Saterdag 25 November 2017

Die Erfgename van Redding

Vayetzei
(En Hy Het Uitgegaan)



Genesis / Bereshit {28:12} “En hy het gedroom—daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. {28:13}  En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; {28:14}  en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. {28:15}  En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. {28:16}  Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. {28:17}  En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.”

Dit is verstaanbaar dat Jakob gedink het dat die plek waar hy aan die slaap geraak het, die hemelpoort was. Dit was omdat hy engele gesien het wat met ‘n leer opklim na die Hemel en afklim. Hoe dit ookal sy, kom ons wees eerlik: het engele werklik ‘n leer nodig om na en van die hemel te beweeg? Ek dink nie so nie! In die Skrif word engele beskryf as sou hulle vlerke gehad het (lees Jesaja / Yeshiyahu 6:2). Daarbenewens word dit in Hebreërs / Ivrim 13:2 beskryf dat hulle in menslike voorkoms verskyn het. Dus is dit beslis nie nodig om van ‘n leer gebruik te maak nie! Dit is egter presies wat Jakob gesien het en soos wat ek in vorige jare se parashot bespreek het, is die droom inderdaad van profetiese belang. Is daar werklik engele wat ons dag vir dag dien? Tree hulle regtig tussen beide in ons lewens soos in die geval met Jakob? Die woord vir engel in Hebreeus is “malach’ en dit beteken boodskapper. Wonder jy miskien hoeveel engele / boodskappers daar in die hemel is?

Openbaring / Hitgalut {5:11} “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;”

Volgens hierdie Skrifgedeelte, is daar ten minste een honderd miljoen engele en is hulle geskep om te dien, soos in die volgende vers gemeld:

Hebreërs / Ivrim {1:13} “En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?”

Indien jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder glo, dan is jy ook ‘n erfgenaam van die redding, wat hier te sprake is: die engele is dus geskep om ook jou te dien! Hier volg enkele dinge wat engele vir ons doen: Hulle beskerm ons (Psalm / Tehillim 91:11-12); hulle lei ons (Bereshit / Genesis 19:15-17); hulle bemoedig ons (Rigters / Shoftim 6:12); hulle bevry ons (Handelinge / Ma’asei HaTalmidim 12:17); hulle lig ons voor (Mattheus / Mattityahu 2:19-20 en laastens, versterk hulle ons (Lukas / Uri 22:43).

Ons moet egter versigtig wees en altyd onthou dat God nooit deur engele vervang word nie; inteendeel, hulle rig ons altyd op God. Derhalwe moet ons daarteen waak om nooit só met engele behep te raak tot op ‘n punt waar ons God terugskuif na ‘n tweede plek in ons lewens nie.

Ons moet ook daarteen waak om engele nie te herskep om aan ons eie wanvoorstellings te voldoen nie. Wat ons van engele weet, moet gegrond wees op wat die Bybel aangaande hulle leer en beslis nie op wat ons in films en op televisie sien of wat ons graag van hulle wil glo nie. In die Bybel verskyn die engel van God altyd in ‘n manlike gedaante. Engele is nie altyd net goed en medelyend nie! Kyk in die boek Openbaring: wie gaan die oordeel voltrek op aarde? Die engele! Moet dus nie oor engele fantaseer of glo wat die wêreld oor engele te sê het nie. Bestudeer verkieslik die Bybel en verneem wat God ons in Sy Woord oor engele leer.

Engele word nooit aanbid nie. In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shoul) was daar ‘n dogma genaamd Gnostisisme, wat die aanbidding van engele beoefen het.

Kolossense / Kolosim {2:18} “Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,”

In die Bybel word na twee tipes engele verwys: Die engele van God en die engele van satan, wat demone genoem word. So waarsku die Bybel ons dat die demone van die Satan hulle soms as engele van lig voordoen, maar inderdaad demone is.

2 Korinthiërs / Korintim Bet {11:14} “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. {11:15}  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

1 Johannes/Yochanan Aleph {4:1} “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 1 Johannes/Yochanan Aleph {4:2} Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;”

Besef jy wat ek bedoel? Slegs omdat jy gesien het wat jy vermoed het ‘n engel was, beteken hoegenaamd nie dat dit een van God se engele was nie. Weet jy dat twee van die hoof valse gelowe in die wêreld ontstaan het as gevolg van engele? Islam is die resultaat van Mohammed wat na ‘n engel geluister het en Mormonisme, deur Joseph Smith, wat van ‘n engel genaamd “Moroni” verneem het. Elke engel is nie noodwendig van God nie! Ons moet die geeste op die proef stel om te bepaal of hulle wel van God is aldan nie. Een ding is egter seker en dit is dat daar baie engele is, geskep om diensbaar te wees aan ons, die erfgename van redding.

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2010-11-13


Saterdag 18 November 2017

Om Myself met Ander Te Vergelyk

Toldot
(Geslagte)


Om Myself met Ander Te Vergelyk

Genesis / Bereshit {26:6} “So het Isak dan in Gerar gebly. {26:7}  En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou—anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. {26:8}  En toe hy al ‘n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. {26:9}  En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! {26:10}  En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het!”

Ons leef sonder twyfel in ‘n bose en immorele wêreld, maar dit was van die begin af reeds so; trouens, op ‘n bepaalde tyd was die wêreld so geweldadig, dat God die ganse mensdom – met die uitsondering van agt persone – deur ‘n vloed vernietig het. Ons weet nie welke mate van goddeloosheid daar in die wêreld geheers het nie, maar as God so ‘n drastiese stap geneem het, moes dit ongetwyfeld veel erger gewees het in vergelyking met dít waarin ons vandag lewe.

Volgens die Skrif, sal die sondigheid in hierdie omvang weer op aarde plaasvind – ‘n sondigheid waardeur God die hele wêreld in geheel sal vernietig, maar hierdie keer deur vuur.

2 Petrus / Kefa Bet {3:10} ”Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. {3:11}  Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — {3:12}  julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.”

Die punt wat ek graag wil maak, is dat ten spyte van die feit dat die mensdom vanaf die tyd van Adam en Eva sondig was, daar tog altyd in die één of ander vorm, ‘n wet en ‘n skyn van moraliteit bestaan het.

Koning Abiméleg was ‘n Filistyn en het sekerlik nie in die God van Israel geglo nie; trouens, die Filistyne was afgodsaanbidders, maar in hierdie Parasha, vind ons tog dat hy vir Isak die volgende sê:

Genesis / Bereshit {26:10} ”En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het!”

Ek onthou dat, alvorens ek in Jesus die Messias geglo het, ek in allerlei sondige praktyke betrokke was: moreel, finansieel en spiritueel (met laasgenoemde bedoel ek dat ek by die okkult betrokke was).  Nietemin, ten spyte van my ontneemde geaardheid was daar dinge – sekere sondige praktyke (waarmee my vriende gemoeid was), waartoe ek myself nooit sover sou kon bring om mee te doen of selfs oorweeg om te doen nie. Ek was immoreel, oneties en sondig, maar het juis neergesien op mense wat dinge gedoen het, ofskoon ekself dit nooit sou doen nie. Eindelik, so ontneem as wat ek in sekere gevalle was, het ek besef dat ek tog maar ook dieselfde gedoen het.

Die Filistyne was ‘n sondige, wreedaardige, immorele nasie. Nietemin lees ons van iets wat hulle nie sou gedoen het nie of wat koning Abiméleg nie sou oorweeg het nie.Hy het naamlik ‘n grens gestel om nie by ‘n ander man se vrou te slaap nie.

Is dit nie maar net soos ons is om ons eie morele, etiese en spirituele perke te kies nie? “Ek sal dít doen, maar nooit dát nie. Ek sal só teenoor ander mense optree, maar hulle nie só behandel nie. Ek sal nooit soos so-en-so wees nie of doen wat hulle doen nie”. Die probleem is egter dat ‘n jaar of twee later, besef ons dat ons presies dieselfde doen wat ons in die verlede as ondenkbaar beskou het! Dit is die wyse waarop sonde te werk gaan – dit is hoe die satan met ons werk!

Die enigste uitweg om hierdie kringloop van sonde te verbreek (dit het vir my geslaag), is om Jesus die Messias as jou Here en Redder aan te neem, om jou lewe aan hom toe te vertrou en in Hom te glo as die Redder van jou siel. Dit is die enigste hoop wat jy het om van ‘n lewe van morele, etiese en spirituele sondigheid verlos te word.

Beskou jy jouself miskien nie as so ‘n slegte persoon nie? Moontlik is dit omdat jy jouself met ander slegte persone vergelyk in plaas daarvan om jouself met God en Sy maatstaf soos in Sy Bybel uiteengesit, te vergelyk. In die verlede het ek myself ook met ander mense vergelyk en ek voel geneë om te dink dat dit juis dít is, wat Abiméleg ook gedoen het.

Kom gou Jesus!
PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-10-30

Saterdag 11 November 2017

Wat Ontbreek

Chayei Sarah
(Sara Het Gelewe)



Genesis / Bereshit {23:1}  “En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2}  En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3}  Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4}  Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.”


Ek is ‘n voorstaander van éénmaal getroud, altyd getroud (dit is vanselfsprekend totdat die dood ons skei)! Dit is my filosofie dat dit drie persone (man/vrou en Jesus) neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee (man en vrou) om dit op die rotse te laat beland. Ongeag dus wat jy dink oor wat ek in hierdie kommentaar sê, dit is my standpunt en sal nie verander nie.


Interessant genoeg het talle heiliges van die Bybel wankelrige huweliksverhoudings gehad. Moses en sy vrou Sippora, soos ons bewus is, het ‘n meningsverskil oor die besnydenis van hul seun gehad en dit het tot ‘n breuk in hul verhouding gelei. Moses se skoonvader, Laban, het hulle egter weer versoen. Nietemin is daar in die Skrif geen aanduiding dat die versoening hoegenaamd permanent was nie. In hierdie Parasha verneem ons dat Sara in Hebron oorlede is, terwyl ons in verlede week se Parasha gelees het, dat Abraham in Berséba gewoon het. Met vandag se hoofweë is dié twee stede slegs 45 minute van mekaar af oftewel ‘n rit (sonder verkeer) wat agt-en-twintig minute duur. In die tyd van Abraham was egter ‘n aansienlike afstand deur die wildernis en boonop ‘n moeilike en opdraande reis deur ‘n bergagtige gebied – veral vir ‘n bejaarde man soos Abraham. Dus het hulle nie meer saamgewoon nie!


Genesis / Bereshit {22:19} “En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.”


Die rabbis glo egter dat Abraham en Sara uiteen is oor die akida (binding) van Isak. Dit was ten spyte van die feit dat Isak blykbaar reeds in sy dertigs was toe die akida plaasgevind het. Indien ons egter die mening van die rabbis as waarheid aanvaar, beteken dit dat sowel Moses as Abraham met hul vrouens geredeneer en uitmekaar is oor onenigheid rakende hulle kinders. Kinders is wel belangrik maar behoort glad nie tussen hul ouers, wat mekaar liefhet en God in hul huwelik het, te kom nie.


Dit laat my ongetwyfeld wonder oor hierdie groot Godsmanne, wat sulke vername rolle in die Bybelgeskiedenis vertolk het. Wat het dan in hul lewens ontbreek en / of in hul huweliksverhoudings wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Ek wil nie graag één party uitsonder nie, maar indien ons beide (Abraham en Moses) se situasies van naderby beskou, is daar inderdaad één opvallende ooreenkoms. In albei gevalle was hul kinders betrokke.


Ek maak grootliks op my vrou se mening staat en ofskoon ek altyd ernstige oorweging daaraan skenk, is ons dit eens dat die finale besluit – sonder uitsondering – altyd myne moet wees. Dit mag vir sommige mense miskien vreemd klink, maar my vrou besef dat ek ‘n vroom, Godvresende man is en nooit ‘n vername besluit sal neem voordat ek God nie éérs in gebed en indien nodig, deur te vas, geraadpleeg het nie. Moontlik is die verskil tussen mý vrou en die vrouens van Moses en Abraham, dat sy met dieselfde Heilige Gees (Ruach HaKodesh) vervul is as waarmee ek vervul is. Derhalwe erken sy dit wanneer God deur my werk of wanneer ek deur my vlees gelei word. Dit was nie die geval met beide Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Ons moet egter onthou dat die Gees in daardie tyd van die geskiedenis nie op alle vlees uitgestort is nie. Soos ons bewus is, was dit eers met die Shavuot in die eerste eeu, na die hemelvaart van die opgestane Jesus die Messias, dat die Heilige Gees op alles vlees uitgestort is, op diegene wat Jesus die Messias as hul Here en Redder aanvaar het. Voor dié tyd het die Gees gerus op slegs diegene, op wie die Here dit bestuur het en selfs dan, het dit volgens die wil van die Here, gekom en gegaan, volgens Sy wil.


Dit voer ons terug na die beginpunt waar ek gesê het dat dit drie persone neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee om dit op die rotse te laat beland. Dit wil dus vir my voorkom asof in die huwelike van sowel Sippora as Sara, die Derde Persoon ontbreek het!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-10-30

Saterdag 04 November 2017

Profesie en Bespotting

VaYera
(En Hy Het Verskyn)


Genesis / Bereshit {18:9} “Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. {18:10}  En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. {18:11}  Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. {18:12}  En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? {18:13}  Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? {18:14}  Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.”

Hierdie week se Parasha is so omvattend dat dit eintlik moeilik is om te besluit waarop om te fokus, maar onderwyl ek gebid het, het die Here hierdie vers aan my uitgewys:

Genesis / Bereshit {18:12} “En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? ”

Met al die belangrike dinge wat in hierdie parasha plaasvind (soos die verskyning van engele in menslike gedaante, die belofte van ‘n erfgenaam vir Abraham en die vernietiging van Sodom en Gomorra), is dit maklik om die baie persoonlike en subtiele interaksie tussen God, die Skepper van hemel en aarde, en Sarah, vrou van Abraham, mis te kyk.

Sarah, soos ons bewus is, was onvrugbaar; sy was reeds op ‘n gevorderde leeftyd, post menopousaal en verby die verwagting om kinders te hê. Dit is vandag in ons veronderstelde moderne, verligte en verdraagsame samelewing, moeilik en dikwels werklik pynlik sowel as beskamend om kinderloos te wees, maar destyds was dit uit-en-uit vernederend.

My eggenote en ek is kinderloos en ten spyte van die feit dat ons op grond daarvan die geleentheid gegun word om God te dien, sonder die verdeelde aandag om ‘n gesin groot te maak, was dit vir ons pynlik en het dit dikwels smart asook tot ons verdriet, bespotting meegebring – selfs deur lede van ons gemeente. Ek, as kinderlose, was by geleentheid gekorrigeer wanneer ek aan ouers leiding gegee het met betrekking tot die grootmaak van kinders. Daar is al selfs aan my gesê: “Dit is maklik vir jóú om te praat – jý het geen kinders nie!”. Diegene wat dit nie reguit aan my gesê het nie, het moontlik dieselfde mening gehuldig. My eggenote is ookal verkwalik oor haar kinderloosheid, gewoonlik uiters subtiel, maar nietemin spottenderwys. Ons kan albei daarvan getuig dat dit besonder pynlik is!

Stel julle dus voor hoedat Sarah moes gevoel het in ‘n tyd en samelewing wat nie so verlig en verdraagsaam soos ons s’n is nie; dit was trouens ‘n samelewing waarin ‘n kinderlose vrou verstoot en deur die ander vrouens as ‘n verworpeling behandel is.

Wat ek vreemd vind om te begryp is waarom Sarah op die drie besoekers (twee engele en God) reageer het deur te lag? Daar moes ongetwyfeld geweldige pyn in haar hart gewees het vanweë die swaarkry as gevolg van soveel jare se bespotting wat sy moes verduur het. ‘n Meer begryplike reaksie – na my mening – sou eerder ‘n hewige afkeer van die opmerkings van ‘n verdere drie onsensitiewe mense wees.

Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom dat Sarah in werklikheid, om welke rede ookal, in haar binneste, hierdie besoekers geglo het. Dit sou die enigste verduideliking wees vir die feit dat sy gelag het. Dit was eerder ‘n reaksie van behoedsame hoop, wat haar teleurstelling, toe dit nie volgens haar tysberekening gerealiseer het nie, verduidelik sowel as haar begeerte om selfvervulling van hierdie profesie. Sy kon nie die pyn van verdere teleurstelling verduur nie. Erger nog, sy kon nie die blote gedagte verduur dat die profesie moontlik net nog ‘n bydrae was tot haar reeds té lange lys van bespottings..

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-10-23