Saterdag 29 Julie 2017

Sabbat is gemaak vir die mens

Matot-Masei
(Stamme – Reise)



Numeri / BaMidbar {31:21} “En die priester Eleásar het aan die krygsmanne wat na die oorlog getrek het, gesê: Dit is die wetsinsetting wat die HERE Moses beveel het. {31:22} Net die goud en die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood— {31:23} elke ding wat in die vuur kan kom—moet julle deur die vuur laat deurgaan, en dit sal rein wees; ewenwel moet dit deur reinigingswater ontsondig word; maar alles wat nie in die vuur kan kom nie, moet julle deur die water laat deurgaan. {31:24} Julle moet ook jul klere op die sewende dag was; dan sal julle rein wees; en daarna mag julle in die laer kom. “


Dagsê, al julle wetsgeleerdes! Het julle dít gelees? God het vir die krygsmanne wat na die oorlog opgetrek het, beveel om op die sewende dag hul klere te was. Dit beteken dat die sewende dag heelmoontlik op 'n Sabbat kon geval het, want 'n oorlog wat op 'n Sabbat ten einde loop, sou beteken dat die klere op die Sabbat gewas moes word! Hoe kan dit moontlik wees? Hoe kan God ons in Sy Woord beveel om nie op die Sabbat te werk nie en tog teenstrydig daarmee, dié manne beveel om hulle klere op die sewende dag – selfs indien dit op die Sabbat val – te was? Die antwoord is doodeenvoudig en Jesus die Messias het dit vir ons in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) verstrek.


Markus / Mordechai {2:27} “En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.”


Wat hierdie vers eintlik sê, is dat ons nie gemaak is om die Sabbat te dien nie; die Sabbat is gemaak om óns te dien. Die Sabbat was 'n verpligte rusdag. Dit was vanselfsprekend ongehoord in die heidense wêreld.


God is nie wetties nie; Hy is vol medelye, 'n liefdevolle en begrypende God. Hierdie krygsmanne in ons Parasha het pas 'n oorlog ten behoewe van God gevoer. Ons weet nie presies hoe lank die oorlog geduur het nie – waarskynlik vir etlike dae – of op welke dag dit geëindig het nie. Die krygsmanne was ongetwyfeld vermoeid en uitgeput. Nadat die oorlog deur hulle gewen en alles verby was, sou hulle sekerlik niks meer verlang het as om huis toe, na hul onderskeie gesinne te gaan nie. Voordat hulle egter die laer kon binnegaan, moes hulle God se opdrag gehoorsaam. Hulle moes naamlik die gebod nakom om vir sewe dae buite die laer te bly en op die sewende dag hulself te reinig en hulle klere te was. Slegs nadat dit alles nagekom is, kon hulle die laer weer binnegaan. Soos hierbo gemeld, is dit geheel-en-al moontlik dat die sewende dag op die Sabbat kon geval het. Indien wel, sou God, die medelyende God, werklik hierdie manne 'n dag langer laat wag het voordat hulle na hul gesinne kon terugkeer? Ek dink nie so nie! Hy sou hulle toelaat om hulle klere te was, selfs op 'n Sabbat, met die veronderstelling dat hulle sonder verdere vertraging die laer kon binnegaan en met hulle gesinne verenig word.


Markus / Mordechai {3:4} “Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ‘n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly.”
Vanselfsprekend is dit wettiglik korrek om op die Sabbat goed te doen. Dus, selfs indien hierdie krygsmanne die vereiste sewe dae buite die laer moes bly, was die hereniging van hulle met hul geliefdes, nadat hulle die gruwelikhede van oorlogvoering deurgemaak het, ongetwyfeld iets goeds en gevolglik ook wettig – selfs al sou dit beteken dat hulle hul klere op die Sabbat sou moes was.


Sommige mense behoort hulself deeglik te ondersoek asook die mensgemaakte reëls wat hulle vir hulself en andere oplê. In sekere gedeeltes van die Tora en onder bepaalde omstandighede, mag God moontlik nie so dogmaties of ongenaakbaar wees, soos ons dink of Hom voorstel nie.


Terwyl ek nie weet of enige van hierdie krygsmanne in die wasserybedryf gedurende hul 9vm – 5nm dagtaak was nie, is ek oortuig dat, wat die getroudes betref, dit hul vrouens was wat die wasgoed gewas het en nie diegene wat teruggekeer het huis toe nie. Kan wat van hulle vereis word om te doen, indien dit op die Sabbat geval het, regtig as werk geklassifiseer word? Blykbaar nie!

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2010-07-10

Saterdag 22 Julie 2017

Wetlike Reg

Pinchas
(Phineas)

Wetlike Reg

Numeri / BaMidbar {27:1} ”Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa— {27:2}  en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: {27:3}  Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.{27:4}  Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader. {27:5}  Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. {27:6}  En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {27:7}  Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. {27:8}  En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan. ”

Van al die Skrifgedeeltes in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), het hierdie één gedeelte besondere betekenis wanneer dit kom by Jesus die Messias en Sy fisiese reg om Koning in Israel te wees. Hoe is dit moontlik, aangesien hierdie Skrifgedeelte dan op die dogters van Selofhad en die verdeling van sý erflike besitting, in die tyd van Moses, betrekking het? Selofhad se dogters, omdat hulle vroue was, sou van hulle erfreg ontneem word aangesien sowel erfreg as verdeling van grond uitsluitlik deur die seuns en nie deur die dogters geskied het. Selofhad het sonder ‘n seun gesterf maar het vyf dogters gehad.

Hoe kan hierdie Skrifgedeelte dan van betekenis wees ten opsigte van Jesus die Messias? Wanneer ‘n mens in ag neem dat erfreg uitsluitlik deur die seun(s) gegeld het, is dit inderdaad besonder betekenisvol. Dit begin alles by Jesus die Messias se geslagsregister, soos dit deur Lukas (Uri) aangeteken is.

Lukas het in onderhouding van die Joodse wette, die geslagsregister van Jesus noukeurig nagegaan. Ten einde dit te doen, mag vroue name (selfs nie eers Maria (Miriam), moeder van Jesus) vermeld word nie. Dit was juis deur Maria se nakomelingskap, dat hy die koninklike geslagslys van Jesus nagevors het. Lukas het ook geensins name oorgeslaan nie, wat volgens nog ‘n verdere streng Joodse wet verbode was. Hy het in die geslagsregister aangedui dat Jesus koning kon gewees het omdat Hy van die huis van Dawid was, maar nie van die geslag van koning Gonja nie, op wie ‘n vloek gerus het.

Jeremia / Yermiyahu {22:28} ”Is hierdie man Gonja ‘n veragte, verbryselde voorwerp, of ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ‘n land wat hulle nie ken nie? {22:29}  o Land, land, land, hoor die woord van die HERE! {22:30}  So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ‘n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.”

Lukas het sy evangelie begin met die maagdelike geboorte en vertel dat dit vermoed was dat Jesus die seun van Josef  was, maar eintlik die kleinseun van Heli. Die feit is dat Heli die vader van Maria was, maar Josef nie Jesus se biologiese vader was nie. Lukas wou Jesus se geslagsregister dus deur Maria nagaan en daarom het hy Hom met Miriam se vader geassosieer. In geskrifte van die eerste-en tweede eeu, het rabbis algemeen verwys na Jesus as die “die seun van Heli”. Dit is in die Joodse geskiedenis ook hoegenaamd nie vreemd dat ‘n man se herkoms deur sy vrou nagetrek word nie en dit is wat Lukas inderdaad probeer doen het. Hy het Jesus se afkoms deur Maria, as Josef se vrou nagetrek, aangesien Josef nie Sy biologiese vader was nie. In twee hebreeuse geskrifte (Tanach) kom voorbeelde van hierdie metode voor: Esra (Ezra) 2:60 – 61 en Nehemia 7:63. Dit is dus, volgens Bybelse standaarde, niks ongewoons nie.

Wat ons in die betrokke geslagsregister van Lukas vind, was die moontlikheid dat Heli slegs ‘n dogter (Maria) nagelaat het maar geen seun nie. Indien dit juis is kan ons uit vandeesweek se parasha aflei dat Maria wel toegelaat is om van haar vader te erf. Daarbenewens sou Maria die ander Tora-vereiste nagekom het, naamlik van vroulike erfenis deur haar huwelik met iemand uit haar eie stam:

Numeri / BaMidbar {36:6} ”Dit is die saak wat die HERE aangaande die dogters van Selófhad beveel het deur te sê: Laat hulle die vroue word van hom wat goed is in hulle oë; hulle moet net trou in ‘n geslag van die stam van hulle vader, {36:7}  sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie; want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou. {36:8}  En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.”

Sowel Maria as Josef was uit die stam van Juda (Judah). Gevolglik kon sy oorerwing van die geslag van Dawid, vanaf haar vader na haar Seun oordra. Jesus het dus oor die wetlike reg beskik om deur Sy moeder, Maria, die fisiese koning van Israel te wees. God het sodoende die weg vir Jesus die Mesias berei om die ewige Koning van Israel te wees.

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2010-07-03

Saterdag 15 Julie 2017

Vermy om Vervloek te Word



Balak
(Balak)

Numeri / BaMidbar 19:1 – 25:9
Miga / Mikha 5:6 – 6:8
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 1:20 - 31

Numeri / BaMidbar {22:2} “Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het, {22:3} het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel. {22:4} Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab. {22:5} Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. {22:6} Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.”

Numeri / BaMidbar {23:7} “En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel. {23:8} Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?”

Deur die hele parasha, parasha Balak, te lees, verneem ons dat ofskoon die inhalige Bileam sy uiterste bes probeer het, was dit vir hom onmoontlik om die kinders van Israel te vervloek; trouens, volgens vers 8 hierbo, het hy sy onvermoë om te vervloek wat God geseën het, erken. Ek dink dit is 'n les wat elkeen van ons moet te harte neem en verstaan. Die satan is nie in beheer van wie vervloek word of nie vervloek word nie! Vanselfsprekend is God in volkome beheer van wie geseën en wie vervloek word. Dit is 'n feit dat, sonder God se vooraf-goedkeuring, die satan onmagtig is. As julle vir 'n enkele oomblik dink dat iemand te eniger tyd 'n vloek oor 'n wedergebore kind van God kan uitspreek, is julle ongetwyfeld op 'n dwaalspoor! Gedurende die jare wat ek 'n Messiaanse leier was, het ek tot my grootste ontsteltenis, mense teëgekom wat beweer het dat 'n mens vervloek kan word. Onder sekere voorwaardes kan ‘n mens wel vervloek word. Wat is daardie voorwaardes? Die eerste en vanselfprekende rede is indien 'n mens nie in Jesus die Messias glo nie en Hom nog nie as jou Here en Redder aangeneem het nie. Die tweede is indien jy wel in Jesus die Messias glo, maar doelbewus of onwetend gesondig het, sonder om dit te berou.

Daar is slegs één van twee kampe waarin 'n mens kan verkeer: óf in God s'n óf in die satan s'n!

Die satan is heerser oor die magte en vorstedom van die aarde, met ander woorde, hy beheer die algehele wêreldstelsel, soos ons dit vandag ken. Juis om hierdie rede is daar soveel boosheid op aarde.

Met die val van die mens, toe Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het sonde die wêreld binnegekom en daardeur die mensdom in slawerny onder die satan, heerser oor sonde, gedompel. God, wat sonde nie kan duld nie, omdat Hyself sondeloos is, het gevolglik die mensdom die rug gekeer en die mens was nie langer onder God se beskerming nie – hulle was vervloek. Die korban (toenaderingsoffer) – stelsel, soos deur God ingestel en in die Boek van Levitikus (Vayikra) uiteengesit, het daardie situasie herstel deur die gebruik van plaasvervangende offerandes. Deur belydenis en berou is iemand se sonde oorgedra op 'n sondelose dier en daardie dier se bloed gestort, in plaas van die sondaar s'n.

Levitikus / YaYikra {17:11} “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

Hierdie korban-stelsel was 'n skadubeeld van die korban waardeur God uiteindelik Homself voorsien het deur as mens na die aarde toe te kom. Slegs God kon die vereistes van Sy eie wet van sonde wat die dood meebring, vervul deur vir ons te sterf. Wie dit aanvaar en homself vereenselwig met wat God vir óns gedoen het, deur Jesus die Messias as Lam van God, wat ons sondes wegneem, te voorsien, word 'n kind van God en is gevolglik onder Sy beheer en beskerming.

Die kinders van Israel was deur die Korban-stelsel beskerm terwyl hulle op die vlaktes van Moab was. Vir solank as wat hulle in 'n voortdurende gesindheid van belydenis en berou verkeer het, was hulle onder God se beskerming en kon hulle dus nie vervloek word nie. Sodra hulle egter die terrein van sonde betree het – soos ons in aanstaande wwek se parasha sal sien – het God Sy beskerming onttrek en het hulle die gebied van die bose binnegegaan, waar God toegelaat het dat hulle vervloek word. Dit het die dood van duisende tot gevolg gehad. Let gerus op die volgende Skrifgedeelte:

1 Samuel / Shmuel Aleph {18:9} “En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. {18:10} Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ‘n spies in sy hand hou.”

Koning Saul was vroeër 'n gelowige en dus onder God se beskerming maar sodra hy begin sondig het, is die beskerming van God onttrek en het hy onder invloed van die satan verval. Die bose gees, waarna in die bovermelde aanhaling verwys word, was egter van God afkomstig! Dit bevestig wat ek reeds gesê het, dat die satan tot niks in staat is, sonder dat God dit toelaat nie. God sal die satan ook nie toelaat om mense wat in Jesus die Messias glo, te vervloek nie, op voorwaarde dat hulle in 'n voortdurende gesindheid van belydenis en berou verkeer.

Hoe kan jy vermy om vervloek te word? Neem Jesus die Messias aan as jou Here en Redder, leef dan voortdurend in 'n voortdurende gesindheid van belydenis en berou en word sodoende van 'n sondaar tot 'n heilige omskep.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-06-26

Saterdag 08 Julie 2017

Hulle Het Hul Toets Gedruip

Chukat
(Statute)




Hulle Het Hul Toets Gedruip


Numeri / BaMidbar {20:1} ”En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe. {20:2} En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom. {20:3}  En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het! {20:4} En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe? {20:5}  En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.”


Kan dit moontlik dieselfde kinders van Israel wees wat, toe Moses hulle aangebied het om die Beloofde Land (‘n land wat vloei van melk en heuning, ‘n land waarvandaan ‘n druiwetros op ‘n paal tussen twee mans gedra moes word) binne te gaan geweier het? Waarom beskuldig hulle Moses en Aäron dan nou dat hulle hul na hierdie plek van verlatenheid gebring het en húlle aanspreeklik hou daarvaar dat hulle in die woestyn verkeer? Hierdie mense het die geleentheid gehad om die goeie en voorspoedige land wat God aan hulle beloof het, binne te gaan maar hulle was opstandig en het geweier om dit te doen. Ja, hulle het die geleentheid verwerp om ‘n oorvloed van vye, druiwe en granate te geniet aangesien ‘n paar negatiewe mense hulle vertel het van die reuse wat die land bewoon het.


As ‘n mens daaroor nadink, het daar in die afgelope vyfduisend jaar nie veel in die Beloofde Land verander nie. Dit is steeds ‘n skrikaanjaende plek want ofskoon Israel die grootste gedeelte daarvan besit, is daar nogtans vyandelike groepe wat nooit verdryf is nie.


Numeri / BaMidbar {33:55} ”Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56}  En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.”

Hierdie Skrifgedeelte is vandag nog netso ‘n realiteit soos op die dag waarop dit geskryf is. Dié inwoners van die land vertoorn Israel; hulle is vandag ‘n doring in hul vlees en prikkels in hul oë. Israel word tans nog netso omring deur vyande soos duisende jare gelede. Die bedreiging is nie slegs van binne nie maar ook van buite. Die enigste werklike oplossing, wat deur God voorgestel is, naamlik om hulle te verdryf, is vandag ondenkbaar. Dit is slegs moontlik indien Israel met die res van die sekulêre wêreld wil tredhou, wat wel die geval is. Maar God se Woord is waar en ons lees en hoor daagliks, oor en oor, in die media die gevolg van Israel se ongehoorsaamheid.


Wat selfs meer onstellend is, is dat meeste Jode wat in die Diaspora woon – wat in werklikheid méér is as diegene wat tans in die land Israel woon – onwillig is om na Israel te immigreer om redes wat maar alte bekend klink: “Dit is te gevaarlik dáár. Ek wil nie hê my kinders moet weermag toe gaan nie. Die land word omring deur vyandige nasies” ensovoorts. Wat is dit nou eintlik wat hulle sê? Dit is presies dieselfde as wat meer a vyfduisend jaar gelede gesê is: “Ons sal nie ingaan nie omdat daar reuse in die land is!”


Daarbenewens is Israel as ‘n volk uiters sekulêr. Hulle het ‘n vorm van Godsdiens, maar verloën die mag daarvan. Godsdiens is vir meeste Israeli’s bloot ‘n tradisie en allermins ‘n verhouding met hul God.


Rigters  / Shoftim {2:21} ”sal Ek ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly het, voor hulle uit verdrywe nie— {2:22}  om Israel deur hulle op die proef te stel, of hulle die weg van die HERE sal hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie. {2:23}  Daarom het die HERE daardie nasies laat oorbly sonder om hulle dadelik te verdrywe, en hulle nie in die hand van Josua gegee nie.”


Ons sal sekerlik saamstem dat die kinders van Israel tot dusver hul toets jammerlik gedruip het!


Kom gou Jesus!




Voorheen uitgegee: 2010-06-19

Saterdag 01 Julie 2017

Die Erns van Leierskaphoedanigheid

Korach
(Korag)
Die Erns van Leierskaphoedanigheid

Numeri / BaMidbar {18:1} ”En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra. {18:2}  En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is. {18:3}  En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie. {18:4}  Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en ‘n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie. {18:5}  En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie.”

Hierdie gedeelte bevat etlike baie ernstige instruksies! Trouens, so ernstig dat ons myns insiens weer daarna moet kyk.

Numeri / BaMidbar {18:1} ”En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra.”

Begryp julle wat dit beteken? Dit beteken dat Aäron en sy seuns aanspreeklik gehou sou word vir alles wat in die tabernakel plaasgevind het. Dit behels dat al die toenaderingsoffers (korbanot) deur die mense gebring, al die voorskrifte betreffende belydenis en berou, en voorskrifte met betrekking tot die bedryf van die tabernakel, alles wat plaasgevind het en verrig is en alles onderrig deur óf Aäron óf sy seuns, selfs aan diegene (Leviete) in sy vader se huis, húl verantwoordelikheid was. Om op te som: indien enigeen van hulle op welke wyse ookal fouteer het, iets verkeerds gesê of gedoen het, hulle selfs teenoor hul vader se huis, aanspreeklik gehou word. Ons het ‘n voorbeeld van wat die gevolge van aanspreeklikheid was toe Nadab en Abihu, seun van Aäron, fouteer en gevolglik gesterf het. Ek weet nie van julle nie maar dit sou my tweemaal laat dink het voordat ek die verantwoordelikheid van ‘n priester sou aanvaar het!

Dit is egter ‘n feit dat hierdie swaar verpligting van aanspreeklikheid tot vandag toe nog op gemeenteleiers rus en ek bedoel nie slegs op die rabbi nie, maar eerder op elkeen in ‘n leierskaphoedanigheid.

Jakobus / Ya’acov {3:1} “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.”

Dit klink sekerlik soortgelyk aan wat on sopas hierbo gelees het. Dieselfde swaar aanspreeklikheid wat Aäron en sy gesin opgelê is, word, trouens, in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) uitgebrei na elkeen in ‘n leierskap hoedanigheid.

Ek kan julle verseker dat ek hierdie aanspreeklikheid elke keer terdeë besef wanneer ek iets hier by die Gemeente Melech Yisrael doen. Dit kon moontlik die rede wees dat mense my soms as streng en ontoegewend beleef. Ek beskou dit egter dat, aangesien ék die een is wat aanspreeklik en rekenpligtig gaan wees, ék die een sal wees wat die besluit moet neem. Gevolglik neem ek nooit enige belangrike besluit op my eie nie, maar raadpleeg altyd die ander gemeenteleiers en betrek hulle by besluitneming. Sodoende word die aanspreeklikheid en verantwoording tussen ons verdeel. Ek erken egter dat ek volstaan met dit wat reg en Bybels is. Ongelukkig besef ek en het ek al gewetenlose gemeenteleiers teëgekom wat hul posisies misbruik - ek sidder om te dink aan die gevolge daarvan vir hulle. Oorweeg byvoorbeeld hierdie Skrifgedeelte:

Matthëús / Mattityahu {5:18} “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19}  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”

Die wet, waarna Jesus verwys, is die Tora. Die kleinste Hebreeuse letter, ook bekend as ‘n tittel of letterstrepie, waarna Hy verwys, is die jod en kotz (doring). Laasgenoemde verwys na die klein “doringagtige puntjie” wat uit ‘n letter uitsteek.

Maar soos ons weet, het die hemel en aarde nog nie vergaan nie en ons besef dat dit nie sal plaasvind tot na afloop van die duisendjarige ryk van die Messias nie.

Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”

Ek vind dit ontstellend wanneer ek daaraan dink dat al die kerke en al die pastore leer en verkondig dat ons nie langer onder die Tora-“Wet” verkeer nie.

Hebréérs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-06-12