Sondag 31 Mei 2020

Bane

Naso
(Ophef)

Numeri {4:21} "En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {4:22} “Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte. {4:23} Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms.{4:24} Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25} hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26} en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig."

Soos die Here die verantwoordelikhede van die priesterlike familie van Gerson toegeken het, so het Hy ook met die priesterlike families van Merari en Korag gedoen. Aan elke familie is ‘n besondere taak toegeken en geeneen van die families kon die ander se pligte uitvoer nie. Indien hulle wel take uitgeruil het, sou dit wees asof hulle “‘n vreemde vuur” voor die Here bring en ons onthou hoedat Hy voorheen daarmee gehandel het! Elke familie het sy eie spesifieke taak gehad om uit te voer en elke keer wat die Here besluit het om die kinders van Israel te verskuif, kon elke priesterlike familie hulle toegekende taak uitvoer; hulle moes dit volgens ‘n spesifieke volgorde doen en in samewerking met die ander priesterlike families.

Ek glo dat God sekere verantwoordelikhede aan elkeen van ons toegeken het wat ons hier op aarde moet uitvoer en daarom word aan ons gesê:

1 Korinthiërs {12:14} "Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. {12:15} As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:16} En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:17} As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? {12:18} Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het."

Ons het al atlete by ‘n Olimpiese Spele gesien; elke atleet moet hardloop in die baan wat aan hom/haar toegewys is. Indien hulle uit een baan na dié van ‘n ander beweeg, word hulle gediskwalifiseer. God het aan julle ‘n besondere taak toegeken wat deur niemand anders op aarde uitgevoer kan word nie. Hy het julle in júlle baan geplaas. As julle dus in die verkeerde baan hardloop of in iemand anders s’n of heen en weer tussen die bane beweeg, sal julle gediskwalifiseer word en die voltooiing van die wedren misloop - netso sal julle ook die vervulling van die Godgegewe taak aan julle misloop. Wees versigtig om nie te gaan waar God julle nie geplaas het nie. Bepaal dus waar God julle geroep het en bly in daardie baan - dit is baie belangrik. As julle in die regte baan kom en alles wat julle terneergedruk,maak, verwerk, sal julle die wedren wat God vir julle bepaal het, wen en die prys ontvang wat Hy  vir elkeen voorberei het.

Numeri {16:1} "EN Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?"

God het aan die priesterlike familie van Korag, ‘n spesifieke en belangrike taak toegeken. Hulle was verantwoordelik vir die versorging van die ark, tafel van toonbrode, lampstaander, altare en alle artikels wat in die bediening gebruik is, met inbegrip van die gordyne en alles wat met die gebruik daarvan, in verband gestaan het. Hulle was egter nie tevrede nie. Hulle het begeer en was jaloers op Moses en Aäron, asook die posisies aan hulle verleen. Die gevolg van hulle begeerte om van bane te verander, was rampspoedig. God het meeste van die familie van Korag asook 250 manne, wat hulle gevolg het, met die dood gestraf. Daarbenewens het Hy ook ‘n plaag oor die kamp van Israel gestuur.

Sommige van julle hardloop heen en weer. Julle raak verveeld met die taak, deur God aan julle toegeken en kyk en begeer wat ander doen. Julle wil dit net vir ‘n kort rukkie uitvoer en doen dit dan met oorgawe, maar wanneer julle na ‘n tydjie daarmee verveeld raak, besluit julle dat dit God se wil is om te verander. Julle verander dan met oorgawe na iets anders. Julle volhard om van bane te verwissel, sonder om selfs te besef dat julle julself diskwalifiseer. Volhard om te hardloop in die baan waarin God julle geplaas het en bly in jóú baan. Dit is die enigste waarborg om die wedren te voltooi en eindelik die prys te ontvang wat Hy vir diegene wat Hom liefhet, voorberei het. 

Kom gou Jesus!

Saterdag 23 Mei 2020

Boek van Ewige Lewe

BaMidbar
(In Die Woestyn)

Númeri {1:5} En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür; {1:6} vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai;{1:7} vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab; {1:8} Vir Íssaskar: Netáneël, die seun van Suar; {1:9} vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon; {1:10} vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur; {1:11} vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni; {1:12} vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai; {1:13} vir Aser: Págiël, die seun van Ogran; {1:14} vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel; {1:15} vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan.

Met die aanvang van ons studie van die eerste boek Númeri, het ek deur vandeesweek se Parasha gelees en was getref deur God se opdrag aan Moses. Moses is versoek om die stamme van Israel te tel en te nommer - geen geringe taak in daardie dae nie! Dit was egter tot óns voordeel, want daardeur is die name van die stamhoofde en getalle van elke stam te alle tye aangeteken. Hier is ons duisende der duisende jare later en ons lees en noem die name van mense op, wat die Here vir Moses laat opteken het in hierdie boek.

Dit is egter nie die enigste plek in die Bybel waar die name van mense opgeteken is nie. Ons vind dat dwarsdeur die Bybel baie name vir ewig opgeteken is vir toekomstige generasies om te lees en onthou - sommige ten goede en ander nie so nie. Ons word iets anders vertel oor die name in die Skrif. God beskik oor boeke in die hemel waarin al ons name opgeskryf is.

Psalm {69:28} "Voeg skuld by hulle skuld, en laat hulle nie in u geregtigheid kom nie."

Maleági {3:16} "Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer."

Filippense {4:3} "En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saam gestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is."

‘n Verdere verwysing na boeke in die hemel waarin name opgeteken word ,kom vyf keer in die boek Openbaring voor: 

Openbaring {3:5} "Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele."

Openbaring {13:18} "Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig."

Openbaring {17:8} "Die dier wat jy gesien het, was en is nie, en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is."

{20:12} "En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke."

{22:19} "En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is."

Ek dink dus dat ons almal verseker kan wees dat God ons name in ‘n boek in die hemel opgeskryf het of dit ten goede is aldan nie, in afwagting van ons aankoms dáár; nie vir alle geslagte om te sien nie, maar vir die bepaling van ons ewige bestemming. Indien dít die geval is en dit ís so, is ek oortuig daarvan dat ons almal in God se Boek vir die goeie opgeskryf wil wees.  

Ek het eens ‘n gesprek gevoer met ‘n ongeredde Joodse man oor my sienswyse ten opsigte van bekering. Hy wou weet of ek geglo het dat ‘n persoon wat gesterf het en nie Jesus die Messias as sy versoening aanvaar het nie, hel toe gaan. My antwoord was: “Ek weet nie wat in die sekondes voordat ‘n mens sterf, in sy hart aangaan nie, slegs God weet dit. Ek weet ook nie van God se plan of die mate van Sy genade nie. Iemand wat sterf, gaan nie vir veroordeling voor my verskyn nie. Elkeen sal voor die Here moet verskyn en rekenskap gee oor sy lewe en hoedat hy gelewe het met betrekking tot Sy gebooie en Voorligtingsboek (die Bybel) vir die lewe. Dit is dan wanneer hy sal uitvind of sy naam in die Boek van Ewige Lewe (by God) of Ewige Dood (by die Satan) geskryf is”. Ek het egter voortgegaan om te verduidelik: “Daar is ‘n weg om honderd persent seker te wees dat jy jou naam geskrywe sal sien in die Boek van Ewige Lewe, wanneer jy na jou dood eindelik voor God verskyn. Ontvang Jesus die Messias as jou enigste (kapora) versoening, jou Here en Redder nóú, voordat jy sterwe en dan sal jy ‘n Ewige Lewe met God in die hemel gewaarborg word”.

Ek vra julle dus nou reguit: het julle Jesus die Messias in julle harte en lewens ingenooi? Indien julle hom nog nie in soveel woorde ingenooi het nie - Hy staan steeds buite julle harte en wag om Hom binne te nooi. Waarom doen julle dit nie nou nóú nie alvorens julle dit later gaan berou?

Handelinge {16:30} "En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? {16:31} Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." 
  
Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 16 Mei 2020

Berou | Die Gevolge, Toe en Nou

Behar - BeChukotai
(Op die Berg - In My Verorderinge)


Levítikus 25:1-27:34

Jeremia 16:19-17:14

Matthéüs 22:1-14


Behar - Op die Berg
Berou

Levitikus {25:17} "Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. {25:35} En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos ’n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe. {25:36} Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe. {25:42} Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ’n mens ’n slaaf verkoop nie. {25:43} Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees."

Ek het onlangs in Parasha Kedoshim die vergelyking getref tussen die vrees vir God en die vrees vir ons ouers. Vir vandeesweek se insiggewende lesing oor Parasha Behar, wil ek graag verduidelik waaroor die Here spreek, wanneer Hy ons driemaal vermaan “vrees julle God”.


Dit is vir my onnodig om te verduidelik waarom ons verkeersboetes moet betaal vir oortredings soos byvoorbeeld parkering op ‘n “geen parkering” area of oorskryding van ‘n spoedbeperking. Ons het daardeur die wet oortree, wat tot ‘n boete lei. Baie mense meen dat hulle daarmee kan wegkom deur te parkeer waar hulle ookal wil of met ‘n spoedoortreding, omdat daar geen verkeersbeampte in sig is, wat ‘n boetekaartjie kan uitreik nie. Dit is waarom spoedbeperkings oortree en dus die wet oortree word, omdat hulle meen dat hulle nie uitgevang sal word nie; niemand dink ooit daaraan dat hulle betrap sal word nie. Kom ons kyk daarna: in ons samelewing van vandag, is ‘n skelm nie ‘n skelm totdat hy skuldig bevind word nie. Dit herinner my aan die voormalige Amerikaanse president Nixon, wat hierdie alledaagse bewering gemaak het: “Ek is nie ‘n skelm nie”. Die feit was dat hy inderdaad ‘n skelm was omdat hy skuldig bevind is en die prys wat hy betaal het, was om in vernedering die presidentskap neer te lê.


Op dieselfde wyse, wanneer God ons beveel om Sy gebooie te gehoorsaam, weet Hy dat die meeste van ons sal probeer om daarmee weg te kom deur dié opdrag te verontagsaam omdat ons meen dat ons nie uitgevang sal word nie. Eweneens, indien meeste van ons dink dat ons nie uitgevang sal word vir ‘n spoedoortreding of ongemagtige parkering nie omdat daar geen verkeersbeampte te sien was nie, dat ons die saak met God sal vryspring omdat ons meen dat Hy nie bewus daarvan is nie. Indien ons diegene wat ons nie kan sien gehoorsaam nie, maar weet dat ons dopgehou word - soos deur verkeerbeamptes - dan sal ons God vir Wie ons nie kan sien en meen dat Hy ons nie dophou nie, nie gehoorsaam nie


God is egter nie soos die wetstoepassingsbeampte, prokureur of regter nie. Hy is alwetend, alomteenwoordig en almagtig. Niks kan vir Hom verberg word nie, niks kan Hom mislei en daar is nêrens waar ons van Hom kan wegkruip nie. Die gevolge van ons oortredings teen Hom kan skielik of jare daarna geskied, maar ongetwyfeld sal dit toegepas word; ons sal nooit met ons sondes kan wegkom nie. Dit is trouens, baie moontlik dat die swaarkry wat ons tans in ons lewens ervaar, gevolge is van sondes gepleeg, selfs terwyl ons reeds gelowiges was, van weke, maande of selfs jare gelede. Juis daarom word ons herhaaldelik sowel in die Geskrifte as in hierdie Parasha gemaan om “jou GOD te vrees”

Ek vertrou dat die Hernieude Verbond verduidelik wat ek probeer sê. Jesus het gesê:

Lukas {12:4} "EN Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; {12:5} maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!"

Saterdag 09 Mei 2020

Verskonings: God Ken My Hart

Emor
(Spreek)


Levitikus {23:15} "Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees; {23:16} tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die HERE bring."

Ons sien dat hierdie gebod weer in Deuternomium herhaal word : 

Deuternomium {16:9} Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel. {16:10} Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën. {16:11} En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon. {16:12} En jy moet daaraan dink dat jy ’n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie insettinge sorgvuldig hou."

Hierdie Skrifgedeelte verwys na ’n tydperk (nege-en-veertig dae) wat ons wysgere “Die tel van die Omer” noem. Dié moes begin op die Sabbat na die viering van die Pasga. Daar het egter veel strydvrae hieroor ontstaan. Sommige meen dat dit vanaf die weeklikse Sabbat behoort te tel, wat sou beteken dat dit op ’n Sondag moes begin, terwyl ander meen dat die eerste dag van Pasga ’n Sabbat, trouens ’n Hoë Sabbat, is en daarom behoort dit vanaf die eerste dag van Pasga te tel, ongeag op watter weeksdag dit val. Ek ondersteun en stem saam met die laasgenoemde siening.

Die kinders van Israel is beveel om die Omer te tel terwyl hulle Egipte verlaat het en die proses van belewenis van hulle reis uit slawerny na vryheid ervaar het. Soos wat ’n mens deur die Geskrifte lees, wat met hierdie reis ooreenstem, kan ons medelye hê met die probleme en stryd wat hierdie uiters moeilke uittog vir die kinders van Israel ingehou het. Nogtans sidder ’n mens om aan die kinders van Israel se ondankbaarheid teenoor hulle liefdevolle God en Sy gesalfde leier, Moses, te dink. ’n Mens is selfs geneig om ietwat vererg te voel oor hulle gemor, klagtes en opstand as ons lees hoe dikwels die kinders van Israel wou moed opgee en na hulle vorige lewe van slawerny terugkeer.

Ongelukkig weespiëel dít wat ons oor die kinders van Israel lees, ons eie lewens as gelowiges in Jesus die Messias. Het julle al ooit teenoor God gemor en gekla en opstandig geraak oor swaarkry wat julle in jul lewens reeds ervaar het en steeds verduur? Wou julle al ooit moed opgee en na julle vorige lewenswyse terugkeer? Wees eerlik met julleself want ek het ook al hierdie dinge in my lewe met die Here beleef!

Ons sien dus weereens in hierdie Parasha hoedat die Here tot óns spreek deur die kinders van Israel se ontberings, soos in die Tora opgeteken. Trouens die kinders van Israel is ’n toonbeeld van ons lewens van “oorwinning” as gelowiges. Ons reis van oorwinning het begin vanaf die oomblik dat ons Jesus die Messias as ons Heer en Redder aangeneem het. Dit was toe ons van ons persoonlike sonde verlos is. Die kinders van Israel se fisiese verslawing aan Egipte is ’n toonbeeld van ons eie lewensveslawing aan sonde en die kinders se bevryding uit Egipte, verteenwoordigend van ons verlossing uit sonde.

Deur ons redding en nuutgevonde bevryding van sonde en geestelike dood waartoe dit lei, ondervind ons almal struikelblokke en probleme, met ander woorde, ons almal kom te staan voor beproewings, vedrukking en toetsing van ons geloof. Die kinders van Israel se wedervaringe versinnebeeld ons eie wilderniservaring. Dit is ’n weerspiëeling van alles waardeur ons gaan en trouens, alles waardeur ons God toelaat om die sonde in ons lewens te ontbloot en weg te neem. Hierdie proses word in ons weerspiëel soos wat ons God se Wil nakom deur die tel van die Omer.

Hierdie veertig dae wat die Pasga voorafgaan, is bedoel om ons te identifiseer met die stryd wat die kinders van Israel ervaar het en dit te vergelyk met ons daaglikse worstelinge om ons eie redding “uit te werk” deur sonde in ons lewens te bowe te kom. Hierdie “uitwerk” van ons redding, sluit in die stryd teen die sonde in ons lewens en die proses begin met die oomblik van ons redding en duur tot daardie finale dag wanneer ons oorgaan tot geestelike lewens aan die einde van ons reis. Die lesse geleer deur die tel van die Omer elke dag vir sewe weke, tot die vyftigste dag, versinnebeeld ons daaglikse stryd om sonde in ons lewens te bowe te kom. Dit is ’n beeld van ons wat ons lewens blootlê deur die Gees van God toe te laat om ons harte te deursoek en dié dele van ons lewens wat reiniging verg, te suiwer. Dít, glo ek, stem ooreen met wat koning Dawid sê:

Psalm {90:12} "Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!"

Die vyftigste dag (Shavuot), glo ek, is ’n beeld van die groot huwelik, wat ons met die koms van ons Messias sal belewe. Daarom, gedurende hierdie nege-en -veertig dae wat ons Omer noem, moet ons dink en mediteer om ”oorwinnaars” te word, ter voorbereiding vir ons ontmoeting met ons Messias. Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons geestelik voor te berei, en van alle oorblywende sonde te reinig, sodat ons waardige ontvangers van Sy heerlikheid mag wees.

Lukas {21:36} "En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister."

Handel God met die sonde in jou lewe?          

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 02 Mei 2020

Heiligheid

Kedoshim
(Heiliges)


Indien julle wil weet hoe om ‘n heilige lewe te voer, lees en pas hierdie week se Parasha op julself toe, Alles wat iemand ooit nodig sou hê om kadosh (afgesonder/heilig) te wees, word in die verse daarvan vervat. God se leer, veral hier in Parasha Kedoshim, is duidelik, bondig en heeltemal eenvoudig. Dit was om hierdie rede dat God gesê het dat geeneen ‘n verskoning sal hê wanneer hulle eendag voor Hom staan nie. Kom ons kyk na sommige van hierdie Parasha se lesse,

Levitikus {19:3} "Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en my sabbatte hou. Ek is die HERE julle God."

Die Hebreeuse woord wat hier vir “vrees” gebruik word, is afgelei van die oorspronklike woord, “yaray” uitgespreek wat behoorlik vertaal, respek of eerbied kon beteken. Dit is dieselfde oorspronklike woord wat in verse 19:32 van ons Parasha voorkom, om vrees vir God uit te druk. 

Levitikus {19:32} "Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE."

Daarom  moet ons ons ouers eerbiedig netsoos ons God eerbiedig. Koning Salomo het geskryf:

Spreuke {9:10} "Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand."

In hierdie Skrifgedeelte, vind ons nie slegs die woord vir “vrees” nie, maar ook die Hebreeuse woord “Kedoshim”, wat ons weet wat as “afgesonder”, “apart” of “heilig” vertaal word.

Die Tora het klaarblyklik reeds bestaan en was in algemene gebruik tydens die regering van Koning Salomo - dus was hierdie Parasha aan hom bekend omdat dit ongetwyfeld in die Tempel, wat deur hom opgerig, gelees is. Ek meen dus dat sy spreuk op hierdie Tora - gedeelte betrekking gehad het. 

Wysheid, kennis, oordeel en insig het volgens die woordeboek, almal betrekking op mekaar. Saamgevoeg, spreek hulle van akkumulatiewe filosofiese geleerdheid, die vermoë om sowel innerlike kwaliteite as verhoudings te onderskei en om sinvol te wees.

Met in agneming van Wie God is (en met oorweging van beide die goeie dinge wat Hy ons beloof het, indien ons Sy gebooie onderhou en die slegte dinge, waarteen Hy ons gewaarsku het, wat sal gebeur, as ons ons verbond met Hom verbreek), is dit geen wonder nie dat Koning Salomo gesê het, "Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand."

Maar hoe kan eerbied /vrees vir ons ouers gelykgestel word aan eerbied /vrees vir die Here? Die antwoord is eenvoudig : God het alles geskape en ‘n spesifieke rangorde vir alles geskep. Boonop het God Homself ingesluit in dié geskape rangorde. Dit is soos volg: bo-aan die rangorde is God die Vader, onder Hom is Jesus die Messias en onder Jesus is mans (hoofde van hulle huishoudings). Onder die mans is hulle vroue en onder hulle vroue die kinders. Kinders word spesifiek deur God vermaan, om gehoorsaam te wees; in besonder om hulle ouers te eerbiedig /vrees.

Efesiërs {6:1} "Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg."

Vrouens word vermaan om te eer - in besonder om hulle mans te eerbiedig /vrees. Die Hoof van elke man is die Messias en hulle moet Hom en God (die Vader), wat bo Jesus is eerbiedig /vrees. Ons weet dat Jesus die Vader gevrees en gedoen het wat slegs die Vader Hom beveel het om te doen. Indien enigeen hierdie rangorde van “VREES” oortree, wat God opgestel het, dan raak die hele rangorde versteur en word God uiteindelik nie gevrees nie. Kom ons let weer op die gedeelte wat ek aan die begin van hierdie lesing aangehaal het:

Levitikus {19:3} "Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en my sabbatte hou. Ek is die HERE julle God."

Uit hierdie vers is dit duidelik dat om jou vader en moeder te eerbiedig /vrees, betrekking het op gehoorsaamheid aan die gebooie van die Here ons God. Dit blyk duidelik uit die opdrag om die Sabbat te onderhou.

Gehoorsaamheid en onderworpenheid is by verre die moeilikste sake vir sowel gelowiges as ongelowiges in Jesus die Messias om na te kom. Let op wat die volgende Skrifgedeelte ons meedeel:

Romeine {13:1} "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, {13:2} sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang."

Ons word beveel om diegene wat deur God in gesag oor ons aangestel het, te eerbiedig /vrees en gehoorsaam. Ongetwyfeld was die apostel Paulus, toe hy hierdie woorde geskryf het, terdeë bewus van die onderdrukkende Romeinse regering oor die land van Israel. Die punt is, as ons nie in staat is om diegene te gehoorsaam of eerbiedig/vrees wat ons sien en wat God in gesag oor ons aangestel het nie - soos ons ouers, leiers en regering, hoe sal ons God wat ons nie kan sien nie, gehoorsaam of eerbiedig /vrees? 

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Redding

Acharei Mot
(Na Die Dood)


Levitikus {18:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {18:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God. {18:3} Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie. {18:4} My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God. {18:5} Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE.”

In hierdie inleidende Skrif, verstrek God ‘n lys van gruwels wat deur Egiptenaars (Mitzrim), Kanaäniete (Kena’anim) sowel as in die res van die heidense wêreld gepleeg is.

Ek het berou dat ek in my jeug nie reeds gered is nie; gevolglik het ek tydens my eerste veertig jaar ‘n lewe van promiskuïteit en losbandigheid gelei. Moontlik oordryf ek dit ietwat, want ek skat dat die eerste tien jaar van my lewe ‘n tydperk van onskuld was, waarna die duiwel behoorlik los was! Ek moet dus eerlik erken dat ek besonder verleë en beskaamd gevoel het toe ek die betrokke lys van sondes gelees het van mense (Egiptenaars) wat deur God veroordeel is asook diegene (Kanaäniete) wat Hy op die punt gestaan het om te oordeel en van hulle land te ontneem. Voordat ek gered is, het ek ook al vele van daardie sondes gepleeg.

Wat werklik onstellend is, is dat hierdie seksuele sondes vandag nog in elke land – Israel ingesluit – plaasvind. Boonop lees ons dat in baie lande ‘n aansienlike deel van die betrokke sondes, waarvan ons in hierdie parasha lees, reeds gewettig is. Homoseksualiteit is ‘n voorbeeld hiervan; trouens, laasgenoemde is nie net gewettig nie, maar word selfs as sosiaal aanvaarbaar in die samelewing beskou. Aborsie, wat vergelykbaar is met die offer van kinders aan Moleg, is ‘n verdere sonde wat in meeste wêrelddele wettiglik beoefen word en ek is oortuig, dat waar dit nie wettig is nie, dit onwettig plaasvind. Volgens statistieke, is bykans 98 000 aborsies in 2009 in Kanada uitgevoer.

Levitikus {18:24} “Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf. {18:25} So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug.”

Dink net daaraan, dat elke denkbare seksuele misdryf en, ek sou my voorstel, selfs sommige wat nooit in die gedagte van God opgekom het nie, vandag dwarsoor die wêreld gepleeg word. Enigeen, ongeag sy / haar ouderdom en welke perversiteit hulle wil ervaar, het op die internet toegang daartoe. Dink jy nie die wêreld is gereed om geoordeel te word nie?

Deuteronomium {9:4} “As die HERE jou God hulle voor jou uit verjaag, moet dan nie in jou hart spreek en sê: Die HERE het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE hulle voor jou uit.{9:5} Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die HERE vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.”

Al die nasies van die wêreld is gered vir die oordeel; trouens, ons ervaar nou reeds ‘n deel van daardie oordeel: die ongekende onstuimige weerpatrone, die verskynsel van wêreldwye terrorisme en die voortdurende bedreiging van oorlog (veral nou met Rusland). Dit is egter slegs die begin  - die grootste finale oordeel, moet nog aanbreek. Is dit te laat vir die wêreld om na God terug te keer? Nee, dit is nooit te laat nie maar die moontlikheid van ‘n wêreldwye herlewing raak toenemend onwaarskynlik; trouens, indien die oordele van God op aarde toeneem in plaas daarvan dat mense na God terugkeer, sal hulle, volgens die Bybel, Hom begin vervloek.

Openbaring {16:21} “en groot hael, omtrent ’n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.”

Hoe siek en ontneem is ons mense tog nie! Is dit nie ‘n wonder dat ons ‘n Redder nodig het nie? 

Kom gou Jesus!


PDF weergawe


Voorheen uitgegee: 2014-04-02