Miketz
(Aan Die Einde)
Genesis {42:8} "En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. {42:9} Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is. {42:10} Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. {42:11} Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie."
Dit is die eerste keer in die Skrif waar ons verneem dat daar politieke spioene gedurende die tydperk voor Moses was. Koning Salomo was inderdaad reg toe hy gesê het:
Prediker {1:9} "Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie."
Die vernaamste spioene in die Skrif is die twaalf stamhoofde wat deur Moses gestuur is om die land Kanaän te gaan verken - dit het beslis nie goed afgeloop nie! Ons lees ook in die Skrif dat die Fariseërs spioene gebruik het om ondersoek in te stel en meer van die Man van Galilea te gaan uitvind. Hulle het ook spioene gebruik om redes te vind teneinde Hom van ‘n ernstige misdaad aan te kla; hulle wou Jesus dood en uit die pad hê. Alle lande van die wêreld gebruik spioene om inligting of ‘n sekere tipe voordeel oor vreemde regerings te bekom. Dit maak egter nie saak of hulle vriend of vyand is nie, lande spioeneer steeds op mekaar. Hedendaagse Israel gebruik ook spioene. Een van die bekende spioene Jonathon Pollard, is onlangs eers vrygelaat na dekades in gevangeskap in die Verenigde State. Die mees bekende spioen in Israel was Eli Cohen, wat van 1961 - 1965 op Sirië gespioeneer het en aansienlike voordele vir Israel oor Sirië teweeggebring het; trouens, in elke stad in Israel is ‘n straat na hom vernoem.
Wanneer hulle in hegtenis geneem word, erken niemand dat hulle spioene was nie, tensy hulle miskien gevang word terwyl hulle op die land spioeneer waar marteling aangewend word om ‘n bekentenis af te dwing. Ongelukkig ontken ‘n land vir wie hulle spioeneer het in meeste gevalle, dat die spioenasie vir hulle geskied het of selfs dat die spioene aan hulle bekend is en word sodanige spioene aan hulle eie genade oorgelaat om hulself te verdedig. Ek beskou dit as ‘n prys wat ‘n mens moet betaal om ‘n spioen te wees.
Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat spioenasie betreklik algemeen in die antieke Midde-Ooste was en selfs moontlik ‘n probleem tydens Josef se onder-koningskap in Egipte was. Indien dit nie die geval was nie, is ek seker dat Josef iets anders sou gekies het om sy broers van te beskuldig. Dit is egter nie die feit dat Josef sy broers van spioenasie beskuldig het, wat my opgeval het nie, maar wel sy broers se reaksie op die beskuldiging
Genesis {42:11} "Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie."
Dit is beslis seker dat sy broers nie besef het vir wie hulle dit gesë het nie - Josef het geweet dat hulle enigiets behalwe eerlike manne was! Hulle het, trouens, pas vantevore vir hom gelieg deur te insinueer dat hy dood was, terwyl hulle hom op hartelose wyse teen ‘n wins verkoop het aan ‘n groep Midianiete. Ongeag hiervan, glo ek egter dat hierdie tien manne hulself werklik as eerlike mense beskou het, ten spyte van die skuld, waaronder hulle verkeer het vanweë die onreg wat hulle alles aan hulle broer Josef, gedoen het. Dit is tog verbasend welke verwronge beeld ons aangaande onsself in ons gedagtes kan versin.
Kan jy nog onthou wat jy van jouself gedink het voordat jy gered is? Toe het geeneen van ons onsself as sondaars beskou nie! Ek weet nie van julle nie, maar ek het myself deurgaans as ‘n goeie persoon beskou. Na my mening was ek meelewend, vrygewig, liefdevol, bedagsaam, onselfsugtig en ‘n lojale vriend of, so het ek gedink totdat ek gered is. Toe het ek myself gesien, soos wat God my sien - dít was nie aangenaam nie. Selfs noudat ons gelowiges is, ten spyte daarvan dat ons almal nog veel het wat uit ons lewens verwyder moet word, beskou meeste van ons - daarvan is ek oortuig onsself as beter as wat ons werklik is.
Die probleem met Josef se broers, wat ook ons probleem is, is dat ons onsself beoordeel volgens ons eie maatstawe in plaas van God s’n. Josef was deeglik bewus van die feit met wie hy te doen gehad het, maar by sy broers het dit ontbreek. Josef moes hulle dus eers deur die skyn lei voordat hulle finaal besef het dat hulle na alles nie sulke “eerlike manne” was nie.
Josef, weet ons, is ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias. Daarom, as ons oorweeg wat Josef moes doen om sy broers se oë te open vir die realiteit van hulle ware aard, dink net wat Jesus moontlik aan jou moes gedoen het om jou ware aard bloot te lê. My raad is, selfs indien jy gered is en in Jesus die Messias glo as jou Here en Redder, bely dat jy nog lank nie volmaak is nie en vra die Here om jou saggies tot ‘n verandering te lei.
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |





