VaEra
(En Ek Het Verskyn)
Eksodus / Shemot {6:2} “Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. {6:3} (6:2) En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. {6:4} (6:3) Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; {6:5} (6:4) en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.”
Waarom sou God vir honderde jare gewag het, terwyl die kinders van Israel so verdruk is in Egipte, om aan hulle te dink? Dit verstom my dat 'n liefdevolle en sorgsame God sou toelaat dat 'n volk, Sy volk, in slawerny moes ly, onder die dwangarbeid van wrede opsieners, voordat Hy eindelik besluit het om hulle te verlos. Ek word dikwels soortgelyke vrae gevra oor die Jode se vervolging tydens die Tweede Wêreldoorlog: “Indien daar 'n God is, waarom het Hy dit dan toegelaat?”
Dit is tog vreemd dat mense geneigd is om God so gou moontlik te beskuldig van wreedheid sonder om hul eie wreedheid te erken, wat deur woede, haat en vooroordeel gekenmerk word. Ek is nie van plan om die Jode se vervolging in hierdie kommentaar te bespreek nie, behalwe om te sê dat die heling vir ons in die Tora (Deuteronomium {28}), beantwoord word. God is 'n liefdevolle, barmhartige en genadige God, maar ons moet ook onthou dat Hy 'n regverdige God is en nie die skuldiges ongestraf sal laat gaan nie. Ongelukkig strek Sy geregtigheid – soos Hy ons gewaarsku het – verder as één geslag.
Deuteronomium / Devarim {5:9} “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;”
Nou gaan ek terug na ons oorspronklike vraag, naamlik, waarom God na soveel eeue eers aan die kinders van Israel gedink het.
God het die kinders van Israel na Egipte laat gaan sodat hulle getalle so sou toeneem, dat hulle 'n lewensvatbare nasie sou word. 'n Nasie het inderdaad mense nodig en nie slegs enkelinge nie. God het geweet dat Sy nuwe volk vir die land, wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sou moes veg en dit verower. Dus moes daar 'n voldoende aantal mense wees om 'n leërmag te kon saamstel om daardie taak te volbring. God het ook mense nodig gehad wat op die aangewese tyd, soos één man Egipte sou verlaat. Die kinders van Israel, wat vir honderde jare gebruik, misbruik en in slawerny was, sou daardie doel verwesenlik. Toe die geleentheid vir die kinders van Israel dus aangebreek het om Egipte te verlaat, het hulle nie op hulle laat wag nie.
Vandag sal dit ontsettend veel verg om die hele Joodse bevolking van die Verenigde State en Kanada te oorreed om in Israel te gaan woon. Waarom? Omdat hule welgesteld en voorspoedig is, met die gevolg dat daar vir hulle geen dryfveer is om daarheen te gaan nie. 'n Voorbeeld hiervan is die Babiloniese ballingskap. Slegs vyftigduisend Jode het van Babilon af teruggekeer toe koning Kores die dekreet uitgevaardig het dat Jerasulem herbou moes word. Dit was omdat hulle voorspoed beleef en floreer het in Babilon. Dieselfde geld nou vir die Jode in die Verenigde State en Kanada. Indien hulle egter skielik moeilike tye sou beleef en te staan kom voor moontlike vervolging of selfs die vooruitsig van gevangenskap, sou hulle ongetwyfeld gaan. Die tydperk wat die kinders van Israel in Egipte verdrukking verduur het, was die tyd wat God gebruik het om hulle vir hul vertrek voor te berei. Dit het eeue geduur vir hulle om Egipte te wou verlaat, maar toe die volheid van God se tyd aangebreek het, was hulle bereid om te gaan.
Ons moet daarop let hoedat God vir Israel beskik het, want dit is hoedat Hy ook met ons te werk gaan. Miskien het julle ook jare van beproewing en swaarkry ervaar, jul lewens was 'n mislukking en julle werk soos slawe, maar verval net in dieper skuld en depressie. Julle werk dalk onder 'n baas wat met enige Egiptiese opsiener sou wedywer en daar is voetspore op jul rûe van almal wat al oor julle geloop het. As gevolg daarvan het julle moontlik reeds jul verhouding met God bevraagteken en betwyfel en gedink dat Hy julle verlaat het en nie meer vir julle omgee nie. Skep egter moed, want as jy 'n kind van God is en in Jesus die Messias glo, dan is God besig om jou voor te berei vir verandering. Hy het 'n plan en doel met jou en wanneer die volheid van Sy tyd aanbreek, sal Hy jou uitroep en sal jy meer as gereed wees!
Galasiërs/ Galitim {4:4}”Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, {4:5} om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.“
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-01-16