Donderdag 29 Desember 2022

VaYigash (En Hy Het Nadergekom) - Belydenis


Genesis 44:18 – 47:27

Esegiël 37:15 – 28

Lukas 6:12 – 16


Genesis {44:30} “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie — terwyl sy siel innig aan hom verkleef is — {44:31} sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!”


Dit het veel van Juda vereis om eindelik verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hy  gedoen het. Hy bely nie spesifiek sy sonde en dié van sy broers nie; hy het homself in gevaar gestel teneinde sy broer, Benjamin, te red. Hy het dit nie vir sy broer Josef gedoen nie, maar ons verneem dat Juda en sy broers inderdaad vol berou was.


Josef en sy nege broers moes veel druk verduur voordat hulle die punt van belydenis en berou bereik het; die ergste was ongetwyfeld die twintig jaar van skuldgevoel terwyl hulle by hul vader in Kanäan gewoon het. Hulle het terdeë besef dat hulle hul vader bedrieg het om te glo dat Josef dood was, verskeur deur een of ander wilde dier. Die skuldgevoel het egter toegeneem toe hulle Josef ontmoet het. Hy het hulle herken, maar hulle het hóm nie herken nie. Josef het hulle so’n moeilike tyd laat beleef - enigeen sou geknak het vanweë wat hy hulle aangedoen het. Dit kon beslis nie ‘n maklike oordeel vir die broers gewees het nie. Ek kan my nie voorstel hoe moeilik dit vir hulle moes gewees het, vanweë die druk wat Josef op hulle uitgeoefen het nie. Een broer was in die gevangenis, hulle geld is in hulle sakke teruggeplaas, wat hulle soos diewe laat lyk het en die blote gedagte om na hierdie magtige, onvriendelike Egiptiese heerser terug te keer boonop met hulle broer, Benjamin, moes uiters stresvol gewees het. Die stres moes besonder erg gewees het omdat hulle vader geweier het om Benjamin saam met hulle terug te laat gaan na Egipte. Toe hulle vader eindelik ingestem het daartoe, het hulle vader meer skuld op die broers geplaas. Dit het ook nie daar geëindig nie - met hul terugkeer na Egipte, het Josef verdere druk op hulle toegepas. Boonop het ‘n verskriklike vrees hulle verder oorval toe die onderkoning se drinkbeker in Benjamin se sak gevind is met hulle terugkeer huis toe.


Kan jy jou dit alles voorstel? Probeer jouself in die verhaal inleef. Hoe sou jy gevoel het? Kan jy jouself voorstel, hoeveel spanning en vrees hierdie skuldige broers ervaar het? Die feit is egter dat hierdie hele gebeurtenis eintlik die doel van God was. Hy het die broers van die begin tot die einde hul sonde laat besef en beweeg om van skuld tot  belydenis en berou oor te gaan.


Baie van ons voel ook skuldig oor sondes wat ons gepleeg het, maar beweeg die skuld ons tot belydenis en berou of “begrawe” ons ons skuld en verbeel ons dat dit nie soos Josef se broers s’n is nie? Gaan ons aan met ons lewens asof niks gebeur het nie?


Ek vertrou dat julle hierdie hele verhaal as ‘n tipe of beeld van Jesus en Sy broers, die Joodse volk, sal beskou. Wat ek egter graag begeer, is dat ons vandag sien as die werklike betekenis vervat in hierdie verhaal en die les wat ons almal daaruit kan leer. Die Here het Josef se broers tot op die rand geneem ten einde hulle sondes finaal te bely en berou te ervaar. Vir twintig jaar het hulle hul skuld verduur wat vir hulself pyn, lyding, siekte en ‘n gespanne verhouding met hul vader beteken het. Hoe kon hulle hul vader in die oë kyk na wat hulle hom aangedoen het?  


Dink vir ‘n oomblik na oor jou lewe. Het jy oor die jare heen onrus, pyn en lyding verduur? Het jy gevoel dat as dit nie vir teenspoed was nie, jy geluk sou beleef het nie? Is daar ‘n skuldgevoel “begrawe” in jou onderbewussyn wat moontlik vir jou angs of selfs siekte meebring? Miskien is dit God, wat jou probeer bring tot op ‘n punt om jou skuld te erken, bely en berou te toon. Dink jy dat jy God vóór kan kan wees en Hy jou eindelik sal opgee en alleen laat? Hy sal nie! Wees verseker dat Hy sal volhou om druk op jou uit te oefen, jou van een teenspoed na ‘n ander laat beleef totdat jy óf bely en berou toon óf in sonde sterf. Indien jy verkies om God te trotseer en in jou sonde te sterf, onthou die verderf is werklik. Ontvang Jesus as jou Heer en Redder, bely jou sonde betyds en verseker vir jouself ‘n plek saam met Hom in die hemel.    


Kom gou Jesus!


PDF weergawe

Donderdag 22 Desember 2022

Miketz (Aan Die Einde) - Verandering

Miketz
(Aan Die Einde)


Genesis 41:1 – 44:17

Jesaja 66:1-66:24

1 Korinthiërs 2:1-5


Genesis {42:8} "En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. {42:9} Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is. {42:10} Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. {42:11} Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie."


Dit is die eerste keer in die Skrif waar ons verneem dat daar politieke spioene gedurende die tydperk voor Moses was. Koning Salomo was inderdaad reg toe hy gesê het:


Prediker {1:9} "Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie."


Die vernaamste spioene in die Skrif is die twaalf stamhoofde wat deur Moses gestuur is om die land Kanaän te gaan verken - dit het beslis nie goed afgeloop nie! Ons lees ook in die Skrif dat die Fariseërs spioene gebruik het om ondersoek in te stel en meer van die Man van Galilea te gaan uitvind. Hulle het ook spioene gebruik om redes te vind teneinde Hom van ‘n ernstige misdaad aan te kla; hulle wou Jesus dood en uit die pad hê. Alle lande van die wêreld gebruik spioene om inligting of ‘n sekere tipe voordeel oor vreemde regerings te bekom. Dit maak egter nie saak of hulle vriend of vyand is nie, lande spioeneer steeds op mekaar. Hedendaagse Israel gebruik ook spioene. Een van die bekende spioene Jonathon Pollard, is onlangs eers vrygelaat na dekades in gevangeskap in die Verenigde State. Die mees bekende spioen in Israel was Eli Cohen, wat van 1961 - 1965 op Sirië gespioeneer het en aansienlike voordele vir Israel oor Sirië teweeggebring het; trouens, in elke stad in Israel is ‘n straat na hom vernoem.


Wanneer hulle in hegtenis geneem word, erken niemand dat hulle spioene was nie, tensy hulle miskien gevang word terwyl hulle op die land spioeneer waar marteling aangewend word om ‘n bekentenis af te dwing. Ongelukkig ontken ‘n land vir wie hulle spioeneer het in meeste gevalle, dat die spioenasie vir hulle geskied het of selfs dat die spioene aan hulle bekend is en word sodanige spioene aan hulle eie genade oorgelaat om hulself te verdedig. Ek beskou dit as ‘n prys wat ‘n mens moet betaal om ‘n spioen te wees.


Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat spioenasie betreklik algemeen in die antieke Midde-Ooste was en selfs moontlik ‘n probleem tydens Josef se onder-koningskap in Egipte was. Indien dit nie die geval was nie, is ek seker dat Josef iets anders sou gekies het om sy broers van te beskuldig. Dit is egter nie die feit dat Josef sy broers van spioenasie beskuldig het, wat my opgeval het nie, maar wel sy broers se reaksie op die beskuldiging


Genesis {42:11} "Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie."


Dit is beslis seker dat sy broers nie besef het vir wie hulle dit gesë het nie - Josef het geweet dat hulle enigiets behalwe eerlike manne was! Hulle het, trouens, pas vantevore vir hom gelieg deur te insinueer dat hy dood was, terwyl hulle hom op hartelose wyse teen ‘n wins verkoop het aan ‘n groep Midianiete. Ongeag hiervan, glo ek egter dat hierdie tien manne hulself werklik as eerlike mense beskou het, ten spyte van die skuld, waaronder hulle verkeer het vanweë die onreg wat hulle alles aan hulle broer Josef, gedoen het. Dit is tog verbasend welke verwronge beeld ons aangaande onsself in ons gedagtes kan versin.


Kan jy nog onthou wat jy van jouself gedink het voordat jy gered is? Toe het geeneen van ons onsself as sondaars beskou nie! Ek weet nie van julle nie, maar ek het myself deurgaans as ‘n goeie persoon beskou. Na my mening was ek meelewend, vrygewig, liefdevol, bedagsaam, onselfsugtig en ‘n lojale vriend of, so het ek gedink totdat ek gered is. Toe het ek myself gesien, soos wat God my sien -  dít was nie aangenaam nie. Selfs noudat ons gelowiges is, ten spyte daarvan dat ons almal nog veel het wat uit ons lewens verwyder moet word, beskou meeste van ons - daarvan is ek oortuig onsself as beter as wat ons werklik is.


Die probleem met Josef se broers, wat ook ons probleem is, is dat ons onsself beoordeel volgens ons eie maatstawe in plaas van God s’n. Josef was deeglik bewus van die feit met wie hy te doen gehad het, maar by sy broers het dit ontbreek. Josef moes hulle dus eers deur die skyn lei voordat hulle finaal besef het dat hulle na alles nie sulke “eerlike manne” was nie.


Josef, weet ons, is ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias. Daarom, as ons oorweeg wat Josef moes doen om sy broers se oë te open vir die realiteit van hulle ware aard, dink net wat Jesus moontlik aan jou moes gedoen het om jou ware aard bloot te lê. My raad is, selfs indien jy gered is en in Jesus die Messias glo as jou Here en Redder, bely dat jy nog lank nie volmaak is nie en vra  die Here om jou saggies tot ‘n verandering te lei.  

Kom gou Jesus!

 


PDF weergawe

Donderdag 15 Desember 2022

Vayeshev (En Hy Het Gewoon) - Onguns



Genesis {38:7} "Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die Here mishaag. Daarom het die Here hom laat sterwe. {38:8} Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer 'n nageslag. {38:9} Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. {38:10} En dit was verkeerd in die oë van die Here wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe. {38:11} Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly 'n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader."

Hierdie verhaal oor Juda en sy skoondogter,Tamar, het blykbaar hoegenaamd geen verband met die verhaal, wat dit voorafgegaan het oor Josef nie. Dit kom voor asof God dit net hier ingevoeg het, uit nêrens nie, om ‘n verhaal binne ‘n verhaal te skep. Waarom het God dit gedoen? Dit lyk asof dit geheel-en-al nie hier hoort nie.

Josef is deur sy broers geneem en uiteindelik verkoop aan die Midianiete, ‘n gebeurtenis wat ons weet geheel-en-al deur God beskik is. Alles het presies verloop soos dit moes - selfs die gedeelte waar Juda ‘n profytmakende skema voorgestel het, in plaas daarvan dat sy broer in ‘n droë put van dors sterf! Vreemd soos dit mag blyk, is dit om hierdie rede dat die verhaal van Juda en Tamar hier ingevoeg is. Netsoos elke gebeurtenis in Josef se lewe deur God beskik was, was dit ook in Juda se geval so. Dit was vir Juda bestem om ‘n leier te word en om die koningsafkomslyn te vorm waaruit Jesus die Messias gebore moes word. Voordat dit kon gebeur, moes God ‘n belangrike taak in Juda se lewe laat plaasvind. Nie net het hy teen God gesondig deur sy broer te verkoop nie, maar ook nie die opdrag van God gehoorsaam deur met ‘n Kanaänietiese vrou te trou en kinders by haar verwek nie.

Eksodus {21:16} "En hy wat 'n mens steel en hom verkoop — of as hy in sy besit gevind word — dié moet sekerlik gedood word."

Juda se sonde het hom egter ingehaal en die Here se oordeel het op hom gerus. Dit was dus vir Juda nodig om berou te toon oor sy sondes en vergifnis te ontvang. In plaas van die prys van die dood te betaal, het sy seuns daarvoor geboet omdat hulle in die oë van God buite-egtelike kinders was. Dit was Juda se huwelik met die Kanaänietiese vrou wat God laat besluit het om die kinders van Israel uit die land van Kanaän te verwyder en hulle in Egipte te vestig. Afgesonderd in Egipte, sou hulle nie ondertrou nie; hulle was herders en die Egiptenare was bevooroordeeld teen daardie minderwaardige beroep. Dus alleen gelaat en heeltemal op hulle eie, sou Israel groei in die volk wat God hulle beskik om te wees.

Eksodus {34:12} “Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien 'n strik by jou word nie. {34:13} Maar hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme afkap. {34:14} Want jy mag jou nie neerbuig voor 'n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers — 'n jaloerse God is Hy {34:15} Sluit tog nie 'n verbond met die inwoner van die land nie! As hulle agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer, sal hy jou uitnooi, en jy sal van sy offer eet; {34:16} en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.”

Juda se ondervinding met Tamar, was vir hom ‘n erge ontnugtering - één wat hom die lewens van sy twee seuns gekos het. Die blootstelling van sy sonde, het ‘n uitwerking van nederigheid op Juda gehad en ‘n vername rol gespeel in sy gereedmaking vir toekomstige vernedering en belydenis voor die Onderkoning van Egipte - sy broer Josef!

Daar is ‘n aantal lesse te leer uit Juda se ondervinding met Tamar, wat waarskynlik die rede was waarom dit hier ingevoeg is. Die eerste is ‘n bekragtiging van die Skrif, wat soos volg lui:

Eksodus {20:5} "Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;"

‘n Verdere les het betrekking op die eerste les, naamlik dat ons daarop gewys word hóé belangrik dit is om nie in onguns by God te raak nie, want Sy plan en doel vir ons lewens sal altyd vervul word ongeag welke gevolge ons moontlik moet verduur langs die weg van ons ongehoorsaamheid aan Sy gebooie.

Laastens, voordat God ons in ‘n leierskap-posisie kan plaas, moet ons ons eie tekortkominge kan erken.

Kom gou Jesus!

Donderdag 08 Desember 2022

VaYislach (En Hy Het Gelewe) - Ontvlugting


Genesis {36:9} "Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? {36:10} En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, {36:11} kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. {36:12} Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. {36:13} Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, {36:14} roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons 'n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu;"

Dit was vir my interessant dat hierdie Parasha eindig met ‘n gedetaileerde beskrywing van van die geskiedenis, afstammelinge en geslagregister van Esau. Esau, soos ons bewus is, is die vader van Edom. Edom, na wat ons verneem, was ook woonagtig in Berg Seir, wat die huidige Jordanië is Ofskoon die Edomiete, wat regstreeks verwant was aan Israel, het hulle nooit goeie verhoudings met mekaar gehad nie; trouens, toe die Assiriërs die Noordelike Koninkryk van Israel aangeval het, het Edom tussenbeide getree en elke Israeliet, wat probeer vlug het, vermoor. Juis hieroor het die Here Edom veroordeel.

Esegiël {25:12} "So sê die Here Here: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het — {25:13} daarom, so sê die Here Here: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit 'n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val."

Joël {3:19} "Egipte sal 'n woesteny word, en Edom 'n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het."

Konings Saul, Dawid en Salomo het tydens hulle onderskeie regerings Edom verslaan en hul gebied beset. Tog het die Here Sy belofte vervul deur die land Kanaän aan Israel te skenk, maar het Moses uitdruklik beveel om Edom alleen te laat. Waarom sou Hy dit gedoen het? 

Deuteronomium {2:2} "Toe het die Here met my gespreek en gesê: {2:3} Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg {2:4} en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; {2:5} begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie 'n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as 'n besitting gegee." 

Dit is wat God aan Esau beloof het, selfs al het konings Saul, Dawid en Salomo die Edomiete verslaan. Uiteindelik het die Edomiete egter in opstand gekom en hulle bevry van onder Israel.

‘n Paar duisend jaar verder in die toekoms, vind ons dat Jordanië ‘n vredesverbond met Israel aangegaan het, alhoewel dit maar ‘n baie twyfelagtige verbond is. Dit laat ‘n mens wonder waarom die Here aan die afstammelinge van Esau soveel ruimte in Sy Woord geskenk het. Ek veronderstel dat die antwoord te vinde is in die Skrifgedeelte hieronder. Hierdie gedeelte het betrekking op die Verdrukkingstydperk waneer die Anti-chris en sy leërmagte Israel sal binneval:

Daniël {11:40} "Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met rydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. {11:41} Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.”

Die vraag ontstaan dus waarom Edom (Jordanië) uit die hande van die Anti-chris sal ontsnap? Daar word geglo dat in die eindtye wanneer die anti-Chris Israel aanval, vlugtelinge uit die land na Petra in Jordanië sal vlug vir veiligheid en dat hulle deur die Jordaniërs ontvang sal word. Hedendaagse Petra word geag om die hoofstad van Edom te gewees het. Die Skrif meld dit egter nie by naam nie, maar wel by name Bozrah. Bozrah, die koninklike stad van Edom, word beskou as die moderne Petra omdat die beskrywings van dié stede perfek ooreemstem.

Openbaring {12:14} "maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.”

Dit is die indruk wat ek kry. Die kinders van Israel vlug voor die aanslag van die Anti-chris leërmagte na die wildernis en gaan na Petra, in die Skrif Bozrah. Dit is om hierdie rede dat ons die volgende deur Jesaja meegedeel word:

Jesaja {63:1} "Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. {63:2} Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? {63:3} Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. {63:4} Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. {63:5} En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun.{63:6} En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop."

Jesus gaan nie eerste na die Olyfberg waneer Hy na die aarde toe kom nie, soos baie glo en leer. Hy sal eerste in Bozrah aankom. Diegene wat daar skuil, bevry en dan Sy weg na Jerusalem oopveg met Sy leërmagte en die leërmagte van die anti-Chris verslaan terwyl Hy Sy weg oopstry na die Heilige Stad. Daarna sal Hy die Olyfberg opgaan, soos beskrywe in hierdie Skrifgedeelte:

Obadja {1:21} "Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die Here toebehoort.”

Die Berg van Esau is nie werklik ‘n berg in Edom nie, maar wel ‘n verwysing na die heidense nasies van die wêreld. Dit dui ook op die volgende Skrifgedeelte in Mattéüs wat soos volg lui:

Mattèüs {25:31} "EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; {25:32} en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;”

Kom Spoedig Here Jesus, verlos ons en die hele Israel van haar moeilikhede!!




























Saterdag 03 Desember 2022

Vayetze (En Hy Het Uitgegaan) - Name

Dit wil voorkom asof aan Jakob (Ya’akov) toegekom het wat hy verdien het: Die bedrieër is toe self bedrieg. Dit is die standaardvertolking van hierdie Skrifgedeelte en sekerlik, met inagneming van Jakob se karakter, skyn dit geldig te wees. Die vraag ontstaan egter: het Laban (Lavan) doelbewus probeer om Jakob te kul of te bedrieg? Ek glo egter nie dit was die geval nie. Dit stel my na alle waarskynlikheid teenoor die meeste kommentaar - ten minste dié waarvan ek bewus is.

Genesis {29:25} "En die anderdagmôre — daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?"

Dit is in hierdie gedeelte waar ons Jakob se ware hart sien. Bedrieërs verkeer altyd onder die indruk dat ander mense hulle probeer bedrieg. Dieselfde geld vir leuenaars: hulle dink altyd mense lieg vir hulle, leuenaars glo of vetrou niemand nie. Jakob was inderdaad ‘n bedrieër met die gevolg dat toe hy Lea in plaas van Ragel as vrou gekry het, hy dadelik gemeen het dat Laban hom bedrieg het, maar soos ek hier bo gesê het, glo ek nie dat dit die geval was nie. Laban se antwoord op Jakob se beskuldiging is wat my dit laat glo

Genesis {29: 26} "En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie." 

Dit was dus streeksgebruik en het moontlik reeds lank gegeld, dat die ouer dogter vóór ‘n jonger een moes trou. Aangesien huwelike altyd gebruiklik gereel was, sou dit ‘n baie eenvoudige praktyk gewees het om te volg. Laban spesifiseer dat dit die praktyk by hulle was; Dit was egter ‘n algemene gebruik tussen al die Midde-Oosterse volkere in Jakob se tyd. Nou sal julle moontlik kan redeneer dat Laban vir Jakob moes ingelig het dat hy eers met Lea móés trou voordat hy Ragel as vrou vir hom kon gee. Aangesien dit ‘n algemene praktyk in die hele Midde- Ooste was, meen ek dat hy onder geen verpligting was om dit na te kom nie. Jakob moes dit besef het! Is dit nie die geval dat bedrieërs uiteindelik hulself bedrieg nie?

Toe ek en my vrou aanvanklik Israel begin besoek het - jare voordat ons Aliyah gedoen het (daarheen verhuis het), het ons altyd ‘n voertuig gehuur om in die land rond te reis. Een jaar, terwyl ons met die hoofweg gereis het, is ons deur die polisie voorgekeer. Wat was my oortreding? Ek het bestuur sonder dat my hoofligte aangeskakel was. Dit was gedurende November en ek was nie vertroud met die Israeliese wetgewing nie wat vereis het dat alle voertuie se hoofligte bedags aangeskakel moes wees wanneer op die hoofweg gereis word. Hierdie wet het van November tot April gegeld. As toeris, was ek nie daarvan bewus nie. Alle voertuie in Kanada se hoofligte moes outomaties aangeskakel bly sodra die voertuig aangeskakel word, met die gevolg dat dit nooit eers by my opgekom het om te sorg dat die hoofligte aangeskakel moes word nie. Ofskoon die polisiebeampte verstaan het dat ek ‘n toeris was, het hy skynbaar nie veel omgegee nie - dit was slegs deur God se genade dat ek nie beboet is nie en kon ons ons reis voortsit. Nodeloos om te sê, was ek baie ontsteld dat die voertuigverhuuringsmaatskappy nagelaat het om my in te lig dat die hoofligte aangeskakel moes wees wanneer daar op die hoofweg gereis word. Ek was vanselfsprekend van plan om my misnoeë aan hulle te kenne te gee toe ek die voertuig terug besorg het, maar het toe besef dat die maatskappy eintlik onskuldig was. Nietemin moes hulle my vooraf gewaarsku het, maar dan sou hulle my oor al die dosyne verkeersreëls,- regulasies en - wette , wat aan Israel uniek is, moes ingelig het; Nee, dit was nie hulle verantwoordelikheid nie. Ek het ‘n voertuig in ‘n vreemde land gehuur en elke land beskik oor hulle besondere bestuurswette en - reëls. Dit was eintlik my verantwoordelikheid om, voordat ek ooit Kanada verlaat het, navorsing te doen oor welke wette en regulasies in Israel gegeld het sodat ek dit nie onwetend sou oortree nie. Na alles, is onkunde van die wet, geen geldige verdediging in enige land nie.

Jakob mag moontlik nie van dieselfde streek as sy oom Laban gewees het nie, maar hy was inderdaad Midde-Oosters en sou die gebruike van die land moes geken het. Onkunde van die wet is hoegenaamd geen verskoning nie! Jakob was nie bedrieg nie; die bedrieër het homself bedrieg!

Ons behoort almal daarvan bewus te wees te wees dat die name van die Bybel besonder veelbetekenend is. Heel dikwels dra die Bybelse name wat in verhale gebruik word, ‘n bykomende betekenisvolle boodskap van die verhaal. Dit is dus die geval met die verhaal van Jakob en Laban.

Geeneen, selfs nie in die Bybelse tye nie, sou hulle ‘n kind die die naam van ”slinks” of “berieër” (=Jakob) gegee het, wat Ragel wel gedoen het nie. Ons sien dieselfde met Naomi se twee seuns wat, volgens die boek Rut, voortydig oorlede is: Maglon wat “siekte” beteken en Giljon wat “uitwissing” beteken: beswaarlik name wat ‘n moeder haar kinders sou noem. Ook Abigail, koning dawid se vrou, se gewese man, is Nabal genoem, wat “skelm” beteken. Sou julle ooit kon dink om julle seuntjie “skelm” te noem? Dit is dus interessant hoe die verhaal van Jakob en Laban onderskeid gemaak het tussen die karaktereienskappe van dié twee manne deur die gebruik van letterlike name.

Ons het altyd geleer dat Jakob die slagoffer van die verhaal was: die een wat deur sy oom uitoorlê is , maar dit mag nie die geval in die oë van God wees nie. Soos ons weet, beteken Jakob “slinks” of “bedrieër”. Laban, aan die anderkant, beteken “wit”- ‘n simbool van eerlikheid en reinheid. Kan God ons hier iets meedeel deur die letterlike gebruik van hulle name? Ja; trouens Hy doen dit. Daar is ‘n ander sy, ‘n anderkant aan hierdie verhaal tussen Jakob en Laban; vir Laban betekenis gesien deur sý oë en deur die gebruike van sy tyd. Sy kant is verborge vir die ongeoefende oog, in die name van die karakters wat spesefiek deur die skrywer aan hulle gegee is; ‘n betekenis wat blyk wanneer ons hulle name met die lewe en gebruike, wat in die Bybelse tye beoefen is, kombineer. 

Kom gou Jesus!