Saterdag 29 November 2008

Sien Jy 'n Esau (Esav) of 'n Jakob (Ya'acov)?

Generasies / Toldot | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

29 November 2008 / Kislev 2nd 5769

Genesis / BeReshit 25:19-28:9

Maleagi / Malachi 1:1-2:7

Romeine / Romim 9:1-13

Genesis / Bereshit {25:19} “En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak. {25:20} En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. {25:21} En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. {25:22} En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. {25:23} En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.

Die deel van hierdie skrifgedeelte, waarop ek fokus vir hierdie D'var Torah is:

Genesis/ Bereshit {25:23} “En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.”

Wanneer hierdie skrifgedeelte ontleed word, is daar 'n definitiewe parallelisme in God (HaShem) se antwoord. Twee nasies vergelyk met twee mense: één sterker, één swakker, die ouer een wat die jonger een dien, wat ooreenstem dat die oudste die jongste sal dien. God vertel vir ons hier ongetwyfeld iets baie belangrik.

Ons weet reeds dat die tweeling, selfs in Rebekka se skoot, teen mekaar gestry het. God het vir Rebekka gesê: "...twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam.". Dit is ook 'n duidelike teken dat die tweelingbroers vanuit die staanspoor nie met mekaar oor die weg sou kom nie.

Dit is baie interessant dat, soos wat 'n mens van die twee seuns lees wat volwasse geraak het, één 'n buitemens, 'n jagter, geword het - soos dit vandag as 'n, "macho" - man bekend staan - terwyl die ander een 'n tuisblyer was. Trouens, die tradisionele Judaïsme, leer ons dat Jakob sy tyd tuis bestee het deur die Woord van God (Torah) te leer en bestudeer by sy grootvader, Abraham. Die geldigheid van hierdie tradisie, kan natuurlik nie bekragtig word nie. Uit die verhaal van Jakob (Ya'acov) en Esau (Esav), sien ons dus die stryd tussen lig en duisternis, asook tussen goed en kwaad en tussen die Gees en die vlees.

Romeine / Romim {7:23} "maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. {7:24} Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? {7:25} Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! {7:26} So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde."

Wanneer die stryd tussen Jakob en Esau bestudeer word, is dit baie duidelik dat, alhoewel dié broers 'n tweeling van dieselfde vader en moeder was, die beloop van hul lewens heeltemal uiteenlopend was. Deur die geskiedkundige verloop, wat die onderskeie nageslag van die broers gevolg het, blyk dit dat hulle nie net twee afsonderlike nasies geword het nie, maar ook twee totaal afsonderlike volke. Die nageslag van Esau het sy eienskap aangeneem en 'n volk geword wat tot vandag nog behae skep in oorlog, geweld en 'n filosofie van dood. Jakob se nageslag, daarenteen, het weer sy eienskap aangeneem en is tot vandag toe God se oogappel, wat die seëninge geniet van 'n volk wat behae skep in die bestudering van die Torah, wat 'n filosofie van lewe verteenwoordig.

Johannes / Yochanan {10:10} “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê."

Hierdie oorvloedige lewe is beskikbaar aan almal wat dit soek, aan almal wat die naam van Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) as Here en Redder aanroep. As jy vandag jou lewe in oënskou neem en jy miskien 'n Esau sien, smeek Jesus die Messias om vergifnis en om jou in 'n Jakob te verander.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 15 November 2008

Leer om ander eerste te stel

En Hy het verskyn / VaYera | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

15 November 2008 / Cheshvan 17th 5769

Genesis / BeReshit 18:1-22:24

2 Konings / Melachim Bet 4:1-37

Lukas / Uri 1:26-38, 24:36-53

Genesis (Bereshit) {19:1} “En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe {19:2} en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. {19:3} Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle ‘n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet. {19:4} Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. {19:5} En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. {19:6} Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe {19:7} en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie. {19:8} Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.

Ek het al dikwels gewonder waarom Abraham (Avraham) nie aangehou het om met God te onderhandel en die aantal regverdiges te vinde in Sodom en Gomora, na miskien een of selfs twee verminder het nie, maar ek veronderstel dat God (HaShem) vanuit die staanspoor bedoel het om slegs vir Lot en sy gesin te red en die goddeloses om te bring, soos wat God met Noag (Noach) se geslag gedoen het.

Was Lot werklik waardig om gered te word? Dit lyk beslis so, want volgens die bovermelde Skrifaanhaling, was hy inderdaad 'n eerbare man. Dit het duidelik geblyk uit die feit hoe hy sy besoekers beskerm het.

Ek is al dikwels gevra waarom Lot bereid was om sy maagdelike dogters aan die manne van Sodom uit te lewer om hierdie twee manne, vreemdelinge, te beskerm teen misbruik. Lot het immers nie geweet dat dit engele was nie, waarom het hy dit dan gedoen? Die antwoord, na my mening, is eer. Die Torah leer ons om ons naaste lief te hê soos onsself. Dit leer ons ook om vreemdelinge goed te behandel. Lot se oom, Abraham, was bekend vir sy gasvryheid en ek is seker dat Lot sy Torah-gebruike juis by hom geleer het. Nietemin, wat ons hier geleer word, gaan myns insiens veel verder as gasvryheid - dit handel allereers oor ons naasteliefde. Ek glo dat God ons deut Lot se bereidwilligheid om sy dogters in plaas van hierdie vreemdelinge op te offer, 'n gebaar is wat weinig, indien enige van ons, ooit sou oorweeg. Hy wys ons wat dit werklik inhou om jou naaste so lief te hê soos jouself. Watter liefde is bereid om iets op te offer wat 'n mens meer koester as enigiets in die wêreld? As ouer, is ek seker julle besef die tyd, liefde en aandag wat aan die grootmaak van kinders bestee word. Ons kinders is tog eintlik 'n verlengstuk van onsself. Lot se dogters was nie so jonk nie - hulle was reeds verloof; dus met inagneming van die ouderdom waarop dogters in daardie jare getrou het, moes albei ouer as dertien gewees. Vir 'n minimum van dertien jaar, het Lot en sy vrou ouerliefde aan hierdie twee dogters betoon. Dink dus baie versigtig na oor wat Lot bereid was om prys te gee ter wille van naasteliefde en oorweeg dan hoedat jy sou reageer het indien deur dieselfde situasie gekonfronteer. Het jy jou naaste inderdaad so lief soos vir jouself?

Jesaja (Yeshayahu) {55:7} “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. {55:8} Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. {55:9} Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Verstaan julle dit? Ek dink nie Lot was - ten minste tot op hierdie punt - so regverdig nie. Die hele gebeurtenis is deur God beplan om Lot op die proef te stel. Kom ons kyk na die feite: Lot was geensins veronderstel om Ur saam met Abraham te verlaat nie. God het aan Abraham opdrag gegee om sy land, sy familie en sy vaderhuis te verlaat, wat hoegenaamd nie behels het dat hy hulle moes saam neem nie. Daar moes ongetwyfeld ';n goeie rede vir daardie opdrag gewees het en ek is oortuig daar was. Lot was nie juis 'n aanwins vir Abraham nie.

Lot se ware kleure en sy selfsug, selfgesentreerdheid het duidelik geblyk toe hy die beste deel van die land vir homself gekies het. Dit was sonder twyfel disrespekvol teenoor die senioriteit van Abraham. Maar, ek glo, dat deur hierdie finale daad van eer en onselfsugtigheid, Lot homself gered het en sy lewe asook dié van sy gesin. Indien Lot nie bereid was om sy dogters in plaas van die twee besoekers (engele) prys te gee nie, sou hy waarskynlik saam met al die ander goddeloses van Sodom en Gomorra omgekom het.

Ek hoop ons neem hierdie les van Lot ter harte want dit is 'n beginsel wat vir ons herhaal word deur Jesus (Yeshua) in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha).

Lukas (Uri) {9:24} “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Dinsdag 11 November 2008

Hy is die Goddelike Loot

Noach / Noah | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

1 Nobvember 2008 / Cheshvan 3rd 5769

Genesis / BeReshit 6:9-11:32

Jesaja / Yeshayahu 54:1-55:5

Matthéüs / Mattityahu 24:36-46

Genesis / Bereshit {6:11} “Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. {6:12} Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe. {6:13} En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.

Ek het slegs 'n kort skrifgedeelte uit die Noag-oordenking (Parasha Noach) aangehaal, maar as julle verder gelees het tot by vers 6:21, val iets baie interessant 'n mens op. In hierdie verse beveel God (HaShem) Noag om 'n ark te bou en verstrek Hy die presiese voorskrifte vir die konstruksie daarvan. Noag word wel meegedeel dat God die aarde gaan verdelg, maar nêrens in hierdie verse word hy gesê hoedat God dit sou doen nie. Selfs deur God se voorskrifte aan hom, sou Noag geen benul gehad het van wat 'n boot was of waarvoor dit gebruik sou word nie. Die konsep van dryfvermoë, stabiliteit en belading sou vir hom van geen betekenis gewees het nie omdat hy geheel-en-al 'n binnelander was. Daarbenewens, sou die blote begrip van rëen, wat 'n vloed veroorsaak, net so vreemd vir hom gewees het. Noag het nietemin die ark begin bou, sonder om tweemaal te dink.

Genesis / Bereshit {6:22}” En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.

Is dit dus geen wonder nie dat die outeur van die boek Hebrëers (Ivrim) Noag prys vir sy geloof?

Ivrim {11:7} “Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.

Waarna verwys die skrywer van Hebrëers met "geregtigheid wat volgens die geloof is"? Klaarblyklik, is dit die regverdige geloof, wat deur redding ontstaan, maar hoe is Noag dan gered? Uit die voorafgaande skrifgedeelte, is hy gered deur geloof - net soos ons gered word. Maar wat dan van Jesus (Yeshua). Ek het dan gedink daar is geen redding in enige ander naam, as in die naam van Jesus nie? Dit is waar, maar soos ons weet, is Jesus die vleesgeworde Woord. Ons weet ook dat die Woord in die begin was.

Johannes / Yochanan (John) {1:1} “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

{1:14} En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Dus, indien die Woord vóór die vleeswording bestaan het en Jesus die vleesgeworde Woord is, dan sou die heiliges van die Hebreeuse Skrifte (Tanach) gered moes word deur geloof in die voor-vleesgeworde Jesus. Hoe het Noag geweet van die komende vleeswoording? Op dieselfde wyse as wat Abel geweet het om diere te offer en Noag die verskil tussen rein en onreine diere geken het, wanneer dit by offerhandes kom; God het Hom geleer! In hul geloof, het hulle in God geglo en dus uitgesien na die kruis en die komende Messias (Mashiach), wat deur diereoffers voorafgegaan is.

Sommige mense probeer onderskei tussen God en die Messias, asof daar twee verskillende entitieite en twee verskillende wesens is. Die feit is egter dat dit één-en-dieselfde is. God is nie twee of drie nie, maar Een! Dus is Jesus of God of Hy is nie. Indien hy nie God is nie, dan is Hy ook nie die Messias nie. Redding kom nie deur 'n menslike Messias nie - selfs al is hy uit 'n maagd gebore. Die god, Tammuz, is volgens oorlewering ook uit 'n maagd gebore en sou vermoedelik redding aan sy aanbidders gebied het, maar tyd, geskiedenis en argeologie het die onegtheid daarvan bewys,. Daarenteen, het niemand oor tweeduisend jaar heen nog ooit bewys dat Jesus se aansprake vals is nie. Die begrip dat die Messias inderdaad God is, is nie van Christelike oorsprong nie. Die profeet Jeremia het honderde jare vóór die geboorte van Jesus die Messias hieroor geprofeteer:

Jeremia / Yirmeyahu {23:5} “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. { 23:6} In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.

In die oorspronklike Hebreeus verskyn albei kere wat die woorde "Die HERE" voorkom, in die viervoudige gebruik van die heilige woord Jahweh (Here)" Yed Hey Vay Hey (YHWH)". Hierdie onderskeiding in Hebreeus, verwys altyd na die Één Ware God en geen ander nie. Verder beteken die woord "loot" soos deur Jeremia gebruik, in Hebreeus "Tsamach", 'n Uitspruitsel" of "Loot"

Jesaja / Yeshayahu {11:1} “Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;

Hier verwys Jesaja ook na die Messias en gebruik die Hebreeuse woord "Netzer" (Loot), om Hom te beskrywe. Die naam Nasaréner is afgelei van die woord "Netzer". Jesus was van Násaret (=lootstad/-dorp) en daarom is Hy 'n Nasaréner (=loot) genoem.

Matthéüs / Mattityahu {2:23} “En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.”

Die profete het nooit gesê dat die Messias 'n Nasaréner genoem sou word nie. Wat het Matthéüs dus bedoel toe hy gesê het Jesus sal 'n Nasaréner genoem word?? Hy het bedoel dat hy "Die Loot" genoem sou word, aldus die profete, en dat Hy die "Goddelike Loot" is waarvan die profete gespreek het. Jesus die Messias is God in Vlees. Laat niemand julle andersins oortuig nie!!

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 08 November 2008

'n Nuwe Betekenis aan die Uitdrukking: "Om deur God gebruik te word"

Gaan Jy /Lech Lecha | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

8 November 2008 / Chesvan 10 5769

Genesis / BeReshit 12:1-17:27

Jesaja / Yeshayahu 40:27-41:16

Romeine / Romim 4:1-25

Terwyl ek hierdie oordenking (Parasha) deurgelees het, is ek werklik getref deur die wyse waarop God (HaShem) in ons lewens werksaam is en deur Sy soewereiniteit. Ek dink julle sal verstaan wat ek bedoel wanneer ons die gebeure in Abram (Avram) se lewe bestudeer. Voordat ons egter dáár kom, wil ek graag hê dat ons allereers God se doel met alles wat Hy doen - vanaf die begin van Genesis tot nou in hierdie oordenking (Parasha) - sal onthou.

God (HaShem) het die aarde uitdruklik geskep vir die mens om te bewoon, bewerk en te bewaak. Hy wou wesens na Sy ewebeeld skep, wat Hom sou aanbid en met wie Hy 'n persoonlike verhouding en vriendskaplikheid kon hê. Die aard van hierdie interaksie sou vergelyk kon word met dié wat Hy met Adam en Eva (Chava) gehad het.

God het die mens met 'n vryheid van wil geskep, wat hom die vryheid toegelaat het om 'n keuse te maak om God te dien. Dit het hom, en later hulle, ook toegelaat om vrylik te kies om Hom selfs te verwerp. Adam en Eva het dus uit vrye wil verkies om God te verwerp en daardeur gesondig. As gevolg van hulle sonde, is die aarde met boosheid en geweld vervul, wat uiteindelik tot die sondvloed (Oordenking: Noag) gelei het. Nietemin, nog vóór die skepping van die aarde, het God (HaShem) alreeds geweet dat die mens se hart teen Hom sou draai.

Toe die bose, deur die sonde van Adam en Eva, die aarde binne gekom het, het sonde en bose inherent deel van die menslike natuur geword. Dus, ná Adam en Eva se sonde, het God reeds Sy plan van verlossing in aksie gestel - 'n plan wat die mensdom na Hom toe sou terugbring en die aarde tot sy oorspronklike toestand van die tuin van Eden (Gan Eden) sou herstel. Hierdie plan het behels dat God 'n volk vir Homself sou afsonder - 'n volk wat geheel-en-al verskillend van al die ander volkere op aarde sou wees. Dit het 'n proses - in Hebreeus "Bechira" (dit is "Goddelike verkiesing") aan die gang gesit.

Die "bechira" het soos volg geskied: Uit die kinders van Adam en Eva, het God vir Seth uitverkies en uit sy nageslag, vir Noag. Uit die nageslag van Noag, is Sem (Shem) uitverkies en uit sy nageslag, Abram, wat ons in Sy Goddelike uitverkiesing bring tot waar ons ons in hierdie oordenking bevind.

Deur hierdie oordenking (Parasha), wil ek graag verduidelik hoedat God die omstandighede gerangskik het om verder 'n nasie en 'n volk, wat aan Hom afgesonderd sou wees, te skep.

Genesis / Bereshit {12:1}" En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys."

God het die proses van "bechira" voortgesit deur Abram uit sy geboorteland te verwyder en hom te neem na die toekomstige woonplek van God se nasie en volk. Let daarop wat God besig was om te doen in die proses van 'n volk vir Homself af te sonder: Abram moes sy familie verlaat, maar het darem sy neef met hom saamgeneem, wat teenstrydig met God se opdrag was. (Meer hieroor aanstaande week in Parasha VaYera). Vervolgens het God hongersnood oor die land Kanaän laat kom, waardeur Abram Kanaän moes verlaat en na Egipte (Mitzrayim) toe gaan. Die probleem hiermee is dat God hom nooit aangesê het om weg te gaan nie - hy het self besluit om te gaan. Eindelik is Abram uit Egipte verdryf; dit het eers plaasgevind nadat Sara, Abram se vrou, 'n Egiptiese slavin, genaamd Hagar, in diens geneem het. Abram het toe teruggekeer na die land Kanaän, en nadat hy die land binnegegaan het, het God aan hom 'n seun belowe, wat deur Sara gebaar sou word. Weereens was Abram egter nie heeltemal gehoorsaam aan God nie.

Genesis / Bereshit {16:1}"Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het ‘n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar."

Vir Abram en Hagar is Ismael (Ishmael) gebore, maar hy was nie die seun van die belofte nie. Die seun van God se "bechira" sou uit Sarai gebore word. Isak (Yitzcak), God se "bechira" is uiteindelik deur Sarai ("my prinses") gebaar, nadat haar naam deur God verander is to Sara ("prinses van die menigte"). Abram ("'n hoë vader") se naam is ook deur God verander tot Abraham ("vader van 'n groot menigte"). Die "bechira" is voortgesit deur Isak na Jakob (Ya'acov) en deur Jakob het God Juda (Yehuda) uitverkies en deur Juda vir Dawid (David), en deur Dawid het Jesus (Yeshua) die Messias (HaMashiach) gekom.

Kom ons gaan nou so bietjie terug, sodat ek die doel van hierdie kommentaar kan voltooi, waardeur ons die opperheerskappy van God kan sien en hoedat Hy in ons lewens te werk gaan.

Toe ons hierdie D'var begin het, het ek verduidelik dat die hele doel met die skepping van die mens was dat hy God kon prys en daar 'n vriendskaplike verhouding tussen God en die mens kon bestaan. Die mens se vrye wil het egter die moontlikheid laat onstaan dat die mens nie vir God sou kies nie - wat inderdaad die geval was - en juis dit het die vervreemding tussen God en die mens veroorsaak. Na die sonde van Adam en Eva, het God sy verlossingsplan in werking gestel - 'n plan wat die mens na hom sou terubring en die aarde herstel tot die oorspronklike toestand van die tuin van Eden. Wat ek eintlik graag wil hê ons moet sien, is dat al die gebeure in Abram se lewe, vandat hy Ur van die Chaldeërs verlaat het tot-en-met die geboorte van Isak, alles deel uitgemaak het van God se verlossingsplan. Vir ons is dit maklik om die "bechira"-beginsel te volg aangesien dit ons lei na Jesus die Messias, maar Ismael het tog ook 'n deurslaggewende rol in God se plan gespeel.

Omdat God vooruit geweet het dat die kinders van Israel Jesus, as die Messias, sou verwerp - soos dit, trouens tot vandag steeds die geval is - is dit God se plan om die nageslag van Ismael in die herstel en verlossing van Israel in te sluit. Hoe beplan God om dit te doen? Om dié vraag te beantwoord hoef ons slegs te kyk na die huidige posisie waarin Israel hom bevind. Die land word omring deur vyandige nasies, waarvan die meerderheid van Ismael afstam. Hulle is vasbeslote om Israel te vernietig en geheel uit te wis, en juis daarvoor skaf hulle atoomwapens aan.

In die verlede, wanneer Israel deur uitwissing bedreig is, het hy op Egipte staatgemaak, maar God het hom gewaarsku:

Jesaja / Yeshayahu {31:1} “Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie. {31:2} Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk.”

Sedert die totstandkoming in 1948, vertrou Israel op die Verenigde State van Amerika vir sy veiligheid. Maar, net soos God Egipte uit Israel se beskermingsgroep uitgeskakel het, is Hy nou in die proses om die Verenigde State te elimineer. Weldra sal Israel op homself aangewese wees en wanneer daardie dag aanbreek, sal die aasvoëls op hom toesak en hy sal feitlik totaal uitgeroei wees.

Sagaria / Zecharyah {12:2} “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. {12:3} En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word. {12:4} In dié dag, spreek die HERE, sal Ek al die perde met verwarring slaan en hulle ruiters met waansin; maar oor die huis van Juda sal Ek my oë oophou, terwyl Ek al die perde van die volke met blindheid slaan. {12:5} Dan sal die stamhoofde van Juda in hulle hart sê: Die inwoners van Jerusalem is vir my ‘n sterkte deur die HERE van die leërskare, hulle God.

{12:6} In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ‘n pan met vuur onder ‘n hoop hout en soos ‘n brandende fakkel onder gerwe—hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem. {12:7} En die HERE sal eers die tente van Juda verlos, sodat die roem van die huis van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem dié van Juda nie sal oortref nie. {12:8} In dié dag sal die HERE die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese, soos die Engel van die HERE voor hulle uit. {12:9} Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg. {12:10} Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. {12:11} In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo. {12:12} En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik; die geslag van die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; {12:13} die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik. {12:14} Al die ander geslagte—elke geslag afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik."

Is dit nie ironies nie dat God Israel se vyande gebruik om hulle tot verlossing te bring en dit die nageslag van Ismael, seun van die slavin, sal wees om finaal die verlossing van die seuns van die "vry vrou" te volbring! Dit verleen nuwe betekenis aan die uitdrukking: "Om deur God gebruik te word".

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 18 Oktober 2008

Stap op Hoogtes

Tabernakel / Sukkot | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

18 Oktober 2008 / Tishri 19th 5769

Eksodus / Shemot / Exodus 33:12-34:26

Esegiël / Yechezekiel / Ezekiel 38:18-39

1 Thessalonicense / Tesolonikim Aleph 5:1-11

In plaas daarvan om volgens die lys van weeklikse oordenkings (Parashat HaShavua) oor "Oordenking Tabernakel" (Parasha Sukkoth) (Eksodus / Sh'mot 33:12 -34:26) te skrywe, het ek verkies om hierdie week kommentaar te lewer oor "Oordenking: En dit is die Seën" (Parasha V'Zot HaBracha) (Deuteronomium / Devarim 33:1-34:12). Hierdie oordenking (Parasha) word selde op 'n Sabbat (Shabbat) gelees, met die gevolg dat ek by uitsondering daaroor kommentaar kan lewer. Die betrokke oordenking (Parasha) word altyd op Verblyding in die Torah (Simchat Torah), gelees - dit is 'n nie-Bybelse vakansiedag waarop die finale oordenking van Deuteronomium (Parasha Devarim) gelees en die Torah teruggerol word na Genesis (Bereshit), om sodoende die Torah - leessiklus weer van vooraf te begin. "En dit is die Seën" (V'Zot HaBracha) is dus die finale oordenking (Parasha) van die leessiklus van die Torah.

Hierdie finale oordenking (Parasha) bevat die laaste woorde van Moses (Moshe), die profeet, aan die stamme van die kinders van Israel (bnei Yisrael). Meeste kommentators is van mening dat die profesieë, wat Moses (Moshe) in hierdie verse van die Skrif uitspreek op een of ander tydstip in die geskiedenis van Israel (Yisrael) reeds vervul is. Ek glo egter dat dit op die hele Skrif toepaslik is - selfs die toekoms. Juis dit glo ek, is die geval in die volgende skrifgedeelte van Parasha V'Zot HaBracha

Deuteronomium / Devarim {33:26} "Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid. {33:27} Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg! {33:28} So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in ‘n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup. {33:29} Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap."

"...sodat jou vyande - hulle al kruipende aan jou onderwerp; en jy sal op hulle hoogtes stap.". Ek veronderstel dat julle glad nie dink dat daar iets soos "hoogtes" is waarop Israel vandag sou kon stap nie? In werklikheid is daar wel. Ek bedoel nie dat Israel Tibet of Kilimanjaro gaan verower nie. Die "hoogtes", waarna hier verwys word, is die hoogtes van aanbidding van sy vyande, wat in sy midde woon asook hulle wat hom omring. In antieke tye het afgodsdienaars hul altare op hoë heuwels en berge gebou. Vandag egter, in baie Islamieties lande, wat wel nie-Moslem aanbiddingsplekke in hul land toelaat, mag sodanige geboue waarin hulle aanbid of enige deel daarvan, nie hoër as 'n moskee wees nie - dit geld natuurlik ook vir sinagogekoepels en kerktorings. Ek glo dit is waar die Moslems die praktyk begin het om hul aanbiddingsplekke met hoë torings te bou, vanwaar die Muezzin (hul geestelikes) hul gelowiges roep om hul god vyf maal per dag te kom aanbid.

Huidig is daar in Israel Islamitiese moskees met hoë torings oral deur die land sigbaar; trouens, daar is beswaarlik 'n stad of dorp in Israel, waar jy nie een of selfs meer Moslemtorings sal sien wat die lug in troon nie. Gereeld vyfmaal per dag, kan 'n mens die muezzins se gebedsoproep aan hul gelowiges vanaf die torings hoor. Dit is inderdaad so, selfs wanneer jy by die Klaagmuur (Kotel) in Jerusalem besig is om te bid.

Niks is vir my so steurend as wanneer ek by die Klaagmuur (Kotel) bid en die deurdringende geluid van die muezzin se oproep weerklink oor luidsprekers vanaf die Rotskoepel nie. Maar dit is nie slegs Moslems wat hoogtes in Israel het nie. Daar is ook die Bahai'-tempel wat oor die stad Haifa troon.

Nietemin verseker Moses (Moshe) ons in "Oordenking: En dit is die Seën" (Parasha V'Zot HaBracha) dat hierdie hoogtes eendag nie meer sal bestaan nie. Hy voorspel trouens dat hulle nie slegs langer sal bestaan nie, maar Israel op hulle sal stap. Ek dink die beeld wat hier vir ons verduidelik word, is dat almal eendag die Een Ware God van Israel sal aanbid.

Filippense / Pilifim {2:10} “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, {2:11} en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Kom gou, Here Jesus!

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 11 Oktober 2008

Jy Kan Jou Lewe Aan Hom Toevertrou

Luister / Ha'Azinu | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

11 Oktober 2008 / Tishri 12th 5769

Deuteronomium / Devarim 32:1-52

2 Samuel / Sh'muel Bet 22:1-41

Romeine / Romim 10:14-11:12

Deuteronomium / Devarim {32:30} ”Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie! {32:37} Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het, {32:38} wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle ‘n beskerming kan wees! {32:39} Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.”

Uit hierdie Skrifgedeelte, is dit vanselfsprekend dat God (HaShem) geheel-en-al, 100% betrokke is by - en in beheer van ons lewens is. As ons voorspoed beleef, is dit Hy wat dit laat gebeur. Eweneens, as ons teëspoed ervaar, is Hy die een wat dit stuur of toelaat. Ons begryp nie altyd waarom en hoe God beskik nie, maar wat ons wel altyd kan wéét is dat jy Sy kind is en Sy Naam oor jou uitgeroep is, dan is alles wat Hy doen - goed of kwaad, voor - of teëspoed - tot ons voordeel en toename in volwassenheid as gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach).

Die probleem met baie mense is dat hulle hul vertroue in ander dinge as in God stel. Mense verkies om hul eie kop te volg, sonder om die gevolge daarvan of selfs die welsyn van ander in ag te neem. Die kinders van Israel (bnei Yisrael) het juis hul vertroue in ander gode, wat nie gode was nie, gestel en gevolglik het húl God (HaShem) hulle in hul nood, aan daardie nie-gode oorgelewer. Vanselfsprekend het hulle geen hulp van dié gode ontvang nie. Ons, daarenteen, maak staat op die regering, gewapende magte, sekuriteitstelsels, lyfwagte, 'n groter polisie-teenwoordigheid, vermy om saans alleen buite te stap en leer die kuns van selfverdediging en / of koop vuurwapens. Wat ons in werklikheid eintlik gedoen het, is dat ons die voorafgaande dinge óns gode gemaak het: ons het dit geskep en daarop staatgemaak, Daardeur is ons hoegenaamd nie beter as die kinders van Israel (bnei Yisrael) nie en sal ons, as gevolg daarvan, dieselfde verdiende loon ontvang, as wat die kinders van Israel (bnei Yisrael) ontvang het: Oordeel!


Wanneer ons alarmstelsel ons in die steek gelaat het en ons beroof word, sal God vir ons sê:" Julle het op 'n alarmstelsel staatgemaak; laat dít julle nou help". Indien ons aangeval word en ons vuurwapen is toevallig nie byderhand nie, sal God sê:" Julle het op jul vuurwapen vertrou; laat dit nou vir julle van hulp wees". Erken dit maar! Wat dit ookal is waarop julle vertrou, dit het julle jul God gemaak. Die probleem is egter dat daar geen god soos die ware God is nie! As gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach), word dit van ons verwag om in God (HaShem) te glo en op Hom te vetrou. Hierdie geloof en vertroue is egter nie bloot nog 'n vorm van wensdenkery nie; ongunstige slegte dinge kan nogtans met ons gebeur, maar dan wéét ons dat God vir ons daar sal wees. Met die hulp van God, sal ons dit nie op ons eie hoef te hanteer nie, maar wel die nodige uitkoms ontvang om soos 'n Feniks uit die as te verrys. Ons beskutting is nie daarin geleë om die risiko gering te skat of ons vertroue in self-geskepte gode te stel nie; ons veiligheid is gegrond op die beloftes van God en ons geloof in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach). Dit is, trouens, geleë in die goeie nuus dat daar 'n Goddelike, sterke alvermoënde God is, wat vir ons lief is en altyd besig is om oor ons te waak en beskerm.


Tehillim (Psalms) {118:5} “Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte. {118:6} Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens my doen?”

God (HaShem) het ons verseker dat Hy met ons is, al gaan ons selfs in die dal van doodskaduwee. Waarom sou iemand wat deur Jesus die Messias (Yesua HaMashiach) in God glo, dan die bose vrees? Niks kan ons skei van die liefde van God nie - hoor julle my - hoegenaamd niks nie! In Sy omhelsende arms, leef, beweeg en is ons.

Dit is inderdaad 'n skande dat ons uit voeling geraak het met die ryk beeltenisse, wat die Bybel ons leer, van God as ons hulp en ons hoop en dat ons onsself na vuurwapens, slotte en selfverdedigingsmetodes moet wend vir beskerming en ons sekuriteitsgevoel. Ons moet eerder ons sondes van selfvertroue bely en ons vertroue weer stel waar dit eintlik behoort - in God!

Jesaja / Yeshiyahu {41:10} “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

Op grond van só 'n belofte, waarom sou 'n mens dan enigiets anders as God (HaShem) vertrou? Jesus (Yeshua) se liefde vir elkeen van Sy kinders, hulle oor wie Sy naam uitgeroep is en Sy Naam aanroep, is verseker. Julle kan julle lewe aan hom toevertrou, en wat meer is, ook julle geliefdes aan Hom toevertrou. Hy sal dáár wees, wanneer julle Hom nodig het.

Johannes / Yochanan {10:12}” Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. {10:13} En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie. {10:14} Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. {10:15} Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved