Saterdag 28 Januarie 2017

Wees Gereed

VaEra

(En Ek Het Verskyn)


Eksodus / Shemot {6:2} “Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. {6:3} (6:2) En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. {6:4} (6:3) Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; {6:5} (6:4) en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.”

Waarom sou God vir honderde jare gewag het, terwyl die kinders van Israel so verdruk is in Egipte, om aan hulle te dink? Dit verstom my dat 'n liefdevolle en sorgsame God sou toelaat dat 'n volk, Sy volk, in slawerny moes ly, onder die dwangarbeid van wrede opsieners, voordat Hy eindelik besluit het om hulle te verlos. Ek word dikwels soortgelyke vrae gevra oor die Jode se vervolging tydens die Tweede Wêreldoorlog: “Indien daar 'n God is, waarom het Hy dit dan toegelaat?”

Dit is tog vreemd dat mense geneigd is om God so gou moontlik te beskuldig van wreedheid sonder om hul eie wreedheid te erken, wat deur woede, haat en vooroordeel gekenmerk word. Ek is nie van plan om die Jode se vervolging in hierdie kommentaar te bespreek nie, behalwe om te sê dat die heling vir ons in die Tora (Deuteronomium {28}), beantwoord word. God is 'n liefdevolle, barmhartige en genadige God, maar ons moet ook onthou dat Hy 'n regverdige God is en nie die skuldiges ongestraf sal laat gaan nie. Ongelukkig strek Sy geregtigheid – soos Hy ons gewaarsku het – verder as één geslag.

Deuteronomium / Devarim {5:9} “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;”

Nou gaan ek terug na ons oorspronklike vraag, naamlik, waarom God na soveel eeue eers aan die kinders van Israel gedink het.

God het die kinders van Israel na Egipte laat gaan sodat hulle getalle so sou toeneem, dat hulle 'n lewensvatbare nasie sou word. 'n Nasie het inderdaad mense nodig en nie slegs enkelinge nie. God het geweet dat Sy nuwe volk vir die land, wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sou moes veg en dit verower. Dus moes daar 'n voldoende aantal mense wees om 'n leërmag te kon saamstel om daardie taak te volbring. God het ook mense nodig gehad wat op die aangewese tyd, soos één man Egipte sou verlaat. Die kinders van Israel, wat vir honderde jare gebruik, misbruik en in slawerny was, sou daardie doel verwesenlik. Toe die geleentheid vir die kinders van Israel dus aangebreek het om Egipte te verlaat, het hulle nie op hulle laat wag nie.

Vandag sal dit ontsettend veel verg om die hele Joodse bevolking van die Verenigde State en Kanada te oorreed om in Israel te gaan woon. Waarom? Omdat hule welgesteld en voorspoedig is, met die gevolg dat daar vir hulle geen dryfveer is om daarheen te gaan nie. 'n Voorbeeld hiervan is die Babiloniese ballingskap. Slegs vyftigduisend Jode het van Babilon af teruggekeer toe koning Kores die dekreet uitgevaardig het dat Jerasulem herbou moes word. Dit was omdat hulle voorspoed beleef en floreer het in Babilon. Dieselfde geld nou vir die Jode in die Verenigde State en Kanada. Indien hulle egter skielik moeilike tye sou beleef en te staan kom voor moontlike vervolging of selfs die vooruitsig van gevangenskap, sou hulle ongetwyfeld gaan. Die tydperk wat die kinders van Israel in Egipte verdrukking verduur het, was die tyd wat God gebruik het om hulle vir hul vertrek voor te berei. Dit het eeue geduur vir hulle om Egipte te wou verlaat, maar toe die volheid van God se tyd aangebreek het, was hulle bereid om te gaan.

Ons moet daarop let hoedat God vir Israel beskik het, want dit is hoedat Hy ook met ons te werk gaan. Miskien het julle ook jare van beproewing en swaarkry ervaar, jul lewens was 'n mislukking en julle werk soos slawe, maar verval net in dieper skuld en depressie. Julle werk dalk onder 'n baas wat met enige Egiptiese opsiener sou wedywer en daar is voetspore op jul rûe van almal wat al oor julle geloop het. As gevolg daarvan het julle moontlik reeds jul verhouding met God bevraagteken en betwyfel en gedink dat Hy julle verlaat het en nie meer vir julle omgee nie. Skep egter moed, want as jy 'n kind van God is en in Jesus die Messias glo, dan is God besig om jou voor te berei vir verandering. Hy het 'n plan en doel met jou en wanneer die volheid van Sy tyd aanbreek, sal Hy jou uitroep en sal jy meer as gereed wees!

Galasiërs/ Galitim {4:4}”Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, {4:5} om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.“

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-01-16








Saterdag 21 Januarie 2017

Min in getal oorgelaat

Shemot

(Name)


Eksodus / Shemot {1:8} “Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. {1:9} Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. {1:10} Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. {1:11} Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou. {1:12} Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel. ”

Ek glo die rede waarom God die kinders van Israel na Egipte gelei het, was in die eerste plek, om hulle te beskerm teen ondertrouery met die Kanaäniete. Die kinders van Israel was gedurende daardie tyd in die geskiedenis nomadies en dus was die hoofbron van hul bestaan, merendeels skape. Die Kanaäniete het geen probleem met hierdie beroep gehad nie, maar die Egiptenare wel. Hulle het dit as 'n minderwaardige werk beskou en, daarbenewens, in hul panteon van gode, ook 'n skaapgod gehad. Die slag en eet van skape was dus vir hulle 'n gruwel en daarom was die kinders van Israel se teenwoordigheid in Egipte ideaal vir God se doel met hulle. Eerstens, sou die Egiptenare nie met hulle ondertrou nie vanweë hul beroep en, tweedens, ook op grond van hul werk, sou hulle afgesonder word in die mees afgeleë provinsie van Egipte, naamlik Gosen, wat vermoedelik naby die Kanaänitiese grens geleë was. Klaarblyklik het God se wil dus geskied en die kinders van Israel het so aansienlik vermeerder, dat dit 'n bron van kommer vir die Egiptenare geword het.

Julle mag moontlik onbewus daarvan wees dat my eggenote en ek baie betrokke is by lewensbehoud; trouens, dit was een van ons bedienings sedert ons bekering en daarom probeer ons om op datum te bly met wat aborsies betref asook lewensbehoud in Israel.

Tot ons ergste onsteltenis en afkeur, het Israel ook aborsie gewettig. Die jongste beskikbare syfers (2010) toon dat ongeveer 40 000 aborsies jaarliks in Israel uitgevoer word. Vyftig persent van hierdie swangerskappe word beëindig omdat dit as gevolg van buitehuwelikse konsepsie, bloedskande of statutêre verkragting was. Agtien persent is beëindig vanweë 'n gesondheidsrisiko vir die moeder en / of vermoedelike fetusdefekte. Die res – twee-en-dertig persent – is hoofsaaklik op versoek uitgevoer. Volgens my oortuiging, is die enigste regverdigbare rede vir 'n aborsie, wanneer die moeder se lewe in gevaar verkeer. Dit is gegrond op die Bybelse beginsel om alles moontlik te doen om 'n lewe te red.

Johannes / Yochanan {15:13} “ Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-01-09








Saterdag 14 Januarie 2017

Aanvaar Vergifnis

VaYechi
(En Hy Het Geleef)


Genesis / Bereshit {50:15} “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.”

Ek het hierdie gedeelte so tipies van hedendaagse gelowiges gevind! Vergun my om dit te verduidelik. Ons almal behoort te besef dat Josef 'n sinnebeeld van Jesus was. Josef is deur sy broers verwerp, in slawerny verkoop, misbruik en mishandel, in die gevangenis gewerp, daaruit verlos en vernaam geraak onder die nie-Jode, oftewel die Egiptenare. Jesus is ook deur Sy broers, Sy eie volk verwerp. Hy is vir dertig silwerstukke deur één van Sy eie mense verloën. Hy het neergedaal na die hel, is opgewek uit die dood en verhewe geraak onder die nie-Joodse nasies. Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus is egter geensins toevallig nie – die ooreenkomste eindig ook nie daar nie; trouens, dit is slegs die begin.

Julle sal onthou – in verlede week se Parasha (Parasha VaYigash) – hoedat Juda en die ander broers hul harte voor Josef uitgestort het en hul sonde teen hom erken het. Op hierdie stadium het Josef nog nie homself as hul broer bekendgestel nie. Later onthul hy sy identiteit en vergewe sy broers hul sonde en spreek hulle vry van wat hulle hom aangedoen het.

Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing."

Josef se broers het vergifnis ontvang. Alles wat in die verlede gebeur het, is vergeet. Josef het in sy lewe opgang gemaak maar sy broers skynbaar nie. Selfs al het Josef hulle volkome vergewe, het hulle hulself nie vergewe nie en dus steeds met 'n skuldgevoel geleef.

Selfs indien ons voortgaan met die vergelyking tussen Josef, as 'n sinnebeeld van Jesus, is hierdie scenario nie skrikwekkend soortgelyk aan die lewens van vele gelowiges vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, was, soos hy self erken het, 'n bestiering van God, met die doel dat sy broers en toekomstige geslagte van die kinders van Israel, daarby sou baat. Die broers se belydenis aan Josef, sou hulle nou al die voordele laat geniet van om te leef onder beskerming van Josef, wat tot die magtige posisie van onder-koning in Egipte verhef is. Eweneens, was alles wat met Jesus gebeur het, deur die Vader beskik met die uitsluitlike doel dat die kinders van Israel en daarmee saam, die ganse wêreld, daarby sou baat. Wanneer ons ons sonde voor Jesus bely, naamlik die sonde teen Hom waardeur ons die gebooie van die Tora oortree het, vergewe Hy ons; trouens, ons word verseker:

Miga / Michah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp."

Maar, vergewe ons onsself? Baie van ons doen dit nie! Tenspyte daarvan dat ons vergifnis ontvang het, dra ons nog die skuldlas saam met ons rond. Laat hierdie week se Parasha en, in besonder die Skrifgedeeltes wat ek daaruit aangehaal het, julle in staat stel om nie soos Josef se broers te wees nie en dat julle Jesus se vergifnis sal aanvaar en met jul lewe voortgaan.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-01-02







Saterdag 07 Januarie 2017

Vir Julle Uiteindelike Beswil

VaYigash 
(En Hy het Nadergekom)


Genesis / Bereshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. {45:8} Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.”

Waarom onderwerp God ons aan soveel moelikhede, benoudheid en ontbeuring om Sy wil uit te voer? Josef moes veel meer as die gemiddelde gelowige verduur sodat God sy droom kon vervul en sy broers tot berou kon bring.

Dit eindig egter nie daar nie. God het die herstel van hierdie gesinsverhouding gebruik om die kinders van Israel na Egipte te bring sodat die daaropvolgende geslagte slawe sou word. Dít het alles gebeur sodat God hulle van die Farao sou verlos en hulle Sy “spesiale” kosbaarheid kon maak. Daarna sou Hy aan hulle die land Kanaän gee. Kom ons erken: God is almagtig. Hy kon die kinders van Israel al die lyding en hartseer gespaar het, as Hy die eindresultaat wou verwesenlik, soos wat Hy met die skepping gedoen het. Dit blyk egter nie hoedat God te werk gaan nie; nie omdat Hy God is nie, maar omdat óns mense is, wat Hy selfs “'n hardnekkige volk” noem:

Eksodus / Shemot {32:9} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk.”

Ek het al dikwels ervaar hoe hardnekkig ons is. Nie elkeen wat ek onderrig, is bereid om die Woord van God voetstoots te aanvaar nie. Baie van hulle vereis 'n redelike verduideliking alvorens hulle selfs sal aanvaar wat die Tora voorskryf, hoedat hulle veronderstel is om te leef. Dit verstom my hoedat meeste gelowiges geen probleem ondervind met die feit dat Jesus inderdaad God is nie, maar as dit by die gebooie van die Tora kom, is dit vir hulle uiters moeilik om te aanvaar, wat nog te onderhou! Indien Jesus God is en God die Tora geskryf het en dan wanneer Jesus sê: “As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” (Johannes [Yochanan] {14:15}), móét Sy gebooie die Tora wees.

Hoe redeneer mense dan die Tora weg? Dikwels verduidelik hulle dit deur te sê die Tora is vir die Jode, maar genade is vir dié wat in Jesus die Messias glo. Wat ek hiervan aflei, is dat hulle glo dat God één stel gebooie voorhou vir geredde mense en 'n ander vir dié wat ongered is – 'n onredelike en valse veronderstelling! Die Woord van God is universeel: Dit span oor tyd, ruimte en mensegroepe.

Ek kon myself ontelbare slapelose nagte, veel trane en baie geld gespaar het as ek net die raad van my ouers gevolg het, maar nee, ek móés alles self, op my manier gedoen het en as't ware die wiel herontdek! Dit bewys hoe hardnekkig ons is. Ons is geneig om niks wat ons nie deur ons eie ervaring geleer het, te waardeer nie.

Het julle al ooit by iemand gestaan wat besig was om al die regte sleutels van sy rekenaar te druk en nie wou aanvaar dat dit nie werk nie en daar gevolglik niks op die skerm verskyn het nie? Selfs indien julle toegekyk het hoedat die pogings keer op keer misluk het, probeer julle nie ook dieselfde prosedure volg alvorens julle aanvaar die rekenaar werk nie? Indien wel, het julle aan julself bewys waarom God dinge op Sy manier beskik, waarom Hy ons op die harde manier leer en ons met 'n langpad neem. Dit is omdat ons ervaringsmense is en tensy ons iets op ons eie ervaar – dit wil sê, self op die harde manier – leer ons nie die les wat God ons probeer leer nie. Ons waardeer nie dít wat ons nie ervaar het nie.

Spreuke / Mishlei {13:11} “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer. ”

Dit is 'n feit dat ons dinge waarvoor ons hard moes gewerk het, méér waardeer as dit wat sommer aan ons gegee is, sonder dat ons enige poging daartoe aangewend of leed ervaar het. Niemand waardeer gesondheid méér as ons siek is of pas van siekbed herstel het nie.

God ken ons – Hy het ons geskep! Waardeer die moelike tye in jul lewens want die indrukke wat dit op 'n mens se lewe laat, sal ongetwyfeld onskatbaar wees – daarbenewens is dit God wat dit vir ons uiteindelike beswil beskik.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-12-26