelope oorlog teen Hizbullah was 'n duidelike voorbeeld hiervan. So ook, ofskoon Israel nie voor Hamas gevlug het tydens die Gaza-opstand nie, het dit beslis nie in sukses en oorwinning geëindig nie. Wat kan ons verwag om volgende in Israel te gebeur? Indien ons die verloop volg, soos in "Oordenking: In My Vorderinge" uiteengesit, dink ek ons kan die volgende te wagte wees:

Levítikus / Vayikra {26:24} “… sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes. {26:25} En Ek sal ‘n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal Ek pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word. “

Ons kan verwag dat Israel deur sy vyande aangeval kan word. Dit is my gebed dat dit nooit sal plaasvind nie, alhoewel alles - tot 'n mens se onsteltenis - wel daarop dui. Daar is egter een ding wat ek moet byvoeg, voordat ek hierdie kommentaar afsluit. Die wyse waarop God Israel straf, is netsoos Hy ons straf, deur verergering daarvan, terwyl ons tog die geleentheid gegun word om tot Hom terug te keer en berou te hê. Indien jy dus nodig het om tot God terug te keer en berou het, moet dan asseblief nie versuim om dit te doen nie.


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-05-16



Saterdag 21 Mei 2016

Wees Aanneemlik vir God

Emor
(Spreek)


Daar is volgens my mening, twee belangrike insigte wat ons uit vandeesweek se oordenking kan verkry. Die eerste kom voor in hierdie gedeelte:

Levítikus / Vayikra {22:31} "Hou dan my gebooie en doen dit. Ek is die HERE. {22:32} En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is die HERE wat julle heilig, {22:33} wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n God te wees. Ek is die HERE."

God sal nie duld dat enigeen wat voorgee om aan Hom te behoort, Sy heilige naam ydellik gebruik nie. Wanneer ons onsself gelowiges in Jesus die Messias noem en voorgee om Syne en Syne alléén te wees, moet ons dit werklik bedoel. God sal dit nie ligtelik opneem indien iemand voorgee om aan Hom te behoort en dan Sy gebooie oortree en sodoende 'n openbare - of selfs private vertoon van Sy heiligheid maak nie.

Die spreekwoord: "Aan wie veel gegee word, van hom word veel verwag", is volkome toepaslik in hierdie verband: as ons bely dat Jesus ons Messias, Here en Redder is, word die heiligheid van Sy naam, deur God aan ons toevertrou. Ons is dan verantwoordelik om die heiligheid van Sy naam te onderhou en eerbiedig. Waarom? Omdat ons daarop aanspraak maak om aan God te behoort. Iemand wat bely dat hy aan God behoort, móét ook die karakter van God aanneem. Jy en ek mag beslis nie bely dat ons kinders van God is en dan soos die duiwel leef nie.

Matthéüs / Mattityahu {7:21} " Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. "

Dit is 'n baie ontnugterende gedagte as 'n mens besef dat ons almal van tyd tot tyd ons Hemelse Vader wanvoorstel deur ons sonde. Ek glo nie dat God van ons verlang om volmaak te wees nie. Selfs ná ons bekering, verander ons sondige natuur nie en sondig ons nog steeds. God verwag egter dat ons 'n lewe moet lei wat Hom behaag, 'n lewe van berou oor sonde, vergifnis en - na die beste van ons vermoë - 'n lewe van vrede met ons naaste. 'n Kind van God behoort, met verloop van jare in toenemende mate, steeds minder te sondig; dit word "heiligmaking" genoem. Soos ons volhard om te bid en God smeek om ons te verander, sál ons verander en meer soos Hy word. Daarbenewens, verkeer 'n kind van God voortdurend in 'n stemming van berou. Indien ons gesondig het moet ons onmiddelik om vergifnis bid en ons sonde bely: eerstens aan die persoon teen wie ons gesondig het en dan voor God. Waarom moet 'n mens in die eerste plek na die persoon gaan? Die Skrif beantwoord dit vir ons: 

Matthéüs / Mattityahu {5:23} "As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, {5:24} laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe."

Baie gelowiges meen dit is voldoende om slegs ons sondes voor God te bely, maar volgens hierdie Skrifgedeelte, is dit geensins die geval nie. Ons moet éérs berou hê en dan die persoon wat ons tenagekom het, om vergifnis vra.

Die volgende punt wat ek graag wil maak, is uit dié Skrifgedeelte:

Levítikus / Vayikra {23:10} "Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. {23:11} En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.” 

Hierdie gedeelte handel oor die dag van die Eerstelingsgerf. Ons het hierdie besondere dag tydens ons bybelstudie op Paasoggend behandel. Baie mense verstaan dié dag, wat ná die Sabbat van Paasfees plaasvind, verkeerd en meen dit verteenwoordig die opstanding van Jesus en haal gevolglik die volgende Skrifgedeelte as bewys aan:

1 Korinthiërs / Korintim Alef {15:20} "Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het."

Die probleem met hierdie redenasie is dat Jesus nie opgewek is op die dag van Eerstelingsgerf nie. Die betrokke dag val op die 16de dag van Nisan, terwyl die opstanding op die 17de dag van Nisan plaasgevind het. Hierdie tydsberekening sou meebring dat Jesus drie volle dae en drie volle nagte in die graf sou gewees het, soos wat Hy gesê het, Hy sou: Die aand van die 14de Nisan tot die aand van die 17de Nisan. Wat word dan die dag van die Eerstelingsgerf gevier? In een van die bogemelde Skrifgedeeltes (Levítikus {23:11}), vind ons 'n aanduiding van die betekenis daarvan:

Levítikus / Vayikra {23:11} “En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.“

Die dag van die Eerstelingsgerf, wat direk na die Dood van Jesus plaasvind, is 'n viering van ons aanneemlikheid vir God. Jesus het vir ons gesterf dat ons vir die Here aanneemlik sou wees. Ons is dus Sy eerste ryp are (eerstelingsgerf) van verlossing.


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-05-09





Saterdag 14 Mei 2016

Beskrywing van die Toekomstige Wêreld

Acharei Mot - Kedoshim
(Na die Dood - Heiliges)


Levitikus / VaYikra 16:1-20:27
Eségiël / Yechezk'el 22:1 – 16
Hebreërs / Ivrim 9:1 – 28
1 Petrus / Kefa Aleph 1:13 - 16


Ek het besluit om hierdie week slegs kommentaar oor parasha Acharei Mot te lewer.

Levítikus {16:12} “en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. {16:13}  En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. {16:14}  En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. {16:15}  Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.”

Iets het my opgeval toe ek hierdie deel van parasha Acharei Mot gelees het. Wat ek besef het, was dat die Heilige der Heilige (Kedosh Kedushim) pikdonker was en daar dus geen manier was dat Aäron iets daarbinne kon gesien het nie. As 'n mens dink hoedat die tabernakel (Mishkan) opgerig was, word dit duidelik dat daar drie lae bedekkings was en aan die buitekant, was die laaste laag robbevel. Gevolglik was dit onmoontlik dat enige lig daardeur kon skyn en boonop was daar binne die tabernakel 'n dik gordyn (Kapporet) war die heiligdom van die Heilige der Heilige geskei het. Hierdie gordyn was swaar en dig geweef – na bewering sowat 10,1 cm (4 duim) dik – en dus ook ondeurdringbaar vir lig. Die enigste lig in die tabernakel was die Menora, wat egter in die heiligdom was waar die Levitiese priesters (Leviim) diens gedoen het. Vanweë die dik gordyn, het of kon die lig van die Menora nie die Heilige der Heilige bereik nie. Hoe het  Aäron dan binne die  Heilige der Heilige sy weg gevind, veral wanneer hy deur God beveel is om die vertrek met reukwerk te vul sodat hy nie sterf nie? Vermoedelik was die bedoeling met die reukwerk om sy sig te belemmer, maar hy kon in elk geval niks sien nie, of kon hy? Was daar moontlik bonatuurlike lig in die  Heilige der Heilige waarmee hy sou kon sien en as gevolg daarvan, sy sig deur middel van reukwerk belemmer moes word?

Ons moet allereers onthou dat die tabernakel God se heiligdom was, Sy woonplek onder die kinders van Israel – 'n plek waar 'n heilige God onder 'n onheilige volk kon woon. Dit was egter meer as dit, in soverre die tabernakel 'n herskepping van die tuin van Eden (Gan Eden) was. Juis daarom is niks ritueel onrein of onvolmaak daarbinne toegelaat nie. Die tabernakel het die volmaakte herskepping van die wêreld voorgestel. Wat word aan ons vertel van hierdie toekomstige wêreld?

Openbaring (Hitgalut) {22:5} “En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.”

Die Heilige der Heilige was skynbaar deur die heerlikheid (Cavod) van God verlig – daarom sou  Aäron kon sien. Dit was nie pikdonker daarbinne nie en dus is sy sig slegs deur die brandende reukoffer belemmer. In die toekomstige wêreld (olam haba) sal 'n tempel ook nie meer nodig wees nie.

Openbaring {21:22} “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”

Hoe 'n pragtige beeld het God nie vir ons voorgestel deur die beskrywing van die toekomstige  wêreld, aan die hand van die konstruksie en die funksie van die tabernakel en tempel nie! Is julle nie geseënd dat julle eendag deel van hierdie toekomstige wêreld sal wees nie?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-04-24

Saterdag 07 Mei 2016

Wees "Kadosh" Afgesonderd Wanneer die Oordeel Kom

Acharei Mot - Kedoshim
(Na die Dood - Afgesonderdes)


Vandeesweek se Tora-lesing is 'n dubbele gedeelte. Eerstens sal ek oor "Na die Dood" kommentaar lewer en daarna oor die "Afgesonderdes" (Kedoshim).

Levitikus / VaYikra {18:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {18:2}  Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God. {18:3}  Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie. {18:4} My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God. {18:5}  Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE.”

God gaan voort met 'n lys van afskuwelikhede, wat in die land van die Egiptenare en die land Kanaän plaasgevind het. Dit is inderdaad ontnugterend om dit deur te lees, want ek dink ons kan almal toegee dat alles wat in die lys vermeld word, ongeag waar ons woon, vandag steeds in ons land plaasvind.

Die ergste is dat dit ook in die land Israel plaasvind. Kom ons wees eerlik, die wêreld is ryp (gereed) vir oordeel en niemand weet werklik wanneer en hoe rampspoed ons land, ons stad of ons tuisdorp gaan tref nie.

Yeshayahu (Isaiah) {49:22} “So sê die Here HERE: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word; {49:23}  en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die HERE is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.“

As dit nie was vir beloftes soos hierdie, wat God aan die kinders van Israel gemaak het nie, dan sou ons met die lees van ons oordenking, dink dat God die ganse aarde sou uitwis en weer van vooraf begin. Ons het egter hierdie beloftes en veel meer soortgelyke, wat aan ons bevestig dat God 'n plan het en daardie plan 'n herstelde Israel en herstelde wêreldnasies, wat almal Hóm aanbid, insluit.

Ons hoor vandag dat die president van die Verenigde State praat van 'n kernbom -vrye wêreld. Kan iemand so naïef wees om te glo, dat in 'n wêreld soos ons s'n, 'n wêreld so deurdrenk van sonde (soos hierbo vermeld), so iets moontlik kan wees? Selfs indien dit wel moontlik was en toevallig deur 'n ooreenkoms bekragtig word, kan 'n mens beswaarlik glo - gegewe die boosheid van die mens se hart - dat dit ooit sou voortduur?

Die Skrif vertel ons, in albei boeke van Joël en Maleági, dat groot verwoesting oor die aarde gaan kom. Beide boeke verwys na 'n toekomstige tyd, wat hulle "die grote en deurlugtige dag van die Here" en "die grote en vreeslike dag van die Here" onderskeidelik noem.
Joël / Yoel {2:31} “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.”

Maléagi / Malachi {4:5} “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek.”

Dieselfde waarskuwing deur Joël en Maleági gegee, word deur Jesys die Messias in die Hernieude Verbond herhaal:

Mattityahu (Matthew) {24:21} “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”

Is dat dan geen wonder nie, wanneer ons dié week se oordenking lees en die gedeelte oor die afskuwelike praktyke van die lande van Egipte en Kanaän lees, dat ons tragedies en die oordeel van God oor ons lande moet verwag nie? Wanneer 'n mens, trouens, die toestand van ons eie lande beskou, dink ek "die grote en deurlugtige dag van die Here" is aan die kom. Meen dit dat ons bekommerd hoef te wees? Bedoel dit dat ons solank voedsel en water moet opgaar? Ofskoon dit 'n goeie idee is om 'n voorraad voedsel en water vir ten minste drie dae beskikbaar te hou, vir ingeval 'n natuurlike ramp of noodtoestand ontstaan, glo ek nie dit is nodig om paniekerig of oormatig bekommerd te wees nie. God sal beskerm; Hy sal almal wat Syne is beskerm, net soos Hy vir Noag, tydens die sonvloed, beskerm het. Trouens, die enigste waaroor ons, as gelowiges in Jesus die Messias, bekommerd moet wees en ons gedagtes mee moet besighou, is die redding van ons geliefdes en vriende.

1 Thessalonicense / Tesolonikim Alef  {5:3} “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”

Nou, vir my kommentaar oor afgesonderdes "Kedoshim", dit is kort want ek meen hierdie oordenking is selfverduidelikend.

Levitikus / Vayikra {19:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {19:2}  Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”

Die woord "kadosh" word in ons Afrikaanse Bybels as "heilig" vertaal, maar dit is nie die beste vertaling nie. "Kadosh" beteken afgesonderd of opsy sit. In die "Oordenking Afgesonderdes" word ons vertel dat God wil hê dat dié wat aan Hom behoort, 'n opsygesette of afgesonderde lewe moet lei. Ons hoef nie te ver in die oordenking te lees om te verneem wat dit behels om 'n "Kadosh" of afgesonderde lewe te lei nie. God verduidelik dit vir ons baie duidelik en daar is geen twyfel oor wat dit is wat van ons verwag word nie. Die enigste probleem is dat nie elkeen gereed of bereid is om "Kadosh" te wees nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-05-02