22 April 2012
Sy Dra ‘n Besmette Saad / Tozria-Metzora
Levitikus (12:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees.”.
Baie mense het al gewonder waarom ‘n vrou onrein geag word nadat sy geboorte geskenk het. Eerstens moet ons onthou dat onrein nie onheilig beteken nie. Dit beteken slegs dat die moeder nie die tempel mag binnegaan of deelneem aan enige rituele wat daarin plaasvind nie. Daar bestaan verskeie redes daarvoor, maar ek glo dat één in besonder meer betekenisvol as die ander is.
Met die geboorte van ‘n baba, is daar bloed betrokke. Bloedstorting het nog altyd ‘n vrou onrein gemaak, soos ons in die wette van nida (menstruasie) leer. (Deuteronomium 15:19 – 30). In die geval van normale maandelikse menstruasie is ‘n vrou egter onrein vir slegs sewe dae, terwyl by kindergeboorte – in hierdie geval ‘n manlike kind – bly sy vir drie-en-dertig dae onrein. Dit bring ons by die tweede punt, wat, ek glo, die mees betekeinsvolle een is.
Romeine / Romim {5:12} “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het ”.
Paulus verstrek hier aan ons die dogma van oorspronklike sonde. Adam en Eva (Chava) het gesondig en op daardie oomblik het sonde as sulks in die wêreld ontstaan. Die mens is van toe af vervloek met ‘n sondige natuur: ‘n natuur wat aan alle toekomstige geslagte oorgedra sou word. Sonde het natuurlik ook die dood in die wêreld gebring. Deur die dood en opstanding van Jesus die Messias, het Hy die sonde en dood oorwin en dit aan die kruis vasgenael. Dit het egter nie die sondige natuur van die mens verander nie! Volgens die Psalmis, Dawid:
Psalms / Tehillim {51:5} ” Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. ”.
Juis hierin lê die rede waarom ‘n vrou, na die geboorte van ‘n seun, vir drie-en-dertig dae onrein is. Dit is op grond van die feit dat elke keer wat ‘n vrou geboorte skenk, sy nóg ‘n sondaar in die wêreld bring.
S.H. Kellog lewer soos volg kommentaar hieroor: “In the birth of a child, the special original curse against the woman is regarded by the Torah as reaching its fullest, most consummate and significant expression. For the extreme evil of the state of sin into which the first woman, by that first sin, brought all womanhood, is seen most of all in this, that now woman, by means of those powers given her for good and blessing, can bring into the world only a child of sin.”
Levitikus / Vayikra {12:5} “Maar as sy ‘n dogter baar, sal sy twee weke onrein wees soos by haar maandelikse onreinheid. Dan moet sy ses en sestig dae in die reinigingsbloed bly. ”.
Waarom, volgens die bovermelde Skrifgedeelte, is ‘n vrou, na die geboorte van ‘n vroulike kind, dan vir ses-en-sestig dae onrein? God is tog nie ‘n chauvinis nie! Mag die Here dit verhoed! Met die geboorte van ‘n vroulike kind, is ‘n vrou vir ses-en-sestig dae onrein omdat sy nie slegs ‘n sondaar in die wêreld gebring het nie, maar wel ‘n kind wat uiteindelik self ander sondaars in die wêreld sal bring. Dit bring ons verder by ‘n interessante punt, waarop ons in parasha Metzora, moet let:
Levitikus / Vayikra {14:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word, {14:3} en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,…”.
Melaatses was uitgeworpenes en nie net as onrein beskou nie, maar melaatsheid as sulks, as verteenwoordigend van sonde. Die eerste vergelyking, sien ons, is gegrond op die feit dat die melaatse nie die laer kon binnegaan nie. Netso kan ons met die sonde belas ook nie die koninkryk van die hemel (God se laer) ingaan nie; ons sou onrein, melaats beskou en uit die koninkryk van die hemel uitgesluit word.
In die tweede vergelyking, sien ons dat die priester (cohen) uit die laer moes uitgaan om die melaatse rein te verklaar. Insgelyks moes Jesus die Messias, ons Hoëpriester (Cohen Hagadol), die hemel verlaat en na die aarde neerdaal om ons, bedek deur die plaag van sonde, rein te verklaar.
Waarom laat jy Jesus nie toe in jou lewe nie, sodat Hy jou ook rein kan verklaar nie? Vra Hom eenvoudig om dit te doen en Hy sal!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou