Gaan Jy /Lech Lecha | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
8 November 2008 / Chesvan 10 5769
Genesis / BeReshit 12:1-17:27
Jesaja / Yeshayahu 40:27-41:16
Romeine / Romim 4:1-25
Terwyl ek hierdie oordenking (Parasha) deurgelees het, is ek werklik getref deur die wyse waarop God (HaShem) in ons lewens werksaam is en deur Sy soewereiniteit. Ek dink julle sal verstaan wat ek bedoel wanneer ons die gebeure in Abram (Avram) se lewe bestudeer. Voordat ons egter dáár kom, wil ek graag hê dat ons allereers God se doel met alles wat Hy doen - vanaf die begin van Genesis tot nou in hierdie oordenking (Parasha) - sal onthou.
God (HaShem) het die aarde uitdruklik geskep vir die mens om te bewoon, bewerk en te bewaak. Hy wou wesens na Sy ewebeeld skep, wat Hom sou aanbid en met wie Hy 'n persoonlike verhouding en vriendskaplikheid kon hê. Die aard van hierdie interaksie sou vergelyk kon word met dié wat Hy met Adam en Eva (Chava) gehad het.
God het die mens met 'n vryheid van wil geskep, wat hom die vryheid toegelaat het om 'n keuse te maak om God te dien. Dit het hom, en later hulle, ook toegelaat om vrylik te kies om Hom selfs te verwerp. Adam en Eva het dus uit vrye wil verkies om God te verwerp en daardeur gesondig. As gevolg van hulle sonde, is die aarde met boosheid en geweld vervul, wat uiteindelik tot die sondvloed (Oordenking: Noag) gelei het. Nietemin, nog vóór die skepping van die aarde, het God (HaShem) alreeds geweet dat die mens se hart teen Hom sou draai.
Toe die bose, deur die sonde van Adam en Eva, die aarde binne gekom het, het sonde en bose inherent deel van die menslike natuur geword. Dus, ná Adam en Eva se sonde, het God reeds Sy plan van verlossing in aksie gestel - 'n plan wat die mensdom na Hom toe sou terugbring en die aarde tot sy oorspronklike toestand van die tuin van Eden (Gan Eden) sou herstel. Hierdie plan het behels dat God 'n volk vir Homself sou afsonder - 'n volk wat geheel-en-al verskillend van al die ander volkere op aarde sou wees. Dit het 'n proses - in Hebreeus "Bechira" (dit is "Goddelike verkiesing") aan die gang gesit.
Die "bechira" het soos volg geskied: Uit die kinders van Adam en Eva, het God vir Seth uitverkies en uit sy nageslag, vir Noag. Uit die nageslag van Noag, is Sem (Shem) uitverkies en uit sy nageslag, Abram, wat ons in Sy Goddelike uitverkiesing bring tot waar ons ons in hierdie oordenking bevind.
Deur hierdie oordenking (Parasha), wil ek graag verduidelik hoedat God die omstandighede gerangskik het om verder 'n nasie en 'n volk, wat aan Hom afgesonderd sou wees, te skep.
Genesis / Bereshit {12:1}" En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys."
God het die proses van "bechira" voortgesit deur Abram uit sy geboorteland te verwyder en hom te neem na die toekomstige woonplek van God se nasie en volk. Let daarop wat God besig was om te doen in die proses van 'n volk vir Homself af te sonder: Abram moes sy familie verlaat, maar het darem sy neef met hom saamgeneem, wat teenstrydig met God se opdrag was. (Meer hieroor aanstaande week in Parasha VaYera). Vervolgens het God hongersnood oor die land Kanaän laat kom, waardeur Abram Kanaän moes verlaat en na Egipte (Mitzrayim) toe gaan. Die probleem hiermee is dat God hom nooit aangesê het om weg te gaan nie - hy het self besluit om te gaan. Eindelik is Abram uit Egipte verdryf; dit het eers plaasgevind nadat Sara, Abram se vrou, 'n Egiptiese slavin, genaamd Hagar, in diens geneem het. Abram het toe teruggekeer na die land Kanaän, en nadat hy die land binnegegaan het, het God aan hom 'n seun belowe, wat deur Sara gebaar sou word. Weereens was Abram egter nie heeltemal gehoorsaam aan God nie.
Genesis / Bereshit {16:1}"Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het ‘n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar."
Vir Abram en Hagar is Ismael (Ishmael) gebore, maar hy was nie die seun van die belofte nie. Die seun van God se "bechira" sou uit Sarai gebore word. Isak (Yitzcak), God se "bechira" is uiteindelik deur Sarai ("my prinses") gebaar, nadat haar naam deur God verander is to Sara ("prinses van die menigte"). Abram ("'n hoë vader") se naam is ook deur God verander tot Abraham ("vader van 'n groot menigte"). Die "bechira" is voortgesit deur Isak na Jakob (Ya'acov) en deur Jakob het God Juda (Yehuda) uitverkies en deur Juda vir Dawid (David), en deur Dawid het Jesus (Yeshua) die Messias (HaMashiach) gekom.
Kom ons gaan nou so bietjie terug, sodat ek die doel van hierdie kommentaar kan voltooi, waardeur ons die opperheerskappy van God kan sien en hoedat Hy in ons lewens te werk gaan.
Toe ons hierdie D'var begin het, het ek verduidelik dat die hele doel met die skepping van die mens was dat hy God kon prys en daar 'n vriendskaplike verhouding tussen God en die mens kon bestaan. Die mens se vrye wil het egter die moontlikheid laat onstaan dat die mens nie vir God sou kies nie - wat inderdaad die geval was - en juis dit het die vervreemding tussen God en die mens veroorsaak. Na die sonde van Adam en Eva, het God sy verlossingsplan in werking gestel - 'n plan wat die mens na hom sou terubring en die aarde herstel tot die oorspronklike toestand van die tuin van Eden. Wat ek eintlik graag wil hê ons moet sien, is dat al die gebeure in Abram se lewe, vandat hy Ur van die Chaldeërs verlaat het tot-en-met die geboorte van Isak, alles deel uitgemaak het van God se verlossingsplan. Vir ons is dit maklik om die "bechira"-beginsel te volg aangesien dit ons lei na Jesus die Messias, maar Ismael het tog ook 'n deurslaggewende rol in God se plan gespeel.
Omdat God vooruit geweet het dat die kinders van Israel Jesus, as die Messias, sou verwerp - soos dit, trouens tot vandag steeds die geval is - is dit God se plan om die nageslag van Ismael in die herstel en verlossing van Israel in te sluit. Hoe beplan God om dit te doen? Om dié vraag te beantwoord hoef ons slegs te kyk na die huidige posisie waarin Israel hom bevind. Die land word omring deur vyandige nasies, waarvan die meerderheid van Ismael afstam. Hulle is vasbeslote om Israel te vernietig en geheel uit te wis, en juis daarvoor skaf hulle atoomwapens aan.
In die verlede, wanneer Israel deur uitwissing bedreig is, het hy op Egipte staatgemaak, maar God het hom gewaarsku:
Jesaja / Yeshayahu {31:1} “Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie. {31:2} Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk.”
Sedert die totstandkoming in 1948, vertrou Israel op die Verenigde State van Amerika vir sy veiligheid. Maar, net soos God Egipte uit Israel se beskermingsgroep uitgeskakel het, is Hy nou in die proses om die Verenigde State te elimineer. Weldra sal Israel op homself aangewese wees en wanneer daardie dag aanbreek, sal die aasvoëls op hom toesak en hy sal feitlik totaal uitgeroei wees.
Sagaria / Zecharyah {12:2} “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. {12:3} En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word. {12:4} In dié dag, spreek die HERE, sal Ek al die perde met verwarring slaan en hulle ruiters met waansin; maar oor die huis van Juda sal Ek my oë oophou, terwyl Ek al die perde van die volke met blindheid slaan. {12:5} Dan sal die stamhoofde van Juda in hulle hart sê: Die inwoners van Jerusalem is vir my ‘n sterkte deur die HERE van die leërskare, hulle God.
{12:6} In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ‘n pan met vuur onder ‘n hoop hout en soos ‘n brandende fakkel onder gerwe—hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem. {12:7} En die HERE sal eers die tente van Juda verlos, sodat die roem van die huis van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem dié van Juda nie sal oortref nie. {12:8} In dié dag sal die HERE die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese, soos die Engel van die HERE voor hulle uit. {12:9} Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg. {12:10} Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. {12:11} In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo. {12:12} En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik; die geslag van die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; {12:13} die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik. {12:14} Al die ander geslagte—elke geslag afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik."
Is dit nie ironies nie dat God Israel se vyande gebruik om hulle tot verlossing te bring en dit die nageslag van Ismael, seun van die slavin, sal wees om finaal die verlossing van die seuns van die "vry vrou" te volbring! Dit verleen nuwe betekenis aan die uitdrukking: "Om deur God gebruik te word".
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved