Saterdag 31 Julie 2010

Die Uiteindelike Resultaat

31 Julie 2010 / Av 20 5770

As Gevolg Van / Ekev (Congregation Melech Yisrael)

Deuteronomium / Devarim 7:12 – 11:25

Jesaja / Yeshayahu 49:14 – 51:3

Romeine / Romim 8:31 – 39

Deuteronomium / Devarim {8:1} “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. {8:2} En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. {8:11} Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen— ”

Julle het seker gemerk dat ek enkele verse in die bovermelde Skrifaanhaling uit hierdie week se parasha oorgeslaan het. Die rede daarvoor was dat ek dié verse wat pertinent op ons bespreking betrekking het, wou aanhaal.

Ek wil graag hê dat ons eerstens daarop moet let dat God ons gehoorsaamheid aan Hom vereis en al Sy gebooie onderhou. Hy het belowe dat indien ons dit nakom, ons nie net sal lewe nie, maar ook voorspoedig wees, vermeerder en die land van ons vyande besit. God wil egter hê dat ons moet onthou dat ofskoon ons Sy gebooie gehoorsaam, Hy dit tog mag nodig vind om ons van tyd tot tyd te verootmoedig om te toets of ons toewyding aan Hom eg is. Soos Hy hierbo gespreek het, het Hy die kinders van Israel verootmoedig, deur hulle ondermeer te laat honger ly en hulle dan van die skamelste voedsel (manna) te voorsien, wat onder normale omstandighede, skynbaar ‘n persoon fisies nie juis versadig het of voedsaam was nie. Wonder bo wonder het hierdie voedsel hulle egter tydelik wel versadig. In ons Skrifgedeelte hierbo, het God verduidelik dat Hy dit gedoen het om te bewys dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (vers 2).

My eggenote en ek is baie gesondheidsbewus, daarom probeer ons ons bes om gesond en voedsaam te eet. Beide van ons besef egter dat, ongeag hóé goed ons eet en ten spyte van ons gesondheidsbewustheid, ons, sonder om aan God en Sy gebooie gehoorsaam te wees, nie in staat sal wees om goeie gesondheid te handhaaf nie. Ons gesondheid en welsyn word nie alleenlik deur brood bepaal nie, maar wel deur elke Woord wat uit die mond van God uitgaan.

Ons word elke dag aangeraai om gebalanseerde gesonde maaltye te nuttig. Skole verskaf nie langer Coca Cola en ander potensieel ongesonde koeldrank en voedsel by hul kafeterias nie, maar hierdie selfde skole het God reeds uit hul klaskamers weggelaat – God word verhinder om ons skole binne te gaan (ten minste die God van Abraham, Isak en Jakob). Wat is dan ons gevolgtrekking? Wel, soos God gesê het dat: “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan”. Ons kan dus aflei dat ongeag die mens se pogings om gesonde eetgewoontes by ons skoolkinders in te prent dit nie ‘n geslag van gesonde volwassenes sal verseker nie, altans nie op die lange duur nie.

Tweedens wil ek graag hê ons moet besef dat God teëspoed in ons lewens toelaat om ons te verootmoedig. Ek het agtergekom, selfs ook in my geval, dat indien voorspoed ongehinderd toegelaat word, ons geneig is om selfsugtig, selfverheerlikend en snobisties te raak. Dit kan ontwikkel tot by ‘n punt waarop ons op ander neersien en slegs diegene uitsoek wat ons posisies of loopbane kan bevorder.

Teëspoed in ‘n mens se lewe daarenteen, genees beslis hierdie houding. Wanneer ‘n mens moeilikhede ondervind, besef jy dat jy hoegenaamd nie onoorwinlik of onveilbaar is nie, maar wel dat jy slegs soos elke ander mens in hierdie bose en perverse wêreld is. Jy is kwesbaar en blootgestel aan siekte, besmettings en probleme. Met hierdie wete en deur die ervaring van enige van hierdie boodskappers van God, word nederigheid in ons teweeg gebring.

In die laaste instansie wil ek graag hê ons moet besef dat alles wat God oor ons toelaat, geskied volgens die laaste Skrifgedeelte, wat ek hierbo aangehaal het, naamlik “...jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen - ...”. Die satan verlei ons sodat hy ons uiteindelik kan kwaad aandoen. Hy wil hê ons moet misluk, knoei en van Gog af wegdwaal, maar God beproef ons sodat ons nie opgeblase, selfverheerlikend en snobisties sal wees nie. God toets ons teneinde later aan ons goed te doen. Telkens wanneer ons so ‘n toets slaag en ons God se wil bo ons eie stel, kom ons nader aan God, wat uiteindelik daartoe sal lei dat Hy ons seën.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 24 Julie 2010

Wat van julle?

24 Julie 2010 / Av 13 5770

En ek het gesmeek / VaEtchanan (Congregation Melech Yisrael)


Deuteronomium / Devarim {5:17} “Jy mag nie doodslaan nie.”
Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. {5:18} Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19} Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. {5:20} Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. {5:21} Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. {5:22} Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”

Het julle gemerk hoedat dinge aansienlik verander het met die koms van Jesus? In plaas daarvan dat die Tora ter syde gestel is, het dit inteendeel selfs strenger geword! Waarom? Omdat ons, deur die aanvaarding van Jesus as ons Messias, nuwe skepsels geword het en die vervulling van Jeremia 31:31-34 in ons plaasgevind het. Die Tora van God is deur Jesus in ons binneste gevestig en as gevolg daarvan herdefineer Jesus dit vir ons.

In die bovermelde Skrifgedeeltes het ons sopas gelees hoedat Jesus verduidelik dat moord eenvoudig die voortgaande verloop van woede is. Die eerste stadium van moord, sê Jesus, word in 'n mens se hart gepleeg: Dit is naamlik woede, woede wat teen enigiemand gekoester word. Dit is waar die sonde van moord allereers begin. Die tweede stadium van moord, volgens Jesus, is wanneer ons vir iemand “Raka” sê. Die woord “Raka” beteken om iemand vir 'n niksnut of 'n skobbejak uit te skel. So word die tweede stadium van moord bereik wanneer ons woede tot veragting oorgaan. Jesus leer ons dat die derde stadium van moord plaasvind wanneer ons iemand 'n dwaas noem. Hierdeur skend ons nie net iemand se karakter nie, maar maak ons 'n bewering aangaande sy geloofsoortuiging en houding teenoor God. Indien julle graag wil weet waarom dit so 'n ernstige belediging is om iemand 'n dwaas te noem, gaan lees gerus wat staan daar oor 'n dwaas geskryf in die boek Spreuke (Mishlei). Die vierde stadium van moord is wanneer ons werklik 'n persoon se lewe neem.

God het beveel dat die fisiese straf vir die vierde stadium van moord, die fisiese dood van die moordenaar moet wees. Terwyl 'n mens wag tot die fisiese stadium om straf toe te dien, het God – op geestelike gebied – reeds vanaf die eerste stadium, die toestand van woede, Sy straf begin toepas. Hy wag nie vir die werklike manifestasie van moord nie, want wat God betref, bestaan daar geen erger straf as die straf vir moord, wat alreeds in ons harte ontvlam het nie.

Begryp julle nou dat God woede en fisiese moord as slegs verskillende grade van dieselfde sonde beskou? Aldrie die stadia van woede, wat ek nou net verduidelik het, word deur God geag as moord. Dit beteken dat ons almal inderdaad aan moord skuldig is, wanneer ons ons skuldig maak aan sonde in ons harte, wat nie bely word of waaroor ons geen berou het nie!

Het julle al ooit vir iemand, wat 'n fout begaan het, kwaad geword? Dan het julle moord gepleeg! Mans: Was julle al ooit vir julle vrouens kwaad gewees as julle tuisgekom het en jul ete nog nie gereed was nie? Dan het julle oor 'n maaltyd van byvoorbeeld spaghetti en frikkedelle moord gepleeg! Wat van die kere wat julle vir 'n kelnerin of huurmotorbestuurder kwaad geword het? By hoeveel geleenthede het julle die integriteit van 'n geregsdienaar of doeanebeampte beledig? Het julle al beledigende kommentaar oor iemand se motorbestuursvermoë gelewer? Indien wel, het julle moord gepleeg! Wat van sommige van julle wat so vroom by die shul voorkom, maar julle tuis aan die uitbarsting van woedebuie oorgee? Julle het moord gepleeg! Wat van julle wat vir 'n week lank nie met julle vrouens gepraat het nie omdat hulle jul verjaar- of huweliksherdenkingsdag vergeet het? Julle is moordenaars! Wat van diegene van ons wat so vroom optree maar tuis julle kinders verskree in plaas daarvan om hulle volgens die Skrif te dissiplineer? Terloops, as julle hierdie laasgenoemde uitweg gevolg het, dan het julle 'n verwronge beeld van God aan hulle voorgehou, wat erger as moord is! Hoe dikwels het ons nie al 'n kelnerin, wat telank met ons bestelling gesloer het, vermoor nie, of die motorwerktuigkundige wat ons motor nie behoorlik herstel het nie, of 'n persoon wat geskakel het, of die dokter wat ongeërg voorgekom het, of die verpleegkundige wat nie dadelik gedoen het wat ons versoek het nie? Hoeveel van ons het nie al werkgewers of werknemers vermoor nie? Hoeveel van ons het nie al uit woede ons hele gesin vermoor wanneer ons na 'n veeleisende dag by die werk, moeg en moedeloos tuiskom nie? Hoeveel van ons het selfs al vir God vermoor? Dit alles is skokkende ontnugterende inligting, nie waar nie?

Verkies jy om kwaad deur die lewe te gaan? Ek glo nie so nie! Indien dit wel die geval is, wil ek graag vir jou 'n oplossing bied: Bid elke keer wat jy kwaad word en bid in die besonder vir die persoon vir wie jy kwaad is. Stort jou hart en siel daarin uit. In plaas daarvan om as 'n persoon wat gou kwaad word, beskou te word, staan dan eerder bekend as 'n biddende persoon.

Voordat ek afsluit, is daar tog nog iets wat ek graag wil sê: Selfs as ons almal aan die eerste drie stadia van moord skuldig is, het ons nogtans die geleentheid om vergifnis te ontvang. Ons hoef nie op die elektriese stoel te sterf of 'n dag in die gevangenis deur te bring of vir ewig in die verdoemenis (hel) te verkeer nie. Indien julle glo in Jesus die Messias jul Heer en Redder, hoef julle slegs jul sondes te bely, om vergifnis te smeek en die bloed wat aan die kruis vir julle gestort is, sal julle vrymaak. Indien julle egter nog nooit vir Jesus as jul Messias aangeneem het nie en julle aan moord skuldig is, dan het julle twee keuses: (1) Julle kan steeds ly onder die gevolge van wat julle gedoen het, wat, trouens reeds in jul lewens aan die gang is of (2) julle kan nou vir Jesus as jul Messias aanneem, Hom om vergifnis smeek en al julle sondes van die verlede sal deur Sy versoenende bloed afgewas word.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 17 Julie 2010

Hoe anders sou die lewe gewees het

17 Julie 2010 / Av 6 5770

Woorde / Devarim (Congregation Melech Yisrael)

Deuteronomium / Devarim 1:1 – 3:22
Jesaja / Yeshayahu 1:1 – 27
1 Timótheüs / Timoteos Aleph 3:1 – 7

Deuteronomium / Devarim {1:20} “Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. {1:21} Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. {1:22} Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom. {1:23} En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het.”

Hierdie insident verbaas my. Wat het dan met Moses se geloof gebeur? Het hy dan niks geleer uit die opdrag waar hy die rots moes aanspreek in plaas daarvan om daarteen te slaan nie? Duidelik was dit nie die geval nie! God het uitdruklik vir hom gesê dat die kinders van Israel die land sou verower en dit 'n land was wat van melk en heuning oorloop. Waarom sou Moses dan met 'n voorstel van die massas samgestem het dat hy verspieders moes stuur om te bevestig wat God alreeds vir hom gesê het? Dit was per slot van sake God se land, 'n goeie land en hulle sou dit in besit neem – klaar en gedaan!

Deuteronomium / Devarim {6:16} “Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.“

Moses self het die kinders van Israel gewaarsku om God nie op die proef te stel nie en hier het hy dit inderdaad dan self gedoen. Ons moet onthou toe Sagaria, Johannes die Doper se vader, God op die proef gestel het. Volgens die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), is daar aan Sagaria gesê dat hy 'n seun sou hê en hom Johannes moes noem. Sagaria het egter daarop vir die engel om 'n teken ter bevestiging daarvan gevra. Sagaria het dus nie aanvaar wat aan hom meegedeel is nie, ten spyte daarvan dat die boodskap van God afkomstig was. Hy het God ook op die proef gestel. Dit het God vertoorn en Hy het Sagaria laat stom word tot ná die geboorte van sy seun.

God het in Sy Woord baie dinge aan ons meegedeel. Veel daarvan kan regstreeks op ons lewens toegepas word, maar baie van ons twyfel aan Hom. Ons verlang bevestigings, tekens en wonderwerke in plaas daarvan om slegs te glo en vertrou in wat God gespreek het.

Die meeste kommentators plaas die skuld dat die kinders van Israel vervloek was om vir veertig jaar doelloos in die wildernis rond te swerf, op die tien verspieders. Moses het egter ook die volk die skuld gegee, soos ons in die volgende vers sien:

Deuteronomium / Devarim {1:26} “Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. {1:27} En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.”

Let op die woorde “julle was wederstrewig” en “julle...het gemurmureer”. Dit is baie moontlik, selfs waarskynlik, dat die volk nooit in opstand sou gekom of gemurmureer het indien Moses die kinders van Israel net eenvoudig na die Beloofde Land gelei, op God vertrou het, Hom op Sy Woord geneem en die volk in die land ingeneem het. In plaas daarvan, het Moses God beproef en gevolglik sowel homself as die volk aan sonde blootgestel. Dit kan dus inderdaad gesê word dat Moses onmiskenbaar fouteer het.

As 'n leier, neem ek persoonlik die les wat ek uit Parasha Devarim geleer het, baie ernstig op. Ek bestudeer Gods Woord en lees dit elke jaar van voor tot agter. Sodoende maak ek myself vertroud met alles wat God gespreek het asook alles wat Hy belowe het en dan – na die beste van my vermoë – volstaan ek met Sy Woord – selfs wanneer ek soms deur ander byna beweeg word om Hom op die proef te stel.

Daar bestaan geen waarborg dat die kinders van Israel Moses se woord sou aanvaar het om God te vertrou en hom dus in die land in sou gevolg het nie – 'n land wat reeds aan hulle belowe is maar wat hulle moes verower; hulle mag in elk geval selfs in opstand gekom het. Dit sal ons nou egter nooit weet nie, sal ons?

Hoe het ons almal tog nie ook rondgedwaal omdat ons God se Woord nie vertrou het nie? Hoeveel male het hierdie gebrek aan vertroue / geloof nie daartoe gelei dat ons God op die proef gestel het nie? Soms wonder ek hoe anders mý lewe sou verloop het indien ek geheel-en-al, te alle tye, God op Sy Woord geneem het, maar dan weer, ek sal nooit weet nie, sal ek?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 Julie 2010

Kan dit regtig as werk geklassifiseer word?

10 Julie 2010 / Tammuz 28 5770

Stamme – Reise / Matot-Masei (Congregation Melech Yisrael)


Numeri / BaMidbar 30:2 – 36:13

Filippense / Piliphim 1:12 – 16

Jakobus / Yaakov 4:1 – 12

Jeremia / Yirmiyahu 2:4 – 28; 3:4

Numeri / BaMidbar {31:21} “En die priester Eleásar het aan die krygsmanne wat na die oorlog getrek het, gesê: Dit is die wetsinsetting wat die HERE Moses beveel het. {31:22} Net die goud en die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood— {31:23} elke ding wat in die vuur kan kom—moet julle deur die vuur laat deurgaan, en dit sal rein wees; ewenwel moet dit deur reinigingswater ontsondig word; maar alles wat nie in die vuur kan kom nie, moet julle deur die water laat deurgaan. {31:24} Julle moet ook jul klere op die sewende dag was; dan sal julle rein wees; en daarna mag julle in die laer kom. “

Dagsê, al julle wetsgeleerdes! Het julle dít gelees? God het vir die krygsmanne wat na die oorlog opgetrek het, beveel om op die sewende dag hul klere te was. Dit beteken dat die sewende dag heelmoontlik op 'n Sabbat kon geval het, want 'n oorlog wat op 'n Sabbat ten einde loop, sou beteken dat die klere op die Sabbat gewas moes word! Hoe kan dit moontlik wees? Hoe kan God ons in Sy Woord beveel om nie op die Sabbat te werk nie en tog teenstrydig daarmee, dié manne beveel om hulle klere op die sewende dag – selfs indien dit op die Sabbat val – te was? Die antwoord is doodeenvoudig en Jesus die Messias het dit vir ons in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) verstrek.

Markus / Mordechai {2:27} “En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.”

Wat hierdie vers eintlik sê, is dat ons nie gemaak is om die Sabbat te dien nie; die Sabbat is gemaak om óns te dien. Die Sabbat was 'n verpligte rusdag. Dit was vanselfsprekend ongehoord in die heidense wêreld.

God is nie wetties nie; Hy is vol medelye, 'n liefdevolle en begrypende God. Hierdie krygsmanne in ons Parasha het pas 'n oorlog ten behoewe van God gevoer. Ons weet nie presies hoe lank die oorlog geduur het nie – waarskynlik vir etlike dae – of op welke dag dit geëindig het nie. Die krygsmanne was ongetwyfeld vermoeid en uitgeput. Nadat die oorlog deur hulle gewen en alles verby was, sou hulle sekerlik niks meer verlang het as om huis toe, na hul onderskeie gesinne te gaan nie. Voordat hulle egter die laer kon binnegaan, moes hulle God se opdrag gehoorsaam. Hulle moes naamlik die gebod nakom om vir sewe dae buite die laer te bly en op die sewende dag hulself te reinig en hulle klere te was. Slegs nadat dit alles nagekom is, kon hulle die laer weer binnegaan. Soos hierbo gemeld, is dit geheel-en-al moontlik dat die sewende dag op die Sabbat kon geval het. Indien wel, sou God, die medelyende God, werklik hierdie manne 'n dag langer laat wag het voordat hulle na hul gesinne kon terugkeer? Ek dink nie so nie! Hy sou hulle toelaat om hulle klere te was, selfs op 'n Sabbat, met die veronderstelling dat hulle sonder verdere vertraging die laer kon binnegaan en met hulle gesinne verenig word.

Markus / Mordechai {3:4} “Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ‘n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly.”

Vanselfsprekend is dit wettiglik korrek om op die Sabbat goed te doen. Dus, selfs indien hierdie krygsmanne die vereiste sewe dae buite die laer moes bly, was die hereniging van hulle met hul geliefdes, nadat hulle die gruwelikhede van oorlogvoering deurgemaak het, ongetwyfeld iets goeds en gevolglik ook wettig – selfs al sou dit beteken dat hulle hul klere op die Sabbat sou moes was.

Sommige mense behoort hulself deeglik te ondersoek asook die mensgemaakte reëls wat hulle vir hulself en andere oplê. In sekere gedeeltes van die Tora en onder bepaalde omstandighede, mag God moontlik nie so dogmaties of ongenaakbaar wees, soos ons dink of Hom voorstel nie.

Terwyl ek nie weet of enige van hierdie krygsmanne in die wasserybedryf gedurende hul 9vm – 5nm dagtaak was nie, is ek oortuig dat, wat die getroudes betref, dit hul vrouens was wat die wasgoed gewas het en nie diegene wat teruggekeer het huis toe nie. Kan wat van hulle vereis word om te doen, indien dit op die Sabbat geval het, regtig as werk geklassifiseer word? Blykbaar nie!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Saterdag 03 Julie 2010

Wetlike Reg

3 Julie 2010 / Tammuz 21 5770


Phineas / Pinchas (Congregation Melech Yisrael)


Numeri / BaMidbar 25:10 – 30:1

Jeremia / Yermiyahu 1:1 – 2:3

Johannes / Yochanan 2:13 - 20


Numeri / BaMidbar {27:1}”Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa— {27:2} en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: {27:3} Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.{27:4} Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader. {27:5} Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. {27:6} En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {27:7} Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. {27:8} En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan. ”


Van al die Skrifgedeeltes in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), het hierdie één gedeelte besondere betekenis wanneer dit kom by Jesus die Messias en Sy fisiese reg om Koning in Israel te wees. Hoe is dit moontlik, aangesien hierdie Skrifgedeelte dan op die dogters van Selofhad en die verdeling van sý erflike besitting, in die tyd van Moses, betrekking het? Selofhad se dogters, omdat hulle vroue was, sou van hulle erfreg ontneem word aangesien sowel erfreg as verdeling van grond uitsluitlik deur die seuns en nie deur die dogters geskied het. Selofhad het sonder ‘n seun gesterf maar het vyf dogters gehad.


Hoe kan hierdie Skrifgedeelte dan van betekenis wees ten opsigte van Jesus die Messias? Wanneer ‘n mens in ag neem dat erfreg uitsluitlik deur die seun(s) gegeld het, is dit inderdaad besonder betekenisvol. Dit begin alles by Jesus die Messias se geslagsregister, soos dit deur Lukas (Uri) aangeteken is.


Lukas het in onderhouding van die Joodse wette, die geslagsregister van Jesus noukeurig nagegaan. Ten einde dit te doen, mag vroue name (selfs nie eers Maria (Miriam), moeder van Jesus) vermeld word nie. Dit was juis deur Maria se nakomelingskap, dat hy die koninklike geslagslys van Jesus nagevors het. Lukas het ook geensins name oorgeslaan nie, wat volgens nog ‘n verdere streng Joodse wet verbode was. Hy het in die geslagsregister aangedui dat Jesus koning kon gewees het omdat Hy van die huis van Dawid was, maar nie van die geslag van koning Gonja nie, op wie ‘n vloek gerus het.


Jeremia / Yermiyahu {22:28} ”Is hierdie man Gonja ‘n veragte, verbryselde voorwerp, of ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ‘n land wat hulle nie ken nie? {22:29} o Land, land, land, hoor die woord van die HERE! {22:30} So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ‘n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.”


Lukas het sy evangelie begin met die maagdelike geboorte en vertel dat Jesus vermoedelik die seun van Josef was, maar eintlik die kleinseun van Heli. Die feit is dat Heli die vader van Maria was, maar Josef nie Jesus se biologiese vader was nie. Lukas wou Jesus se geslagsregister dus deur Maria nagaan en daarom het hy Hom met Miriam se vader geassosieer. In geskrifte van die eerste-en tweede eeu, het rabbis algemeen verwys na Jesus as die “die seun van Heli”. Dit is in die Joodse geskiedenis ook hoegenaamd nie vreemd dat ‘n man se herkoms deur sy vrou nagetrek word nie en dit is wat Lukas inderdaad probeer doen het. Hy het Jesus se afkoms deur Maria, as Josef se vrou nagetrek, aangesien Josef nie Sy biologiese vader was nie. In twee hebreeuse geskrifte (Tanach) kom voorbeelde van hierdie metode voor: Esra (Ezra) 2:60 – 61 en Nehemia 7:63. Dit is dus, volgens Bybelse standaarde, niks ongewoons nie.


Wat ons in die betrokke geslagsregister van Lukas vind, was die moontlikheid dat Heli slegs ‘n dogter (Maria) nagelaat het maar geen seun nie. Indien dit juis is kan ons uit vandeesweek se parasha aflei dat Maria wel toegelaat is om van haar vader te erf. Daarbenewens sou Maria die ander Tora-vereiste nagekom het, naamlik van vroulike erfenis deur haar huwelik met iemand uit haar eie stam:


Numeri / BaMidbar {36:6}”Dit is die saak wat die HERE aangaande die dogters van Selófhad beveel het deur te sê: Laat hulle die vroue word van hom wat goed is in hulle oë; hulle moet net trou in ‘n geslag van die stam van hulle vader, {36:7} sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie; want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou. {36:8} En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.”


Sowel Maria as Josef was uit die stam van Juda (Judah). Gevolglik kon sy oorerwing van die geslag van Dawid, vanaf haar vader na haar Seun oordra. Jesus het dus oor die wetlike reg beskik om deur Sy moeder, Maria, die fisiese koning van Israel te wees. God het sodoende die weg vir Jesus die Mesias berei om die ewige Koning van Israel te wees.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou