Saterdag 25 Mei 2019

Vrees God Genoegsaam om ons sonde te verafsku

Behar – BeChukotai
(Op die Berg – Volgens My Verordeninge)


Levitikus / Vayikra {25:17} “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. {25:18}  En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.”

Levitikus / Vayikra {25:39} “En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie. {25:40}  Soos ‘n dagloner, soos ‘n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien; {25:41}  dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan. {25:42}  Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ‘n mens ‘n slaaf verkoop nie. {25:43}  Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees.”

Die rede waarom ek hierdie twee Skrifgedeeltes uit parasha Behar gekies het om oor kommentaar te lewer, het betrekking op die woorde “…vrees jy jou God”.

Een van die grootste probleme onder gelowiges vandag is dat hulle God nie vrees nie. Ek bedoel nie om bang te wees nie vir God soos wat ons vir ‘n uitgehongerde hond, wat ons op straat bestorm, sou bang wees nie. Wat ek bedoel, is om ‘n eerbiedige vrees vir die ontsagwekkendheid en almag van die Een wat lewe en dood in Sy hande hou, te koester.

Die gebrek aan vrees, volgens my mening, spruit uit die feit dat die meerderheid, wat in Jesus die Messias glo, nie hulle tekortkominge oftewel hulle sonde besef nie. Ek het al dikwels met gelowiges gesels, wat openlik erken dat hulle een of ander onbeheerbare soort sonde het of aan ‘n verslawing ly. Ongelukkig, wanneer omstandighede met verloop van tyd verbeter, verval hulle keer op keer weer in dieselfde sonde, wat dan tot berou en vele nagevolge lei. Ek skryf hulle sondesiklus toe aan die gebrek aan Godvresenheid. Indien ons God waarlik gevrees en die gevolge van sonde op fisiese-, verstandelike- en geestelike gebied, wat deur Hom teweeggebring en, trouens, uitdruklik in Sy Woord opgesom word, besef het, sou ons sonder twyfel twee maal gedink het voordat ons gesondig het! Waarom is ons vrees vir God dan nie genoegsaam om ons te laat ophou sondig nie? Besef ons nie dat ons lewens veel beter en makliker sou gewees het indien ons God gevrees het nie? Ongelukkig is die meeste van ons se vrees vir God nie genoegsaam vir ons om ons sonde te verafsku en ons lewens te verander nie.

Neem nou ‘n oomblik en probeer dink aan ‘n gevolg wat jy in jou lewe ervaar het of moontlik tans ervaar en probeer dit in verband bring met ‘n sonde wat jy in die verlede gepleeg het. Sou jy hierdie gevolg ervaar het indien jy God gevrees en nie gesondig het nie? Volgende keer as jy in versoeking kom om byvoorbeeld ‘n seksuele sonde in ‘n oomblik van passie te pleeg, dink aan die vrees vir God. Wanneer jy in versoeking verkeer om ‘n leuen te vertel ten einde uit ‘n moelike situasie te kom, onthou die vrees vir God. Volgende keer wanneer jy jou humeur of geduld wil verloor, dink aan die vrees vir God.

Matthéüs / Mattityahu {10:28} “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”

Om nou insig in parasha Behukotai te verkry:

Levitikus / Vayikra {26:3} “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, {26:4}  sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.”

Levitikus / Vayikra {26:15} “en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16}  dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.”

Parasha Behukotai is die “as jy, sal Ek” – parasha. Die woorde “As jy” kom negemaal voor en die woorde “Ek sal” verskyn vier-en-twintig maal in hoofstuk 26. Die les om uit hierdie parasha te leer, is dus heel eenvoudig. God sal ooreenkomstig ons gehoorsaamheid aan Sy gebooie, optree of reageer. Dit is inderdaad ‘n ontnugterende gedagte wanneer ‘n mens daaraan dink dat die meerderheid gelowiges in Jesus die Messias, God nie waarlik vrees nie.

 Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-05-13

Vrydag 17 Mei 2019

Verskonings: God Ken My Hart

Emor
(Spreek)


Levítikus / Vayikra {21:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Spreek met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle: Aan ‘n dooie moet ‘n priester hom nie verontreinig onder sy volksgenote nie; {21:2}  behalwe aan sy bloedverwant, sy nabestaande: aan sy moeder en sy vader en sy seun en sy dogter en sy broer; {21:3}  en aan sy suster wat jongmeisie is, sy nabestaande, wat nie aan ‘n man toebehoort het nie aan haar mag hy hom verontreinig. {21:4}  Hy mag hom as getroude man nie verontreinig onder sy volksgenote om hom te ontheilig nie. ”

Ons behoort almal vertroud te wees met die uitdrukking: “Aan wie veel gegee is, van hom / haar word veel verwag”. Hier het ons selfs ‘n voorbeeld daarvan. Aan Aäron en sy seuns is ‘n verhewe amp onder die kinders van Israel verleen. Vir geslagte lank sou die amp van Hoëpriester (Cohen Gadol) in hulle familie voortbestaan en sou daar na hulle opgesien word en hulle die hoogste aansien onder die ganse volk geniet. Die priesters (cohanim) was die geestelike leiers van die volk, die verteenwoordigers van God, die pilare van die samelewing en het oor die beslissende woord in alle geestelike en wetlike aangeleenthede beskik. Gevolglik sou God van hulle ‘n hoër mate van heiligheid verwag het.

Die priesters het in die teenwoordigheid van God diens verrig. Hulle taak het in hoofsaak die administrasie van die stelsel van naderkomsoffers (korbanot) behels. Hierdie offers was bedoel om lewe te verseker (vergifnis van sonde). God is lewe; dus kon ‘n priester, wat verontreinig was deur die teenwoordigheid van ‘n  dooie persoon, die God van lewe nie behoorlik verteenwoordig nie. Soos ons gelees het, is God egter vol liefde en barmhartigheid en het Hy wel voorsiening gemaak vir uitsonderings, wat ‘n priester toegelaat het om die begrafnisse van spesifieke familielede by te woon.

Dit bring ons by die vraag: “Het God dan uitsonderings op Sy voorskrifte?” Dit grief my dat, wanneer mense nalaat om die gebooie van God te gehoorsaam, veral dié met betrekking tot die Sabat, hulle hulself probeer regverdig. Hulle is al te gou om te sê: “God ken my hart” of “God verstaan.” God ken inderdaad ons harte en ongetwyfel verstaan Hy ook: 

1 Kronieke / Divre HaYamim {28:9} “…want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes…”

Meen dit egter nou dat God op al Sy gebooie uitsonderings maak? Die antwoord daarop is uitdruklik NEE!

Deuteronomium {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2}  En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.”.{ 28:15} “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.”

God verstaan en ken ons harte, maar dit verander geensins óns verantwoordelikheid om Sy gebooie (mitzvot) na te kom nie en dan presies soos wat dit gegee is. Die enigste geleentheid waar daar wel ‘n uitsondering sou wees, is wanneer God gesê het dat daar ‘n uitsondering is, andersins is daar geen.

God het Israel, om geen rede hoegenaamd nie, uitverkies om Sy besondere skat te wees:

Deuteronomium {7:7} “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.”

Die feit is, God het ons, op dieselfde wyse – om geen besondere rede nie – gekies om in Jesus die Messias te glo. Van Israel (Yisrael) as volk, is ook verwag om ‘n hoër peil te handhaaf en tereg ook, omdat “Aan wie veel gegee is, van hom / haar word veel verwag”: Selfs aan ons is uitermatig gegee: God het Sy eniggebore Seun gegee, sodat ons gered mag word en “Kinders van God” genoem kan word. Daarom verwag God ook van ons om ‘n hoër peil te handhaaf. Die verskonings: “God ken my hart” of “God verstaan” of enigiets soortgelyk, is nie van toepassing nie om ons vry te stel van die voorskrif om Sy gebooie noukeurig na te kom, presies soos wat dit aan ons gegee is. 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-05-01

Vrydag 10 Mei 2019

Om Steeds Die Gebooie Te Onderhou

Kedoshim
(Afgesonderdes (Heiliges))


Levitikus / VaYikra {19:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {19:2}  Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”

Die Torah (eerste vyf boeke van die Bybel) handel spesifiek daaroor om ons te onderrig hoedat ons kadesh (afgesonder / heilig) kan wees soos wat God heilig is. In hierdie week se parasha – parasha Kedoshim – verneem ons dat God dit aan Moses opdra om tot die kinders van Israel te spreek en hulle te bevel om kadosh te wees en wel aan die hand van ‘n eensydige lys van wat dit alles behels. God verduidelik aan hulle sekere dinge wat hulle moet doen ten einde soortgelyk aan Sy vlak van heiligheid te verkeer. Hierdie lys is inderdaad ook op ons van toepassing, alhoewel dit vir baie mense onmoontlik lyk om kadosh soos God te wees. Nadat ek egter die lys deurgelees het, kon ek niks vind wat ons nié deur die krag van die Heilige Gees (Ruach HaKodesh), wat in elkeen wat in Jesus die Messias glo, woonagtig is, kan vermag nie. Daar word natuurlik nie van ons verwag om steeds tempel-verwante dinge na te kom nie omdat die tempel nie langer bestaan nie; die res van die vereistes is egter doodeenvoudig. Hier volg juis ‘n voorbeeld van een van die laasgenoemde vereistes:

Levitikus / VaYikra {19: 9} “En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. {19:10}  Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.”

Indien jy nie ‘n boer is nie, hoe sal ‘n mens hierdie kadosh-vereiste nakom? Word dit steeds van ons verwag om dit na te kom? Laat my my toe om daarop te wys dat God ons nie dwing om iets te doen nie! Alles wat ons vir die Here doen, moet vanuit die hart gedoen word en nie uit dwang nie. Aangesien meeste van ons nie boer nie en gevolglik nie hierdie gebod met betrekking tot letterlik die kante van landerye / wingerde kan nakom nie, kan ons dit nietemin gehoorsaam as ons in die sakewêreld is. Ek het al met baie gelowige sakelui wat vir hulself werk hieroor gesels. Sommige staan tien persent van hul maatskappywinste aan die armes af, terwyl ander aan humanitêre aangeleenthede of ander projekte vir behoeftiges deelneem. Dít is natuurlik bo-en-behalwe die persoonlike tiendes van hul salarisse. Sodoende kan dit vergelykbaar beskou word daaraan om nie ook die kante van jou landerye skoon af te oes nie.

Hier volg ‘n verdere voorbeeld uit dié week se parasha:

Levitikus / VaYikra {19:19} “Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.”

Ek wil graag in besonder die gedeelte oor veeteelt behandel. Daar is baie soorte diere, soos beeste en soortgelyke diere soos die yak en buffels. Selfs indien ‘n bees deur ‘n yak of buffel gedek sou word en kalf, is dit nie dieselfde soort diere nie; kruisrasteling behoort dus hoegenaamd nie toegelaat te word nie. Verskillende beesrasse (byvoorbeeld ‘n Jerseykoei met ‘n Holsteinbul) kan gekruisteel word, omdat albei van dieselfde sort vee is. ‘n Donkie is nie ‘n perd nie; Dit is twee verskillende diersoorte en so ‘n kruising is myns insiens onheilig. In die verlede het misleide en bevooroordeelde Christene die bogemelde Skrifgedeelte gebruik om apartheid (segregasie en diskriminasie op grond van ras) te regverdig. Of ons nou mense met ‘n ligte-, donker-, geel- of swartvelkleur is, ons is almal mense! Daarom is die bovermelde Skrifaanhaling geensins op onderlinge rasverhoudings toepaslik nie.

Levitikus / VaYikra {19:23} “En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie. {19:24}  Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ‘n heilige feesgawe aan die HERE wees;”

Ons wat tuiniers is, besef dat as ‘n mens ‘n jong boom, wat onlangs geplant is, wil laat groei en meer asook beter gehalte vrugte wil verseker, moet die eerste bloeisels afgebreek word sodat die boom vir die eerste drie jaar geen vrug dra nie. Indien dit gedoen word sal die boom in die vierde jaar oorvloedig vrug dra. Volgens die Woord, mag daardie vrugte nie geëet word nie – dit moes aan die Here geoffer word. Om hierdie gebod (mitzvah) vandag uit te voer, kan die vrugte van die vierde jaar moontlik as ‘n gawe aan die Here gebruik word deur dit na die gemeente te bring en dit as ‘n offer vir gebruik tydens die gemeentelike oneg (maaltyd ter ere van die Sabbat) te gebruik.

Die volgende vereiste mag vir sommiges ietwat sensitief voorkom:

Levitikus / VaYikra {20:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {20:2}  Jy moet ook aan die kinders van Israel sê: Elkeen uit die kinders van Israel of uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat van sy kinders aan Molog gee, moet sekerlik gedood word. Die volk van die land moet hom stenig.”

Moleg was ‘n sataniese afgod aan wie kinders (gewoonlik babas) as menslike offers gebring is. Die doel van hierdie menslike offers was om Moleg te vereer sodat hy die offer en betrokke gesin sou seen.

Hoe word Molegaanbidding in ons hedendaagse konteks nog beoefen? Niemand bring tog meer menslike offerandes – en veral kinders – in Noord-Amerika nie? So’n barbaarse praktyk kan mos nie in ons beskaafde wêreld beoefen word nie, of is dit nog moontlik? Ongelukkig word sataniese offerandes selfs in Noord-Amerika geoffer. In breër konteks, sou ek egter meen dat aborsie een van die hedendaagse Molegaanbiddingsvorms is, waaraan ons sogenaamde beskaafde mense skuldig is. In plaas van die fisiese Molegafgod, aanbid ons die afgod van selfgenot. As ‘n kultuur en as die menslike ras, aanbid ons by die altare van humanisme. Ons beskou onsself as finale gesag om te bepaal wat reg of verkeerd is. Aan hierdie “Moleg”, offer ons ons kinders, tot voordeel van ons eie God (dit is onsself).

Ek vertrou dat julle, aan die hand van hierdie kommentaar, sal besef dat ons vandag steeds die gebooie van die Tora wel kan onderhou.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-04-30



Saterdag 04 Mei 2019

Almal Wie God Vrees en Doen Wat Reg is, is Welkom

Shemini
(Agste)


Levitikus / VaYikra {11:1} “En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en aan hulle gesê: Lev 11:2  Spreek met die kinders van Israel en sê: Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is. {11:12}  Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou dit mag julle eet. {11:4}  Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: die kameel, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle; {11:5} en die das, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle; {11:6} en die haas, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle; {11:7} ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle. {11:8}  Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle aas nie raak nie onrein is hulle vir julle. {11:9}  Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet. {11:10}  Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is ‘n gruwel is dit vir julle. {11:11}  Ja, ‘n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir ‘n gruwel hou. {11:12}  Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie ‘n gruwel is dit vir julle. {11:13}  En die volgende moet julle van die voëls vir ‘n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, ‘n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël; {11:14}  en die kuikendief en die valk volgens sy soorte; {11:15}  elke kraai volgens sy soorte; {11:16}  en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte; {11:17} en die steenuil en die visvanger en die steunuil; {11:18} en die silweruil en die pelikaan en die klein aasvoël; {11:19} en die groot sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep hoep en die vlermuis. {11:20}  Al die insekte met vlerke wat op vier pote loop ‘n gruwel is hulle vir julle.”

Soos julle in hierdie week se Parasha gelees het, onderrig God ons oor wat vir ons eetbare voedsel is en wat nie. Hy sonder spesifiek uit daardie diere, visse, voëls en insekte, dié wat geëet en wat nie geëet mag word nie deur die mens – in die besonder enige persoon wat in Jesus die Messias glo. Die hedendaagse geldigheid van hierdie lys word egter deur sommige mense bevraagteken. Hulle verklaar basies dat op grond van die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), ons nie langer deur hierdie voorskrifte van die Tora gebind word nie. Één Skrifgedeelte wat hulle as bewys aanvoer is die volgende:

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:11} “hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. {10:12}  Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. {10:13}  Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! {10:14}  En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. {10:15}  En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. {10:16}  En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.”

Die feit is dat hierdie gedeelte van die Skrif geensins betrekking het op kosher (geskikte / gepaste) – voedsel of die herroeping van die voedselwette nie – presies dié wat in vandeesweek se parasha beskryf word. Indien ‘n mens die konteks van hierdie gedeelte noukeurig nagaan, blyk dit duidelik dat die visioen wat aan Petrus (Kefa) geopenbaar is, betrekking gehad het op wat in ‘n ander deel van die land besig was om te gebeur.

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:1} “En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. {10:2}  Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. {10:3} Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! {10:4}  En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. {10:5}  Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. {10:6}  Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.”

Hieruit blyk dit dat Petrus aan ‘n Romeinse kaptein, voorgestel sou word, wat binnekort gered moes word. Volgens die Judaïsme van destyds, het Jode geen omgang met nie-Jode gehad nie – allermins om hul huise te betree! Dit is, trouens, nogsteeds die praktyk onder sekere ultra-ortodokse sektes van Judaïsme. Derhalwe het God aan Petrus getoon dat hy nie slegs Jode tot redding moes bring nie, maar wel ook nie-Jode. God was besig om uit twee nasies, één nuwe mens te maak. Deur sy visioen van die neerdalende laken, het God aan Petrus geopenbaar, dat Hy besig was om diegene wat voorheen deur die Jode as onrein beskou is, te red en daardeur sekere mense van die nasies te reinig. Petrus moes dus nie langer nie-Joodse gelowiges as onrein beskou en hulle daardeur uitsluit van gemeenskap met ander Messiaanse Joodse gelowiges nie. Petrus het uiteindelik tot die besef gekom dat sy visioen nie op voedsel betrekking gehad het nie, maar wel op redding van nie-Jode. Dit blyk duidelik wanneer ons lees wat Petrus aan die die Romeinse kaptein gesê het toe hy sy huis binnegegaan het.

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:28} “en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. ” {10:29}  Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.”

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:34} “En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, {10:35}  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-04-15