Sondag 22 April 2012

Uitgesluit Uit Die Koninkryk van die Hemel

22 April 2012 
Sy Dra ‘n Besmette Saad / Tozria-Metzora 


Levitikus (12:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees.”. 

Baie mense het al gewonder waarom ‘n vrou onrein geag word nadat sy geboorte geskenk het. Eerstens moet ons onthou dat onrein nie onheilig beteken nie. Dit beteken slegs dat die moeder nie die tempel mag binnegaan of deelneem aan enige rituele wat daarin plaasvind nie. Daar bestaan verskeie redes daarvoor, maar ek glo dat één in besonder meer betekenisvol as die ander is. 

Met die geboorte van ‘n baba, is daar bloed betrokke. Bloedstorting het nog altyd ‘n vrou onrein gemaak, soos ons in die wette van nida (menstruasie) leer. (Deuteronomium 15:19 – 30). In die geval van normale maandelikse menstruasie is ‘n vrou egter onrein vir slegs sewe dae, terwyl by kindergeboorte – in hierdie geval ‘n manlike kind – bly sy vir drie-en-dertig dae onrein. Dit bring ons by die tweede punt, wat, ek glo, die mees betekeinsvolle een is. 

Romeine / Romim {5:12} “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het ”. 

Paulus verstrek hier aan ons die dogma van oorspronklike sonde. Adam en Eva (Chava) het gesondig en op daardie oomblik het sonde as sulks in die wêreld ontstaan. Die mens is van toe af vervloek met ‘n sondige natuur: ‘n natuur wat aan alle toekomstige geslagte oorgedra sou word. Sonde het natuurlik ook die dood in die wêreld gebring. Deur die dood en opstanding van Jesus die Messias, het Hy die sonde en dood oorwin en dit aan die kruis vasgenael. Dit het egter nie die sondige natuur van die mens verander nie! Volgens die Psalmis, Dawid: 

Psalms / Tehillim {51:5} ” Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. ”. 

Juis hierin lê die rede waarom ‘n vrou, na die geboorte van ‘n seun, vir drie-en-dertig dae onrein is. Dit is op grond van die feit dat elke keer wat ‘n vrou geboorte skenk, sy nóg ‘n sondaar in die wêreld bring. 

S.H. Kellog lewer soos volg kommentaar hieroor: “In the birth of a child, the special original curse against the woman is regarded by the Torah as reaching its fullest, most consummate and significant expression. For the extreme evil of the state of sin into which the first woman, by that first sin, brought all womanhood, is seen most of all in this, that now woman, by means of those powers given her for good and blessing, can bring into the world only a child of sin.” 

Levitikus / Vayikra {12:5} “Maar as sy ‘n dogter baar, sal sy twee weke onrein wees soos by haar maandelikse onreinheid. Dan moet sy ses en sestig dae in die reinigingsbloed bly. ”. 

Waarom, volgens die bovermelde Skrifgedeelte, is ‘n vrou, na die geboorte van ‘n vroulike kind, dan vir ses-en-sestig dae onrein? God is tog nie ‘n chauvinis nie! Mag die Here dit verhoed! Met die geboorte van ‘n vroulike kind, is ‘n vrou vir ses-en-sestig dae onrein omdat sy nie slegs ‘n sondaar in die wêreld gebring het nie, maar wel ‘n kind wat uiteindelik self ander sondaars in die wêreld sal bring. Dit bring ons verder by ‘n interessante punt, waarop ons in parasha Metzora, moet let: 

Levitikus / Vayikra {14:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word, {14:3} en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,…”. 

Melaatses was uitgeworpenes en nie net as onrein beskou nie, maar melaatsheid as sulks, as verteenwoordigend van sonde. Die eerste vergelyking, sien ons, is gegrond op die feit dat die melaatse nie die laer kon binnegaan nie. Netso kan ons met die sonde belas ook nie die koninkryk van die hemel (God se laer) ingaan nie; ons sou onrein, melaats beskou en uit die koninkryk van die hemel uitgesluit word. 

In die tweede vergelyking, sien ons dat die priester (cohen) uit die laer moes uitgaan om die melaatse rein te verklaar. Insgelyks moes Jesus die Messias, ons Hoëpriester (Cohen Hagadol), die hemel verlaat en na die aarde neerdaal om ons, bedek deur die plaag van sonde, rein te verklaar. 

Waarom laat jy Jesus nie toe in jou lewe nie, sodat Hy jou ook rein kan verklaar nie? Vra Hom eenvoudig om dit te doen en Hy sal! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 14 April 2012

Dien Hom Met Opregtheid en Waarheid

15 April 2012
D’Var Torah 
Die Agtste / Shemini 


Levítikus / Vayakira 9:1 – 11:47
Esegiël / Yechezekiel 36:16 38 
Handelinge / Ma’asei Talmidim 10:9 – 22, 10:34 – 35


Levitikus/ Vayakira {9:23} “Daarop het Moses en Aäron in die tent van samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn {9:24} vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval. ”. 

Levitikus/ Vayakira {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2} Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. ”. 

Dit was vir my interessant dat beide hierdie Skrifgedeeltes verwys na vuur wat vanuit die hemel gekom het. Ofskoon albei vure van die aangesig van God afgekom het, het dit met ‘n heel verskillende doel gebeur. In beide gevalle was dit ‘n verterende vuur – die één het egter die korban (naderkomsoffer) op die altaar verteer en lewe meegebring terwyl die ander vuur die seuns van Aäron verteer en dus die dood meegebring het. 

Die Hebreeuse woord vir vuur is “Aish” en daarvan word die woorde “Ish” (as ēēsh uitgespreek) en vir vrou “Isha” (as ēēsha uitgespreek) afgelei. Die feit dat die woorde vir man en vrou van die woord vir vuur afgelei is, dui vir ons aan dat die vuur van God binne-in ons moet wees. 

Die rabbi’s glo dat elke mens met die vonk van God in hulle geskep is. Hierdie vonk of essensie van God moet aangesteek / ontbrand word, vir ons om waarlik te lewe. Ek is van mening dat dit juis dít was wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het: 

Romeine / Romim {12:1} “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. ”. 

Die korban moes altyd op die altaar geplaas word, waar dit deur die vuur van God verteer sou word. Dit was dan juis dáár waar sondevergifnis plaasgevind het. Vandag egter, moet ons by die kruis bly, waar die vuur van God die sonde in ons binneste sal verteer – ten einde daagliks aan onsself te sterf en daagliks tot eer van die Messias, Jesus, te lewe. By baie mense bestaan daar ‘n wanvertolking van die woorde van Johannes die Doper toe hy gesê het: 

Lukas / Uri {3:16} “antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. ”. 

Christene van die Pinkster-denominansies vertolk hierdie Skrifgedeelte asof God hulle gaan vul, nie slegs met die Heilige Gees nie maar ook met die vuur (=krag) van die Heilige Gees. Ofskoon dit blykbaar aansluit by hulle “brandende”– teologiese oortuigings, is dit hoegenaamd nie wat met hierdie vers bedoel word nie. Die werklike betekenis hiervan gaan terug na die Tora, besonderlik die verse hierbo aangehaal. Die vuur van God daal neer van die hemel om een van twee dinge te doen en dit is óns keuse wat dit vir ons sal doen. Indien ons onsself as lewende korbanot (offers) wy, dan sal ons aan onsself sterwe en vir Jesus die Messias lewe. Indien ons verkies om ons eie gang te gaan en nie die gebooie van God te gehoorsaam nie, sal die vuur uit die hemel in oordeel neerdaal en ons lewens verteer. 

Josua / Yehoshua {24:14} “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. {24:15} Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 08 April 2012

Paasfees (Pesach) en die Heilige Tempel

8 April 2012 
D’Var Torah 

Paasfees (Pasga) – (Pesach) – Die Agste Dag 


Deuteronomium / Devarim {16:5} “Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat die HERE jou God aan jou gee nie. {16:6} Maar op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit Egipte. {16:7} Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat die HERE jou God sal uitkies; daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan. ”. 

Ons vier gewoonlik nie die agste dag van Paasfees nie, maar vanjaar is egter ‘n uitsondering. Die agste dag val op ‘n Sabbat en daarom het die Joodse gemeenskap ‘n spesiale Parasha-lesing vir dié dag. Die Messiaanse Joodse lesing vir hierdie week is parasha-lesing Shemini, maar indien ons egter by die Messiaanse Joodse kalender hou, sou dit later nie langer met dié van die breër Joodse gemeenskappe oor die wêreld heen saamval nie – iets wat ons beslis wil verhoed. 

Volgens die bovermelde Skrifgedeelte, bevat vandeesweek se parasha die opdrag met betrekking tot die offer van die paaslam. Oënskynlik kon die lam, in tempeltye, alleenlik by die tempel geslag word, met die gevolg dat dit slegs in Jerusalem geëet is. Dit is heelwaarskynlik die rede waarom Paasfees een van die Shalosh Regalim (Drie Pelgrimfeeste) was. 

Lukas / Uri {2:41} “En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.”. 

Dit was klaarblyklik die eerste maal ooit wat Jesus tydens paasfees van die lam geëet het. Hy sou dit nie tuis kon geëet het nie omdat die paaslam uitsluitlik by die tempel in Jerusalem geslag moes word. Om hierdie rede eet Joodse mense, wat die Wet streng nakom, tot vandag toe nie lamsvleis tydens Pasga nie – daar bestaan nie meer ‘n tempel waar dit geslag moet word nie. Selfs indien daar tog vandag nog ‘n tempel bestaan het, sou hulle met paasfees na Jerusalem toe moes gaan om dit dáár te eet, omdat dit die enigste plek was waar die paaslam geslag kon word. Om hierdie rede het Jesus gesê: 

Lukas / Uri {13:32} “En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar. {13:33} Maar Ek moet vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat ‘n profeet buitekant Jerusalem omkom nie. ”. 

Jesus, óns Paaslam, soos die gebruiklike paaslam, kon nêrens anders as in Jerusalem geoffer word nie. Hier volg ‘n verdere voorskrif met betrekking tot die paaslam: 

Eksodus / Shemot {12:48} “En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. ”. 

Hierdie vers het alreeds tot veel verwarring onder onbesnede nie-Joodse gelowiges gelei, wanneer dit by die viering van die Paasmaal (Pesach Seder) kom. Hulle afleiding uit hierdie Skrifgedeelte is dat indien hulle nie besny is nie, hulle nie aan hierdie viering kan deelneem nie. Dit is egter nie wat hierdie gedeelte bedoel nie – verwys gerus na ons Skrifgedeelte aan die begin van hierdie kommentaar: 

Deuteronomium {16:5} “Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat die HERE jou God aan jou gee nie. ”. 

Die Pesach is die lam en daarom kan ‘n onbesnede persoon nie aan die lam deel hê nie. Dit was omrede ‘n onbesnede man nie die tempel kon betree nie. Sedert die tempel egter vernietig is, was daar geen paaslam meer nie – gevolglik is hierdie Tora-opdrag vandag nie meer van toepassing nie. 

Verder was die lam wat in tempeltye vir die Pesach Seder geslag is, ‘n simbool of sinnebeeld van Jesus die Messias. Vandag is Jesus óns Paaslam en hy is 2000 jaar gelede vir altyd aan God geoffer. Om dus op Paasfees van ‘n lam – wat Jesus verteenwoordig – te eet, is volgens my mening, ontheiligend. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 01 April 2012

Die Menigte van Gemengde Bloed / Erev Rav

1 April 2012 
D’Var Torah 
Paasfees / Pesach 


Eksodus / Shemot {12:37} “En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent ses honderd duisend te voet, die manne buiten die kinders. {12:38} En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste—’n groot hoeveelheid vee. {12:39} En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie. {12:40} En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar. {12:41} En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek. {12:42} Dit is ‘n nag om plegtig onderhou te word tot eer van die HERE, omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van die HERE om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte. ”. 

Die Skrifgedeelte waaroor vandeesweek se parasha handel, is uit die bovermelde gedeelte geneem: 

Eksodus / Shemot {12:38} “En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste—’n groot hoeveelheid vee. ”. 

Wie was hierdie menigte mense van gemengde bloed? Daar bestaan ‘n aantal moontlikhede. Sommige glo dat hulle die kinders uit ondertrouery tussen Egiptiese mans en Israelitiese vroue, of andersom , was. Ander beweer dat hulle kinders uit gemengde huwelike was. Verder word gemeen dat hulle moontlik slawe uit ander nasies, as Israel, was wat deur die Egiptenare verslaan is. ‘n Verdere moontlikheid was dat hulle inderdaad Egiptenare was wat, nadat hulle getuie was van die onsinnigheid van hulle gode, toe laasgenoemnde deur die God van Israel gekonfronteer is, verkies het om Egipte saam met die kinders van Israel te verlaat. 

Ongeag wat die herkoms van hierdie gemengde bloed, soos hulle genoem is, dan ookal was, het hulle aansienlike moeilikheid in die geledere van Israel veroorsaak. Hulle was eenvoudig ongemotiveerd en nie aan God toegewy nie maar eerder moelikheidmakers en het dikwels getwyfel of hulle die regte besluit geneem het om Egipte te verlaat. Juis om daardie rede het hulle gekla en opstandig geraak wanneer hulle voor die geringste ontbering te staan gekom het. Hulle was ook mense wat waarskynlik gesinslede in Egipte agtergelaat en gevolglik steeds bande met die verlede verbind het. Gevolglik was hierdie mense eintlik nooit werklik met die kinders van Israel verenig nie. 

Ongelukkig het ons vandag sulke mense in ons Messiaanse gemeentes. Ek verwys geensins na nie-Jode nie, maar wel lidmate bestaande uit sowel Jode as nie-Jode. Hulle woon graag dienste en feesgeleenthede by, maar nooit Bybelstudie of gebedsbyeenkomste nie. Hulle verkeer gesellig saam met gelowiges maar eweso met ongelowiges. Net soos hulle teenhangers – die menigte van gemengde bloed – uit Egipte, het hulle hul ook nie juis verbind nie. Hulle volstaan hulle vorige lewenswyse en word dus voortdurend na Egipte “teruggetrek” – die sogenaamde goeie lewe wat hulle geniet het. 

My moeder woon in ‘n aftree-oord en spot altyd teenoor my oor haar gesprekke met dames wat by haar kom eet. Hulle verwys na “wat hulle gewoond was” om te doen of waar hulle gewoon het ensomeer. Alles aangaande hulle lewens is “waaraan hulle gewoond was”, maar die realiteit is egter dat dít wat gewoonlik was, nie meer bestaan nie, dit is die hier en nou sowel as die toekoms wat tel. 

Net sowel as wat ‘n mens nie, met een voet in die verlede, kan verwag om vir die toekoms te lewe nie, kan jy nie ‘n gelowige in Jesus die Messias wees met een voet in die wêreld en die ander in die Here nie. 

Matthéüs / Mattityahu {6:24} “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!”. 

Ek is oortuig daarvan dat God nie met die menigte bloed genoë geneem het nie en ek is seker dat Hy ook nie genoë neem met die hedendaagse menigte van gemengde bloed in Sy gemeentes nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou