Sondag 24 Junie 2012

Die Rooi Koei en Jesus die Messias

24 Junie 2012 
D’Var Torah 
Ordonnansies / Chukat 


Númeri / Bamidbar 19:1 – 22:1 
Rigters / Shofetim 11:1 – 11:33 
Johannes / Yochanan 3:10 – 21 


Númeri / Bamidbar {19:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. ”. 

Hierdie voorskrif met betrekking tot die rooi koei is aan die kinders van Israel gegee terwyl hulle in die wildernis rondgetrek het. Die tabernakel (Mishkan) was nog nie gebou nie en derhalwe was daar vir die kinders van Israel geen amptelike plek om heen te gaan vir geestelike reiniging van sonde nie. Onthou egter dat God in hulle midde was in die laer en daarom móés hulle geestelik rein wees om saam met God in die laer te woon. 

Terwyl hulle in die wildernis rondgeswerwe het, sou daar oorlog plaasvind en sowel dood as sonde wees – alles wat geestelike reiniging sou verg. Om hierdie rede het God die voorskrif (mitzvah) aangaande die rooi koei gegee. Die mengsel van die rooi koei se as, sederhout, hissop en water was bedoel om die kinders van Israel te reinig van sonde en onreinheid, terwyl hulle deur die wildernis getrek het. Wanneer die laer nie vir lank oorgestaan het nie, moes daar noodwendig ‘n wyse wees om met sonde te handel. Die as van die rooi koei is vir hierdie doel aangewend. 

Ek wil graag wys op die ooreenkomste tussen die rooi koei en Jesus die Messias. Eersgenoemde móés sonder letsel of liggaamsgebrek wees. 

1 Petrus / Kefa Aleph {1:19} “maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”. Die rooi koei moes buite die laer geslag word. Hebreërs / Ivrim {13:12} “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. ”. 

Die bloed van die rooi koei moes in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms (Ohel Moed) gesprinkel word. 

Hebreërs / Ivrim {9:13} “Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, {9:14} hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien. ”. 

Die persoon op wie die mengsel van die as van die rooi koei gesprinkel was, is rein geag maar die priester wat die persoon besprinkel het, het deur hierdie handeling self onrein geword. 

1 Petrus / Kefa Aleph {2:24} “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. ”. 

Toe Jesus vir ons sonde gesterf het, het Hy eenkeer vir al ons sonde (verlede, nou en toekomstig) gesterf. Ons sondig egter steeds selfs ná ons redding. Hierdie sonde móét gereinig word. Jesus die Messias het na die hemel opgevaar maar funksioneer steeds soos wat die as van die rooi koei; Sy bloed, wat duisende jare gelede vir ons gestort is, reinig ons van al ons sonde. Die apostel Johannes het geskrywe: 

1 Johannes / Yochanan Aleph {1:9} “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. {1:10} As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie. ”. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 17 Junie 2012

Slegte Geselskap Bederwe Goeie Sedes

17 Junie 2012 
D’Var Torah 
Korag / Korach 


Númeri / BaMidbar {16:24} “Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram! {16:25} Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan. {16:26} Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie. ”. 

Het julle al ooit die vonnis: “Skuldig deur assosiasie” gehoor? Ek het verneem van ‘n jong man, ‘n Christen; laat ons hom maar Petrus (nie sy regte naam nie) noem, wat in ‘n motor saam met ‘n groep van sy vriende gery het. Sy vriende het die reputasie van ietwat wild gehad maar nooit juis in werklike moelikheid beland nie en hy het hulle geselskap geniet. 

Toe die bestuurder van die motor by die oprit van ‘n vriend se huis stilhou, het almal – Petrus ook – uitgeklim en in die huis ingegaan. Petrus het naderhand besef dat alles nie pluis was nie. Dit was ‘n dwelmverskaffer en sy vriende was besig om dwelms te koop. Meteens het die voordeure oopgebars en die polisie van die Dwelm– wetstoepassingsagentskap het in die huis ingestorm. Hulle het almal teenwoordig – Petrus inkluis - in hegtenis geneem en hulle na die polisiestasie geneem. In die huis is daar ‘n verskeidenheid straatdwelms asook vuurwapens gevind. 

Petrus was onskuldig aangesien hy nog nooit dwelms gebruik het nie en was heeltemal onbewus daarvan dat sy vriende sou stilhou om dwelms te koop. Hy was egter op die verkeerde plek op die verkeerde tyd en gevolglik is hy “skuldig deur assosiasie” bevind. ‘n Uitgerekte hofsaak het gevolg en in dié proses het Petrus sy werk, sy gehuurde woonstel en vanselfsprekend sy reputasie verloor. Sy lewe is dus eenvoudig vernietig deur ander mense se sonde en omdat hy saam met die skuldiges was. 

Die Skrif en in die besonder ons Parasha-gedeelte hierbo waarsku ons om nie in die geselskap van goddeloses te verkeer nie. Ons móét uiters versigtig wees met wie ons omgaan en wie ons vriende is. 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {15:33} “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”. 

Korag en sy groep volgelinge was opstandig. God het Moses en Aäron aangewys as leiers van die gemeente. Korag en sy volgelinge het geen gesag gehad om hulle in daardie opsig uit te daag nie en ons almal weet wat met hulle gebeur het as gevolg van hulle opstand. 

Númeri / BaMidbar {16:31} “En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, {16:32} en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. ”. 

Ek dink dat God in vandeesweek se Parasha aan ons ‘n baie duidelike boodskap gee: Vermy opstandige mense – dit sal net moelikheid meebring! 

Spreuke / Mishlei {4:14} “ Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. {4:15} Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; {4:16} want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot ‘n val bring nie. {4:17} Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid. Pro 4:18 Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, {4:19} is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. ”. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 10 Junie 2012

Daar Sal Twee Groepe Mense Wees

D’Var Torah 
Stuur Vir Jou / Shelach 


Numeri / Bamidbar (15:13) “Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring. {15:14} En as ‘n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en ‘n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei—soos julle doen, so moet hy doen. {15:15} Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ‘n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. {15:16} Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ”. 

Baie mense, wat hulle kerk verlaat en by die Messiaanse Joodse gemeente, veral één soos die Gemeente Melech Yisrael, aansluit, verkeer uiteindelik onder die indruk dat die kerk nie gered is nie. Die rede vir hierdie indruk is omdat ons die Hernieude Vebond (Brit Chadash met betrekking tot die Joodse konteks, sienswyse en begrip daarvan onderrig. Dit is natuurlik iets geheel-en-al vreemd vir ‘n kerk wat die Joodsheid en Tora verwerp. Niks is egter verder van die waarheid verwyder nie – die kerk is vir die grootste gedeelte gered. 

Omdat hulle egter hulle Joodse afstamming en die Tora verwerp het, het die kerk nie tot die volle begrip van die Woord van God gekom nie. Hulle het ook die volheid van die krag, wat tot hulle beskikking is, verbeur vanwëë hulle ongehoorsaamheid aan die Tora, maar hulle is wel gered. Toegegee dat sommige kerke in afvalligheid verval het as gevolg van hulle uiterste ongehoorsaamheid en verwerping van Israel. Behalwe diegene, is die mense van die kerk gered. 

Dit bring ons by die punt wat ek graag wil bespreek. Soos ons in die bovermelde Skrifgedeelte gelees het, is vreemdelinge, wat hulself by Israel aansluit en begeer het om aan die gebruike en tradisies van Israel deel te hê, as één met Israel beskou. Indien dit vandag van toepassing is, beteken dit dat nie-Jode wat hulle by ‘n Messiaanse Joodse gemeente aansluit, self Messiaanse Jode (nie Joods nie, maar Messiaanse Jode) sal word. Nie alle vreemdelinge (nie-Joodse gelowiges) is egter bereid om daardie keuse te maak nie; trouens, die oorgrote meerderheid het verkies om te bly by hulle onderskeie kerklike tradisies. Dit beteken nie dat met die wederkoms van Jesus, nie-Joodse gelowiges en die nasies waaraan hulle behoort, deel daarvan sal wees of ophou om te bestaan nie. 

Sagaría / Zechariah {4:17} “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. {4:18} En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. {14:19} Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.”. 

In hierdie gedeelte beskryf Sagaria wat gedurende die Duisendjarige Ryk (die duisendjarige heerskappy van die Messias op aarde) met die nasies sal gebeur, wat nie na Jerusalem optrek om met die huttefees voor God te verskyn nie. Hieruit kan ons dus aflei dat die verskillende nasies van die aarde tydens die Duisendjarige Ryk sal bestaan en dat hulle apart van Israel sal wees. Hierdie feit lei my tot die volgende gevolgtrekking: 

Na my mening, sal daar tydens die Duisendjarige Ryk twee groepe mense op aarde wees. Die eerste groep sal Israel wees, ‘n volk wat uit fisiese mense bestaan, wat hulle afstamming kan naspoor tot by die patriarge, Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en Jakob (Ya’acov), tesame met diegene uit die nasies van die wêreld wat hulself met Israel verbind en sodoende één met hulle geword het. Die tweede groep sal die onbesnede of nie-Joodse nasies wees wat glo, van wie baie sal oorleef en steeds bestaan ná die typerk van verdrukking. Ongelukkig sal baie van hulle teen die einde van die Duisendjarige Ryk, deur die Satan verlei word en weereens anti-Semities, Anti-Israel, raak. 

Openbaring / Hitgalut {20:7} “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; {20:8} en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. {20:9} En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”. 

Daar is egter iets interessant in die Skrif aangaande die vreemdeling, wat ek julle graag sou wou laat sien. Dit het betrekking op dié nasies wat verkies om hulle met Israel te verbind: 

Esegiël / Ezekial (47:23) “En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”. 

Die mense van die nasie wat verkies om hulleself met Israel te verbind, sal vergun word om te kies van welke stam hulle deel wil word. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 03 Junie 2012

Fatsoenlikheid in die Teenwoordigheid van God

3 Junie 2012
D’Var Torah 
Wanneer Julle Gereedmaak / Beha’ Alotecha 


Numeri / Bamidbar {8:7} “En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig. ”. 

Ek het al so dikwels ortodokse, opmerksame Joodse mense, veral mans, gesien wat onversorg, met hare en klere geheel-en-al deurmekaar en vuil voorkom. Dit was nêrens vir my méér opsigtelik as toe my vrou en ek deur die strate van Mehasharim (‘n ultra-godsdienstige buurt) in Jerusalem gestap het nie. Ek het toe gewonder hoe God daaroor moet voel omdat ek al self dikwels van mening was dat ‘n mens altyd behoorlik versorg, met ‘n goeie voorkoms behoort te wees. Dit het dus vir my besonder vreemd voorgekom toe ek die bovermelde vers uit parasha Beha’ Alotecha gelees het. Waarom sou God opdrag gegee het dat die priesters al die hare van hulle liggame afskeer? In antieke tye was dit wel die gebruik dat ‘n Egiptiese priester dit moes doen as deel van die seremoniele aanbidding van hulle afgode. Waarom sou God dan besluit het dat Sy priesters dieselfde doen? Vandag skeer liggaamsopbouers (“body builders”) die hare van hulle lywe af om sodoende hulle spiere te beklemtoon – ‘n praktyk wat hulle na my mening minder manlik laat voorkom en beslis nie méér so nie. God het aan mans harige liggame gegee – is daar dan iets onrein daaraan om hare op die liggaam te hê? Ek dink nie so nie. Gevolglik het ek hierdie vers begin navors om vas te stel presies wat God gesê het en dít is wat ek gevind het: 

Levitikus / Vayikra {14:2} “Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word, {14:8} “Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en ‘n bad neem; dan sal hy rein wees. En daarna kan hy in die laer kom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly. ”. 

Soos ons in hierdie Skrifgedeelte sien en die afskeer van liggaamshare, was dit met ‘n siekte vereenselwig, spesifiek met melaatsheid. Aangesien die priesters nie melaats was nie, wou ek vasstel of daar ‘n verskil was tussen die Hebreeuse woord vir die skeer van ‘n melaatse en dié een wat vir die skeer van priesters gebruik is. Wat ek toe gevind het, is die Hebreeuse woord vir “skeer” in ons parasha – skrifgedeelte is “ta’ar”, terwyl die Hebreeuse woord in die Skrif vir die skeer van ‘n melaatse “gilach” was. 

Hebreeus is ‘n baie spesifieke taal, met die gevolg dat woorde wat gebruik is, nie altyd ‘n ooreenstemmende woord of betekenis in Engels of in meeste ander tale het nie. Dit is die verskillende betekenisse van hierdie woorde wat vir my verklaar het wat God hier bedoel het, ofskoon die Engels van beide Skrifgedeeltes skynbaar na die algehele afskeer van ‘n mens se liggaamshare verwys. In Hebreeus en wel in die geval van ‘n melaatse waar die Hebreeuse woord “gilach” gebruik word, bedoel dit “om kaalkop te skeer”. ‘n Mens se hare moes dus heeltemal van kop tot toon afgeskeer word. Dit is begryplik wanneer ‘n mens besef dat so ’n persoon ‘n bepaalde reinigingsproses moes ondergaan om ‘n velsiekte te genees. Die Hebreeuse woord “ta’ar” wat tesame met die die Hebreeuse stamwoord “avbar” in die parasha-gedeelte voorkom, beteken in hierdie konteks egter nie die algehele afskeer van alle liggaamshare nie. Wat dit wel beteken, is om ‘n skeermes oor ‘n mens se vel te beweeg, as ‘n proses van persoonlike versorging. 

God wou nie hê dat die priesters vuil en onversorg moes wees nie. Eweneens wil Hy ook nie hê dat ons, wat in Jesus die Messias glo – Sy priesters – met deurmekaar hare en onversorg lyk nie. Ongeag die feit dat priesters verbied is om die kante van hulle baarde en hare af te sny – ‘n vereiste wat vereenselwig is met hulle diens in die tabernakel (Mishkan) en later in die tempel (Bet HaMikdash) – moes hulle altyd goedversorg, netjies en fatsoenlik in die teenwoordigheid van die Here wees. Dieselfde geld vir ons! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou