25 Desember 2010 / Tevet 18 5771
Name / Shemot
Jesaja / Yeshayahu 27:6 – 25:13; 29:22 – 23
Jeremia / Yirmeyahu 1:1 – 2:28
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 14:13 – 25
Eksodus / Shemot {4:10} “Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. {4:11} En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? {4:12} Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.”
Daar is allerlei baie interessante punte in die drie verse wat ek uit vandeesweek se parasha aangehaal het. Eerstens sien ons dat Moses vir God sê dat hy moelik praat en swaar van tong is. Indien Moses slegs gesê het dat hy moelik praat en dit daarby gelaat het, dan kon ons aanvaar dat hy homself as ‘n swak openbare spreker geag het. Die feit dat hy bygevoeg het dat hy ook swaar van tong was, laat by ‘n mens die indruk dat Moses wel ‘n soort spraakgebrek kon gehad het. Dit is interessant omdat in elke aangetekende ontmoeting tussen Moses en die Farao, was daar nooit enige kommentaar oor sy spraak nie – dit is nie een maal gemeld nie. Kon dit gewees het omdat Moses nooit enige praatwerk gedoen het nie?
Eksodus {4:14} “Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hy goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart. {4:15} Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen. {4:16} En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n god wees. “
Aäron het dus in die openbaar namens Moses gespreek! Stel julle voor hoe vernederend dit vir Moses moes gewees het. Dit blyk veral so wanneer ons lees wat God vir Moses gesê het:
Eksodus {4:11} “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? ”
As dit dan wel die geval was, kon God nie Moses se spraak aangeraak het nie? ‘n Mens sou so dink, maar Hy het nie en ek het al so dikwels gewonder waarom Hy dit nie gedoen het nie. Dit is verbasend dat die antwoord eintlik baie eenvoudig is en in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) verstrek word.
2 Korinthiërs / Korintim Bet {12:6} “Want as ek sou wil roem, sou ek nie ‘n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat; maar ek laat dit ná, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien of wat hy van my hoor nie. {12:7” En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. ”
Eenvoudig, nie waar nie? Die apostel Paulus het besef dat daar by hom die geneigdheid van selfverheffing bestaan het; derhalwe is hy deur God ‘n belemmering – wat Paulus “’n doring in die vlees” noem, opgelê. Dit kon moontlik ‘n tipe fisiese gebrek gewees het – nietemin iets wat hom nederig gehou het. Miskien besef ons nou waarom dit in die Skrif soos volg gestel word:
Numeri / BaMidbar {12:3} “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. ”
Vanweë die doring in sy vlees – sy spraakgebrek – het Moses homself nooit as iemand besonders geag nie. Die feit dat hy vroeër ‘n prins in Egipte was en nou deur God aangewys is om die bevryder en leier van die kinders van Israel te wees asook die feit dat hy regstreeks – van aangesig tot aangesig – deur God aangespreek is, het geen invloed op sy waardigheid gehad nie. Moses het altyd nederig gebly omdat hy die swakheid van sy menswees besef het. Ek kan onteenseglik getuig dat dit vir ‘n leier maklik is om verwaand te raak en meer van jouself te dink as wat jy werklik is. Selfs in my geval, het God ‘n wyse gevind om my nederig te hou, om my te laat besef dat ek maar net ‘n brose mens, slegs stof is en dat dit Hy is wat my geskep het en nie ek vir Hom nie!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou