Saterdag 29 April 2017

Lewe in - of sonder die Teenwoordigheid van God

Pesach
(Pasge)


Eksodus {33:14} "En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? {33:15} Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. {33:16} Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is."

Moses het die invloed van God se teenwoordigheid op die lewens van die kinders van Israel terdeë besef. Daarsonder sou hulle wees soos al die ander volkere op aarde. Moses het inderdaad ondervind hoe dit was om onder ander nasies te leef, waar die teenwoordigheid van God ontbreek het. Hy het in Egipte en Midian gewoon en dit gevolglik eerstehands beleef waaroor dit by afgodsdienstige nasies gaan. Nou, na sy ervaring by die brandende doringbos op die bergtop, wou hy nooit weer terugkeer na waar hy sonder God se teenwoordigheid sou wees nie. Dit is dus verstaanbaar waarom Moses so verbind was aan God en so passievol was oor die verhouding wat hy met Hom gehad het, dat hy hoegenaamd nie bereid was om êrens heen te gaan as die teenwoordigheid van God nie saam met hom gegaan het nie. Onthou julle die rede wat hy aangevoer het vir God se teenwoordigheid by die kinders van Israel? "So sal ons, ek en U volk, onderskeie wees van elke volk wat op aarde is.".

Moses het geweet dat die teenwoordigheid van God in mense se lewens, hulle anders gemaak het; inderdaad so verskillend, dat dit hulle anders as enige ander volk op aarde sou maak.

Wat beteken dit dus om in die teenwoordigheid van God te leef? Wanneer ons in Sy teenwoordigheid is, word Hy ons passie, ons fokuspunt. Daar is krag in God se teenwoordigheid. Die kinders van Israel sou dus geen ander volk hoef te vrees nie omdat, solank hulle in die teenwoordigheid van God was, niemand hulle sou kon verslaan nie. Daar is geen vrees in Sy teenwoordigheid nie, maar wel berou, vergifnis en verandering van karakter. Daar is ook waarheid, leiding, onderrig, profetiese openbaring, berusting en volkome vrede in God se teenwoordigheid. Dit was geen wonder dat Moses nie sonder die teenwoordigheid van God wou wees nie. Sou jy?

Op hierdie Sabat vier ons die eerste oorgang (of tussenkomende) dag van Paasfees. Vir ons gaan dit alles om die dood en opstanding van Jesus, die Messias. Elke element van die Paas-seremonie, beskrywe op een - of - ander wyse wat ons Messias vir ons gedoen het. Waarom moes die Messias aarde toe kom en sterf? Hy móés kom en sterf sodat ons gered kan word, maar ook om die volgende rede:

Johannes / Yochanan {16:7} "Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; "

Vóór Jesus die Messias - God wat in die vlees na die aarde gekom het in menslike vorm - was die kinders van Israel sonder 'n profeet, selfs sonder die teenwoordigheid van God; Sy teenwoordigheid het van die tempel uitgegaan, soos deur die profeet, Esegiël, beskrywe in hoofstukke 10 en 11 van sy boek. Uiteindelik, na meer as vierhonderd jaar, het die Messias gekom en was die kinders van Israel eereens in die teenwoordigheid van God.

Jesus was egter op die punt om te vertrek. Hy moes Sy plek in die hemel inneem sodat Hy 'n belangrike deel in ons en die wêreld se verlossingsproses kon volbring, maar dié keer sou God ons nie sonder Sy teenwoordigheid laat nie. Hy sou die Heilige Gees stuur om met ons te wees.

Johannes / Yochanan {14:16} "En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid"

Almal wat in Jesus die Messias glo, het die teenwoordigheid van God binne in hulle, "...So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.". Kan julle waarlik sê dat julle 'n volkome ander lewe lei? 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-04-11

Saterdag 22 April 2017

Netsoos ons 'n Geneesheer sou Raadpleeg

Tazria – Metzora
(Sy Dra Saad – Besmet)




Netsoos ons 'n Geneesheer sou Raadpleeg

Levitikus / Vayikra {13:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {13:2}  As ‘n mens in die vel van sy vlees ‘n swelsel of uitslag of ligte vlek het, en dit in die vel van sy vlees ‘n plaag van melaatsheid word, moet hy na die priester Aäron of na een van sy seuns, die priesters, gebring word; {13:3}  en die priester moet na die aangetaste plek in die vel van die vlees kyk. Het die hare op die plek wit geword, en lyk dit of die plek dieper is as die vel van sy vlees, dan is dit die plaag van melaatsheid. As die priester dit sien, moet hy hom onrein verklaar. {13:4}  Maar as dit ‘n wit vlek in die vel van sy vlees is en dit nie dieper lyk as die vel nie, en die hare daarvan nie wit geword het nie, moet die priester die aangetaste persoon sewe dae lank opsluit. {13:5}  As die priester hom op die sewende dag bekyk en sien dat die aangetaste plek, volgens hy kan sien, dieselfde gebly het, die plek nie in die vel versprei het nie, dan moet die priester hom nog ‘n keer sewe dae lank opsluit. {13:6}  Bekyk die priester hom dan op die sewende dag nog ‘n keer en sien hy dat die aangetaste plek dof van kleur geword en die plek in die vel nie versprei het nie, dan moet die priester hom rein verklaar. Dit is ‘n uitslag; en hy moet sy klere was, dan is hy rein.
Ek dink ons sal almal saamstem dat dit moelik is om 'n moderne toepassing vir hierdie twee parashot ('n dubbele gedeelte hierdie week) te vind. Dit is omdat albei vol instruksies ten opsigte van verskeie velkwale asook skimmel op klere en in huise is. Aan die begin van parasha Tazaria is daar slegs 'n kort verwysing na die besnydenis (Brit-Milah) op die agtste dag.
Behalwe die besnydenis, word die aangeleenthede waarna hierdie parashot verwys, nie langer deur die Levitiese priesterskap behartig nie, aangesien daar eerstens nie langer 'n aktiewe Levitiese  priesterskap is nie en tweedens, omdat daar nie langer 'n tempel bestaan, waarheen die toepaslike offerhandes – soos deur die Tora voorgeskryf – gebring kan word nie. Daarom, behalwe dat Jesus die Messias ons reinigingsofferhande is, het hierdie parashot vir ons geen betekenis nie, of het dit wel?
Voordat ek egter met my kommentaar begin, wil ek graag daarop wys dat die Engelse woord ”Leprosy” nie die mees akkurate vertaling van die Hebreeuse woord “Tsarat” is nie. Dit kan geensins akkuraat vertaal word as leprose nie aangesien laasgenoemde 'n chroniese bakteriële infeksie is. Terwyl die bakterieë vel-letsels, ulkusse en velverkleuring (of verbleiking) kan veroorsaak en dit wel doen, is dit ook 'n siekte van die senuweestelsel , wat veroorsaak dat die pasiënt geen pyn ervaar nie. Gevolglik kan sodanige besmette  pasiënte hulself beseer en velskade opdoen.  Pasiënte met Hansen se siekte (leprose) kan selfs hul vel afkrap en niks voel nie. Sonder die ervaring van pyn, is hulle onbewus van beserings en laat dus na om dit behoorlik te behandel, wat tot verdere probleme lei. “Tsarat” is veel meer omvattend as dit en kan op die beste wyse beskryf word as enige verskynsel op die veloppervlakte, huis of klere, wat dieper as die oppervlak indring – 'n tipe aansteeklike skimmel of selfs muf.
Wanneer mens vandag 'n veluitslag kry, 'n seer wat etter of enige ander velaandoening ontwikkel, gaan ons dadelik apteek toe om salf te koop of maak 'n afspraak by 'n geneesheer vir 'n diagnose en geneesmiddel. Deesdae is ons vertroue dus meer in die mens as in God gestel, terwyl dit in die tempeltye hoegenaamd nie die geval was nie.
Verstaan my nou goed: Ek bepleit geensins “om die Here te vertrou en gevolglik nooit weer 'n geneesheer te besoek nie”. Dit is gladnie my bedoeling nie. Ons kan steeds op die Here vertrou, ons fokus op hom handhaaf en nogtans van konvensionele metodes van diagnose gebruikmaak.
Die kinders van Israel het, trouens, ook indien hulle onreëlmatigheid op hul vel of 'n abnormale soort afskeiding gewaar het, die priester (cohen) gaan raadpleeg vir 'n diagnose en behandeling (netsoos ons die geneesheer raadpleeg). Hulle het nie net tuisgebly en op God se genesing vertrou nie, maar wel die inisiatief geneem om 'n professionele opinie in te win. Nadat hulle die priester geraadpleeg het, het hulle die toepaslike instruksies van die priester gevolg.
Die punt wat ek graag hier wil maak is dat wanneer ons siek word, te veel van ons – ofskoon dit reg is om 'n geneesheer vir 'n diagnose en geneesmiddel te raadpleeg – God geheel-en-al buite rekening laat met die genesingsproses. Selfs wat die geneesheer gedoen het of sy voorgeskrewe geneesmiddel(s) vir jou die gewenste uitwerking gehad het, moet die eer vir die genesing aan die Here toekom.
Ek is oortuig daarvan dat in Israel van ouds, onder die kinders van Israel, daar ook tradisionele geneesmiddels was. Selfs vandag nog het ons al tradisionele metodes van genesing gebruik wat gewerk het; hulle moes ook daaroor beskik het en dit het dikwels sekerlik gewerk. Nogtans het die kinders van Israel eerstens die priester geraadpleeg en sodoende aan die Here voorgelê. Laat ons dié voorbeeld in hierdie week se parasha navolg! Wanneer ons volgende keer siek word – ongeag die kwaal of toestand – kom ons bring ons siekte vir die Here, netsoos ons dit aan 'n geneesheer sou voorlê!




Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-04-17

Saterdag 15 April 2017

Dit Is Nie 'n Verskoning Nie

Shemini
(Agtste)


Levítikus / VaYikra {10:16} “En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê: {10:17}  Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18}  Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19}  Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20}  Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.”

Ek het nog altyd 'n probleem ondervind met hierdie Skrifgedeelte; trouens, ek het tot nou toe 'n probleem ondervind om dit behoorlik te verstaan. Die sondofferbok moes, volgens God se opdrag, geslag word. Gedeeltes daarvan moes dan verbrand word en 'n deel deur Aäron en sy twee oorblywende seuns, in die gewyde plek geëet word. Indien hulle egter nie hulle porsie van die offerande geëet het nie, moes die bloed van daardie offerdier in die tent van samekoms ingeneem word vir versoening. Versuim om God se opdrag na te kom kon onsettende gevolge vir al die kinders van Israel meegebring het.

Levítikus / VaYikra {6:25} “Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. {6:26}  Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ‘n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. {6:27}  Alles wat aan die vleis daarvan raak, word heilig; en as daar van die bloed op ‘n kledingstuk spat, moet jy die stuk waar dit op spat, op ‘n heilige plek was. {6:28}  En ‘n erdepot waar dit in gekook is, moet stukkend gebreek word; maar as dit in ‘n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word. {6:29}  Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. {6:30}  Maar elke sondoffer waarvan ‘n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.”

Moses was kwaad vir Aäron omdat hy en sy oorblywende seuns nie hul porsie van die sondoffer  geëet het nie en ook nie die bloed in die gewyde plek ingeneem het nie.  Aäron het wel opgetree volgens die opdrag wat Moses van God ontvang het. Soos Israel vantevore dikwels reeds ervaar het, kon versuim om God se opdragte uit te voer, verskriklike gevolge inhou.

Toe  Aäron egter aan Moses 'n logiese verduideliking verstrek het waarom die Here se voorskrifte nie uitgevoer is nie, het Moses dit so aanvaar en is alles vergewe. Dit is juis hierdie aspek wat my altyd verwar het. Is God se voorskrifte dan buigsaam indien ons goeie verskonings aanbied waarom ons nie Sy opdragte uitgevoer het nie? Voordat ek dit behandel, wil ek eers aandag skenk aan Moses se oënskynlike woede.

Volgens die Skrif was Moses die ootmoedigste man wat ooit geleef het en tog dui die teks aan dat hy vir sy broer en neefs kwaad geword het omdat hulle nie gedoen het wat hy hulle beveel het nie. Is dit dan moontlik om kwaad te word maar nogtans as verdraagsaam en ootmoedig beskou te word? Die antwoord is blykbaar ja, indien 'n mens se woede regverdiglik verontwaardig is. Moses was kwaad, nie omdat  Aäron en sy oorblywende twee seuns hom veronreg het nie, maar wel dat hulle teen God gesondig het.

Ek word ook dikwels kwaad vir mense hier by die sinagoge (shul) wat dinge gedoen of nagelaat het om dit te doen, byvoorbeeld om 'n belofte te maak en dit te verbreek of om eredienste, wat aan die gang is, te versteur of om die gemeenteleierskap nie te respekteer nie. Dit is nie dinge wat hulle my aangedoen het nie maar hulle het wel teen God gesondig! Dit is dus bloot op grond van my liefde vir God en my innige begeerte om slegs Sy wil te doen, dat ek kwaad word. Jesus het iets soortgelyk gedoen:

Johannes / Yochanan {2:15} “En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. {2:16}  En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.”

Wat nou van die opvatting dat God se bepalings inderdaad buigsaam is indien ons 'n aanvaarbare verskoning aanbied?  Aäron  het egter nie 'n verskoning aangevoer nie – hy het trouens oor 'n goeie redeneervermoë beskik! Sy oudste twee seuns het onlangs gesterf en moontlik het hy ietwat verantwoordelik vir hul dood gevoel. Indien dit jou kinders was, sou jy moontlik ook so gevoel het, veral by die gedagte, dat as jy hulle beter beheer het, hulle nie sou gesterf het nie. Aäron en sy oorblywende seuns – vanweë die dag se gebeure – het dus geen eetlus gehad of geneë gevoel om die vereistes van die gewyde plek na te kom nie. Indien ons in Aäron se posisie was, sou die laaste waaraan ons gedink het, sekerlik voedsel of ons werk gewees het. Is dit regmatig om iets vir die Here te doen as dit nie met opregte bedoelings geskied nie? Ek dink nie enigeen van ons sou 'n probleem daarmee hê om die vraag negatief te beantwoord nie. Indien ons enigiets sonder die regte gesindheid vir die Here doen, is dit hoegenaamd onaanvaarbaar en onbehaaglik vir die Here. Daarbenewens sou  Aäron, indien hy iets met die verkeerde gesindheid gedoen het, hierdie heilige handeling ontheilig het, wat in wese dieselfde was wat Nedav en Avihu gedoen het.

Ek meen dat dit wat ons uit die Skrifgedeelte, uit vandeesweek se Parasha asook my verduidelikings, geleer het, is dat  Aäron nie slegs 'n verskoning aangevoer het nie, maar inderdaad gedoen het wat reg was: om dit wat heilig was, van die onheilige te onderskei.

Levítikus / VaYikra {10:10} “en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;”


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-04-10

Saterdag 08 April 2017

Ons Ewige Korban

Tzav

(Opdrag)


Ons Ewige Korban

Levitikus / VaYikra {6:8} ”Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:9} Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word. {6:10} En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi. {6:11} Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ‘n rein plek uitbring. {6:12} En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. {6:13} Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie.”

Die toenaderingsoffer (olah) was 'n sondoffer. Soos ons uit die bovermelde Skrifgedeelte kan aflei, moes daar ononderbroke 'n offerande op die altaar (mitzbeach) wees – 'n nuwe een elke oggend en aand – en dit moes toegelaat word om dwarsdeur die dag en nag te brand. Daar mag nooit onderbreking gewees het in die brand van 'n olah - offerand op die altaar nie. Hierdie offerande was verskillend van die res in soverre die dier in sy geheel geoffer is. In die geval van 'n bok of 'n lam, is slegs die vel verwyder en die priester toegelaat om dit te gebruik. Soos al die ander sondoffers tydens die tabernakel – en tempelperiode, was hierdie 'n plaasvervangende offer, met ander woorde 'n offer in die plek van die vereiste doodstraf, verbonde aan menslike sonde. Die feit dat hierdie offer ononderbroke moes wees, is interessant. Dit dui daarop dat die kinders van Israel, benewens die ander voorgeskrewe sondoffers, 'n onophoudelike offer vir die reiniging van sonde nodig gehad het. Die implikasie hiervan is vanselfsprekend. Daar moes altyd 'n onophoudelike sondoffer voor God wees, 'n offer wat van sonde sou reinig en Hom dus in staat sou stel om onder Sy volk te wees. In die Judaïsme van vandag, bestaan daar nie só 'n offer nie. Die tabernakel bestaan nie meer nie en die tempel is vernietig; trouens waar die tempel eens was, staan nou 'n moslem-heiligdom! Het God dan verander? Het die hedendaagse kinders van Israel dan so heilig geword dat hulle nie langer aan 'n ononderbroke brandoffer behoefte het nie?

Maleági / Mal'achi {3:6} ”Want Ek, die HERE, het nie verander nie...”

Die feit is dat God onveranderlik is en die kinders van Israel vandag beslis netso sondig is as wat hulle duisende jare gelede was. Hulle het dus netso behoefte aan 'n plaasvervangende offer vir hul sondes soos in Bybelse-tye, trouens, hulle het vandag moontlik nog meer as ooit tevore behoefte daaraan.

Romeine / Romim {8:32} ”Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? {8:33} Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. {8:34} Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. {8:35} Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? {8:36} Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. {8:37} Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. {8:38} Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge {8:39} of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Judaïsme beskik nou nie meer oor 'n tempel nie; dit het dus geen offerande nie en geen plaasvervanger vir sy sonde nie. Die Rabbi's het sowel die ononderbroke offerandes as sondoffers met menslike handelinge vervang.

Romeine / Romim {1:22} “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword {1:23} en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. {1:24} Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer {1:25} hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.”

Judaïsme is dus in sy huidige vorm 'n godsdiens van die mens en nie van God nie. Dit verheerlik menslike handelinge, rituele en tradisies in plaas van die verheerliking van gehoorsaamheid aan 'n onveranderlike God.

Handelinge / Ma’asei HaTalmidim {2:22} “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet— {2:23} Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; {2:24} Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. {2:25} Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. {2:26} Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. {2:27} Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. {2:28} U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig. {2:29} Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. {2:30} Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, {2:31} het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. {2:32} Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. {2:33} Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. {2:34} Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand {2:35} totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete. {2:36} Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. {2:37} Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? {2:38} En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. {2:39} Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”

God het nie verander nie. Jesus die Messias is ons ononderbroke olah-offer. Hy sit nou aan die regterhand van die Vader en tree ononderbroke vir ons in by die Vader. As Messiaanse gelowiges het ons nie langer 'n tempel nodig om as't ware vir ons sondes te versoen nie, omdat Jesus ons ewige korban, ons vlekkelose – en welgevalle Lam is.

Johannes / Yochanan {1:29} ”Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-03-27


Saterdag 01 April 2017

Moet Hulle Tog Nie My Sondes Toereken Nie

VaYikra
(En Hy Het Geroep)


Moet Hulle Tog Nie My Sondes Toereken Nie

Daar is twee baie belangrike aangeleenthede wat in hierdie week se Tora oordenking gemeld word, wat ek met julle wil deel. Die eerste een in die volgende twee Skrifgedeeltes:

Levitikus / VaYikra {1:1} “En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: {1:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. {1:3} As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind.”

Levitikus / VaYikra {2:1} “En as iemand aan die HERE ‘n spysoffer bring, moet sy offer fynmeel wees; en hy moet olie daarop giet en wierook daarby voeg; {2:2} en hy moet dit na die seuns van Aäron, die priesters, bring; en die priester moet daarvan ‘n handvol neem, van die fynmeel met die olie, met al die wierook wat daarby behoort; en hy moet dit as die gedenkoffer op die altaar aan die brand steek, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.”

In beide hierdie gedeeltes uit oordenking VaYikra geneem, word die woord “Wanneer” in verband met die offer van die karbanot (offerandes) gebruik. Hieruit lei ons af dat offerandes aan God vir sonde of enigiets anders, soos dankseggingsoffers, nie opsioneel was nie. God wéét dat niemand onder ons bestand is teen sonde nie – wat immers deel van ons gevalle natuur is – en juis daarom was die bring van offerandes nie “Indien” nie, maar “Wanneer”.

Prediker / Kohelet {7:20} ”want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.”

Paulus het hierdie stelling in die Brit Chadasha (Nuwe Testament) herhaal, toe hy gesê het:

Romeine / Romim {3:23} “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,”

Omrede die offerandstelsel vandag nie langer bestaan of 'n tempel is waarin dit geoffer kan word nie, meen baie gelowiges, veral diegene in die kerke, dat die “offerhandstelsel” afgeskaf is. Die feit is egter dat dit hoegenaamd nie die geval is nie! Jesus is nóú ons ewige korban. Aangesien Hy nou in die hemel is en aan die regterhand van God sit en ons wel sondig en dit bely en Sy naam aanroep, word Hy die toepaslike korban vir die sonde wat ons gepleeg het.

Die punt is egter dat belydenis en berou 'n vername plek in 'n gelowige se lewe moet inneem. Netsoos die offer van die korbanot, tydens die tabernakel – en tempelperiodes, hoegenaamd nie opsioneel was nie, netso is belydenis en berou, deur die koms van Jesus die Messias, as ons ewige korban, vandag ook nie opsioneel nie. Gelowiges se lewens móét van belydenis en berou getuig. “Wanneer” ons dus sondig, want ons almal is daartoe geneig, moet ons aan God 'n aanneemlike korban bring – dit is Jesus die Messias! Die tweede aangeleentheid is na aanleiding van die volgende Skrifgedeelte:

Levitikus / VaYikra {4:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {4:2}  Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die HERE en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie, tog doen {4:3}  as die gesalfde priester sondig, sodat die volk daardeur skuldig word, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, ‘n jong bul sonder gebrek aan die HERE as sondoffer bring;”

Leierskap verg 'n geweldige verantwoordelikheid. Ons lees hierbo dat die sondes van die priester (cohen), skuld oor die hele volk gebring het. Ek aanvaar dat dit vandag steeds op enige gemeenteleierskap van toepassing is. Hierdie leiers verteenwoordig immers die gemeente voor Jesus. Dit is hulle wat verantwoordelik is vir dít wat hulle onderrig en verkondig; erger nog, is dat die gevolge van hul sonde besoek word aan diegene onder hulle leiding – die kudde waarvoor hulle verantwoordelik is! Indien 'n leier ontug pleeg, sal daar ontug onder die gemeentelede voorkom. Waar 'n leier by pornografie betrokke is, sal daar ook gemeentelede wees wat hulle aan pornografie skuldig maak. Die verhouding wat leiers met hul eggenotes en gesinne het, sal ook gesinsverhoudinge van die gemeentelede beinvloed. Die wyse waarop leiers teenoor 'n kassiere by 'n kruidenierswinkel optree, sal 'n invloed op die geestelike toestand van die gemeente hê. Eweneens, as leiers kettery beoefen sal die geestelike toestand van die gemeente daaronder ly. Die sondes van die leierskap sal aan die gemeente toegereken word, net soos die sonde van die priester skuld oor die volk gebring het. Daarom moedig ek elkeen in 'n leierskapposisie aan om voorbeeldig te lewe, indien nie slegs vir hul eie onthalwe nie, dan wel ter wille van diegene wat deur hulle gelei word.

Aangesien ek self ook nie volmaak is nie, is daar 'n gebed wat ek ontvang het vir ingeval ek op één of ander wyse gesondig het deur wat ek moontlik kon gedoen of gesê het – doelbewus of onwetend. Ek wil tog nie dat my sonde 'n nadelige invloed op die gemeente sal hê nie! Daardie gebed is: “Vader, moet tog nie diegene wat ek lei, mý sonde toereken nie.”


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2010-03-20