Sondag 31 Maart 2013

God se weg of ons weg

D’Var Tora 
Agste – S’hemini 
God se weg of ons weg 




Levítikus / Vayikra {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2} Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. ” 

Hierdie is nie die enigste mense wat God oombliklik laat sterf het nie. Ons het ook ‘n verdere voorbeeld in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha): 

Handelinge {5:1} “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, {5:2} en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. {5:5} En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. {5:10} Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. ” . 

Ek het al dikwels gewonder of God vandag nog so ’n iets doen. Alhoewel dié gevalle miskien selde voorkom – soos ook in Bybelse tye – is ek oortuig dat God, wat nooit verander nie en gister, vandag en vir ewig dieselfde is, steeds mense oombliklik laat sterf. Die vraag ontstaan egter: wat gebeur met hierdie mense ná hulle dood? Gaan hulle hemel of hel toe? Ek het al dikwels gewonder wat die uiteindelike bestemming van mense wat deur God met die dood getref of gedood is soos die profeet, wat nie God se opdragte gehoorsaam het nie en aangeteken staan in: 

1 Konings / Melachim Alef {13:24} “en hy gaan weg; toe kom ‘n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die leeu ook langs die lyk bly staan. ”. 

Hoe meer ek oor hierdie vraag gedink het, hoe meer het ek gevoel dat die antwoord voor die hand liggend is. Die hemel is ‘n glorieryke plek; trouens, dit word die paradys genoem en as ons aan die paradys dink, assosieer ‘n mens dit met deurlugtigheid, skoonheid en vreedsaamheid. Dit sou dus vir God teenstrydig wees om iemand met die dood te tref vir sy / haar ongehoorsaamheid en hulle tog in die paradys in te lei. Nee, ek glo dat elke mens in die Bybel aangeteken sowel as diegene wat nie aangeteken is nie, wat op een of ander wyse so deur God met die dood getref is, nooit die hemel binnegegaan het nie, maar inteendeel in die hel beland het. 

Dit is inderdaad ‘n ontnugterende gedagte wanneer ‘n mens daaraan dink dat die profeet wat God deur ‘n leeu laat omkom het, verlei is tot ongehoorsaamheid. Hoeveel gelowiges is al bedrieg deur vriende, pastore, rabbi’s en Bybelonderwysers – almal mense met goeie bedoelings maar was gevolglik in ‘n geringe opsig aan God ongehoorsaam gewees? Daar is ‘n hel om vermy te word en ‘n Hemel om verwerf te word. Die ganse ewigheid hang in die skaal en die keuse is ons s’n. Daar is slegs twee moontlike keuses: God se weg of ons weg en jy kan verseker wees dat ons s’n die verkeerde weg is! 

Spreuke / Mishlei {14:12} “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 24 Maart 2013

Ons het alleenlik Sy teenwoordigheid by ons

D’Var Torah 
Paasfees (Pasga) – Pesach 

Deuteronomium / Devarim 14:22 – 16:17

Eksodus/ Shemot {34:18} “Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.”. 

Behalwe hierdie vers, word geen direkte melding van Paasfees elders in hierdie week se parasha-lesing gemaak nie. Ek meen egter dat die rabbi’s spesifiek hierdie gedeelte gekies het as belangrik vir Paasfees omdat dit so op Eksodus betrekking het – die tema van Paasfees. Dit bevat ook inligting aangaande Moses se tweede tog op na berg Sinaï en die tweede stel kliptafels (tien gebooie / Aseret Ha Dibrot), die hoofrede waarom die kinders van Israel deur God in die woestyn ingelei is. Ek het verkies om op die volgende verse uit vandeesweek se parasha kommentaar te lewer. 

Eksodus / Shemot {33:12} “Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13} As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.”. 

Ek vind wat ons hier lees, tipies van God se handelswyse met ons. Hy gee aan ons opdragte en verwag dat ons dit uitvoer maar verduidelik nie altyd hoe ons te werk moet gaan nie. Dikwels hoor ons van God maar weet nie wat om te doen nie. Ek het, trouens, al baie mense wat hierdie ervaring ondervind het met raad bedien en dit as besonder frustrerend ervaar. Dit was waarskynlik ook vir Moses frustrerend. Hier was hy in die middel van nêrens met bykans twee miljoen mense wat van hom afhanklik was om hulle te lei, maar hy was gefrustreerd omdat hy geen duidelike leiding van God ontvang het nie. Jy het moontlik nie duisende mense wat op jou aanwysings wag nie, maar ek is oortuig daarvan dat wanneer jy jouself in ‘n situasie bevind het, waar jy van God gehoor maar geen uitdruklike aanwysings ontvang het nie, jy net so gefrustreerd was. 

Wat is dan die oplossing? Dieselfde as wat God aan Moses verstrek het: 

Eksodus {33:14} “En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?”. 

Ons het nie gedetaileerde aanwysings nodig oor hoe om iets, wat God aan ons opgedra het, uit te voer nie – slegs Sy teenwoordigheid by ons is al wat ons benodig. God het ons nie geskep om robotte te wees nie. Hy verwag van ons om Sy opdragte te aanvaar en met die uitvoering daarvan voort te gaan. Ons móét daarvan bewus wees dat Sy teenwoordigheid altyd by ons is. God sal ons lei en ons deurentyd stap-vir-stap die weg aanwys. Dit herinner my aan die gesegde: “’n Reis van ‘n duisend myl, begin met die eerste enkele tree.”. 

God se belofte is: 

Hebreërs / Ivrim {13:5} “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”. 

Daar is egter één waarskuwing wat ons altyd in gedagte móét hou: 

2 Kronieke / Divrei Hayyamim Bet {15:2} “... Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 23 Maart 2013

Dit is nie wetties (legalisties) nie, dit is om gehoorsaam te wees

D’Var Torah 
Bevel – Tzav 

Levitikus / Vayikra 6:1 – 8:36

Levitikus / Vayikra {8:5} “Toe sê Moses aan die vergadering: Dit is die saak wat die HERE beveel het om te doen.{8:6} En Moses het Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water gewas. {8:7} Daarop het hy hom die rok aangetrek en hom met die gordel gegord en hom die mantel aangetrek; ook het hy hom die skouerkleed aangetrek en hom gegord met die band van die skouerkleed en daarmee hom die skouerkleed omgebind. {8:8} Verder het hy hom die borstas aangeheg en in die borstas die Urim en die Tummim gesit. {8:9} En hy het die tulband op sy hoof gesit en aan die tulband, aan die voorkant, die goue plaat, die heilige kroon, bevestig, soos die HERE Moses beveel het. {8:10} Toe het Moses die salfolie geneem en die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig. {8:11} En hy het daarvan sewe maal op die altaar gesprinkel en die altaar gesalf en al sy gereedskap, met die waskom en sy voetstuk, om dit te heilig. {8:12} Daarna het hy van die salfolie op die hoof van Aäron gegiet en hom gesalf om hom te heilig. {8:13} Ook het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hulle die rokke aangetrek en hulle gegord met 'n gordel en hulle die musse omgebind soos die HERE Moses beveel het.”. 

Soos ons verder tot aan die einde van hierdie week se parasha lees, sien ons dat Moses God se bevele tot in die fynste besonderheid uitgevoer het. Ek bring dit juis onder julle aandag omdat ons dikwels, vanweë ons tipe aanbiddingsdiens daarvan beskuldig word dat ons wetties is. Ek wonder dus, was Moses inderdaad wetties of kon hy nie maar ‘n paar kortpaaie geneem en die hele proses veel korter en eenvoudiger gemaak het nie? Die antwoord is natuurlik beslis NEE! 

Om dinge volgens reëls uit te voer en in ooreenstemming met God se opdrag, is van kardinale belang. Dit is nie wetties nie – dit is om gehoorsaam te wees. Indien God ons beveel om iets op ‘n bepaalde wyse uit te voer en ons doen dit gerieflikheidsonthalwe op ‘n ander wyse, is dit afgodery. Ja, dit is sonder twyfel afgodery! Ons sou onsself voordoen om God te wees, terwyl ons redeneer dat óns beter weet en oor ‘n verbeterde en vinniger wyse beskik om dinge uit te voer. 

1 Korinthiërs / Koritim Alef {14:40} “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”. 

Ek glo dat wat Paulus (Shaul) hier vir ons vertel, is dat daar God se wyse en daar ‘n menslike wyse is, maar dat ons dinge op God se wyse móét uitvoer. 

Myns insiens raak baie gelowiges te gesteld op wat hulle as wetties beskou. Laat my toe om dit vir julle te definieer. Wettigheid is enigiets wat ons doen wat menslik bedink word, wat dan toegevoeg word tot wat werklik deur God vereis word. Ook om ‘n legalis te wees, is om te probeer om God se gebooie af te dwing op ‘n “nuwe” gelowige, wat nog nie vir Jesus as sy / haar Messias aangeneem het nie. Dit is presies die punt wat Paulus in die boek van Romeine maak, toe hy gesê het: 

Romeine / Romim {14:1} “1 En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. {14:2} Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. {14:3} Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.”. 

Hierdie Skrifgedeelte verwerp geensins die Tora nie, soos sommiges sou wou leer nie, maar alles wat betrekking daarop het om die gebooie af te dwing op diegene wat nog swak (nuwe gelowiges) is of aan ‘n Messiaanse Joodse gemeente behoort, maar hulself nog nie daartoe verbind het of Jesus as hul Messias aanvaar het nie. 

Om dinge op die regte wyse – God se wyse – te doen, is nie legalisties / wetties nie: Dit is die wyse waarop Hý verwag dat dinge gedoen moet word. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Vrydag 08 Maart 2013

Gevangenskap is van die menslike verbeelding

D’Var Torah 
En hy het geroep – Vayikra

Jesaja / Yeshayahu 43:21 – 44:23

“Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:2} As iemand sondig en ontrou handel teen die HERE deurdat hy teenoor sy naaste ontken dat iets aan hom toevertrou of as pand gegee is of deur hom geroof is, of dat hy sy naaste iets afgepers het, {6:3} of dat hy iets gekry het wat weg was, en dit ontken; of dat hy vals sweer ten opsigte van enigiets wat 'n mens kan doen om hom daarmee te besondig {6:4} as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het; {6:5} of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet daar ten volle vergoeding voor gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg; aan hom aan wie dit behoort, moet hy dit gee op die dag as hy boete doen. {6:6} En hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as boete aan die HERE 'n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring. {6:7} Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word enigiets wat 'n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.”. 

Ek vertrou dat soos jy hierdie week se parasha asook verlede week s’n lees, jy gemerk het dat die Torah nooit gevangenskap as ‘n vorm van straf gebruik het nie. Gevangenskap as sulks is van die menslike verbeelding en nie van God nie. Indien ‘n dief – iemand wat iets deur onderdrukking bekom het of iets wat aan hom toevertrou was, misbruik het, iemand wat iets teruggehou het van wat ‘n persoon verloor het of iemand wat oor enige van die voorafgaande sake valslik gesweer het – skuldig bevind is, is hy nie gevange geneem, soos wat vandag in sommige van hierdie misdrywe gebeur nie. In plaas daarvan, leer die Tora dat die benadeelde persoon vergoed moet word. Nie slegs moes die item wat geneem of weerhou is, teruggegee word nie, maar wel 20 % daarop toegevoeg word. Indien iemand dus ‘n lam gesteel het, sou hy lam vir lam moes terugbetaal, plus ‘n bykomende geldelike bedrag van 20 % van die waarde van ‘n lam. Dit was egter nie al nie! ‘n Dief moes, soos ons hierbo gelees het, ‘n ram na die priester bring as sondoffer. Hieruit kan afgelei word dat diefstal ‘n aansienlike duur les vir die skuldige party geword het. 

Wat sou die geval gewees het waar die dief, onderdrukker of persoon wat ‘n deposito teruggehou het, nie in staat was om die boete te betaal nie? Die Tora leer ons dat hulle en indien nodig selfs hulle onmiddelike gesinslede as slawe verkoop sou word, waar hulle die boete sou moes afwerk tot-en-met die shmitah-jaar (die sewende jaar van kwytskelding). Volgens my mening sou dit ‘n voldoende afskrikwyse wees, maar bowenal is die Tora-stelsel één wat beskerm en rehabilitasie aanmoedig. 

Ek glo dat daar voldoende bewys is dat ons moderne stelsel van gevangenskap ontoereikend, onprakties en teenproduktief is. Dit laat nie slegs die slagoffer sonder vergoeding nie, maar die samelewing moet die oortreder huisves en voed teen ‘n gemiddelde koste van $ 25 000,00 per jaar. Indien die regte van kriminele vandag in oënskou geneem word asook geriewe soos gratis gesondheid- en tandheelkundige sorg tot hulle beskikking terwyl hulle gevangenes is, wie word meer gestraf – die krimineel of die slagoffer en samelewing? Erger nog, die krimineel word aangehou saam met honderde ander misdadigers waar die meerderhied van mekaar leer, vriendskappe ontstaan en verbintenisse met mekaar aangaan en hulle die gevangenis verlaat, erger as toe hulle gearresteer is. 

Indien dit nie vir gevangenisbedienings was nie, soos dié wat ons hier by Melech Yisrael het nie, sou die terugval in misdaad van veel groter omvang gewees het as wat dit alreeds is. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 03 Maart 2013

Die nuwe Jerusalem en die twaalf poorte

D’Var Torah 
Vayakhel - Pekude


Eksodus / Shemot {39:2} “En hy het die skouerkleed gemaak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. {39:3} En hulle het van die goud dun plate geslaan, en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en in die fyn linne—’n kunstige werk. {39:4} Hulle het daar skouerstukke aan gemaak wat aan mekaar vas was; aan die twee bo-ente was dit saamgevoeg. {39:5} En die band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, soos die HERE Moses beveel het. {39:6} Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in kassies van goud, gegraveer soos op ‘n seëlsteen ingesny word, volgens die name van die kinders van Israel. {39:7} En hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene aan die kinders van Israel, soos die HERE Moses beveel het. ”. 

Toe ek hierdie verse gelees het, het iets besonder interessant my opgeval. Die hoëpriester (cohen haGadol) het twee oniks-stene, gemonteer in goud op sy skouers gedra, waarop die name van die kinders van Israel (die twaalf stamme) gegraveer was, as gedenkstukke voor God. 

Hierdie skouerstukke hou, na my mening verband met die juk wat Jesus vir ons gedra het. Toe Hy na die kruis gegaan het, het ons as’t ware jukke met Hom geruil. Jesus het óns swaar juk van sonde op Hom geneem en in ruil Sy juk, wat lig is aan ons gegee. 

Jesaja / Yeshayahu {53:4} “Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.”. 

Matthéüs / Mattityahu {11:28} “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. {11:29} Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; {11:30} want my juk is sag en my las is lig. ”. 

Nou kom dit daarop neer dat Jesus, as ons Hoëpriester, ons name op Sy skouers dra as gedenkstukke voor God. 

Daarom het dit my egter bygeval: die hoëpriester na wie daar in ons parasha verwys word, wat die name van die kinders van Israel gedra het, het nie elke individuele naam gedra nie, maar slegs die twaalf stamme, waaraan elke individu behoort het. Wat het dan gebeur met die gemengde skare wat saam met die kinders van Israel uit Egipte getrek het? Indien hulle verkies het om soos die kinders van Israel te lewe en met hulle te vereenselwig deur aan ‘n stam te behoort, sou hulle as’t ware ook op die skouers van die hoëpriester gedra word en dus deel van die gedenkstukke voor God wees. 

Toe het ek aan hierdie Skrifgedeelte gedink: 

Esegiël / Yehezqel {47:22} “En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ‘n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ‘n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel. {47:23} En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE. ”. 

Met die eerste oogopslag, het dit my vraag aangaande die vreemdelinge wat verkies het om onder die kinders van Israel te woon, beantwoord en het ek tot die gevolgtrekking gekom dat diegene wat verkies het om nie by ‘n stam aan te sluit nie, swerwers (reisigers sonder bande met Israel) sou wees. Ek was aanvanklik tevrede met hierdie antwoord totdat ek verder navorsing gedoen het en die volgende verse gelees het.

Openbaring / Hitgalut {21:10} “En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; {21:11} en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. {21:12} En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel.” . 

Soos ons bewus is, verwys Johannes hier na die eindtyd, Wanneer Jerusalem uit die hemel sal neerdaal. Hierdie visioen is eenvouding genoeg om te begryp, totdat ‘n mens lees van die aantal en name van die stadspoorte. Daar sal slegs 12 poorte wees, waarvan elk één die twaalf stamme van Israel sal verteenwoordig. Ook dit was heel verstaanbaar, totdat ek nog verder gelees het: 

Openbaring / Hitgalut {21:26} “en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. {21:27} En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam. ”. 

Daar sal slegs twaalf poorte wees wat die twaalf stamme verteenwoordig en elke stam sal die stad deur sy aangewese stampoort binnegaan. Diegene van die betrokke nasies waarvan ons in Esegiël 47:22 – 23 gelees het, sal die nuwe Jerusalem binnegaan deur die poort van die stam by wie hulle verkies het om te woon. Wat sal dan gebeur met die swerwers, oftewel dié van die nasies (die gemende skare), wat hulself nie met Israel of een van die stamme vereenselwig het nie? Volgens die bovermelde Skrifgedeelte sal hulle nie gered word nie en toegang tot die heilige stad geweier word. 

Wat is dus my gevolgtrekking? Daar is hoegenaamd geen swerwers waar redding betrokke is nie. Jy is óf deel van Israel en met een van die stamme vereenselwig óf jy is in die buitenste duisternis, waar daar geween en gekners van tande sal wees!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou