Saterdag 27 Februarie 2016

Die Blinkende Aangesig

Ki Tisa
(Wanneer Jy Verhoog)




Eksodus / Shemot {34:29} "En toe Moses van die berg Sinai afdaal—die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie. {34:30} En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom. {34:31} Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek. {34:32} En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai. {34:33} Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek. {34:34} Maar as Moses voor die aangesig van die HERE kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, {34:35} sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek."

Ten einde die verband wat ek in vandeesweek se oordenking tussen Moses en Jesus die Messias wil tref, moet ek die volgende agtergrondinligting verskaf. In die Tora (Deuteronomium 18:15) word ons meegedeel dat God 'n Profeet soos Moses na ons toe sal stuur en ons na Hom moet luister.

Deuteronomium / Devarim {18:15} "‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister—  "

Sedert die tyd van Moses, het baie profete gekom en gegaan, maar geeneen het die selfde aansien geniet as Moses, wat regstreeks van aangesig tot aangesig met God gespreek het en die drie ampte van profeet, priester en koning beklee het. Dit is totdat Jesus die Messias verskyn het. Moses was 'n profeet, maar anders as al die ander profete ná hom, het hy nie sy inligting van God deur middel van drome en visioene ontvang nie, maar sy openbarings direk van God ontvang. Moses het as priester opgetree aangesien hy 'n Leviet was en die naderkom-offerandes aan God geoffer het, selfs voordat Aaron en sy seuns ingeseën was. Moses was ook die gevolglike koning van Israel, hul leier, wetgewer en regter.

Tot en met die koms van Jesus die Messias (God in Vlees), was daar nooit op aarde 'n profeet soos Moses nie. Jesus, soos Moses, was 'n Profeet, wat van aangesig tot aangesig met God (Die Vader) gespreek het. Net soos Moses, was Jesus ook Priester (volgens die orde van Melgisedek) en sal Hy, volgens die Skrif, met Sy wederkoms as Koning regeer, omdat Hy die Seun van Dawid is. Soos ons dus kan sien, is daar vele ooreenkomste tussen die eerste Moses en Jesus die Messias, die tweede Moses. Maar geen daarvan, glo ek, was so betekenisvol as wat ons lees in die volgende gekose Skrifgedeelte nie. Ek bedoel juis dit:  

Matthéüs / Mattityahu {17:1} "En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring. Mat {17:2} En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig."

Myns insiens is dit die vernaamste en moontlik mees betekenisvolle ooreenkoms tussen Moses en Jesus. Albei het teen 'n hoë berg opgeklim en was omhul deur 'n wolk van heerlikheid; beide het die stem van God vanuit die wolk hoor spreek en altwee se gesigte het geblink vanweë hul ontmoeting. As dit nie voldoende was om iemand te oortuig dat Jesus die Profeet, was van wie Moses getuig het nie, is daar 'n ander afdwingbare ooreenkoms tussen Moses en Jesus. Dit is die woorde deur God gespreek, aangaande hierdie Profeet wat soos Moses was:

Matthéüs / Mattityuahu {17:5} "Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! "

In Deuteronomium 18:15 het God aan die kinders van Israel gesê dat Hy 'n profeet soos Moses sal verwek en van hierdie profeet het Moses gesê:"...;na hom, moet julle luister-". In die bovermelde aanhaling uit Matthéüs 17:5 staan die Profeet soos Moses, voor Sy dissipels , wanneer Moses en Elia saam met Hom verskyn. Op hierdie punt verskyn God in 'n wolk en verklaar :"Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom!". Hier wys God Self op die verband tussen die profete, na wie in Deuteronomium 18:15 verwys word en die Profeet wat nou saam met Moses en Elia in die teenwoordigheid van Jesus en Sy dissipels staan. Waarom was beide Moses en Elia dáár saam met Jesus?

Moses, soos ons weet, het gesterf en God Self het hom begrawe; Elia, egter, het nie gesterf nie maar is deur God in die Hemel opgeneem. Daarom, glo ek, was sowel Moses as Elia dáár saam met Jesus en sy dissipels met die verheerliking van Jesus, op hierdie Skrifgedeelte gegrond.

2 Timótheüs / Timoteos Bet {4:1} “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk”

Hier eindig die ooreenkomste. Anders as Moses, sal Jesus die Messias oor sowel die lewendes as die dode oordeel. Indien jy glo wat God gespreek het dat Jesus die Profeet is soos Moses, glo dan in Jesus die Messias en aanvaar Hom as Here en Redder.

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-03-14

Saterdag 20 Februarie 2016

Wat Beteken “vir ewig”?

Tetzaveh
(U Sal Beveel)

Eksodus / Shemot 27:20-30:10
1 Samuel / Sh'muel Aleph 15:2-34
Hebreërs / Ivrim 13:10-16


Eksodus / Shemot {27:20} "En jy moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê. {27:21} In die tent van samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die HERE. Dit sal ‘n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van die kinders van Israel”

Wanneer God vir die kinders van Israel sê dat iets vir ewig 'n insetting (statuut) is, wat beteken dit? Word dit bedoel: vir ewig, totdat hulle dit nie langer kan doen nie, óf vir ewig, totdat hulle deur hulle vyande verslaan is, óf vir ewig totdat hulle uit die land Israel verdryf en onder die nasies in die buiteland verstrooi word, óf beteken vir ewig, werklik vir ewig? Wat bedoel God met 'n "...ewige insetting..." en hoe lank duur vir ewig?

Wat ons ook in die Skrifgedeelte van hierdie week se oordenking lees dat die Menorah (Lamp) gedurig (vir ewig!) brandend gehou moet word, is niks vreemds aangaande die Menorah nie. Dwarsdeur die Skrif beveel God ons om dinge vir ewig te doen. So byvoorbeeld, moes die verskillende sondoffers van die tabernakel ook 'n ewige instelling wees.

Levitikus / Vayikra {7:36} “wat die HERE beveel het om hulle te gee van die kant van die kinders van Israel, op die dag toe Hy hulle gesalf het. Dit is ‘n ewige insetting vir hulle geslagte. {7:37}  Dit is die wet vir die brandoffer, die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer en die wydingsoffer en die dankoffer”

Die moontlike vernaamste "vir ewig", verskyn in die volgende Skrifgedeelte:

Jesaja / Yeshayahu {9:7} “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.“

Na aanleiding van die bovermelde twee Skrifaanhalings, weet ons dat die Levitiese offerstelsel nie meer beoefen word nie, aangesien daar geen tempel in Jerusalem is nie. Ons weet ook dat daar tans geen koning op die troon van Dawid is nie. Bedoel God dus dat 'vir ewig' beteken totdat ons dit nie langer kan doen nie?

Ek glo dat "vir ewig" vir God letterlik vir ewig beteken. Julle bevraagteken dit moontlik wanneer julle sê""Indien diere nie langer geoffer word en die troon van Dawid nie meer bestaan nie? Wel, diegene van ons wat Jesus die Messias, die Seun van Dawid, erken as ons Here en Redder, glo dat Hy inderdaad op Sy Hemeltroon sit vanwaar Hy oor die hele aarde heers.

Psalm / Mizmor {103:17}” Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, {103:18}  vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. {103:19}  Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.”

Wat die troon van Dawid dus betref, wéét ons daar is steeds 'n Seun van Dawid daarop en dat Hy vir ewig daarop sal sit, netsoos God gesê het.

Wat dan van die Menorah, die Lamp wat voortdurend aangesteek moes word, wat sekerlik al bykans 2 millenia gelede reeds gedoof is, en natuurlik toe tempelofferandes wat nie langer gebring word nie?

Aangaande die lamp, het Jesus ons vertel:

Johannes / Yochanan (John) {8:12} “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Die lig van die Menorah, wat voortdurend ("vir ewig") moes brand, was 'n voorbeeld van Jesus, die Lig van die Woord. Sy lig skyn deur ons in 'n donker wêreld en sal vir ewig aanhou skyn deur hulle wat na Sy naam genoem word.

Laastens, is daar die tempelofferandes. Soos ons weet, aangesien die tempel nie langer bestaan nie, kan daar geen offerandes aan die Here wees nie. Beteken dit dus dat die Levitiese priesterstelsel van offerandes ook nie vir ewig is nie?

My antwoord daarop is ja en nee. Ja, die tempel bestaan nie meer nie en gevolglik is die Levitiese priesterstelsel van offerandes nie vir ewig nie, maar nie omdat die Tabernakel in die Hemel nie bestaan en so ook die priesterdom wat daarin diens verrig nie. Ons weet dat die Tabernakel, wat Moses moes maak om saam met die kinders van Israel deur die Wildernis te gaan, slegs 'n afbeelding was van die een wat aan hom getoon is en in die Hemel bestaan toe hy op die berg Sinaï in die teenwoordigheid van God verkeer het. 

Eksodus / Shemot {25:40} " En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is.”

Asook:

2 Korinthiërs / Korintim Bet {5:1}” Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.“
Saam met hierdie Tabernakel het ons offerande, Jesus die Messias. Dié Tabernakel is die een waarheen Jesus opgevaar het om ewige versoening vir ons met Sy bloed te bewerkstellig.

Herbreërs / Ivrim {9:11}” Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, (9:12)  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.”

Wat die Priesterdom betref, ons het 'n priester:

Psalm / Mizmor {110:4}  “Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.”

Hebreérs / Ivrim {8:1} Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele,”

Wie is hierdie priester volgens Melgisédek?

Hebreérs / Ivrim {6:20}”waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek ‘n hoëpriester geword het vir ewig.”

Ter afsluiting, kan ons sien dat daar "vir ewig" 'n Tabernakel in die hemel bestaan, met 'n Menorah "vir ewig", in die gedaante van Jesus die Messias, wat "vir ewig" ons Hoëpriester is, wat "vir ewig" ons Offerande is en wat "vir ewig" ons Koning is, wat "vir ewig" op die troon van Dawid sit.

Dit is dus van selfsprekend dat God se "vir ewig" inderdaad vir ewig beteken!!!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-03-07




Saterdag 13 Februarie 2016

Gee

Terumah
(Offergawe)

Eksodus / Shemot 25:1-27:19
1 Konings / Melachim Alef 5:26-6:13
2 Korinthiërs / Korintim Bet / 17:1-11


Daar is 'n baie belangrike Bybelse beginsel wat ek graag met betrekking tot vandeesweek se oordenking, met julle wil bespreek.

Eksodus / Shemot {25:1} "Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle My offergawe bring."

Vrywillige gawe was nog altyd sowel 'n Tora- as Hernieude Verbond-beginsel. In laasgenoemde verbond prys Paulus (Saulus) die gemeente in Fillipi vir hul gewilligheid om te gee.

Filippense / Pilifim {4:15} "En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. {4:16} Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. {4:17} Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening."

Die vrug, waarna Paulus hierbo verwys, is die blydskap en seëninge wat uit vrywillige gawe voortvloei:

Eksodus / Shemot {12:35} "En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; {12:36} en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe."

Die kinders van Israel het vryelik ontvang, en nou word hulle deur God versoek om vryelik te gee, elkeen met 'n volkome hart. Die Skrif is vol voorbeelde wat ons verseker dat 'n vrygewige hart, 'n blymoedige hart is.

1 Kronieke / Divre HaYamim Alef {29:9} "En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ‘n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly."

Wat ons hieruit aflei, is dat deur te gee, blydskap verkry word. Dit bedoel dat 'n vrygewige persoon, één wat gee, 'n vreugdevolle persoon sal wees. Daar is onteenseglik blydskap deur te gee en die Here heelhartig te dien. Om te gee, is na alles om te dien. Indien jy suinig is, dan is jy 'n vrek en daar is beslis geen blydskap daarin om gierig te wees nie. Verder, as jy die Here dien maar nie vreugde in jou diens ervaar nie, dan dien jy in die vlees en nie die Gees nie. Sommige mense gee wel in die vlees, maar verwag om dan iets van God of mense terug te ontvang. Dit is beslis nie om te gee, in die ware sin van die woord nie. Vrywillige gawe is inderdaad onselfsugtig in soverre dit deur 'n begeerte om met 'n volkome hart aan die Here te gee aangevuur word.

Matthéüs / Mattityahu{6:19} "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; {6:20} maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; {6:21} want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. {6:22} Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. {6:23} Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! {6:24} Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! "

Hierdie gedeelte van die Skrif leer ons dat eerlikheid vereis word wanneer ons die Here dien. Ons kan nie besluitloos wees deur sowel rykdom te dien en na te jaag en terseldertyd die Here te dien en volg nie. Wat ek graag wil uitwys, is dat Jesus in hierdie Skrifgedeelte, aan ons vertel wat inhaligheid en suinigheid, oftewel die opgaar van skatte hier op aarde, sal oplewer.

Eerstens word ons gewaarsku  teen motte. Soos ons weet, vreet motte gate in materiaal, derhalwe is dit nie wenslik om motte in jou klerekas te hê nie.

Haggai / Haggai {1:6} "julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek. "

Dus, wanneer ons suinig is, ongeag hoeveel geld ons het, sal dit nooit genoeg wees nie; dit sal altyd wees asof ons geld in 'n beursie vol gate hou, waaruit dit voortdurend verloor. Om vrygewige en ruimhartige persoon te wees, is gevolglik nie 'n opsie nie - dit is noodsaaklik.

Tweedens, waarteen in hierdie gedeelte in Matthéüs gewaarsku word, is roes. Roes verniel mettertyd. Roes neem iets wat goed , pragtig en bruikbaar is en maak dit sleg, lelik en nutteloos. Ons word dus geleer dat geld en rykdom, wat aan ons gegee is om ten goede te gebruik, in die hande van 'n selfsugtige, inhalige persoon, onoordeelkundig bestee sal word en mettertyd bedorwenheid en lelikheid meebring.

Derdens, word na diewe verwys. God waarsku ons dat indien ons suinig en gierig is deur geld op te gaar en dink dat ons meer sal hê, maak ons 'n fout omdat Hy diewe sal stuur om dit te steel. Hoe doen God dit? Eenvoudig, Hy laat toe dat ons gekul en besteel word, ons motorvoertuie raak buitengewoon dikwels onklaar, ons word siek en moet ons geld aan dokters en medikasie bestee, terwyl ons deur afwesigheid van die werk, inkomste verloor; met ander woorde: terwyl ons dink ons is aan die wenkant, verloor ons eintlik.

Laastens, word ons gewaarsku dat as ons oog "verkeerd" is, ons hele liggaam "donker" sal wees. Ons sien met ons oë. 'n Verkeerde oog is 'n Hebreeuse idioom vir selfsug. Wat dus hier bedoel word, is dat indien dít waarna ons kyk, uit inhaligheid, begeerte en selfsug is, dit ons hele liggaam sal aantas en sodoende ons lewens verwoes.

Wat is dan die oplossing? Sowel die Tora (as voorbeeld vir ons oordenking hierdie week) as die Hernieude Verbond het die oplossing verstrek. Ons moet slegs daarvolgens handel. 

Eksodus / Shemot {25:1}"Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring."

Matthéüs / Mattityahu {10:8} "Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee. "

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-02-28




Saterdag 06 Februarie 2016

God weerspreek Homself nooit

Mishpatim
(Oordele)



Om hierdie oordenking te lees, is om 'n bladsy uit 'n wetboek te lees. Dit sou sekerlik moontlik wees om howe met regters daar te stel, deur slegs te gebruik wat herdie week se lesing bevat. Dit is inderdaad wat God van Sy volk verwag het. Hy wou 'n model-mensdom, binne 'n model-nasie daarstel, wat 'n getuie vir al die ander wêreldnasies aangaande die Een Ware God sou wees.

Deuteronomium / Devarim / {4:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8} En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”

Daar is egter 'n wet, geskryf binne die "Oordenking: Oordele" wat oor die jare heen heelwat polemiek veroorsaak het, oor wat skybaar 'n weersprekende gebod blyk te wees, met wat Jesus in die Hernieude Verbond gegee het. Die gedeelte waarna ek in hierdie oordenking verwys, is:

Eksodus / Shemot {21:23} “Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, {21:24} oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, {21:25} brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.”

Dié gebod word egter verder tweemaal in die Tora: Levitikus {24:20} en Deuteronomium {19:21} herhaal. Hierdie feit op sigself behoort vir ons 'n aanduiding van die belangrikheid daarvan in God se oë, te wees. Talle Bybelstudente vind dit egter moelik om hierdie gebod in ooreenstemming te bring met wat Jesus sê:

Matthéüs / Mattityahu {5:38} “Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. {5:39} Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.”

Ek meen, teneinde behoorlik te verstaan of Jesus weerspreek of verander, aldan nie, wat in die Tora geskrywe is, moet ons die verband van elk van hierdie gedeeltes verstaan.

Die Tora is 'n samestelling van God-gegewe onderrig en gebooie. Soms is hierdie onderrig in verhaalvorm, soos Jona en die groot vis en Josef se ervarings met sy broers. Hierdie verhale en ander soortgelykes, is natuurlik bedoel om belangrike Bybelse beginsels aan ons oor te dra. 'n Ander vorm van onderrig in die Tora, is meer direk, soos wat ons in hierdie oordenking teëkom. Beide onderrig en gebooie is egter vir dieselfde doel aan ons gegee, naamlik om die sondaar te oortuig, by nadenke van sy sondigheid en onvermoë, om te voldoen aan wat die Tora voorhou. (Die Tora tree dus op as leermeester, deur die sondaar te lei om hom na sy verlosser te wend. Wanneer die persoon dan gered is, verander die Tora se gevoelsinhoud en onderrig dan die geredde persoon hoe om te lewe as 'n gelowige, wat verdieping in-en bekleding met die Messias behels. Dit is wat Saulus (Paulus) in Galáte vir ons sê:

Galáte / Galitim {3:24} “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. {3:26} Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27} want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.”

Dus is die konteks van die gedeelte in ons Tora - oordenking (Eksodus {21:23}), 'n gebod en daarom streng juridies, met ander woorde: pleeg die misdaad, ontvang die straf. In daardie opsig, netsoos in die geval van moord (strafbaar met die dood), as jy iemand se oog uitsteek, word jou oog uitgesteek - die straf is natuurlik eers bepaal ná deeglike ondersoek en 'n behoorlike regsproses.

Deuteronomium / Devarim {19:15} “Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.”

Ja, ek neem die misdaad en straf letterlik as God-gegewe. Daar is egter 'n genadiger, meer liberale interpretasie van hierdie gedeelte. Dit is wat God bedoel met 'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand, naamlik dat die straf vir misdaad, na gelang van die aard daarvan moet wees. Dit beteken dat iemand nie die doodstraf moet ontvang omdat iemand se oog uitgesteek is of sy hand afgekap is nie: Die straf moet regverdig wees. Vandag plaas howe en versekeringsmaatskappye 'n geldwaarde op liggaamsdele. Indien jy dus skuldig bevind word aan die uitsteek van iemand se oog is dit "x"-bedrag en vir die afkap van iemand se hand moet jy "y"-bedrag betaal.

Hoe versoenbaar is dít wat Jesus ons in Matthéüs {5:38} hierbo leer? Wel, as ons glo dat Jesus die vleesgeworde (in vleeslike liggaam na die aarde gekom) God is en die Lewende Tora ("In die begin was die Woord en die Woord het vlees geword") en ons glo dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is, dan móét ons glo dat God homself nie weerspreek nie!

Indien ons dus kyk na die konteks en woorde wat Jesus gebruik in Sy onderrig, sien ons duidelik dat die woorde "Julle het gehoor" verwys na die wyse waarop iemand hierdie Tora-beginsel in die tyd van Jesus vertolk het, in teenstelling met wat Hy in die Tora geskryf het. Ons moet egter ook in ag neem wat Jesus voortgegaan het om in Sy onderrig te sê:

Mattityahu {5:39} “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. {5:40} En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. {5:41} En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.”

Dus, met behoorlike begrip van wie Jesus is en dit wat Hy sê, in die regte konteks te neem, kan ons sien dat Hy inderdaad nie Eksodus {21:23} weerspreek nie. Inteendeel, Jesus onderrig oor 'n totaal verskillende onderwerp. Hierdie onderwerp is nie geregtelik nie, soos in Eksodus {21:23} nie, maar leer ons eerder oor die onderwerp van wraak. Ons mag nooit, volgens Jesus, wraak neem nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-02-21