Pinchas
(Phinias)
Númeri / Bamidbar {25:10} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:11} Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie.”
Hier is iets baie betekenisvol en belangrik waarop ons almal moet agslaan en verstaan. God se toorn is deur die dood van Simri en Kosbi afgewend. Dit is besonder vreemd aangesien die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) soos volg lui:
2 Petrus / Kefa Bet {3:9} “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
In die betrokke geval in parasha Pinchas, is die dood van twee persone dit wat God verlang het – dit was juis hulle dood waardeur die plaag, wat besig was om die kinders van Israel uit te roei, gestuit is.
Wat is dit dus? Verlang God die dood van ‘n sondaar of dat niemand omkom nie? Ek meen die antwoord op hierdie vraag is in beide geleë en sal dit verduidelk soos wat ons verder gaan.
Daar is ‘n verdere geval in die Skrif waar die dood van ‘n persoon God tog positief beïnvloed het.
Josua / Yehoshua {7:1} “Maar die kinders van Israel het hulle vergryp aan die bangoed; want Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed geneem, sodat die toorn van die HERE ontvlam het teen die kinders van Israel.”
As gevolg van die sonde van Agan, is Israel deur die manskappe van Ai verslaan: ses-en-dertig van die driehonderd Israeliete het in die oorlog gesneuwel. Toe dit egter aan die lig kom dat die onheil vanweë Agan se sonde oor Israel gekom het, het Moses hom laat stenig. God het genoë geneem met die dood van hierdie sondaar en op grond van sy dood, het God Sy vervloeking teen Israel opgehef en het hulle Ai verslaan.
Daar is selfs nog ‘n geval:
1 Konings / Melachim Aleph {13:1} “Toe kom daar ‘n man van God uit Juda deur die woord van die HERE in Bet-el aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan; {13:2} en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die HERE en gesê: Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, ‘n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word.”
Onthou julle hierdie verhaal? Die man, waarna hier verwys word, is later langs die pad deur ‘n leeu doodgemaak omdat hy aan God ongehoorsaam was. Hy het God se opdrag nie behoorlik nagekom nie, naamlik om niks te eet of drink terwyl hy in die noordelike koningkryk (Israel) was nie. Selfs na die profeet se ongehoorsaamheid, het God vervul wat Hy oor die altaar (deur Jerobeam opgerig) uitgespreek het.
Watter ooreenkoms is daar tussen hierdie drie gebeure? Al drie persone is vooraf gewaarsku om nie te sondig nie, maar het dit verontagsaam en in elk geval tog gesondig.
Nahum / Nachum {1:3} “Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.”
God waarsku ons nie aangaande ons sonde deur ‘n profeet nie; trouens, Hy het nie langer profete – in die ware sin van die woord in die Hebreeuse Skrifte – nodig nie, maar het ons deur Sy geskrewe Woord teen sonde vermaan. Ons beskik nou oor Sy geskrewe Woord, waarvolgens ons geleer word wat ons behoort en nie behoort te doen nie. Daar bestaan geen twyfel oor wat reg of verkeerd is in God se oë vir ons nie: die Bybel is altyd baie verstaanbaar. God neem nie genoë met die dood van ‘n sondaar nie, maar indien ‘n sondaar se dood nodig is om Sy woede te laat bedaar en Sy toorn af te wend, sal daardie sondaar sterf.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2012-07-08